Skip to main content

Markus 5:21-43 – Bly maar net glo!

Verwelkoming

PowerPoint agtergrond:

Edvard Munch: The Sick Child 1907

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Vonkk 72:1 Wees stil, want die Heilige is hier (sit)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 508:1-2 Vaste Rots op wie ek bou, een op wie ek kan vertrou (staan)

Lied 513:1-3 Soek in God jou sterkte; kry by Hom jou krag (staan)

Verootmoediging

Geloofsbelydenis

Lied 514:1 Ek weet verseker: Jesus is Heer (sit)

Gebed

God praat met ons en ons luister

Skriflesing

Die evangelie van Markus  is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n nefie van Barnabas, en metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13].  Sy ma was Maria, die vrou in wie se huis die kerk van Jerusalem baie keer vergader het.

Markus vertel die verhaal van Jesus van Sy doop tot Sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

In 2de hoofdeel van die boek, Markus 3:7-8:21, fokus Markus op die impak van Jesus se bediening op drie belangrike groepe:

  • die skares wat verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê;
  • die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is;
  • die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.

En Markus skryf veral oor Jesus se gesprekke en genesings – soos in die twee verhale wat ons gaan lees: dié van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en dié van Jaïrus se dogtertjie wat uit die dood opgewek is.

Die twee verhale leen hulle uitstekend om te praat oor hoe geloof prakties werk.  Die tekste fokus op die rol van geloof in die genesing – beide die magiese geloof van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die weifelende geloof van Jaïrus.  Die sleutel tot genesing lê egter op ’n ander plek, in die verhouding met en afhanklikheid van Jesus self.  Wanneer geloof op Hom gerig is, kom God se krag in werking. 

Só nooi die twee verhale ons uit om te bly glo in die Een wat ons lewe in sy hande hou.  Of ons lewe, genees word, uit ‘n ernstige siekbed opstaan en huis toe terugkeer, of nie.  God is ons troos.  In lewe en in sterwe.

Markus 5:21-43

21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het ’n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. ’n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.

Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

Woordverkondiging

Joni Eareckson Tada

Die verhaal van Joni Eareckson Tada (JoniThe unforgettable story of a young woman’s struggle against quadriplegia & depression, wat ook die basis vir ’n rolprent oor haar lewe gevorm het) is vir baie van u bekend. Sy het op 18 in ’n duik-ongeluk ’n kwadrupleeg geword (1967), en uiteindelik na 2 jaar se ontwrigtende worsteling, haar gebrek te bowe gekom en ’n loopbaan van skilder en skryf gevolg, met baie groot sukses.  Sy is ’n gewilde spreker wat haar geloof in Jesus op innemende manier verwoord en baie mense aangeraak het met haar boodskap van hoop.

Sy is onlangs deur ‘n volgende fase van toetsing, met borskanker, waarna sy die boek – A Place of Healing: Wrestling with the mysteries of suffering, pain and God’s Sovereignty – geskryf het .  Sy vertel in dié nuwe boek van ’n jongman David wat haar een oggend na ’n diens bygedam het, vir haar gebid het, en toe verras was dat sy nie genees is nie.  In die gesprek wat daarna gevolg het, het hy haar beskuldig dat sy sonde in haar lewe moes hê, anders sou sy gesond geword het.  Joni het op haar kenmerkende innemende manier geantwoord, nee, dit is nie die geval nie. 

Hy het egter volhard en toe vir haar van ongeloof beskuldig.  Sy het geantwoord: dit kan wees, maar dan het dit met jou geloof te make en uit Lukas 5 aangehaal waar Jesus die verlamde man genees toe hy die geloof van sy vriende sien (vers 20)!

Inderdaad!  Soos sy self sê: “The focus is always on Jesus Christ and His will for those who suffer.  To possess great faith is to believe in a great Savior, and Scripture welcomes the faith of anyone who believes in Jesus’ will to heal.”

Ons sien dit geïllustreer in die twee ineengestrengelde genesingswonders van Markus.

Jaïrus se nood

Die verhaal begin met die raadslid van die sinagoge in Kapernaum wat by Jesus om hulp aanklop omdat sy dogter sterwend is.  Die man is in die nood:  “My dogtertjie lê op haar uiterste” (vers 23). Elkeen wat al ’n siek kind gehad het, sal weet wat hierdie situasie aan ’n ouer kan doen. Die siekte is akuut en vereis Jesus se onmiddellike aandag.

Maar ons lees nie net van Jaïrus se nood nie, ook van sy geloof: “Kom lê tog u hande op haar sodat sy kan gesond word en lewe”. Daarom is ons bly om te lees dat Jesus sy versoek toestaan en saam met hom gaan na sy 12-jarige dogtertjie.

Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het

Maar, hierdie kind is nie die enigste sieke nie. “Daar was ook ’n vrou” (ver 25) wat al 12 jaar lank siek is, sê Markus vir ons. Alhoewel haar siekte ook besonder erg is, is haar toestand chronies van aard en nie lewensbedreigend nie.

