Skip to main content

Laat die berge bewe – Jesaja 63:15-64:9

Eerste Sondag van Advent 29 November 2020
Tema: Laat die berge bewe – Jesaja 63:15-64:9 (U is tog ons Vader, Here)
Somerstrand Youtube 09:00

Verwelkoming

Baie welkom by ons Youtube erediens. Ek nooi jou uit om saam met ons die Here te loof en prys, Hom te aanbid.

Advent

Dit is vandag die eerste Sondag in Advent.

Hoe goed ken jy die storielyn van Jesus? Kan jy en jou kinders die verhale van sy geboorte en kinderjare een na die ander vir mekaar vertel?

Ek stel vandag hierdie boek bekend: Jesus se geboorte en kinderverhale – volgens die vier Evangelies. Dit gaan jou help om die storielyn van Jesus onder die knie te kry. Die verhale van Jesus se geboorte en kinderjare is kronologies gerangskik.

Maak vir julle ‘n Adventskrans met vyf kerse (instruksies ingesluit). Steek elke dag ‘n kers aan  – ek steek nou die eerste kers aan, die kers van Hoop – en lees die geboorte en kinderverhale van Jesus saam met jou kinders. Daar is ‘n teks vir elke dag van Sondag 29 November tot en met Kersdag, Vrydag 25 Desember. ‘n Maklike kindervriendelike vertaling is ingesluit met vrae vir bespreking.

Daar is ook voorstelle vir ‘n Adventskalender met ‘n daaglikse verrassing vir jou kinders (jy sal dit vooraf moet regkry!). Skep vir jou kinders opnuut die verwagting van die Koms van die Kind van God. Jesus is God se grootste Kersgeskenk aan ons. Laai die pdf af (4 MB).

Ek beplan om gesinne te kry om oor die betekenis van Advent weekliks te gesels. As deel van ons kindertyd. Sal lekker wees as julle deelneem. Hoop ek kan dit gereël kry!

Kerssangdiens

Ons moes ons Kerssangdiens uit die kerk uit inskuif op Youtube. Daarom het ons ook aan die datum verander. Ons Kerssangdiens is nou volgende week 6 Desember. Dit beloof om ‘n wonderlike ervaring van musiek en Bybeltekste te wees. Albert en Janneke het hard gewerk daaraan om dit vir ons moontlik te maak. ‘n Hele klomp gemeentelede neem ook deel.

Moet dit nie misloop nie. Volgende Sondag om 09:00.

Verjaarsdae

Twee gemeentelede verjaar vandag, Jaco Ungerer en Eric Venter. Baie geluk.

Siekes en sterfgevalle

Dit gaan oorwegend beter met dié mense wat siek is. Ek het dié week ‘n hele aantal gebel. Ek dink vanoggend spesiaal aan Tilla Olivier en Conrad van Rensburg. Conrad is uit die hospitaal, maar sterk nog aan. Helette kon darem al begin werk. Tilla het nog uitdagings rondom suurstof. Ons bid dat die beplande nuwe behandeling vir jou sal werk. Daar is waarskynlik nog lidmate siek wat nie laat weet het nie. Laat weet my tog dat ek kan uitreik. Baie sterkte en seën vir julle almal.

Ons dink ook aan Esme Rautenbach was haar ma verloor het dié week aan Covid. Baie sterkte vir jou en Theo en julle familie. Julle is self deur die uitdaging van die virus. Ons is baie bly vir julle herstel.

Kersgeskenke

Dankie vir almal wat bygedra het vir die MTR Smit geskenke.  Hier is ‘n paar foto’s van die Kersgeskenke wat ons gemeente vir MTR Smit kinders gee. Ons het 11 kinders se harte baie bly gemaak. Dankie vir Laetitia Greyling wat dit elke jaar vir ons reël en deur die jaar sorg dat die kinders versorg is. Dankie vir almal wat bygedra het om dit moontlik te maak.

Youtube

Teken in op ons Youtube kanaal met die rooi subscribe knoppie.

Liedere

Daar is mense wat vra dat ek ander liedere ook gebruik. Ook kontemporêre liedere wat ons normaalweg by ons aanddiens gebruik.

Ek sou graag wou, maar die probleem is egter kopiereg. Ek moes al ‘n hele paar keer by Pulse liedere uitsny wat Youtube nie wil hê ons moet speel nie. En die liedere wat ons wel daar gespeel kry, het altyd kopiereg waarskuwings op.

Ek verkies daarom om die liedere te gebruik wat ons self opgeneem het. Sodat ons kanaal nie geblok word nie. Ek het daarom ‘n beperkte aantal liedere. Dit is ook telkens koor- of gemeente sang, want dit is hoe ons dit opgeneem het. Miskien is daar ‘n groep in die gemeente wat liedere wil opneem? Hoe lyk dit met die musieklikes onder ons?!

Toetrede

Ons begin vandag met twee liedere waarmee ons gereedmaak vir die Advent tyd. Veral die eerste een ken ons kinders goed: Al was ek nie daar nie. En dan Ere aan God.

Lied 355-367 – Al was ek nie daar nie | Ere aan God

Votum en seëngroet

Die engele het gesing die nag wat Jesus gebore is:

“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!” (Luk 2:14)

Ek groet jou daarom in die Naam van hierdie God aan wie ons eer bring – die Vader, en die Seun en die Heilige Gees.

Dit is nou kindertyd.

Kindertyd

Hoe goed ken jy die verhaal van Jesus? Kan jy al die verhale van sy geboorte vir jou pa en ma vertel? En wat van sy kinderjare? Weet jy wat alles met Jesus gebeur het toe hy so oud was soos jy?

Ek het ‘n boek gemaak wat jy kan gebruik om al die verhale van Jesus agter mekaar te lees. Daar is die verhaal van Sagaria wat die engel nie wou glo nie. Die engel het gesê hy en Elisabet gaan ‘n kind hê. Sagaria het egter gedink dit is onmoontlik. Hy was al te oud! Sy vrou Elisabet het egter die boodskap geglo. En sy het ‘n kind gehad, Johannes die Doper.

Daar is die verhaal van Maria. Toe die engel vir haar sê sy gaan ‘n kind hê, het sy onmiddellik geglo. Josef het ook geluister na die engel en met haar getrou. En Jesus is vir hulle gebore. In Betlehem soos ek so ‘n rukkie terug vir julle vertel het.

En julle onthou seker van die herders en die sterrekykers?

Maar het julle geweet dat Jesus ook ‘n rukkie in Egipte gebly het? Ja, ‘n hele paar jaar. En dat Jesus op ‘n keer vir die grootmense in die tempel van God geleer het. Toe hy net twaalf jaar oud was.

Ek wil hê julle moet in Desember al hierdie verhale lees. Daar is ‘n verhaal vir elke dag tot en met Kersfees. In baie maklike Afrikaans. Vra vir jou ma en pa om die boek wat ek gemaak het af te laai van die Internet. Hier is die skakel. Alles is daarin.

Adventskrans

Hoe voel dit vir julle om te wag vir Kersfees? Dit is eers oor 27 dae! Dit is darem lank, nè?

Dit is waarom ons hierdie tyd Advent noem. Weet jy wat dit beteken? Nie? Dit beteken doodgewoon dat ons wag op die dag van Jesus se geboorte. Om die dag van sy eerste Koms weer te vier.

Ek wil vir julle ‘n manier gee om die wag makliker te maak. Sodat julle die dae en weke tot met Kersfees kan aftel. Vra vir jou ma en pa om ‘n Adventskrans te maak.

Hier is ‘n voorbeeld. Julle sal sien daar is vyf kerse. Drie blou-perses. Een pienke. Een witte.

Weet julle waarvoor die kerse staan? Ja, dit is vir elke Sondag tot en met Kersdag. Die eerste pers kers staan vir HOOP. Ons het hoop nodig in hierdie tyd van die virus, nè?

Die kers herinner ons vandag om te bid dat die Here ons gesond sal maak. Kom ons steek die eerste kers sommer nou aan om ons daaraan te herinner.

Die tweede pers kers staan vir VREDE. Die pienk kers staan vir VREUGDE. Die derde pers kers staan vir LIEFDE. Ons gaan oor elkeen van hulle meer sê die volgende paar weke. En dan sluit ons af met die laaste kers. Die wit kers. Dit staan vir JESUS CHRISTUS. Ons steek die wit kers aan op Kersdag.

Nou moet julle my help. Julle moet ‘n tyd van die dag kies wat julle elke dag saam as gesin hierdie verhale gaan lees.

As julle lees, moet julle die eerste week elke dag die eerste kers aansteek. Dan lees julle die verhaal van Jesus vir daardie dag. Daar is ook ‘n paar vrae wat julle kan bespreek. Die tweede week steek julle elke dag die eerste en die tweede kers aan. En lees die teks vir die dag en bespreek dit. Elke keer sluit ons ook af met gebed. Die derde week steek julle die eerste drie kerse aan. Die laaste week die eerste vier kerse. So hou julle aan tot al vyf kerse brand op Kersdag.

Adventskalender

Maar, dit is nie al nie! Vir elke dag is daar ook ‘n verrassing vir julle. Julle sal julle pa’s en ma’s moet vra om dit vooraf vir julle reg te kry! Die verrassing is in die vorm van ‘n Adventskalender.

My ma het toe ons kinders was só ‘n kalender gemaak. Sy het vuurhoutjie dosies op ‘n kaart geplak – een vir elke dag tot by Kersdag. Mooi versier. Binne-in elke dosie was daar ‘n verrassing. Ons het beurte gemaak om die dosies oop te maak. Binne-in was daar ‘n boodskap. Die boodskap het ons gelei na of ‘n sjokolade, of ‘n geskenkie, of ‘n uitstappie.

Dit was wonderlik! Dit het ons regtig laat uitsien na Kersfees. En die wag makliker gemaak.

So hoor by julle ouers of julle nie ook só ‘n verrassing kan kry nie!

Stuur vir my foto’s van julle gesin waar julle lees by die Adventskrans. En waar julle die Adventskalender se verrassings kry. Ek wil graag sien. En ek dink almal in die gemeente sal graag wil sien. So deel ons in mekaar se vreugde al is ons ingeperk.

Gebed

Dankie Here Jesus dat U bereid was om as mens gebore te word. Dankie dat U soos ons geword het. U weet hoe ons voel. U weet hoe ons dink. U weet wat vir ons lekker is. U weet wat vir ons sleg is. Dankie dat U vir ons só lief gehad het dat U self kom ervaar het wat dit is om mens te wees. Want, daarom weet ons dat U dit goed bedoel met ons. Dit gee ons hoop in hierdie moeilike tyd. Ons bid dat U ons wêreld weer sal gesond maak. Amen.

Lekker bly!

Lofsang

Kom sing van die hoop wat Christus bring. Dit is waaroor hierdie 1ste Sondag in Advent gaan.

Lied 492 – In U is vreugde

Skriflesing en prediking

Die eerste Sondag van Advent word deur afwagting en verlange na God se teenwoordigheid getipeer. Dit is die verlange waarvan ons in ons sleutelteks Jesaja 63:15-64:9 lees. Ek lees dit in die Afrikaanse Bybel vir Almal.

Is U nie meer lief vir ons nie?

“Here in die hemel, kyk na ons uit u gewyde en pragtige woonplek. Is U nie meer lief vir ons nie? Is U nie meer sterk nie? Is U nie meer bekommerd oor ons nie? Is U nie meer jammer vir ons nie? Ja, U is ons Vader. Abraham of Jakob is nie ons vader nie. Hulle weet nie van ons nie. Here, U is ons Vader, U is nog altyd ons Bevryder, dit is u Naam. Here, hoekom laat U ons weggaan van u pad? Hoekom maak U ons hardkoppig sodat ons U nie dien nie? Kom terug na ons toe, na u dienaars, die stamme wat aan U behoort. U gewyde volk het net ‘n kort tydjie in die land gewoon. Toe het ons vyande gekom en hulle het u tempel verwoes. Ons het geword soos mense oor wie U nooit regeer het nie, soos mense wat nie aan U behoort nie.”

“U moet die hemel oopskeur en afkom, sodat die berge voor U bewe. U moet kom soos ‘n vuur wat hout aan die brand steek, ‘n vuur wat water laat kook. Dan sal u vyande u Naam ken en die volke sal voor U bewe. Lank gelede het U wonderwerke gedoen, ons het nie gedink U sal dit doen nie. U het afgekom, en die berge het gebewe. Ons het nooit voorheen van so iets gehoor nie, niemand het ‘n ander god gesien wat hierdie dinge doen vir die mense wat in hom glo nie. U help graag die mense wat doen wat reg is, en wat bly is daaroor, die mense wat onthou hoe U wil hê hulle moet lewe. Maar U het kwaad geword toe ons sonde gedoen het. Sal U ons weer red? Ons almal het soos onrein mense geword, alles wat ons reg probeer doen, is nog soos vuil klere. Ons almal is soos blare wat droog is en verlep het en ons sondes is soos ‘n wind wat ons wegwaai. Niemand het U aanbid nie, niemand het probeer om vas te hou aan U nie. Daarom het U weggekyk van ons, U het ons laat wegsmelt omdat ons sonde gedoen het. Maar, Here, U is ons Vader. Ons is die klei, en U is die Pottebakker. U het ons almal gemaak. Here, U moenie aanhou om vir ons kwaad te wees nie, U moenie altyd aan ons sondes dink nie. Kyk asseblief na ons, onthou ons almal is u mense. U gewyde stede het ‘n woestyn geword, Sion het ‘n woestyn geword, daar is nie mense in Jerusalem nie. Ons gewyde, pragtige tempel het verbrand, die plek waar ons voorvaders U geprys het. Al ons mooi huise het hope klippe geword. Here, U sien hierdie dinge, wil U niks doen om ons te help nie? Wil U altyd net stilbly en ons laat swaarkry?” (ABA)

Daar is drie sake in die teks wat ek wil uitlig.

1. Die volk was baie bang dat God nie meer vir hulle lief was nie.

Die volk was in ballingskap in ‘n ver land en ver van hulle huise af. Hulle het gewonder of God nie meer bekommerd is oor hulle nie. Hulle het gedink dat Hy nie meer jammer is vir hulle nie. Dit was ‘n allerverskriklike tyd wat uiteindelik sewentig jaar lank geduur het.

Voel julle ook soms so?

Dit is immers hoe baie mense hierdie tyd van Covid-19 ervaar. Veral ons jongmense kry swaar. Hulle voel alleen. Ons jonger kinders kan nie regtig met hulle maats speel nie. Sit ver van mekaar af op die speelgrond.

Dit is nie net “boring” nie. Dit maak ‘n mens bang. Gaan dit ooit weer anders wees?

Ek kom by die ouer mense agter dat hulle meer gelate is daaroor. Natuurlik was daar al ‘n paar slegte periodes in hulle lewens. So hulle weet meer wat om te verwag. Hoe om hierdie tyd te hanteer.

Maar, almal van ons wonder op een of ander manier, wanneer gaan hierdie tyd ophou? Sal daar ‘n einde aan kom? Ons het nou al drie keer die kerk oopgemaak, net om dit weer toe te maak weens die kwarantyn van die leiers. Ek self was al twee keer in kwarantyn. Gelukkig was ek nooit siek nie.

Dit is dan natuurlik om te wonder of God ons nog lief het. Trouens, dat ‘n mens bang raak dat die pandemie eintlik die boodskap dra dat die Here nie meer bekommerd is oor ons nie. Dat Hy nie meer jammer is vir ons nie.

2. Die volk bid dat God weer sal optree. Hy is immers hulle Vader. Die Pottebakker

Die volk het in hulle nood na die enigste bron van Hoop gedraai. Na God toe. Selfs al moes hulle erken, Hy het hulle juis in ballingskap gestuur weens hulle sonde.

Maar, daar is niemand anders na Wie hulle toe kan draai nie. Want hulle weet, daar is niemand anders wat kan doen wat God kan doen nie.

Daarom bid hulle tot die Here en herinner Hom aan die talle kere in die verlede wat Hy die berge laat bewe het. By Sinaï toe Hy die wet vir Moses gegee het. Wat die voorloper was van die Intog in die land toe die nasies voor God en sy volk gebewe het.

‘n Mens dink onwillekeurig ook aan die berg Karmel toe God Elia met vuur uit die hemel geantwoord het. En ‘n rukkie later by Horeb toe God ook die berge laat bewe het vir Elia.

Want, dit is daar in die stilte wat gehang het ná die woeste aardbewing op Horeb dat Elia sy gesig toegedraai het, en die stem van God gehoor het as ‘n sagte stilte, die “gesuis van ‘n sagte koelte” (OAV), die “stem van ‘n sagte stilte” (NAV).

Dit is waarna die volk verlang. Dat God die berge sal laat bewe vir dié wat op Hom wag. Vir dié wat hulle verwagting, hulle hoop, stel op die God wat weer en meer kan doen.

God is immers hulle Vader. Hy is die Pottebakker. Hulle die klei. Selfs al het hulle Hom verlaat en teen Hom gesondig.

Die volk bely daarom ook hulle sonde voor die Here en sê, Here, dit is tog so, U help graag die mense wat doen wat reg is, die mense wat onthou hoe U wil hê hulle moet lewe.

En ons wil ons saak met U regmaak. Sodat U weer goed sal wees vir ons.

Miskien is dit ook jou raakpunt met hierdie teks?

Dat jy weet dat dit nie net die uitdaging van die virus is wat jou laat voel soos jy voel nie. Dat jy weet daar is dinge in jou lewe wat ‘n skeiding bring tussen jou en die Here.

Dan moet jy ook soos Israel bid dat die Here weer met krag sal optree in jou lewe.

Dat Hy die berge sal skud en soos ‘n vuurvlam Homself aan jou bekend sal maak. Dat Hy sy sal optree en dinge tussen julle sal regmaak.

Dat Hy soos ‘n pottebakker ook vir jou sal hervorm, soos die volk dit hier in Jesaja 64 gevra het, sodat jy aan Hom alleen kan behoort. Nuutgemaak om ‘n voorwerp van blydskap vir God te wees.

Hoe mooi het iemand dit hierdie week nie gesê nie. Die kwarantyn was tog ook ‘n goeie ding. Al moes ek my groot verlies verwerk. Want, ek kon afskakel en stil word voor die Here en my hart uitstort voor die Here. Tot rus kom voor Hom.

Miskien is dit ook jou situasie?

Miskien moet jy die tyd gebruik om reg te maak. Tot rus te kom. Jou binnekant uit te sorteer. Ook jou buitekant. Ook jou verhoudinge. Sodat jy weer die stem van sagte stilte kan hoor, die stem van God wat alles nuut maak.

3. Laat die berge bewe!

Dit is die hoop van Advent. Dat ons weer God se teenwoordigheid kan belewe. Vir Hom kan sê: “U is ons vader, Here, laat weer die berge bewe!” Maak Uself weer aan my bekend.

Ons weet God se reddingswerk is reeds in Jesus eenmaal aan die kruis van Golgota voltrek. Die berge het gebewe. Die aardbewing het die gordyn van die heiligdom van die tempel laat skeur. Sodat God sy werk op stil Saterdag kon doen. En met die volgende aardbewing op die Sondagmôre die graf kon oopgaan en die Here Jesus uit die dode kon opstaan.

God se werk is dus afgehandel. Die dood en die opstanding. Die aflê van die ou lewe en die opneem van die nuwe lewe.

Maar ons is ook maar té bewus daarvan dat alles nog nie reg is nie. Nie in ons eie lewe nie. Nie in die wêreld rondom ons nie.

Daarom bid ons weer in hierdie Adventstyd dat God sy teenwoordigheid bekend sal maak in ons lewens. Veral, omdat ons rondom ons die effek van die pandemie, van ekonomiese verwoesting, en van mense wat geweldig swaarkry, sien.

Ons vra saam met die volk: “Kom Here, kyk tog nou ‘n slag van die hemel af! Kom verander ons lot!” Laat die berge bewe! Ja, inderdaad, laat die berge bewe.

Gebed

Dankoffers

Jy kan met Snapscan of EFT jou dankoffer inbetaal.

Kerkkantoor

Die kerkkantoor is beskikbaar Dinsdag en Donderdag 09:00-12:00 weens die toename in Covid-19. Pastorale besoeke vind ook by voorkeur daar plaas. Jy is welkom om ‘n afspraak te maak met my.

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Bydrae

Ons het weer ‘n bydrae van Zithulele – Joseph en Nolizwe

Slotlied

Kom ons sluit met Koos du Plessis se Somerkersfees.

Lied 358 – Welkom, o stille nag van vrede

Seën

En die gemeente sê vandag ‘n Halleluja:

Halleluja

Lied 189 – Halleluja

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.