Skip to main content

Spreuke 9:1-18 – Wyse Stemme

Kleingroep materiaal – SPREUKE 9:1-18 – Week van 13-18 Augustus 2012

Ons het die afgelope Sondag ons reeks oor Spreuke afgesluit.  Volgende Sondag begin ons met ‘n reeks getiteld “Radikale Vernuwing:  Geloof begin by die huis”.  Vir hierdie komende reeks, gaan die Kleingroepmateriaal volg op die Sondag se preek.  Kleingroepe werk dus nie vooruit nie, maar bespreek die tema en teks die volgende week.

Hierdie week se kleingroepmateriaal is gevolglik ‘n brug tussen die twee reekse.  Die teks wat ons lees, is nie in die eredienste behandel nie (maar wel by die Bybelskool).

RUS EN ONTVANG  [Spandeer hierdie week lekker baie tyd aan die  eerste beweging.] 

  • Spreuke 1:8-9:18 (die eerste deel van die boek Spreuke, wat ons tot dusvêr hierdie kwartaal behandel is) is ‘n gesprek waarin ‘n pa sy seun onderrig in “lewenslesse”.  Vertel vir mekaar wie die mense was by wie jy as kind jou belangrikste lewenslesse geleer het.  Wat was hierdie lesse? 
  • Vertel vir mekaar watter rol jul ouers gespeel het in die ontwikkeling van jul geloof.  En grootouers?  Watter ander gelowige volwassenes het ‘n invloed op jou geloofsontwikkeling gehad?
  • Hebreërs 12:1 praat van die “skare geloofsgetuies” wat ons om ons het.  Gee kans dat elkeen stil word.  Visualiseer in jou gedagtes jou “paviljoen”.  Wie is die mense (lewend of reeds oorlede, familie, vriende, skrywers, ens.) wat ‘n invloed het en gehad het op jou geloof?  (Groeplede kan hul paviljoen teken, met die name van hul “geloofsgetuies”.)  Gee tyd dat elkeen in stilte vir die Here dankie sê vir die geloofsgetuies wat hulle vandag in staat stel om die wedloop met volharding te hardloop.

HOOR EN ONTGIN

Lees Spreuke 9:1-18.

  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar.

Ons kom in hoofstuk 9 aan die einde van die lang inleiding van Spreuke, die slotsom van die 10 lewenslesse van die pa aan sy seun.  Hierna gaan in hoofstuk 10-31 die lewenswyshede wat pas by die twee paaie wat ‘n mens kan volg in die lewe, in kort spreuke weergegee word.

Dit slotsom van Spreuke is dat ‘n mens kan luister na óf vrou Wysheid (9:1-6) óf na vrou Dwaasheid (9:13-18) om hulle leiding te volg in jou lewe.  Dié kontrasterende keuse word afgewissel met ‘n gedeelte oor die ligsinnige mens (9:7-12) wat die gevolge van die verkeerde keuse vir vrou Dwaasheid uitspel.  Dit gee ook ‘n dwarsklap na dié wie se opvoeding ligsinnigheid tot gevolg het (9:7).  Pa’s en ma’s luister!

Let op dat beide vrou Wysheid as vrou Dwaasheid fokus op dié wat nog onervare is en kennis kortkom. Dit beteken dat die rol van opvoeders is om kinders te inspireer dat hulle die regte lewenshouding aankweek om uit die verskillende stemme wat met hulle in die lewe praat – vrou Wysheid en vrou Dwaasheid – dié stemme te kies waarvan die inhoud wys is.

  1. Vrou Wysheid nooi uit na ‘n lewe wat afskeid neem van onkunde en die pad van insig omhels.
  2. Vrou Dwaasheid nooi uit na ‘n lewe van gesteelde genot sonder verantwoordelikheid wat eindig in die dood.

Die spreuke wat hierna gaan volg, help dus primêr om hierdie regte lewenshouding in die praktyk uit te spel – aan die hand van ongeveer 562 voorbeelde – sodat ‘n mens wysheid kan aanleer en uitvoer.

