By God is alles moontlik – Matteus 19:16-30

Verhoudings, kinders en geld

Jesus praat in Matteus 19 oor drie wesenlike sake in die koninkryk. Verhoudings, kinders en geld. Of as ‘n mens dit anders wil stel; money, sex and power. Want wat Jesus oor die huwelik sê, het met seks te make. Wat Jesus oor kinders te sê het, het met mag te make. Wat Jesus oor die ryk jongman te sê het, het met geld te make. Dit is so fundamenteel as wat hierdie hoofstuk 19 Jesus se houding oor money, sex and power weergee.

1. Sy punt oor verhoudings (Matt 19:1-12) is dat daar net een verhouding is wat God se seën wegdra, en dit is die huwelik tussen een man en een vrou. So was dit van die begin af deur God bedoel, sê Jesus. En Hy haal direk uit Genesis 1:27 en 2:24 aan as begronding van sy standpunt: dat God die mens man en vrou as sy beeld en gelykenis gemaak het; dat Hy man en vrou vir mekaar as helpers en helftes in die huwelik gemaak het.

Uit hierdie begronding kom sy absolute standpunt oor die huwelik. Die huwelik is vir altyd: “wat God saamgevoeg het, moet ‘n mens nie skei nie.” (Matt 19:6).

En net soos dit ons vandag nogal skok om só ‘n siening in ‘n permissiewe samelewing te hoor, só het dit die dissipels in die eerste eeu geskok. “As dit die stand van sake tussen man en vrou is, is dit beter om nie te trou nie,” was hulle reaksie (Matt 19:10). Geen egskeiding nie, behalwe weens owerspel? Dit kan mos nie wees nie, Jesus? Dan liewer nie trou nie, anders kom jy miskien in die moeilikheid.

Jesus bevestig hulle waarneming dat die huwelik ‘n lojaliteit van jou vra wat dieper as enigiets anders op aarde is, ten minste op menslike vlak. Daar is daarom sommige wat nie geskik is vir die huwelik nie, van geboorte af, of weens beserings, of uit ‘n keuse vir die koninkryk, sê Jesus. Maar vir die res moet man en vrou aan mekaar getrou bly. Dit is hoe God dit wil hê.

Seks hoort in die huwelik. Daar is binne God se visie vir menswees geen ander plek waar seks tot sy reg kom nie.

2. Sy punt oor kinders (Matt 19:13-15) is dat hulle by Hom welkom is. Niemand mag hulle verhinder dat Hy vir hulle hande oplê en bid nie. Hulle, die magteloses, mag nie deur die grootmense, die magtiges – in hierdie geval die dissipels – van ‘n verhouding met Hom weerhou word nie. Hulle is net so belangrik in die koninkryk as enigiemand anders.

Ek het aanvanklik gedink dat ons dit miskien beter verstaan vandag. Maar, ek wonder. As ‘n mens kyk na die wetgewing oor aborsie op aanvraag – Ierland het dit so pas hierdie week met ‘n groot meerderheid goedgekeur – en die hoeveelheid mishandeling wat kinders op verskillende vlakke verduur, word kinders steeds nie baie hoog geag nie.

En die magtiges in ons wêreld besluit steeds óf kinders mag leef en hóé hulle mag leef.

Ons kan gerus Jesus se omarming en gebede vir kinders navolg, van voor hulle geboorte tot in hulle ouderdom.

Job erken God se hand voor geboorte: “Hy wat my in die moederskoot gemaak het,” (Job 31:15). Dawid is liries oor God se hand van bevrugting tot geboorte: “Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” (Ps 139:13-16).

Ons kan gerus dié prentjie van God weer ernstig neem in ons visie op menswees en hoe ons dink oor kinders. God se hand is oor ons van bevrugting tot geboorte, van begin tot einde, selfs deur die dood heen tot in die ewige lewe.

3. Die laaste saak wat Jesus in dié hoofstuk aanraak, is die saak van geld en besittings en ons gehegtheid daaraan. ‘n Saak wat glad nie so eenvoudig is vir ons nie, omdat ons deel van ‘n kultuur is wat sukses meet aan hoeveel geld en besitting ons het. En dié wat baie het, wil dit beskerm van dié wat dit nie het nie. En dié wat min het, wil gryp van dié wat baie het.

Hierdie saak sit agter al die konflikte wat ons tans in ons samelewing beleef. Plaaslik en reg oor die wêreld. Soos Paulus sê: “Want geldgierigheid is die wortel van alle kwade (eie vertaling). Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof en hulle het hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Tim 6:10).

Wat uiters relevant is vir ons, is dat Jesus sy siening oor geld steeds baseer op die Ou Testament, spesifiek die wet, die eerste vyf boeke van die Bybel.

Waar Jesus sy siening oor die huwelik – en in afgeleide sin ook oor kinders, omdat ‘n gesonde huwelik ‘n gesonde ruimte vir kinders sal verskaf – op Genesis 1-2 gebaseer het, baseer Hy sy siening oor geld op die wet van God, die Tien Gebooie, soos ons dit in Eksodus 20 en Deuteronomium 5 kry, sowel as ‘n aanhaling uit Levitikus 19.

Wat ons natuurlik laat besef dat as Jesus die wet van toepassing maak op die mense van sy dag – soos Hy uitvoerig doen in die Bergrede en in sy opsomming van die wet en die profete en talle van sy ander uitsprake – dit ook op ons van toepassing bly, soos wat ons by al die apostels lees, Paulus (Rom 13:8-10), Petrus (2 Pet 2:21: “heilige gebod”), Jakobus (Jak 2:8: “koninklike wet”), Johannes (1 Joh 2:7: “ou gebod”) ensomeer.

Die ryk jongman

(Mark 10:17-31; Luk 18:18-30)

16En kyk, iemand het na Jesus gekom en gevra: “Meester, watter goeie ding moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan verkry?” 17Hy het hom geantwoord: “Hoekom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. As jy die lewe wil binnegaan, moet jy die gebooie nakom.” 18Hy vra Hom: “Watter?” Jesus antwoord: “Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuig nie. 19Eer jou vader en jou moeder.” En: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 20Die jongman sê vir Hom: “Dit alles het ek nagekom; wat kom ek dan nog kort?” 21Jesus het vir hom gesê: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee dit vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.” 22Toe die jongman egter hierdie antwoord hoor, het hy bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad.  23Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Amen, Ek sê vir julle: ‘n Ryke sal moeilik in die koninkryk van die hemele ingaan. 24Ek sê weer vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” 25Toe die dissipels dit hoor, was hulle heeltemal uit die veld geslaan en het gesê: “Wie kan dan gered word?” 26Maar Jesus het stip na hulle gekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.” 27Toe vra Petrus Hom: “Kyk, óns het alles agtergelaat en U gevolg. Wat sal ons dan daarvoor kry?” 28Jesus het vir hulle gesê: “Amen, Ek sê vir julle: In die nuwe bedeling, wanneer die Seun van die Mens op sy glansryke troon sit, sal julle wat My gevolg het ook op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regspreek. 29En elkeen wat huise of broers of susters of pa of ma of kinders of grond agterlaat ter wille van my Naam, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërf. 30Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” 

Wat is vir jou regtig belangrik?

Dink ‘n bietjie aan jou wêreld. Jou mense. Jou studies. Jou blyplek. Jou besittings. Jou begeertes. Jou wense en drome. Jou verwagtings.

Wat is vir jou regtig belangrik? Waarsonder kan jy nie gaan nie? Wat het jy nie, wat jy graag wil hê?

Watter goeie dinge doen jy?

Dink ‘n bietjie aan praktiese goed. Wat doen jy? Aan wie doen jy dit? Waarom doen jy dit? Hoe voel jy daaroor? Hoe dink jy sal God daaroor voel? Watter rol speel dit vir die ewige lewe?

Watter goeie dinge doen jy? Watter dinge vermy jy? Watter goeie dinge moet jy eintlik tog doen?

Ek vra dié dinge sodat ons met beter begrip die verhaal van die ryk jongman kan benader.

Dat ons sy verhaal aan die een kant as ‘n venster sal gebruik. Om in ons blootstelling daaraan iets agter te kom van menswees en hoe God daarop reageer.

Maar ook, om sy verhaal as ‘n spieël te gebruik. Om iets van onsself in die verhaal van die ryk jongman raak te sien, en van die verhouding waarheen die Here ons uitnooi.

Die ryk jongman se misverstand

Die ryk jongman wil weet watter goeie ding kwalifiseer jou vir die ewige lewe. Op die oog af ‘n baie goeie vraag. Een wat direk na die hart van die saak deurdring. Dit gaan in hierdie lewe nie net oor dit wat hier gebeur nie. Ons is op pad na ‘n bestemming by God. En dit is belangrik om sekerheid te hê oor hoe ‘n mens daar uitkom.

Jesus wys in sy antwoord egter daarop dat die vraag alreeds ‘n misverstand openbaar in die ryk jongman se visie op die lewe en op God. Deur die venstervan die Woord sien ons hierdie misverstand lewensgroot geïllustreer.

Jesus sê eerstens dat dit nie oor goeie dinge gaan in die lewe nie, maar oor God wat goed is. Hy korrigeer dus die ryk jongman. Goedheid lê nie in wat jy kan doen vir God nie, maar in wat God vir jou kan doen: “Hoekom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is.”

Jesus sê tweedens dat dit gaan oor wat hierdie God van ons verwag: “As jy die lewe wil binnegaan, moet jy die gebooie nakom.” Hy plaas die ryk jongman op die vaste basis van God se Woord. Dit gaan nie oor goeie werke nie, soos die ryk jongman gedink het nie. Dit gaan oor God se gebooie, dít wat Hy openbaar sy wil is. Om jou oor te gee aan hoe God wil hê dat ons moet lewe. Die lewe lê in ‘n verhouding met God waarin ons doen wat Hy van ons verwag.

Die weg van die liefde

Die ryk jongman wil seker maak of hy reg verstaan, en vra watter gebooie dit is?

Jesus spel dan die voorskrifte van die tweede tafel van die wet uit (Eks 20; Deut 5). Hy noem die sesde tot die negende gebod: “Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuig nie.” Elkeen van hulle gefundeer in die liefde. Die liefde vir ‘n ander se lewe. Vir die huwelik. Vir ‘n ander se goed. Vir ‘n ander se belange.

Jesus voeg die vyfde gebod by:Eer jou vader en jou moeder.”Die liefde vir jou ma en pa waaraan die belofte van God gekoppel is, dat jy ‘n lang lewe sal hê as jy vir hulle goed is.

Daarby voeg Jesus die liefde vir die naaste by uit Levitikus 19:18 (vgl Lev 19:34 wat sê die vreemdeling geld ook as ‘n naaste wat lief gehê moet word): “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Soos Jesus later in hoofstuk 22 weer sal doen.

Die probleem van gierigheid

Die ryk jongman is verlig, maar ook onseker: “Dit alles het ek nagekom; wat kom ek dan nog kort?”Hy het ‘n voorbeeldige lewe gelei, maar daar het nog iets kort gekom, iets waarop hy nie regtig sy vinger kon sit nie.

En dit is dan wat Jesus sy vinger op die hindernis in hierdie ryk jongman se lewe sit. Want Hy weet presies wat die ryk jongman kortkom. Sy probleem is een van gierigheid.

As julle mooi geluister het, sal julle agterkom Jesus al die gebooie van die tweede tafel van die wet, sowel as ‘n opsomming daarvan gegee het.

Maar, Jesus het die tiende gebod uit gelaat: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.” (Eks 20:17).

Hoekom doen Jesus dit?

Want dit is waar die ryk jongman se uitdaging lê. In die tiende gebod. In sy begeerte na meer. In sy begeerte na huise, vrouens, slawe, diere, en besittings. In gierigheid.

Soos Paulus later sou sê: “Want geldgierigheid is die wortel van alle kwade (eie vertaling). Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof en hulle het hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Tim 6:10).

Daarom het Jesus nie die tiende gebod genoem nie. Want Hy wou dié gebod as ‘n uitdaging vir die ryk jongman gee. ‘n Manier om sy hart aan God te verbind, sodat die begeerte na meer en die gehegtheid aan sy besittings nie meer ‘n hindernis in sy verhouding met God sou wees nie. Sodat sy hunkering na geld in ‘n hunkering na God sou verander.

Gee jou hart vir Jesus

Jesus wil hom dus help om van gierigheid los te kom. Om sy hunkering na meer af te lê, sodat sy hunkering na God bevredig kan word: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee dit vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.”

Wat die ryk jongman immers kort gekom het, was dat sy doel in die lewe sou skuif van sy geld en besittings na God self, om Jesus te volg, om God die sentrum van sy lewe te maak.

Jy kan immers nie Mammon, die god van geld en besittings, saam met God dien nie. Jy sal óf die een dien en die ander haat, óf die een haat en die ander liefhê (Matt 6:24).

En let op dat die probleem begeerte is, gierigheid, geldgierigheid. Dit gaan nie oor wat die ryk jongman doen nie, maar wat in sy hart aangaan. Dit is waarom goeie werke hom nie kan help nie. Dit is waarom die enigste manier om sy hart te verander, is om sy besittings te verkoop en vir die armes te gee.

Want dan sal sy hart aan God, aan Jesus self, behoort en sal Hy Jesus kan volg die lewe in, ook die ewige lewe in.

Die probleem van rykdom

Armoede is nie ‘n deug nie. Trouens, armoede kan jou juis in die versoeking stel om presies te sondig soos die ryk jongman. Om ander se goed te begeer. Om ander se goed te gryp. Iets wat ons onder andere sien uitspeel in die samelewing regoor die wêreld.

Maar die voordeel van armoede is dat jy afhanklik raak. Van God. Soos Lukas in sy weergawe van Jesus se Bergrede sê: “Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God.” (Luk 6:20).

Waar armoede jou beweeg om jou afhanklikheid van God te besef en jou vertroue op Hom te plaas, dáár het die koninkryk van God vir jou aangebreek. Kan jy op God se voorsiening begin staatmaak, soos die talle beloftes wat aan armes gemaak word regdeur die Skrif dit só mooi uitspel: “Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.” (Ps 72:13).

Die probleem van rykdom is dat jy kan begin dink dat jy selfstandig is. Dat jy vir jou eie rykdom verantwoordelik is. Dit laat jou God begin vergeet. Dit laat jou só fokus op die behoud en bevordering en belewenis van wat jy het, dat jou hart die bewussyn van God verloor.

Dit is waarom die ryk jongman bedroef van Jesus af weggaan, van die min mense van wie ons dit lees. Hy het doodgewoon te veel besittings gehad. Die suigkrag was te veel.

En daarmee raak die ryk jongman ‘n spieëlvir ons. Soos Jesus dit uitspel: “Ek sê vir julle: ‘n Ryke sal moeilik in die koninkryk van die hemele ingaan.

Dit is só belangrik vir Jesus dat die dissipels dié punt goed verstaan dat Hy dit herhaal:“Ek sê weer vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.

Wie kan dan gered word?

En hier besef ons dat dit nie net oor die ryk jongman gaan nie, maar ook oor dié wat die verhaal aanhoor, oor die dissipels, oor almal van ons reg deur die eeue.

Geen wonder nie die dissipels is: “heeltemal uit die veld geslaan” en dat hulle onmiddellik die regte gevolgtrekking maak: “Wie kan dan gered word?

Net soos die gesprek oor egskeiding op dié punt gekom het – maar dan is dit mos onmoontlik om te trou– kom ook die gesprek oor rykdom by dié punt – dit is mos onmoontlik om in die hemel te kom, as jy ryk is.

Dit is net God wat ons kan red

En dit is presies waar Jesus die evangelie kan verkondig. Matteus sê vir ons dat Jesus stip na hulle gekyk het, want sy volgende woorde sou van groot betekenis wees: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.

Soos God jou getrou kan maak in die huwelik, só kan Hy dit ook doen met jou saligheid. Wat vir ons onmoontlik is, is by God moontlik.

Waar lê jou uitdaging?

Ek weet nie waar jou uitdaging lê in die lewe nie. Miskien het jy ‘n probleem met geld en gierigheid, soos die ryk jongman. Miskien het jy ‘n slegte verhouding met jou ouers (vyfde gebod). Miskien het jy uitdagings met woede (sesde gebod), seksuele begeertes (sewende gebod), onregverdige bevoordeling (agste gebod), skinder of kwaadpraat (negende gebod) of een of ander slegte verhouding met iemand in jou omgewing (gebod van naasteliefde).

Jy het al baie probeer om vry te kom, maar hoe meer jy probeer, hoe vaster draai jy jouself daarin. Wat Jesus vir jou vanaand kom sê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.

Die oplossing vir die uitdagings en die sonde in jou lewe is om die Here Jesus voluit te begin volg. Om jou hart aan Hom te verbind. Om jou lojaliteit aan sy wil, soos Hy dit in die Woord aan ons openbaar, op ‘n volgende vlak te bring.

Wat is God se belofte aan jou?

Die dissipels vra onmiddellik toe hulle besef dat Jesus eintlik nou praat van hulle, en van hulle besluit om Hom te volg, kom wat wil. En Petrus vra vir Jesus: “Kyk, óns het alles agtergelaat en U gevolg. Wat sal ons dan daarvoor kry?

Jesus gee ‘n twee-ledige belofte aan die dissipels, ‘n belofte wat ook vir ons geld: “Ek sê vir julle: In die nuwe bedeling, wanneer die Seun van die Mens op sy glansryke troon sit, sal julle wat My gevolg het ook op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regspreek.

Hulle keuse op die Here te volg ten spyte van die verwerping wat hulle van die Jode sal beleef, sal ironies genoeg lei tot ‘n regsaak in die nuwe bedeling waar hulle oor die einste Jode sal oordeel.

Maar, daar is ook ‘n belofte vir hierdie lewe: “En elkeen wat huise of broers of susters of pa of ma of kinders of grond agterlaat ter wille van my Naam, sal honderd maal soveel ontvang.

Markus en Lukas sê dit nog duideliker in hulle weergawe van hierdie gesprek dat hierdie belofte bedoel is vir: “hierdie tyd” (Mark 10:29-31; Luk 18:29-30).

Maar die belangrikste bly die feit dat hulle “die ewige lewe beërf,” presies dit wat die ryk jongman gesoek het, maar nie die prys voor wou betaal nie, om Jesus te volg, sy hart aan Jesus te verbind, en nie aan sy besittings nie.

Jesus se eie opsomming aan die einde van hierdie lering is: “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.

En dit is die finale uitdaging aan ons. Jy het die keuse. Óf om jou belange eerste te stel. Jou behoeftes, begeertes, en besittings. Óf die Here Jesus s’n, om Hom te volg soos Hy dit uitspel, spesifiek ook in die Tien Gebooie, en Hom te vertrou vir jou behoeftes, begeertes en besittings.

En jy kan net miskien die ervaring hê dat wat jy gedink het vir jou belangrik was, en wat jy bereid was om op te offer in jou verhouding met die Here, dat dit op ‘n ander manier honderdvoudig vir jou teruggegee word.

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment