Skip to main content

Fil 1:1-11 – Die Gees verander ons gemeente deur kennis en ervaring – 22 Jan 2012

Verwelkoming

RUS

Toetrede

  • Lied 519:1-4 – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

  • Psalm 8 (Lina Spies):1-3 – staan
  • Lied 220:1,3 – sit
  • Lied 526 (Afr, Latyn, Afr) – sit

HOOR

Kindertyd

Dit was darem warm, nê!

Wat doen julle die graagste as dit warm is?

Wie van julle kan al swem?

Wie het julle geleer swem?

Wie is dit dié?

Ryk Neethling – Swem kampioen

En wie is dit dié?

Natalie du Toit – Swem kampioen

Kan ‘n mens sommer so goed soos hulle swem?

Wat moet jy doen?

  • Leer
  • Swem

Net een keer?

  • Oefen tot jy regtig goed is daarmee.

Toepassing in die lewe

Dit is so met alles in die lewe.

  • Jy leer wat jy moet doen.
  • Jy oefen dit.
  • So raak jy goed daarmee.

Dit is so met skryf.

  • Graad eentjies – hoe vorder julle met die skrywery?

Dit is so met fietsry

Dit is so met koekbak, en motor ry en leer

  • Jy leer, jy oefen, jy raak goed daarmee

 Toepassing in die kerk

Dit is nie anders in die kerk nie.

Die Here wil hê dat ons vir Hom moet liefhê, en dat ons ander mense ook moet liefhê.

Ons kan die Here egter nie sien nie.

Hoe het ons vir Hom lief?

  • Hy hou daarvan dat ons sing.
  • Hy hou daarvan as ons bid.
  • Hy hou daarvan as ons van Hom leer in die Bybel.
  • Hy hou daarvan as vir ander vertel van Hom.
  • Hy hou daarvan as ons vir ander mense goed is, want dan maak dit Sy hart bly.

Dit is waarom ons nuwe liedjies leer.

Onthou julle nog laasweek se liedjie?

Filippense vier vers vier sê, verbly jul in die Heer (x2)

Verbly jul, verbly jul, verbly jul in die Heer (x2)

Julle gaan netnou dit verder leer, en sommer ook leer wat dit beteken om regtig bly te wees.

Maar dit help nie ons leer dit net een keer nie.

Ons moet dit oor en oor sing totdat ons dit ken en ons dit vir die Here kan sing.

Dieselfde met bid en Bybellees, en vir ander vertel van Hom en om vir ander mense goed te wees.

Ons moet leer hoe om dit te doen, en dan moet ons dit doen, totdat ons goed raak daarmee.

Gebed

Skriflesing

Hierdie intens-persoonlike brief aan die gemeente van Filippi is een van die briewe wat Paulus uit die gevangenis geskryf het (soos ook Kolossense, Efesiërs en Filemon).  Die gemeente is tydens Paulus se tweede sendingreis gestig, ongeveer 50 nC.  Dit was die direkte gevolg van die gesig wat Paulus in Troas (Turkye) van die Masedoniese man gesien het wat hom gesmeek het om hulle te kom help (Hand 16:8-10).  Filippi was dus die eerste gemeente op Europese bodem.  Hy sou hulle later op sy derde sendingreis weer besoek, in die tyd van die Paasfees van 55-56 nC – die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6) – voor hy Jerusalem toe vertrek het.

Die oudste tradisie hieroor is dat Paulus die brief uit sy gevangenis in Rome skrywe, in die vroeë sestigjarige van die eerste eeu, so 10-12 jaar na die stigting van die gemeente.[1]

Ek gee vir julle ’n tydlyn om hierdie brief in historiese perspektief te plaas.

paulus_bediening 

Kom ons lees Filippense 1:1-11

Woordverkondiging

God is op twee maniere aan die werk in ons lewe.

God is op twee maniere aan die werk in ons lewe.  God is betrokke in die dinge wat ons ontwrig.  En God is betrokke in die dinge wat ons bevestig.  Dit is wat ons uit die verhaal van Filippi in Handelinge leer. God skep aan die een kant oortuigings by gelowiges deur die verkondiging van die evangelie, bv by Lidia, en bevestig hulle in die  geloof.  Maar Hy is aan die ander kant net so seer besig in die ontwrigtende gebeure in die stad, met die eienaars wat Paulus-hulle aankla oor die duiweluitdrywing uit die slafin, en die oproer onder die skare wat gesorg het dat die evangelie in die publieke ruimte ingedra is.  Selfs die ontwrigtende aardbewing het bygedra tot die impak van die evangelie op en in die lewens van mense.  Dit oortuig onder andere die bewaarder van God se teenwoordigheid en hy kom tot bekering.

In dit alles is God aan die werk – Hy ontwrig, en Hy bevestig, of ten minste Hy werk deur die ontwrigting en die bevestiging.  Dit is waarom ons nie so gou ontsteld moet word as dinge deurmekaar word nie.  Want God is daarbinne aan die werk.

Wat ons moet doen, is om te onderskei waaroor dit regtig gaan, wat God besig is om daarmee te sê, of daarmee te laat gebeur.

Die gevaar van die tradisionaliste en die vrysinniges

Paulus sit in die tronk in Rome.  Dit is 10 jaar na die gemeente se stigting.  Hy het so pas berig gekry van Epafroditos hoe dit met hulle gaan (2:25).  Hy hoor pragtige goed van hulle.  Hulle is nog sterk besig om vir ander die boodskap van Jesus te vertel.  Hulle sorg vir die mense wat leiding gee, soos vir Paulus self, vir wie hulle geskenke saamgestuur het.  Paulus is opgewonde en bly daaroor.

Maar dit is nie al nie.  Hy hoor ook dat hulle teëspoed kry.  Die teenstand van die gemeenskap van Filippi die afgelope dekade is nog steeds daar.  En daar is iets wat nou nog erger is.  Daar is ‘n klomp mense binne die gemeente wat teruggryp na uitgediende idees, ‘n klomp Joodse tradisionaliste wat eintlik wil hê dat die Filippense ver-Joods moet word.  Christus is goed en wel, en Hy is die Messias.  Maar Hy is ‘n Joodse Messias, en die wet en die besnydenis is deel van die Joodse manier van doen.  Dit moet dus volgens hulle steeds die norm bly, ook vir die gelowiges uit die heidene, al het die gemeentevergadering in Jerusalem anders besluit.

En daar is ‘n paar ander mense wat weer dink, daar is glad nie meer reëls van enige aard nodig nie.  Dit is net die geestelike dinge wat tel.  Jy kan met jou lewe eintlik doen wat jy wil.  Jy kan self besluit wat is reg, en wat is verkeerd.  Jy moet net self tevrede wees met jou eie idees – oor kos, oor verhoudings.  Jy moet wel glo in Christus … en dan kan jy min of meer met jou lewe doen net wat jy wil.

En moenie ‘n fout maak nie.  Dit was ‘n ernstige versoeking vir hierdie gelowiges in Filippi.  Aan die een kant was daar die Joodse reëls wat dit vir jou veilig kon maak en aan die Joodse groep kon laat behoort – die opsie van die tradisionaliste.  Aan die ander kant was daar die vryheid van die vrysinniges, waar jyself eintlik die baas van jou eie lewe raak.

Paulus weet, hy moet hulle help om hulle pad tussen die verstikking van die tradisionaliste en die versoekings van die vrysinniges te vind.

Paulus bid dat hulle sal groei in onderskeiding

En Paulus besef, daar is eintlik net een ding wat nodig is, hulle moet beter kan onderskei waarop dit regtig aankom.  Dit sal hulle help met die onderskeiding van wat God doen – in ontwrigting en bevestiging.  En dit sal hulle help met die tradisionaliste en die vrysinniges.

Maar hy weet, dit help nie net hy gee hulle ‘n Bybel-les, en probeer al sy kennis aan hulle oordra nie.  Hy weet hy kan ook nie net stories vertel van al die ervarings wat hy al gehad het, en wat die gebeure was wat hom geleer het om te kan onderskei tussen die dinge waarop dit regtig aankom nie.  Want hulle was nie daar nie; hulle is nie soos hy nie.  Wat vir hom gewerk het, sal nie noodwendig vir hulle werk nie.

Hy weet dus, hy moet fokus op die diepste en mees omvattende ding wat daar is, die liefde.

Hulle liefde moet groei in onderskeiding

Paulus bid dus vir hulle dat hulle liefde sal groei in onderskeiding.

‘n Ietwat vreemde keuse, nie waar nie?  Nie iets wat ons sommer sou kies nie of hoe?

Ek sou miskien vir hulle ‘n teologie les gegee het.  En hulle laat inskryf het vir ‘n kursus of twee, sodat hulle kennis kan groei en hulle self kan agterkom, hierdie dwaalleraars sit die pot mis – beide die Joodse tradisionaliste sowel as die Griekse vrysinniges.  Hulle is nie so slim soos hulle dink nie.  Dít is hoe dit nou eintlik werk.  Miskien sou jy dit ook doen, argument op argument opstapel, hulle oorrompel met jou intellek …

Maar dit is nie wat Paulus doen nie, al kon hy ook, en al het dit op ander geleenthede ook gedoen.  Hy kies om oor die liefde te praat, want hy weet, dít is waar die onderskeiding begin, dít is wat onderskeiding sy krag gee, dít is wat onderskeiding die vermoë gee om agter te kom wat God se wil is, en belangrik, dít só te doen, dat almal daarop ja kan sê; ja, dít is soos dit moet wees.

  • Mense moet nie net dieselfde dink nie.
  • Mense moet nie net dieselfde voel nie.
  • Hulle hoef nie eers dieselfde ervarings te hê nie.
  • Maar hulle moet almal weet – dít is hoe dit werk.  Dít is wat God se wil is.  Dít is die rigting wat Hy met ons wil gaan.

En dít kan net gebeur, as almal vanaf dieselfde vertrekpunt begin, as almal vanuit die liefde werk, want dít is die universele taal, die taal wat insluitend is, die taal wat almal verstaan.

Daar is nie iets belangrikers nie.   Want as hulle vanuit die liefde kan werk, en in die liefde kan groei, dan weet Paulus dat hulle besig is met wat die Here Jesus self as ‘n model gegee het.  Dit is immers wat Jesus met die voetewas geïllustreer het. Hy gee vrywillig en vrygewig wie Hy is, was hulle voete, doen die werk van ‘n slaaf, en was selfs die voete van die een wat Hom sou verraai.  Hy hou niks terug nie.  Jesus se wese is immers gedefinieer deur wat Hy bereid was om te gee, ‘n ander manier om te sê dat Hy bereid was om lief te hê, trouens dat Hy lief was vir liefhê, soos wat Miga 6:8 al gesê het, en waaroor ek Oujaar gepreek het.

Kennis en ervaring

Ons praat gereeld van geloofsonderskeiding – om in geloof te onderskei wat God se wil is.  Hier in vers 9-10 praat Paulus van onderskeidende liefde, van liefdesonderskeiding, waar hy die woord liefde (agape) koppel aan die woorde betekenisvolle kennis (epignosis) en alle onderskeiding (pase aisthesis) in die oorspronklike Griekse teks, wat in die NAV met begrip en fyn aanvoeling onderskeidelik vertaal word.  Die woordjie alle (onderskeiding) beteken nie soseer volledige onderskeiding nie, maar ’n breë of diep begrip van wat op die spel is.

Paulus bid dus dat hulle liefde só sal toeneem, spesifiek in betekenisvolle kennis (begrip/insig/praktiese kennis) en diep ervaring (fyn aanvoeling), dat hulle die dinge kan onderskei waarop dit regtig aankom.

Hulle perspektief op wat God doen, moet dus – soos ’n dataprojektor se lens – verhelder en skerper gefokus word, deur hulle kennis en ervaring.  So kan hulle intelligente keuses maak deur te onderskei wat God wil, gebaseer op ‘n liefde wat groei in/deur kennis en ervaring!

En die doel daarvan is

  • persoonlik: om geheel en al in die regte verhouding met God te kom – soos een kommentaar sê: om “the best people possible” te wees, en
  • publiek: sodat hulle manier van leef en liefhê tot God se lof en eer sal wees – om “the best choices possible” te maak.

Gebruik jou kop en wees opreg

Nou, hoe werk dit?

Peterson beskryf dit so:

So this is my prayer: that your love will flourish and that you will not only love much but well. Learn to love appropriately. You need to use your head and test your feelings so that your love is sincere and intelligent, not sentimental gush.

Live a lover’s life, circumspect and exemplary, a life Jesus will be proud of: bountiful in fruits from the soul, making Jesus Christ attractive to all, getting everyone involved in the glory and praise of God.[2]

Sien, ’n mens moet jou kop gebruik.  Jy moet met gevoel werk.  Maar, jy moet dit doen vanuit die liefde, waarin jy bereid is om van jouself te gee vir die een met wie jy jou gedagtes deel, of vir die een vir wie jy ’n gevoel het.  En dit moet opreg wees, en intelligent. En dit kan net gebeur as jou liefde aan die een kant groei in kennis, en begrip – dit maak dit intelligent – en aan die ander kant groei deur ervaring, omvattende ervaring – dit maak dit opreg – waarin jy uiteindelik agterkom wat is regtig belangrik, wat maak regtig saak, wat help regtig in ’n gegewe situasie.

Ons gemeente het byvoorbeeld hierdie onderskeiding ervaar met ons sendingwerk:

  • Ons het eers sendelinge uitgestuur en ondersteun.
  • Toe agtergekom, maar dit is almal van ons se job.  Nou ondersteun ons steeds die sendelinge wat ons gestuur het, maar ons leef met groter onderskeiding om ons eie sendingveld te ontdek.
  • En ons kon dit doen, omdat ons liefde vir mense grense oorskry – liefde vir mense in Egipte, in Irak, in Turkye, in Angola, ook ons liefde vir ons sendelinge.

Ons het dieselfde ervaar met ons bedieninge:

  • Ons het die Ontdek jou gawes kursus gedoen, en die Netwerk kursus, en ons het op ’n stadium 77 bedieninge gehad.
  • Toe het ons agter gekom, jy hoef nie net in ’n amptelike kommissie of bediening te wees om die Here te dien nie.  En daarom is daar twee goed wat gebeur:
    • sommige mense het bedieninge geword: dink maar net aan die 30 000 borde kos wat Theo Haveman jaarliks vir honger kinders gee;
    • en die informele bedieninge het gegroei, ons weet nie eers waar almal werk nie – dink maar net aan Gardi Oosthuizen se Fondeling projek, wat weliswaar uiteindelik in ’n besigheid ontwikkel het, maar iets is wat die Here geïnisieer het, nie die Bedieningsraad of die leraars hier by ons nie.
  • Ons liefde vir mense het gegroei in kennis en ervaring – daarom doen ons dit nou so.

Ons ervaar dit met ons saamwees

  • Ons het een groot kermis jaarliks gehad – nou is daar talle geleenthede waar ons ons saamwees vier.
  • En ons is al weer aan die leer – nou wil ’n selgroep hierdie jaar in September weer ’n groot kermis hou,
  • En wat moontlik nou gebeur, is dat ons ’n paar groot geleenthede gaan hê, saam met ’n paar kleineres, wat ons saamwees en ons gevoel van behoort aan mekaar sal laat groei.

En dit is so met ons finansies

  • Sommige gee gereeld, ander eenmalig – en ons begin leer hoe dit werk om ’n begroting daarmee te diens.

En dit is so met ons kleingroepe

  • Ons het aanvanklik elkeen sy eie ding gedoen, en mettertyd agtergekom dat dit beter werk as ons min of meer met dieselfde teks werk – vandaar die Bybelskool en kleingroepmateriaal en die eredienste wat met die teks van die week werk.

En ek kan so aangaan.  Die punt is, dit moet in alles deel van ons gemeentelike lewe en ons eie persoonlike lewe word.  Ons moet groei in ons liefde vir die Here, en vir mekaar, en vir mense in hierdie wêreld.  En ons moet spesifiek al hoe beter leer hoe dit werk – die kennis komponent – en dinge probeer in die praktyk– die ervarings komponent – sodat ons al hoe beter die wil van die Here kan onderskei.

Want, sien, ons moet agterkom wat God besig is om te doen.  Op watter manier Hy betrokke is by iets wat ontwrigtend is:

  • Bv wanneer die begroting knyp, moet ons vra wat sê die Here vir ons
  • En as twee groot bydraes inkom in Desember, dat ons ’n massiewe oorskot het vir Desember, moet ons vra, wat sê die Here vir ons – totdat ons agterkom, en saam Sy wil kan onderskei.

En net so moet ons agterkom op watter manier is Hy betrokke by iets wat bevestigend in iemand se lewe sal wees – as iets goed werk, moet ons vra hoekom, dat ons dit beter kan doen – to be the best people, en to make the beste choices.

En dit is nie iets wat maar net die leraars of die ouderlinge of die leiers se stokperdjie kan wees nie.  Dit is iets waarin ons almal moet deel.

En wat gemeentelik werk, is iets wat ook persoonlik in jou eie lewe so sal wees.

Vertroue en verantwoordelikheid

Ek sluit af met Paulus se oortuiging dat dit God is wat die goeie werk in Filippi begin het, en dat Hy dit end-uit sal voer en voleindig op die dag van Christus (Fil 1:6).  Dit is ook my oortuiging van hierdie gemeente.  God het die goeie werk begin, en Hy sal dit end-uit voer en voleindig op die dag wat Christus weer kom.  Volgende jaar is die gemeente 30 jaar oud, en die kerkgebou 25 jaar oud.  Dit vra ’n viering … en ’n nog breër visie van wat God nog verder deur hierdie gemeente in die wêreld wil regkry.

Maar, ek weet ook, dit sal ook nie gebeur sonder dat elke gelowige, en ek bedoel elke gelowige in hierdie gemeente, hulle verantwoordelikheid nakom nie.

Daar is net een manier om na hierdie boodskap te luister, en dit is om jou verantwoordelikheid, persoonlik, gemeentelik en in die gemeenskap te aanvaar.

Gebed

LEEF

Dankoffer

Slotlied

  • Lied 464:1,4 – staan

Seën

Amen

  • Lied 464 se Refrein


[1] Die talle reise waarna die brief egter verwys, laat heelwat geleerdes dink dat hy nader aan Filippi was, wat gevangenskap in Sesarea of Efese die meer waarskynlike plek van skrywe maak.  Indien hy uit Efese geskrywe het, was dit tussen 52-55 nC.  Indien hy uit Sesarea geskrywe het, was dit in die later 50er jare van die eerste eeu (die keiserlike wag het hom toe alreeds begelei).

[2] Peterson, E. H. (2002). The Message : The Bible in contemporary language (Php 1:9–11). Colorado Springs, Colo.: NavPress.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.