Sy het verskillende dokters besoek, in die hoop dat iemand haar kan help. In die proses het sy alles wat sy besit het, daaraan bestee. Maar haar toestand het net vererger.

Die realiteit van haar lewe was dus baie hartseer: Sy was nie net siek nie, maar sy was arm ook weens die onkostes. Sy was ook sosiaal waarskynlik uitgestoot as gevolg van haar bloedvloeiing, wat haar in die oë van die samelewing permanent onrein gemaak het (Lev 12).

Hierdie arm verworpe mens vestig haar laaste hoop op Jesus. Sy glo dat as sy net aan sy klere kan raak, sal sy genees word.

Dit doen Jesus dan ook. Hy ontferm Hom oor haar. Hy gee haar kans om Hom haar hele storie te vertel.  Dit moes vir die vrou ’n wonderlike en bevrydende oomblik gewees het.  Al die jare se lyding kon sy voor Jesus uitstort. Jesus doen hier niks minder nie as om haar lewe vir haar terug te gee. In dié gesprek spreek Jesus hierdie merkwaardige woorde: “Jou geloof het jou gered.”

Jaïrus se geloof

Die feit dat Jesus eers aan haar tyd afstaan, het egter tot gevolg dat die siek dogtertjie intussen sterf. Omdat ons die einde van die verhaal ken, is dit vir ons nie so ’n groot probleem nie. Ek kan my voorstel dat die pa van die kind dalk anders daaroor gevoel het!

Wat vir die vrou ’n wonderlike ervaring moes wees, was vir Jaïrus dus waarskynlik louter hel. En terwyl hy seker ongeduldig, maar beleefd, wag dat Jesus klaar luister na die arme vrou se hele lewensgeskiedenis, sterf sy kind.

Hy wat Jaïrus is, het ook in Jesus geglo. Selfs al was hy ’n raadslid van die sinagoge, wend hy hom tot Jesus in weerwil van die groeiende Joodse teenstand teen Jesus. En hy verklaar sy geloof in Jesus duidelik: “Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.” (vers 23).  Hy glo dus dat Jesus die mag het om haar gesond te maak en haar lewe ook volledig vir haar terug te gee, soos wat Jesus vir die vrou gedoen het.

Maar nou het Jesus so lank gedraai dat dit te laat geword het. Sy kind is dood. Sy huismense, wat die boodskap bring, sê vir hom dat hy Jesus nie langer moet lastig val nie. Hulle glo duidelik nie dat Jesus nou meer iets kan doen nie.

Wat het in Jaïrus se hart aangegaan? Ons weet nie. Die Bybel sê niks daaroor nie. Wat ons wel sien, is dat ook in Jaïrus se geval daar nie sprake van onwrikbare wonderwerkende geloof by hom is nie. Nee, die krag in hierdie situasie kom ook van Jesus af. Dit is Jesus wat hom troos en bemoedig met die woorde: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo” (vers 36).

Wanneer Hy by die huis kom, saam met die binnekring dissipels en die ouers, en dit nogal met die boodskap dat die kindjie net slaap, lag die mense Hom egter uit.

Ons moenie te negatief oordeel oor hierdie gelag nie. Want, dit is ten diepste die reaksie van verdriet, van verlore hoop. Hierdie mense weet wat die dood is. Hulle weet wanneer iemand dood is. En in ’n pynlike situasie waar ’n kind nou net dood is, het hulle nie tyd vir speletjies nie.

Wat ons agterkom, is dat hulle die dood ken, maar nie vir Jesus nie. Later sal hulle egter ook weet: By Hom is daar lewe en hoop – in lewe en dood! Want, Jesus wek die dogtertjie uit die dood op met die bekende woorde: “Talita, koem!”

By al die veronderstelde trane van vreugde en blydskap, sê die Bybel ook dat die mense stom was van verbasing. Daar was nou geen plek meer vir ’n siniese lag nie. Net maar plek vir stille dankbaarheid en respek vir Jesus.

Die rol van geloof

Geloof – die geloof van die persoon wat genees word – speel dikwels ’n groot rol in wondergenesings. Dit sien ons in die twee verhale in Markus

Nog meer – die geloof van dié wat bid, speel dikwels ’n groot rol in genesings.  Dit sien ons in Lukas 5 met die verlamde man en sy vriende.  Dit sien ons by Jakobus 5:15: “As hulle (die ouderlinge) gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring.”

Maar, en dit is belangrik, daar is geen bloudruk in die NT van ’n “perfekte geloof” wat die minimum standaard sou haal sodat Jesus dan daarop reageer deur ’n wonderwerk te doen nie!  Nie in die geloof van dié wat siek is nie.  Ook nie in die geloof van dié wat bid nie.

As ’n mens bv die vrou se geloof moet beoordeel, sal ’n mens moet sê, dat sy ’n ietwat twyfelagtige geloof het, naamlik dat daar magiese krag uit Jesus se klere na haar sal oorvloei. Sekerlik nie ons idee van hoe geloof werk nie!   Die vrou se geloof wentel om die aanraking van Jesus, iets wat vreemd is … maar, sy word steeds deur Hom genees.

Daar is dus geen sprake van ’n perfekte geloof by die ontvangers van God se genade nie. Net maar ’n fokus op Jesus, dat Hy Hom op een of ander manier oor hulle sal ontferm. En Jesus ontferm Hom oor hierdie vrou en genees haar.

Ons sien dieselfde in Jaïrus se geval.  Jesus sien raak dat Jaïrus nie seker is of dié geloof regtig genoeg is nie, veral toe hy hoor dat sy dogtertjie weens die vertraging dood is (vers 36).  En Jesus kom Jaïrus tegemoet deur hom te versterk: “Bly maar net glo!” op pad na eintlik ’n groter wonder, dat sy dogtertjie uit die dood opgewek word. 

Geloof is onontbeerlik

Jy kan met reg vra: Wat is dan die eintlike oorsaak van die genesing? Is dit die vrou en Jaïrus se geloof, of Jesus se krag (ten spyte van die gebreke in hulle geloof)?

Van Ruler sê hiervan dat ’n mens die twee kante van die saak nie so teen mekaar durf afspeel nie. Dit is duidelik dat albei hier ’n rol speel: sowel die vrou se misplaaste, maar opregte geloof, as die feit dat Jesus om Godswil haar wil aanraak; sowel Jaïrus se geloof onder baie druk, en Jesus se versterkende woorde.

En natuurlik is dit God se krag wat hier deur Jesus werk, wat uiteindelik die deurslag gee, en wat die sleutel is om God se werk te verstaan. Die fokus is altyd op Jesus en Sy wil vir dié wat ly.  “To possess great faith is to believe in a great Savior, and Scripture welcomes the faith of anyone who believes in Jesus’ will to heal.”  (Joni)

Maar die verhaal leer ons verder dat ons deur God se krag in Jesus Christus aangeraak word juis wanneer ons ons deur die geloof in afhanklikheid voor God stel. Wanneer ons, by wyse van spreke, moeite doen om aan die soom van Jesus se kleed te raak, en te bly glo.

Aan diegene wat só in geloof en afhanklikheid na Jesus toe kom, sê Hy: “Jou geloof het jou gered,” “Talita, koem!” Diegene wat nie na Jesus toe kom nie, hoor nooit dat Jesus dit sê nie.

Daar bly ook onbeantwoorde vrae

Die verhaal leer ons ook dat daar onbeantwoorde vrae bly.  Daar is bv geen antwoord op die vraag waarom Jesus eers Jaïrus se dogtertjie laat sterf het terwyl Hy tyd bestee het aan die siek vrou nie. So is daar baie vrae wat ons kan vra – veral rondom swaarkry en lyding – waarop daar geen goeie antwoorde is nie.

As ons self die draaiboek vir hierdie verhaal geskryf het, sou ons waarskynlik dat Jesus eers gou die akute probleem van die siek kind hanteer het. Daarna kon Hy rustig aandag gegee het aan die chroniese probleem van die vrou, wie se lewe nie in gevaar was nie.

Maar ons skryf nie die draaiboek nie. Nie van hierdie verhaal nie en ook nie van ons eie lewensverhaal nie – alhoewel ons medewerkers daaraan is.

Die draaiboek van ons eie lewensverhaal maak dikwels ook onverstaanbare draaie sodat ons maar net saam met Jaïrus kan wonder waarom God dan nie aandag gee aan ons dringende smeekbedes nie. Of saam met die vrou wonder waarom sy twaalf jaar lank gebuk moes gaan onder erger wordende lyding. Jesus verduidelik nie sy optrede aan Jaïrus nie. Hy gee nie ’n antwoord aan die vrou nie.  Hy verduidelik dit ook nie aan ons nie.

Bly maar net glo!

Maar Jesus bemoedig die vrou: “Jou geloof het jou gered.”

Jesus bemoedig Jaïrus met die woorde: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

Só bemoedig Jesus ook vir ons: “Bly maar net glo!”

Vir ons is dit goed om te weet dat die Een wat so sê, die Koning is; Ons Koning.

En ons leer hier dat geloof en geduld baie naby mekaar lê. Markus roep ons met hierdie twee verhale op om te “volhard in die geloof”. Om te doen wat Jesus in hierdie verhaal sê: “Bly maar net glo.”

Ja, ons word genooi om te bly glo in die Een wat ons lewe in Sy hande hou.  Of ons lewe, of nie, genees word of nie, uit ‘n ernstige siekbed, of nie.  God is ons troos … in lewe en in sterwe.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 494:1-3 Gelukkig is die mens wat op die Here bou (staan)

Seën

Amen

Respons

Refrein Lied 494

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.