Skip to main content

Geloof in die spervuur – Daniël 3

 

Somerstrand Youtube Pulse 18:00 6 Oktober 2020

Bibleflix

Ons is besig met Bibleflix. Ons fokus op die wonderlike verhale en intriges in die Bybel. Verhale van mense wat besondere goed doen. Mense wat ons leer hoe om ‘n pad met God te stap. Ons leer by hulle hoe ons self verskillende situasies kan hanteer. Want al hierdie verhale is voorbeelde vir ons.

Daniël en sy drie vriende

Vandag fokus ons op Daniël se drie vriende. Hulle het as tieners die oorlog in Jerusalem eerstehands ervaar. Hongersnood. Geweld. Toe gebeur die ergste. Hulle word uit hulle land ontvoer. Na die vreemde stad van Babel. (Foto van vuur)

Nebukadnesar wil hulle verander

En omdat hulle uitblinkers was, het koning Nebukadnesar hulle uitgesonder. Hy wou van hulle goeie burgers van sy land maak. Hy wou hulle verander om soos die mense van Babel te glo, dink, doen en leef.

Dit is mos wat met ons ook gebeur in hierdie wêreld. Ons word konstant uitgedaag om in te pas. Om ons Christelike waardes te verlaat. Om die wêreldse standaarde te aanvaar. Om te doen soos die wêreld doen. Eerder as om aan God gehoorsaam te wees.

Die uitdaging van taal

Daniël-hulle moes ‘n nuwe taal aanleer. Aramees in plaas van Hebreeus. Nou, dit was darem soos Nederlands teenoor Afrikaans. Nie só moeilik nie. Maar, steeds.

Die uitdaging van identiteit

Wat erger was, is dat hulle name verander is. In plaas daarvan dat hulle name hulle aan God herinner, moes hulle name hulle nou aan die Babiloniese gode herinner.

Daniël en sy drie vriende het immers betekenisvolle Hebreeuse name van hulle ouers gekry wat hulle aan God verbind het:

  • Daniël – “God is my regter”;
  • Gananja – “Jah(wê) is genadig”;
  • Misael – “Wie is soos God?”;
  • Asarja – “Jah(wê) het gehelp”.

Dit is egter deur Aspenas, die hoofpaleisbeampte, verander om Babiloniese gode te reflekteer:

  • BeltsasarBel (hoofgod Marduk) is my beskermer”;
  • Sadrag – “Bevel van Shudur Aku (maangod)”;
  • Mesag – “Wie is soos Aku? (waarskynlik verkorte vorm van die maangod Mi-sha-aku)”;
  • Abednego – “Dienskneg van Nergo (verkorte vorm van Nergal, ‘n ander een van die talle Babiloniese gode)”.

Dit het hulle identiteit aangeraak. Hulle name het iets van God gesê. Nou sou dit iets van ander gode sê.

Die interessante is dat Daniël-hulle nie teëgestribbel het hieroor nie. Wat mense van buite af aan hulle doen, wat ander hulle noem, kon hulle eintlik nie skeel nie. Hulle het mos geweet dat hulle aan God behoort.

Die uitdaging van godsdiens

Maar, Nebukadnesar was nog nie klaar met hulle nie. Hy het besluit hulle moet net eet en drink wat daar in Babel vir hulle voorgesit word. En dit was ‘n baie groter probleem vir Daniël hulle.

Hulle moes nou vleis eet wat aan afgode geoffer is. Hulle moes wyn drink, heel moontlik, uit die goue voorwerpe uit die tempel van hulle God.  Want dié heilige voorwerpe was saam met hulle uit Jerusalem weggevoer. So, as hulle afgodsvleis eet, raak dit hulle getuienis in Babel. As hulle wyn drink uit die tempelbekers, dan het hulle God se Naam ontheilig.

En dit sou hulle nooit kon doen nie.

Daniël het egter ‘n slim plan gemaak. Hy het op ‘n baie deursigtige manier ‘n voorstel gemaak. Hy het vir Aspenas, die man wat oor hulle aangestel is, gevra of hulle nie liewer net groente kan eet nie. Net vir tien dae. Aspenas kan dan kyk na tien dae of hulle dieet werk. En as dit nie werk nie, dan sou hulle inval met die planne van die koning.

En die Here het hulle gehelp. Hulle het beter gedoen op die groente-dieet as enige van die ander wat van die beste van Babel geëet en gedrink het. Dit het op ‘n getuienis van God se goeie bedoelings met hulle dieet uitgeloop.

Daarom dat soveel mense vandag nog die Daniël vas hou. Dit werk hoor!

En hierdie uitdagings van die wêreld in Babel is nog maar net die verhale in hoofstuk 1!

Die uitdaging van gebed

In hoofstuk 2 lees ons dat die koning ‘n droom gehad het. Maar hy wou vir niemand sê wat hy gedroom het nie. Hulle moes vir hom die droom en die uitleg gee. Anders maak hy al sy wyse manne dood.

Dít is nogal moeilik, sou ek sê. Eintlik onmoontlik. Dink ‘n bietjie as dit met jou sou gebeur! Wat sou jy gedoen het? Hof toe gegaan het. Die koning is darem baie onregverdig! Maar, hy is ook die regter in dié saak. Jou kop sou eenvoudig gewaai het.

Maar, Daniël het nie vir die koning en sy onregverdige versoek geskrik nie. Hy het eenvoudig tot die Here gebid. Die Here het vir Daniël die droom vertel. En die uitleg. Gaan lees gerus verder wat alles daar gebeur het.

Die einde van die verhaal is dat al die wyse manne van Nebukadnesar gespaar is van die dood. Daniël-hulle ook.

Die uitdaging van geloof

Toe kom die volgende uitdaging daar in die vreemde. Daniël en sy drie vriende het die toets rondom die taal, en hulle name, en hulle dieet en hulle kennis van God se wil geslaag. Nebukadnesar besluit toe hy is groter as God en hy gaan almal dwing om hom te aanbid.

Ons lees in hoofstuk 3 (Afrikaanse Bybel vir Almal – ABA):

“Koning Nebukadnesar het ‘n beeld gemaak. Die beeld was van goud, en dit was 60 el hoog en ses el breed. Hy het die beeld regop laat staan in die Dura-vallei in die land Babel. Toe laat roep koning Nebukadnesar al die belangrike amptenare in die land om daar te wees wanneer hulle die beeld wy wat koning Nebukadnesar regop laat staan het. Al die belangrike amptenare in die land het toe gekom om daar te wees wanneer hulle die beeld wy. Hulle het kom staan voor die beeld wat die koning gemaak het.

Nebukadnesar was baie besorgd oor sy status. Hy was bekommerd dat sy koningskap tot ‘n einde kan kom. Dit is immers wat die droom en sy uitleg deur Daniël vir hom gesê het. Daarom maak hy hierdie beeld om sy grootheid te vier. Sodat almal hom kan aanbid.

Toe het een van die koning se amptenare baie hard gepraat en gesê: “Julle almal wat uit baie lande kom en baie verskillende tale praat, julle moet luister na wat die koning sê: Wanneer julle musiek hoor, dan moet julle buig voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar gemaak het. Julle moet voor die beeld buig soos ‘n mens voor ‘n god buig. My manne sal elkeen wat nie buig nie, dadelik in ‘n groot vuur gooi.”

Let op hoe een van die amptenare hierdie voorstel maak. Hulle was uiteraard jaloers op Daniël en sy drie vriende. Selfs al het Daniël-hulle sy bas gered in die vorige hoofstuk, kan hy hulle nie vergewe dat hulle ‘n direkte lyn na God het nie. Vandaar hierdie voorstel dat almal voor Nebukadnesar moet buig soos ‘n mens voor ‘n god buit. ‘n Bedekte aanval op die vier Joodse manne.

Daarom het al die mense dit gedoen, al die mense wat uit baie lande kom en wat baie verskillende tale praat. Elke maal wanneer hulle musiek hoor, het hulle gebuig voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar gemaak het.

Let op hoe hulle eers stil bly oor Daniël en sy drie vriende. Dat almal eers gewoond raak om Nebukadnesar te aanbid. Maar hulle het ‘n slinkse strategie.

Maar eendag het party van die slim mense by die koning gekom en gekla oor die mense wat van Juda gekom het. Die slim mense het vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons hoop die koning sal lank lewe! Jy, Koning, het gesê almal moet voor die goue beeld buig wanneer hulle musiek hoor, en jou manne sal almal wat nie buig nie, in ‘n groot vuur gooi.

Let op hoe hulle lieg, want Nebukadnesar het nooit dit gesê nie. Nie dat hy teëgestribbel het nie. Maar, dit was die voorstel van die slim mense dat almal voor die beeld moet buig. En toe kom die dodelike pyl:

Maar daar is manne van Juda, hulle doen nie wat jy gesê het nie. Hulle name is Sadrag, Mesag en Abed-Nego. Hulle is die manne wat jy gekies het om te help regeer oor die land Babel. Hulle dien nie jou god nie, hulle buig nie voor die beeld wat jy gemaak het nie.”

Koning Nebukadnesar het egter geval vir die misleiding:

Koning Nebukadnesar het baie kwaad geword. Hy het gesê sy soldate moet vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego bring. Toe hulle voor koning Nebukadnesar staan, sê hy vir hulle: “Sadrag, Mesag en Abed-Nego, is dit waar dat julle nie my god wil dien nie? Is dit waar dat julle nie wil buig voor die beeld wat ek gemaak het nie?

Let op hoe hy self begin dink dat hy ‘n god is. Hy sê toe:

Nou, wanneer julle musiek hoor en julle buig voor die goue beeld wat ek gemaak het, dan sal dit goed wees. Maar as julle nie buig nie, dan sal my manne julle dadelik in die groot vuur gooi. Ek sal dit met julle doen. Daar is nie ‘n god wat my kan stop nie.”

Dit is darem ‘n geweldige uitdaging. Die taal-storie en hulle naamsverandering was al erg. Die aanslag op hulle godsdiens was gevaarlik. Maar, hier word hulle geloof nou op die spel geplaas. Gaan hulle die Here alleen aanbid? Of gaan hulle doen wat die koning sê? Hulle lewe is nou op die spel.

En dit is waar hulle geloof op sy helderste skyn. Hulle het niks gesê oor die name nie. Hulle het onderhandel oor die kos en wyn. Hulle het die Here vertrou in gebed. Maar, hier moet hulle alleen staan en óf ingee óf vir hulle geloof opstaan, kom wat wil.

Sadrag, Mesag en Abed-Nego het vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons kan niks vir jou sê nie. Ons God kan ons red, ons dien Hom, en Hy sal keer dat ons nie brand nie wanneer jy ons in die vuur gooi. Maar, Koning, jy moet weet, ook as ons God ons nie red nie, dan sal ons nie jou god dien nie en ons sal nie buig voor die beeld wat jy gemaak het nie.”

Watter dapper gelowiges! God kan vir ons help – soos Hy ons gehelp het met die droom. Maar, selfs as dit sy wil is dat ons omkom in die vuur, ons sal nie buig voor ‘n ander god nie. Ons sal getrou bly in geloof.

Ek wonder wat sou jy gedoen het? Dit is darem maar ‘n groot uitdaging. Die grootste. Jou lewe is op die spel. Gaan jy getrou bly? Of gaan jy ingee. Die knie buig voor Babel. Voor die wêreld wat God nie erken nie.

‘n Mens is só bly dat hulle getrou gebly het aan hulle geloof. Want dit is ‘n voorbeeld vir ons van volharding. Maak nie saak wat die gevolge is nie.

Nebukadnesar het baie kwaad geword vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego. Hy het vir sy manne gesê hulle moet die vuur sewe maal warmer maak as wat dit altyd was. Toe het hy vir sy soldate gesê hulle moet vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego vasbind en in die vuur gooi. Die soldate het hulle vasgebind en in die vuur gegooi. Sadrag, Mesag en Abed-Nego het nog al hulle klere aangehad. Die koning het gesê die vuur moet warm wees, en dit was baie warm. Die vlamme het die soldate doodgebrand wat die drie manne in die vuur gegooi het. Die drie manne, Sadrag, Mesag en Abed-Nego, het binne-in die vuur geval. Hulle was vasgebind.

‘n Mens hou jou asem op. Wat gaan gebeur?

Maar toe skrik koning Nebukadnesar groot en hy staan op. Hy vra toe vir sy raadgewers: “Het ons drie manne in die vuur gegooi, en was hulle vasgebind?” Hulle het vir die koning gesê: “Ja, Koning, dit is so.” Toe sê die koning: “Ek sien nou vier manne. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle loop in die vuur rond en hulle makeer niks. Ek sien die vierde man lyk soos ‘n engel.”

Die drie vriende se geloof standvastigheid loop dus uit op ’n werk van God. Hy wys dat Hy vertrou kan word om te voorsien. Dat Hy kan sorg vir sy mense.

Die drie vriende kom nie net niks oor in die brandende oond nie, maar beweeg vry en ongedeerd rond daarin.

Saam met hulle is daar ook ’n vierde persoon wat vir die koning lyk soos ‘n engel – “’n seun van die gode”. Baie geleerdes identifiseer hierdie persoon met Jesus in sy preëksistente bestaan.

Die redding uit die oond is dus ‘n direkte getuienis aan die koning. Die God van Sadrag, Mesag, en Abed-Nego – of te wel Gananja – “Jah(wê) is genadig”, Misael – “Wie is soos God?”, en Asarja – “Jah(wê) het gehelp” – was hulle toe genadig, en het hulle gehelp. Inderdaad: “Wie is soos God?”

Nebukadnesar het nader gegaan na die deur van die groot oond waarin die vuur was. Hy het gesê: “Sadrag, Mesag en Abed-Nego, dienaars van die Hoogste God, kom uit!” Hulle het uitgekom. Die belangrike amptenare het almal kom kyk en hulle het gesien dat die vuur nie die drie manne gebrand het nie. Dit het nie die hare op hulle koppe gebrand nie. Hulle klere was nog dieselfde en dit het ook nie soos vuur geruik nie.

Nie dat hierdie amptenare die saak daar sou los nie. Daniël sou nog in die leeukuil beland hierna, maar vir die huidige het God direk met Nebukadnesar gewerk, sodat hy die volgende sê:

Toe sê Nebukadnesar: “Ek prys die God van Sadrag, Mesag en Abed-Nego. Hy het sy engel gestuur en Hy het sy dienaars gered. Hulle het geglo dat Hy hulle sal help en hulle het nie gedoen wat die koning gesê het nie. Hulle het gedink dit is beter om te sterf, want hulle wou net hulle eie God dien en eer, nie ‘n ander god nie. Daarom sê ek nou: Al die mense in al die lande moet die God van Sadrag, Mesag en Abed-Nego eer. As iemand dit nie doen nie, dan sal my soldate hom doodmaak en in stukke kap en sy huis afbreek. Daar is nie ‘n ander god wat kan red soos hierdie God red nie.” Die koning was daarna baie goed vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego in die land Babel.” (Daniël 3:1-30 – ABA)

Wat leer hierdie verhaal ons?

1. Wees dapper in geloof

John C Lennox sê in sy boek oor Daniël (Against the Flow: The Inspiration of Daniel in an Age of Relativism) dat hulle ons leer om dapper te wees in die uitlewing van ons geloof:

“What makes the story of their faith remarkable is that they did not simply continue the private devotion to God that they had developed in their homeland; they maintained a high-profile public witness in a pluralistic society that became increasingly antagonistic to their faith.”

Lennox sê dat hierdie verhaal ons oproep om dapper te wees in ons samelewing vandag. Dat ons nie sal toelaat dat ons geloof beperk word tot ons huise en die kerk nie.

Ons getuienis is natuurlik bedoel aan die een kant om soos ’n lamp in ’n huis aangeskakel te wees, maar tegelykertyd aan die ander kant om soos ’n stad op ’n berg te wees, sodat almal in die wêreld dit kan sien.

Dit beteken natuurlik dat ons getuienis en ons gehoorsaamheid ons iets sal kos. Ons sal nooit ons getuienis kan lewer in hierdie wêreld sonder dat daar teenstand en vervolging sal wees nie. Maar ons kan nie terugdeins net omdat dit van ons iets gaan vra nie.

2. Wees getrou in jou geloof

Daar is dinge waaroor ‘n mens kan verskil. Taal is een daarvan. Ons identiteit word nie bepaal deur ons taal nie. Maar geloof is iets heel anders. Wat ons glo en wat God vir ons in die Bybel leer, is dinge waaraan ons moet vashou. Ons kan ons geloof nie aanpas by die waardes en idees van hierdie wêreld nie.

Veral in hierdie post-moderne wêreld waar alles relatief is. Die reg om self te kies wat jy wil glo of doen, word as heilig beskou. Aanvaarding en Insluiting is die modewoorde. Ons word gedwing om alle lewenstyle te aanvaar. Maak nie saak wat die Bybel daaroor sê nie.

Maar, agter dit alles is daar ‘n opstand teen wat God sê. Wat sy absolute waarheid in die Bybel is. Soos iemand gesê het, “no divine foot must be allowed through the door.” (Richard Lewontin). God moet nie toegelaat word om iets te sê in die publieke sfeer nie. Hy is nie welkom nie. God moet ten alle koste uit die gesprek uitgehou word.

3. Wees altyd gereed om jou geloof te verantwoord

Let op egter dat Daniël-hulle nie moeilik was nie. Hulle het steeds deelgeneem aan die sisteem. Hulle het die vreemde taal aangeleer. Hulle het aanvaar dat hulle name verander word. Hulle was gerekende amptenare in Nebukadnesar se koninkryk.

Maar, hulle het nooit aan hulle geloof ontrou geword nie. Hulle was bereid om presies te sê wat hulle glo, al het hulle geweet hulle geloof word nie aanvaar nie. Hulle was bereid om hulle geloof voor almal, selfs voor die koning uit te leef. Selfs al sou hulle in die vuuroond gegooi word.

Daniël-hulle het dus nie op elke klein verskilpunt beswaar gemaak nie. Maar, waar dit regtig saak gemaak het, waar God en hulle geloof in Hom op die spel was, het hulle stewig gestaan. Het hulle nie hulle geloof weggesteek nie.

Wees altyd gereed

Ek sluit daarom af met wat Petrus in sy eerste brief in die NT skryf. Hy kon netsowel vir Daniël en sy drie vriende aangehaal het as ‘n voorbeeld om ons hiertoe aan te moedig:

Selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. (1 Pet 3:14 – NAV)

Soos die BDV dit vertaal:

Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. 15 Inteendeel, eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. 16 Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met ‘n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan.

My boek oor Daniël.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.