Skip to main content

Vreugde in Verlies – Jesaja 61:1-11

Derde Sondag van Advent
Tema: Vreugde in Verlies – Jesaja 61:1-11
Somerstrand 13 Desember 2020 – Youtube 09:00

Verwelkoming

Baie welkom by ons Youtube erediens. Ek nooi jou uit om die Here te loof en prys, Hom te aanbid.

Ek steek vandag die derde Adventskrans aan. Dit simboliseer vreugde. Die herinnering aan die geboorte van Jesus wek inderdaad vreugde by ons.

Youtube

As jy hou van ons eredienste op Youtube is jy welkom om in te teken met die rooi subscribe knoppie.

Verjaarsdae

Wilna Ferreira en Magda Moore verjaar vandag. Baie geluk. Die lys van name wat hierdie week verjaar is op die skerm en op die webtuiste. Vier saam met hulle die vreugde van hulle verjaarsdae.

Siekes

Dit lyk ook asof dit relatief goed gaan met die siekes in ons gemeente. Ons is die Here baie dankbaar! En ons bly vir julle intree. Daar is egter ‘n hele paar gemeentelede wat familielede, pa’s of ma’s, broers of susters, en ook vriende verloor het. Ons bid vir julle. Ook in die breër gemeenskap is daar mense wat verliese ervaar het. Ons dink ook aan hulle.

Toetrede

Vonkk 97 – Christus lank verwag

Votum en seëngroet

Ons begin in die Naam van God, ons Vader, Jesus, ons Here, en die Heilige Gees, ons Trooster.

Jesus het aan die begin van sy bediening ons teks vir vandag uit Jesaja 61 aangehaal. Hierdie belofte van God is in Jesus vervul:

Die Gees van my Heer, die Here is op my … Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind … om die genadejaar van die Here aan te kondig … om almal wat rou, te troos.

Lofsang

Vonkk 245 – Hoor die blye tyding

Kindertyd

Oom Jannie en tannie Biffy het met drie van hulle kleinkinders die kers van vreugde aangesteek. Hulle dogter Margie het die video geneem. Oom Jannie is vir ons ‘n uitstekende voorbeeld van hoe só ‘n gesprek met kinders rondom die teks van die dag, Jesaja 61, moet verloop. En let op die vreugde wat die Adventskalender vir die kinders bring. Ek sluit ook ‘n kort videogreep in van die ander kleinkinders wat vir ons twee liedjies sing!

Gebed

Skriflesing en prediking

Ons moet vreugde herontdek

Ons het nodig om die vreugde van die evangelie soos hierdie kinders weer te herontdek. Om soos hulle aan die voete van ons Vader die boodskap van verlossing weer in te drink. Om weer bly te raak oor die gawes wat God ons gee soos hierdie kinders na die Adventsverrassings gesoek het in die tuin.

Want, as ons net gaan fokus op die uitdagings van hierdie jaar gaan ons 2021 met ‘n agterstand begin. As ons net gaan vassteek by die verliese van hierdie jaar, gaan ons die vreugdes wat God vir ons weggelê het, doodgewoon mis.

Dit is nie asof ek nie self intens bewus is van die verliese van hierdie jaar nie. In die gemeenskap. In die gemeente. Ook in my eie gesin. Niemand van ons is onaangeraak deur wat hierdie jaar vir ons gebring het nie.

Maar, en dit is die maar van hierdie teks. Dit is die maar van hierdie Advent. Daar is nie net verliese nie. Daar is ook vreugdes. En dit is die vreugdes wat ons die moed gaan gee vir die nuwe jaar wat kom. Wat ons die murg in ons pype gaan gee om die uitdagings die hoof te bied. Om ‘n verskil te maak in hierdie wêreld. Om boodskappers van blydskap te wees.

Soos die Dienskneg van die Here in Jesaja 61 dit is.

Die Dienskneg van die Here verkondig in Jesaja 61 die blye boodskap dat die dag van die Here naby is. ‘n Dag wanneer verliese in vreugde verander gaan word. Bekommernisse in blydskap.

Die blye boodskap van die Dienaar van die Here

61:1 Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is, 2 om die genadejaar van die Here aan te kondig, ons God se dag van wraak, om almal wat rou, te troos, 3 om te voorsien vir hulle wat oor Sion rou, om vir hulle tulbande te gee in plaas van stof, vreugde-olie in plaas van rou, klere vir lofprysing in plaas van ‘n verslae gees. Hulle sal genoem word: terebinte van geregtigheid, geplant deur die Here 4 Hulle sal die oeroue puinhope herbou, die verwoeste plekke van vroeër weer oprig, dorpe wat in puin lê, wat geslagte lank verwoes is, sal hulle nuut maak. 5 Vreemdes sal in julle diens wees en julle kleinvee laat wei, buitelanders sal julle plaaswerkers en julle wynbouers wees. 6 Maar julle, priesters van die Here sal julle genoem word. As dienaars van ons God sal daar na julle verwys word. Die rykdom van nasies sal julle geniet, en met hulle luister sal julle spog. 7 In plaas van julle skande word julle dubbeld vergoed. Ja, in plaas van vernedering sal hulle jubel oor hulle deel; daarom sal hulle ‘n dubbele deel in hulle land in besit neem. Daar sal vir hulle ewige vreugde wees.

Die beloning van God

8 “Ja, Ek, die Here, het regverdigheid lief; Ek haat roof, veral saam met onreg. “Ek sal hulle beloning aan hulle gee op grond van my trou; ‘n ewige verbond sal Ek met hulle sluit. 9 Hulle nageslag sal bekend wees onder die nasies, hulle nakomelinge onder die volke. Almal wat hulle sien, sal hulle herken – dat hulle die geslag is wat deur die Here geseën is.”

Die blydskap van die Dienaar van die Here

10 Ek verheug my grootliks in die Here; my hele wese juig oor my God. Want Hy het vir my klere van verlossing aangetrek, ‘n mantel van geregtigheid het Hy my omgehang, asof ek ‘n bruidegom is, soos ‘n priester met ‘n tulband, soos ‘n bruid met haar versierings. 11 Ja, soos die grond sy plante voortbring en ‘n tuin sy saailinge laat uitspruit, so sal my Heer, die Here geregtigheid en lof laat uitspruit voor al die nasies.

1. Die magteloosheid van ballingskap

Soos met al die profesieë in die tweede deel van Jesaja was hierdie boodskap bedoel in ‘n eerste rondte vir die ballinge in Babel. Ook vir die agtergeblewenes in Jerusalem.

Die ballinge het geweet hulle is magteloos. Op hulle eie kon hulle niks aan hulle situasie verander nie. Daarom was hulle harte gebroke oor hulle ballingskap. Oor hulle gevangeniskap in die vreemde.

Maar, hulle was ook hartseer oor die toestand van hulle land. Waar die onkruid oorgeneem het. Waar die wingerde en die olyfboorde verwaarloos is. Waar niemand meer ‘n snoeisker geneem het om groei te verseker nie. Waar die gras oor die puinhope van hulle huise gegroei het. Waar die ongediertes die skape en bokke wat hulle moes agterlaat, opgevreet het. Waar alles onherbergsaam geraak het.

En die mense in die land was werklik agtergeblewenes. Hulle was slawe in hulle eie land. Uitgelewer aan die Galdeërs. Met duur belastings. En geen hulp van staatskant af nie.

Kan jy jou indink in hulle situasie?

Jy het as balling nog die sleutels van jou huis, maar die deure is lankal nie meer daar nie. Want jy is nie daar om dinge reg te maak nie. Jy het nog kaart en transport van jou stukkie land. Maar, jy kan die lande nie meer omploeg om ‘n oes te verseker nie. Jy kan die boorde nie meer versorg nie. Want, jy is doodgewoon nie daar nie.

2. Die blye boodskap van die Dienaar van die Here

Dit is in hierdie situasie wat die boodskap van bevryding kom.

Die Dienskneg van die Here kom om die gebrokenes se harte te verbind. Hy kom om die ballinge te bevry. Meer nog. Hy gaan hulle help om die puinhope te herbou. Om die verwoeste plekke weer op te bou. Om die dorpe wat in puin lê weer nuut te maak.

Hulle sal nou vreemdes in diens neem, soos hulle in diens was van vreemdes in Babel. Hulle sal weer hulle eie kleinvee op hulle eie landerye laat wei. Die buitelanders sal hulle plaaswerkers en wynbouers wees. Hulle sal ‘n tyd van ekonomiese voorspoed beleef.

Trouens, hulle sal nie net ekonomiese herstel belewe nie. Hulle sal almal priesters van die Here genoem word. Die geestelike herstel sal die ekonomiese herstel oortref. Want, hulle almal sal priesters van die Here genoem word. Op die koop toe sal almal na hulle verwys as dienaars van “ons” God verwys. Dws, die vreemdes sal ook die Here aanbid. Die herstel sal selfs die mense uit die nasies insluit.

Die ballinge sal dus nie meer in die skande wees weens hulle sonde nie. Die agtergeblewenes in Jerusalem en Juda sal nie meer krepeer van ellende nie. Hulle almal sal vreugde beleef. Trouens, ‘n ewige vreugde. ‘n Vreugde wat vir altyd sal bly. Wat nooit weer verlore sal raak nie.

Een van die beelde waarmee Jesaja hierdie omkeer illustreer is waar hy sê: Hulle sal genoem word: “Terebinte van Geregtigheid!”

Wat bedoel Jesaja hiermee?

3. Terebinte van Geregtigheid

Ek sluit in die preek op ons webtuiste ‘n bietjie meer inligting in oor Terebinte, want dit is bome wat regdeur die OT gebruik word om die wel en wee van die Godsvolk te beskryf. Hier wil ek net fokus op die boom self en hoe Jesaja die boom as metafoor vir die herstel vir die volk inspan.

Terebinte is Siro-Palestynse bome wat rooi bessies dra. Dit word ongeveer 5 m hoog. Die blomme is rooipers en verskyn vroeg in die lente met die nuwe blare.

Dit is ‘n besondere boom. Bykans die hele boom word op verskillende maniere gebruik. Vier eienskappe staan uit van die boom.

1. Die vrugte is klein en druppelvormig, so 5–7 mm lank. Donkerrooi tot selfs swart wanneer dit ryp is.

  • Die vrugte word op Siprus gebruik vir die bak van ‘n spesiale brood.
  • Op Kreta word dit gebruik om die plaaslike brandewyn te geur.
  • Dit word ook as ‘n preserveermiddel in wyn gebruik.
  • Die Koerde maak selfs koffie van die geroosterde vrugte.
  • Nog ander maak ‘n seep van die olie daarin.

2. Die blare en bas het ‘n sterk harsagtige reuk, Daarom word dit soms die terpentynboom genoem.

  • Dit is in Griekeland vir hierdie aromatiese eienskappe gebruik.
  • Daar kan bv ‘n sagte soetgom van die bas geproduseer word.
  • Die nuwe lote word ook as groente gebruik.
  • Die bas is is ook vir sy medisinale eienskappe gebruik.

3. Die blare produseer boonop baie keer sulke druppels bitter gal. Die galle is gebruik om leer te looi.

4. Daarbenewens is dit boonop ‘n baie sterk en weerstandbiedende boom wat oorleef in dor gebiede waar ander spesies dit nie sal maak nie.

4. Betekenis

So, wat sê Jesaja met sy metafoor, julle sal “Terebinte van geregtigheid” genoem word?

Twee dinge staan uit.

1. Deur die Terebint as metafoor te gebruik, sê Jesaja dat die volk van God weer tot diens sal wees in hierdie wêreld. Hulle sal op verskillende wyses die Here in hierdie wêreld dien. Hulle sal gebruik word vir die preservering en genesing van hierdie wêreld – die medisinale en preserveringseienskappe wat met die boom geassosieer word. Maar, hulle sal ook genot en vreugde verskaf deur die voedselprodukte wat van die boom geproduseer kan word.

Dit pas in by die boodskap van hertel wat Jesaja verder in die profesie uitspel. Hulle sal ekonomies floreer en hulle sal geestelik aan die brand wees. Want, hulle almal sal priesters wees.

Hulle sal ook weerstand kan bied teen die omgewing. Want, dit is wat Terebinte by uitstek is. Droogtebestand. Die bome is juis bladwisselend sodat hulle droogtes kan oorleef.

Só sal die volk van God ook wees. Dit is God se geskenk aan hulle. Daar sal vir hulle ‘n ewige vreugde wees (vers 7), want Hy sluit met hulle ‘n ewige verbond (vers 8).

2. Maar, daar is meer. In die kombinasie van die Terebinte met die woord geregtigheid (ṣedeq) – hulle sal Terebinte van geregtigheid genoem word – sê Jesaja, julle sal bome wees wat doen wat hulle veronderstel is om te doen. Om vrugte te dra. Julle sal bome wees wat “reg” is. Bome wat “normaal” is. Bome wat “geskik” is. Bome wat “betroubaar” is. Want dit is wat die woord geregtigheid beteken.

Almal sal dus weet wat hulle aan die volk van God het. Hulle sal vrugte dra op hulle tyd. Niemand sal teleurgestel word in hulle nie.

Nou vir die tweede rondte betekenis.

5. Die blye boodskap van Advent

Wanneer Jesus in Nasaret die eerste keer optree in die sinagoge verklaar Hy: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul toe julle daarna geluister het.” (Luk 4:21 – 2020-vertaling; vgl Luk 7:22; Matt 11:5; Hand 10:38)

Jesus weet daar was ‘n eerste rondte vervulling in die tyd van Haggai en Sagaria in die tweede helfte van die sesde eeu vC. Toe die tempel herbou is en die Jode begin het om die stede en landerye te herbou. Hy weet dat Esra in die eerste helfte van die vyfde eeu vC die volk van God weer aan die wet verbind het. En dat Nehemia net daarna die mure van Jerusalem herbou het.

Maar, dit was nie al nie. Die vervulling in die terugkeer uit ballingskap was net die eerste vrugte van die vervulling.

Nou met sy geboorte, in die volheid van die tyd, het die volle genadejaar van God se herstel aangebreek. Die Jubeljaar van Jesus se geboorte.

Jesus se hele bediening het dit geïllustreer. Jesus het vrylating vir gevangenes ‘n werklikheid gemaak. Hy het blindes laat sien. Kreupeles laat loop. Hy het hongeres kos gegee. Hy het besetenes bevry. Hy het dooies opgewek. Hy het self uit die dood opgestaan.

Hy was ‘n Terebint van geregtigheid. Hy het beantwoord aan sy doel. Hy het vreugde gebring. Hy het genesing gebring.

6. Wat beteken dit vir ons vandag?

So, wat het Jesus se vervulling van Jesaja 61 vir ons vandag te sê?

Ons is soos Hy, Terebinte van Geregtigheid. Bome wat vreugde vir ons omgewing moet verskaf. Soos ons Hom begin navolg en doen wat Hy gedoen het, sal ons ongekende vreugde en opwinding beleef.

Hoe kan ons dit doen?

Ek wil twee stories met julle deel om ons verbeelding kan wakker maak om self te hoor waar die Here ons wil gebruik. Dit is twee stories uit Tim Dearborn se boek, Taste & See; Awakening Our Spiritual Senses.

1. Die eerste verhaal is van Grace. ’n Vrou in Tim Dearborn se eie gemeente in Seattle. Vir 40 jaar lank het Grace ’n bediening onder die straatmense van Seattle gehad. Op ‘n keer het hulle haar vra wat haar geheim is. Sy het só geantwoord:

“If you want to have ministry on the streets, then walk slowly and it will happen to you. If you want to avoid it, then walk fast.”

Die Here het jou met alle seëninge wat daar is in Christus Jesus geseën. Hy het jou ‘n bron van vreugde en genesing gemaak vir jou omgewing. Maar, dan moet jy stadig loop in hierdie lewe. Sodat jy kan raaksien. Sodat jy kan betrokke raak.

Die nood is rondom ons. Die verliese. Die verydeling. Die moedeloosheid. Waar ons stadiger begin loop, sal ons die nood raaksien. Sal ons kan uitreik. Sal ons vreugde kan verskaf.

Sal ons Terebinte van Geregtigheid wees. En self baie vreugdes ervaar. Dat ons aan ons doel beantwoord het.

2. Die tweede verhaal is dié van David. Tim Dearborn was een keer in Skotland. Hy het met ’n teologiese student David die Sondagoggend gery om ’n erediens te gaan hou in ’n plattelandse kerkie. David het ’n interessante agtergrond gehad. Hy het vroeër vir omtrent twintig jaar met skape gewerk. Hy het egter tot bekering gekom en toe in sy veertigerjare vir predikant gaan studeer.

Toe hulle êrens oor ’n heuwel ry, het die sonlig deurgebreek op ’n hele aantal skaap wat langs die pad wei. Skielik het David uitgeroep: “Tim, please stop.”

Tim het gestop. David vra toe dat Tim agteruitry tot by die veld waarby hulle so pas verbygery het. David het die deur oopgemaak en oor die pad gestap en oor ‘n klipmuur geklim. David het geloop tot die verste end van die veld. ’n  Skaap het daar gelê en spartel op sy rug. David het die skaap gehelp om op sy bene te kom en dié het vinnig weggehardloop.

Tim het gewonder hoekom dit nodig was. David verduidelik toe vir hom dat ’n ongeskeerde skaap so topswaar kan word dat as hulle omval hulle nie weer regop kan kom nie. Hulle kan versmoor as hulle op hulle rûe bly lê. As ’n mens hulle nie optel nie, sal hulle doodgaan.

David het die een skaap uit ’n honderd raakgesien wat in gevaar was. Hy het met die ervare oë van ’n skaapwagter gekyk. Daarsonder sou die skaap waarskynlik doodgegaan het.

7. Die Gees van die Here is op my … om die genadejaar van die Here aan te kondig

Oral om ons is daar mense wat swaarkry. Soms is dit weggesteek. Soms is dit baie duidelik.

Die Gees van die Here is ook op ons. Om die genadejaar van die Here aan te kondig.

Dit beteken dat ons met oop oë moet loop, veral stadig moet loop, sodat ons die nood raaksien, soos Grace met die straatmense van Seattle.

Dit beteken dat ons diep moet kyk, om mense op hulle voete te kan help, soos David met die skaap.

Die Here nooi ons dus in hierdie Advent tyd uit om stadig te loop en diep te kyk na die mense in die wêreld om ons. Hy nooi ons uit om betrokke te raak by hulle, by die mense wat God so lief het dat Hy vir Jesus gestuur het om vir hulle te leef, te sterf, op te staan en op te vaar sodat Hy deur ons nou 24/7 hier teenwoordig kan wees.

Dit is wat Terebinte van Geregtigheid doen. Wat Vreugde gee waar Verliese ervaar word.

Gehoorsaamheid hieraan sal vir ons die moed gee vir 2021. Sal ons die vreugde laat beleef dat God ons sy geskenke van herstel vir die mense rondom ons maak. Dit sal ook vir ons ‘n ewige vreugde wees.

Gebed

Dankoffers

Jy kan met Snapscan of EFT jou dankoffer inbetaal.

Boek

Onthou die boek wat ons gebruik: Jesus se geboorte en kinderverhale – volgens die vier Evangelies. Dit help jou om die storielyn van Jesus saam met jou kinders onder die knie te kry.

Kerkkantoor

Die kerkkantoor is nog hierdie week beskikbaar Dinsdag 09:00-12:00. Daarna sluit dit tot in Januarie.

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Slotlied

Lied 492 – In U is vreugde

Seën

En die gemeente sê:

Lied 189

Halleluja

 

Ekstra

  1. Terebinte as beeld van die wel en wee van die Godsvolk

Terebinte is bome wat verbind word met die wel en wee van die Godsvolk. Aan die een kant het die bome ‘n positiewe betekenis deurdat dit baie keer plekke van ontmoeting met God was. Aan die ander kant het die bome ook ‘n negatiewe betekenis deurdat dit baie keer plekke van afgodery en immoraliteit was.

  • Abraham het byvoorbeeld by die Terebinte van Mamre kamp opgeslaan in die land Kanaän (Gen 12:6, 13:18, 14:13 – sommige vertalings het akkerbome, maar dit is Terbinte waarna verwys word). Dit is dan ook die plek waar God vir Abraham kom ontmoet het, onder die Terebinte van Mamre (Gen 18:1).
  • Dit is by die Terebinte van Saänaim in die gebied van Naftali waar Jael se tent opgeslaan was en waar sy in die oorlog van Debora die tentpen deur koning Jabin se kop geslaan het om die oorlog vir Israel in die Rigtertyd te wen (Rigt 4:11).
  • Dit is by die Terebinte van Ofra in die gebied van Jisreël waaronder die engel van die Here gaan sit het toe Hy vir Gideon kom besoek het (Rigt 6:11). En ons weet uit die verhaal dat dit eintlik Jahwe self was.
  • Dit is by die Terebinte in die vallei Ela, die vallei van die Terebinte, waar Dawid vir Goliat oorwin het (1 Sam 17:2, 19).

Baie positiewe verbintenisse met die Terebinte in die land van Israel.

Maar dit is nie al nie.

  • Die Terebinte speel ook ‘n rol in die verhaal van Jakob. ‘n Negatiewe rol. Want, dit is by hierdie bome wat Jakob die afgode wat sy huismense met hulle saamgedra het, weggesteek het (Gen 35:4). En in plaas daarvan dat die afgode verbrand is, het hulle daar onder die Terebinte van Sigem ‘n verdere lewe gekry.
  • Dit is by die Terebinte van Sigem waar Abimelek, die seun van Gideon, tot koning gekroon word in die Rigterstyd. Dit wil voorkom asof daar ‘n heiligdom daar opgerig is waar dié afgode van Jakob nog ‘n rol gespeel het (Rigt 9:6). En Abimelek was ‘n gruwelike slegte koning wat al sy broers vermoor het, sewentig van hulle, met net een wat ontkom het.
  • Hosea, tydgenoot van Jesaja, veroordeel daarom die Israeliete wat onder die Terebinte aan valse afgode geoffer het (Hos 4:13).

En dit is hierdie dubbele betekenis van die Terebinte in die geskiedenis van Israel wat Jesaja gebruik om die blye boodskap te verkondig.

In Jesaja het die Terebinte ook twee betekenisse. Dit word as metafore gebruik vir afgodsdiens en immoraliteit. In hoofstuk 1 veroordeel Jesaja die volk se sondigheid en sê:

29 Ja, hulle sal beskaamd staan oor die terebintbome wat julle so begeer. Julle sal verleë wees oor die tuine waaroor julle so gaande is. 30 Ja, julle sal wees soos ‘n terebintboom waarvan die blare verwelk, soos ‘n tuin wat geen water kry nie. (Jes 1:29)

Hoekom? Want die Terebinte was die plek waar hulle afgodsdiens en immoraliteit bedrywe het.

5 julle wat brand van begeerte by die terebintbome, onder elke skaduryke boom, wat kinders slag in die spruite, onder oorhangende rotse? (Jes 57:5).

Maar nou, sê Jesaja in hoofstuk 61, sal julle Terebinte van geregtigheid genoem word. Julle sal nie meer bekend wees vir julle afgodediens en julle onsedelikheid nie. Julle sal Terebinte van geregtigheid (ṣedeq) genoem word.

Julle sal bome wees wat doen wat hulle veronderstel is om te doen, om vrugte te dra. Bome wat “reg” is, bome wat “normaal” is, bome wat “geskik” is, bome wat “betroubaar” is  Jy weet wat jy aan hulle het. Jy kan vrugte verwag van hulle. Jy sal nie teleurgestel word nie.

  1. Kort opmerkings oor die mantel van geregtigheid en die feit dat die Here regverdigheid lief het

In vers 10 word van ‘n Mantel van geregtigheid (ṣĕdāqâ) gepraat wat die Dienaar van die Here ontvang. Dit is ‘n mantel van eerlikheid, van opregtheid, van onberispelike gedrag, wat altyd regverdig is, wat beantwoord aan die standaard. Dit simboliseer onskuld, ‘n sondelose toestand.

In vers 8 sê die Here dat Hy regverdigheid (mišpāṭ) lief het. Dit beteken dat Hy lief is vir onpartydigheid, integriteit, billikheid, dinge wat volgens die reg van God geskied, volgens sy wet, volgens sy uitsprake, volgens sy wil.

 

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.