Skip to main content

Is jy plooibaar soos klei in die hand van die pottebakker? – Jesaja 29; Jeremia 18; Romeine 9

NGK Somerstrand 09:00 4 September 2022 | Kerk en Youtube

Verwelkoming

Toetrede

Ps 84 v 1 Hoe lief het ek u woning, Heer (staan)

Votum en Seëngroet

Lof

Lied 197:1-2 Wonderbare Koning, Heerser oor u skepping (staan)

Kindertyd

Hou julle van speel met klei? Hier is ‘n bietjie klei om mee te speel.

Dit is lekker om verskillende vorms te maak. En as dit nie werk nie, dan begin ons net weer oor, nè?

Die Bybel sê God is soos ‘n pottebakker, en ons is die klei. Hy vorm ons soos ‘n mens klei vorm. Hy sorg dat alles in plek is. Dat ons twee arms het en twee bene. En ‘n mooi gesiggie. En vingers en tone.

Maar, weet julle, God is binne ons ook besig. Hy leer ons om lief te wees vir mense. Om goed te wees vir mense. Om goeie dinge te doen vir ander. Hy werk met ons harte sodat ons kan doen wat Hy van ons vra.

Hy gee ook ander mense wat ons kan help. Jou ouers. Jou onderwysers.

Maar, die belangrikste is dat Hy met ons harte besig is. Soos ons lees in die Bybel, en soos ons leer bid, verander God ons en leer ons om vir Hom te lewe.

Aanbidding

Lied 528:1-3 Leer my u wil, Heer, u doel met my (sit)

Gebed

Skriflesing en prediking

God word op drie plekke in die Skrif as die pottebakker beskryf, met ons as mense die klei. Soos ons in die lied gesing het. En die boodskap van dié drie plekke maak ‘n geheel.

Jesaja

Jesaja is die eerste om die beeld van die pottebakker en die klei te gebruik in hoofstuk 29. Hy beeld daarmee God as Skepper en die mens as sy skepsel:

15Wee hulle wat planne vir die Here diep wegsteek! Hulle dade vind in die donker plaas, en hulle sê: “Wie sien ons en wie ken ons?” 16Julle verdraai alles! Of moet die  pottebakker beskou word as gelykwaardig met die klei, dat die maaksel vir sy maker kan sê, “Jy het my nie gemaak nie”, en dit wat gevorm is vir die pottebakker sê, “Hy verstaan nie”? (Jes 29:15-16)

Met hierdie beeld van die pottebakker en die klei bevestig die Here dat Hy kwalitatief anders is as ons. Hy is nie die klei op die pottebakkerswiel nie. Ons is. Hy is besig om ons as die pottebakker te vorm na sy beeld. Ons taak is om ons oor te gee aan sy vormende werk, om plooibaar in sy hande te word.

Ons kan daarom nie met Hom begin stry oor wie en wat ons is nie, soos Israel in die 8ste eeu vC gedoen het nie. Ons kan nie vir Hom sê, ja, maar U verstaan nie! God verstaan maar alte goed. Dit is slegs wanneer ons ons oorgee om deur Hom gevorm te word wat ons nuttige en doelmatige voorwerpe in sy hande word.

Trouens, Jesaja gaan in hoofstuk 29 verder om te Here te loof vir wat Hy met plooibare klei kan doen. Hy laat dowes weer hoor; blindes weer sien; magteloses weer vreugde ervaar; behoeftige mense weer juig in die Here.

Jesaja moedig ons dus aan om in die lig te kom met alles wat ons doen, en seker te maak dat ons lewens getuig daarvan dat ons God se wil nakom. Want, dan kan God van ons iets bruikbaar maak, iets wat eer aan Hom sal bring.

Die boodskap van Jesaja is dat God ongelooflike goed beplan vir dié wat sag en plooibaar in sy hande op die pottebakkerswiel sal wees. Jesaja gee dus ‘n prentjie van wat God kan doen met ons as ons Hom toelaat. Die vraag is natuurlik, “is jy plooibaar soos klei in die hande van die pottebakker?” Dat God van jou ‘n pronkstuk in sy koninkryk kan maak.

Jeremia

Jeremia is die tweede in die Skrif om aan te sluit by hierdie beeld in sy hoofstuk 18, maar beklemtoon meer die ander kant. Mense, en veral volke, is nie altyd plooibaar nie; soos klei wat misluk op die pottebakkerswiel. Ons lees:

1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: 2“Maak gereed en gaan af na die pottebakker se huis; daar sal Ek jou my woorde laat hoor.” 3Ek het toe afgegaan na die pottebakker se huis; hy was juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak. 4Maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het onder die hand van die pottebakker misluk. Hy het toe ‘n ander houer gemaak, soos die pottebakker dit goed gedink het om te maak.

Wanneer die klei nie plooibaar is nie, wanneer die pottebakker sien dat hy nie ‘n bruikbare kleipot van die klei kan maak nie, dan druk hy dit weer bymekaar en maak ‘n ander vorm, soos hy dit goed dink.

Die Here pas dit dan toe op die volk Juda in Jeremia se tyd in die 6de eeu vC en Hy wys hoe belangrik hulle eie plooibaarheid in sy hande is:

5Toe het die woord van die Here tot my gekom: 6“Is Ek nie in staat om soos hierdie pottebakker met julle te maak nie, huis van Israel?” is die uitspraak van die Here. “Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, huis van Israel. 7Een keer dreig Ek om ‘n nasie en ‘n koninkryk uit te ruk, af te breek en ten gronde te laat gaan. 8Maar as daardie nasie teen wie Ek die bedreiging uitgespreek het, hom bekeer van sy boosheid, sal Ek jammer wees oor die onheil wat Ek beplan het om hom aan te doen. 9‘n Ander keer sê Ek oor ‘n nasie en ‘n koninkryk dat Ek dit sal bou en plant. 10Maar as hy doen wat verkeerd is in my oë deur nie te luister na my stem nie, sal Ek jammer wees oor die goeie wat Ek gedink het om aan hom te doen.

Die Here se wil is dat die volk na Hom sal luister, soos die klei op ‘n pottebakkerswiel. Veral as Hy hulle duidelik waarsku dat hulle ten gronde sal gaan as hulle nie na Hom luister nie. Hy gee vir hulle die opsie om tot bekering te kom; dit beteken dat hulle hulle sal bekeer van hulle boosheid – nie meer sal rebelleer teen die wet van God nie en sal doen wat Hy vir hulle leer.

Maar, hulle moet dit natuurlik bedoel, want as Hy begin goed doen aan hulle, omdat hulle tot bekering gekom het, en hulle daarna weer afvallig raak, dan sal God jammer wees oor die goeie wat Hy gedink het om aan hulle te doen. En dit is dan die boodskap wat die Here vir hulle gee om nie halfpad om te draai na Hom toe nie, maar hulle volledig aan Hom oor te gee:

11Sê dan nou tog vir die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek maak onheil gereed vir julle, en beraam planne teen julle. Draai tog terug, elkeen van sy verkeerde pad, en laat julle doen en late goed wees.” ‘ 12Maar hulle sal sê, ‘Tevergeefs! Want ons eie planne wil ons volg, en elkeen van ons wil volgens die verstoktheid van sy eie bose hart optree.’ ” (Jer 18:1-12)

En ons weet wat uiteindelik gebeur het met die Jode. Die Here het hulle in ballingskap gestuur en eers na 70 jaar weer teruggebring in die land. Hulle het sy aanbod dat Hy vir hulle sal wees as hulle tot bekering kom, in die wind geslaan. En die prys daarvoor betaal.

Die Here wou hulle ‘n voorwerp van eer maak, maar hulle wou nie toegee nie. En hulle het in hulle doel gefaal. Jeremia gee dus vir ons hiermee ‘n prentjie van wat verkeerd kan gaan as ons nie plooibaar in sy hande is nie…

Die boodskap van Jeremia is dat God op dieselfde manier in jou lewe besig is. Hy soek ‘n keuse vir Hom in jou lewe. Die vraag is dus of jy anders leef as hierdie Jode in die 6de eeu vC: “is jy plooibaar soos klei in die hande van die pottebakker?” Mik jy na meer van God in jou lewe? Óf is jy besig om onder die radar te probeer lewe sonder ‘n publieke commitment om vir die Here te leef?

Paulus

Paulus is die 3de een in die Skrif om die beeld van die pottebakker en die klei te gebruik in hoofstuk 9 van sy brief aan die Romeine, en pas dit op alle mense toe. Hy maak eerstens die punt dat ons afhanklik is van God se werk in ons lewe. Hy is die pottebakker. Ons is die klei:

16Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm. (Rom 9:16)

Ons kan nie enigiets verdien met ons goeie dade nie. Ons is afhanklik van God vir sy gawes en voorsiening. Ons kan net op sy genade staatmaak. Daarom moet ons sy wil vir ons lewe in die Skrif aanvaar. Daar is nie ‘n ander manier nie. Want, sê Paulus, met verwysing na Jesaja:

20Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” (Rom 9:20)

Dit is immers sinneloos om met die Here te stry oor hoe Hy jou gemaak het, en nog meer, wat Hy van jou wil maak.

En dan met verwysing na Jeremia sê Paulus in die tweede plek:

21Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei ‘n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie? (Rom 9:21)

God is aan die werk in ons lewe en sy wil gee die deurslag in wat met ons gebeur. En Hy maak uit dieselfde stuk klei – ‘n beeld van die mensdom – ‘n voorwerp vir edele gebruik sowel as ‘n voorwerp vir onedele gebruik.

Die plooibare klei word in ‘n nuttige funksionele voorwerp gevorm. Die onplooibare klei word in ‘n nuttelose verwerplike voorwerp gevorm.

Dit beteken nie dat God nie vir almal kanse gee nie, selfs al is hulle weerbarstig en dwars. Want, Hy is geduldig met almal van ons. Maar, sy geduld duur nie vir altyd nie. Soos Juda uiteindelik in ballingskap gestuur is – al het God vier eeue geduld met hulle gehad – só sal dit ook gebeur met dié mense vandag wat nie tot bekering kom nie.

En niemand sal die Here daarvoor kan verkwalik nie. Soos Paulus dit uitdruk:

22As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, 23het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie? (Rom 9:22-23)

Paulus kombineer dus die twee perspektiewe van Jesaja en Jeremia en daag ons uit om seker te maak dat ons God se geduld met ons gebruik om in voorwerpe van heerlikheid gevorm te word

God IS besig om ‘n onderskeid te maak tussen mense wat Hom dien en dié wat Hom nie dien nie. Hoekom? Want, Hy is soewerein. Hy bring ‘n onderskeid tussen die “voorwerpe van sy toorn” wat vir ondergang bestem is – soos die klei van Jeremia se profesie wat misluk het in die doel wat God met hulle gehad het – en die “voorwerpe van sy ontferming” – die klei wat plooibaar was en deur God in die produk gevorm kon word wat Hy van hulle wou maak.

En God doen dit aan die een kant sodat Hy sy toorn oor die sonde kan vertoon – vgl Romeine 1:18-32 waar Paulus uitvoerig gesels oor die sondes wat God se toorn verdien – en sy krag om hulle ondergang te beplan. Verskriklike gedagte, maar presies wat in die teks staan.

En God doen dit aan die ander kant sodat Hy die rykdom van sy heerlikheid bekend kan maak deur vir die hele wêreld te wys wie die kinders van God is, soos Paulus in Romeine 8 uitvoerig geskryf het.

En die vraag is ook vanuit Paulus se boodskap relevant: “is jy plooibaar soos klei in die hande van die pottebakker?”

Hoe raak ‘n mens plooibaar?

1. God is die pottebakker

Jy moet Hom toelaat om jou te vorm.

Die waarheid is, soos jy hier sit, is jy óf besig om in ‘n “voorwerp van God se toorn” of ‘n “voorwerp van God se ontferming” gevorm te word. Jy is óf besig om soos ‘n plooibare stuk klei gevorm te vorm in die voorwerp van ontferming wat God daarvan wil maak om in jou sy heerlikheid te wys. Óf jy is besig om soos ‘n onplooibare stuk klei onder die hande van God in ‘n voorwerp van toorn gevorm te word in wie God sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak.

En dit is waar van alle mense op hierdie aarde. God is die pottebakker. Ons is die klei. Hy is besig om insette in ons lewe te maak. Dié wat buig onder sy juk, wat luister na sy stem, dié gaan voorwerpe van heerlikheid wees. Dié wat in opstand kom teen sy wil, wat nié luister na God se stem in sy Woord nie, dié gaan voorwerpe van toorn wees.

Hy doen dit deur sy Woord. Hy doen dit deur sy Gees. Hy doen dit deur jou inskakeling by die erediens. Hy doen dit deur jou inskakeling by ‘n kleingroep. Hy doen dit deur jou getuienis. Hy doen dit deur jou diens.

2. Jy is die klei

Gaan dink deeglik oor watter tipe klei vir ‘n pottebakker bruikbaar is.

  • Dit is klei wat bly op die tafel. Dit help nie die klei is in die veld nie. Dit moet daar op die wiel wees sodat die pottebakker daarmee kan werk. Ek is besig om met die belydenisklas te gesels oor hulle persoonlike verhouding met die Here. Dit is van lewensbelang dat jy ook soos hulle seker maak dat jy geloofsekerheid het. Jy moet seker wees dat as jy vanaand sterf, jy hemel toe sal gaan. En jy moet weet dat die enigste rede wat jy vir die Here kan gee dat Hy jou moet toelaat in die hemel is dat Jesus vir jou sonde aan die kruis gesterf het; dat jy in Hom glo en op Hom vertrou. Jou goeie dade kan nooit vir jou die hemel verdien nie. Die moordenaar aan die kruis het nie iets gehad om vir God aan te bied om hom toegang tot die paradys te gee nie. Nee, al wat hy kon sê, was: “die Man aan die kruis het gesê ek kan kom.”
  • Dit is klei wat nie droog geraak het en daarom nie meer meegee, en daarom nie meer plooibaar is nie. Moenie jou stiltetyd verwaarloos nie. Moenie jou Bybellees verwaarloos nie. Moenie jou gebed verwaarloos nie. Dit is waar die Here jou as’t ware natmaak sodat jy plooibaar kan bly.
  • Dit is klei wat geen onsuiwerhede bevat nie. Reken af met immoraliteit in jou lewe. Leer om nee te sê vir versoekings. Om reguit paaie te maak vir jou lam voete. En dit help om maats te hê wat saam met jou die goeie stryd te stry.

Maak die keuse vandag. Om jou sekerheid in Jesus vandag te kry. Om Hom toe te laat om jou te brei in die voorwerp van heerlikheid wat Hy wil maak. En laat Hom toe om jou ‘n heilige lewe te laat lei.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 514:1-2 Ek weet vir seker: Jesus is Heer   (staan)

Seën

Respons

Lied 313 Amen (staan)

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.