9:1-6 – Luister na Vrou Wysheid

Wysheid word in ‘n uitgebreide gelykenis as ‘n verstandige vrou voorgestel wat vir haar ‘n huis gebou het met sewe klippilare – ‘n simbool van standvastigheid en duursaamheid.  Die groot getal van sewe pilare laat ‘n mens eintlik dink aan ‘n tempel eerder as ‘n huis (hulle het minder pilare gehad, indien enigsins), wat die gesag en goddelike invloed van haar wysheid beklemtoon.

Haar wyshede word in dié gelykenis voorgestel as ‘n feesmaal waarheen onkundiges uitgenooi word om in ‘n feestelike atmosfeer te kom leer.  Só sal hulle die pad van insig vind om regtig te kan lewe.

Let op hoe leerbaarheid as een van die kernwaardes van hierdie tipe lewe voorgestel word: “neem afskeid van die onkunde … en kom op die pad van die insig” (9:6).

9:7-12 – Versigtig vir ligsinnigheid

Hierdie gedeelte beskryf die opstand van ligsinnige mense teen die wysheid en die gevolge wat dit vir hulle het.  Maar, die opvoeders van sulke mense word ook aangespreek, omdat ligsinnigheid altyd ook ‘n vingerwysing is na dié wat verantwoordelik was vir kinders wat ligsinnigheid as lewenstyl kies (9:7).  Ligsinnigheid lei onvermydelik tot goddeloosheid, omdat ‘n mens nie wysheid kan ignoreer sonder om dan ook die Bron van wysheid daarmee saam te ignoreer nie.

Interessant genoeg wil dié gedeelte ‘n mens ook waarsku daarteen om jou wysheid met ligsinnige mense te deel, omdat die kanse vir sukses so gering is (9:8).  Mense wat die waarde van wysheid ervaar het, is meer ontvanklik, en meer leerbaar.  Daarom moet jy jou wysheid met sulke mense deel.  Met hulle kan jy moeite doen om verder en dieper te gaan.

Ligsinniges moet egter eers weer na die begin toe teruggevat word, die ontsag vir God (9:10 – vgl 1:1-7), voor die lewenshouding van leerbaarheid weer sal inskop en die voete op die pad van insig geplaas kan word.

9:13-18 – Moenie luister na Vrou Dwaasheid nie

Let op hoe vrou Dwaasheid vir vrou Wysheid naboots in die banket wat vir die onervare onkundiges gehou word, maar op ‘n wyse wat herinner aan die verleidelike gedrag van die slegte vrou van vroeër.  Let op hoe die verleiding van haar aanbod lê in die gesteelde karakter daarvan – jy hoef jou nie in te span om dit te verkry nie – sowel as in die verborge aard daarvan – dit is iets wat jy stilletjies doen, waar niemand kan sien of beperkings kan plaas nie.

Die einde van dié pad is egter die dood, omdat daar geen verantwoordelikheid of verantwoordbaarheid ingebou is in die verkryging van hierdie kennis nie.  Dit onderstreep op ‘n waarskuwende manier die noodsaak daarvan om versigtig te wees met die uitdeel van kennis bv in ‘n leerervaring, sonder om ‘n worsteling daarmee, en ‘n toetsing daarvan, in te bou.  ‘n Mens moet self werk aan dít wat jy leer, en jy moet op een of ander manier iets daarvan weergee.  Dán het dit deel van jou menswees en lewenswyse geword.  Anders is dit plagiaat en oppervlakkig by wyse van spreke.

  • Bespreek bogenoemde notas
  • Vrou Wysheid se huis lyk amper meer na ‘n tempel.  Wat dink julle sê dit vir ons huise vandag?
  • Kyk weer na Spreuke 9:7.  Hoe laat dit julle voel?  Het opvoeders regtig so ‘n groot invloed?
  • Hoe kan ouer gelowiges jonger gelowiges uitnooi na die feesmaal van wysheid?  Hoe kan jý deel vorm van ander gelowiges se paviljoen? 

LEEF EN ONTPLOOI

  • Wie is die jonger gelowiges in wie se lewe jy ‘n impak het?  Dink na oor hoe daardie impak lyk (dink weer aan jul gesprek en gedagtes by “Rus en Ontvang”.)  Wat vra die Here nou van jou?

  • Bid vir die reeks wat volgende week begin.  Bid dat volwasse gelowiges hul rol as geloofsgetuies ernstig sal neem en waardig sal uitleef.

Spreuke 4:20-27 – Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree

Kleingroep materiaal – SPREUKE 4:20-27 – Week van 5-11 Augustus 2012

RUS EN ONTVANG

  • Deel met mekaar wat julle ervaar het in julle fokus op julle binnekant dié week. Het julle dit reggekry?  Het dit ’n verskil gemaak?  Waarmee het julle gesukkel?  Wat het julle geleer?  Wees kort en kragtig.
  • Word stil en laat iemand Psalm 119:57-59 (tot vers 64 as julle genoeg tyd het) vir julle “voor”-bid/lees.  Gee genoeg tyd vir stilte dat elkeen die koers van hulle lewens kan oordink en aan die Here kan toewy.

HOOR EN ONTGIN

Lees Spreuke 4:20-27 (dieselfde teks as verlede week).  Kernvers: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree.”

  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Baken jou koers af

Dit is nie net vertroue op God, ‘n luisterende gesindheid en die fokus op jou manier van dink, jou binnekant, wat jou pad bepaal nie – dit waaroor ons verlede week gesels het nie.  Jy moet ook die pad stap wat God wys.  Soos Spreuke sê: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree” – 4:26.  Dws, soos dit in die OAV staan: “Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees,” en vers 27: “wyk nie regs of links af nie, (en) hou jou voet ver van boosheid.”  Soos die wyses inderdaad later sal eggo:  “Luister, my seun, soek die regte insig: bly op die regte pad” (Spreuke 23:19).  Deur vir jou bakens op te rig op jou pad, en daarvolgens koers te hou, sal jou nie net op die regte pad hou nie, maar dit ’n vreugde maak, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.

Drie versoekings om te vermy

Spreuke praat van drie hoof afdraaipaaie wat vermy moet word op dié wyse pad: “easy money” (bv 1:10-19), “easy sex” (bv 2:16-19 maar ’n hele paar keer verder aan!) en “easy power” (bv 3:27-35).  Dit is die drie oer-versoekings, waaroor al baie boeke geskryf is deur die loop van eeue, die versoekings van money, sex en power.  Brian McLaren beveel in sy boek  Finding our Way Again: The Return of the Ancient Practices (Thomas Nelson: 2008) drie eeu-oue geestelike dissiplines aan, die sogenaamde “threefold way”, waarin ’n mens nie net op die verlossing van versoekings konsentreer nie, maar ook op die lewe wat God gee.  Hier is ’n kort beskrywing daarvan waarvan die eerste dissipline met die drie versoekings te make het, en die ander twee dissiplines met God en die lewe:

  1. Die Via Purgativa of Katarsis het te make met die dimensie van self-ondersoek in die lig van die evangelie, waardeur die krag van die boosheid wat in ons lê, en waardeur ons versoek word, ontbloot is, om deur die lig en krag van God gesuiwer en getransformeer teTradisioneel is drie dinge geïdentifiseer waarvan ons gesuiwer moet word: hoogmoed (pride – dit gaan oor ’n pre-okkupasie met jouself  – in terme van Spreuke: easy power), wellus (lust – dit gaan oor ’n fiksasie op plesier – in terme van Spreuke: easy sex) en gierigheid (greed – dit gaan oor ’n obsessie met besittings – in terme van Spreuke: easy money). 
  2. Die Via Illuminativa of Fotosis het te make met die dimensie van verligting wat God bring deur die waarheid en liefde wat Hy in ons lewensDaardeur kom daar groeikrag om al hoe meer Christus-gesentreerd te lewe.
  3. Die Via Unitiva of Theosis het te make met die dimensie van verenigingvervulling met God, Sy wil en strewe, sonder dat dit beteken het dat die mens daarmee ophou bestaan het, of die self genegeer is, maar eerder geheilig is.

Bespreek.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Dink na oor wat jy dié week kan doen om jou koers af te baken.  Hoe gaan jy dit regkry?  Dink aan hoe jy deur self-ondersoek, verligting en vervulling deur God die versoekings van selfsug, wellus, en gierigheid kan vermy.
  • Deel 2-2 met mekaar wat jy beplan as bakens vir jou koers  … en bid vir mekaar.

Spreuke 4:1-27 – Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe

Kleingroep materiaal – SPREUKE 4:1-27 – Week van 29 Julie – 4 Augustus 2012

RUS EN ONTVANG

  • Deel met mekaar wat julle ervaar het in julle soeke na wysheid dié week. Het julle wysheid gekry?  Het dit ’n verskil gemaak?  Waarmee het julle gesukkel?  Wat het julle geleer?  Wees kort en kragtig.
  • Word stil en laat iemand Psalm 37:1-5 (tot vers 11 as julle genoeg tyd het) vir julle “voor”-bid/lees.  Gee genoeg tyd vir stilte dat elkeen hulle begeertes vir die Here kan gee.

HOOR EN ONTGIN

Lees Spreuke 4:1-27 (ter wille van die konteks, hoewel ons meer op vers 20-27 vandag en volgende week gaan fokus).  Kernvers: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”

  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Hierdie hoofstuk kan in drie dele opgedeel word wat die volgende drie “lewenslesse” van die pa aan sy seun is:

  • Lewensles 5 – 4:1-9 – Neem jou ouers (rolmodelle) se opvoeding ter harte.
  • Lewensles 6 – 4:10-19 – Kies die pad van wysheid en nie die pad van goddeloosheid nie.
  • Lewensles 7 – 4:20-27 – Hou koers deur te fokus op jou binnekant en jou bakens.  Dit is waarop ons vandag fokus.

Hou koers deur te fokus op jou binnekant

In jou vertroue op God en in jou luister na Hom en in die inspanning om die regte pad te vind en daarop te hou, is daar miskien min dinge wat so belangrik is, as om jou hart – jou binnekant – bo alles te bewaar, om versigtig om te gaan met jou diepste oortuigings en motiverings: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” (4:23). 

Hart het hier te make met jou gedagtes en jou binnewêreld, jou binnekant, die plek waar die onderskeiding gebeur tussen dit wat goed is en dit wat sleg is.  Let op die volgende vertalings van vers 23 wat verskillende kante hiervan belig:

  • King James: “Keep  thy heart with all diligence; for out of it are the issues of life.”
  • Die New Century vertaal: “Be careful what you think, because your thoughts run your life.”
  • Die NIV vertaal: ” Above all else, guard your heart, for it is the wellspring of life.”

Nou, hoewel met ’n oppervlakkige lees van Spreuke, die woord hart net een keer in die NAV voorkom, kom dit in die oorspronklike eintlik ongeveer 80 keer voor, meesal in die betekenis van die binnekant van die mens .  In die NAV is dit meesal, behalwe in 4:23, met gedagtes of wil vertaal.

Die rede vir die vertaling is enersyds, omdat die hart nie net as die sentrale lewensorgaan beskou is nie, maar as die setel van die denke beskou is, en andersyds om daarmee te sê, dat jou dit oor jou diepste oortuiginge gaan, dinge wat jy in jou diepste binneste dink, dws in jou hart dink.  Dit is die dinge waarmee jy versigtig moet omgaan. 

Vir dieperdelwers is daar ’n uitbreiding hieroor by Bybelskool.com as deel van die bydrae oor Spreuke 4.

Bespreek.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Dink na oor wat jy dié week kan doen om versigtig te wees met jou binnekant.  Hoe gaan jy dit regkry?  Dink aan wat jy met jou ore, oë, mond, en manier van dink gaan doen.
  • Deel 2-2 met mekaar wat jy beplan vir jou binnekant … en bid vir mekaar.
  • Volgende week hanteer ons weer Spreuke 4:20-27 en gaan ons na die tweede hooftema daarin kyk: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree.”
  • Onthou www.bybelskool.com vir die dagstukkies en die ekstra bydrae oor hart/gedagtes in Spreuke.

Spreuke 2:1-22 – Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan

Kleingroep materiaal – SPREUKE 2:1-22 – Week van 22–28 Julie 2012

RUS EN ONTVANG

  • Deel met mekaar wat julle ervaar het in julle vertroue dié week op God en in julle ken van Hom in alles wat julle gedoen het. Het dit ’n verskil gemaak?  Waarmee het julle gesukkel?  Wat het julle geleer?  Wees kort en kragtig.
  • Word stil en laat iemand Psalm 131 vir julle “voor”-bid/lees.  Gee genoeg tyd vir stilte om te “wag op die Here”.

HOOR EN ONTGIN

Lees Spreuke 2:1-22 – “Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.”

  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Hierdie perikoop is die 2de “les” van die pa aan sy seun.  Hy onderstreep dat wysheid met alles in jou gesoek moet word (2:1-4), want dit help jou om God te ken en sy bewaring te kan ervaar (2:5-8), en om met onderskeiding te kan leef (2:9-22).

Om op die “regte pad” te bly, is dit in die eerste plek belangrik om met God te begin, om na Hom te luister (2:6), en Hom te vertrou en te ken in alles wat jy dink en doen (3:1-12).  Regdeur Spreuke sal ’n mens dié refrein hoor.

In die tweede plek  is dit nodig om vir wysheid te luister.  Want, om koers te hou op die pad wat die Here vir jou het, moet jy leer om te onderskei, om tussen alles wat jy hoor, die wysheid te kan herken.  En daarvoor het jy gespitste ore nodig (sowel as ’n rein hart, en vaste bakens – waaroor ons in die volgende twee weke gaan gesels).  Dit is onontbeerlik om koers te kan hou.

  • Dit het aan die een kant te make met die tipe mense na wie jy moet luister, veral na gesagsfigure in jou lewe wat goeie mense is, regverdig, opreg en onberispelik (2:1,9,20,21). Sulke mense moet jy uitkies, na hulle luister, en hulle navolg.  Natuurlik sluit dit ook mense in na wie jy nie moet luister nie: mense wat verkeerde dinge verkondig (2:12), mense wat die regte paaie verlaat (2:13), mense wat slegte dinge doen, en wie se paaie krom is (2:14-15), sowel as die “slegte vrou” wat ’n simbool van enige buite-egtelike verhouding is, en natuurlik ook op ’n “slegte man” van toepassing is (2:16-20).  Let op die enkelvoud waarin hier gepraat word.
  • Aan die ander kant sluit dit ook dinge in waarna jy moet luister, die inhoud wat Spreuke aanbeveel.  Let op hoe Spreuke nie net ’n eenmalige luister na die wysheid aanbeveel nie, maar ’n onderskeidende proses, om jou in te span om te verstaan (2:2), om insig en gesonde begrip (common sense) te soek (2:2).  Maar Spreuke wil ook hê dat die lewenstyl van mense wat hierdie inhoud uitleef, nagevolg moet word (eerlikheid – 2:7; onberispelikheid – 2:7,21, getrouheid – 2:8; regverdigheid en billikheid – 2:9,20; oordeelkundigheid en verstandigheid – 2:11; goedheid – 2:20; opregtheid – 2:21).  Dit is die inhoud van die tipe wysheid wat nagevolg moet word.  Só word jyself natuurlik ’n voorbeeld wat ander kan navolg.

Weereens hoor ’n mens Spreuke in die Nuwe Testament weerklink, waar hierdie soektog na die wysheid iets is wat Jesus self later sterk sou beklemtoon in sy bediening en onderrig, soos pragtig geïllustreer in die bekende opdrag in die Bergrede: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt 7:7-8). En let op hoe Lukas hierdie gawe van wysheid verbind met die gawe van die Heilige Gees (Luk 11:-13), die goeie gawe van God wat ons wysheid gee.  En Jakobus sê dat ’n mens wysheid van God kan afbid (Jak 1:5).  Watter belofte!

Bespreek.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Dink na oor watter wysheid jy dié week die Here nodig het.  Hoe gaan jy daarvoor soek?  Na wie gaan jy luister?  Watter proses gaan jy volg om te kan onderskei?
  • Deel 2-2 met mekaar jou behoefte aan wysheid … en bid vir mekaar.
  • Volgende week hanteer ons Spreuke 4:20-27 en gaan ons na die eerste hooftema daarin kyk: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”  Die volgende week sal ons dieselfde perikoop lees, maar die tweede tema hanteer: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree.”
  • Die Bybelskool begin dié week 25 Julie om 18:30 in die konsistorie waar ons die hele boek Spreuke gaan deurwerk in 7 weke.  Registreer by www.bybelskool.com as jy die dagstukkies wil ontvang.  Skryf in by die kerkkantoor (0415835115) as jy die Woensdagaand byeenkomste wil bywoon.

Spreuke 3:1-12 – Ken Hom in alles wat jy doen, en Hy sal jou die regte pad laat loop

Kleingroep materiaal – SPREUKE 3:1-12 – Week van 15–21 Julie 2012

RUS EN ONTVANG

  • Deel met mekaar ’n gesegde/aanhaling/spreuk wat vir julle van betekenis is. Sê in drie sinne hoekom.
  • Word stil en laat iemand Psalm 136 vir julle “voor”-bid, deur die eerste reël van elke vers te lees, waarop die hele groep telkens met die tweede deel (skuinsgedruk in die NAV) antwoord: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

HOOR EN ONTGIN

Lees Spreuke 3:1-12 – “Ken Hom in alles wat jy doen, en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Spreuke maak geweldig baie van die idee dat daar ’n regte pad is om op te loop, en ’n verkeerde een.  Alles moet in die stryd gewerp word om dié regte pad te vind en die verkeerde pad te vermy. Dit is die fokus van hoofstuk 1-9, waarna hoofstuk 10-31 op pittige wyse in kort kernagtige “two-liners” die wysheid en beoefening hiervan verduidelik.

Die “regte pad” begin volgens die inleiding in 1:1-7 eerstens by die erkenning van en ontsag vir God, dit wat die eerste tafel van die tien gebooie ook beklemtoon.  Jy bly tweedens op die “regte pad” deur die raad en begeleiding van gesagsfigure te erken en na te volg (1:8-19), dit waarmee die tweede tafel van die tien gebooie ook begin (eer jou vader en moeder …).  Jesus som dié “regte pad” in die NT uit met die bekende samevatting van die wet, om God lief te hê en jou naaste soos jouself (Matt 22:37-40).

Hierna volg ’n gesprek van ’n ouer met sy kind waarin die kind tien “lesse” gegee word wat kan help om met ontsag vir God en gesagvolle leermeesters te lewe (1:8-7:27).  

Spreuke 3:1-12 is die derde “les” van hierdie ouer aan sy kind met die oorhoofse boodskap: “Vertrou God en ken Hom in alles.”  Let op hoe die 12 verse 6 aspekte hiervan beklemtoon.  Elke aspek word in 2 verse elk uitgespel – 3 positief, 3 negatief – telkens met ‘n voordeel daaraan gekoppel.  Die middelste en belangrikste aspek is om die Here te vertrou en Hom in alles te ken.

  • 3:1-2 – Moenie vergeet wat jou pa jou leer nie → dit lei tot ’n lang en vol lewe
  • 3:3-4 – Moenie dat liefde en trou ontbreek nie (“skryf dit op die tafel van jou hart” – OAV) → dit laat jou guns verwerf en byval vind by God en mens
  • 3:5-6 – Vertrou volkome (“met jou hele hart” – OAV) op die Here en ken Hom in alles wat jy doen → Dit laat jou ervaar dat God jou die regte pad laat loop.
  • 3:7-8 – Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, vrees die Here en vermy wat sleg is → Dit lei tot genesing en heelheid
  • 3:9-10 – Vereer die Here met offerandes →Dit laat jou ervaar dat God jou met oorvloed seën
  • 3:11-12 – Aanvaar die straf en teregwysing van die Here → Dit bevestig jou kindskap

Bespreek.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Dink na oor hoe jy dié week die Here kan vertrou en Hom in alles kan ken.
  • Deel 2-2 met mekaar hoe jy die Here gaan vertrou en ken in alles … en bid vir mekaar.
  • Ons spandeer die volgende 3 weke aan perikope uit Spreuke:
    • “Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.” – Spreuke 2:1-22
    • “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” – Spreuke 4:20-27 (eerste tema)
    • “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree.” – Spreuke 4:20-27 (tweede tema)
  • Die Bybelskool begin 25 Julie 18:30 in die konsistorie waar ons die hele boek Spreuke gaan deurwerk in 7 weke.  Registreer by www.bybelskool.com as jy die dagstukkies wil ontvang.  Skryf in by die kerkkantoor (0415835115) as jy die Woensdagaand byeenkomste wil bywoon.