Skip to main content

Liefde gee lewe – Johannes 11:1-44

Jesus Raises Lazarus From The Dead by Ann Lukesh

Elke geslag gelowiges word deur dieselfde uitdagings gekonfronteer – twyfel, moedeloosheid, vrees, verdeeldheid, verwerping – en die stryd teen materialisme en apatie. Koppel dit aan die uitdagings van ons politiek en die ekonomie, en in hierdie tyd heel spesifiek doodgewoon die uitdaging van die droogte, en dit word ‘n amper dodelike aanslag op ons geloof.

Die verhaal van Jesus in Betanië

Daar is ‘n verhaal in die evangelies wat ons help om dié uitdagings die hoof te bied, die verhaal van Jesus in die dorpie Betanië, die dorpie net langs Jerusalem. Dit is ‘n verhaal van vier episodes waarin Jesus se interaksie met die drie karakters van Maria en Marta en hulle broer Lasarus ons help om die uitdagings van hierdie lewe die hoof te bied.

Die eerste episode fokus op die verhaal van die Barmhartige Samaritaan wat ons help verstaan hoe belangrik deernis is, om ‘n naaste te word vir die mense wat oor jou pad kom (Luk 10). Die tweede episode fokus op die verhaal van Lasarus, die een waarop ek gaan fokus in die prediking (Joh 11). Die derde episode fokus op die laaste week van Jesus voor sy kruisiging waarin Maria Hom salf vir sy begrafnis (Matt 21 vv). Die vierde episode fokus op die hemelvaart, want dit is van Betanië af wat Jesus hemel toe is (Luk 24).

Ek wil ietsie sê oor die eerste episode, voordat ons kyk na Johannes 11, want dit dek die tafel vir wat gaan gebeur in die tweede episode.

Jesus vertel die verhaal van die Barmhartige Samaritaan in Betanië met Maria aan sy voete terwyl Marta effe vervaard rondhardloop in haar poging tot gasvryheid (Luk 10). Jesus illustreer met die verhaal dat barmhartigheid van verrassende kante af kom, van mense wat jy dit nie verwag nie. Die Samaritaan help die man wat onder die rowers deurgeloop het op die pad na Jerigo, terwyl die Leviet en priester onbetrokke bly.

Daarmee moedig Jesus ons aan om op dieselfde manier ‘n naaste vir ander te wees. Nog dieper, om enigiemand wat oor ons pad te kom as ‘n naaste te hanteer. Trouens, om ‘n naaste te wees. Want die moedeloosheid en vrees en verdeeldheid in hierdie wêreld word stukkie vir stukkie opgelos deur die deernis waarmee ons ons naaste begroet en bedien en waarmee ons ‘n naaste word. Dit is waarheen ons opgeroep word.

Twyfel en apatie word die hoof gebied deur uit te reik en betrokke te raak, om ‘n naaste te wees vir dié wat oor jou pad kom, om deernis en liefde en omgee te gee sonder om iets terug te verwag. Om bereid te wees om nie net iemand op jou donkie te laai nie, maar plek in ‘n herberg te gee, en selfs te betaal vir die hele herstel periode. Dit is die weg tot genesing. Vir ander. Vir jouself. Vir hierdie wêreld.

In die verhaal van die Barmhartige Samaritaan het die man, wat onder rowers geval het, dus oorleef weens die deernis van sy weldoener. En onthou, met die gelykenis het Jesus eintlik Homself as die eintlike Barmhartige Een op die tafel gesit. Dit is immers hoe God is, die een wat Barmhartig is, lankmoedig, vol deernis en liefde. Die Barmhartige Samaritaan het opgetree soos God self dit doen.

Die vraag was egter, wat sou Jesus, die Barmhartige, die Deernisvolle Een, doen as ‘n vriend van Hom siek word?

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Toetrede

Lied 396 Aanskou die Heiland, sien die Kruis – sit

Votum en Seëngroet

Loflied

Lied 393 Middelpunt van ons verlange – staan

Kindertyd

Wie van julle was al by ’n begrafnis?

Hoe laat dit julle voel as mense by ’n begrafnis so hartseer is?

Hoe troos ons mense?

Ons gee vir hulle sakdoek of ‘n snesie, ‘n tissue.

