Skip to main content

Matteus 9:1-8 – Is wonderwerke moontlik vandag?

Laat ek dit weer helder sê: Markus, Lukas, Matteus, Johannes, Paulus en elkeen van die ander skrywers van die NT wat oor Jesus geskryf het, het bevestig dat Jesus ‘n wonderwerker was. Hulle sou dit immers nie kon skryf as dié dinge nie regtig gebeur het nie. Die wonderwerke van Jesus en die getuienisse daaroor in die evangelies maak net sin, as dit regtig gebeur het.

Die interpretasie van wat daar gebeur het, daaroor kon ‘n mens natuurlik verskil. Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes het immers duidelik verskil oor die interpretasie daarvan. Jesus se wonderwerke is van die duiwel af, het hulle gesê. Dit kom nie van God af nie!

Dít was hulle interpretasie. Maar hulle het nie gewaag om te probeer sê, dit het nie gebeur nie. Hulle kon nie, want die getuienis oor Jesus se wonderwerke was net te duidelik. Hulle kón nie daarmee stry nie. Hulle kón dit nie ongedaan maak nie. Verdag maak, ja, verseker. Ontken, nee, toe nie. Dit was net nie moontlik nie.

Geen wonder dat nie een van die antieke bronne op Jesus se wonderwerke gereageer het deur dit te probeer ontken nie. Josephus noem Jesus baie spesifiek ‘n “miracle worker”. Selfs die Fariseërs en Skrifgeleerdes het die wonderwerke nie probeer ontken nie; net teologies probeer diskrediteer.

Maar, dít was toe. Is wonderwerke moontlik vandag?

HIER VOLG DIE HELE VOORDRAG:

Ons het vanoggend gefokus op Jesus wat wonderwerke doen. Ek het net een van die ongeveer 37 wonderwerke wat Jesus volgens die vier evangelies gedoen het, uitgelig. As ‘n mens sy opstanding uit die dode bytel, is dit 38. Volgens Keener (Miracles – The Credibility of the New Testament Accounts. Volumes 1 & 2. 2011. Baker Academic: Grand Rapids) gaan 31% van Markus se evangelie oor wonders, amper ‘n derde!

Kom ons lees weer die teks in Matteus, om aan te sluit by die Woord van die Here van vanoggend:

Ons lees Matteus 9:1-8.

Jesus het in die skuit geklim, na die oorkant gevaar en in sy tuisdorp aangekom. Hulle het ‘n verlamde man wat op ‘n slaapmat lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Hou moed, kind, jou sondes word vergewe. Hierop het sommige van die skrifkenners onder mekaar gesê: “Hierdie man laster.” En omdat Jesus geweet het wat hulle dink, het Hy gesê: “Hoekom bedink julle bose dinge in julle harte? Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe …” — sê Hy toe vir die verlamde: “Staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” En hy het opgestaan en na sy huis gegaan.

Toe die skare dit sien, is hulle met diep ontsag vervul, en hulle het God, wat sulke gesag aan mense gee, geprys.

Ek het vanoggend vier kenmerke van dié wonderwerk van die verlamde man uitgelig:

  1. Wonderwerke was ‘n integrale deel van Jesus se bediening
  2. Wonderwerke gebeur in ‘n verhouding met Jesus
  3. Die wonderwerk van vergifnis geniet voorrang
  4. Wonderwerke is tekens van God se werk

‘n Mens kan uiteraard nog meer sê, veral as ‘n mens van die ander wonderwerke van Jesus bywerk. Maar ek dink dié vier kenmerke gee ‘n goeie begin vir ons denke oor wonderwerke.

En laat ek dit weer helder sê: Markus, Lukas, Matteus, Johannes, Paulus en elkeen van die ander skrywers van die NT wat oor Jesus geskryf het, het bevestig dat Jesus ‘n wonderwerker was. Hulle sou dit immers nie kon skryf as dié dinge nie regtig gebeur het nie. Die wonderwerke van Jesus en die getuienisse daaroor in die evangelies maak net sin, as dit regtig gebeur het.

Die interpretasie van wat daar gebeur het, daaroor kon ‘n mens natuurlik verskil. Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes het immers duidelik verskil oor die interpretasie daarvan. Jesus se wonderwerke is van die duiwel af, het hulle gesê. Dit kom nie van God af nie!

Dít was hulle interpretasie. Maar hulle het nie gewaag om te probeer sê, dit het nie gebeur nie. Hulle kon nie, want die getuienis oor Jesus se wonderwerke was net te duidelik. Hulle kón nie daarmee stry nie. Hulle kón dit nie ongedaan maak nie. Verdag maak, ja, verseker. Ontken, nee, toe nie. Dit was net nie moontlik nie.

Geen wonder dat nie een van die antieke bronne op Jesus se wonderwerke gereageer het deur dit te probeer ontken nie. Josephus noem Jesus baie spesifiek ‘n “miracle worker”. Selfs die Fariseërs en Skrifgeleerdes het die wonderwerke nie probeer ontken nie; net teologies probeer diskrediteer.

Maar, dít was toe. Is wonderwerke moontlik vandag?

Ons weet dat wonders ook plaasgevind het in die bediening van die volgelinge van Jesus ná sy hemelvaart. Petrus en Johannes genees in die Naam van Jesus die verlamde man by die tempelpoort wat Mooipoort genoem word (Hand. 3:1-10). Petrus doen dieselfde vir Eneas, ‘n man wat agt jaar lank bedlêend was (Hand. 9:32), en bid ook vir Tabita (Dorkas in Grieks) dat sy weer lewend word (Hand. 9:40).

Trouens, dit was waar van al die apostels: “Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul.” (Hand. 2:43).

Paulus praat ook daarvan dat al die dinge wat ‘n apostel kenmerk ook sy bediening gekenmerk het: “tekens en wonders en kragtige dade.” (2 Kor. 12:12). Dit sê Paulus om die Korintiërs se klagtes oor sy afwesigheid hok te slaan en sy roeping as apostel te bevestig. En ons lees van verskeie wonderwerke in Handelinge wat met hom verbind word.

  • Barjesus (Elimas in Grieks) word met blindheid geslaan (Hand. 13:11).
  • Lukas skryf: “selfs doeke of voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siekes gesit en dan het hulle siektes verdywn; en die bose geeste het uit hulle uitgegaan.” (Hand. 19:12).
  • Eutigus is opgewek nadat hy van die vensterbank afgeval het vanweë Paulus se lang asem (Hand. 20:10). Trouens, ná Eutigus se opwekking het Paulus nog tot dagbreek aangehou!
  • En daar is nog die redding van skipbreuk en van die byt van die giftige slang (Hand. 27:39-28:10) wat gelei het tot baie siekes vir wie hy gebid het en wat gesond geraak het.

Maar, is wonderwerke vandag nog moontlik? Dit is die vraag.

Ons voorveronderstellings bepaal ons standpunte

Die eerste ding wat ons moet hoor, is dat ons voorveronderstellings ons standpunte bepaal. Wat ons glo, wat ons as die waarheid ag, bepaal hoe ons hieroor dink. Na watter kant toe ook al, moet ek byvoeg.

Een manier waarop baie mense in die Weste vandag nog dink, is dat wonderwerke per definisie teen die natuurwette is en daarom onmoontlik. Ek sou dink dit is waarskynlik steeds die hoofstroom Westerse interpretasie wat die meeste gehandhaaf word.

Dit is daarom ook die hoofargument waarop Craig Keener fokus in sy boek. Hy fokus op die argument van die filosoof David Hume (18de eeu, 1711-1776) dat wonderwerke per definisie teen die natuurwette is en daarom onmoontlik. ‘n Argument, wat ons moet byvoeg, baie mense beïnvloed het en steeds beïnvloed.

Maar dan wys Keener uit dat dié argument ‘n reduksionistiese sirkelargument is. Hy wys uit dat Hume op grond van sy eie ervaring argumenteer dat wonderwerke nie plaasvind nie, en dan geloofwaardige ooggetuie getuienis vir wonderwerke verwerp op grond van sy aanname dat wonderwerke nie kan gebeur nie. Dit is ‘n klassieke sirkel argument soos sommige van Hume se tydgenote al toentertyd uitgewys het.

Die onkritiese aanvaarding van sy argument het egter gelei tot baie moderne akademici se a priori verwerping van wat hy noem: “claims of direct supernatural activity in the natural world.”

Dit was ook die geval met ‘n teoloog soos Walter Wink – wat self eers skepties was oor wonderwerke, maar sy gedagtes daaroor verander het toe hy self wonderwerke ervaar het: ‘n uterus gewas wat spontaan en amper onmiddellik verdwyn het ná gebed, en daarna verskeie ander genesings, fisies en geestelik. Wink merk daaroor op: “People with an attenuated sense of what is possible will bring that conviction to the Bible and diminish it by the poverty of their own experience.”

Akademici of enigiemand anders wat wonderwerke ontken, doen dit gewoonlik nie op feitelike of historiese gronde nie, maar op grond van hulle eie materialistiese wêreldbeeld waarin wonderwerke geen plek het nie.

Waar mense hulle blootstel aan wat regtig aangaan, en die moeite doen om die ervarings van ander mense na te gaan, daar kan ‘n mens nie die wydverspreide voorkoms van wonders ontken nie. Jy kan verskil oor die interpretasies daarvan, maar nie oor die feitelikheid daarvan nie.

Keener kom tot die gevolgtrekking: “the assumption that suprahuman activity is impossible is an interpretive grid, not a demonstrated fact.” Die aanname veronderstel daarom eerder ateïsme (God bestaan nie) of deïsme (God is nie betrokke nie) as wat dit onbevange die beskikbare data evalueer.

Hy sê daarby, veral gemik teen die beswaar dat wonderwerke die natuurlike wette ophef: “God working through nature does not itself logically exclude the possibility of extraordinary and atypical acts of God as signs … Those who … affirm a Creator would hardly be impressed with any demand that this God be subject to patterns of nature that this God initiated.”

‘n Onkritiese verwerping van wonderwerke sonder om die empiriese data daarvan te ondersoek, is doodgewoon ‘n naïewe vooropgestelde vooroordeel.

Miskien is daar van julle wat hieroor vrae het of ‘n bydrae wil lewer – welkom!

Honderde ooggetuie verhale van wonderwerke

Die tweede ding wat ons moet hoor, is dat daar letterlik honderde ooggetuie verhale van wonderwerke reg deur die geskiedenis is. Dit is die grootste deel van Keener se twee Volumes werk. Hy fokus op letterlik honderde verhale regdeur die eeue en uit alle wêrelddele.

Uiteraard dateer die meeste van dié verhale uit die afgelope eeu weens die beter beskikbaarheid van die bronne, hoewel hy ook getuienisse van Augustinus, Luther (hy vertel van genesings van homself, sy vrou, en van Melanchton), Calvyn (genees van koors ná gebed), John Wesley en verhale uit van die groot herlewings deur die eeue insluit in sy navorsing.

Dit is egter ‘n groot voordeel, want: “it is today’s accounts that we can most easily verify and falsify by consulting witnesses.”

Die verhale kom uit alle dele van die wêreld, uit alle denominasies, en sluit letterlik verhale in vanaf psigosomatiese en geestelike genesings, regdeur al die verhale van fisiese genesings en selfs mense wat uit die dood uit weer lewend geword het.

  • Só is daar verhale uit die Filippyne opgeteken deur dr Julie Ma van Suid-Korea wat veral van die werk van Eva Vanderbout in die 1940’s en 1950’s in die noorde in Luzon onder die Kankana-eys vertel, waar baie Filippyne tot geloof in Jesus gekom het deur wonderwerke.
  • In ‘n studie in Indië uit 1981 het ‘n tiende van die nie-Christene in Madras ‘n belangrike genesing ervaar deur die gebede van Christene. Merkwaardig!
  • In 1992 is Nivedita Gosh van brein-kanker genees nádat hulle as familie van hulle gode ontslae geraak het en daar vir haar gebid is. Die neurochirurg kon na die tyd nie eers die letsels kry waar hy haar geopereer het nie.
  • Dieselfde tipe verhale kom voor in Indonesië en Suid-Korea. Die befaamde teoloog Jürgen Moltmann het verligting van sy asma gekry ná David Yonggi Cho vir hom gebid het. Sê hy: “I do not want to make a miraculous healing out of this, but it certainly was unusual.”
  • Dieselfde tipe verhale kom voor in Fidji en China. Trouens, in China rapporteer die amptelike China Christian Council dat min of meer die helfte van alle nuwe bekeerlinge die afgelope twintig jaar uit die ervarings van geloofsgenesing gekom het.
  • Dieselfde tipe verhale kom voor in Afrika, bv. die driejarige dogter van die Switserse kerkplanter Jacques Vernoud wat in Brazzaville in die Kongo van leukemia genees is, en wat Craig Keener persoonlik ken.
  • Jacques Giraud het in die Ivoorkus groot veldtogte in 1973 geloods waar baie verlamde mense genees is, ook blindes begin sien het. In ons eie land is daar getuienisse uit Kwazulu-Natal, soos deur Kurt Koch in verskeie boeke gerapporteer.   Ook die getuienisse van William Duma, wie se boek ek in my jong dae gelees het, kan genoem word, wat ook van ‘n meisie vertel wat uit die dood opgewek is.
  • So kan ‘n mens aangaan, verhale uit Suid-Amerika, die Karribiese eilande, Kuba, Europa (Lourdes), en uit Amerika.
  • Gaan kyk bv. na die ewekansige gebedsnavorsing in Amerika waaroor Catherine Rauch, “Probing the Power of Prayer”, geskryf het. Dit handel oor die navorsing van William Harris by die St. Luke’s Hospital in Kansas City, Missouri, waar ‘n 1000 hartpasiënte in twee groepe opgedeel is – sonder dat hulle ingelig is daaroor – in ‘n groep waar Christene vir hulle gebid het, en ‘n groep waar dit nie gebeur het nie.
  • Die resultaat was dat dié mense waarvoor gebid is, 11% beter gedoen het as dié vir wie nie gebid is nie. Die berig hieroor was op CNN en is tans beskikbaar by http://www.siliconinvestor.com/readmsgs.aspx?subjectid=50472&msgnum=26165&batchsize=10&batchtype=Next). Nie dat dié tipe navorsing sonder sy probleme is nie, maar die feite hieroor kan nagegaan word.

Ek moet herhaal, uit die woord van Matteus 9, dat die verhouding waarbinne goed gebeur eintlik baie belangriker is as die genesing self. Maar tog. Die getuienisse van wonderwerke, in oorvloed, is daar vir almal om na te gaan.

Oral, in alle kontinente, onder alle lae van die samelewing, kom daar ooggetuie verslae van genesings en wonderwerke. Daar is eintlik te veel om op te noem.

Verklarings vir wonderwerke?

Hoe verklaar ‘n mens dan nou die wonderwerke? Is alles bo-natuurlik? Die kort antwoord is, nee. Natuurlik nie.

1. Uiteraard kan sommige wonderwerke verklaar word sonder dat daar noodwendig bo-natuurlike oorsake daarvoor is. Dit kan doodgewoon natuurlike, spontane oorsake wees wat daartoe aanleiding gee.

Onthou ook uit die NT gegewens dat Lukas as dokter saam met Paulus reis, en dat daar geen spanning tussen mediese ingrype en bo-natuurlike ingrype is nie. Paulus gee op tye doodgewone raad – wyn vir Timoteus se maag en sy herhaalde ongesteldhede (1 Tim. 5:23). En ander kere bid hy vir besondere ingrypes van die Here.

Onthou verder dat ons glo dat God dié wêreld gemaak het, en dat wat op ‘n natuurlike of spontane wyse gebeur nie van God se voorsiening vir en belang by ons lewe losgemaak kan word nie. Ons kan dit steeds as ‘n wonderwerk beskou as ons iets ervaar wat vir ons wonderlik is.

2. Wonderwerke is ook per definisie tydelik van aard. Genesing voorkom nie uiteindelik die dood nie. Dit verseker nie onbeperkte lewe nie. Selfs die opstanding uit die dood, waarvan daar weliswaar ook baie min getuienisse is, voorkom nie uiteindelik dat dié mense die uiteindelike dood vryspring nie. Op een of ander stadium moet ons almal die dood smaak. Net Jesus het ooit die finale opstanding uit die dood ervaar en lewe vir ewig.

Ons wag nog vir daardie finale opstanding. Ons weet immers dat elke persoon wat ‘n wonder in die NT ervaar het, uiteindelik êrens wel die dood moes deurgaan. Die verlamde man; Jaïrus se dogtertjie Talita, Lasarus, die weduwee se seun. Almal! En sedertdien is dit steeds die geval met almal wat deur die eeu genees is.

3. Wonderwerke kan ook psigosomatiese fenomene wees – emosionele of psigiese verligting kan wondere verrig in die liggaam van mense. Dit sluit ook die plasebo effek in. Wat jy glo, is wat jy ervaar – baie keer.

Dit beteken egter verseker ook nie dat ons daaroor negatief moet wees nie. Psigomatiese verligting of verbetering van watter toestand ook al, is wonderlik. Daaroor moet geen twyfel wees nie. Daarvoor hoef ‘n mens nie verskoning te vra nie!

4. En ‘n mens kan navorsing hieroor doen, probeer om die mediese verslae te bekom en te vergelyk (hoewel dit nie altyd so eenvoudig is om te doen nie, weens ‘n verskeidenheid van faktore, bv. vertroulikheid, en die moontlikheid van verkeerde diagnoses wat dokters in ‘n slegte lig sou kon stel, as dit gehandhaaf kan word), selfs videos probeer neem (en daar is ‘n paar waarna Keener in sy boek verwys, wat ‘n mens kan gebruik).

5. Uiteindelik bly daar ook die moontlikheid van ‘n bo-natuurlike ingrype in situasies as verklaring van wonderwerke. Ons kan dit nie a priori uitskakel nie. Die God waarin ons glo, dié God waarvan die Bybel praat, is ‘n God wat wonders gedoen het, dit deur die eeu gedoen het, en wat ons kan aanvaar, dit ook vandag doen.

Hoe dit ook al sy, wanneer ‘n mens ‘n wonder beleef, vra jy nie eintlik sulke vrae nie. Jy geniet dit doodgewoon! En laat niemand jou die vreugde, wat jy dink onverdiend of onverwags na jou kant toe gekom het, wegneem met hulle skeptisisme of sinisme nie!

Multi-kulturele en kruis-kulturele benadering voorkom etno-sentriese besware

Die derde ding wat ons moet hoor is dat ons wat vanuit ‘n Westerse paradigma leef en gevoed is deur die skeptisisme en sinisme van ons denkers, het mense nodig wat van ander tradisies af kom, mense wat nie so skepties en sinies is dat hulle voor die voet dinge afskiet, net omdat hulle dit nie ervaar het nie.

En ons kan baie leer van die verhale wat sosiale wetenskaplikes vir ons uit hulle navorsing vertel wat aantoon dat: “people from all cultures relate stories of spontaneous, miraculous cures.” (McClenon, Wondrous Events: Foundations of Religious Beliefs, 1994). Kruis-kulturele studies wil daarom suggereer dat die skeptisisme van sommige akademici eerder met hulle sosialisasie te make het as met hulle blootstelling aan wetenskaplike navorsing.

Keener stel in navolging daarvan ‘n multi-kulturele en kruis-kulturele benadering voor om die etno-sentriese besware teen wonderwerke, veral uit ‘n Westerse paradigma, die hoof te bied. David Hume het immers nie net sy eie Westerse kultuur verheerlik in sy perspektiewe nie, maar eksplisiet ander kulture as minderwaardig beskou: “I am apt to suspect the Negroes and in general all of the other species of men … to be naturally inferior to the whites.”

Dieselfde negatiewe sentimente kom by ander filosowe en wetenskaplikes uit die Verligting voor, bv. by die filosoof Immanuel Kant wat verklaar het: “that blacks had inferior mental capacities”. Baie akademici volg steeds vandag nog hulle vooroordele teenoor ander kulture na, en ‘n groter blootstelling aan perspektiewe uit ander kulture kan sulke naiëwe voorveronderstellings voorkom.

Verskeie Westerse antropoloë se bestaande vooroordele is deur ervarings in ander kulture verander. Jacob Loewen, bv., was met Bybelvertaling besig vir die Choco mense van Panama. Die vrou van sy gasheer, Aureliano, was in dié tyd egter sterwend aan longontsteking, want daar was geen medisyne beskikbaar vir haar in die onmiddelike omgewing nie. Loewen was terselfdertyd besig om Jakobus 5:14-15 se belofte oor genesing in Choco te vertaal, maar het ook geweet dat hy nie die geloof gehad het om dié gebed vir haar te bid nie.

Nieteenstaande het hy saam met ‘n paar gelowiges vir haar gebid, en sy het ‘n bietjie beter geword. Die volgende môre was sy egter weer sterwend. Plaaslike gelowiges het haar toe gesalf met olie, sonder om Loewen uit te nooi, vir haar gebid, en sy het volkome gesond opgestaan en haar normale huiswerk voorgesit.

Toe Aureliano baie opgewonde verklaar dat God se Gees die mindere geeste weggejaag het, het Loewen opgemerk dat hulle hom nie uitgenooi het om te bid nie. Aureliano het verskoning gevra, maar op sy beurt opgemerk: “It doesn’t work when you and David are in the circle. You and David don’t really believe.”

Loewen was ‘n toegewyde Christen, merk Wilson op, maar het gevind dat hy nie in staat was: “to transcend the secular assumptions and understandings of his particular birth society.” (Wilson, “Seeing” in Being Changed: The Anthropology of Extraordinary Experience, 1994).

En só kan ‘n mens aangaan.

God wil vir jou die beste gee

Die vierde en laaste ding wat ons moet hoor, is dat God ook vir jou die beste wil gee. Ons het gehoor in die verhaal van die verlamde man dat vergifnis die beste geskenk was. “Hou moed, kind, jou sondes word vergewe.” (Matt. 9:2).

Maar, dít sluit baie keer genesing in, óf ‘n sameloop van omstandighede wat jy as ‘n geskenk ervaar.

Ek wil jou uitnooi om die geleentheid te gebruik vir gebed en jou lewe aan die Here, met al jou behoeftes, hier en nou te gee en Hom te vertrou.

Matteus 9:1-8 – Hou moed kind, jou sondes is vergewe (oggenddiens)

View all posts in this series

Craig Keener, genesing, Mattteus 9, Miracles, Verlamde man, Wonderwerke

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.