Skip to main content

1 Petrus 1:16-21 – Die getuienis oor Jesus Christus is betroubaar

Die tweede brief van Petrus is ‘n afskeidsboodskap van die apostel Petrus aan die geloofsgemeenskap in gebiede van wat vandag die moderne Turkye is: destyds Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.  Die brief is waarskynlik uit Rome geskryf in die tyd van keiser Nero.

Petrus is bekommerd oor die dwaalleraars in die gemeente wat hulle kan laat twyfel dat die boodskap van Jesus Christus betroubaar is.  Hy waarsku hulle daarom dat die vals leraars vernietigende ketterye sal insmokkel in hulle geloofsgemeenskap wat nie net tot losbandigheid kan lei nie, maar hulle selfs kan verlei om van die Here Jesus self afvallig te raak onder andere deur die wederkoms te ontken.  Hierdie dwaalleraars het net oor die hiermaals gepraat, nie die hiernamaals nie, en gesê dat ‘n mens eintlik maar kan leef soos jy wil (2 Pet. 3:4).

Petrus wil hulle aanmoedig om vas te hou aan die ware evangelie: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Pet. 3:18). Hulle geloof is net te kosbaar (2 Pet. 1:1) dat hulle deur roekelose en arrogante mense (2 Pet. 2:10) op ‘n dwaalspoor gelei mag word.

Petrus is ook baie bewus van sy naderende dood (2 Pet. 1:14) en wil vir oulaas met hierdie skrywe hulle help om aan die verdorwenheid, die verderf van die wêreld, te ontvlug (2 Pet. 1:4). Hy wil hulle help om te bly fokus op God se goddelike krag wat hulle alles gegee het wat hulle nodig het vir ‘n toegewyde lewe (2 Pet. 1:3). Dan weet hy sal hulle nie struikel voor die uitdaging van die dwaalleraars nie (2 Pet. 1:10).

Omdat hierdie God op só ‘n kragtige manier in hulle werk, hét hulle die vermoë om nee te sê vir die uitdaging van die dwaalleraars, kán hulle ‘n heilige lewe lei wat aan God toegewy is, en sál hulle nie hulle standvastigheid verloor nie. “Die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus,” sal daarvoor sorg (2 Pet. 1:16).

Download the English translation here:

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Vooraf refleksie:  Orrel en koor Lied 556  Môregesang en Flam 5  Daar is geen grens aan u guns en genade, dit is nuut elke môre, groot is u trou o Heer

 Gebed

Verwelkoming

Toetrede

Vonkk 9  Koor 1x , Gemeente 3x  Voor U – herhaal met Halleluja en Jesus Christus  (sit)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Vonkk 2 Kom juig oor God   (Psalm 66)  (staan)

Lied 220 Met ons harte sing ons, Heer   (staan)

Verootmoediging

Lied 229 Koor 1x, gemeente 1x Wil, Heer, in liefde U ontferm  (sit)

Bounchan se passie vir die Woord

Daar is ‘n rede waarom ons op die Bybel, die Woord van God, fokus in ons prediking, trouens in alles wat ons doen.  Ons bely van die Bybel dat ons daarin die lewende stem van God hoor.

Ek het dié week die video gekyk van ‘n man in Noord-Laos, Bounchan, wat hierdie boodskap van die Woord op só ‘n treffende manier onderstreep.  Hy was ‘n assistent goewerneur in die kommunistiese regering.  Maar met sy bekering tot die Here Jesus Christus deur die werk van Voice of the Martyrs – ‘n wonderlike storie, lees dit op hulle webtuiste – is hy afgedank en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis in 1999.  Hy is vir dae lank gemartel, in eensame aanhouding opgesluit, en het niks gehad wat hom kon ondersteun nie.

Hy het begin ervaar dat sy geloof kwyn veral omdat hy later moeite gehad het om Bybelverse te onthou om in sy gebede te gebruik.  Hy sê: “The worst time was from 1999 to 2001 — about three or four years — because in that time, I didn’t have a Bible. I was also just a new believer, but I still had peace in my heart. When I got a Bible or radio, I would read and listen to grow my faith every day.

Gelukkig het hulle hom na so ‘n paar jaar weens sy goeie gedrag begin vertrou om alleen hout te gaan kap in die oerwoud rondom hulle.  Dit was sy kans.  Hy het seker gemaak dat hy genoeg hout vir twee dae kap, en die tweede dag te gebruik om die pad na sy vrou se huis te neem, nie te ver vandaar af nie.  Maar, belangrik, nie om te ontvlug nie, want dit sou haar lewe in gevaar stel.  Om ‘n paar Bybels te gaan haal om in die tronk te kan wegsteek en te lees.  Hulle het telkens van die Bybels afgevat, maar nooit almal gekry nie.

Hierdie toegang tot die Bybel het hom enduit laat volhard in die tronk.  Hy kon weer die lewende stem van God daarin helder en genoegsaam vir sy lewe hoor.  Die Bybel het egter nie net homself versterk nie.  Dit het tot getuienisgeleenthede gelei in die tronk onder die bewaarders.  Sy storie is ook mettertyd wyd versprei in die buiteland.  Dit het uiteindelik gelei tot sy vrylating in 2012, onder andere deur die baie briewe wat aan hom persoonlik in die tronk geskryf is, tot groot konsternasie van die bewaarders.

Sy storie onderstreep vir ons die ongelooflike sentrale rol wat die Bybel in ons geestelike lewe speel, nie net in terme van die padkos wat dit vir ons verskaf nie, maar vir die sleutelrol wat dit in ons volharding speel, selfs wanneer ons geloof tot die uiterste toe getoets word deur vervolging en ontbering.

Skriflesing

2 Petrus 1:16-21 – Die Getuienis oor Jesus Christus is betroubaar

16 Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie. Inteendeel, ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid. 17 Nadat Hy van God die Vader eer en heerlikheid ontvang het, toe die Luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê: “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly,” 18 het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was. 19 En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte. 20 Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. 21 Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie; maar meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is. (BDV)

Inleiding (kindertyd)

Ek het vier kinders gevra om my te help.  Hulle gaan ’n eksperiment uitvoer.

Ek wil hê een van die vier kinders (#4) moet uit die kerkgebou gaan en vir hom ’n blaar in die tuin te gaan pluk.  Die ander drie kinders moet voor die preekstoel wag.

Ek draai dan om om op die kansel iets agter my op te tel. Terwyl ek wegkyk, stamp een van die kinders (#1), ’n ander kind (#2) rond.  

#2 teken hardop protes aan, waarop ek terugdraai en wil weet wat aangaan.  

#2 kla dat #1 aan hom/haar gestamp het.  #1 ontken dit heftig.

Die kind wat gesien het wat gebeur (#3), bevestig dit dat #2 rondgestamp is, waarop #4, wat van buite af ingekom het, dan bykom in die gesprek.  Hy sê byvoorbeeld dat dit glad nie waar is nie, want #2 is kleinserig en wil #1 altyd net in die moeilikheid bring.

Vra nou die kinders en die gemeente wie die mees betroubare getuie is:  #1, 2, 3, of 4?

In ’n hof sal #3 natuurlik as die enigste betroubare getuie gereken word.

’n Moontlike verduideliking daarvoor is dat #3 nie self by die situasie betrokke was nie, maar dat hy wel ’n ooggetuie was van wat gebeur het.  #1 en 2 was betrokke en is daarom deel van wat gebeur het en #4 het niks gesien nie.

Dit is wat ons in hierdie brief ook sien.  Petrus wil die gemeente oortuig dat hy Getuie #3 is, ’n getuie wat regtig geglo kan word.  Hy was saam met Jesus op die berg van verheerliking.  Jesus se klere het wit soos die son geword.  Jy kon sommer sien Hy is God.

Daarom kan Petrus met gesag praat.  Hy weet waarvan hy praat, want hy was daar.  Hy was ‘n ooggetuie.  Hy beklemtoon vir die lesers van sy brief:  “Ek weet dis waar, want ek het dit regtig sien gebeur.

Daarom kan ons die Bybel ook glo, want Petrus het hierdie brief geskryf, sodat ons ook in Jesus kan glo.

Flam 117 Loof Hom met die tromme, loof Hom met die harp – sit

Gebed

Interpretasie (prediking)

God se teenwoordigheid in die woestyn

Die reis van die Israeliete in die woestyn roer my.  Van plek tot plek reis hulle in ‘n onherbergsame woestyn.  Soms is daar bitter water soos by Mara.  Ander kere is daar ‘n oorvloed van water soos by die twaalf fonteine van Elim.  Soms het hulle geweldige gebrek.  Ander kere te veel kwartels om van te eet.  Soms veg die Here vir die volk teen farao en kan hulle toesien hoe Hy die oorwinning vir hulle behaal.  Al die soldate sink in diepte af hulle dood tegemoet.  Ander kere moet hulle self veg, soos teen die Amalekiete, met Moses se arms wat deur Aäron en Hur omhoog gehou word.

Dit is só ‘n inspirerende voorbeeld van hoe ons eie reis met God ook verloop.  Daar is soms bitter tye, swaar tye, moeilike tye.  Daar is soms oorvloed, meer as wat ons mooi weet hoe om te hanteer.  Soms laat God alles vir ons op ‘n lieflike manier saamwerk.  Soms moet ons hard werk in die vestiging van God se koninkryk in ons deel van die wêreld.

Maar wat my veral tref van die reis deur die woestyn is dat daar drie dinge is wat die Here vir hulle aanvanklik gee om aan vas te hou (Eks. 15).

Eerstens is daar die kragtige teenwoordigheid van die Here in die wolk- en vuurkolom.  Hulle trek die hele tyd in die bewuste teenwoordigheid van die Here.  Telkens ervaar hulle die wondertekens van God se voorsiening.  Die bitter water by Mara word soet.  Hulle honger word deur die kwartels en die manna gestil.  Hulle sien hoe die Here water uit ‘n rots vir hulle gee.

Die tweede is die feit dat hulle ooggetuies is, nie net van die plae in Egipte en die wonderlike Uittog nie.  Ook van die farao se soldate wat verdrink in die see, en die verskillende wondertekens regdeur hulle tyd in die woestyn.  En later selfs van die Intog in Kanaän.  Hulle hoef mekaar nie te oortuig en sê, ja, maar dit is God wat dit gedoen het nie.  Die wonderwerke is iets wat hulle self gesien het.  Hulle was ooggetuies.

Jy hoef die Israeliete nie te probeer oortuig van die waarheid van die wonders in die woestyn nie.  Selfs die kinders kon dit sien en daarvan getuig.  En dit sou só wees ook met hulle kinders en hulle kleinkinders in die beloofde land.  God se kragtige teenwoordigheid sou daarvoor sorg.

Maar, daar is ook ‘n derde ding wat die Here hulle gee.  Hy gee van die begin af vir hulle riglyne vir die pad, padkos vir die gees.  Bv. reg na die redding by die Rietsee gee Hy hulle ‘n drievoudige vaste reël.  Die Here vra van hulle dat hulle:

  1. na Hom sal luister,
  2. sal doen wat reg is in sy oë, en
  3. alles sal doen wat Hy hulle beveel.

Die belofte wat Hy daaraan koppel, is dat hulle dan nooit deur die siektes (plae) van Egipte getref sal word nie.  Hy sal hulle gesond hou.

En dié riglyne sou ‘n besondere diepte kry in die Tien Gebooie wat op Sinai vir hulle gegee is, ‘n riglyn vir die lewe wat uiteindelik sou groei tot die hele korpus van boeke van die Pentateug, die Tora, en uiteindelik die OT en met verloop van eeue tot die hele Bybel, die NT ingesluit.

God gee dus nie net sy kragtige teenwoordigheid in die gebeure van elke dag nie.  Hy gee hulle nie net die voorreg om ooggetuies te wees van sy wonderdade nie.  Nee, Hy gee hulle ‘n geskrewe rekord van sy wil vir die lewe, iets wat vir altyd by hulle kan bly en hulle geestelik kan voed selfs wanneer hulle nie die fisiese wonderwerke van God kan ervaar nie.

Dít is wat die Bybel vir ons vandag ook is, riglyne vir die pad, padkos vir die gees, ‘n manier waarop ons nie net afhanklik is van ‘n wolk- of vuurkolom nie, maar God se teenwoordigheid in die Skrifte en in die begeleiding van die Heilige Gees self kan ervaar.  En daarmee saam raak ons ooggetuies van God se wonders wanneer ons die Bybel lees en daarna luister en daaruit leef.

Baie van julle kom kerk toe vir padkos, vir iets om saam te neem op julle geestelike reis deur die wêreld.  En daarmee is niks verkeerd nie, behalwe as julle dit van die prediker verwag.  Want, dít kan ek nie vir julle gee nie.  Net die Here kan dit doen, deur sy Woord en sy Gees.

Ek moet maar net soos julle leer om die brood van die Woord as padkos vir myself te neem.  My werk as leraar is om vir julle die Woord van God só oop te breek dat julle self die manna daarin kan optel en die kwartels daarin kan raaksien en as padkos kan gebruik.  Ek moet julle leer om te onderskei wat God vir ons in sy Woord gee sodat julle daaruit kan leef – persoonlik, deur ervaring geoefen – sodat die Woord vir julle ‘n onuitputlike bron van padkos vir die lewe word, die koskas van God se voorsiening.

En ek wil nou vir julle wys hoe die brief van Petrus presies dieselfde tipe goed beklemtoon as wat die verhaal in Eksodus dit gedoen het, net met die groter detail van die volle openbaring van die Here Jesus Christus deur sy Woord en Gees wat daarby gevoeg is en vir ons ‘n wonderlike werklikheid geword het.

Afskeidsboodskap van Petrus

Die tweede brief van Petrus is ‘n afskeidsboodskap van die apostel Petrus aan die geloofsgemeenskap in gebiede van wat vandag die moderne Turkye is: destyds Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.  Die brief is waarskynlik uit Rome geskryf in die tyd van keiser Nero.

Petrus is bekommerd oor die dwaalleraars in die gemeente wat hulle kan laat twyfel dat die boodskap van Jesus Christus betroubaar is.  Hy waarsku hulle daarom dat die vals leraars vernietigende ketterye sal insmokkel in hulle geloofsgemeenskap wat nie net tot losbandigheid kan lei nie, maar hulle selfs kan verlei om van die Here Jesus self afvallig te raak onder andere deur die wederkoms te ontken.  Hierdie dwaalleraars het net oor die hiermaals gepraat, nie die hiernamaals nie, en gesê dat ‘n mens eintlik maar kan leef soos jy wil (2 Pet. 3:4).

Petrus wil hulle aanmoedig om vas te hou aan die ware evangelie: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Pet. 3:18). Hulle geloof is net te kosbaar (2 Pet. 1:1) dat hulle deur roekelose en arrogante mense (2 Pet. 2:10) op ‘n dwaalspoor gelei mag word.

Petrus is ook baie bewus van sy naderende dood (2 Pet. 1:14) en wil vir oulaas met hierdie skrywe hulle help om aan die verdorwenheid, die verderf van die wêreld, te ontvlug (2 Pet. 1:4). Hy wil hulle help om te bly fokus op God se goddelike krag wat hulle alles gegee het wat hulle nodig het vir ‘n toegewyde lewe (2 Pet. 1:3). Dan weet hy sal hulle nie struikel voor die uitdaging van die dwaalleraars nie (2 Pet. 1:10).

Omdat hierdie God op só ‘n kragtige manier in hulle werk, hét hulle die vermoë om nee te sê vir die uitdaging van die dwaalleraars, kán hulle ‘n heilige lewe lei wat aan God toegewy is, en sál hulle nie hulle standvastigheid verloor nie. “Die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus,” sal daarvoor sorg (2 Pet. 1:16).

Die getuienis oor Jesus Christus is betroubaar

Ons teks fokus spesifiek op die getuienis oor Jesus Christus wat betroubaar is.  Dit is die hoofbestanddeel van die padkos wat die Here vir ons vandag saam gee.  Die getuienis oor Jesus Christus is betroubaar.  Jy kan daarop staatmaak.  Dit is ware voedsel vir die gees.

Petrus herinner hulle – met helder, feitelike motivering – dat die getuienis oor Jesus Christus volledig betroubaar is. Dit is nie maar ‘n vindingryke fabel, ‘n goeie storie nie.  Dit is volledig betroubaar.

En dit is ongelooflik interessant hoeveel raakpunte Petrus se beskrywing van die geestelike lewe met die verhaal in Eksodus het.  Dieselfde drie dinge wat die volk in die woestyn ondersteun het, is die dinge wat dit nou ook in die kerk van Jesus Christus doen.

  • In die eerste plek, sê Petrus, is die evangelie betroubaar vanweë God se kragtige teenwoordigheid in die verkondiging aan hulle in Turkye (2 Pet. 1:16). Die geloofsgemeenskap het sy krag in hulle lewe ervaar toe hulle tot geloof gekom het. Hulle kon dus self getuig van die krag en betroubaarheid van die Here Jesus en sy lewende teenwoordigheid, soos die Israeliete dit destyds ervaar het met die wolk- en vuurkolom in die woestyn.  Hulle lewens wat verander het as gevolg van die kragtige teenwoordigheid van die Here in hulle lewe, was die getuienis daarvan.

Dit is iets waarvan ons ook kan getuig in ons gemeente.  Elke keer as ons saam hier die Here aanbid, elke keer as ons in ‘n kleingroep gesels oor die groot dinge wat die Here vir ons doen, elke keer as ons na iemand se storie van voorsiening en begeleiding luister, kom ons in die teenwoordigheid van die Here, deel ons in die wonder van die krag wat Hy in ons lewens ten toon stel.

  • Die getuienis oor Jesus Christus is in die tweede plek betroubaar weens die ooggetuie karakter van Petrus se eie ervaring daarvan tydens Jesus se lewe op aarde (2 Pet. 1:17-18).  Petrus verwys hier na die ervaring wat hy met Jesus en twee ander dissipels op die berg van verheerliking gehad het (Matt. 17). Hy het nie net die eer en heerlikheid van Jesus met sy eie twee aanskou nie, maar die stem van God met sy eie twee ore uit die hemel gehoor, wat gesê het: “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly.” Dit is iets wat selfs Paulus nie beskore was nie, en daarom ‘n baie kragtige ondersteuning van die betroubaarheid van die getuienis oor Jesus Christus.

Maar, dit was natuurlik iets soortgelyks as wat ook die Israeliete in die woestyn ervaar het, en persoonlik van kon getuig.  Die Israeliete was ook ooggetuies van God se werk.  Almal in die woestyn kon self sien wat God doen.  Só was dit nou ook vir Turkse Christene beskore, al was dit op ‘n ander manier. Só is dit ook vir ons beskore. Ons raak ook ooggetuies van dié dinge wat God ook vandag nog doen.

  • Die getuienis oor Jesus Christus is in die derde plek betroubaar weens die getuienis daaroor in die Skrifte, soos die Heilige Gees dit aanwend en uitlê, wat hulle die regte begrip van al dié dinge kan gee (2 Pet. 1:19-20). Dít is uiteindelik die belangrikste deel van hulle fokus in hulle geestelike groei: “Julle doen die regte ding as julle daarop fokus soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte.

Waar die Israeliete aan die begin van hulle reis net drie woorde van God gehad het om op te fokus, later tien woorde, later vyf boeke, die Tora, en later die hele OT van 39 boeke, só het ons daarby nog die hele NT se 27 boeke ekstra ook.  ‘n Ongelooflike koskas waaruit ons na hartelus padkos vir die lewe kan uithaal.

Hiermee verwys Petrus na die fokus op die Skrif onder leiding van die Heilige Gees totdat daar begrip van God se woord vir ons lewe kom en dit ons lewe verander. Petrus gebruik die metafoor van die môrester hier as ‘n vergelyking met die boodskap van die profete wat is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn.

  • Dat die môrester moet opkom in “julle harte” beteken dus, figuurlik gesproke, dat hulle op die Skrif moet fokus, spesifiek ook die boodskap van die profete, totdat hulle dit deeglik verstaan. En hulle daaruit en daarvan kan lewe.
  • In die verlengde van hierdie metafoor moedig Petrus ons ook aan om te volhard met die Woord totdat die Here Jesus kom.

Dit is dié tipe volharding met die Woord van God wat ‘n mens deur alle situasies kan versterk om te volhard.

Ons kan self die betroubaarheid van die evangelie ervaar in ons lewe

Petrus laat ons dus op geen manier onseker oor die betroubaarheid van die inhoud van ons geloof, Jesus Christus, nie.

  • Petrus nooi ons uit om die betroubaarheid van God se betrokkenheid in ons lewe eerstens self te ervaar in die kragtige teenwoordigheid van die Here Jesus Christus onder ons.
  • Hy help ons verstaan dat ons kan leer by Petrus se ooggetuie verslag as begronding daarvan. Want, soos ons die pad met die Here stap, raak ons natuurlik self getuies van die wonderdade wat die Here ook in ons lewe bewerk.  En dan kan ons self vir ander daarvan vertel en deel raak van die uitkringende boodskap van die evangelie wat die werklikheid van God se teenwoordigheid onder ons laat gebeur.  Ons raak self ooggetuies.
  • En ons kan die Skrifte lees, onder leiding van die Heilige Gees, sodat die boodskap daarvan ons van binne af kan oortuig van die waarheid daarvan. Watter voorreg! Ons kan dit elke dag doen, en die boodskap wat ons vir daardie dag nodig het, sal ons kry, en sal ons vir daardie dag die geestelike voedsel gee wat ons nodig het. En ons moet daarin volhard totdat die Here Jesus weer kom.  Dit is die lewensbloed in ons volharding as dissipels van die Here Jesus Christus.

Daar is niks wat jou lewe só kan verander as wanneer jy persoonlik daarop fokus en toelaat dat die lewende stem van God daardeur met jou praat nie.

Rose Price se ontmoeting met Jesus in die Woord

Ek sluit af met die verhaal van ‘n Joodse vrou, Rose Price, wat eerstehands die krag van die Woord ervaar het. Ek vertel dit as ‘n aanmoediging dat jy die boodskap van Jesus in die Bybel die fokus van jou geestelike lewe maak.  Dit is iets wat niemand anders vir jou kan gee nie, net jyself.

Rose het die hel van die Duitse holocaust van die Tweede Wêreldoorlog oorleef, in ses van die strafkampe in Poland en Duitsland.  Elke keer wat sy deur een van die Duitse wagte geslaan is, het hulle vir haar gesê: “Jesus het vir ons gesê om jou te slaan.  Jesus haat julle.” Maar sy het die ontbering en marteling oorleef.

Rose het ná die oorlog na Israel toe geëmigreer met ‘n groot haat in haar hart vir hierdie Jesus.  Later is sy Amerika toe waar haar dogter aan die ware geloof in Jesus blootgestel op een van die skole blootgestel is, en tot bekering gekom het.  Dit was vir haar ongelooflik erg.  Hoe kon haar dogter in Jesus glo as die Messias as dit juis sy mense was wat haar so geslaan en gemartel het in die Duitse strafkampe?

Toe haar man ook tot bekering gekom het weens die getuienis van hulle dogter, was sy genoodsaak om haar deeglik te vergewis van die ware feite.  Sy het in haar kelderverdieping haarself afgesonder met die Bybel om self uit te vind wat die Bybel sê oor Jesus.    Sy wou haar dogter en man verkeerd bewys.  Hierdie Jesus kan nie van Jode hou nie.  Sy moes Hom aan die kaak stel.

Na vyf dae se lees – sy het nie huis gehou nie, sy het nie kos gemaak nie, sy niks skoongemaak nie, en niemand mag naby haar gekom het nie – het sy tot die insig gekom dat die Jesus van die Bybel heel anders was as die Jesus van die strafkampe.  Sy het agter gekom dat dit nie die Jesus van die Bybel is wat haar in ‘n strafkamp gesit het nie.  Nee, dit was mense wat Hom nie gedien het nie. Dit is nie Jesus wat haar geslaan het nie.  Dit was mense wat Jode gehaat het.

Haar lewe is verander toe sy agterkom – op grond van haar eie studie van die Bybel – dat Jesus regtig die Messias is wat haar nie net liefhet nie, maar haar sondes aan die kruis vergewe het, en bereid wat om haar ‘n nuwe lewe te gee.

Dit is wat ‘n gefokusde aandag aan die boodskap van die Bybel aan ons doen. Dit is wat gebeur as jy: “die regte ding doen, en op die Bybel fokus soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in jou hart.” Die Bybel kan vandag nog dieselfde vir jou doen.

Dankoffers     

Koor:  Lofprysing  Loof die Heer  Lied 221/226/222

Slotsang

Lied 439 O Heil’ge Gees, o God in ons, ons wil u krag besing  (staan)

Seën

Respons

Lied 439 v1 se laaste twee reëls:  Maak ons oorwinnaars in die stryd wat ons ook nou moet stry. O Gees van God, getuig in ons, dat ons u kinders bly

Orrelnaspel    

Lied 439  O Heil’ge Gees, o God in ons, ons wil u krag besing!

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.