Begrafnisse is nie net vir óns ’n hartseer ondervinding nie.

Ons lees in die Bybel dat Jesus ook hartseer was. Ook by ‘n begrafnis.

Kom ons lees in Johannes 11 hoe Jesus gevoel het toe sy vriend Lasarus dood is.

1 Daar was ‘n man met die naam Lasarus wat siek was. Hy was van Betanië, die dorp van Maria en haar suster Martha … 5 Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad …15 (Hy sê toe:) kom ons gaan na hom toe.” …

17 Toe Jesus daar aankom, het Hy gevind dat Lasarus reeds vier dae in die graf was … 20 Toe Martha hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom tegemoetgegaan, maar Maria het in die huis bly sit. 21 Martha sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. 22 Maar selfs nou weet ek dat wat U ook al van God vra, God vir U sal gee.” 23 Jesus sê vir haar: “Jou broer sal opstaan.” …

28 En nadat Martha dit gesê het, het sy gegaan, haar suster Maria eenkant toe geroep, en vir haar gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.” … 32 Toe Maria aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” 33 Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode wat saam met haar gekom het, huil, het dit Hom hewig ontstel en Hy het diep bewoë geword. 34 Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” 35 Jesus het gehuil …

38 Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was ‘n rotsgraf en ‘n groot klip het daarteen gelê. 39 Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” 40 Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” 41 Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42 Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” 43 En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ‘n harde stem: “Lasarus, kom uit!” 44 Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind en sy gesig met ‘n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.” 

Ons sien hier dat Jesus saam met sy vriende huil. Vir Hom is die dood van ’n dierbare ook hartseer. Ons hartseer gryp Hom aan die hart. Daarom sê die Psalms: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” (Psalm 116:15)

Maar die wonder is dat Hy nie net ‘n sakdoek vir hulle gee, of ‘n snesie nie, maar dat Hy vir Lasarus uit die dood uit opwek.

Dit is die Jesus wat ons dien. Hy huil saam met ons. Maar Hy kan ook dinge verander.

Só, ons mag maar huil by die dood van ’n geliefde. Ons mag mekaar ook troos met ‘n snesie. Want, die Here Jesus het ook by ’n graf gehuil.

Maar, ons kan mekaar ook moed inpraat. Ons kan Jesus vertrou dat Hy uiteindelik ons almal sal gesond maak soos Hy dit vir Lasarus gedoen het. Jesus gee vir ons die ewige lewe, sodat selfs wanneer ons doodgaan, ons veilig by Hom sal wees.

Loflied

Lied 177 Jesus gróót bo almal – sit

Gebed

Skriflesing

Elke geslag gelowiges word deur dieselfde uitdagings gekonfronteer – twyfel, moedeloosheid, vrees, verdeeldheid, verwerping – en die stryd teen materialisme en apatie. Koppel dit aan die uitdagings van ons politiek en die ekonomie, en in hierdie tyd heel spesifiek doodgewoon die uitdaging van die droogte, en dit word ‘n amper dodelike aanslag op ons geloof.

Die verhaal van Jesus in Betanië

Daar is ‘n verhaal in die evangelies wat ons help om dié uitdagings die hoof te bied, die verhaal van Jesus in die dorpie Betanië, die dorpie net langs Jerusalem. Dit is ‘n verhaal van vier episodes waarin Jesus se interaksie met die drie karakters van Maria en Marta en hulle broer Lasarus ons help om die uitdagings van hierdie lewe die hoof te bied.

Die eerste episode fokus op die verhaal van die Barmhartige Samaritaan wat ons help verstaan hoe belangrik deernis is, om ‘n naaste te word vir die mense wat oor jou pad kom (Luk 10). Die tweede episode fokus op die verhaal van Lasarus, die een waarop ek gaan fokus in die prediking (Joh 11). Die derde episode fokus op die laaste week van Jesus voor sy kruisiging waarin Maria Hom salf vir sy begrafnis (Matt 21 vv). Die vierde episode fokus op die hemelvaart, want dit is van Betanië af wat Jesus hemel toe is (Luk 24).

Ek wil ietsie sê oor die eerste episode, voordat ons kyk na Johannes 11, want dit dek die tafel vir wat gaan gebeur in die tweede episode.

Jesus vertel die verhaal van die Barmhartige Samaritaan in Betanië met Maria aan sy voete terwyl Marta effe vervaard rondhardloop in haar poging tot gasvryheid (Luk 10). Jesus illustreer met die verhaal dat barmhartigheid van verrassende kante af kom, van mense wat jy dit nie verwag nie. Die Samaritaan help die man wat onder die rowers deurgeloop het op die pad na Jerigo, terwyl die Leviet en priester onbetrokke bly.

Daarmee moedig Jesus ons aan om op dieselfde manier ‘n naaste vir ander te wees. Nog dieper, om enigiemand wat oor ons pad te kom as ‘n naaste te hanteer. Trouens, om ‘n naaste te wees. Want die moedeloosheid en vrees en verdeeldheid in hierdie wêreld word stukkie vir stukkie opgelos deur die deernis waarmee ons ons naaste begroet en bedien en waarmee ons ‘n naaste word. Dit is waarheen ons opgeroep word.

Twyfel en apatie word die hoof gebied deur uit te reik en betrokke te raak, om ‘n naaste te wees vir dié wat oor jou pad kom, om deernis en liefde en omgee te gee sonder om iets terug te verwag. Om bereid te wees om nie net iemand op jou donkie te laai nie, maar plek in ‘n herberg te gee, en selfs te betaal vir die hele herstel periode. Dit is die weg tot genesing. Vir ander. Vir jouself. Vir hierdie wêreld.

In die verhaal van die Barmhartige Samaritaan het die man, wat onder rowers geval het, dus oorleef weens die deernis van sy weldoener. En onthou, met die gelykenis het Jesus eintlik Homself as die eintlike Barmhartige Een op die tafel gesit. Dit is immers hoe God is, die een wat Barmhartig is, lankmoedig, vol deernis en liefde. Die Barmhartige Samaritaan het opgetree soos God self dit doen.

Die vraag was egter, wat sou Jesus, die Barmhartige, die Deernisvolle Een, doen as ‘n vriend van Hom siek word?

Johannes 11:1-44

Die dood van Lasarus

1 Daar was ‘n man met die naam Lasarus wat siek was. Hy was van Betanië, die dorp van Maria en haar suster Martha. 2 Dit was die Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was. 3 Die susters het toe iemand na Jesus gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” 4 En toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte lei nie tot die dood nie, maar tot die verheerliking van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” 5 Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. 6 Toe Hy hoor van Lasarus se siekte, het Hy nog twee dae op die plek vertoef waar Hy was. 7 Eers daarna sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan terug na Judea.” 8 Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, onlangs nog het die Jode U probeer stenig, en U gaan weer daarheen?” 9 En Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. 10 Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat die lig nie by hom is nie.” 11 Nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hulle: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” 12 Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” 13 Maar Jesus het van sy dood gepraat, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van gewone slaap praat. 14 Toe sê Jesus openlik vir hulle: “Lasarus het gesterf, 15 en ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” 16 Thomas, wat bekend staan as Didimus, het toe vir sy mededissipels gesê: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterf.”

Jesus die opstanding en die lewe

17 Toe Jesus daar aankom, het Hy gevind dat Lasarus reeds vier dae in die graf was. 18 Betanië was naby Jerusalem, omtrent vyftien stadioi ver (ongeveer 2,8 km), 19 en baie van die Jode het na Martha en Maria gekom om hulle oor hulle broer te troos. 20 Toe Martha hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom tegemoetgegaan, maar Maria het in die huis bly sit. 21 Martha sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. 22 Maar selfs nou weet ek dat wat U ook al van God vra, God vir U sal gee.” 23 Jesus sê vir haar: “Jou broer sal opstaan.” 24 Martha sê toe vir Hom: “Ek weet dat hy sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.” 25 Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; 26 en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?” 27 Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld kom.”

Jesus is diep bedroef

28 En nadat Martha dit gesê het, het sy gegaan, haar suster Maria eenkant toe geroep, en vir haar gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.” 29 En toe Maria dit hoor, het sy haastig opgestaan en na Hom gegaan. 30 Jesus het egter nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was op die plek waar Martha Hom ontmoet het. 31 Toe die Jode wat by haar in die huis was en haar vertroos het, sien dat Maria haastig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg, omdat hulle gedink het sy gaan na die graf om daar te huil. 32 Toe Maria aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” 33 Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode wat saam met haar gekom het, huil, het dit Hom hewig ontstel en Hy het diep bewoë geword. 34 Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” 35 Jesus het gehuil. 36 Daarop het die Jode gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!” 37 Maar sommige van hulle het gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het, tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?”

Jesus wek Lasarus uit die dood op

38 Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was ‘n rotsgraf en ‘n groot klip het daarteen gelê. 39 Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” 40 Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” 41 Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42 Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” 43 En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ‘n harde stem: “Lasarus, kom uit!” 44 Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind en sy gesig met ‘n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.” 

Prediking

Jesus hoor sy vriend Lasarus is siek

Dit is ernstig genoeg dat hulle Hom laat weet waar Hy saam met sy dissipels laer getrek het buite die grense van Judea, oorkant die Jordaan, naby die plek waar Johannes die Doper opgetree het.

Dit was ‘n plek waar Hy die teenstand teen sy boodskap moes verwerk. Dit was ‘n plek waar die dissipels tot verhaal moes kom nadat hulle die woede van die Jode ontglip het. Dit was ook ‘n plek waar mense verder tot geloof in Jesus gekom het.

Maar die nuus van Lasarus se siekte bring onmiddellik die vraag na vore. Wat gaan Jesus doen? Gaan Hy terug na waar sy lewe in gevaar is? Betanië is immers langs Jerusalem. Gaan Hy sy dissipels aan die gevaar blootstel? Gaan Hy ‘n wonder doen om Lasarus gesond te maak?

En onthou, Lasarus was Jesus se vriend. Die vraag was dus ook, hoe ver kan ‘n mens op Jesus vertrou in ‘n vriendskap met Hom?

1. Jesus bepaal die uitkoms van die verhaal

Die eerste stukkie hoop in hierdie verhaal van Lasarus is dat Jesus die uitkoms van die verhaal antisipeer en bepaal. Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar God se wonderbaarlike mag openbaar, sê Jesus (vers 4). Daarom vertoef Jesus nog twee dae voordat Hy en sy dissipels na Betanië vertrek. Nie omdat Hy traag was nie, maar omdat Hy oortuig was van God se mag, en dit tot versterking van die dissipels se geloof wou ten toon stel (vers 15).

Jesus word dus nie verras deur die nuus nie. Hy weet ook presies waarheen dié nuus gaan lei. Hy weet wat Hy gaan doen. Hy weet wat God gaan doen. Hy is in beheer.

Dit was vir my so asof dít is wat die Here hierdie week op Valentynsdag vir ons kom sê het as gemeente. Die stukkie reën het bewys Hy is in beheer van die droogte. Ons kan Hom vertrou vir die uitkoms. Die bedanking van president Zuma op dieselfde dag het ook vir ons gesê dat die wiele van geregtigheid draai, al is dit soms stadig. Die droogte is nog nie gebreek nie, en die regering is nog nie reggestel nie, maar die hoop is daar.

Die dissipels is egter nie regtig in staat om die hoop wat Jesus bring, te hoor nie. Soos ons ook baie keer. As Jesus uiteindelik die pad vat na Betanië toe, kom ’n mens agter dat hulle glad nie lus is vir die reis nie. Hulle is intens bewus van die feit dat die spanning tussen Jesus en die Joodse leiers van Jerusalem teen hierdie tyd al breekpunt bereik het. ’n Paar dae terug wou die Jode Jesus in Jerusalem stenig (Joh 9). Dié dat hulle oorkant die Jordaan gaan vertoef het, die plek waar Johannes die Doper gedoop het.

Tomas veral is baie moedeloos met dié terugreis. Hy is nie lus om weer deel van die konflik situasie te raak nie. Betanië was net te naby aan Jerusalem vir sy gevoel. Skoorvoetende gaan hy egter wel saam, al dink hy dat hulle hulle dood tegemoet gaan.

2. Marta bely haar onverskrokke geloof in Jesus

Die tweede stukkie hoop in die verhaal is dat Marta hier die voortou neem in die gesprek met Jesus en dat sy haar onverskrokke geloof in Jesus bely. Selfs al is Lasarus dood, sal God vir Jesus alles gee wat Hy vra. Daarvan is sy oortuig.

