Geloof in die smeltkroes – Daniël 3

Dit is onvermydelik dat ons geloof van tyd tot tyd in die smeltkroes kom van die lewe se uitdagings.

Ek lees die week in die Huffingtonpost die verstommende statistiek dat vervolging van gelowiges eerder toeneem as afneem.  Dit berus op die Pew Research Center se wêreldwye navorsing, wat veral erge vervolging in die Midde-Ooste en Noord-Afrika uitwys.  Daar is ’n wydverspreide vyandigheid teenoor mense van ander godsdienste, soos nou onlangs weer in Egipte teenoor Koptiese Christene.  En die omvang van regerings se inperking van godsdiensvryheid bly verstommend hoog.  Om die waarheid te sê, die plekke in dié wêrelddele waar daar sektariese of gemeenskapsgeweld is, het verdubbel in 2011, dié jaar wat ons sal onthou as die Arabiese Lente.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Vonkk 40 – “Kom en vul ons met vrede” Gemeente – Afr.; Koor – Eng.; Gemeente – Afr. – sit

Liedboek 221 – “Loof die Heer” – sit

Votum en seëngroet

Lofsang

Vonkk 124 – “Jesus bring vreugde” – staan

Psalm 112 – “God wat oorvloed het, voorsien” Gemeente keerverse; Koor Psalmverse – sit

Vonkk 104 – “Wat ’n vriend het ons in Jesus” – staan

Gebed

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Kindertyd

’n Mens se naam is darem maar spesiaal nê!

Ma’s en Pa’s bestee baie tyd om vir julle net die regte naam uit te kies.  Soms is dit net omdat dit mooi klink.  Soms is dit omdat die naam vir hulle baie betekenis het.

Weet jy wat is spesiaal aan jou naam?

Ek gaan vandag vir julle vertel van Daniël se drie vriende.

Dit is ’n verhaal van lank-lank gelede.

Die drie vriende van Daniël was nog jonk toe hulle saam met hom weggevoer is na ’n vêr en vreemde land.  Die drie vriende was Gananja, Misael en Asarja.

Dit was baie spesiale name:

  • Gananja – “Die Here is genadig”;
  • Misael – “Wie is soos God?”;
  • Asarja – “Die Here het gehelp”. 

Hulle was ook baie spesiale jongmense. Hulle was só besonders dat hulle gou raakgesien is en uiteindelik vir die koning gewerk het.

Maar toe gebeur daar ’n ding.  Die koning het ’n groot beeld laat maak en beveel dat almal voor die beeld moet buig.

Gananja en Misael en Asarja wou egter nie.  Hoekom nie?  Want hulle wou net vir die Here lief blý. Hulle wou nie voor ’n afgod buig nie.

Die koning was baie kwaad.  Hy het ‘n oond van vuur laat maak en gedreig om hulle daar in te gooi.

Weer vra hy vir hulle, buig voor die beeld, dan sal ek julle los.

Maar hulle wou  nie.  Hulle sê vir hom, ons God kan ons red uit die vuur van dié oond.  Selfs as Hy dit egter nie doen nie, sal ons nie voor die beeld buig nie.

Toe bind die koning hulle vas en laat sy soldate vir hulle in die vuur gooi.

Wat dink julle gebeur toe?

Die koning het so van vêr af deur ’n skrefie in die oond ingekyk en wat sou hy sien?  Daar loop die drie vriende sonder enige toue in die oond rond.  Hulle brand nie en hulle kom niks oor nie.

En toe hy goed kyk, toe sien hy maar daar is vier jongmans daarbinne.  Hy dog toe, maar dit moet ’n engel wees wat deur God gestuur is om hulle te help.  Só besef hy toe dat God hulle gehelp het.

Toe besluit die koning, mense moet vir God aanbid en nie meer sy afgodsbeeld wat hy laat bou het nie.

God het vir hulle gesorg toe hulle vas bly glo het in Hom.

God sal ook vir ons sorg as ons vas bly glo in Hom.

En kom ons onthou net weer hulle name.

  • Gananja – “Die Here is genadig”;
  • Misael – “Wie is soos God?”;
  • Asarja – “Die Here het gehelp”. 

