Die eenvoud van die Woord van God – 1 Samuel 3

NGK Somerstrand 09:00 | 26 Maart 2023 | Kerk en Youtube

Verwelkoming

Aankondigings

Ons vereenvoudig ons kommunikasie op Whatsapp. Klik asb op hierdie skakel om NGK Somerstrand nuus te ontvang.

  • Bybelskool – vul jou naam in op die lys in die portaal as jy by ‘n weeklikse byeenkoms betrokke wil raak
  • Veritas – vul jou naam in op die lys in die portaal as jy by die toerusting wil inskakel
  • Kleingroepe en persoonlike stiltetyd – kontak my vir opsies met Bybelstudie

Toetrede

Flam 22 Ek soek U, o God, my God (sit)

Flam 21 In die Hemel is die Heer, en sy glans is soos kristal (sit)

Votum en Seëngroet

Lofliedere

Lied 200:1,3 U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie  (staan)

Lied 553:1 Ek is bly ek ken vir Jesus… Ek is bly ek het ‘n Bybel (staan)

Kindertyd

Gebruik gerus Free Bible Images om jou kinders in te lei in die verhale van die Bybel sowel as die groot temas. Daar is uitstekende stof met PowerPoint en Pdf hulpmiddels.

Ek wil vir julle vandag vertel van Samuel.

1 Daar was ‘n man met die naam Elkana. Hy het twee vroue gehad, Peninna en Hanna. Peninna het kinders gehad, terwyl Hanna niks gehad het nie. Maar Elkana het vir Hanna voorgetrek. Hy was jammer vir haar dat sy nie kinders gehad het nie.

2 Peninna het dikwels met Hanna gespot dat sy nie kinders gehad het nie. Dit het Hanna baie hartseer gemaak.

3 Eendag was Hanna besig om te bid in die huis van die Here. Sy het gebid vir ‘n kind. Sy het belowe om hom vir die Here terug te gee as die Here maar net vir haar ‘n kind sou gee. Eli, die priester, het opgemerk dat Hanna so bid.

4 Eli het Hanna getroos en gesê: “Gaan in vrede, mag die God van Israel vir jou gee wat jy van Hom gevra het.”

5 ‘n Tydjie daarna het Hannah swanger geraak en ‘n seun is vir haar en Elkana gebore. Sy het hom Samuel genoem, “want ek het die Here vir hom gevra, en die Here het geluister.”

6 Toe Samuel groot genoeg was het sy hom na die huis van die Here gebring. Daar het Samuel by Eli gebly wat die priester by die tempel was.

7 Een nag, terwyl Samuel geslaap het, het die Here hom geroep.

8 Samuel het wakker geword en gehardloop na Eli en gesê: “Hier is ek, u het my geroep.”

Eli het gesê: “Ek het nie geroep nie, gaan terug en gaan lê weer.”

9 Samuel het toe teruggegaan na die tempel en weer aan die slaap geraak. Maar, die Here

Het weer geroep.

10 Samuel het weer na Eli toe gehardloop sê: “Hier is ek, u het my geroep.” Eli het gesê: Ek het nie geroep nie, gaan terug en gaan lê weer.”

11 Samuel het toe teruggegaan en weer geslaap, maar die Here het weer geroep.

12 Samuel het weer na Eli toe gehardloop sê: “Hier is ek, u het my geroep.”

13 Eli het besef dat dit die Here was wat vir Samuel roep. Hy het vir die jong seun gesê om weer te gaan lê en as die Here hom weer roep, moet hy sê: “Praat, Here, want u dienaar luister.”

14 Samuel het toe teruggegaan om te slaap. Die Here het weer geroep: “Samuel! Samuel!”

“Praat, Here, u dienaar luister,” het Samuel geantwoord en toe geluister na wat God vir hom wou sê.

15 Samuel het ouer geword en nie net na God geluister nie, maar ook alles wat God hom gevra het, gehoorsaam. Hy het grootgeword om ‘n profeet te wees, ‘n boodskapper van God, wat alles wat God vir die mense wou sê, aan hulle oorgedra het.

Ons kan ook luister na wat die Here vir ons sê.

Kom ons sing daarvan.

Toewydingslied

Lees jou Bybel, bid elke dag (sit)

Gebed

Skriflesing en prediking

Die eenvoud van God se Woord

Ek sluit vandag Vian se reeks oor die Bybel af. Hy het gevra dat ek fokus op die feit dat die Bybel eenvoudig genoeg is dat kinders dit kan verstaan.

Ek het verskeie gedeeltes oorweeg in die Bybel wat oor kinders praat, maar is uiteindelik in gebed gelei na die verhaal van Samuel.

Ek wil op sy verhaal fokus om ons eerstens te bemoedig om ons rol as ‘n Hanna en ‘n Eli in ons kinders se lewens te speel.

Maar, tweedens wil ek fokus op wat die verhaal ons van God vertel wat Hom deur sy Woord aan ons wil openbaar. Sy wil is glashelder selfs vir die eenvoudigste onder ons.

Twee mense speel aanvanklik ‘n deurslaggewende rol in Samuel se lewe. Hanna en Eli.

Hanna laat Samuel “by die Here” grootword

Julle ken die verhaal van Hanna wat Samuel letterlik afgebid het van die Here. En nie net daarby gebly het toe sy uiteindelik aan hom geboorte gee nie. Nee, sy het haar rol as ma voluit gespeel. Aanvanklik in haar eie huis. En later in die huis van die Here, waar sy telkens vir hom klere gebring het, en hom versorg het.

Maar, die belangrikste is dat sy hom toegelaat het om “by die Here” groot te word (1 Sam 2:21). Sy het vir sy fisiese behoeftes gesorg. Maar, nog belangriker, sy het gesorg dat hy die Here kon dien, en aan sy teenwoordigheid in die tabernakel blootgestel is.

As ek terugdink aan my eie ouerhuis is dit een van die groot invloede in my lewe dat van my eerste herinneringe met die kerk en die erediens, kategese en kinderkrans te make gehad het. Selfs al kon ek min verstaan van wat die dominee gesê het. Om in die teenwoordigheid van die Here te kom, om na sy Woord te luister, het my lewe op onberekenbaar kosbare maniere gevorm.

Eli was ‘n mentor vir Samuel

Julle ken uiteraard ook die verhaal van Eli goed. Eli het baie gebrek gehad. Hy het sy eie kinders nie gedissiplineer het, maar vir Samuel was Eli die perfekte mentor.

Toe Samuel die eerste keer die stem van die Here gehoor het, was Eli daar om hom te sê wat om te doen, sodat hy die Here se stem kan onderskei.

En, Hanna en Eli is per definisie voorbeelde vir ons van hoe ons ook met ons eie en met ander mense se kinders moet werk. Hanna het haar geestelike rol in die lewe van haar eie kind gespeel. Eli het sy geestelike rol in die lewe van iemand anders se kind gespeel.

Dink ‘n bietjie aan jou eie kinders en watter geestelike rol jy nog kan speel in hulle lewens, soos ‘n Hanna. En miskien is daar iemand vir wie jy ‘n Eli moet wees.

Die belangrikste rol is egter natuurlik die rol wat God self in Samuel se lewe gespeel het.

Ons lees in 1 Samuel 3:

31Die seun Samuel was in diens van die Here onder toesig van Eli. ‘n Woord van die Here was seldsaam in daardie dae; geen visioene het voorgekom nie.

Samuel begin as die jong vakleerling wat by Eli, sy mentor, geleer en aan hom onderworpe was. Maar, onmiddellik kom ons agter dat daar ‘n probleem was. Die volk en inderdaad ook die priesters het nie naby die Here geleef nie. Daarom was die woord van die Here skaars.

2In daardie tyd het Eli op sy gewone plek gelê. Sy oë het al begin swak word, hy kon nie meer sien nie. 3Die lamp van God was nog nie dood nie, en Samuel het al gaan lê in die tempel van die Here waar die ark van God was.

Eli se swak oë het beteken dat Samuel in die tempel moes slaap om te sorg dat die lamp wat regdeur die nag aan die brand gehou moes word (Eks 27:21) nie uitgedoof sou word nie.

Maar, die feit dat die lamp van God nog nie dood was nie, het ook ‘n dieper betekenis. Dit is nie asof God nie wou praat nie. Dit is ‘n geval dat daar nie iemand was wat wou luister nie. En hier is nou iemand wat by die Here gelewe het. En al was Samuel jonk skep dit die geleentheid dat God sy openbaring kan bring.

4Toe roep die Here na Samuel en hy het geantwoord: “Hier is ek!” 5Hy hardloop toe na Eli en sê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie. Gaan lê maar weer.” Hy het toe gaan lê.

Dit is duidelik dat Eli se onderskeidingsvermoë ernstig afgeneem het. Hy was nie net fisies swaksiende nie. Sy geestelike oë was ook dof.

6Die Here roep toe weer: “Samuel!” Samuel het opgestaan, na Eli gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Maar hy antwoord: “Ek het nie geroep nie, my seun. Gaan lê maar weer.”

En die skrywer lig vir ons die sluier ‘n bietjie verder op wat regtig aan die gang is hier:

7Samuel het nog nie die Here geken nie, en die woord van die Here was nog nie aan hom geopenbaar nie.

Samuel het nie persoonlike ondervinding gehad om die Here se stem te herken nie, want hy was nog nie blootgestel daaraan nie, en hy het geen voorbeelde gehad rondom hom van mense wat die stem van die Here geken het nie.

8Die Here roep toe weer na Samuel vir die derde maal. Hy staan toe op, gaan na Eli en sê: “Hier is ek, want u het na my geroep.”

Dit sê baie vir Samuel se selfdissipline en onderdanigheid aan Eli dat hy drie keer in die vroeë oggendure opgestaan het in reaksie op wat hy gedink het Eli se oproep was. Sy bereidheid om gehoorsaam te wees aan Eli het hom voorberei om God se woord te ontvang.

Eli besef toe dat dit die Here is wat na die seun roep. 9Eli sê toe vir Samuel: “Gaan lê, en as Hy jou roep, moet jy sê, ‘Spreek, Here, want u dienskneg luister.’ ” Samuel gaan toe en gaan lê op sy plek.

10Die Here het gekom en gaan staan, en geroep soos die vorige kere: “Samuel! Samuel!”

Let op dat die Here in ‘n sigbare vorm verskyn en dat Samuel nie net iets hoor nie, maar ook iets sien. Later praat hy van die “verskyning” van die Here. Miskien was die Here aan die ander kant van die gordyn wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het.

Samuel het geantwoord: “Spreek, want u dienskneg luister.” 11Die Here sê toe vir Samuel: “Kyk, Ek gaan iets doen in Israel wat elkeen wat dit hoor, se twee ore sal laat tuit. 12Op daardie dag sal Ek teenoor Eli alles vervul wat Ek oor sy huis aangekondig het, van die begin tot die einde. 13Ek wil aan hom bekend maak dat Ek vir altyd sy huis gaan oordeel oor die sondeskuld waarvan hy geweet het. Want terwyl sy seuns God gelaster het, het hy hulle nie tereggewys nie. 14Daarom lê Ek ‘n eed af teenoor die huis van Eli: Die sondeskuld van Eli se huis sal vir ewig nie versoen kan word deur slagoffer en graanoffer nie.”

Dit is ‘n boodskap wat ‘n amper ondraaglike oordeel oor Samuel se mentor, Eli, ingehou het. As hoof van die huis was dit sy verantwoordelikheid om toe te sien dat die godslastering van sy seuns aangespreek word. Hy het egter nagelaat om hulle te dissiplineer.

Dit het groot gevolge vir sy hele familie wat hier van hulle priesterskap ontneem word. Want, die wet het voorsiening gemaak vir offers wat die sonde van die priesters kon versoen. Sondes wat egter met “’n hoë hand” gepleeg is – in opsetlike verontagsaming van God se wet – soos wat Eli se seuns gepleeg het, kon nie deur enige offer hanteer word nie.

Ons moet onthou dat opsetlike sondes van altyd af op ‘n heel ander manier hanteer is as dié wat onopsetlik gepleeg is, en waarvoor daar ‘n hele reeks brand- en skuldoffers voorsien is. Die rede is dat opsetlike sondes vergifnis fundamenteel in gedrang gebring het. Dit is sondes wat ten diepste teen God gepleeg is, waar sy wil doelbewus, moedswillig, hardkoppig en opsetlik oortree is. Dit is die woorde wat die Bybel daarvoor gebruik.

Daarom, wanneer jy iemand onopsetlik doodgemaak het, was daar reëlings om genade te ontvang, maar nie in die geval van opsetlike moord nie.  Daar was geen genade vir sulke moordenaars in die wet nie (Eks. 21:14).

Soos Samuel later die volk in Saul se tyd waarsku: “Wees net gehoorsaam aan die Here en dien Hom opreg en met julle hele hart. Let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. Maar as julle opsetlik verkeerd doen, sal julle sowel as julle koning uitgewis word.” (1 Sam. 12:24-25).

Daar was uitsonderings in die OT op hierdie harde reël, soos met die genade wat iemand soos Dawid van die Here ontvang het met sy sonde met Batseba, hoewel die genade teen ‘n geweldige prys gekom het, vir hom en sy volk (2 Sam. 12).

En hoewel dit presies hierdie prys is wat in die NT met die kruisdood van die Here Jesus betaal is, sodat daar vergifnis en reiniging kon kom vir dié wat hulle op die genade van die Here Jesus verlaat het, selfs in die geval van moordenaars – soos Jesus aan die kruis geïllustreer het met die genade aan die moordenaar wat saam met Hom gehang het – weerklink die waarskuwing oor opsetlike sondes steeds helder in die NT.

Hebreërs sê:

26Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer ‘n offer vir ons sondes oor nie, 27maar wel ‘n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer. 28Wanneer iemand die Wet van Moses verwerp het, het hy gesterf op grond van twee of drie se getuienis, sonder genade. 29Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het? 30Want ons ken Hom wat gesê het:

“Aan My behoort die wraak;

Ek sal vergeld.”

en ook:

“Die Here sal sy volk oordeel.”

31Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God! (Hebreërs 10:26-29)

Verskriklike boodskap, maar ‘n noodsaaklike een. Die openbaring van God kan net herstel word in die gemeenskap van gelowiges as hulle gereinig word van dié dinge wat skeiding maak tussen hulle en God.

Iets wat ons as kerk ook moet hoor. Waar sonde – soos God dit in sy Woord beskryf – goedgepraat word, kom dieselfde oordeel oor ons. Eers raak die Woord van God stil. En allerlei ander stemme word as woorde oor God aangebied. Tot iemand die moeite doen om naby die Here te lewe en Hom toe te laat om sy Woord, dws Homself, aan ons te openbaar. Dit is hoe herlewings altyd gebeur het in die verlede, maar wat ons moet raaksien in die verhaal van Samuel is dat die eerste hoor van die Woord van die Here ‘n oordeel oor die priesters van daardie tyd ingesluit het.

Geen wonder dat ons lees:

15Samuel het bly lê tot die oggend, en hy het die deure van die huis van die Here oopgemaak. Maar Samuel was bang om vir Eli van die verskyning te vertel.

Eli het tot sy krediet egter aangedring daarop om die Woord van die Here te hoor:

16Eli roep toe na Samuel en sê: “Samuel, my seun!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 17Toe sê Eli: “Wat is dit wat Hy vir jou gesê het? Moet dit tog nie vir my wegsteek nie. Mag God jou swaar straf as jy enigiets vir my wegsteek van alles wat Hy vir jou gesê het.”

18Samuel het toe alles vir hom vertel. Hy het niks vir hom weggesteek nie. Daarop sê Eli: “Hy is die Here – wat goed is in sy oë, sal Hy doen.”

Die Woord van God het dus skeiding gebring tussen Eli en Samuel, want van dié punt af was die betroubare profeet Samuel gewees.

Ons lees:

19Samuel het grootgeword. Die Here was met hom en het nie een van sy woorde onvervuld gelaat nie. 20Die hele Israel, van Dan tot Berseba, het geweet dat Samuel betroubaar was as ‘n profeet van die Here.

En die verhaal word opgesom met die mededeling:

21Die Here het daarna weer in Silo verskyn; ja, die Here het Hom in Silo deur sy woord aan Samuel geopenbaar.

Samuel word hiermee die begin van beide die profeteskool beweging sowel as die monargie in Israel met sy salwing as koning eers van Saul, en later van Dawid.

Dit is wat ons die meeste nodig het. Dat die Here Homself deur sy Woord aan ons openbaar.

En dit maak nie saak hoe oud jy is nie. Die Here praat met dié wat naby Hom leef.

Jy kan help met die proses soos ‘n Hanna wat haar seun toegelaat het om naby die Here te leef. Jy kan help met die proses soos ‘n Eli wat Samuel se mentor was en hom gehelp het om die stem van die Here te onderskei van ander stemme.

Maar, uiteindelik is dit belangrik dat jy jouself oopstel dat die Here Hom deur sy Woord aan jou openbaar.

Sy wil is glashelder selfs vir die eenvoudigste onder ons.

Hoe doen ons dit?

Wel, die wyse waarop God met Samuel gewerk het, is vir ons ‘n aanduiding. Jy stel jou in om beskikbaar te wees vir wanneer God gaan praat.

Vir Samuel het dit beteken om naby die Allerheiligste in die tempel te gaan lê en te wag tot God praat. Vir ons beteken dit doodeenvoudig om die Bybel oop te maak en die boodskap te lees.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 541:1-3 Ons bring aan U, Heer Jesus  (staan)

Seën

Respons

Lied 189 Halleluja

 

View all posts in this series

Comments (2)

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.