GELOOFSEKERHEID – Hebreërs 10:19-39

Facebook cover imageEk onthou hoe wonderlik dit was toe ek in standerd nege, vandag se graad elf, my hart vir die Here gegee het. Dit was in Jonkershoek op ‘n CSV kringleierskamp. Ek het reeds op verskillende maniere die Here gedien, Bybel gelees, stiltetyd gehou, kerk toe gegaan, en was bereid om nou ‘n kringleier, ‘n Bybelstudiegroepleier, te word.

Die Saterdagaand het die kampleier, Gawie Eksteen, dié belangrike vraag aan ons almal gevra: “Het ons geloofsekerheid?” Hy het dit uitgespel as ‘n vertroue op die verlossing wat Jesus gee. Was Hy my persoonlike Saligmaker? Het ek sekerheid dat my sondes vergewe is? Het ek sekerheid dat Hy my die ewige lewe gee, sodat ek met Hom in ‘n verhouding kan lewe en eendag saam met Hom in die hemel sal wees?

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Orrelvoorspel

Lied 514 Ek weet vir seker en

sang: Huishulpe

Verwelkoming

Toetrede

Lied 170 Heilig, heilig, heilig Koor 1x Gemeente 2x en Lied 179 Vader in die hemel (sit)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Psalm 150 Prys die Here Koor v1 Gemeente v1 en 2 (staan)

Flam 22 Ek soek U, o God 1x (staan)

Flam 69 Was my skoon v1 en v2 (staan)

Lied 553 Ek is bly ek ken vir Jesus 2x (sit)

Kindertyd

Toewyding

Lied 166 Kom, Heil’ge Gees Koor 1x Gemeente 2x (sit)

Gebed

Skriflesing

Die skrywer rond nou die tema af wat hy in hfst. 5 begin het deur die geloofsgemeenskap op te roep om nie vas te val by die basiese prediking oor Christus nie – die “melk” van “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (6:1-2) – en eerder te fokus op die “vaste kos” van onder andere “die boodskap van regverdiging”, “die aanvoeling, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad” (5:13-14) en “die volle sekerheid van die hoop” op God se beloftes (6:11).

Dit is immers waarom hy die moeite gedoen het om die omvattende waarde van Jesus se Hoëpriesterskap uit te spel in hfst. 7-10, want die regte perspektief daarop, sal hulle in staat stel om geestelike volwasse te word en die wedloop te hardloop wat vir elkeen van hulle voorlê. Hy staan immers in vir hulle verlede, hede en toekoms.

Hebreërs 10:19-39

19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

God straf die opsetlike sondes

26Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. 27Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. 28As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. 29Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? 30Ons weet tog wie Hy is wat gesê het:

“Dit is mý reg om te straf;

Ek sal vergeld;”

en verder:

“Die Here sal oor sy volk oordeel.”

31Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.

Volhard in die geloof

32Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. 33Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. 34Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n besitting het wat beter en blywend is. 35Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. 36Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.

37Nog net “’n kort, kort tydjie,

en Hy wat kom,

sal kom en nie talm nie.

38En wie deur My vrygespreek is

omdat hy glo,

sal lewe;

maar as hy terugdeins,

het Ek aan hom niks meer nie.”

39Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.

 

Woordverkondiging

My geloofsekerheid

Ek onthou hoe wonderlik dit was toe ek in standerd nege, vandag se graad elf, my hart vir die Here gegee het. Dit was in Jonkershoek op ‘n CSV kringleierskamp. Ek het reeds op verskillende maniere die Here gedien, Bybel gelees, stiltetyd gehou, kerk toe gegaan, en was bereid om nou ‘n kringleier, ‘n Bybelstudiegroepleier, te word.

Die Saterdagaand het die kampleier, Gawie Eksteen, dié belangrike vraag aan ons almal gevra: “Het ons geloofsekerheid?” Hy het dit uitgespel as ‘n vertroue op die verlossing wat Jesus gee. Was Hy my persoonlike Saligmaker? Het ek sekerheid dat my sondes vergewe is? Het ek sekerheid dat Hy my die ewige lewe gee, sodat ek met Hom in ‘n verhouding kan lewe en eendag saam met Hom in die hemel sal wees?

Ek kon nie positief daarop antwoord nie, ten spyte van alles wat ek al voorheen ervaar het in my verhouding met Hom. Ek kon onthou van ‘n keer wat ek met ds. Derick Conradie ‘n gesprek gehad het in standerd vier, graad ses, oor hoe ‘n mens ‘n kind van God word. En ek het saam met hom gebid en my hart op ‘n eenvoudige manier die eerste keer vir die Here gegee. Ek het een keer in huisgodsdiens saam met my ma-hulle uit Romeine 8 gelees en die woorde van Paulus in vers 16 het my getref, dat die Gees saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is. Dit het my binneste geroer en ek het aan die huil gegaan. En ek het ‘n Sondagskoolonderwyser, dit is hoe ons dit daardie tyd nog genoem het, gehad wat regtig moeite met ons gedoen het, en ons talle kere oor ons verhouding met die Here Jesus uitgevra en ons begelei het om Hom te ken.

Maar, daardie aand in Februarie 1974, kon ek nie sê, ek is seker nie. En het Gawie gesê-vra, nou as jy nie sekerheid het nie, hoe gaan jy ander daarheen begelei? Ek het die aand ná die sessie nie saam met die ander gaan koffie drink nie. Ek het ‘n in leë tent daar naby gegaan, en vir die Here gesê, baie dinge het al tussen ons gebeur, en ek is baie bly daaroor en baie dankbaar. Maar, ek het nie geloofsekerheid nie. Ek het nie die diep sekerheid in my hart dat Hy my God is, en dat ek sy kind is, presies dít wat die doop natuurlik vir ons belowe, en ek wil dit hê. En ek het Hom gevra dat Hy dit vir my gee.

Dit was ‘n kort gebed. Ek het nie visioene gesien nie. Ek het nie in tale uitgebars nie. Ek het my oë oopgemaak en net ervaar, die Here het my gehoor, en die Here het my gegee wat ek gevra het. Een van die tekste uit daardie tyd wat my sekerheid bevestig het, het my bygebly: “Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself … dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe.” (1 Joh. 5:10-12). En dít is wat met my gebeur het. Ná daardie aand het ek geloofsekerheid gehad.

En dít is iets wat elkeen van ons kan hê. Dit is die geskenk van God vir elkeen wat in Hom glo. Dit is vandag ook vir jou beskikbaar. ‘n Eenvoudige gebed. ‘n Eenvoudige vertroue op die belofte van God. “Wie die Seun het, het die lewe.” Elkeen wat Hom as persoonlike Saligmaker aanneem, het die reg om ‘n kind van God genoem te word. Elkeen. (Joh. 1:12).

Wat geloofsekerheid beteken

Maar, wat het regtig gebeur daardie aand? Was ek verlore vóór die tyd? Ek sal moet sê, nee. Want die Here het sy hand op my gelê lánk voor daardie aand. Met sy getroue Sondagskoolonderwyser. Met sy getroue predikant, ds. Derick Conradie. Met sy sorg regdeur my lewe. Met my doop op 6 April 1959. Trouens met my geboorte en selfs voor dit, as ek Jeremia 1 en Psalm 139 reg verstaan. Die Here het ‘n plan met my gehad wat Hy sou uitvoer, kom wat wil.

Was dit dus onnodig vir my om daardie aand die Here aan te neem as my persoonlike Saligmaker? Ek sal ook moet sê, nee. Dit was trouens absoluut noodsaaklik. Want, ék moes my hand in God s’n lê, ek móés die stap van geloof neem om my vertroue op Hom te plaas, ek móés by die sekerheid kom dat Hy dit goed bedoel met my, dat Hy ‘n plan met my lewe het, dat Hy my wil insluit in sy plan vir die lewe.

My gebed dié aand was dus tegelyk van klein belang in die groter storie van God met my lewe, én van die allergrootste belang in my aandeel in die storie van God met my lewe.

En dít is so vir elkeen van ons. Ons het nodig om op daardie punt te kom dat ons seker maak van ons verhouding met God, van Sy verhouding met ons, beter gestel.

Hoekom?

Want geloofsekerheid, daardie daad van vertroue, van jou hand in God s’n lê, gee jou vrymoedigheid voor God, en sonder vrymoedigheid sal ‘n mens altyd gebrek ervaar in jou verhouding met die Here, sal jy altyd terugdeins van die lewe wat God vir jou het, trouens sal jy baie keer nie eers bewus wees van die roeping wat God vir jou het, en die gawes wat Hy vir jou gee om Hom mee te dien nie.

Geloofsekerheid begin die pad van geestelike groei, dit sorteer die basiese dinge in jou verhouding met God uit. Dit gee jou die vrymoedigheid om die pad met Hom te begin stap, die vrymoedigheid om “vaste kos” te eet, om jou toe te spits daarop om jou onderskeiding en aanvoeling vir dié dinge waarop dit regtig aankom, te ontwikkel, om te onderskei tussen goed en kwaad en geestelik volwasse te word.

Ek dink een van die groot redes waarom mense by die begin dinge van die Christelike prediking vasval, die lering oor die doop, die ervarings van die handoplegging en ander basiese Christelike dinge, is omdat hulle nie geloofsekerheid het nie, en dit soek in ervarings en rituele.

Maar, ervarings gaan nie vir jou sekerheid gee nie. Rituele gaan nie vir jou sekerheid gee nie. Jy kan jouself hoeveel keer laat doop of in die Gees neergevel word, as jy nie by geloofsekerheid uitkom nie, sal jou geestelike lewe altyd gebrekkig wees. Sekerheid is iets wat net die Here self deur die beloftes van sy Woord vir jou kan gee. “Wie die Seun het, het die lewe.” Dít is die evangelie. Dít is wat die Woord ons leer. Dít is wat jy nodig het. Neem God vandag op sy beloftes, gryp daaraan vas, en jy sál geloofsekerheid ontvang en dít sal geld vir die res van jou lewe.

Dit is dán wat jy vrymoedigheid ontvang om voor God te kom, die vrymoedigheid om met Hom in gemeenskap te tree, die vrymoedigheid om met Hom die pad te stap.

Geloofsekerheid gee vrymoedigheid

Dit is wat die skrywer van die Hebreërbrief-boodskap hier in hoofstuk 10 skrywe. Wanneer ons geloofsekerheid het, het ons die vrymoedigheid om met God gemeenskap te hou, vers 19: “ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom langs ’n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het.” Soos Paulus op soortgelyke wyse aan die Efesiërs skryf, ons het dan in Jesus Christus “deur ons geloof sekere en vrymoedige toegang tot God” (Ef. 3:12). Jou geloof bring vrymoedigheid.

Daarom die oproep om hierdie vrymoedigheid te beoefen binne ons verhouding met God, vers 22: “Laat ons daarom ingaan met ’n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ’n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.” Laasgenoemde verwys na die doop.

Geloofsekerheid is ook nou weer nie die alfa en omega van alles nie – dit is net ‘n deur na hierdie vrymoedigheid voor God. Geloofsekerheid is, hoe belangrik dit ook al is, net die begin van die pad met God. Geestelike groei kom wanneer ons vrymoedigheid voor God eksponensieel toeneem soos ons al hoe meer die voorreg om met Hom gemeenskap te hou, benut (vers 22), in alles fokus daarop om sy wil te doen (vers 36) en so te groei in die geloof wat lei tot behoud van die lewe (of “siel” – vers 39).

Die Griekse woord wat die skrywer hier vir vrymoedigheid gebruik, is parrēsia en dra ook die betekenisse van moed hê, vertroue hê, reguit en openhartig wees. In Engels kan ‘n mens die Griekse woord vertaal met courage, boldness, confidence, of frankness.

Die impak van vrymoedigheid       

  1. En hierdie vrymoedigheid is só noodsaaklik in ons kontak en gesprek met God. Sonder dié vrymoedigheid kan ons moeilik vir Johannes navolg waar hy skryf: “En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra.” (1 Joh. 5:14-15). Watter belofte! Watter voorreg!
  2. Dit is net so noodsaaklik in ons omgang met mense. Van Paulus word bv. gesê dat hy die koninkryk van God verkondig het en die mense van Rome “met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus Christus onderrig,” het (Hand. 29:31; ook in Ef. 6:19). En Paulus wys uit hoe goeie dienswerk (hy verwys na diakens) in die gemeente ’n mens se vrymoedigheid in die geloof laat groei (1 Tim. 3:13).
  3. Dit is waarom ons ook nie net persoonlik op vrymoedigheid moet fokus nie, maar ons ook “daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade”, boonop sonder dat ons in die proses ons eie samekomste verwaarloos, soos sommige ongelukkig die gewoonte gehad het in sy tyd (10:24-25).

Die volwasse wordende geestelike lewe bestaan dus uit 1) persoonlike geloofsekerheid, 2) die aansporing en bemoediging van medelowiges tot liefde en goeie dade, sowel as 3) gereëlde samekomste as geloofsgemeenskap. Dít is die dinge wat ons vrymoedigheid in die teenwoordigheid van die Here bevorder en ons in staat stel om die beloftes wat Hy vir ons in vervulling wil laat gaan, in ontvangs te neem.

Alles is op die spel            

Na die positiewe aanmoediging om in hulle vrymoedigheid teenoor God te groei, waarsku die skrywer hulle ook ernstig dat die alternatief eenvoudig verskriklik sal wees. “As ons willens en wetens sondig” bly daar niks oor om ons situasie te beredder nie. As ons die uitnodiging om ons geloof en vertroue in Hom stel, verloën of net uitstel, en dan nooit daarby kom nie, dan loop ons die gevaar om die grootste geskenk wat ons ooit kan kry, doodgewoon te mis. “Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het en die Gees van genade uitgedaag het.” Sterk woorde!

Dit is ’n kant van God wat baie van ons nie graag wil hoor nie, maar wat noodsaaklik is om regtig agter te kom wat op die spel is. Die skrywer is oortuig dat niemand van hulle geloofsgemeenskap dié pad sal volg nie, maar hy waarsku nietemin sterk, omdat hy ook dié kant van God ken. Ons het geloofsekerheid nodig. Anders sal ons nooit vrymoedigheid voor God hê en regtig met oorgawe vir Hom kan dien nie.

Doen dit vandag

In die volgende hoofstukke sal die skrywer ons verder herinner aan die skare van voorbeelde van vrymoedige geloofsvolharding wat ons aanmoedig en inspireer (hfst. 11), sodat ons hierdie wedloop van geloof self met volharding sal hardloop, veral in die lig van die sonde wat ons so maklik aankleef, so maklik ons vrymoedigheid wegneem, en ons geestelik moeg kan maak (hfst. 12).

Lees dit gerus sodat jy vandag dié keuse om in God te glo en Hom met jou lewe te vertrou, te neem.

Gebed

Dankoffer

Koor

Loof heel die skepping, loof die Heer

Kerkraadsvoorstelling

Slotsang

Lied 492 In U is vreugde (staan)

Seën

Amen

Lied 189 Halleluja (staan)

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment