Matteus 9:1-8 – Hou moed, kind, jou sondes word vergewe

Die wonderwerk van vergifnisDie hart van die boodskap vandag is dat die wonderwerk van vergifnis eintlik die belangriker wonderwerk is. ‘n Mens sou selfs kon sê, die wonderwerk van vergifnis troef die wonderwerk van genesing, al gee Jesus uiteindelik albei vir die man.

Want sien, jy kan met albei jou twee bene loop, sonder krukke oor die weg kom, sonder ‘n draagbaar of in sy geval ‘n slaapmat beweeg, maar as jou sonde nie op ‘n manier vergewe word nie, is jou toekoms duister.

Hou moed, kind, jou sondes word vergewe.” Jesus sien dus sy hart raak, en genees sy hart. Vergifnis is die groter wonderwerk, dié een waarvan fisiese genesing eintlik net die teken is.

Jesus is dus nie maar net die Groot Geneesheer nie. Hy is veral die Groot Vergewer van sondes.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming

Toetrede

Lied 340:1 – Kom ons loof die Jesuskind, Hy is waarlik Koning. Ons Verlosser het gekom, maak by ons sy woning. Vir ons sondes kom Hy sterf; so word ons vergewe. Nou kan ons Hom loof en prys – Heer so hoog verhewe.

Lofliedere

Lied 203:1-2 – Loof die Here, al wat lewe, wil Hom dank en hulde bring – Hy het al ons skuld vergewe; ons ‘n nuwe lied laat sing. Loof Hom, prys! Loof en prys Hom! Loof die Vader, God en Heer!

Lied 256:1-2 – Laat klink die boodskap nog ‘n keer van heil en troos en vrede. Vir eeue reeds is dit geleer – laat hoor dit in die hede. Die blye boodskap is gewis, dat Jesus Heer en Heiland is.

Gebed

Inleiding

Ek is besig om voor te berei vir die Bybelskool. Die Twaalf Kleiner Profete kom dié kwartaal aan die beurt. Ek nooi almal uit om dit by te woon. Skryf in by www.bybelskool.com om die bydraes vanaf 28 Januarie in jou Inbox te kry – dit is gratis. Kom woon ons gesprek Woensdae 18:00-19:00 by vanaf 28 Januarie. Jy hoef ook net te kom luister – of vrae te vra en insigte te deel.

Wat my tref van die profete is dat hulle in só ‘n noue verhouding met God gestaan het. Hulle het gehoor en gesien wat God beplan en dit dan aan mense oorgedra. Hulle het ook gehoor en gesien wat mense doen en dan by God vir hulle ingetree.

  • Hulle was dus God se woordvoerders.
  • Hulle was die mense se voorbidders.

Is dit nie ook waartoe ons almal geroep word nie, elkeen op ons eie manier, elkeen op ons eie terrein? Ons is almal eintlik profete, mense wat namens God in hierdie wêreld optree en namens die wêreld by God intree.

In die proses het die profete van die OT wonderlike ervarings gehad. Elia het vir droogte gebid en dit het gebeur (1 Kon. 17). Hy het vir reën gebid en dit het gebeur (1 Kon. 18). Elisa het vir die Sunemmitiese vrou om ‘n seun gebid, en dit het gebeur. Hy het vir lewe gebid vir dieselfde seun, na dié van sonsteek dood is, en dit het gebeur (2 Kon. 4). Hulle het dus wonderwerke gesien en beleef.

Hulle het egter ook baie teenstand ervaar. Jeremia is in ‘n put gegooi (Jer. 37-38), en Sagaria is in die tempel met klippe doodgegooi (2 Kron. 24:17-22 – die profeet Sagaria in die tyd van koning Joas van Juda, d.w.s. nie die Skrifprofeet nie). Hulle het baie hartseer ervaar oor die leed wat hulle in mense se lewens gesien het. Baie van hulle het die hoogste prys betaal, die dood, vir die boodskap wat hulle moes bring.

