Skip to main content

Hoe leef ek tot eer van God?

Ons begin met ‘n nuwe reeks wat aansluit by tema van die Olimpiese en Paralimpiese Spele. Ons het die afgelope paar weke uitstekende prestasies van wêreldklas atlete gesien. Ook van ons land se eie atlete. Hulle het Faster, Higher, Stronger, en Together gepresteer.

Ons wil daarby aansluit en die vraag beantwoord, hoe kan ons in ons Christelike lewe leef met integriteit, uithouvermoë, dankbaarheid ook wanneer ons verlies ervaar, en veral as deel van ons dissipelskap span, dws die gemeente, tot eer van God te leef.

Ons begin met die tema van die eer van God.

Hoe kan ek leef tot eer van God?

Paulus skryf in sy brief aan die Kolossense die volgende:

16Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing.17En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank. (Kol 3:16-17)

1. Dws, die geheim van ‘n lewe tot eer van God lê om eerstens te fokus op die woord van Christus en dit in sy volle rykdom in jou te laat woon. Sodat jy jou bydrae kan maak in die geloofsgemeenskap waar ons mekaar leer en vermaan, en saam die Here loof met ons lofliedere. Want, dit is eksplisiet hoe ons tot God se eer leef.

2. En tweedens fokus ons daarop om wat ons ook al doen, in woord en daad, om dit tot eer van God te doen in dankbaarheid vir alles wat Hy vir ons doen.

Maar, beteken dit dat ek ‘n predikant of ‘n sendeling moet word om tot eer van God te kan leef? Het die eer van God net met geestelike dinge te make? Wat dan van my drome om my talente te gebruik en te presteer?

Die eenvoudige antwoord is, nee, daar is niks fout met jou drome oor jou talente en gawes nie. Paulus sê juis, “wat julle ook al doen, in woord of daad.” Dit sluit alles in. Jou skoolwerk. Jou sport. Die ontwikkeling van jou gawes.

Die belangrike is net om dié dinge “in die Naam van die Here Jesus” te doen. Dws met erkenning aan Hom en in afhanklikheid van Hom. En om dit met dankbaarheid te doen, nie met ‘n arrogante selfverheerliking nie.

Ons mag dus vasbyt en opoffer om bo uit te kom.

  • Soos ons dit die afgelope tyd gesien het met Tatjana Schoenmaker se twee medaljes, goud en silwer, in swem.
  • En in Bianca Buitendag se silwer in surfing by die Olimpiese Spele.
  • Daar was ook die uitsonderlike wêreldrekord van Ntando Mahlangu in die verspring.
  • En Anrune Weyers se goue medalje in die 400 meter by die Paralimpiese Spele.

Die getuienis van daardie slogan op Tatjana se swemkeps: “Soli Deo Gloria,” het wêreldwyd weerklink – “Aan God alleen die eer.”

Miskien het jy ook sulke drome. Soos sy. Soos hulle. En kan jou prestasies ook ‘n getuienis raak wat die wêreld kan vasvang en bekendstel aan die Een vir wie jy dit doen. Die Here God wat bó alles geëer moet word.

Jy ken miskien die fliek Chariots of Fire? Dit is die verhaal van Eric Liddle. Hy was ‘n ongelooflike sportman – nasionale Skotse kleure in atletiek en rugby – wat voluit vir die Here gelewe het. Terwyl hy uitgeblink het as 100 tree atleet en vier drieë gedruk het vir die Skotse rugbyspan.

Die een verhaal van hom staan bó die ander prestasies in sy sportloopbaan uit. En daar was baie hoogtepunte. Soos die keer toe hy reg aan die begin van ‘n 400 meter wedloop gestruikel het en eers 20 meter agter die ander kon wegkom. Hy het eenvoudig met alles in hom die ander ingehardloop en die wedloop gewen.

Maar, die hoogtepunt was toe hy ‘n baie goeie kans gestaan het om by die 1924 Olimpiese Spele gekroon te word as die vinnigste man op aarde in die 100 tree (daardie tyd het hulle sommige wedlope in meter en ander in tree gemeet). Sy beste tyd vir die 100 tree was 9.7 sekondes.

Maar, toe vind hy uit dat die uitdunne vir die 100 tree op ‘n Sondag sou wees. En hy wou nie op Sondag deelneem nie, uit eerbied vir die “dag van die Here.”

Hy het besluit om vir die 400 meter te begin oefen. Sy tye was egter nie vreeslik watwonders nie. Sy beste tyd voor die Olimpiese Spele was maar 49.6 sekondes. En dit is ook in hierdie tyd wat hy daardie 20 meter ingehaal het op die ander atlete in ‘n wedloop.

Hy is deur die uitdunne. Die oggend van die finaal het aangebreek. Een van die afrigters gee toe vir hom ‘n teks uit 1 Samuel 2 in die Bybel.

“Mense wat My eer, sal Ek eer; maar mense wat My minag, sal veragtelik wees.” (1 Sam 2:30)

Hierdie teks het sy binnekant geroer en met die wedloop – hy was in die swakste baan geloot, die heel buitenste baan – het hy die wedloop van sy lewe gehardloop. Hy het van begin tot end gesprint. Twee sekondes beter as sy vorige beste. ‘n Nuwe wêreldrekord, 47.6 sekondes.

Hierdie oorwinning, saam met sy oortuiging oor Sondagsport, was ‘n kragtige getuienis regdeur die wêreld. Die Here het Eric geëer, omdat Eric die Here geëer het.

Wat leer ons hieruit?

Dat ons dieselfde kan doen. Dat ons die Here met ons gawes en talente kan eer. Terwyl ons aan ons oortuigings in die Here vashou. Aan Hom die eer gee. Hy sal ook vir ons eer.

Maar, dit is nie al verhaal van Eric Liddle wat uitstaan nie. Dié verhaal het wel besondere betekenis vir almal van ons. Vir almal wat op dieselfde wyse as hy kan presteer.

Maar, nie almal van ons het die talent om bo uit te kom in sport nie. Dit maak egter nie saak nie. Die Here wil net hê dat ons op Hom fokus, en alles wat ons doen, in woord en daad, tot sy eer te doen.

En dit is waaroor die volgende verhaal van Eric gaan.

Eric is gebore in China – die Chinese het hom aanvanklik as hulle eerste Olimpiese kampioen vereer – en het teruggegaan om daar as onderwyser in die sending te gaan werk.

Iemand het hom in dié fase van sy lewe gevra of hy die roem en eer van die sportwêreld mis. Hy het geantwoord dat dit net logies is as ‘n mens dit af en toe mis, maar het Eric gesê:

“I’m glad I’m at the work I’m engaged in now. A fellow’s life counts for far more at this than the other.”

Sy sportpretasies was ‘n getuienis aan die wêreld. Hy het die Here daarmee geëer. En mense het dit raakgesien. Dit was ‘n kragtige getuienis.

Sy werk as ‘n sendeling het egter ewigheidswaarde gehad. En dit tel op die ou end meer as prestasies in sport.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is Eric in 1943 deur die Japanese opgesluit saam met ‘n 2 000 Chinese en ander nasionaliteite.

Dit was haglike omstandighede. Min spasie – 11 mense in ‘n kamer. Min kos. Geen spoeltoilette nie. Geen mediese hulp nie.

Eric het egter nooit gekla nie, en eenvoudig aan die werk gespring en hulp georganiseer vir die ouer mense, en die jonger kinders entertain met allerhande aktiwiteite, onder ander sport geleenthede. Hy het hulle ook onderrig, want hy was ‘n wetenskap onderwyser.

Die skrywer en latere teoloog, Langdon Gilkey, is saam met Eric Liddle opgesluit en was só geraak deur Eric se getuienis dat hy daardeur tot bekering gekom het. Hy het ‘n boek oor sy ervarings geskryf en sê oor Eric en sy liefde vir jongmense:

“Often in an evening I would see him bent over a chessboard or a model boat, or directing some sort of square dance – absorbed, weary and interested, pouring all of himself into this effort to capture the imagination of these penned-up youths. He was overflowing with good humour and love for life, and with enthusiasm and charm. It is rare indeed that a person has the good fortune to meet a saint, but he came as close to it as anyone I have ever known.”

Daar is ‘n dokumentêre fliek oor hierdie deel van Eric se lewe gemaak: Champion of Conviction, as jy miskien belangstel.

Eric se verhaal eindig met breinkanker wat hy daar in die tronk opgedoen het. Hy is in 1945 dood, net voor die oorlog verby was. Selfs sy laaste woorde was ‘n getuienis. Hy was besig om met iemand te gesels, het het gepraat oor volle oorgawe aan die Here. Met die woord  “surrender,” op sy lippe is hy die ewigheid in. Waarmee hy verwys het na die absolute fokus wat elke Christen moet hê op God se wil, God se eer.

Niks is belangriker as dit nie.

Wat my terugbring by jou lewe.

Dit maak eintlik nie saak wat jy doen met jou lewe nie, solank as wat jy dit leef tot eer van God.

Dit kan in sport wees. Dit kan in die akademie wees. Dit kan in die kunste wees. Of in die mediese of wetenskap wêreld. Of jy kan uitblink in besigheid of in die regswese of joernalistiek. Wat ook al. Daar is niks uitgesluit nie.

Die maatstaf wat jy moet aanlê, is doodgewoon, hoe kan ek hierdeur eer aan God bring.

Vir Eric het dit beteken dat hy getrou gebly het aan sy oortuiging oor Sondagsport. Vir jou kan dit iets anders wees. Solank dit ‘n eerlike en opregte keuse is wat jy maak. In lyn met wat God in sy Woord van jou vra.

Maar, soos Eric gesê het, die inbou in ander se lewens is van groter belang. Daarvoor het jy ‘n absolute oorgawe nodig, ‘n oorgawe aan die roeping wat die Here vir jou het.

Gaan sit vanaand en neem bestek op van jou lewe. Waarmee het die Here jou geseën? Watter nood of geleenthede is daar in hierdie lewe? Hoe kan jy daarby betrokke raak? Vra die Here, en Hy sal jou lei.

Want, die een wat God eer, God sal hom of haar eer.

 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.