Skip to main content

Julle is die sout vir die aarde – Matteus 5:13-16

Wat is jou idee van ‘n geseënde en gelukkig lewe?

In die fliek The Pursuit of Happyness is geluk vir Chris Gardner (Will Smith) om ‘n lewe te kan maak waarin hy vir hom en sy seun ‘n toekoms kan verseker. Waarin hy ook ‘n Ferrari kan besit. En hy hét geluk gevind in die besigheidswêreld. Sy droom om bó uit te kom, is bewaarheid.

In die Bergrede spel Jesus sy idee van ‘n geseënde en gelukkige lewe uit. Julle ken dit goed. Maar veral die laaste een verras ‘n mens nogal:

“Geseënd is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.”

Geluk lê in beledigings, vervolgings, en beskuldigings! Wees bly en jubel! Regtig?

Die verklaring hiervoor lê in wat Jesus net daarna sê, oor sout en oor lig.

Download the English Translation: You are the salt of the earth – Matthew 5_13-16.docx

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Toetrede

VONKK 25 (Afr/Eng) In die Heer vind ek al my sterkte – sit

Votum en Seëngroet

Lofprysing en aanbidding

VONKK 2:1-2 Kom juig oor God, sing almal saam (Psalm 66) – staan

VONKK 40 (Afr/Eng) Kom en vul ons met vrede – in kombinasie met:

Lied 221 Loof die Here omdat Hy goed is – staan

Dankoffer

Voorbidding

Siekes

  • Henry Rautenbach, Irma Loots, Jean Struwig, Rencia Gey van Pittius, Yvonne van Rooyen, Theuns Botha.
  • Sarel Schoombie – St Georges opgeneem
  • Nellie Crouse – skouer operasie Vrydag
  • Connie se pa – kanker

Skriflesing en prediking

Julle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld – Matteus 5:13-16

Wat is jou idee van ‘n geseënde en gelukkige lewe?

In die fliek The Pursuit of Happyness, begrond op ‘n ware verhaal, ervaar Chris Gardner (Will Smith) en sy vrou, Linda (Thandie Newton), groot uitdagings. Sy werk dubbel skofte by ‘n  hotelwassery. Hy probeer beendigtheid skandeerders verkoop aan dokters. Die huwelik gaan deur baie trauma, maar Chris bly vasberade om bó uit te kom.

Hy sien een dag ‘n man in ‘n Ferrari, Bob Bridges, wat vir hom besonder gelukkig gelyk het, en  besluit daar en dan om te doen wat Bob doen. Bob as ‘n makelaar, en Chris besluit om deur ‘n onbetaalde internskap – die Series 7 toets – te probeer om ‘n aandelemakelaar te word.

Dit was uiters moeilik vir hom. Maar, terwyl hy en sy seun baie keer in die kleedkamers op die stasie moet slaap, en skaars genoeg het om te eet, maak Chris dit uiteindelik. Hy kry ‘n vaste werk as makelaar. En hy word uiteindelik baie suksesvol met sy eie internasionale besigheid.

Na al die energie wat Chris ingesit het om ‘n vaste werk te bekom, stap hy oor die straat en sê dan: “I walked out of the building, happy. For the first time in a very long time, I was truly happy.”

Geluk vir Chris was om ‘n lewe te kan maak waarin hy vir hom en sy seun ‘n toekoms kon verseker. Waarin hy ook ‘n Ferrari kan besit. En hy het geluk gevind in die besigheidswêreld. Sy droom om bó uit te kom, is bewaarheid.

Hoe gelukkig is jy?

Sielkundiges Peter Hills and Micahel Argyle (School of Psychology, Oxford Brookes University) het die Oxford Happiness-vraelys ontwikkel. Jy beoordeel jouself aan die hand van ‘n aantal stellings oor hoe jy tans geluk ervaar op ‘n skaal van 1-6. Wanneer jy klaar is, stuur hulle jou telling aan jou per e-pos.

Dit is 29 vrae soos:

  1. Ek voel nie besonder tevrede met die manier waarop ek is nie
  2. Ek is baie geïnteresseerd in ander mense
  3. Ek voel dat die lewe baie bevredigend is
  4. Ek het baie warm gevoelens teenoor amper almal
  5. Ek word selde wakker en voel uitgerus
  6. Ek is nie besonder optimisties oor die toekoms nie
  7. Ek vind die meeste dinge amusant
  8. Ek is altyd verbind en betrokke
  9. Die lewe is goed
  10. Ek dink nie die wêreld is ‘n goeie plek nie
  11. Ek lag baie
  12. Ek is baie tevrede oor alles in my lewe
  13. Ek dink nie ek lyk aantreklik nie
  14. Daar is ‘n gaping tussen wat ek graag wil doen en wat ek gedoen het
  15. Ek is baie gelukkig
  16. Ek vind skoonheid in sommige dinge
  17. Ek het altyd ‘n vrolike effek op ander
  18. Ek kan alles inpas wat ek wil
  19. Ek voel nie regtig in beheer van my lewe nie
  20. Ek voel in staat tot enigiets
  21. Ek voel ten volle verstandelik wakker
  22. Ek ervaar dikwels vreugde en ekstase
  23. Ek vind dit nie maklik om besluite te neem nie
  24. Ek het nie ‘n bepaalde sin van betekenis en doel in my lewe nie
  25. Ek voel ek het baie energie
  26. Ek het gewoonlik ‘n goeie invloed op gebeure
  27. Ek het nie plesier met ander mense nie
  28. Ek voel nie baie gesond nie
  29. Ek het nie baie gelukkige herinneringe aan die verlede nie

Gemiddelde tellings is gewoonlik so net meer as 4, sê hulle. Ek is ‘n 4.1. En hulle stuur dan vir jou ‘n program, Appreciative Living, om te werk aan jou geluk.

Wat is Jesus se idee van ‘n geseënde en gelukkige lewe?

In die Bergrede spel Jesus ‘n geseënde en gelukkige lewe uit in nege stellings. Julle ken dit goed – en ek gaan in die Bybelskool fokus op die hele Bergrede die volgende kwartaal.

Ek wil hê julle moet veral die negende saligspreking in gedagte hou:

  1. 3 Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
  2. 4 Geseënd is die mense wat treur, want hulle sal vertroos word.
  3. 5 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf.
  4. 6 Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.
  5. 7 Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.
  6. 8 Geseënd is die mense wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.
  7. 9 Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
  8. 10 Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
  9. 11 Geseënd is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. 12 Wees bly en jubel omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.” 

Geluk lê in beledigings, vervolgings, en beskuldigings! Só sê Jesus. Wees bly en jubel!

Hoe op aarde – wil ‘n mens vra – kan geluk lê in beledigings, vervolgings en beskuldigings?

Dit is goed om te hoor dat ons beloning groot is in die hemele, as ons dit verduur. Dat alles wat ons ly om Jesus se ontwil is, en dat dit ‘n mens kan aanspoor. En om net weer kennis te neem dat dit per slot van rekening die lot van die profete vóór ons ook was. Ons kom dus met beledigings, vervolgings en beskuldigings in groot geselskap.

Maar gelukkig!? Geseënd?! Hoe kan dit wees?

Kom ons lees wat Jesus verder sê direk ná die saligsprekings:

Die bergrede: Sout en lig

(Mark 9:50; 4:21; Luk 14:34-35; 8:16)

13 “Julle is die sout vir die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit deug vir niks meer nie, behalwe om buite gegooi te word sodat dit deur die mense vertrap kan word.  14 “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie. 15 Mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n maatemmer nie, maar op ‘n lampstaander en so gee dit lig vir almal in die huis.  16 “Net so moet julle julle lig voor die mense laat skyn sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.” (BDV)

 ‘n Geseënde lewe

Jesus gee twee metafore of simbole waarmee ons ingesteldheid teenoor die wêreld uitgespel word. Dit is die dinge wat ons geseënd en gelukkig maak, sê Hy:

  • Julle is die sout vir die aarde (gēs) – mense moet God kan proe in ons gedrag. Aarde dui hier op die bewoonde aarde, die mense met wie ons elke dag in aanraking kom. Ons is geroep om hulle lewens smaak te gee, om soos sout in hulle kos te wees.
  • Julle is die lig vir die wêreld (kosmos) – mense moet God kan sien in ons getuienis. Wêreld dui hier op die wêreld sisteem, die mense wat afvallig is van God, en in opstand teen Hom. Ons is geroep om God in hulle lewens te verteenwoordig, om soos lig in die duisternis te wees.

‘n Geseënde lewe is om soos sout en lig oral ‘n verskil te maak, sê Jesus.  Dit is om die God-flavors en die God-colors in hierdie wêreld te versprei, soos Peterson dit so raak beskryf.

God-flavors and God-colors

Let me tell you why you are here. You’re here to be salt-seasoning that brings out the God-flavors of this earth. If you lose your saltiness, how will people taste godliness? You’ve lost your usefulness and will end up in the garbage.”

Here’s another way to put it: You’re here to be light, bringing out the God-colors in the world. God is not a secret to be kept. We’re going public with this, as public as a city on a hill. If I make you light-bearers, you don’t think I’m going to hide you under a bucket, do you? I’m putting you on a light stand. Now that I’ve put you there on a hilltop, on a light stand—shine! Keep open house; be generous with your lives. By opening up to others, you’ll prompt people to open up with God, this generous Father in heaven.” (Matthew 5:13-16 in The Message)

Ons roeping is om die persoonlike lewens van mense op aarde met smaak en geur te vul. Om hulle ‘n idee van godliness te gee. Om hulle tot godliness te beweeg.

Ons roeping is om die publieke lewe in die wêreld met helderheid en lig te vul, en so die samelewing aan God en sy wil vir die lewe te verbind. Om die duisternis te verlig wat op soveel plekke oorheers.

Sout-vir-die-aarde mense

Sout is iets alledaags en baie goed bekend. In die antieke wêreld was sout selfs belangriker en waardevoller as wat dit vandag is. Hier is ‘n paar eienskappe waarin ons dieper kan begryp wat dit beteken as Jesus die metafoor van sout op ons van toepassing maak:

  • Sout gee smaak. Deur ‘n bietjie sout by kos te gooi, word die inherente smaak van die voedsel na vore gebring. Kos is smaakliker, meer genotvol en aantreklik, wanneer dit gesout word. Net so bring gelowiges smaak in die wêreld. Die vreugde en genot van die lewe as geskenk van God kom in sy volheid na vore as jy die sout van gelowiges se lewe daarby gooi.
  • Sout preserveer. Voordat vrieskaste beskikbaar was, is sout gebruik om voedsel soos vleis oor lang tye te bewaar. Daar bestaan iets soos biltong, omdat daar sout is! Sout beskerm voedsel en help dat jy dit vir ‘n lang tydperk kan berg sodat dit veilig bly vir menslike gebruik. Net so beskerm gelowiges as sout die lewe. Die wêreld word ‘n veiliger plek waar mense wat die Here gehoorsaam en dien hulle invloed uitoefen. Misdaad daal, respek vir lewe neem toe, en die waardes van integriteit, liefde, omgee en beskerming styg.
  • Sout genees bederf en verrotting. Dit sluit ten nouste aan by sout se bederfwerende funksie. Mens kan wonde met sout uitwas om infeksie te verhoed of ‘n septiese wond te genees. Mense met sinusprobleme gebruik gereeld ‘n bietjie soutwater. Ons gooi sout in ons skottelgoedwassers om dit te help reinig. Sout se krag lê daarin dat dit ‘n verskil maak in ‘n wêreld waar bederf so maklik wortelskiet. Net so bring gelowiges genesing vir die siektes van hierdie lewe.
  • Sout offer sigself op. Sout werk net, as dit uit die soutpot gegooi word. Sout bestaan nie ter wille van sout self nie, maar ter wille van die wêreld. Sout gee sy eie geborgde bestaan in die soutpot prys om die wêreld te dien. Net so offer gelowiges hulle lewens op vir ander in gehoorsaamheid van hulle Meester wat ook sy lewe opgeoffer het vir mense.

Soutlose sout?

In die destydse Palestina was die kwaliteit van sout wisselvallig. Nie alle sout was ewe goed, ewe smaakvol of bederfwerend nie. Die swak sout was met soveel ander stowwe gemeng dat die natrium-chloried maklik opgelos en uitgelek het wat die oorblyfsel onbruikbaar en kragteloos gemaak het. Die oorblyfsel is weggegooi en vertrap.

Jesus gebruik die beeld van sout wat verslaan om die godsdiens van baie van sy Joodse tydgenote te beskryf. Jesus kon sien hoe die Fariseërs en die Skrifgeleerdes godsdiens op ‘n manier bedryf het wat sy krag verloor het. Teenoor die ware dien van God, en die lewe van gehoorsaamheid en toewyding, soos die wet en die Ou Testamentiese profete dit beskryf het, het hulle godsdiens in hulle eie mensgemaakte prosedures verval. Só ‘n eie stel reëls deug nie; dit is dwaas; so ‘n lewe word uitgegooi, en vergaan.

Lig-vir-die-wêreld mense

Lig is soos sout, alledaags en bekend, maar lig dien as metafoor met ’n soortgelyke ryk betekenis en word in die Bybel veral met God en sy koninkryk vergelyk. In onderskeid met die duisternis wat met die ryk van satan vergelyk word.

Waar die sout met ons gedrag te make het – ‘n beskrywing van hoe ons lewe en die persoonlike lewens van mense op aarde verryk – het die lig met ons getuienis te make – ‘n beskrywing van wat ons verkondig in die publieke lewe.

Jesus se volgelinge behoort sigbaar te wees en lig uit te straal. Dit is waarom Jesus sê die stad lê op ’n berg en die lamp op ’n lampstaander.

Die lig is sigbaar, maar daarom ook kwesbaar. Die lig word nie beskerm nie, dit kan op die lampstaander omval en deur wind en weer doodgewaai word. Maar mense wat die lig vir die wêreld is, kan nooit hulleself wegsteek nie.  Hulle leef en werk juis in plekke waar hulle die mees sigbare sal wees.

1. Jesus is die Bron van lig

’n Belangrike les wat ons moet leer, is eerstens dat Jesus die Bron van lig is.

Ons is net ligdraers (Fil 2:15) wat nie sonder die Bron van Lig (Joh 8:12) kan skyn nie. Ons is ‘n tweede kategorie van lig.  Jesus is die son en sy volgelinge is soos die maan wat die son se lig reflekteer.

Een pragtige beeld wat hierby aansluit, kom uit hoe lig in Indië in van die tempels gebruik word, bv. die Shesh Mahal (Hall of Mirrors), soos André en Ursula Kilian vertel.  Klein spieëltjies is die hele gebou vol aan die binnekant geplak, en as jy selfs net een kers aansteek, verlig dit die plek met die weerkaatsing in al die duisende spieëls met die lig wat kom van die een kers.

Dit is vir my ‘n pragtige beeld van wat ons doen as ons goeie werke doen. Ons doen dit sodat die wêreld die ware Lig kan raaksien, en hulle ons Vader wat in die hemel is, kan verheerlik.

2. Die lig word deur die duisternis teengestaan

Maar die tweede les wat ons moet leer is net so belangrik, dat ons onsself daarmee moet versoen dat die lig deur die duisternis teengestaan word.

Ons moenie vir die teenstand terugdeins nie. Ons moenie ons lig onder ‘n maatemmer wegsteek nie. Dit sal net die lig uitdoof. ‘n Lig hoort op ‘n lampstaander sodat almal dit kan sien, sodat almal die getuienis kan hoor. Dit is die spreekwoordelike stad op ‘n berg, soos Jesus dit hier inskerp. Dit staan uit. Dit is opsigtelik en opvallend.

“A secret disciple is no more use in the world than one who has lost his distinctiveness.” (RT France, Matthew).

Jesus baseer sy metafoor waarskynlik op die woord van Jesaja wat sulke opsigtelike en opvallende getuies moed inpraat met die oog op wat die uiteinde van die getuienis sal wees:

7Luister na My, julle wat doen wat reg is, volk in wie se hart my wet is, moenie bang wees vir die spot van mense nie, moenie skrik as hulle julle beledig nie. 8Hulle is soos lap wat deur motte gevreet word, soos wol wat deur vismotte verniel word. Maar die redding wat Ek bring, sal vir altyd wees, die verlossing wat Ek bewerk, sal daar wees vir elke geslag.” (Jes 51:7-8).

As die wêreld Jesus beledig en beswadder het, hoeveel te meer nie sy volgelinge  nie (Matt 10:18, 24-25; 24:9; 1 Pet 3:16; 4:4, 13-16). Maar daar wag ‘n redding wat ons asems sal wegslaan, ‘n redding wat sal bly, ‘n redding wat nooit tot niet sal gaan nie.

En let op dat Jesaja praat van die volk in wie se hart God se wet is, iets waaroor Jesus verder uitbrei net in die volgende deel van die Bergrede, vers 17-20:

17 Moenie dink Ek het gekom om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. 18 Amen, Ek sê vir julle: Die hemel en die aarde kan tot niet gaan maar daar sal beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie — totdat alles vervul is. 19 Wie dus een van die geringste van hierdie gebooie afskaf en die mense so leer, sal die geringste in die koninkryk van die hemele genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. 20 Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie.”

Hoe leef ons as sout-vir-die-aarde mense? As lig-vir-die-wêreld mense?

1. Ons kan die voorbeelde in die Bybel navolg.

Die Bybel is vol mense wat as sout en lig geleef het, en so hulle wêreld verander het.

Mense wat as sout geleef het, en deur hulle gedrag die wêreld verander het:

  • Josef is weggevoer na Egipte deur die verraad van sy broers. In die vreemde en vyandige omgewing het hy drome uitgelê vir sy twee medegevangenes, die skinker en die bakker, en uiteindelik vir die farao. Só het Josef die dilemma van die droogte deur die drome wat hy uitgelê het aangespreek. Hy was die sout vir die aarde in ‘n vyandige omgewing (Gen 37; 39-50).
  • Die klein dogtertjie wat uit Israel na Sirië weggevoer is, het vir Naäman vertel van die genesende krag van die profeet in Samaria, Elisa. En Naäman is deur hom genees. Sy was die sout vir die aarde in ‘n vyandige omgewing (2 Kon 5).

Mense wat as lig geleef het, en deur hulle getuienis die wêreld verander het:

  • Moses het ná sy veertig jaar in die woestyn die lig vir die volk en die farao in Egipte gaan aansteek. Onder groot teenstand het hy volhard deur die tien plae en uiteindelik is die volk uitgelei na die woestyn op pad na die Beloofde land (Eksodus).
  • Paulus het met groot passie die lig in Sirië, Turkye en uiteindelik Europa gaan aansteek en die pyn van tronkstraf, steniging, ontbering en uiteindelik die dood beleef.  Hy het Jesus nagevolg as die Lig vir die wêreld. En tot van dag toe nog pluk ons die vrugte van sy werk.

Die koms van die koninkryk van God is daarna op soveel plekke en maniere kragdadig gedien deur besondere mense wat sout en lig was. Ook gewone mense. Regdeur die eeue. Ons kan hulle voorbeelde volg.

Dit maak mens opgewonde oor wat die Here vandag deur ons en ons gemeente kan doen as ons bloot gaan wees wat ons reeds in Christus is, sout en lig.

2. Ons kan voorbeelde raak.

Dink net wat jy kan doen in jou omgewing as sout:

  • As jy die moeite doen om iets goeds te doen vir iemand wat nie van jou hou nie.
  • Of as jy die moeite doen om iets vir iemand doen wat hy of sy nie self kan doen nie.
  • Of instaan vir iemand met iets wat hy of sy nie op die oomblik kan bekostig nie.
  • Of die moeite doen om iemand uit te nooi wat dit nie noodwendig vir jou sal kan terug doen nie..

Doen alles wat jy doen smaakvol. Gemik op genesing. Gemik op voorkoming. Deur jouself en jou goed op te offer.

Om sout vir die aarde te wees, is uiteraard miskien vir die meeste van ons makliker. Dit is meer persoonlik. Dit is meer in eie kring. Maar, ons kan nie net sout wees nie. Ons moet ook lig wees.

Dink net wat jy kan doen in jou omgewing as lig:

  • As jy die moeite doen om hart en siel betrokke te raak by die verkondiging van die evangelie. Bv by ons sendelinge en hulle werk. Hulle nuusbriewe te lees en vir die sake daarin te bid. Om ernstig en eerlik na jou finansies te kyk en verantwoordelikheid te neem dat die evangelie deur ons sendelinge die wêreld kan bereik.
  • Om betrokke te raak by ons eie programme om ons omgewing te bereik. Die Here het op my hart gelê om weer ‘n Alpha aan te bied. Maar dit kan net gebeur as daar ‘n klomp vrywilligers kom om dit ‘n werklikheid te laat word. Leiers vir die groepe. Oppassers vir kinders. Mense vir die logistiek – kos en skoonmaak. En almal van ons kan mense nooi en saam met hulle kom om dit vir hulle maklik te maak om die drumpel na die evangelie oor te steek. Ek dink aan Februarie volgende jaar vir die eerste reeks. Julle kan solank dink en julle name vir my gee met wat julle bereid is om te doen. Inligting sal kom in ons nuusbrief. Kyk net uit vir die rooi vraagteken!
  • Of die moeite doen om by sosiaal-maatskaplike sake betrokke te raak. Hetsy as raadgewer of as hulpverlener. Dit kan plaaslike of meer nasionale sake wees. Daar is talle organisasies wat hulp sal waardeer. Bv plaaslik die Transformation Christian Network. Trevor Jennings. Ons het mense nodig wat hulle lig sal laat skyn in die publieke lewe in Nelson Mandela Bay.

Ek is oortuig dat ons eintlik nie nodig het om te veel oor die hoe uit te brei nie. Dit gaan eintlik net oor die gewilligheid, die bewussyn dat jy reeds sout vir die aarde en lig vir die wêreld is. As jy dit eers besef sal die geleenthede hulle voordoen. Sal jy weet hoe om dit ook uit te voer.

Gebed

Slotlied

VONKK 277:1-3 U is die lig wat deur die donker skyn – staan

Seën

Amen

Respons

VONKK 38:1-3 Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan – staan

View all posts in this series

Wie is God?

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.