Reën – 1 Konings 17-18

God bring reën

Daar is ‘n ryk tradisie in die Bybel dat God die aarde seën. Dat Hy vrugbaarheid gee. Dat Hy dit laat reën: “Sing ’n danklied tot eer van die Here,” sê Psalm 147:7-8. “Psalmsing tot eer van onse God met die siter; wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit.

God bring droogte

Dit is egter onteenseglik óók so dat hierdie seën nie outomaties was nie. Dit was afhanklik van ‘n gesonde verhouding met die Here. Só het Moses die volk geleer: “As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel.” (Deut 11:13-14).

Die Here het hulle gewaarsku dat hulle nie van Hom moet afwyk en ander gode dien nie, want dan sou sy toorn oor hulle ontvlam. Hy sou die hemel toesluit: “sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie.” (Deut 11:17).

Die verhaal van Elia illustreer hierdie twee tradisies op geen onseker manier nie. God bring die reën. God bring die droogte. Alles om die volk nie net van sy bestaan te oortuig nie, maar om hulle op te roep om in Hom te glo.

Continue Reading

Volhard – Jakobus 5:7-11

Jakobus fokus op die praktiese Christelike lewenswandel. Hy moedig gelowiges aan om te fokus op die praktyk van hulle geloof. Hulle moet geestelik volwasse word om te kan volhard in die geloof.

Elke uitdaging wat hulle beleef, bou hulle geloof, help hulle om te volhard:

sodat hulle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks tekort skiet nie.” (Jak 1:2-4).

Uit die brief lei ons af dat die meeste van die gelowiges arm was. Daar was enkele rykes in hulle geledere, maar Jakobus is nie baie positief oor hulle nie. Hy spreek die rykes baie skerp aan om nie onderskeid te maak tussen dié wat belangrik is en dié wat in oë van die samelewing onbelangrik is nie. En hy brei uit oor hoe hulle die armstes van die armes kan help (Jak 2:13-17).

Maar almal – ryk en arm – word aangemoedig om nie deur wêreldse invloed meegesleur te word nie, want dit sal hulle almal laat uitsak uit die Christelike lewe. Of dit nou is vanweë beproewings (Jak. 1:2, 12), of versoekings (Jak. 1:13), of uitbuiting (Jak. 1:19-21; 2:6; 5:4), of vooroordele (Jak 2:2) of onderlinge konflikte (Jak 4:1).

Hulle moet hulle nie daardeur laat afsit nie. Rykes moet armes nie blameer nie. Armes moet rykes nie blameer nie. Die omstandighede waaronder hulle lei moet hulle nie afskrik om die Here voluit te dien nie.

Die uitdagings wat daar maar altyd in ‘n geloofsgemeenskap is, moet ook nie die skuld kry en jou laat kwaad praat van ander (Jak 4:11) of laat kla oor ander nie (Jak 5:9).

Inteendeel, hulle moet soek vir die vreugdes wat God gee in beproewing (Jak 1:2,12) en eerder die talle kere wat Hy juis hulle gebede verhoor het, vier (Jak 1:5-8). God se vreugdes en sy gebedsverhorings sal hulle help om te volhard beide in vasberade gehoorsaamheid aan die Here en in voortdurende gebed.

Jakobus moedig die geloofsgemeenskap dus aan tot volharding in die geloof. In hoofstuk 5 gee Jakobus vier perspektiewe op God wat hulle hierin moet help.

Continue Reading

Geduld – Genesis 13:5-15; 22:1-14

Geloof en geduld

Gisteraand het ons oor geloof gesels, die geloof wat nodig is om die beloftes van God te verkry. Vanaand wil ek gesels oor die pasmaat van geloof, geduld.

Die Hebreërskrywer skryf die volgende oor geduld:

Ons begeer dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer sal toon om tot volle sekerheid van die hoop te kom, sodat julle nie traag word nie, maar hulle navolg wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.(Hebr 6:11-12).

Beloftes is daar om beërf te word, om in besit geneem te word, sê die Hebreërskrywer. Dit is God se goeie gawes aan ons. Maar daarvoor het ‘n mens geloof nodig. In God self en in sy goedheid. En jy het geduld nodig, want ‘n mens moet baie keer op die vervulling van God se beloftes wag.

Soos Psalm 27:14 dit só mooi stel:

Wag op die HERE! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die HERE!” (BDV)

En jy het natuurlik volharding nodig om enduit hierdie pad met die Here te stap, om sterk te wees en moed te hou, soos Psalm 27 dit stel. Dit waarmee ons môre die reeks afsluit.

Continue Reading

Geloof – Hebreërs 10:35-11:6

Ek onthou een nag op die Bergrivier. Ons het vlotte met oliedromme, pale en tou gebou. ‘n Paar planke het as roeispane gedien. Die muskiete was erg. Ons was moeg. Dié dag het ons amper 60 km geloop van Langebaan af tot by Bergrivier pompstasie. Die agt van ons op die leierskapsontwikkeling uitdaging moes nou die rivier aandurf. Dit was donker. Pik nagdonker. Swart wolke. Geen maan. 30 km van Velddrif af. Die gety was nog saam met ons.

Die nag twaalfuur het die gety gedraai. Dagbreek het nog ver gelê. Stadigaan het ons die stryd begin verloor. Al hoe minder van die ouens het geroei. Uitgeput aan die slaap geraak. Die vlot het begin terugdryf. Ons harde werk was stadig besig om ongedaan gemaak te word.

Ek het begin visioene sien. Seker hallusinasies. Swart gedaantes wat op my af swiep. Maar ek het van êrens af die krag gekry om reg in die middel van die vlot te gaan staan. En haal vir haal net te keer dat die vlot nie terugdryf nie. Ná ‘n halfuur se gesukkel, het een vriend van my – later ook ‘n dominee – ook sy spaan in die water gesteek en begin roei. En ons het begin om die stryd te wen.

Die volgende middag net na 12:00 het ons by ons bestemming aangekom. Uitgeput. Uitgelate. Ons het die uitdaging geslaag.

Baie keer dink ek terug aan dié ervaring. Nie ‘n direkte geestelike ervaring nie. Maar tog ‘n ervaring wat my iets van uithouvermoë geleer het. Van die Here se genade wanneer dinge swaar gaan. Want dit is Hy wat my staande gehou het.

En dit laat my ‘n klein ietsie van die uitdaging verstaan wat gelowiges regdeur die eeue in die oë gestaar het. Nie om net by Velddrif uit te kom nie. Nee, om by die vervulling van God se beloftes uit te kom.

Continue Reading

Voorwaardes – Nehemia 1

Die Ierse evangelis Gypsy Smith het een keer gesê: “There are five Gospels. Matthew, Mark, Luke, John, and the Christian, and some people will never read the first four.[1]

In ons gesprek oor beloftes is die gevaar natuurlik lewensgroot dat ons hierna sal luister en nooit sover kom om dit te beproef nie. ‘n Blote intellektuele instemming met die boodskap van die Bybel sal jou nie ver bring nie. Dit sal ook geen effek hê rondom jou nie.

Hierdie Pinkster is gemik daarop dat jy ‘n persoonlike pad  met die Here begin stap rondom sy beloftes. Dat jy sy beloftes sal raaksien wat jou persoonlike behoeftes aanspreek. Dat jy die pad met Hom op ‘n daaglikse basis begin loop, in ‘n persoonlike verhouding, een wat ‘n getuienis aan hierdie wêreld sal wees dat die Here lewe; dat Hy vertrou kan word; dat Hy dit goed bedoel met ons.

Die gevaar is egter ook daar dat ons nie sal raaksien hoe bevoorreg ons in elk geval is nie. Dat ons eintlik God se beloftes sal soek met die spreekwoordelike “wit brood onder die arm”. Dat ons sal vergeet van dié wat rondom ons verswelg van armoede en verwaarlosing. Dat ons die beloftes van die Here sal soek net ter wille van ons eie gerief, ter wille van ons eie veiligheid, ter wille van ons eie voorspoed.

Ek het dus besluit om vanaand weer ‘n praktiese voorbeeld te gee om die tema van God se beloftes te illustreer. Maar ek gaan ‘n voorbeeld uit die OT gebruik, dié van Nehemia, en aan die hand daarvan nie net wys hoe ‘n mens die pad met ‘n belofte tot by sy vervulling stap nie. Maar ook wys dat dit in beloftes nie net gaan oor persoonlike situasies van gebrek nie, maar ook oor dié van die gemeenskap.

Maar voor ons by sy verhaal kom, wil ek eers ‘n paar inleidende dinge sê oor die verskil tussen absolute of onvoorwaardelike beloftes en dié waaraan voorwaardes of vereistes gekoppel is. Want dit is noodsaaklik dat ons die verskil daartussen verstaan.

Continue Reading

Belofte – Romeine 8:28-32

Carisa Smuts skryf vir my dat sy baie nadink oor die tema van droogte, met die windpomp as simbool. Al is dit droogte of voorspoed, die windpomp draai wanneer die wind ook al waai. In droogte is dit die boer se (soms enigste) teken van hoop op reën. Maar die windpomp werk hard om lafenis van diep onder die aarde te kry en vir mens en dier verligting te bring.

Dit pas mooi in by vanaand se tema waarin ek sterk gaan fokus op God se beloftes en hoe seker dié beloftes vir ons in Christus Jesus die ja-woord van God geword het. Wat nodig is dat die Heilige Gees die windpomp van ons geestelike lewe sal laat begin draai, sodat die water van die vervulling van God se beloftes die damme kan begin volmaak, en die oorvloed die omgewing in ‘n lushof kan verander.

Ek bid saam met haar dat die windpomp in ons gemeente sal begin draai, maak nie saak waar in ons lewe ‘n droogte ondervind word nie. En dat die woorde wat die Here gee, elkeen van die beloftes wat ons in die Skrif gaan lees, soos wind sal wees vir daardie windpomp van herlewing.

Continue Reading

Droogte – 2 Kronieke 7:11-16

Dit is heerlik om hierdie belofte van God te hoor: “As … my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Dit is een van die wonderlike beloftes van die Here in die Woord. Hy sal hoor, Hy sal vergewe, Hy sal genees. En waar die probleem droogte is, sal Hy reën gee. Waar dit verwoesting is deur sprinkane, sal Hy vrugbaarheid verseker. Waar dit allerhande pestilensies is wat ons tref, sal Hy genesend optree.

God belowe dat Hy sal voorsien.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis bely oor God se voorsienigheid: “dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.”(artikel 13 – vgl Joh 5:17).

Dit is God se belofte aan ons. Dit is wat ons van God kan glo. Dit was ons van God moet glo. Dat Hy voorsien. Dat Hy sy beloftes hou. Dat Hy hoor, vergewe en genees.

Dit beteken, sê die NGB, dat: “niks per toeval oor ons kan kom nie, maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt. 10:29-30).”

Dit is ‘n onuitspreeklike troos vir ons. ‘n Belofte waarop ons onsself kan verlaat, soos die NGB sê: “omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie.

As dít is hoe God in die Bybel geteken word, en ons geloofsbelydenisse dit vir ons onderstreep, hoekom het ons dan droogte? In die woorde van ons Pinkstertema: “Wanneer kom die reën?

En dit gaan nie net oor die droogte nie. Dit gaan ook oor daardie tender. Dit gaan ook oor daardie hofbevel. Dit gaan ook oor jou swaarkry weens ander se nalatigheid. Dit gaan ook oor dié dinge wat nie uitwerk soos jy dit graag wil hê nie. Al stort jy jou hart in jou gebede voor die Here uit. Waarom gryp die Here nie in nie?

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Continue Reading

Bly wag op die Vader se belofte – Hemelvaart 2018

A typical rural Karoo scene in South Africa – a water pumping windmill with a leaking dam. Monochrome

In drie jaar se bediening het Jesus nooit een keer die woord “wag” gebruik nie. Nie een keer nie. Elkeen wat na Hom toe gekom het, is onmiddellik gehelp. Die melaatses. Die blindes. Die verlamdes. Die gebreklikes. Die besetenes. Jesus was die God wat naby gekom het. Hy was Immanuel. God met ons[1].

Daar is wel ‘n gelykenis wat Jesus oor die wederkoms vertel waarin Hy ons waarsku om op die regte manier te “wag” daarvoor (Luk 12). Maar, Jesus sê nooit vir enigiemand tydens sy aardse bediening dat hulle moet wag voor Hy hulle versoeke beantwoord nie. Selfs in sy gesprek met die Siro-Fenisiese vrou oortuig sy Hom met ‘n paar woorde om haar dogter van die bose gees te verlos (Mark 7).[2]

Dit dra die boodskap aan ons almal dat Jesus die tyd van God se genade ingelei het. Dat Hy God se beloftes kom vervul het. Dat in Hom al God se beloftes ja en amen is, soos Paulus ‘n tyd hierna aan die Korintiërs sou skryf (2 Kor 1:20). Dat jy op Hom kan staatmaak om met oorgawe sy beloftes waar te maak.

Daar is egter twee keer, waarvan ek weet, wat Jesus getalm het om iets te doen. Die een keer wat Hy getalm het, was met sy besoek aan die Loofhuttefees (Joh 7) en die tweede keer met Lasarus se siekte (Joh 11). En daar was baie goeie redes daarvoor.

Continue Reading