Skip to main content

Jesaja 6 – Erediens: God heilig jou vir jou roeping – 30 Januarie 2011

Verwelkoming

God nooi ons uit en ons kom tot rus

In die TV-reeks Murphy Brown, vra Murphy in een episode haar personeel uit oor hulle gedagtes en gevoelens teenoor God.  Die een karakter, Jim, verduidelik dat hy ’n Presbiteriaan is en elke Sondag saam met sy vrou kerk toe gaan.  Hy het die volgende gesê: “I haven’t had any experience of God.  I go because it is obvious to me that the people who attend are experiencing God, and I am hoping that one day I will too.”

Die volk van God is geroep om ’n ontmoetingsplek met God te wees.   Dit is wat Jesaja 2 al op die tafel gesit het.  En dit is my gebed vir elkeen van ons in hierdie erediens.

Kom ons stel ons in om dié God te ontmoet, want Hy is hier en nooi ons uit om Hom te ontvang in ons lewe.

Votum

Seëngroet

Lofsang

  • Liedboek 158 Bring my na u woning Here – staan
  • Liedboek 190 Grote God, aan U die eer! – staan
  • Liedboek 342 O Jesus, ons Heer, U het ons verbly – sit

Verootmoediging

  • Liedboek 171 Heilig, heilig, heilig is die Heer – sit

Kindertyd

Kan julle die? Wat is dit?  Sjampoe. Waarvoor gebruik ’n mens dit?  Dit word gebruik om ons skoon te maak. ’n Mens voel altyd beter nadat jy gebad het.

Daar is sekere dinge wat ons doen – sonde – wat ons aan die binnekant vuil maak.  Wat kan ons doen om ons skoon te maak aan die binnekant?

Jesaja, die profeet, is een keer tempel toe.  En hy sien toe vir God.  En toe kom hy agter dat hy vuil voel.  En ’n engel het gekom en sy lippe aangeraak met ’n kooltjie vuur.  En wat gebeur toe?  Hy was weer skoon aan die binnekant.  God het hom vergewe.

Kan ons vandag nog kole gebruik om mense aan die binnekant skoon te maak?

Nee, ons kan skoon kom deur jammer te sê vir God.  Die Here sal ons ons sonde vergewe.  Hy neem die vuil gevoel in ons harte weg, beter as wat sjampoe kan doen.

Gebed

God praat met ons en ons luister

Skriflesing

Die volk van God is geroep om ’n ontmoetingsplek met God te wees.   Dit is wat Jesaja 2 al op die tafel gesit het.  Jesaja 6 vertel van só ’n ontmoeting in die tempel.  Dis vir hom ’n  God-oomblik waar sy lewe verander en geheilig word vir sy roeping!

  • Jesaja 6

Woordverkondiging

Dit is die jaar 740 v C.  Jesaja is nog jonk in die bediening.

Dan sterf sy oom Ussia, ’n baie suksesvolle koning wat ’n baie lang regeringstyd gehad het.

Maar Ussia het ook voete van klei gehad.  Hy neem op ’n keer op arrogante wyse – soos Saul lank tevore (1 Sam 13) – priesterlike verpligtinge op homself (2 Kon 15; 2 Kron 26) en word met melaatsheid gestraf.  Sy jong seun Jotam volg hom op, maar kom nie die mas op nie, en sterf baie jonk.

In die sterfjaar van Ussia, val die mantel op sy kleinseun Agas, terwyl daar groot internasionale bedreiginge is.  Peka van die buurvolk Israel, en Resin van die Arameërs probeer Juda oorreed om teen Assirië, die wêreldmoondheid, ’n alliansie te sluit.  Alles is in flux en ’n bietjie in chaos.

En dan gebeur daar iets dramaties met Jesaja.

Hy sien vir God op ’n baie hoë troon sit met sy soom wat die tempel vul.  Dit is duidelik dat God groter is as die tempel.  Hy is omring met serafs, wie se taak dit is om Hom te dien en wat Sy grootheid besing met die woorde: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige”.

Die serafs roep verder uit dat hierdie grote God ook op die aarde werksaam is – trouens die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid.  Letterlik sê hulle dat God se gewig soos ‘n kleed oor die aarde lê. Met ander woorde:  God kan nie geïgnoreer word nie – Hy rus op die hele aarde en op elke persoon – en Hy is te swaar om af te gooi.

En met die deure van die tempel wat in hulle kosyne rammel, krimp Jesaja ineen.  Hy raak intens bewus van sy onreinheid.  “Dit is klaar met my.  Ek is verlore!” roep hy uit.

Om dan die wonder te beleef dat hy nie veroordeel word nie, maar gereinig.  ’n Seraf vlieg na hom met ’n gloeiende kool – simbolies van die reinigende en vergewende krag van God – raak Jesaja  aan en verander hom. Sy sonde word versoen en sy oortredinge vergewe.

Dis dan dat Jesaja ’n werksaanbod kry om as boodskapper vir God op te tree (vers 8).  God soek ’n gewillige boodskapper.  Jesaja aanvaar die roeping.  Hy is een van die min vrywilligers in die ganse gestuurde korps.  Al die ander – bv. Moses, Jeremia, Gideon en Esegiël – was teensinnig opgeroep vir diensplig in God se koninkryk.

Eers na sy antwoord besef Jesaja hoe moeilik sy werk as profeet gaan wees – hy moet die totale ondergang van die volk gaan verkondig.  Hulle land sou ’n puinhoop word danksy die oordeel van God (vers 11).  Alles sou tot niet gaan.  Hy sou lynreg teenoor die heersende koning,sy nefie,  standpunt moes inneem.

En net om sy werk nóg ’n bietjie moeiliker te maak, sou God sorg dat die volk niks verstaan of glo van Jesaja se woorde nie (vers 9-10)!  Letterlik gaan hulle harte vet word en hulle ore swaar.  Wie se hart vet is, kan nie reageer op God se Woord nie.  Jesaja kan maar weet hulle gaan hulle nie bekeer nie!  Sy werk as profeet is eerder om hulle verward te laat.

Wat sê die gedeelte vir ons?

Een – God is in beheer

God is in beheer, selfs as alles anders in duie stort.  Dit is na alles nie Ussia se dood wat die toekoms bepaal nie, maar God se teenwoordigheid.  Dit is nie Agas se planne om Assirië te paai wat die deurslag gaan gee nie, maar die vertroue op God wie se gewig oor die hele aarde rus.

Twee – God is heilig

Baie mense werk met die idee, dat hierdie God geen eise stel nie, dat Hy die vriendelike aanvarende goedige kondukteur omie is wat vir ons ‘n kaartjie hemel toe gee en sal sorg dat ons die trein nie verpas nie. Sommige dink dat God ook so teenoor die nasies en hulle gode is.  Alle paaie lei mos na Rome? – ek bedoel die hemel!

Jesaja se oordeelswoorde deurbreek egter só ‘n idee.  God wil mense ontmoet, maar Hy is ook heilig.  Meer nog, Hy duld nie onheiligheid nie.  Hy is ook rein.  Daarom duld Hy nie onreinheid nie.  En dit geld alle mense op die aarde …

Drie – God heilig jou vir jou roeping

Wat ons mooi moet verstaan van die Heiligheid van God is dat dit nie net ’n weggesteekte verborge iets is nie; iets wat jy daarom kan probeer vermy en ignoreer nie.  Die woord wat die Bybel hier gebruik vir heiligheid het nie net die betekenis van afsondering nie, maar kan ook die betekenis hê van ’n suiwering, iets wat met ’n verblindende lig skyn en dinge en mense verander.

God se Heiligheid doen iets aan ons.  Dié God heilig ons.  Dit is die betekenis van die seraf wat met die kool vuur vir Jesaja reinig.   En baie spesifiek word ons geheilig vir die taak wat God vir ons het.

Vir dié wat dit omhels en God toelaat om hulle aan te raak, maak dit dat ons ook begin skyn!  Dit is immers sulke mense wat God begerig is om te stuur, al beteken dit dat die boodskap swaar op ore gaan val, en selfs min positiewe resultate gaan bring.  Hy heilig ons vir ons roeping!

Vier – God stuur

Geen wonder dat Jesaja amper van angstigheid oor sy voete val om gestuur te word!  Dit wil immers voorkom asof God die vraag vra aan die serafs – Wie sal ons stuur? – en dat Jesaja as’t ware inchip en sê, hier is ek.  Dit is die teologie wat ons moet aangryp.  “ Ek sal gaan, Here. Hier is ek. Stuur my!”

En dié roeping is baie spesifiek.

Tony Campolo vertel die storie van Nancy wat ’n baie spesifieke roeping gehad het.  Hoewel sy gestremd en gekluister was aan ’n rolstoel , het sy ’n uitsonderlike bediening gehad.  Elke week het sy ’n advertensie in die plaaslike koerant geplaas: “If you are lonely or have a problem, call me. I am in a wheelchair and I seldom get out. We can share our problems with each other. I’d love to talk.”

Nancy spandeer ’n groot deel van haar dag op die telefoon en praat met meer as 30 eensame en moedelose mense wat haar elke week bel.  Tony was geïnteresseerd hoe sy in ’n rolstoel beland het.  Sy vertel toe dat sy selfmoord probeer pleeg het deur van die balkon van haar woonstel af te spring.  Sy het egter in die hospitaal beland, verlam in haar onderlyf.

Een nag, sê sy, het Jesus na haar gekom en baie helder vir haar gesê: “You have had a healthy body and a crippled soul. From this day on you will have a crippled body, but you will have a healthy soul.”

Sy het haar lewe net daar aan Hom gegee en net geweet dat as sy ’n gesonde siel wil behou, moet sy ander mense help.  En dit is wat sy gedoen het en doen!

Niemand wat deur God aangeraak is, kan stilbly nie.  Al reaksie is:  “Hier is ek, stuur vir my!”  Sulke oomblikke is God-oomblikke, in sulke oomblikke gebeur ‘aanbidding!

Vyf – God verteer dié wat sy roeping weerstaan

Vir dié wat sy roeping weerstaan en God uit hulle lewens wegdruk, is God se heiligheid ‘n vuur wat verbrand en vernietig, tot net ‘n stomp oorbly.  Dit is wat met Israel gebeur het.  Hulle moes ’n pelgrimsplek vir die nasies gewees het.  Mense moes God daar by hulle kon kom ontmoet het.  Maar hulle wou nie.  Telkens het hulle God se bedoeling in die wind geslaan, en nie na Hom geluister nie, nie sy wil gedoen of nagekom nie.

En laat ons eerlik wees met mekaar.  God duld nie onaktiewe gelowiges nie, mense wat nee sê vir sy roeping nie.  In sy oë is hulle slegter as die ongelowiges.  In die brief aan die gemeente in Laodisea sê Hy, Hy spoeg sulke mense uit sy mond uit (die 7de brief aan ’n gemeente in Open 3:14-22).

God gee om vir geknakte riete, mense wat sukkel om te oorleef, maar dié wat hulle rug op Hom draai en sy wil dwarsboom, kry met sy volle mag te doene.  Hy bring ’n onafwendbare oordeel oor hulle.

Dit bly maar swaar vir ons om dit te hoor.  Ons wil nie graag werk met die idee dat God oordeel nie.  Nog minder met die idee dat God ‘n boodskap kan bring, en dan sorg dat die mense dit nie kan hoor nie!

Kan God dit doen?  Mense verblind en laat stol in hulle sonde?  Ja … vra maar vir Farao (Eks 9).

Ek dink wat ons kan help om dit te verstaan, is dat hierdie boodskap reeds deel is van God se oordeelsboodskap.  Dit is nie ‘n uitnodiging tot bekering nie.  Dit kondig die oordeel oor mense aan wat lankal nie meer luister nie, al het hulle hoeveel kanse gehad om dit te doen.

Terloops, Jesus haal die verse in die NT (Mark 4:10-12 en Matt 13:14-15) aan om op dieselfde wyse sy doel met gelykenisse, en meer spesifiek die gelykenis van die Saaier, te verduidelik!  En ook Paulus verwys na dié profesie as hy verduidelik hoekom die evangelie na die heidennasies uitgebrei is, omdat die Jode nie wou luister nie (Hand 28:26-27).

Daar  kom dus ‘n tyd dat jy nie meer God se aanbod om bekering kan aanvaar nie.  En God stuur ook mense om dit te gaan sê!  En hy neem sy boodskap van bekering dan na ander …

Dit torring aan ons heersende idee van God, dat Hy altyd goed is, altyd vergewe, altyd weer ‘n kans gee … en aan wat ons moet sê as ons God se opdrag uitvoer …  Daar kom ’n tyd wat omkeer nie meer moontlik is nie.

Ses – God laat ’n oorblyfsel bly

Hierdie verterende boodskap is egter nie die laaste sê oor God en sy betrokkenheid in die wêreld nie.  Gelukkig nie!  God laat ’n oorblyfsel bly.

Op die vraag van Jesaja, “Tot wanneer” antwoord die Here, “tot alles verwoes is” … maar vervolg met ‘n boodskap van hoop, dat na die verwoesting, daar ‘n afgekapte stomp sal oorbly, die gelowiges wat nie moed opgegee het nie, die gewyde geslag, die geslag van die mense van God.

Hoofstuk 11 kom terug hierna en praat van die takkie wat sal uitspruit uit dié stomp, wat jare hierna op Jesus van toepassing gemaak sou word.  Daar is hoop – en dié hoop is in Jesus.

Ek sluit af

In die laaste toneel van die fliek A walk in the clouds, net nadat die wingerd afgebrand het, en almal dink dit is klaar met hulle, hardloop die hoofkarakter, Paul (gespeel deur Keanu Reeves), om ‘n stukkie van die wingerd te gaan haal wat nog lewe – ‘n brandende stomp wat oorgebly het.  Daarmee bring hy weer hoop vir ‘n nuwe begin.

Geen wonder dat Jesaja se naam is: die Here is Verlossing.  Daarin lê die hoop, al is dit ook iets wat groei uit ‘n afgesnyde stomp.

Gebed

God stuur ons om te leef

Dankoffers

Slotsang

  • Liedboek 524 God roep ons om met woord en daad – staan

Seën

Amen

  • Liedboek 314
View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.