Skip to main content

Hou sinvolle Bybelstudie saam met jou huisgesin

Ek het ‘n navraag gekry oor hoe om sinvolle Bybelstudie saam met jou huisgesin te hou. Hier is die metodiek wat ek voorstel, en ‘n paar opsies vir Bybelboeke om deur te werk aan die hand van my bydraes. Dit is alles gratis.

METODIEK

STILTETYD

Ek gebruik die volgende basiese metodiek as ek die Bybel lees. Lees, luister, leef

  1. LEES – Raak stil voor die Here. Lees die gedeelte deeglik deur. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een of meer sleutelgedagtes wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek geskryf het oor die hoofstuk in die Bybel en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte(s) wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat moet jy dink of doen daarmee (insigte)? Wat belowe dit vir jou (beloftes)? Wat vra dit van jou (opdagte)? Wat is die kern van die boodskap daarvan vir jou dag en lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit in sy teenwoordigheid.

HUISGODSDIENS OF KLEINGROEPE

As ‘n mens dan saam kom vir huisgodsdiens of in ‘n kleingroep (na elkeen stiltetyd gehou het), kan ‘n mens met mekaar deel wat jou bybly – insigte, beloftes, opdragte – en dan ‘n tyd van gebed gee waar julle die Here aanbid, voorbidding doen, en Hom loof vir gebedsverhoring.

BYBELBOEKE

1. Prontuit die Waarheid – die vier evangelies

Werk die vier evangelies saam deur.

2. Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Volg die verhaal van Paulus in Handelinge en sy dertien briewe, want dit is die verhaal van die kerk. Só sal dié verhaal ook jou verhaal word.

3. Ek kom gou – Die boek Openbaring

Werk Openbaring deur.

4. Klaagliedere van Jeremia

Jeremia help ons om sin te maak van die Covid-19 tyd.

5. Werk die Bybel deur

Gebruik die Bybelskool materiaal om enige boek in die Bybel deur te werk. Daar is inligting oor elke hoofstuk in die Bybel. Lees dit kronologies deur, of soos die Here jou lei.

Chris van Wyk

Prontuit die Waarheid – Week 48

In hierdie sessie gee ek die storielyn van Jesus tot dusver weer in ‘n kort 16 punt oorsig. Sy geboorteverhale tot by sy doop en versoeking. Sy aanvanklike bediening in Galilea tot by ekskursies na Tirus en Sidon, Dekapolis, Sesarea-Filippi terug tot in Kapernaum. Ek het twee vrae gekry wat ek beantwoord: • Hoekom was die dissipels bang om Jesus uit te vra oor sy dood? • Hoe ontvang jy iemand in Jesus se Naam? Ek bespreek Jesus se tweede aankondiging van sy dood en opstanding en sy lering dat grootheid in diens opgesluit lê.

Onthou die materiaal kan hier afgelaai word.

Jy kan steeds hier inskryf.

Prontuit die Waarheid – Week 46

Ons fokus steeds op die Lydende Messias en die Lydende dissipels, soos Markus 8:34-9:1 en Matteus 16:24-28 dit vir ons vertel. Ons het verlede week na Lukas 9:23-27 se weergawe gekyk.

Ons staan ook stil by die berg van verheerliking – die berg Hermon in Sesarea-Filippi, ‘n streek wat met demoniese aktiwiteite geassosieer is, die noordelike rand van Basan, die “poorte van die doderyk – soos al drie sinoptiese evangelies daaroor skryf: Lukas 9:28-36; Markus 9:2-8 en Matteus 17:1-8.

Twee dinge staan vir my uit van hierdie wonderlike ervaring.

1. Die een is die plek waar die verheerliking gebeur. Die “poorte van die doderyk”. Dit wys onteenseglik dat die lig in die duisternis skyn en dat die duisternis die lig nie kan oorweldig nie.

2. Die ander is die heerlikheid wat Jesus en sy twee gespreksgenote – Moses en Elia – gedeel het. Dit is ook die heerlikheid wat ons beskore is, omdat ons in Jesus glo. Soos Paulus sê: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (vgl Rom 8:18-39).

Onthou jy kan steeds inskakel en alle vorige gedeeltes by die argief bereik.

Prontuit die Waarheid – Week 44

Ons gesels oor die “leer van die Fariseërs en die Sadduseërs” wat soos suurdeeg alles beïnvloed. Die dissipels moet op hulle hoede en in hulle pasoppens wees daarvoor. Die Fariseërs en Sadduseërs was meesters daarin om klein onbenullighede te neem en daaroor lang en ingewikkelde debatte te voer wat jou egter nêrens bring nie.

Ons gesels oor Markus se verhaal van Jesus wat ‘n blinde genees in Betsaida. Jesus tree hier op soos ‘n dokter wat ‘n dubbele terapeutiese ingrype maak. Eers spoeg en hande oplê. Toe weer hande op die oë en die man kon daarna sy oë met die nodig onderskeiding gebruik. Sommige geleerdes dink dat die twee stadia van die genesing eintlik ‘n “acted parable” is. Dat Jesus hiermee eintlik vooruit wys na die verskillende stadiums waardeur sy dissipels sal moet gaan om regtig geestelik te kan sien. Soos Guelich sê: “They are in need of a ’second touch’ which ultimately comes after Easter”.

Ons gesels oor Jesus wat al hoe meer sy volle aandag aan sy dissipels gee, ten spyte van hulle hardheid van hart en onbegrip. Hy neem hulle na Sesarea-Filippi (die Golan hoogtes) waar Petrus se beroemde belydenis gee: U is “die Christus van God.”

Prontuit die Waarheid – Week 43

Ek het ‘n video gemaak vir week 43 van die Bybelskool wat ek in Somerstrand sou aanbied vanaand. Enigiemand kan dit egter nou hier kyk. Dit is 18 minute lank.

Ek het ook die teks van die Skrifgedeeltes ingesit. Jy sou die video kon stop op die relevante plek om dit eers te lees, en daarna aangaan om die video te kyk. Jy is ook welkom om vrae te vra.

Geniet!