Het sy nie ver gekom nie?! Sy glo soos Abraham dat die dood nie ‘n absolute grens vir God is nie. Dat Hy regtig in beheer is van elke detail van elke pad waarop Hy ons neem.

Jesus lei haar daarom dieper in haar eie belydenis van die opstanding in, en help haar (en ons) verstaan dat die opstanding nie net iets vir die einde van die tyd is nie. Om Jesus te ken, is alreeds om ’n geestelike herlewing, ’n geestelike opstanding te beleef, want Hy is die opstanding en die lewe.

Dit is ’n ongelooflike belangrike belydenis, want dit beteken dat die dood geen mag oor ons het nie, al sterf ons ook. Dit is iets wat ‘n mens glo, vóórdat Lasarus uit die dood opgewek word.

Marta snap dit en word nou die Barmhartige Samaritaan vir haar suster Maria as sy haar gaan haal om na Jesus toe te kom. Haar eie aan-die-voete-van-Jesus sessie het haar geloof in Hom versterk. Haar hoop is nou dat die moedelose Maria hoop sal vind in die teenwoordigheid van die Here Jesus. Sy weet dat Hy vir Maria hoop kan gee en haar uit haar depressie in die huis kan ruk.

Ons het sulke mense onder ons nodig wat hoop gee deur hulle onverskrokke geloof. Wat soos Marta nie net die een is wat rondhardloop en ander opkommandeer en ongemaklik maak nie. Maar die een is wat hoop gee vir dié wat moedeloos is. Wat wys na die Een wat regtig vir ons hoop gee.

Miskien kan jy daarmee identifiseer. En jou rol as ‘n onverskrokke Marta met meer oorgawe vervul. Ons het Marta’s nodig wat onverskrokke glo, wat ‘n reguit pad loop. Miskien kan jy ook dit raaksien in die Marta’s wat jou ongemaklik maak. En met meer deernis en toeskietlikheid die profete onder ons hanteer.

3. Jesus het ongelooflike deernis met hulle

Die derde stukkie hoop in die verhaal is Jesus se ongelooflike deernis met haar en die hele situasie. Hy weet dat die uitkoms seker is en dat dit God se wonderbaarlike mag gaan demonstreer. Maar Hy weet ook hoe moeilik dit is om daaraan vas te hou. Om te glo, al sien jy dit net met jou geloofsoog.

Daarom huil Jesus, in deernis met hulle, maar ook oor die duisternis wat die dood bring. Hy is intens bewus van wat in ons aangaan. Hy het meegevoel. Hy het meelewing.

Jan du Rand sê egter, Jesus se hartseer strek verder as net ’n meelewing met Lasarus se dood. Jesus staan voor die dood as manifestasie van die mag van die Bose en weldra moet Hy met sy eie lewe die hoogste offer betaal om juis die mag van die lig te laat seëvier oor die Bose.

Dit is wat op die spel is. Dit is waarvan Marta getuig. Dit is waarheen sy wys, maar dit is iets wat Jesus van binne af weet. Hy weet wat dit gaan kos om die dood te oorwin.

Jesus huil dus ook oor sy eie naderende dood. Hy weet Hy kan en gaan Lasarus opwek. Hy weet Hy self gaan opgewek word uit die dood. Hierdie opwekking van Lasarus gaan ook God die Vader se belofte aan Hom wees dat die Vader sy Seun uit die dood sal opwek.

Maar Jesus sal eers self die pyn van die dood moet ervaar. Hy kan dit nie systap nie. En daarom huil Hy. Die kortste vers in die hele Bybel. Sonder uitvoerige verduidelikings. Net maar Jesus se hartseer.

Daar is waarskynlik nog ’n rede vir sy hartseer. Jesus weet ook dat Hy Lasarus kan en gaan opwek, maar dat dit nie vir ewig kan wees nie, ten minste nie toe nie. Die dood sou eers volledig oorwin word met sy eie dood en opstanding en finaal met die wederkoms wanneer dit ook vir alle gelowiges ’n werklikheid sal word.

Jesus se deernis met ons is dus ons hoop. Dít is die Jesus wat ons leer ken het. Dít is die Jesus wat ons met ons hele hart dien. Dít is die Jesus wat ons aan hierdie wêreld verkondig, in al sy glorie.

4. Jesus wek Lasarus op as teken dat Hy die opstanding en die lewe is

Maar die vierde en laaste stukkie hoop is die belangrikste. Dit is dat Jesus vir elke situasie ‘n antwoord het. Hy is die opstanding en die lewe in alles.

Daarvoor moet ons vir ‘n oomblik die opbou van die boek Johannes in herinnering roep sodat ons dit goed kan raaksien (meer daaroor in die kleingroepmateriaal).

In die eerste 11 hoofstukke van Johannes word sewe wondertekens beskryf. Die eerste is by ’n bruilof in Kana, die laaste by ’n begrafnis in Betanië. Dit begin by die feestelikheid van ‘n bruilof en eindig by die hartseer van die dood wat ons ontstel. Eg menslike ervarings.

Tussenin vind ons genesings – die seun van die regeringsamptenaar, die verlamde man by die bad van Betesda, die blinde man – en ’n natuurwonder – Jesus loop op die see en gee brood vir 5 000 mense. Die volle spektrum van die lewe.

Die betekenis van Jesus vir elke faset van die lewe word daardeur gedek. Hy is werklik daar vir elke situasie wat ons kan beleef. Vir vreugde en verlossing. Vir genesing en genot. En ons kan Hom daarvoor vertrou in elke seisoen van die lewe.

Maar daar is ’n opbou na hierdie laaste wonder wat gaan oor die uitbanning van die grootste hartseer en grootste vrees: die hartseer oor en die vrees vir die dood. En dit kom in die hoop van die evangelie dat Jesus self die opstanding en die lewe is. Dat in Hom ons genoeg het. God is genoeg.

Lasarus se opwekking is dus die klimaks van Jesus se sewe wondertekens. Dit is die punt wat die evangelie wil maak. Jesus is die Een wat Lewe bring. Hy bring Lewe selfs ná die dood. Sy Liefde laat ons Lewe! God is genoeg.

 “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie.

Wat my bring by die appèl aan jou.

Glo jy dit?

Die skrywer van Johannes wil ons dus help verstaan, dat Jesus nie net gekom het om ’n bietjie salf aan die wonde te smeer nie, maar om vensters van hoop oop te maak. Hy wil vir ons die lewe gee.

Daarom vra Hy vir Marta: ” Glo jy dit?

En sy antwoord: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld kom.

Jesus vra dus vir jou vandag: “Glo jy dit?

En ons antwoord soos ‘n Marta: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld gekom het.

Jesus se gunstelinge

Geen wonder dat Jesus die laaste week van sy lewe talle kere besoek aflê by sy vriende in Betanië nie en ‘n paar keer daar oorbly (Matt 21; Joh 12). Dit is waar Maria Hom salf in die huis van Simon die melaatse met die oog op sy begrafnis in die derde Betanië episode (Matt 26).

Maria gee alles wat sy het, die duur fles met salf. En raak daarmee sy sy hart aan met deernis en bemoediging. Sy versterk Hom om te volhard, al sou almal teen Hom draai. Sy is vir Hom ‘n naaste toe die donkerte van die dood op Hom begin toesak.

Sodat Hy vir almal die dood kon ly, en die hoop op die ewige lewe kon bring met sy opstanding uit die dood. Sodat Hy nie net vir Lasarus die nuwe lewe kon bring nie, maar vir elkeen wat in Hom as die opstanding en die lewe glo.

Dit is ook Betanië van waar Hy opgevaar het na die hemel, die vierde en laaste episode (Luk 24). Sy geliefkoosde plek op aarde, soos Frank Viola in sy boek skrywe, God’s Favorite Place on Earth.

Trouens, Betanië en hierdie drie vriende word eintlik daarmee ook ‘n metafoor vir elkeen wat, soos hulle, in Jesus glo, hulle lewens aan Hom toevertrou, wat sy geliefkoosdes is, sy gunstelinge, dié wat hulle alles vir Hom gee.

Gebed

Dankoffers

Slotlied

Lied 280 Here, Redder, groot en magtig, U oorskou ons lewenspad – staan

Seën

Respons

VONKK 38 Here, ons God, as ons nou huis toe gaan – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.