Skip to main content

Markus 9:14-29 – Hoe lank gebeur dit al met Hom?

Ons wil behoort en van betekenis wees

PP-luisterOns het almal twee sterk en baie algemene menslike behoeftes.  Ons wil êrens behoort en ons wil iemand van betekenis wees.  Ons wil inpas in ‘n netwerk van verhoudinge en iets in daardie netwerk beteken. Ons het dus mense nodig wat ons aanvaar soos ons is. En ons het mense nodig vir wie ons belangrik is, in wie se lewe ons ‘n rol kan speel – en omgekeerd.

Dit is waarskynlik die kern van die probleem van ons land – dat mense, weens ons geskiedenis sowel as weens die vooroordele wat ons teenoor mekaar het, sukkel om te behoort, en om van betekenis te wees.  Ons sukkel om ‘n gemeenskaplike identiteit te ontwikkel.  Ons sukkel om ‘n ruimte te skep dat mense voel hulle hoort by mekaar, en dat hulle bydrae van betekenis geag word, van watter kant van die spektrum hulle ook al af kom.

Dit is nie anders in die kerk van die Here Jesus Christus nie.  Ons wil aan ‘n geloofsgemeenskap behoort en ons wil iemand van betekenis in daardie gemeenskap wees.  Ons wil saam die Here aanbid en saam die Here dien. Om dit op jou eie te doen, is moontlik, maar altyd ‘n bietjie van ‘n alleenpad.

Dit is immers waarom ons vandag hier in die erediens is.  Ons is hier omdat ons voel ons hoort hier, of ten minste dat ons soek daarna om hier te behoort.  En ons wil van betekenis wees hier, die idee kry dat ons gawes en ons talente en ons bydrae ‘n verskil maak.

Hier volg die hele erediens: Afrikaans (Word)English (Word);  PowerPoint …

31 Januarie 2016 – LUISTER

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Verwelkoming

Ons fokus op Luister die volgende twee weke.  Die tekste en liedere vir vandag fokus op luister, en ons kleingroepe fokus ook daarop.  Dit is een van ons groot waardes as gemeentes, en dit is een van die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.

Toetrede

Psalm 112:1Luister ons na sy gebod, vind ons vreugde in ons God – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Liedboek 212Loof die Heer, Hy is goed – staan

Liedboek 258:1,2Luister ons aandagtig, skei Gods woorde kragtig tussen kwaad en goed – staan

Verootmoediging

Jesus was baie bewus van die belangrike rol wat die wet van God gespeel het.  Dit het die Joodse volk gehelp om as Godsvolk te leef.  Die riglyne van die wet het ‘n belangrike funksie gehad.  Dit het gelowiges gehelp om God lief te hê en hulle naaste soos hulleself, soos Jesus met die opsomming van die wet uitgespel het.

Die gevaar was egter groot dat gelowiges sou kon dink dat die blote uiterlike nakom van die wet genoeg was.  Dat die Jode bv. hulle hande kon was, om uiterlik rein te wees, maar dat hulle harte onaangeraak kon bly, omdat dit onsigbaar was.

Jesus het egter geweet dat onreinheid eintlik van binne af aangesteek word.  Daarom het Hy moeite gedoen om hulle te leer dat die liefde vir God ‘n hartsaak is, en dat naasteliefde ook op dieselfde wyse ‘n hartsaak was.  En dat hulle Hom nodig het om hulle harte rein te maak, sodat hulle van binne af die riglyne tot die lewe kon nakom.  Ons hoor dat Jesus in Markus 7 as volg daaroor praat:

14Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: 15Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dit maak hom onrein.” 16g

17Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra. 18Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in ’n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, 19omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?” Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.

20“Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit ’n mens kom, dit maak ’n mens onrein. 21Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid (porneia), diefstal, moord, 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ’n mens onrein.”

Dit is duidelik dat die tweede tafel van die wet van God die agtergrond van dié lys van dertien “slegte gedagtes” vorm: 13“Jy mag nie moord pleeg nie – direk so14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie – owerspel en losbandigheid15“Jy mag nie steel nie – direk so16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie – kwaadwilligheid, bedrog, kwaadpratery17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie – onkuisheid (porneia), hebsug, afguns.” (Eks. 20:13-17).

Kom ons verootmoedig ons voor die Here en vra van Hom om ons van harte rein te maak, sodat ons van binne af kan klaarspeel met al die dinge wat die lewe vir onsself en vir ander onmoontlik maak.

Liedboek 354:4Ek, magteloos gebonde, ek word deur U bevry – sit

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Liedboek 443:1,4,5Wind kan jy nie sien nie – niemand sien dit raak.  Maar wanneer ons luister, hóór ons hoe dit maak – sit

Markus 9:14-29“Hoe lank gebeur dit al met Hom?”

Ons is besig met ‘n reeks Jesus-verhale om die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid te onderstreep en in te oefen.  Vandag gaan dit oor luister, een van die hoof elemente van ons gemeente visie.

Kom ons lees die verhaal van Jesus wat ‘n besete, stom en dowe seun gesond maak.

14Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle ’n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. 15Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. 16Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?”

17Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van ’n gees besete is wat hom stom maak. 18En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.”

19Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.”

20Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. 21Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”

22“Van kleins af,” antwoord hy, “en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”

23“ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.”

24“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”

25Toe Jesus sien dat ’n menigte mense aangestroom kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!”

26Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.”

27Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan.

28Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?”

29Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”

Inleiding

Kindertyd

FLUISTERSPELETJIE (Telefoontjie): Ons praat die volgende twee weke oor luister.  Dit is só belangrik dat ons na mekaar sal luister en regtig self hoor wat ander sê en nie sommer moet besluit wat hulle dink/voel/ of moet doen nie. Ons gaan ‘n speletjie speel.  Ek gaan ietsie fluister vir iemand in sy of haar oor, en dan fluister hy of sy dit weer vir iemand anders, en so gaan ons aan, en dan hoor ons by die laaste persoon of hy of sy reg gehoor het (seun se naam, suster se naam).  Reg?!

Ons moet self luister wat iemand sê.

EGGO: Ons moet ook seker maak ons het reg gehoor.  Het julle al in die berge geskree?  En dan gehoor hoe die berge antwoord?  Wat noem ons dit?  Ons noem dit eggo.

Ons moet mekaar eggo.  Ek gaan iets sê, en dan moet julle dit herhaal (Ons gemeente wil graag luister.  Ons luister na God.  Ons luister na mekaar.  Ons luister na ander mense.).

Luister self.  En herhaal – eggo – wat iemand anders sê.  Dan kan jy sê wat jy graag wil sê.  Maar ons wil eers hoor wat ander sê.

Flam 117Loof Hom met die tromme – staan

Integrasie – LUISTER: Hoe lank gebeur dit al met Hom?

Ons wil behoort en van betekenis wees

Ons het almal twee sterk en baie algemene menslike behoeftes.  Ons wil êrens behoort en ons wil iemand van betekenis wees.  Ons wil inpas in ‘n netwerk van verhoudinge en iets in daardie netwerk beteken. Ons het dus mense nodig wat ons aanvaar soos ons is. En ons het mense nodig vir wie ons belangrik is, in wie se lewe ons ‘n rol kan speel – en omgekeerd.

Dit is waarskynlik die kern van die probleem van ons land – dat mense, weens ons geskiedenis sowel as weens die vooroordele wat ons teenoor mekaar het, sukkel om te behoort, en om van betekenis te wees.  Ons sukkel om ‘n gemeenskaplike identiteit te ontwikkel.  Ons sukkel om ‘n ruimte te skep dat mense voel hulle hoort by mekaar, en dat hulle bydrae van betekenis geag word, van watter kant van die spektrum hulle ook al af kom.

Dit is nie anders in die kerk van die Here Jesus Christus nie.  Ons wil aan ‘n geloofsgemeenskap behoort en ons wil iemand van betekenis in daardie gemeenskap wees.  Ons wil saam die Here aanbid en saam die Here dien. Om dit op jou eie te doen, is moontlik, maar altyd ‘n bietjie van ‘n alleenpad.

Dit is immers waarom ons vandag hier in die erediens is.  Ons is hier omdat ons voel ons hoort hier, of ten minste dat ons soek daarna om hier te behoort.  En ons wil van betekenis wees hier, die idee kry dat ons gawes en ons talente en ons bydrae ‘n verskil maak.

Ek weet sommige van ons wil meer agter die skerms werk, en ander meer op die voorgrond.  En dit is ook goed so.  Dit het ook met ons gawes te make – sommige van ons is meer ondersteunend van aard; ander meer leidinggewend van aard.  Maar, ons wil almal graag sê, maar dié plek is ons s’n, al is ons verskillend. Ons wil almal van waarde geag word, al verskil ons soms radikaal in die bydraes wat ons maak.

Hoe skep ons daardie behoort ervaring?  Hoe help ons mense om van betekenis te wees in ons geloofsgemeenskap?

Ons waardes

Een baie belangrike manier waarop ons ‘n behoort ervaring kan skep, is deur die eenvoudige waarde uit te lewe van respek.  Daaroor het ons die afgelope twee weke gehandel.  Ons het na twee verhale van Jesus geluister, en sy hantering van ‘n man met ‘n gebreklike hand en ‘n vrou met ‘n siek dogter as model vir ons eie hantering van mense geneem.  Waar jy mense met respek behandel, en jyself met respek behandel word, daar groei jou ervaring van behoort en betekenis.

Die tweede belangrike manier waarop ons ‘n behoort ervaring kan skep – sodat mense die ervaring het dat hulle as mense en as gelowiges van waarde is, van betekenis is – is deur die volgende eenvoudige waarde uit lewe, dié van luister.

Dit is een van ons gemeente se kernwaardes, trouens deel van ons visie, dat ons luister.  En ons doen dit op spesifieke maniere: Ons verwelkom almal. Ons luister na God.  Ons is en maak dissipels – die Bybel speel daarin ‘n geweldige belangrike rol.

Drie groepe in die konflik

Die verhaal van Jesus en die doofstom seun help ons op ‘n verbeeldingsvlak om ‘n prentjie te kry van hoe dit werk.

Die eerste ding wat ons hier moet raaksien, is die drie groepe mense wat in die konflik rondom hierdie besete, stom en dowe seun betrokke is.

  • Die dissipels het probeer doen wat hulle kon, maar het niks reggekry nie. Hulle leiers was saam met Jesus op die berg van verheerliking – Petrus, Johannes, twee van die skrywers onder die dissipels, en Jakobus,  – en in hulle afwesigheid het hulle gesukkel.
  • Die skrifgeleerdes het hulle kans raakgesien om die dissipels aan te vat oor hulle aansprake dat daar in Jesus enigsins goeie nuus gekom het, dat Hy mense gesond maak, en boonop die dissipels dieselfde gesag gegee het.
  • Die skare – die groot menigte – het met aandag gekyk oor wie in hierdie konflik bo gaan uitkom.

Jesus tree al luisterende op

Die tweede ding wat ons hier moet raaksien, is wat Jesus in die situasie doen. Hy tree al luisterende op.  Hy doen niks sonder dat Hy nie eers luister, en ook soms regtig diep luister nie.

Hy begin deur die skrifgeleerdes te vra waaroor hulle redeneer met sy dissipels.  Let op dat Hy hom identifiseer met die dissipels, presies die ouens wat hier gesukkel het om iets reg te kry: “my dissipels”.  Hy wys vir almal daarmee dat die dissipels aan Hom behoort en dat Hy Hom by hulle skaar. Hulle behoort aan Hom en is vir Hom van betekenis.

Maar, hy bied aan om na die skrifgeleerdes te luister, voor Hy gaan optree.  Skielik is die skrifgeleerdes egter stil … tot die pa antwoord en verduidelik dat hy sy seun na Jesus toe gebring het.  Omdat Jesus weg was, het hy Jesus se dissipels gevra om die gees uit te drywe, maar hulle kon nie.

Dit is uiters interessant wat hier gebeur.  Jesus bied aan om te luister na die skrifgeleerdes … maar hulle neem sy aanbod nie aan nie.  Hulle stop dus die gesprek en daarmee die moontlikheid dat in die gesprek deur Jesus daar ‘n ontmoeting kan wees.

Luister skep konneksies

Luister is dus baie meer as maar net om respek te betoon.  Luister is ‘n manier om ‘n konneksie te skep, om ‘n behoort ervaring te skep, om mense in te trek en hulle van betekenis te laat voel en wees.

So, die pa neem Jesus se aanbod aan en begin praat en verduidelik en sy dilemma op die tafel sit.  Dit beteken dat daar vir hom ‘n verlossende ontmoeting met Jesus op pad is, soos ons gaan sien.

Jesus lewer dan kommentaar op die ongeloof wat Hy bespeur by die skrifgeleerdes en vra dat die seun na hom gebring word.

Deur die chaos wat ontstaan met die gees wat die seun geweldige stuiptrekkings laat kry en hom op die grond laat neerslaan en rondrol met skuim om die mond, voer Jesus die gesprek met die pa verder en vra hom belangstellend uit na die pyn wat hy al met sy seun ervaar het:

“Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?

Die man se ervaring is skielik die middelpunt van die gesprek.  Nie net word hy erken deur die Leermeester nie.  Nie net word sy seun se siekte in die sentrum geplaas nie, maar sy hele ervaring van die begin af, word deur Jesus in die sentrum geplaas.

Die pa weet hy is veilig in dié ruimte en antwoord die Here Jesus:

22“Van kleins af,” antwoord hy, “en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”

Hoe wonderlik om die Here se reaksie op dié ontboeseming te hoor.

23“ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.”

Kyk, dit is natuurlik die punt van die hele gesprek met die pa.  Jesus weet Hy kan die seun gesond maak.  Hy weet Hy kan die wonderwerk doen, maar Hy wil die pa insluit in die geloofsgemeenskap.  Hy wil nie net vir die pa iets beteken nie. Hy wil meer doen.  Hy wil hom intrek en aan die geloofsgemeenskap wat rondom Jesus versamel laat behoort.

Die seun se pa aanvaar dié aanbod, al is dit al bewende, en roep dadelik uit, in ‘n duidelike aansluiting by Jesus se eie oordeel oor die situasie dat mense so moeilik tot geloof kom:

24“Ek glo, help my in my ongeloof.”

Die konneksie is dus gemaak.  Die intrek in Jesus se kring is voltooi, selfs nog voor die wonderwerk plaasgevind het.  Die man gryp in sy onvolmaakte geloof vas aan die Here Jesus.

Wat ons moet raaksien, is dat selfs dié onvolmaakte geloof, wat die man eintlik as ongeloof beskryf, is genoeg om die Here Jesus in beweging te bring om die onrein gees uit die seun te dryf en hom van sy stom- en doofheid te genees.

Geloof lê dus in ongeloof opgesluit – as ons dit na God toe bring, as aan God vasgryp.  God is die bron van geloof.  Hy bestaan, Hy is werklik, en Hy gee vir ons wat nodig is om aan Hom vas te gryp.  Hy is immers die beloner van dié wat Hom soek (Hebr. 11:6), selfs waar ons ons ongeloof bely: ““Ek glo, help my in my ongeloof.

Jesus genees die seun

Dit is interessant dat volgens die teks dit wil lyk asof Jesus in sy gesprek effens uit die felheid van die openbare aandag gestap het, ‘n meer eenkant gesprek met die pa gehad het, maar die menigte begin weer aanstroom, sê Markus, waarop Jesus die onrein gees skerp aanspreek:

“Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!”

Die Here gee die pa wat sy eerste behoefte was, dat sy seun gesond sal word.  En dit is presies wat gebeur.

26Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan.”

Hoe ‘n wonderlike intieme moment moes dit nie gewees het nie.  Jesus het die seun aan die hand gevat en opgehelp, en die seun het opgestaan, genees van sy besetenheid, sy doofheid, en sy stomheid.  Sy pa se beker van geluk het oorgeloop.  Sy seun was weer by sy volle positiewe, en hy is ingetrek in die kring van Jesus se geloofsgemeenskap.

Die belangrikheid van gebed

Die verhaal het ‘n nadraai:

28Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?”

Hulle het regtig ernstig probeer om goed te doen, maar kon nie.  Waar Jesus antwoord:

29 “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”

Wat Jesus daarmee bedoel, is dat dit net God is wat wonderwerke doen.  Waar mense na Hom toe gebring word, en by Hom vir hulle ingetree word, daar kom daar verandering, want God self bring die verandering.

Prakties

Luister is ‘n waarde wat ons eintlik help met alles wat ons doen.  Deur te luister, help dit ons om almal te verwelkom en ‘n behoort ervaring te gee.  Deur te luister, help dit ons om dissipels te wees en ook te maak, om mense van betekenis te wees.  Deur te luister, help dit ons om om te gee, om uit te reik, om te waag in die geloof, presies dit wat ons waardes is wat hier voor so mooi uitgebeeld word.  Alles begin by luister.

As ons daarom hierdie luistervraag van Jesus vra, op verskillende maniere en vir verskillende mense, “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”, sal ons die vermoë hê om op die menslikheid van die situasie te fokus, om die emosies te hanteer, om die binnekant van mense se ervarings te bereik, vóór ons iets aan die situasie doen.

Só word ook ons eie vooroordele afgebreek en ontwikkel ons empatie met mekaar. Deur regtig te luister – en die tegniek van eggo, soos ek vir die kinders geïllustreer het, is ‘n baie belangrike hulpmiddel om mekaar se situasies werklik goed te kan verstaan – kan ons mense help om tuis te kom, dat daar ook genesing kom.

Dan kan ons Jesus beter navolg, sodat Hy deur ons kan leef, soos die tweede vraag in die kleingroepmateriaal lui: Hoe luister Jesus deur my na ander mense?  Ons moet mense nie net help om na Jesus te luister nie, maar hulle die ervaring gee dat Jesus deur ons na hulle luister!

En dit kan elkeen van ons doen.  Ons kan namens Jesus vra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?

Dan sal ons vir mekaar ‘n behoort ervaring skep en sal ons betekenis in ons verhoudinge met mekaar beleef.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

PW Moolman gee terugvoer oor begroting

Slotlied

Liedboek 524:1-3Ek hoor U roep; ek ken u stem; ek luister na u woord  – staan

Seën

Liedboek 524:3 se laaste twee reëlsDeur omgee en met uitreik, Heer, gaan ons met blydskap voort – staan

Gaan luister!

 

g Sommige manuskripte voeg by: 7:16 “As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister.”, vgl. Mark. 4:9; 4:23

View all posts in this series

luister

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.