Ons is in die tyd van Epifanie, die tyd waarin ons op Jesus en sy bediening fokus. Dit was dus vir my heel natuurlik om met die bril van die profete na Jesus te kyk. Ons begin immers volgende week met ‘n dubbeldoor reeks oor Jesus – Laat Jesus deur jou leef in die oggende en ‘n Hart soos Jesus in die aande (kleingroepmateriaal in die portaal vir albei vir groepe wat dié week al begin sowel as op webtuiste – skryf in!).

  • Die een reeks fokus op hoe die verhale van Jesus ons help om te verstaan hoe ons met mense moet werk – hoe ons Jesus kan toelaat om deur ons te leef, te luister, om te gee, lief te hê ensovoorts.
  • Die ander reeks fokus op ons binnekant, hoe ons ‘n hart kan kry wat luister, wat omgee, wat liefhet ensovoorts.

En ek wil na ‘n verhaal kyk, die genesing van die verlamde man, in Matteus 9 se weergawe daarvan, uit die hoek van Jesus as God se woordvoerder, die Een wat sê wat God sê, en uit die hoek van Jesus as voorbidder, die Een wat nie net intree vir mense nie, maar hulle inderdaad aan God se vergifnis en genesing verbind.

Hoekom?

Om twee redes:

  • In die eerste plek, Jesus wys vir ons hoe dit werk om tussen God en mense te staan. Jesus wys vir ons hoe ‘n mens namens God in hierdie wêreld optree EN Hy wys jou hoe jy namens die wêreld by God optree. Jesus wys ons hoe om profete te wees.
  • In die tweede plek, die verhaal nooi ons uit om God te nader met wat ook al op dié stadium van ons lewe ons behoefte is. Die verhaal gee ons die moed om ons eie pad na vergifnis en genesing met God te stap.

Vanaand wil ek verder gesels oor wonderwerke as sodanig en hoe ons daaroor moet dink. Ek sal ook graag vanaand saam met julle wil bid.

Kom ons lees Matteus 9:1-8.

Jesus het in die skuit geklim, na die oorkant gevaar en in sy tuisdorp aangekom. Hulle het ‘n verlamde man wat op ‘n slaapmat lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Hou moed, kind, jou sondes word vergewe. Hierop het sommige van die skrifkenners onder mekaar gesê: “Hierdie man laster.” En omdat Jesus geweet het wat hulle dink, het Hy gesê: “Hoekom bedink julle bose dinge in julle harte? Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe …” — sê Hy toe vir die verlamde: “Staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” En hy het opgestaan en na sy huis gegaan.

Toe die skare dit sien, is hulle met diep ontsag vervul, en hulle het God, wat sulke gesag aan mense gee, geprys.

Woordverkondiging

Matteus nege vertel vir ons van vyf wonderwerke van Jesus wat ingevleg word met drie bydraes van Jesus oor dissipelskap, waarvan die laaste een die groot uitsending van die twaalf, wat in hoofstuk 10 aan die orde kom, inlei.

Ons het vanoggend die verhaal van die eerste van dié wonderwerke gelees. Oujaarsaand het ons van die twee ander wonderwerk gelees waarvan hier vertel word, die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, sowel as Talita, Jaïrus se dogtertjie, se opwekking uit die dood (Lukas 8 se weergawe). En dan is daar nog die twee blindes wat genees word, sowel as die besete stomme.

Wonderwerke was ‘n integrale deel van Jesus se bediening

Die eerste belangrike woord wat ons moet hoor, is dat wonderwerke doodgewoon ‘n integrale deel van Jesus se bediening was.

  • Dit was aan die een kant besonders, merkwaardig, soms verstommend – dit het jou asem weggeslaan.
  • Maar, aan die ander kant was dit doodgewoon iets wat ‘n mens van Jesus verwag het. Dit was eintlik die normaalste ding om te ervaar. Oral waar Jesus gegaan het, het daar merwaardige dinge gebeur. Daarom was dit eintlik doodnormaal.

Ek het onlangs die boek van Craig Keener klaargemaak, Miracles – The Credibility of the New Testament Accounts (Volumes 1 & 2 [1248 bladyse!]. 2011. Baker Academic: Grand Rapids). Hy wys uitvoerig in die eerste deel van sy werk aan hoe ‘n integrale deel wonderwerke, genesings en eksorsismes, uitgemaak het van Jesus en sy volgelinge se bediening: “The mighty deeds and the proclamation must go together; neither can be understood without the other.” (Craig Evans).

Markus, Lukas, Matteus, Johannes, Paulus en elkeen van die ander skrywers wat oor Jesus geskryf het, bevestig dat Jesus ‘n wonderwerker was. En onthou, hulle sou dit nie kon skryf as dié dinge nie regtig gebeur het nie. Die wonderwerke en die getuienisse daaroor maak net sin, as dit regtig gebeur het.

Die interpretasie van wat daar gebeur het, daaroor kon ‘n mens verskil. Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes het immers duidelik verskil oor die interpretasie daarvan. Dit is die duiwel. Dit kom nie van God af nie!

Dít was hulle interpretasie. Maar hulle het nie gewaag om te probeer sê, dit het nie gebeur nie. Hulle kon nie, want dié getuienis was net te duidelik. Hulle kon nie daarmee stry nie. Hulle kon dit nie ongedaan maak nie. Verdag maak, ja. Ontken, nee.

Meer nog. Getuienisse van wonderwerke was wydverspreid in die res van die antieke wêreld bekend, ook onder die Jode en in die OT (Moses, Elia, Elisa). Geen wonder dat nie een van die antieke bronne op Jesus se wonderwerke gereageer het deur dit te probeer ontken nie. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was daarom self, hoewel baie kere onwillige, ooggetuies van Jesus se wonderwerke. Hulle het die wonderwerke nie probeer ontken nie, maar eerder teologies probeer diskrediteer.

Keener se gevolgtrekking as kenner van die antieke wêreld van die NT: “By purely historical means, we cannot a priori exclude the possibility of some eyewitnesses claims of sudden, unexpected recoveries that the beneficiaries believed were caused by deities.”

Hy voeg by: “We might reject the usual ancient interpretation of such an event, but that rejection involves a theological rather than a historical judgment.”

Wonderwerke gebeur in ‘n verhouding met Jesus

Die tweede belangrike woord wat ons moet hoor, is dat wonderwerke gebeur in ‘n verhouding met Jesus.

Ons sien dit in die hele gesprek wat Jesus hier met almal teenwoordig voer. Eerstens sien hy die geloof van die vriende van die verlamde man: “En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: ‘Hou moed, kind, jou sondes word vergewe.’”

Let op, Jesus tree nie op omdat hulle geloof Hom voor ‘n outomatiese onafwendbare keuse om te genees plaas nie. Nee, Hy tree op, omdat Hy hulle geloof in Hom raaksien, hulle vertroue dat Hy die beste vir hulle verlamde vriend sal doen, en Hy eer dié geloof. Sonder daardie geloof sou die man nie daar gewees het nie, sou die vriende hom nie gebring het nie, en sou die wonderwerk uiteraard nie moontlik gewees het nie.

Let ook op hoe Jesus met almal in gesprek tree, want Hy wil hulle leer dat ‘n verhouding met Hom, ‘n verhouding met God, van die allergrootste en deurslaggewende belang is.

Hy kyk na die vriende, Hy praat met die verlamde, Hy weet wat die skrifkenners dink en praat met hulle oor hulle gedagtes, Hy praat weer met die verlamde en gee só die skare wat rondom Hom staan en alles aanskou rede om God te prys, omdat hulle met diep ontsag vervul is.

Jesus wys dus dat ‘n verhouding met Hom die belangrike ding is om uit te sorteer. ‘n Verhouding met Hom is waaroor die lewe gaan. Sonder Hom, kan jy fisies gesond wees, maar dodelik siek in jou gees. Sonder Hom, kan jy jouself in hierdie wêreld redelik selfstandig handhaaf, maar uiteindelik die doel van jou lewe mis, om met God in ‘n herstelde verhouding te lewe.

Die wonderwerk van vergifnis geniet voorrang

Die derde belangrike woord wat ons moet hoor, is dat die wonderwerk van vergifnis eintlik die belangriker wonderwerk is. ‘n Mens sou selfs kon sê, die wonderwerk van vergifnis troef die wonderwerk van genesing, al gee Jesus uiteindelik albei vir die man.

Let op, dat Jesus nie die man voor die voet genees nie. Daar is niks outomaties in sy handelinge nie. Nee, Hy tree in gesprek met die verlamde man, en gee vir Hom dié ding wat Jesus dink die belangrikste is, vergifnis van sonde. Merkwaardig! Jesus dink vergifnis is die belangrike ding!

Want, sien, jy kan met albei jou twee bene loop, sonder krukke oor die weg kom sonder ‘n draagbaar of in sy geval ‘n slaapmat beweeg, maar as jou sonde nie op ‘n manier vergewe word nie, is jou toekoms duister.

“Hou moed, kind, jou sondes word vergewe.” Jesus sien dus sy hart raak, en genees sy hart. Vergifnis is die groter wonderwerk, dié een waarvan fisiese genesing eintlik net die teken is.

Soos in die ander evangeliste word die vergifnis as van groter belang geag as die genesing, hoewel die genesing wel uiteindelik gedoen word, om daarmee te illustreer dat Jesus die mag het om beide te doen. Die sonde staan immers aan die wortel van alle lyding en siekte en Jesus kan beide genees.

Jesus is dus nie maar net die Groot Geneesheer nie. Hy is veral die Groot Vergewer van sondes.

Wonderwerke is tekens van God se werk

Die vierde en (vir vandag) laaste woord wat ons moet hoor, is dat wonderwerke altyd met ‘n getuienis na buite te make het. Jesus antwoord die skeptiese skrifkenners se ongeloof in Hom met die teken van genesing. Hy illustreer vir hulle dat Hy God se Seun is, dat Hy sondes kan vergeef, dít wat hulle NIE glo nie, met die genesing van die verlamde man. Hy probeer hulle ongeloof verander deur hulle iets te laat sien van sy heerlikheid.

Dit slaag egter nie … want niemand is so blind as dié wat nie wil sien nie. En hulle wil nie sien nie, want hulle wil nie glo nie.

Maar, die skare, wat dit ook alles gade geslaan het, dié word met diep ontsag vervul, en prys God wat sulke gesag aan mense gegee het.

Ons kan dus daarop reken dat dit vandag nog só sal wees.

Ons staan tussen God en die mense. Ons is sy woordvoerders, en ons is ook voorbidders.

Dít is my boodskap – Jesus is die Vergewer en die Geneser. Ons kan dit weet. Ons mag daarop vertrou. Die verhouding met Hom is die allerbelangrikste. En enigiets wat in daardie verhouding gebeur, is ‘n getuienis van God se mag en krag. Dit is bedoel om eer en ontsag vir Hom te wek by mense.

En vandag?

Maar, kan ons dan aanvaar, wonderwerke gebeur dus vandag nog? Kan ons dit regtig glo? Mag ons dit glo?

Wat maak ons met die skeptici, ook in eie geledere, wat die filosoof David Hume se skeptisisme handhaaf dat wonderwerke per definisie teen die natuurwette is en daarom onmoontlik?

Ek wil die vraag oop los … tot vanaand.

Kom luister vanaand na ‘n paar stories, vra jou vrae, en kom ons neem saam ons verantwoordelikheid as profete op, om namens God in hierdie wêreld op te tree, en ook namens mense by God in te tree. Wonderwerke sal doodgewoon ‘n normale deel van só ‘n manier van kerkwees wees.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 453:1-3 – Aan die Vader dank en ere, laat ons saam sy lof besing. Hy het al ons skuld vergewe, laat ons Hom hulde bring. Hy’s genadig en magtig, die bewerker van ons heil. Kom ons loof Hom, kom ons eer Hom vir onverdiende seën.

Seën

Lied 453:1 se laaste reël: Kom ons loof Hom, kom ons eer Hom vir onverdiende seën.

Matteus 9 – Is wonderwerke moontlik vandag (aanddiens)

     

View all posts in this series

Tags: , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment