Skip to main content

Die gemeenskap van die Gees – Efesiërs 2:1-3:13

Ek fokus vandag op die vyf voorregte wat ons het in die gemeenskap van die Gees.

  1. God het uitnemende projekte vir ons voorberei.

Die-gemeenskap-van-die-GeesEk sluit eers aan by vers 10 se boodskap wat ek met ons toewyding gelees het.  Noudat ons van ons sondeskuld bevry is, en ons ons toelê daarop om in gehoorsaamheid aan God en sy Woord te leef, wag daar vir ons ‘n paar wonderlike dinge in die vrygemaakte lewe saam met God.

Die eerste voorreg wat ons het, is in vers 10. ’n Mens kan vers 10 ook as volg vertaal: “Want ons is sy meesterstuk, geskep in Christus Jesus vir uitnemende projekte, wat God voorberei het, dat ons dit sal uitvoer.”

Dit is ’n baie belangrike perspektief op die geestelike lewe.  Ons doen nie maar wat ons wil, of wat een of ander geestelike leier vir ons voorsê nie.  Ons hoor by God in Sy Woord en deur Sy Gees watter dinge Hy wil hê ons by betrokke moet raak – en dit is die dinge wat ons dan doen.  Dit is presies wat Jesus bedoel het, toe hy aan sy dissipels gesê het (in die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put van Jakob): “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh. 4:34).

Dit het direkte persoonlike implikasies.  God het vir my ‘n werk om te doen.  God het ‘n werk vir jou om te doen.  Uitnemende projekte.  Dinge wat pas by ons as God se meesterstukke.  Ravi Zacharias sê in sy inspirerende boek The Great Weaver dat God met ons besig is soos ‘n Meesterwewer.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS – Die gemeenskap van die Gees – Efesiërs 2The fellowship of the Spirit – Ephesians 2

Verwelkoming

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Lied 154:1 Kom nou tesaam, laat ons vergader – sit

Votum en Seëngroet

Lofprysing

Psalm 146:1,4,6 Prys die Here, loof en prys Hom – staan

Lied 411 Kom, almal, laat julle stem verrys! – staan

Toewyding

Ons lees dié teks wat ook deel was van ons leeswerk dié week in die kleingroepe.

Efesiërs 2:1-10

2 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Ons moet die kontras in dié gedeelte sien tussen die gees van die wêreld en die Gees van God.

  • Dié een lei ons om ongehoorsaam aan God te wees. Dit ander lei ons om aan sy Woord gehoorsaam te wees.
  • Die een lei ons om net te doen waartoe ons luste ons lei en wat in ons gedagtes opkom. Die ander lei ons om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
  • Die toekoms van dié wat die pad van die vors van die wêreld volg, is die ewige dood. Die toekoms van dié wat die pad van die Gees van God volg, is die ewige lewe.
  • Die een pad gee ons ‘n plek in die hel, die straf wat God gee aan dié wat aan Hom ongehoorsaam is. Die ander pad gee ons ‘n plek in die hemel, die genade wat God gee aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.

En ons maak dié keuse nie net eenmaal nie.  Ons maak dié keuse elke dag. Om óf ons luste en ons gedagtes te volg, soos die gees van die wêreld ons lei.  Of om die Woord van die Here te gehoorsaam, soos die Gees van die Here ons lei.

As ek met alles in my bid vir herlewing in ons gemeente en in dié land en wêreld, weet ek dat dit nooit sal kom sonder ‘n ware skuldbelydenis, ‘n afstand doen van ons luste en eie sondige gedagtes, en ‘n gehoorsaamheid aan wat God in sy Woord vir ons beveel nie.

Kom ons verootmoedig ons in stilte voor die Here en vra vir genade om sy pad te stap.

Kom ons sing van die feit dat Jesus leef, en ons met Hom!

Lied 415 Jesus leef, en ons met Hom! – sit

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Gebed

Skriflesing en prediking

Paulus kom aan die einde van sy tweede sendingreis, ongeveer in die jaar 51-52 n.C., in Efese aan en bly daar vir ‘n kort rukkie.  Efese was ‘n groot en belangrike stad in wat ons vandag ken as Turkye.  Vandag is daar net ruïnes oor van Efese, naby die moderne stad Selçuk.

Op sy derde sendingreis bly hy egter vir meer as twee jaar en doen ‘n deurslaggewende stuk werk in die jare 54-55 n.C.  In Handelinge 19 lees ons dat Paulus se werk in Efese begin met ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees.  Hy kry naamlik daar ‘n groepie van twaalf gelowiges wat nog nie die Heilige Gees ontvang het nie.  Nadat Paulus vir hulle gebid het, het dit ‘n kragtige uitwerking gehad nie net in Efese nie, maar regdeur daardie gebied.

Dit is asof hierdie twaalf gelowiges die begin van die Griekse Pinksterbeweging was (Hand. 19:1-10), soos die twaalf apostels aanvanklik die begin van die Joodse Pinksterbeweging was (Hand. 2).  Paulus het twee jaar lank in die saal van Tirannus die gelowiges geleer wat dit beteken om in die krag van die Gees die Here Jesus te volg, terwyl hy ook sy briewe aan die Korinte geskryf het.  Kragtig!

Die uitstorting van die Heilige Gees was dus die katalisator vir ‘n kragtige beweging van God sodat al die inwoners van die provinsie Asië (Turkye), Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het (Hand. 19:10).

Die beweging van die Heilige Gees het ‘n wye reeks wonderwerke ingesluit, maar ook ‘n grootskaalse oproer teen die evangelie ontlok.  Die bevestiging van die evangelie deur die wonderwerke (Hand. 19:11-20) sowel as die ontwrigting van die oproer in Efese deur die silwersmede wie se beeldjies nie meer so goed verkoop het nie, het egter albei daartoe bygedra dat die evangelie hand oor hand toegeneem het (Hand. 19:21-40).

Nadat Paulus ná twee jaar verder op sy sendingreis gegaan het na Masedonië, het hy ‘n draaipunt bereik, en begin met die reis terug na Jerusalem.  Op pad wou hy nog vir oulaas met die ouderlinge van die gemeente in Efese praat en reël dat hy hulle mekaar ontmoet in Milete, so 60 km van Efese aan die kus (Hand. 20).

Paulus rig daar aan die kus ’n roerende pleidooi tot hulle om die kudde van die Here op te pas.  Hy draai nie doekies om oor die lyding wat hulle sal verduur in die proses nie, dinge wat ook vir hom voorlê op sy pad, soos die Heilige Gees hom geruime tyd al op voorberei (Hand. 20:23).  Hy wil hê dat hulle vas sal staan in die evangelie soos hy dit aan hulle oorgedra het (vgl. sy oproep in Ef. 6 waar hy juis daarop terugkom).

Ons ken almal die verdere verloop van die verhaal, want in Jerusalem word Paulus gevange geneem en ná so ‘n bietjie meer as twee jaar word hy na Rome toe geneem as gevangene.  Dit is dus van hier af, waarskynlik in die vroeë sestigerjare van die eerste eeu n.C., terwyl hy in die tronk in Rome sit, wat Paulus hierdie brief aan die Efese skryf.

Hy fokus op leer en lewe – die teologie (hfst. 1-3) en die praktyk (hfst. 4-6) – en gee in die proses vir hulle ‘n helder prentjie van twee dinge:

  • Paulus gee vir hulle een van die helderste uiteensetting in die Nuwe Testament van wat ‘n gemeente van die Here Jesus Christus is, en hoe só ‘n gemeente moet funksioneer.  Dit is duidelik dat Paulus alles wat hy by die Here Jesus die afgelope meer as dertig jaar van sy lewe oor die gemeente geleer het (ek raak-raak aan die dertig jaar in dié gemeente!), en in die praktyk gesien het dat dit werk, aan hulle deurgee.  Hy gee dit aan hulle deur om hulle te motiveer om as gemeente te groei in volwassenheid, nie net ter wille van hulle self nie, maar sodat hierdie wêreld kan glo.
  • Paulus help hulle ook verstaan dat niks sonder die krag van die Heilige Gees gebeur nie.  In die proses gee hy nege baie duidelike beskrywings van die krag van die Heilige Gees in terme van: seëninge, waarborge, wysheid, gemeenskap (ons fokus vandag), krag, eenheid, nuwe lewe, vervulling, en gebed.

En dit is op hierdie twee dinge, die krag van die Heilige Gees aan die werk in die gemeente, waarop ons hierdie kwartaal gaan fokus in ons familiedienste en in ons kleingroepe.  Ons vat dit saam met die tema: Kragtig!

Ons droom dat ons dié kwartaal – en uiteindelik veral in ons eie Pinksterbidure – ‘n kragtige beweging van die Heilige Gees in ons gemeente sal ervaar.

Ons gaan Pinkster veral spandeer aan Die krag van Gebed, aan die hand van die sewe Sabbatspsalms. Daar is ook ‘n boekie beskikbaar vir Pinkster wat jy in die voorportaal kan neem (en ook op ons webtuiste: https://www.ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2016/04/Die-krag-van-gebed-sewe-Psalms-vir-Pinkster.pdf).

Dit was ‘n openbaring vir my toe ek agterkom dat dit onder andere dié Psalms is wat die dissipels gebid het in die week voor die Pinksteruitstorting in Jerusalem …

Efesiërs 2:11-22 – Die gemeenskap van die Gees

11Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 14Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. 15Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode, en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. 16Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. 17Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. 18Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

19Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.

Prediking

Ek fokus vandag op die vyf voorregte wat ons het in die gemeenskap van die Gees.

  1. God het uitnemende projekte vir ons voorberei.

Ek sluit eers aan by vers 10 se boodskap wat ek met ons toewyding gelees het.  Noudat ons van ons sondeskuld bevry is, en ons ons toelê daarop om in gehoorsaamheid aan God en sy Woord te leef, wag daar vir ons ‘n paar wonderlike dinge in die vrygemaakte lewe saam met God.

Die eerste voorreg wat ons het, is in vers 10. ’n Mens kan vers 10 ook as volg vertaal: “Want ons is sy meesterstuk, geskep in Christus Jesus vir uitnemende projekte, wat God voorberei het, dat ons dit sal uitvoer.”

Dit is ’n baie belangrike perspektief op die geestelike lewe.  Ons doen nie maar wat ons wil, of wat een of ander geestelike leier vir ons voorsê nie.  Ons hoor by God in Sy Woord en deur Sy Gees watter dinge Hy wil hê ons by betrokke moet raak – en dit is die dinge wat ons dan doen.  Dit is presies wat Jesus bedoel het, toe hy aan sy dissipels gesê het (in die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put van Jakob): “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh. 4:34).

Dit het direkte persoonlike implikasies.  God het vir my ‘n werk om te doen.  God het ‘n werk vir jou om te doen.  Uitnemende projekte.  Dinge wat pas by ons as God se meesterstukke.  Ravi Zacharias sê in sy inspirerende boek The Great Weaver dat God met ons besig is soos ‘n Meesterwewer.

Ek haal aan (ter wille van ons Engelse luisteraars):

Varanasi is perhaps most famous as the hub of Hinduism, since through it flows the sacred river Ganges. But it also has a deserved reputation for producing the spectacular and breathtaking saris that every bride in northern India wants to wear on her wedding day. Having attended numerous weddings while growing up in Delhi, I well recall admiring these magnificent works of art. The spectacular colors practically explode: reds that seem to be the source from which all other reds emerge; royal blues that look as though they reflect the oceans of the world; brilliant greens that appear to borrow from the finest emeralds and lend their softer side to all the well-manicured lawns of the world; and gold and silver threads that don’t just seem to be gold and silver because they are real gold and silver. All these colors get woven into patterns that one would think came from the perfect mind and the perfect pair of hands. I had always wanted to see how they were made. Who created them, and how did they do it?

Essentially, a father and son team makes each sari. The father sits on a raised platform with huge spools of brilliantly colored threads within his reach. The son sits on the floor in the lotus position (with apparent ease and comfort I can only envy —the first challenge would be to get into that position and the second to stand up afterwards). The team wears basic and simple clothing. Their fingers move nimbly, their hands never touching any softening lotion. They hunch over their work, and their eyes focus on the pattern emerging with each move of the shuttle.

Before my eyes, though it did not appear so at first, a grand design appears. The father gathers some threads in his hand, then nods, and the son moves the shuttle from one side to the other. A few more threads, another nod, and again the son responds by moving the shuttle.”

Throughout the process, the son has had a much easier task. Most likely he has often felt bored. Perhaps his back has ached or his legs have gone to sleep. Perhaps he has wished for some other calling in life —something he might find more stimulating or fulfilling. He has but one task, namely, to move the shuttle as directed by the father’s nod, hoping to learn to think like the father so that he can carry on the business at the appropriate time.

Yet the whole time, the design has remained in the mind of the father as he held the threads.

Once you begin to see God’s hand in your life, you will know that his workmanship within you and through you was tailor-made, just for you. His design for your life pulls together every thread of your existence into a magnificent work of art. Every thread matters and has a specific purpose.

Hoe pragtig!  Hoe waar!  Elkeen van ons.  Besig met God se uitnemende projekte, as sy meesterstukke.

  1. Die tweede voorreg wat ons het is om een nuwe mensheid in Christus te wees.

Die verlossing het geloofsgemeenskapsimplikasies.  Vir Paulus se tyd het dit beteken dat Joodse en heidense gelowiges saam een nuwe mensheid in Christus is.  En hulle moes hard werk daaraan om dié geestelike realiteit ‘n werklikheid te maak.  Dit het beteken hulle moes planne beraam om die Griekse weduwees op dieselfde manier te hanteer as die Hebreeuse weduwees.  Hulle moet besluit watter verpligtinge sal daar wees in terme van die wet van Moses vir gelowiges uit die heidene, en hulle het wyslik besluit dat die direkte bevele rondom afgodery en onsedelikheid, porneia, ‘n sambreelterm vir enige seks buite die huwelik, die kern is waaraan alle gelowiges hulle moet hou.

Vir ons beteken dit natuurlik dieselfde dinge, geen afgodery, geen onsedelikheid, maar ons het ook nuwe uitdagings rondom gelowiges uit alle tale en nasies wat nou deel moet uitmaak van die een nuwe mensheid wat God in Christus van ons maak.

Christus het die vyandskap wat tussen mensegroepe bestaan, afgebreek soos ’n mens ’n muur sou afbreek.  Daar is nou een nuwe mensheid wat nie net met God nie, maar ook met mekaar versoen is, en nou om vrede met God en mekaar kan (en natuurlik moet) lewe.

Daarom sluit ons alle mense in.  Dit is een van ons kernwaardes as gemeente.  Daarom vertaal ons sodat ons almal deel kan hê aan die samekoms van die gemeente.

En met watter doel is ons saamgesnoer?

  1. Ons het onbeperkte, onbelemmerde vrye toegang tot die Vader deur die werk van die Gees

Dit is die derde voorreg wat ons as kinders van God het.  Onbeperkte, onbelemmerde vrye toegang tot die Vader deur die werk van die een Gees.

Ek moet sê, dit is die gedagte wat my eintlik die meeste getref het hierdie week, en dié ding wat my inspireer vir Pinkster.  Daar is ‘n ongelooflike krag in gebed.  Net dié week het ek en my vrou vir ‘n spesifieke saak gebid, en is geïnspireer deur die Woord van God wat ons rus belowe het – my las is lig, my juk is sag.  En binne ure ná die gebed – waaroor ons al lank bid – is die gebed op ‘n heel wonderlike manier verhoor. Ek wens ek kan die detail deurgee, maar glo my, die Here het iemand geseën vir wie ons gebid het, dat die persoon nog steeds nie kan glo wat gebeur het nie.

God antwoord gebede.  Jy en ek het vrye toegang tot die Vader.  Dit is die werk van die Gees in ons.  Dit is een van sy belangrikste werke in ons.  Moenie dié voorreg versmaai nie.  Bid.  Vra.  Bely.  Aanbid.  Tree in die bres vir.  Die diepste ervaring van God se teenwoordigheid is in gebed te vinde.  Dit bring jou in kontak met die ewigheid.  Dit laat die plesiere en luste van hierdie lewe vervaag.  Soos daardie liedjie gaan: “Turn your eyes upon Jesus.  Look up in His wonderful face.  And the things of the earth will grow strangely dim.  In the light of His glory and grace.”

O, dat ons ‘n gemeenskap van gebed sal raak wat die krag van gebed sal ondersoek en beleef.  Dink net wat kan in jou lewe gebeur, en in dié van ander, en in ons sendelinge se lewe, en in die kerk se lewe!  Wat ‘n voorreg.  Wat ‘n uitdaging.  Wat ‘n kragtige wapen in ons hand.

  1. God woon in ons geloofsgemeenskap

Die vierde voorreg wat ons het, is dat God in hierdie gemeenskap van gelowiges woon. Kom ek herhaal dit.  God woon in hierdie gemeente.  God woon in hierdie gemeente.

Paulus gebruik 5 beskrywings van die gemeenskap van gelowiges om dié feit te onderstreep: 1) medeburgers, 2) huisgesin, 3) gebou, 4) tempel, 5) geestelike huis.  Die eerste twee beelde kom uit die samelewing uit: die politieke en nasionale sfeer, en die kleiner familie-kring.  Die laaste drie beelde kom uit die boubedryf uit, maar word duidelik geestelik bedoel.

En ‘n mens kan baie meer hieroor sê, maar wat my besonderlik tref, is dat Paulus hier skryf dat ons ’n plek word waar God woon.  Soos Hy vir ons ’n plek in Sy teenwoordigheid gegee het, so kry Hy ’n plek by ons, in ons teenwoordigheid.  Laat dié gedagte jou binnekant volmaak.  Ons is hier op heilige grond, soos Moses, soos by die braambos.  God is hier.  Hy woon hier tussen ons.  Hy woon in ons.

En weereens, dit is nie net ter wille van onsself nie, maar sodat Sy teenwoordigheid sigbaar kan word vir die wêreld (soos in hoofstuk 3 verder gemotiveer sal word).  Die kerk, as liggaam van Christus, is in ’n besondere sin nou die beeld van God, die imago Dei, soos die mens dit aanvanklik was (Gen. 1:26).

’n Kerklike gemeenskap wat nie hiervoor en hieruit leef nie, mis sy doel.  En hou op om God se plek te wees.

  1. Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus

Die laaste voorreg wat ons het, waaroor ek nie baie gaan uitbrei nie, is dat ons eenheid as gelowiges ‘n kragtige getuienis aan die mensdom is.  “Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus” soos hfst. 3:1-13 so pragtig sê.

Om die waarheid te sê, presies dít is Paulus se opdrag, om aan alle mense hierdie goeie nuus te bring, om die misterie aan almal bekend te maak, dat hulle in Christus Jesus in verhouding met God kan leef.  Maar daaroor meer op ‘n ander dag.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

Slotsang

Lied 435 Heil’ge Gees, U bou ‘n tempel – staan

Seën

Amen

Respons

Lied 189 Halleluja! – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.