God kan vertrou word. God sal voorsien (Genesis 22).

Die een legende vertel die verhaal vanuit Isak se hoek. Daarvolgens het Isak nooit oor die kinderervaring gekom nie.  Dit sluit af met hierdie woorde: “En daardie kyk in sy pa se oë kon Isak ná die tyd nooit vergeet nie. Dikwels, jare daarna nog, as hy na sy pa gekyk het, was sy knieë weer lam en het dit vir hom gevoel of hy naar word.”

Dit was ‘n afgryslike ding om as kind deur te maak – dít moet ons goed besef.  Dit was nie speletjies nie.  Ons moet in Isak iets raaksien van Jesus wat vra: “My God, my God waarom het U my verlaat?”  Want dít is wat Isak op ‘n manier ervaar het. ‘n Pa wat bereid is om God te gehoorsaam, deur sy lewe te neem.

In die tweede Joodse legende is Sara die hooffiguur.  Uiteraard, soos ons weet uit die Bybelse storie, het Sara nie geweet wat sou gebeur nie.  Ons lees aan die einde van dié legende: “Toe Abraham egter terugkom by die huis en vir haar vertel wat byna met hul kind gebeur het, het sy ses keer gegil en toe gesterf. ’n Ma!” 

Ons moet iets in Sara raaksien van ‘n Maria wat haar Seun moes afstaan aan die kruisdood, met ‘n swaard wat deur haar siel gesteek het.  Want dít is wat Sara op ‘n manier ervaar het.  Soms is die moontlikheid van die dood so erg as die dood self …  Sara, wat so hard probeer het om ‘n kind vir Abraham te gee, en uiteindelik die wonder van ‘n kind in haar ouderdom beleef, dié moet hoor dat sy hom byna aan die dood afgestaan het.  Afgryslik.

Dié legendes is nie die werklikheid nie. Maar laat ons eerlik wees, die werklikheid is eintlik nog erger as wat die legendes dit vertel.

Coenie Burger noem drie vlakke waarop ons die verhaal kan verstaan.

  1. Eerstens verstaan ons almal wat kinders het die emosie van die moontlike verlies van ’n kind. Daar is min dinge wat ‘n mens se lewe so ernstig kan omkeer as die verlies van ‘nDit is iets waaroor jy nooit kom nie.  Jy leer hoogstens om daarmee saam te leef.  En dit is waardeur Abraham moes worstel.  So pas het hy vir Ismael verloor, sy bloed, sy nageslag.  Hier moet hy sy volgende, laaste seun aan die dood afstaan.  Verskriklik.  Tree vir tree is dit al waaraan hy kan dink terwyl hy na die berg van die Here op pad is.
  2. Op ’n tweede vlak moet ons verstaan dat Isak al kind was wat hulle gehad het. ’n Mens kan verstaan dat die Here soms van jou vra om van sondige dinge afstand te doen, maar met Isak was dit anders. Hy was God seHoe kan God dit dan van hom vra?  Hoe kan God die kind wat God self gegee het, van hom kom vra?  Is die volk van God uiteindelik maar net soos die ander volkere wat geen probleem met die offer van kinders gehad het?  Is dit regtig wat God wil hê dat hy moet doen … en dit sy enigste, die kind van die belofte?
  3. Dit bring ons by die derde vlak van verstaan. Isak was baie meer as net ’n enigste bloedkind. Hy was die kind in wie die nageslagbelofte vervul is. Sonder hom sou daar nie enige seën na die nasies kon vloeiDit is Abraham se grootste krisis. Dit is die grootste toets vir sy geloof.  Sy afskeid van Ismael was al moeilik genoeg, maar om die kind waaraan al sy toekomsverwagtinge verweef is, waaraan ‘n hele volk se verwagtinge gekoppel is, aan die dood af te staan … dit grens aan besetenheid.  Dit kan mos nie wees nie.

Alles waarvoor Abraham geleef het, was dus in die weegskaal.  Alles.  As Isak sou sterf, sou Abraham se lewe tot niks kom.  Sy trek na Kanaän en sy vasgryp aan God se beloftes sou verniet wees. Vroeër moes Abraham hom van sy hele verlede afsny en uit sy land en mense trek na die land wat die Here hom sou aanwys.  En hy moes belewe dat hy ‘n vreemdeling in die land bly, net met ‘n spelonk uiteindelik wat hy gekoop het om vir Sara te begrawe (Gen 23). Nou word hy voor ‘n keuse gestel waar hy sy hele toekoms moet opgee.  Alles sou dus tevergeefs wees.

Dit is wat op die spel is in dié verhaal.  Dit moet ons goed weet, om die boodskap hiervan te kan begryp.

Tog lees ons dat Abraham God nie bevraagteken nie, maar doen wat God vra. Abraham gehoorsaam God: saal sy donkie op, kap hout vir die offer, sit dit op die donkie, neem 2 slawe saam, neem sy seun Isak, en reis 3 dae lank om by Moria uit te kom.  Daar los hy die 2 slawe, sit die hout op Isak se skouers, van alle plekke (laat ‘n mens dink aan die houtkruis veel later in die verhaal van die kerk), neem die vuur, neem die mes en stap saam die berg op.

Hoekom? 

Daar is twee perspektiewe in die gedeelte wat Abraham se gehoorsaamheid verklaar.

  1. Die eerste is dat Abraham geleer het om God te vertrou.
  2. Die tweede is dat Abraham geglo het dat God voorsien.

Abraham het geleer om God te vertrou

Sien, die hele Abrahamverhaal is een van toetsing – sal Abraham die Here vertrou of nie.

Abraham moes sy land verlaat en moes God se beloftes ernstig neem toe daar fisiek geen moontlikheid van ’n nageslag was nie. Dit was alreeds ’n toets vir sy geloof en vertroue.  Maar God het hom in die land ingebring en hom daar geseën.  En hy het geleer om God te vertrou as Hy sê trek.

Toe kry sy nefie Lot en dié se veewagters stry met Abraham se manne, en hulle het ‘n krisis met die saambestaan in die beloofde land.  En, nice ou wat Abraham is, hy laat Lot kies waar hy wil trek.  Lot kies op die oog af die beste deel van die land, waar daar baie water is, en gaan bly Oos van die Jordaan.  Abraham bly half beteuterd agter, met die droër dele van Israel, maar gelukkig sonder die verleiding van Sodom en Gomorra wat uiteindelik Lot se ondergang sou wees.  En die Here belowe vir hom dat Hy nie net sal sorg vir Abraham nie, maar dat al die grond wat hy rondom hom sien, syne en dié van sy nageslag sal wees.  En Abraham leer om God te vertrou met sy grond.

Op ‘n slag was daar droogte en moes hy na Egipte trek.  Daar onder druk van die koning het hy gelieg oor Sara en gesê dat sy sy suster is, toe die koning in haar belang gestel het.  En die Here het ingegryp en die farao gewaarsku dat hy niks met Abraham se vrou te doene moet hê nie.  God het Abraham van sy eie dwaasheid beskerm.  En hy het geleer om God te vertrou selfs in die vreemde.

Toe kom daar die uitdaging van sy bejaardheid toe hy en Sara net nie daarin kan slaag om kinders te hê nie.  Jaar na jaar gaan verby tot Sara uit radeloosheid vir hom laat trou met Hagar, sodat hy ‘n seun by haar kan hê.  Maar dié gebeure het eintlik net die situasie laat verswak.  Sara het so jaloers geword op Hagar dat sy uiteindelik weggestuur is, die woestyn in.  Abraham moes van Ismael, vir wie hy lief was, afskeid neem.  Maar, ook daarin het die Here hom gelei, en het hy geleer om God te vertrou, selfs as dinge regtig nie goed gaan nie.  God maak vir hom wonderlike beloftes van wat met Ismael sou gebeur, en red Ismael van ‘n seker dood in die woestyn.

Trouens die verhaal van hoofstuk 21, waar Hagar met haar kind Ismael weggestuur word die woestyn in, vertoon baie parallelle met hoofstuk 22, die verhaal van Isak se offer.  Die gebeure rondom Ismael het Abraham dus al voorberei op wat op die spel is wanneer God van jou jou kind vra.  Dit het hom gehelp om dié groot toets te deurstaan, omdat hy uit sy vorige ervarings met God geleer het om Hom te vertrou, al gebeur wat ook al.

Maar, maak geen fout nie, hierdie opdrag van God om Isak te offer is die ergste toets vir sy geloof en sy vertroue op God.  Dit is ’n doodsaak. Soos Luther gesê het, hierdie toets is veel erger as die versoekings wat uit die vlees opkom of deur die duiwel oor ons pad gestuur word.  Die Here se opdrag om Isak te offer is die terugkeer na onvrugbaarheid.  Geen toets kon groter wees as dit nie. 

En uit Abraham se reaksie sou ’n mens kon sien hoe ernstig hy is oor God. Want, dit moet ons weet, wanneer God ons toets of beproef, is dit om te bepaal of dit wat ons sê ons glo werklik waar is: “God tests to identify his people, to discern who is serious about faith and to know in whose lives he will be fully God” (Brueggemann).

Soos Coenie Burger sê: “Dit kan gebeur dat ons dit wat God aan ons leen – gawes, geliefde mense, voorregte, geleenthede; eintlik alles wat ons is en het – vir ons begin toe-eien, dat ons later daaroor as ons eiendom begin dink, dat ons dit sien as iets wat ons toekom – en voor jy jou kom kry, praat en dink jy so oor die dinge wat God aan jou geleen het. Daarom is dit nodig dat die Here soms aan dié goed kom pluk, dit ’n tyd lank onttrek aan ons lewe …”

Wanneer Abraham dus die opdrag van die Here nakom en op die drie dae se reis volhou en uithou en aanhou en uiteindelik bereid is om sy seun te offer, al verstaan hy nie hoe nie, maar wel dát God sal voorsien, dán slaag hy die toets waarvoor God hom geplaas het.

Martin Luther King het tereg gesê: “The ultimate measure of a man is not where he stands in times of comfort and convenience, but where he stands in times of challenge and controversy.” Dít is wat ons in Abraham raaksien.  Dít is ook waarvoor ons geroep word.

God sal sy eie offerlam voorsien

Maar daar is ook ’n tweede perspektief wat Abraham se gehoorsaamheid verklaar.

Abraham het iets verstaan van God wat hom in staat gestel het om in geloof aan God te laat vasgryp. 

Die eerste leidraad van sy geloof in God lê in vers 5 toe hy vir die slawe sê: “Wag hier met die donkie.  Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.”  In die verwarring en worsteling met die skrikwekkende ding wat hy gevra word om te doen, het hy die vertroue dat God op ‘n manier sal intree en sy seun aan hom sal teruggee.

Die tweede leidraad vir hierdie geloof in God wat vertrou dat Hy ten diepste ‘n goeie God is, lê in vers 8.  Toe Isak vir Abraham vra: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?” (vers 7)  antwoord Abraham: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” (vers 8). 

Dit is duidelik dat Abraham met hierdie “oop” uitspraak toon dat hy onwrikbaar glo in ‘n God wat vertrou kan word vir die uitkoms van selfs die mees onverstaanbare situasie. Dis ook ’n aanduiding dat hy die toets van God “geslaag” het.

Hoekom?  Want Hy weet God sal voorsien.  Hy weet nie wat hierdie voorsiening sal behels nie, maar hy wéét dat die beloftes wat God gemaak het, God se beloftes is en dat Hy die alleenreg het om daarmee te handel. Met hierdie uitspraak word die eerste gebod duidelik onderstreep: naas God is daar niemand anders wat gedien mag word nie!

Hoe oorleef ’n mens dus hierdie toets? Die antwoord lê in Genesis 22:8, naamlik dat God self sy offerlam sal voorsien. Dit is waarop ‘n mens vertrou.  Op die berg van die Here, Moria, het die Here inderdaad die offerlam gegee, en Isak as’t ware uit die dood uit vir hom terug gegee soos Hebreërs 11 veel later sou skryf.  God kan vertrou word.

Ons dien ’n God wat kyk na sy kinders – daarvan kan ons seker wees.  Oor die jare het Abraham dit geleer: hierdie God is ’n God van sy Woord.  Hy kan vertrou word.  Hy sal voorsien.

En dít is my boodskap aan julle: God kan vertrou word.  God sal voorsien.

As Nuwe-Testamentiese Christene weet ons dit natuurlik nog beter as Abraham.  Op ’n ander berg, op Golgota, ‘n paar 100 meter van Moria, die tempelberg, af (2 Kron. 3:1 – volgens Joodse tradisie dieselfde berg waar Isak geoffer is), het ons gesien dat God in sy voorsiening selfs nog verder gaan as op Moria. Daar het God finaal voorsiening gemaak vir al die uitdagings van die lewe met die dood van sy Seun, Jesus.  Dit het God meer gekos as wat Hy nog ooit van enige mens gevra het, Sy eie Seun.

Juis daarin, in die feit dat God self bereid was om te doen wat Hy Abraham in die laaste oomblik gespaar het, naamlik om sy Seun in die dood te gee, sien ons God se liefde die helderste.

Daarom kan ons ook nou weet: die lewe is nie altyd maklik nie; soms is daar snaakse draaie in die pad – ook vir kinders van die Here. Maar op die berg van die Here, dit kan ons weet, sal daar altyd voorsien word. 

God kan vertrou word.  God sal voorsien.

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment