Skip to main content

Paulus se sending – Handelinge 16

Dit is interessant hoe anders die Here werk as wat ons sou verwag met koerswysigings vir die kerk.  ‘n Mens sou verwag dat Hy sy mense sou bemagtig en die paaie vir hulle gelyk sou maak, genoeg geld voorsien, en alle teenstand voor hulle sal wegvee.

Maar dit is nie hoe God werk nie.  Dit leer ons teks ons net weer vandag.  Die kerk in Europa begin met ‘n baie ontwrigtende ervaring.  Paulus en sy mense wil in ‘n ander rigting as wat die Here wil, en ons teks sê vir ons, dat dit die Gees van Jesus is wat hulle planne ontwrig en hulle verhinder om hulle eie kop te volg, selfs al is hulle besig om die evangelie te verkondig.

Deur die gesig van die Masedoniese man (’n Griek wat, ironies genoeg, hulpeloos is) lei die Gees vir Paulus-hulle op die regte pad. En dit is ‘n baie belangrike lewensles wat ons telkens weer moet leer.  Die Here is nie afwesig in ontwrigtende gebeure nie.  Trouens, Hy is meesal daarbinne besig om sy wil uit te voer.  

Sola gratia

Verwelkoming

Jubelfees – dankie Louise Bam-Coetzee, Robert Blignault, Sarel Schoombee en hulle sel en al die tientalle helpers by die stalletjies, die tieners vir die boeresport en die spookhuis, die skenkings en die lekker saamkuier.  Dit was ’n fees en ons het groot bedrag ingesamel!

Gemeentekinders presteer: Mark en Marcel Muller is hoofseun en onder-hoofseun by Summerwood en Inge du Plessis onder-hoofdogter.  Thinus Loots is hoofseun by Pearson.  Ek weet nie van die uitslae by die ander skole nie.  Daar kan selfs meer wees.  Baie geluk!

Dankofferfees volgende Sondag: Ons bring ’n tiende van ons inkomste as offer van dankbaarheid aan die Here.  Dieselfde patroon as in die verlede – ons staan op en kom gooi ons dankoffer in die blou kis hier voor die kansel.

Kleingroepwerk: Ons lees die laaste deel van Paulus se lewe in Die Storie.  Ek gebruik net die aanhaling uit die tweede brief aan Timoteus.  Vir die dieper-delwers het ek ’n paar verhelderende opmerkings oor die brief uitgedruk wat julle óf alleen kan gebruik, óf saam met die kleingroepmateriaal.  Dit wys sommer ook wat ons doen in die Bybelskool.  Almal is te enige tyd welkom om dit by te woon, selfs al het jy nie voorberei nie.  Woensdae 18:00-19:00.  Laai dit hier af in Word formaat: 2 Timoteus (saamgestel uit my www.bybelskool.com materiaal)

Hervormingsondag – vyf sola’s belangrik.  Dit is die fundamentele vertrekpunte van ons Reformatoriese geloof. Dit bind alle Protestante saam, omdat die dié waarhede is wat in gedrang gekom het met die ontwikkelinge van daardie tyd in die Rooms-Katolieke kerk.

Sola beteken alleen of alleenlik:

  • Sola scriptura – deur die Skrif alleen
  • Sola fide – deur geloof alleen
  • Sola gratia – deur genade alleen
  • Solus Christus – deur Christus alleen
  • Soli Deo Gloria – aan God alleen die eer

Ek gaan dit in die liturgie gebruik en met die kinders spesifiek oor genade praat.

Toetrede

Cantatori: Hoe lieflik is U woninge – Chris Lamprecht

Votum en seëngroet

Solus Christus

Loflied

Lied 476:1-4 “’n Vaste Burg is onse God” – staan (Maarten Luther 1528 se Ein feste Burg ist unser Gott)

Verootmoediging

Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 1 (dit is vanjaar die 450ste verjaarsdag!):

Voorganger: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Gemeente: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

Sola fide

Apostoliese Geloofsbelydenis

Artikel 1: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;

Artikel 2: en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

Artikel 3: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;

Artikel 4: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel;

Artikel 5: wat op die derde dag opgestaan het uit die dood;

Artikel 6: opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

Artikel 7: vanwaar Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Artikel 8: Ek glo in die Heilige Gees;

Artikel 9: Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

Artikel 10: die vergewing van sondes;

Artikel 11: die opstanding van die liggaam

Artikel 12: en ’n ewige lewe.

Sola scriptura

Lied 255:1 en 2 “Woord van God, Woord van die lewe” – sit

Kindertyd

Lukas 18:9-14 – leesroosterteks vir vandag

Sê vir God Jammer oor jou Sonde

9–10 Jesus het gesien baie mense dink hulle saak met God is reg omdat hulle godsdienstige wette* nakom. Hierdie mense het op almal neergekyk wat nie hierdie wette* gehoorsaam nie. Jesus vertel toe ’n storie om te wys wat God hiervan dink: “Op ’n dag het twee mans na die tempel* in Jerusalem toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een was iemand wat belasting insamel. Hulle is tollenaars* genoem. Hulle het nie die godsdienstige wette* van die Jode gehoorsaam nie. Daarom is hulle as groot sondaars* beskou.

11–12 “Die Fariseër bid toe: ‘God, dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg nie, en ek het nie skelm verhoudings met ander vroue nie. Ek is ook nie ’n groot sondaar* soos hierdie tollenaar* wat langs my staan nie. Twee maal elke week kom ek die heel dag sonder kos klaar sodat ek kan bid. En ek gee ’n tiende van al die geld wat ek verdien aan U.’

13 “Die tollenaar* het daar eenkant gaan staan. Hy was so skaam oor al sy sondes* dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak en gesê: ‘God, ek is so ’n groot sondaar*. Help my, asseblief!’

14 “God het dadelik na die tollenaar* se gebed* geluister,” sê Jesus. “God het sy lewe nuut gemaak. Almal wat te veel van hulleself dink om vir God te vra om hulle te red*, sal baie spyt wees. Maar almal wat voor God buig, sal eendag ’n plek in die hemel kry.”

Orrel – 25 jaar oud (23 Oktober 1988 ingewy)

Lied 509 – Op berge en in dale – op orrel uitgevoer

Gebed

Skriflesing

Die PowerPoint agtergrond is ’n doopplek waarvan die water uit die Gangites rivier kom en dan weer terugvloei, soos ’n mens deur die bome kan sien.

Handelinge 16:6-40

Die gesig in Troas

6Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. 7Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie. 8Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan. 9Daar het Paulus in die nag in ’n gesig ’n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

10Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.

Lidia se bekering

11Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. 12Daarvandaan is ons na Filippi toe, ’n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n paar dae gebly.

13Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou ’n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. 15Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.”

En sy het ons oorreed om dit te doen.

In die tronk in Filippi

16Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons ’n slavin teëgekom in wie daar ’n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 17Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.”

18Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!”

Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.

19Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. 20Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. 21Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.”

22Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. 23Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. 24Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem.

25Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik kom daar ’n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. 27Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. 28Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”

29Toe het die bewaarder ’n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”

31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.

35Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense los.”

36Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!”

37Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.”

38Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers. 39Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat.

40Nadat hulle uit die tronk gekom het, is hulle na Lidia se huis toe, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het. Daarna het Paulus-hulle vertrek.

Inleiding

Dit is interessant hoe anders die Here werk as wat ons sou verwag met koerswysigings vir die kerk.  ‘n Mens sou verwag dat Hy sy mense sou bemagtig en die paaie vir hulle gelyk sou maak, genoeg geld voorsien, en alle teenstand voor hulle sal wegvee.

Maar dit is nie hoe God werk nie.  Dit leer ons teks ons net weer vandag.  Die kerk in Europa begin met ‘n baie ontwrigtende ervaring.  Paulus en sy mense wil in ‘n ander rigting as wat die Here wil, en ons teks sê vir ons, dat dit die Gees van Jesus is wat hulle planne ontwrig en hulle verhinder om hulle eie kop te volg, selfs al is hulle besig om die evangelie te verkondig.

Deur die gesig van die Masedoniese man (’n Griek wat, ironies genoeg, hulpeloos is) lei die Gees vir Paulus-hulle op die regte pad. En dit is ‘n baie belangrike lewensles wat ons telkens weer moet leer.  Die Here is nie afwesig in ontwrigtende gebeure nie.  Trouens, Hy is meesal daarbinne besig om sy wil uit te voer.

Só sien ons dit met die vervolging wat uitbreek in Jerusalem met Stefanus se dood.  Die kerk het gedreig om net ‘n Joodse beweging te bly, en die vervolging dwing die jong kerk om oor sy grense te beweeg.

Só sien ons dit met die sendingreise van Paulus.  Telkens wanneer daar teenstand is, of een of ander ontwrigtende gebeure, dan word ‘n nuwe beweging van die Here gebore.  Jy kan amper ’n weddenskap daarop plaas – as daar ontwrigting is, dan is iets diepgaande besig om te gebeur.

Die eerste Europeër wat glo, is ‘n vrou

En dit is darem net wonderlik, die hele Europese kerkgeskiedenis begin met ‘n eenvoudige verhaal van ‘n vrou, nogal ryk ook, wat langs ‘n rivier in Jesus begin glo.  Die Gees se ontwrigtende werk in Paulus-hulle se lewe, lei hulle direk na die vrou op die walle van die Gangites rivier in Filippi, Griekeland.  Ironies dat ‘n Masedoniese man Paulus in ‘n droom hierheen lok, en dat die eerste bekeerling ‘n vrou is!  Wys jou net hoe die evangelie nie langs die normale sosiale konvensies loop nie.

Dit wys ons hoe baie keer God ongewone mense gebruik in die verspreiding van die evangelie na nuwe gebiede.  In Afrika was dit ‘n Ethiopiese ontmande. In Europa was dit ‘n Grieks-Joodse vrou.  Dit is asof God sulke mense kies om van die begin af te wys dat HÝ agter die diversiteit in gemeentes staan en verandering bring van die periferie af om só ‘n sterk eenheid tussen diverse mense te smee.

Lidia nooi Paulus-hulle onmiddellik na haar huis, en so word haar huis die eerste huisgemeente in Europa, een van die mooiste gemeentes waarvan ons lees in die Nuwe Testament.  Daar is geen gemeente wat die apostel so hoog geroem het as dié van Filippi nie en geen gemeente van wie hy meer liefde ontvang het nie.

Ons lees regdeur die brief aan die Filippense hoe Paulus hierdie eerste Europese gemeente liefgehad het en dat hulle hom terug liefgehad het.  Geen wonder dat die brief so vol van vreugde en blydskap is nie, en daarby ‘n oproep is aan almal is om dié vreugde oral te versprei.

Soos met die proseliete-doop vir heidene wat die Joodse geloof aanneem, word Lidia se huismense (oikos) ingesluit toe sy gedoop word as een wat in Jesus glo.  Paulus mors dus nie tyd nie – wanneer jy met jou hele hart glo, is jy alreeds ‘n deel van die liggaam van Christus, en moet jy daarom gedoop word, jy en jou mense.  Geen kategese nie, net geloof in Christus.

‘n Slavin word bevry

Soos in alle vorige plekke waar die evangelie verkondig is, bly die teenstand egter nie uit nie.  Geen goeie ding gebeur immers ooit sonder dat die magte van die bose dit probeer dwarsboom nie!  Maar, ons weet nou al, soos die gebeure in Missië en Troas ons gewys het, die Here is in dit alles aan die werk, ook in die ontwrigting wat hulle getuienis ontketen in die stad.

Die slavin met ‘n waarsêergees is die eerste teenstand in Filippi.  Die woord wat gebruik word vir die waarsêergees, is puthon-gees.  Die Puthon was die mitologiese slang of draak wat die orakel of tempel van Delphi bewaar het en deur Apollo doodgemaak is.  Blykbaar het mense onder die invloed van dié gees met buikspraak gepraat, d.w.s. sonder dat hulle lippe beweeg het.

Maar, Paulus dryf, na ‘n paar dae, die gees uit haar uit, wat waarskynlik beteken dat sy die tweede lidmaat van die gemeente was.

Die eerste hindernis, die slawemeisie, demonstreer op geen onseker wyse nie, dat God sterker is as die magte van die duisternis.  Maar die oorlog het natuurlik nog net begin!

‘n Tronkbewaarder word gered

Met die konsternasie wat haar eienaars vir Paulus veroorsaak, want die slavin het nou nie meer geld ingebring nie, verskerp die teenstand, die tweede hindernis, en word hulle in die tronk gegooi.

Net om daar die derde lidmaat van die gemeente tot bekering te bring, die tronkbewaarder.  Hy en sy huisgesin (oikos) word ook gedoop en Paulus-hulle word in ‘n volgende huis gasvry ontvang.  Interessant dat die Romeine Brutus en Cassius juis in Filippi selfmoord pleeg, soos ons lees dat die bewaarder wou doen om sy eer te red.  Jesus red hom egter van homself en daarby ook sy huisgesin.

Die tweede hindernis, die stadsraad wat Paulus en Silas in die tronk gooi, word dus nie net oorkom deurdat die aardbewing die deure van die tronk oopforseer nie, maar die tronkbewaarder self kom tot bekering, hy en sy hele huis, en hulle word gedoop.

Die eerste gemeente in Europa word gestig

Aan die einde van die verhaal, sien ons dat hulle almal weer bymekaar kom in Lidia se huis.  En die grondslag vir die eerste gemeente is gelê.

Paulus sou hulle nog twee keer besoek (20:1 en 6) en uiteindelik die pragtige brief aan die Filippense skryf uit die tronk in Rome.  En hulle sou hom die meeste kere ondersteun van alle gemeentes wat Paulus ooit gestig het.  Die eerste lidmate van hierdie pragtige gemeente begin dus hulle lewe in die huis van Lidia en word die grootste ondersteunersgroep van Paulus in die res van sy bediening.

As jy oor grense beweeg, is jou lewe nie meer net in jou hande nie.

Andrew Walls, kruis-kulturele ekspert, sê kategories: “The fundamental missionary experience is to live on terms set by others.”

En ons moet dit baie goed besef.  Want dit kos jou iets.

Paulus is hier afhanklik van mense se gasvryheid.

Die goeie wat hy doen, is nie noodwendig goed in ander se oë nie, veral nie in die eienaars wie se inkomste hulle ontneem is deur die slawemeisie wat nie meer kon waarsê nie.

Die boodskap het ook onbeplande gevolge: die stadsbestuur laat hulle op sleeptou neem deur die eienaars van die slawemeisie en Paulus en Silas – dit lyk asof die ander twee te jonk was of nie prominent genoeg nie (Timoteus en Lukas) – beland in die tronk.

Die vrug op die evangelie kom dus deur konflik heen, deur baie teenstand, deur lyfstraf en met jou voete in houtblokke in die tronk.

Dit sal ook nooit anders wees vir ons nie – om die evangelie te lewe, is om dit te lewe op die terme wat ander mense stel.  En die konflik en hindernisse en lyding wat daarmee gepaard gaan, moet ons nie afskrik daarvan om die veilige grense van ons gemeentelike lewe te oorskry nie.

As jy oor grense beweeg met die evangelie, is jou lewe in God se hande.

Wat ons hoop gee om dit te doen, is dat dit gelukkig ook net so waar is, as jy oor grense beweeg met die evangelie, as jy sy leiding volg, is jou lewe en die uitkoms daarvan in God se hande.

  • Die onbeplande gevolge van die tronk word bv. deur God getroef deur ‘n aardbewing en die oopgaan van die tronkdeure en die vernederende verskoning-vra van die stadsbestuur.
  • En God skep met die skraal begin van ‘n paar vroue en ‘n tronkbewaarder een van die mooiste gemeentes van die antieke tyd.

Sonder dat jy jou voet oor ‘n ander se drumpel sit, en toelaat dat jou lewe ook deur daardie persoon se optredes bepaal word, goed of sleg, sal jy selde ervaar dat jou lewe en die lewe van ander mense in God se hande is nie.

As lyding en teenstand deel is van die evangeliese lewe, dan is dit net so waar dat grensoorskryding jou in die hande van God plaas wat in staat is om jou te bewaar en vrug te gee op jou boodskap en getuienis.

As jy oor grense beweeg met die evangelie, raak mense van anderkant die grense deel van die gemeente van God.

Wat egter seker die mees motiverende boodskap van dié gedeelte is, is dat grensoorskryding die groeipunt van die kerk is.  Die kerk groei net as die kerk oor sy grense beweeg en mense wat anderkant ons eie grense lewe, deel maak van die gemeente van die Here.

Ek wil dit sterk stel – net kerke wat dit regkry om grense te oorskryf, groei.  Kerke wat laer trek en eksklusief raak, hetsy in kultuur of taal of etnisiteit of watter ander gemene deler ook al, sterf op die langtermyn uit.

Die kerk is immers die fees van die vereniging van andersins onversoenbare entiteite.  Christus Jesus skep deur die evangelie ’n nuwe mensheid, ’n nuwe huisgesin van God, wat opgebou is uit diverse mense.

Dit sien ons helder in die gemeente in Filippi.  Hulle word van die begin af uit ‘n diverse groep mense saamgestel.  Die eerste drie gemeentelede (kom ons aanvaar dat die slawemeisie deel van die gemeente geword het) was baie verskillend:

  • ekonomies: ’n arm slawe-meisie, ’n middelklas tronkbewaarder en die ryk vrou Lidia;
  • gender: ‘n paar vroue en ‘n man;
  • generasies – Lidia en haar gesin, die tronkbewaarder en sy gesin;
  •  etnies: ten minste ‘n Romeinse burger en ‘n Griekse Jood en nog ‘n onbekende etnisiteit, die slawemeisie;
  • en polities: tronkbewaarder, Grieks-Joods vrou en slawe-meisie.

Dit moet ons laat kyk na ons bediening.  As ons te eenders lyk, skuif ons nie genoeg oor die grense nie, en ek bedoel nou ekonomies, sosiaal, ouderdom, polities ens.

Dit is waarom die vereniging met Klema só belangrik is vir ons, want ons word heel op generasie vlak, ons diversiteit neem toe.  En dit sál groei beteken, al sal dit verseker ook ontwrigtend wees.  Ons het natuurlik meer nodig, op kulturele vlak, op etnisiteitsvlak en nog meer.

Die droom wat God vir ons het, is dat ons inklusief sal wees, dat mense anderkant die grense van ons kultuur en gemaksones deel van ons sal word, dat ons in ons gasvryheid, diens en getuienis mense sal intrek en deel maak van die gemeente van God.

En meesal beteken dat ons na hulle toe moet uitreik, eerder as dat ons verwag dat hulle na ons toe moet kom.  Daaraan moet elkeen van ons werk.

Gebed

Soli Deo gloria

Dankoffers

Cantatori O verbly jou – Dimitri Bortnianski, ‘n Russiese Vespergesang, Afrikaans deur Ernst Kotzé en

Ons Vader neem ons hande, en maak ons een – Liedboek 532, F. Silcher, verwerking D. Hyman

Uitsending

Liedboek 488:1-5 “Helder skyn u lig vir die nasies” – staan

Seën

Respons

Lied 488 – laaste drie reëls

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.