Hulle het ervaar dat die Here presies aan hulle gedoen het wat hulle name beteken het.

Skriflesing

Die verhale en visioene van die boek Daniël speel af teen die agtergrond van die ballingskap van Juda in Babel.  Die jong Daniël word deur Nebukadnesar weggevoer saam met ’n hele aantal ander jongmanne, net ná Nebukadnesar in 605 v.C. die Egiptiese leër by Karchemis oorwin het.  Die ballingskap van Daniël was dus een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die onderskeie konings van Babel was.

Die boek is in twee duidelike dele opgedeel waarin God se betrokkenheid by sy mense sowel as in die wêreld en heelal geïllustreer en beskryf word deur:

  1. Ses verhale van Daniël (Beltsasar), sy vriende, naamlik Gananja (Sadrag), Misael (Mesag) en Asarja (Abednego), tydens die ballingskap in Babilon – hfst. 1-6;
  2. ’n Reeks van vier apokaliptiese visioene, waarin die gordyn op die koms van die koninkryk oopgetrek word en die invloed en impak wat dit op die magte en kragte van die aarde en die hemel sal hê – hfst. 7-12.

Aan die eenkant demonstreer die boek Daniël God se voorsiening en versorging vir dié wat aan Hom getrou en lojaal bly ten spyte van talle uitdagings (Daniël en sy drie vriende), sowel as sy aanvaarding van enigiemand wat hul vertroue in Hom plaas, selfs heidense konings (Nebukadnesar, Darius).

Aan die anderkant demonstreer dit God se invloed en ingrype in die geskiedenis wat nie net die wel en weë van konings en koninkryke bepaal nie, maar afstuur op ’n finale afrekening met die boosheid van die mensdom en die vestiging van Sy koninkryk.

Terloops: in die Rooms-Katolieke en Ortodokse kerke se weergawe van Daniël is daar ook ’n hoofstuk 13 en 14 bygevoeg wat op die LXX (Griekse vertaling van die OT) berus en in die Vulgaat (Latynse vertaling van die Bybel) opgeneem is.  Dit is ook hoe die eerste Engelse King James vertaling dit gehad het.  Die hoofstukke handel oor die innemende verhaal van Susanna en die Oudstes wat deur Daniël van valse beskuldigings gered is (hfst. 13) en die  verdere twee verhale oor Daniël se ontbloting van bedrog rondom die afgod Bel (onthou sy Babiloniese naam is Beltsasar: “prins van Bel”) en sy oorwinning van ’n draak, getiteld Bel en die Draak (hfst. 14).  Daar is ook ’n byvoeging in hfst. 3 as deel van die verhaal van die drie vriende in die brandende oond: Die gebed van Asarja (Abednego) en die lied van die drie heilige jongmense wat veral interessant sou wees vir julle om te lees na aanleiding van ons fokus vanoggend op Daniël 3.

Die boek begin met twee verhale van Daniël.

  • Die eerste verhaal stel Daniël aan ons bekend as ’n besonder wyse jongman wat uitblink in die uitleg van gesigte en drome – hfst. 1.
  • Die tweede verhaal gaan vêrder en stel Daniël aan ons bekend as iemand wat in kontak is met dié God wat geheime kan openbaar, selfs die drome van die koning – hfst. 2.

Die twee verhale dien ook as ’n tekening van God as Iemand wat nie net agter die skerms mense se wel en weë as’t ware onsigbaar bestuur nie, maar self in gesprek tree met hulle selfs in hulle mees private en intieme droomwêreld.  In die proses skuif die gordyn op die toekoms op ’n skrefie oop in die uitleg van die droom van Nebukadnesar.

Die boek vervolg met twee verhale van geloof in God.

  • Die eerste verhaal handel oor die standvastige geloof van Daniël se drie vriende wat volgehou word selfs al moet hulle die brandende oond daarvoor trotseer – hoofstuk 3 – waarop ons gaan fokus.
  • Die tweede verhaal handel oor die geloofsbelydenis van Nebukadnesar wat aan die wêreld van sy tyd uitbasuin dat God bo alles Koning is, ná hy deur sy eie smeltkroes van verstoting moes gaan – hoofstuk 4 – lees dit gerus.

Daniël 3

Ons lees die hele hoofstuk.

Woordverkondiging

Vervolging wêreldwyd

Dit is onvermydelik dat ons geloof van tyd tot tyd in die smeltkroes kom van die lewe se uitdagings.

Ek lees die week in die Huffingtonpost die verstommende statistiek dat vervolging van gelowiges eerder toeneem as afneem (http://www.huffingtonpost.com/2013/06/21/religious-oppression-rises-arab-spring_n_3474747.html).  Dit berus op die Pew Research Center se wêreldwye navorsing, wat veral erge vervolging in die Midde-Ooste en Noord-Afrika uitwys.  Daar is ’n wydverspreide vyandigheid teenoor mense van ander godsdienste, soos nou onlangs weer in Egipte teenoor Koptiese Christene.  En die omvang van regerings se inperking van godsdiensvryheid bly verstommend hoog.  Om die waarheid te sê, die plekke in dié wêrelddele waar daar sektariese of gemeenskapsgeweld is, het verdubbel in 2011, dié jaar wat ons sal onthou as die Arabiese Lente.

Die Pew navorsing van die situasie in 198 lande in die wêreld wys uit dat die lande met hoë of baie hoë beperkings op godsdiensvryheid van 37 % tot 40% gestyg het in 2011. Dit raak meer as 5.1 miljard mense (74 % van die wêreldbevolking) omdat dié lande ook van die digsbevolkte lande in die wêreld is.  Christene word in die meeste van dié lande vervolg, maar dit tref ook Moslems en Jode.  Selfs Boeddhiste word vervolg.

Die wêreld is nie veilig vir gelowiges nie

Ons leef in ’n wêreld wat nie veilig is vir mense wat glo nie en veral nie veilig is vir mense wat anders as die meerderheid glo nie.

Dit is dus onvermydelik dat almal wat wil bly glo aan die smeltkroes van teenstand en vyandigheid blootgestel sal word.  Dit sluit ons in.  Daarom het ons nodig om onsself te ondersoek oor die gehalte en kosbaarheid en bevestiging van ons eie geloof – selfs al word ons nie aan die intensiteit of brutaliteit van sommige van die vervolgings van ons tyd blootgestel nie.  Ons het natuurlik in ons land ander sagter uitdagings in ons geloof, dinge wat met ons lewenstyl en ons keuses te make het – en dié gedagtes uit Daniël kan ons ook met dié uitdagings help.

Nebukadnesar beperk geloofsvryheid

Nebukadnesar se beeld is waarskynlik geïnspireer deur die beeld in sy droom (hfst. 2).  Daar is hy en sy koninkryk geteken as die hoof van goud, die belangrikste deel van die beeld wat die opeenvolgende koninkryke van die wêreld voorstel.  Toe skep hy ’n beeld wat sommer heeltemal van goud is.  Die dimensies van die beeld – 30×3 meter – beteken waarskynlik dat hy ’n voetstuk gemaak het waarop die beeld geplaas is.  Anders sou dit baie onstabiel gewees het.

Hy skep daarmee ’n simbool van sy universele mag waaraan hy goddelike eienskappe koppel deur van almal te verwag om daarvoor neer te buig en dit te aanbid.  Hy beperk dus op groot skaal die vryheid van godsdiens in sy ryk wat die tafel dek vir ’n groot konfrontasie met eintlik alle godsdienste, maar verseker ook in dié geval die klompie Jode in Babel wat aan God getrou wil bly.

Op die koop toe skep sy inperking van godsdiensvryheid ’n geleentheid vir sekere jaloerse Galdeërs om die drie vriende van Daniël in diskrediet te probeer bring.  Uit die verhaal lyk dit asof hulle die drie vriende vals beskuldig het, hoewel dit ook darem duidelik in die gesprek met Nebukadnesar blyk dat die drie vriende nie van plan was om te buig nie.

Vol van bravade oor sy eie mag beveel Nebukadnesar dan die drie vriende om te buig voor sy beeld, want: “Watter god sal julle uit my mag kan red?” (3:15).  Daar is nie enige onsekerheid nie.  Dit is Nebukadnesar se beeld, dit is sy visie op die lewe, dit is sy manier van aanbid, óf die brandende oond.  Uit eerbied vir die rol wat hulle al gespeel het in die ryk, gee hy hulle darem kans om van plan te verander.

Hoe sou jy maak?

Stel jouself in hulle plek.  Jy is in die vreemde.  Jy het baie min van ’n ondersteuning sisteem.  Jy is in die koning se diens en skuur die hele tyd skouers met mense van ’n ander godsdiens.  Die koning hou van jou en hy waardeer jou.  Maar hy is ook baie duidelik.  Jy moet sy beeld aanbid … of jy sterf ’n aaklige en vernederende vuurdood.

Hoe sou jy maak?

Die drie vriende is onwrikbaar gelowig

Die drie vriende knip egter amper nie ’n oog nie en sê dat hulle nie ’n antwoord aan Nebukadnesar verskuldig is nie.  Hulle het hul God wat hul dien, sê hulle, en Hý het die mag om hulle te red van die kwaad wat hulle aangedoen kan word.  Aan Hom wil hulle getrou bly, selfs al gee Hy nie nou vir hulle verlossing van dié vuur nie.

Hulle deins nie terug vir die uitdaging nie.  Hulle wyk nie af van hulle oortuigings nie.  Selfs nie ’n millimeter nie.  Hier staan ons.  Ons sal nie anders nie.  Onwrikbaar.  Onversteurbaar.  Onvergeetbaar!

Hoekom?

Hoekom?  Wat het hulle geïnspireer om só vas te staan?  Wat het hulle hierdie ruggraat van yster gegee om te sê, Nee, ons sál nie?

Wat dié drie vriende gehelp het om vas te staan, is dat hulle reeds deur 2 groot ervarings was van God se sorg waar hulle aan Hom getrou gebly het.

God bevestig hulle in hulle geloof

In hoofstuk 1 word vertel hoe hulle die hoofpaleisbeampte, Aspenas, vra om vrygestel te word van die afgodsvleis en drank en die Here sy hart gunstig gestem het teenoor hulle.  Dit was boonop ’n wen-wen situasie vir hulle en Aspenas – hulle kon die kos en drank vermy en hy het gesonde mense gekry. Hulle het egter nie net beter vertoon as die ander jongmanne nie. God het hulle as ’n bonus verstommende wysheid gegee om enige visioen en droom te kan uitlê.  Natuurlik omdat Hy iets beplan het vir die toekoms!

Hulle was dus al deur ’n ervaring waar hulle getrou gebly het aan hulle geloof en waar hulle ervaar het dat die Here hulle onderskeiding en wysheid gee en dat dit suksesvol was.  Hulle is bevestig in hulle geloof.

God antwoord hulle gebede

In hoofstuk 2 word vertel hoe hulle voor ’n groter toets gestel word toe Nebukadnesar nie net die uitleg van sy droom wil hê nie, maar sommer ook die droom self, sonder dat hy dit vir hulle vertel!  In ’n roerende gebed vra hulle van die Here om die geheim van die droom te ontrafel en Hy gee dit vir hulle.  So kan hulle nie net hulle eie lewens red nie, maar ook die boodskap van die Here aan Nebukadnesar deurgee.

Hulle was dus ten diepste op ‘n geestelike vlak aan God verbind.  Die probleme wat hulle ervaar het in die lewe, die dinge wat moeilik was om mee te handel, dié het hulle voor God gebring en volgehou daarmee tot hulle antwoorde kry.

Hulle name herinner hulle daaraan dat hulle aan God behoort

Maar daar is ook ’n ander ding wat hulle gehelp het.  Hulle ouers het hulle besondere name gegee wat hulle telkens herinner het aan die feit dat hulle aan God behoort het (Daniël se naam het “God is my regter” beteken).

  • Gananja – “Jah(wê) is genadig”;
  • Misael – “Wie is soos God?” of “voorsiener”;
  • Asarja – “Jah(wê) het gehelp”. 

Die betekenis van dié name het hulle gehelp om die aanslag van die koning op hulle geloof te deurstaan.  Ek wil nou nie te veel van hulle name as sodanig maak nie, maar ek wil wel die rol van hulle ouers en hulle afkoms beklemtoon.  Die ouers het aan God gedink toe hulle vir die drie vriende name gegee het.  Hulle het die drie jongelinge daarmee opgedra aan die Here en aan sy sorg toevertrou.  Dit kon ander name gewees het, maar die punt is dat hulle iets vir hulle kinders saamgegee het vir hulle geloofsreis deur die wêreld – en dié kinders kon daaraan vashou toe hulle geloof in die smeltkroes van die lewe in die vreemde getoets is.

Hulle geloof manifesteer God se voorsiening en versorging

Hulle sê daarom aan die koning toe hy hulle wil dwing om voor sy beeld te buig en hom te aanbid: “God sal ons ook red uit u mag.  Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”? (3:17-18).

Onwrikbaar.  Onversteurbaar.  Onvergeetbaar.

Die dieper wonder van dié verhaal is dan dat die drie vriende se geloof standvastigheid uitloop op ’n manifestasie van God se voorsiening en versorging van Sy mense.  Hulle kom nie net niks oor in die brandende oond nie, maar beweeg vry en ongedeerd rond daarin saam met ’n vierde persoon wat vir die koning lyk soos “’n seun van die gode” (3:25) en deur hom as ’n engel geïdentifiseer word (3:28 – baie identifiseer die persoon met Jesus in sy preëksistente bestaan).  Die impak op die koning en sy koninkryk is enorm, hoewel dit nog ’n verdere ingrype van God sou neem om die koning regtig te bereik (hfst. 4).

Die boodskap aan ons is dat God genadig is, dat Hy voorsien en dat Hy help, presies wat die name van die drie vriende vir hulle uitgespel het.

Jou geloof is kosbaar – koester dit

Ek wil afsluit met dié oproep:

Ek is baie bewus van die enormiteit van die uitdaging om tussen God en ons geloofsgemeenskap te staan en sy Woord só uit te lê dat dit God se Woord vir jou raak.

Natuurlik beteken dit in die eerste plek dat ek self daarna moet luister en self daaraan gehoorsaam moet wees.  Ook waar my geloof in die branding kom, daar moet ek vasstaan en sal my ervarings en gebede en selfs my naam – volgeling van Christus – my ondersteun.

Maar ek ervaar ’n geweldige erns om jou te herinner aan die geloof wat in jou woon.  Dit is kosbaar.  Dit is die kosbaarste ding wat jy het.  Daar is baie aanslae daarop, ek vermoed die hele rasionalistiese raamwerk waarin ons leef, is miskien jou grootste uitdaging.  Hoe bly ’n mens glo as mense om jou dit afkraak en geen saak het met enigiets anders as wat hulle met hulle sintuie kan waarneem nie?

Jy het nodig om te leer om vas te staan.

  • Elke klein ervaring van God se sorg – as jy net daagliks daarvoor kyk – sal bou aan jou geloof.
  • Elke klein ervaring van gebedsverhoring – as jy net boekhou van wát jy bid – sal bou aan jou geloof.
  • Elke stukkie ondersteuning van ouers, kleingroepe, diensgroepe, jou familie – as jy tyd maak daarvoor – sal bou aan jou geloof.

Daar is nét een manier om te bou aan jou geloof – en dit is om jou aan ervarings met God bloot te stel en nooit op te hou nie en nooit tou op te gooi nie.

Ek wil jou vandag motiveer met die voorbeeld van Daniël se drie vriende – Gananja, Misael en Asarja.  Volg hulle na, sodat jou getuienis ons ander ook kan inspireer om vas te staan selfs as dinge nie uitwerk soos wat ons dink nie.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffers

Slotsang

Liedboek 524 – “God roep ons om met woord en daad” – staan

Seënbede

Respons

Liedboek 524:1 se twee laaste reëls

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment