Die verhaal van twee seuns – Matteus 21:28-32

Dit is die laaste week van Jesus se bediening. Hy het die Sondag as die “profeet van Nasaret” Jerusalem binnegery op ‘n donkie (Joh 12:1). Met die Hosannas van die skare in sy ore en die takkies wat wuif (Matt 21:1-11).

Sy missie? Om die tempel te reinig. Dit het ‘n rowersnes geraak wat net om die ekonomiese voorspoed van die leiers en handelaars gedraai het. Van egte godsdiens en gebed was daar nie meer sprake nie.

Soos Jesus vir die Joodse leiers sê: “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?” (aangehaal uit Ps 8:3). Waarmee hy eksplisiet die Joodse leiers aanspreek dat hulle die Bybel nie reg lees nie. En dat hulle nie bid nie. Kinders, sê Jesus, doen dit wel – lees en bid – maar die Joodse leiers nie. Waarskynlik ‘n verwysing na Jesus se dissipels en die mense wat Hom volg wat gelees en gebid het (Matt 21:12-17).

Jesus het reguit vir die leiers gesê dat hulle soos ‘n vyeboom is wat nie vrugte dra nie. Daarmee hulle nie maar net ‘n mens verontagsaam nie, maar God self. Jesus het immers met die gesag van God self gepraat. Soos Hy gewys het met die vyeboom wat verdroog het toe Hy dit die Maandag vervloek het.

En Jesus gee terselfdertyd ‘n omvattende belofte aan elkeen wat met geloof bid. Waar dit in lyn is met die wil van sy Vader, waar hulle nie net hoor wat God sê nie, maar doen wat Hy vra, sal hulle ontvang wat hulle in gebed vra (Matt 21:18-22).

Om dié boodskap in te skerp vertel hy dan ‘n gelykenis. Die verhaal van twee seuns.

Wat dink julle hiervan?

28Maar wat dink julle? ’n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. 29En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan. 30Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie. 31Wie van die twee het die wil van die vader gedoen? Hulle antwoord Hom: Die eerste. Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God. 32Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.” (Matt 21:28-32)

Die eerste seun verteenwoordig bekeerde sondaars

Die eerste seun verteenwoordig bekeerde sondaars – tollenaars en hoere (vers 32). Mense wat eers vir God sê, nee, ek wil nie, maar dan tog later berou kry en doen wat God vra.

Dit is mense soos die tollenaar Matteus, ook Levi genoem (Mark 2:14; Luk 5:27), die skrywer van hierdie evangelie, wat nie net uiteindelik vir God ja gesê het nie, maar alles gelos het om vir Jesus te volg. Só het hy een van die groot apostels geword (Matt 9:9).

Dit is mense soos Saggeus, die hooftollenaar wat die helfte van sy besittings vir die armes gee en regmaak wat hy van ander wederregtelik gevat het (Luk 19:1-10).

Dit is mense soos die naamlose vrou met die albaste fles met geurige duur salf wat Jesus se voete gesalf het, waarskynlik ‘n hoer, ‘n “sondige vrou” (Luk 7:36-50). Trouens, ook owerspeliges het by Jesus genade gekry en kon ‘n nuwe lewe lei, sonder sonde, nadat Hy haar vrygespreek het (Joh 8:1-11).

Interessant, die teks sê die eerste seun het van gedagte verander. Die Griekse woord metamelomai beteken om jou oortuiging te verander, om berou te kry oor jou manier van dink en daarom jou gedrag te verander.

Die eerste seun was duidelik ‘n rebel. Hy antwoord eintlik sy pa op ‘n baie dwars manier, sonder respek. “Nee, ek wil nie.” Maar, dan kom hy tot berouvolle inkeer. Hy bekeer hom van sy dwase antwoord, van sy onwilligheid om die wil van sy pa uit te voer, van sy eksplisiete ongehoorsaamheid aan sy pa. En hy stel sy ongehoorsaamheid reg deur sy pa se opdrag uit te voer, al het hy eers nee gesê daarvoor.

Die eerste seun raak die een wat hoor en doen. Hy voer die wil van sy pa uit, soos van alle gelowiges gevra word, om die wil van God uit te voer, soos Hy dit vra, nie soos jy dit besluit nie.

Soos Paulus later sou skryf, “eerste seuns” is mense wat nie net hulle: “liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer”  nie, maar in hulle godsdiens streef daarna om: “nie aan hierdie wêreld gelykvormig” te word nie, maar: “verander (te word) deur die vernuwing van (hulle) gemoed, sodat (hulle) kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Rom 12:1-2)

Die tweede seun verteenwoordig die onbekeerde Joodse leiers

Die tweede seun verteenwoordig die onbekeerde godsdiensleiers – die priesterhoofde, familiehoofde, Fariseërs en skrifgeleerdes (vers 15,23,45). Die Joodse leiers.

Dis mense wat voorgee dat hulle die Bybel lees, maar vir seker nie om daaraan gehoorsaam te wees nie. Eerder om dit te verander. In te laat pas by hulle eie idee van wat goed en sleg is. En sover gaan om selfs die Bybel te verwerp, en die boodskap daarvan te ontkrag met hulle eie reëls. Mense wat voorgee dat hulle bid sodat ander hulle kan sien, maar nie met die gehoorsame geloof bid, die geloof waarop God antwoord nie.

Wat saak maak, is immers nie wat jy belowe nie, maar wat jy bewerk. Not promise, but performance. Dit is dié wat die wil van die Vader doen wat kinders van God is. Nie dié wat allerlei verskonings uitdink om God se wil te ontduik, en dan nog ander leer om dieselfde te doen nie.

Teenoor die eerste seun is die tweede seun natuurlik baie respekvol: “Ja, heer …”, hoor ‘n mens hom sê. ‘n Mens sou dink, hier is ‘n kind wat sy ouers eer, wat die vyfde gebod nakom.

Maar sy woorde beteken niks nie. Hy kom in werklikheid nie sover om sy pa te gehoorsaam nie. Hy doen nie wat sy pa gevra het nie. Hy werk nie in die wingerd nie. Hy slaan sy pa se woorde in die wind. Hy volg sy eie kop. Hy is per definisie skynheilig. Sy woorde en sy dade kom nie ooreen nie.

En só, sê Jesus, is julle, die Joodse leiers. Skynheilig. Hulle wou nie erken dat hulle sondig is en verlossing nodig het nie. Hulle het daarom hulle eie weergawe van die wet verkondig. Hulle het die eise daarvan versag. Hulle het die wette teen mekaar afgespeel – groter en kleiner, meer belangrik, minder belangrik. En hulle was gesteld op uiterlike vertoon, nie innerlike verootmoediging wat lei tot ‘n nuwe lewe en nuwe gedragspatrone nie. Hulle het dus nooit gedoen wat God van hulle vra nie.

Maar, as dit al was, kan ‘n mens dit nog aanvaar. Hulle benadeel eintlik net hulleself. Dit is hulle verlies. Maar, dit is nie al wat die Joodse leiers gedoen het nie. Hulle het ander met hulle saamgesleep, en gekeer dat sondaars tot berou en inkeer kom. Hulle het sondaars aangemoedig om in hulle sonde te volhard.

En dan spel Jesus dit uit vir die Joodse leiers. Julle sien dat sondaars tot bekering kom, dat hulle hulle gedagtes verander oor God en wat Hy vra, dat hulle kniel voor Hom in berou, en daadwerklik hulle lewe verander. Julle sien dit, maar dit verander op geen manier julle visie op daardie mense nie, en die verlossing wat God vir hulle gee nie. En julle kom self nie tot inkeer en word aan my wil gehoorsaam nie.

Johannes het met die boodskap van bekering gekom, sê Jesus, maar julle het hom nie geglo nie. Tollenaars en hoere het hulle lewens verander in my teenwoordigheid, maar ook dit het julle nie geglo nie. Selfs toe julle dit eerstehands ervaar het, het julle nie van gedagte verander nie.

Hoe tragies. Hoe blind. Hoe destruktief.

Die waarheid kos Jesus se dood

Jesus vertel hierdie gelykenis in die volle wete dat hierdie waarheid sy dood sal kos, soos die volgende gelykenis van die boer en sy wingerd dit eksplisiet uitspel. Die boer se seun, God se seun, moet dit ontgeld, word doodgemaak, omdat die Joodse leiers nie wil toelaat dat mense tot bekering kom en God sy oes kan insamel onder die sondaars van hierdie wêreld nie.

Wat ‘n mens laat uitroep, hoe is dit moontlik dat ‘n mens dit oor jou hart kan kry om sondaars in hulle sonde te laat voortleef?! Hoe kan jy die reddende genade wat God bring om mense uit hulle sondige leefwyse te red sodat hulle heilig en onberispelik voor God kan lewe, hoe kan jy dit van mense af weghou?

Hoe kan ‘n mens soos die slang van ouds sê: “Het God regtig gesê?” Nee, dit werk eintlik só. Jy kan God se woorde nie letterlik opneem nie. Hy het nie regtig gesê jy sal doodgaan nie. Die eintlike interpretasie is dat jou oë sal oopgaan en jy tot ware insig oor alles sal kom. Die eet van die verbode vrugte is nie sonde nie. Dit is selfkennis. Dit sal jou verhef tot ‘n ander vlak. Jy sal soos god word deurdat jy tot volle kennis sal kom (Gen 3).

Die waarheid is egter dat die slang die tuin van Eden vir Adam en Eva gesluit het met sy raad. Só het die Fariseërs met hulle weiering om Jesus te erken as die Verlosser, die koninkryk van God vir hulleself gesluit, en deur hulle weiering dat die boodskap aan sondaars verkondig word, ook die koninkryk vir die sondaars gesluit.

Die koninkryk van God word vir onbekeerde sondaars toegesluit

Interessant, Jesus praat hier van die koninkryk van God, en nie van die koninkryk van die hemele, soos Matteus Jesus gewoonlik aanhaal nie. Waarskynlik om te beklemtoon dat die Fariseërs die persoonlike verhouding met God in gedrang gebring het, wat nie net die hemele toegesluit het vir mense nie, maar die toegang tot God self.

Want, die boodskap van die Bybel (en ons belydenisskrifte) is dat dit net dié is wat hulle ellende voor God besef, hulle sondige afvalligheid, en met berou hulle toevlug neem tot hulle enigste Verlosser Jesus Christus, wat Hom dan met hulle hele lewe liefhet en gehoorsaam, wat die koninkryk van God sal binnegaan.

Wat met God in ‘n persoonlike verhouding sal kan leef. Wat sal ervaar: só was ons – ver van God en ver van ‘n heilige lewe, sondaars, tollenaars, hoere – maar nou is ons geheilig deur die bloed van Jesus Christus (1 Kor 6).

Wat weet, ons het van gedagte verander oor Jesus. Hy is die Verlosser van sondaars, van mense soos ons. En Hy het ons vergewe en ons lewens verander.

Die dubbele liefdesgebod is ‘n verklaring van die wet, nie ‘n verskraling daarvan nie

Ek is verontrus deur pogings vandag om sonde te reduseer tot ‘n oortreding van die dubbele liefdesgebod. Natuurlik is sonde ook die oortreding van die dubbele liefdesgebod.

Maar die dubbele liefdesgebod is ‘n verklaring van die bron van die wet en die wil van God. Dit is nie ‘n verskraling van die eise van die wet nie. Die dubbele liefdesgebod is die motivering agter die wet. Nie die uitrangering van die wet nie.

Dit is waarom die Here op soveel plekke in die OT en die NT vir ons uitspel watter dinge teen sy wil is. As Paulus sê: “geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ’n afgodedienaar is, ’n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie” (Ef 5:5), dan bedoel Paulus dit.

En voeg Paulus by: “Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.” (Ef 5:6). Niemand sal ontsnap nie. Niemand nie. Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God.

Trouens, die opdrag aan ons as gelowiges in die gemeente is soos volg: “7Wees dan nie hulle deelgenote nie. 8Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig.” (Ef 5:7-8)

Ons móét erns maak hiermee, sê Paulus: “9Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.” (Ef 5:9).

En ons word opgeroep: “10En beproef wat die Here welbehaaglik is. 11en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. 12Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.” (Ef 5:10-12)

Die koninkryk van God is vir dié wat die wil van die Vader doen

Die koninkryk van God is vir dié wat die wil van die Vader doen. Jesus is helder daaroor. Regdeur die evangelie van Matteus.

In die Bergrede sê Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matt 7:21)

Dit is ‘n verbintenis wat dieper gaan as familiebande: “Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” (Matt 12:50)

Daarom, sê Jesus, hier in Matteus 21, sal tollenaars en hoere voor die Joodse leiers die koninkryk van God binnegaan. Dit is die een wat gehoorsaam is, wat die wil van die Vader doen, wat die pad van geregtigheid bewandel, soos dit letterlik daar staan in vers 32 (vgl Matt 3:1-12) – bekering en gehoorsaamheid – wat die koninkryk van God sal binne gaan, al gebeur dit ook eers na ’n tyd van afvalligheid en rebellie.

Watter seun is jy?

Die vraag is vandag, watter seun is jy?

Is jy soos die eerste seun?

Die een wat gerebelleer het? Wat nie wou doen wat die Here gevra het nie? Die aanbod van Jesus is dat Hy die Verlosser is van sondaars. Dat Hy ook jou lewe sal verander as jy Hom gehoorsaam, as jy van gedagte verander, en begin om Hom te volg, in Woord en gebed en gehoorsaamheid in sy wingerd.

Is jy soos die tweede seun?

Die een wat ja gesê het, maar uiteindelik nie sover kom om die wil van God die Vader te doen nie, soos Hy dit in die Woord uitspel. Wat selfs aan ander verkondig dat hulle nie hoef te doen wat die Woord sê nie. Wat die Woord verander of selfs op plekke verwerp.

Jesus se woord is helder en duidelik vir die eerste seuns. Die koninkryk van God is vir dié wat die wil doen van God. Wat moeite maak met die Woord. Wat moeite maak met gebed. Wat moeite maak met ‘n lewe wat in ooreenstemming is met die Woord. Mense wat God met hulle hele lewe gehoorsaam.

Vir die tweede seuns geld die woorde van Jesus: “Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.”

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Hansie. Die Here is goed vir ons.

  • Avatar

    Hansie

    |

    Dankie Chris. Lanklaas so ‘n geestelik verrykende erediens bygewoon. Ek is skoon opgewonde. Alle seen vorentoe.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Boeta!

  • Avatar

    AntonvanWyk

    |

    Baie duidelik. Pragtige versterkende boodskap

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Diederiks, ek het self dit nou weer gelees. Dit is darem net só fundamenteel tot ons hele verstaan van die werklikheid. Ek is só dankbaar dat ek die waarheid ontdek het. Seën vir jou!