Skip to main content

2 Korintiërs 3:12-18 – Die Bybel is ‘n spieël wat ons verander – Son 31 Januarie 2010

Verwelkoming

REËN: Dit het ‘n bietjie gereën na ons verlede Sondag gebid het.  Dit het wel baie gereën in ander dele van ons land.  Ons moet aanhou bid, en ook bid vir dié wat geraak word deur die vloede. Ons het ‘n biddag vir reën môre by Waltonpark om 15:00.

HAÏTI: Ook vir die mense van Haïti.

DADAGÉ: Ons het ‘n groot klomp mense by Didage gehad dié week, meer as 50.  Die Bybelskool het ook nog 25 mense van oor die land wat via die Internet inskakel.  Ek wil jou uitnooi om dieselfde te doen.

  • Volg die Bybelskool in jou persoonlike stiltetyd of as ‘n sel of Bybelstudiegroep (een sel doen dit reeds).
  • Registreer net by die blog, dan stuur ek vir jou die leeslys en kan jy elke dag die bydraes lees en daarop reageer. Skakel op die Joernaal: www.ngkerksomerstrand.co.za/blog
  • En vir Bybelstudiegroepe sal ek ‘n gesprekraamwerk gee wat hulle in hulle sessies kan gebruik. E-pos my net daarvoor.

Toetrede

Lied 185 “Kom alle volke” staan (in kanon tussen koor, galery en kerkskip)

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 168 “Heilige Jesus, Heer van die here ” staan

Lied 340 “Kom ons loof die Jesuskind” sit (v1 en 3 almal v2 koor)

Kindertyd

Kom ons kyk na hierdie prentjie

Kyk stip (20 sekondes lank) na die vier kolletjies binnekant.

Maak nou jou oë toe.

Wat sien julle?

Net so, as ons lank kyk na die Bybel, dan laat die Bybel ons God se gesig sien.  En dan weet ons hoe Hy wil hê ons moet lewe.

Liedjie leer

“Lees jou Bybel, bid elke dag (x3). Lees jou Bybel, bid elke dag, want dit gee jou krag.

Want dit gee jou krag (x2). Lees jou Bybel, bid elke dag, want dit gee jou krag.”

Bybelgenootskap

Ds Ben Fourie

Gebed

Skriflesing

2 Korintiërs 3:12-18

Woorverkondiging

Vers 18: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here … ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.  Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe.  Dit doen die Here wat die Gees is.” ( vers 18)

Die ou Afrikaanse vertaling het dit helder vertaal: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld …”

Ons het nou al twee Sondae oor die Bybel gesels:

  • Die Bybel is ‘n SAADKORREL wat ontkiem – God se Woord val op die grond van ons hart en ontkiem, en dra vrug. Op ‘n ongelooflike manier werk God die vrug in ons lewe, deur die werking van sy Woord in ons lewe.
  • Die Bybel is ‘n STEM in ons hart en mond – Ons lewe word daagliks bepaal deur ons luister na God se stem in die Woord. En dit is iets wat ‘n daaglikse werklikheid vir ons kan en moet wees.

Vandag wil ek gesels oor die feit dat die Woord ons lewens verander.  Dit is soos ‘n spieël wat nie net vir ons wys wie ons is, en wat ons nodig het nie, maar die krag het om ons te verander.  Die Bybel is ‘n SPIEËL wat ons verander.

Tolle lege

In die jaar 386, in Milaan in Italië, sit drie vriende en gesels.  Die een is Augustinus, ‘n beroemde professor in retoriek uit Noord-Afrika.  Die ander twee is sy twee vriende Alypius en Ponticianus.  Daar lê ‘n Nuwe Testament geskrif op ‘n tafel en Ponticianus vra vir Augustinus of hy ‘n Christen is.

Nou Augustinus se ma, Monica, het toe al jare reeds vir hom gebid, maar hy moes antwoord, nee, hy is nie ‘n gelowige nie; hy kom net nie so ver nie, eintlik omdat hy sy eie lewenstyl – ‘n gejaag na plesier en sukses – te liefhet.

Dan vertel Ponticianus vir Augustinus hoe hy onlangs tot geloof gekom het toe hy een van die woestynvaders, Antonius, se verhale gelees het, en hoe dié tot geloof gekom het toe hy in ‘n kerk gehoor het hoe daar uit die boek Matteus voorgelees is.  Dié woorde het Antonius só ontroer dat hy tot inkeer gekom het, en sy lewe dramaties verander het.

En Ponticianus het só onder die indruk van die krag van die Woord in die lewe van Antoius gekom, dat hyself ‘n volgeling van Jesus geword het.

Die gesprek en getuienis van sy vriend het Augustinus hewig ontstel.  Dit het hom opnuut verward en leeg laat voel, vol van verlange na die vreugde wat Ponticianus en Antonius in die Woord en in ‘n verhouding met Jesus ontdek het.

Hy het opgestaan en in ‘n tuin daar naby gegaan om alleen te wees.  Onder ‘n vyeboom het hy in trane uitgebars.  En dan hoor hy ‘n stem.  Êrens, daar naby, hoor hy ‘n kinderstem wat sing, dieselfde woorde oor en oor.  En hoewel hy nie kan uitmaak of dit ‘n seuns- of dogterstem is nie, kan hy die woorde van die liedjie duidelik hoor: Tolle, lege.  Tolle, lege. Neem, lees.  Neem, lees.

Dit is asof Augustinus weet die woorde is vir hom bedoel.  Hy draai om, gaan die huis binne, neem die Nuwe Testamentiese boek op die tafel en begin lees by Romeine 13:13 en verder.  En oombliklik is die Woord vir hom soos ‘n spieël, waarin hy homself sien: “Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort.  Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.”

En in die sien van homself, in alle eerlikheid skuldig aan alles wat die Woord sê nie in sy lewe moet wees nie, kom daar ‘n verandering, toe hy verder lees en agterkom die geheim van ‘n oorvloedige lewe lê in die afskeid van sy sondige begeertes, en die navolging van Jesus Christus ( vers 14).  En hy kom tot geloof in Jesus Christus, tot groot vreugde van sy ma.

En die res van die verhaal is vir ons bekend: Augustinus word waarskynlik die grootste denker en teoloog, nie net van sy eie tyd nie, maar van alle tye (verhaal in Neem, lees! van Dirkie Smit, p 231).

En deur die eeue sou dié ervaring hom telkens herhaal – Luther, Calvyn, Wesley – en tallose gewone mense.  Hulle word diep geraak deur die lees van die Woord, kom tot geloof, word deur die Woord versterk in hulle geloof deur die jare heen, soms radikaal soos met ‘n waterval of ‘n stroomversnelling en ander tye diepsinnig soos met ‘n al dieper vloeiende rivier.

Die Bybel is soos ‘n spieël

Die Bybel is soos ‘n spieël.

Elke keer as ons daarin kyk, sien ons drie goed raak: 1) onsself geteken in ons mensheid, sondigheid en gebrokenheid, 2) die wêreld en die lewe in sy verydeling en boosheid, en 3) die beeld van Christus wat ons nie net uitnooi om soos Hy te word nie, maar wat in die raaksien en die herkenning van wie Hy is en wat Hy bied alreeds ons menswees verander.

Die Bybel praat op ‘n paar plekke oor dié ervaring.

  • 1. In Jakobus 1:21-25 word veral gepraat oor hoe onsself sien in die spieël van die Woord. Ons kan nie wegkruip vir die prentjie wat die Bybel gee van onsself. Dit teken ons in ons sonde en onmag. Dit ruk ons en dit ontstel en bring ons by ‘n kruispad, ‘n ontmoeting met dié Een wat ons wil verander.
  • 2. In 1 Korintiërs 13 word weer gepraat van hoe ons die lewe sien. Ons kyk soos in ‘n spieël, ‘n dowwe spieël – spieëls van daardie tyd was nie so helder soos vandag s’n nie, want dit was van gepoleerde metaal gemaak – en verstaan nie alles nie. Maar, sê Paulus, een ding kan ons weet, en dit is dat die liefde die enigste ding is wat regtig saak maak, belangriker as die mees wonderbaarlike geestelike gawes, diepsinniger as die beste kennis en insig, en baie meer werd as die grootste opoffering wat ‘n mens kan maak. Dit troos ons, en nooi ons dus uit om in liefde teenoor en met almal te leef.
  • 3. Maar die toppunt vir my van al dié skrywes oor die Woord as ‘n spieël, is waar Paulus sê in 2 Korintiërs 3: As ons in die spieël van die Woord kyk, sien ons vir Christus. Ons sien in die Bybel, nie net hoe ons lyk nie, of hoe die wêreld lyk nie, maar hoe Christus lyk.

Die Bybel is soos ‘n spieël wat ons verander

Want, en dit is die verstommende manier waarop Paulus hierdie metafoor van die spieël aanwend, die spieël van die Woord keer volgens hom die normale orde van dinge om.  In plaas daarvan dat die spieël se beeld verander soos ek daarin kyk en ek beweeg of gebare maak – dit is soos normale spieëls werk toe ek laas gekyk het – verander die een wat voor die spieël staan om te lyk soos die prentjie wat in die spieël wys.

Die ou Afrikaanse vertaling het dit helder vertaal: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld …”

En nou weet ons, die een in die spieël is Christus.  Dit is die weerkaatsing wat ons in die spieël van die Woord sien.  En die een voor die spieël is ekself.  Dit is ek wat verander as ek lank genoeg kyk na die beeld van Christus wat in die Woord so duidelik vir ons geskets word.

As ons lank genoeg, en diep genoeg kyk in die spieël van die Woord, word ons algaande verander, stukkie vir stukkie – van heerlikheid tot heerlikheid, soos Paulus hier sê – om die heerlikheid van Christus te weerspieël.  Dit is asof die sluier van ons lewens afgehaal word, ons gebrek aan verstaan en begrip, en ons Hom al hoe beter kan raaksien.

Godskennis en selfkennis gaan saam

Calvyn het hieroor geskryf in sy bekende werk, die Institusie van die Christelike geloof, dat jy jouself net beter kan leer ken, as jy God leer ken – en dat jy net vir God regtig kan leer ken, as jy jouself beter leer ken.  Godskennis en selfkennis, sê hy, gaan saam, die een kan nie sonder die ander nie.

En hoe leer ons God (en onsself) ken?  In die spieël van die Woord, in Jesus Christus, want dit is die beeld wat die Bybel uitstraal.  Daarom kon Calvyn oor geloof praat en sê, geloof is: “to contemplate the face of God”.  Geloof is om ure lank in God se teenwoordigheid met sy Woord deur te bring, sodat ek Hom kan sien in die Woord, en die beeld van Hom my kan verander.

Ons word spieëls vir die wêreld

En die wonder gebeur, soos ons verander, word ons ook spieëls vir die wêreld, weerkaatsings van God se heerlikheid, wat sy genade, en sy liefde, sy vreugde, en sy vrede na mense uitstraal.  En soos mense na ons kyk, en in ons hierdie weerkaatsing van God raaksien, word hulleself verander – soos dit inderdaad gebeur het met Augustinus.  Sy vriend Ponticianus was vir hom soos ‘n spieël wat hom na die spieël van die Woord gedryf het, waardeur die verandering in sy lewe gebeur het.

Daarin is ons anders as Moses, wat wel verander het in God se teenwoordigheid, maar telkens as hy terug is in die gewone lewe, die glans verloor het.  Daarom dat hy dit weggesteek het vir die ander mense. ‘n sluier oor sy gesig getrek het.  Hy wou nie hê dat hulle sien die glans verdof nie.

Nou, Paulus skryf hieroor, nie net om ‘n mooi kontras met die lewe van Moses te teken nie.  Hy skryf nie hieroor net om ‘n literêre tegniek te gebruik om sy brief interessanter te maak nie.  Hy spreek ‘n fundamentele vrees by Christene aan. Dit is – ek weet mos wie ek is, ‘n sondige mens, iemand wat so baie tevore al verkeerde keuses gemaak het.  Hoe weet ek dat ek nie môre die Here weer in die steek gaan laat nie, dat ek ook maar soos Moses al hoe dowwer en dowwer sal raak totdat daar van die glans van Christus min oorbly nie?

Moet ek nie maar meer kere, soos Moses, die berg van ‘n retreat of ‘n byeenkoms wat my weer laat blink van die glans van die Here bywoon nie?  En sorg dat ek die inspuiting gereeld kry, sodat my dowwe gelaat kan bly blink nie?

Nou, moet vir geen oomblik dink dat die berg-ervarings nie belangrik is nie.  Sonder dit sou baie van ons wat hier sit nie hier gewees het nie.  En van tyd tot tyd het selfs die blinkstes onder ons dit nodig.

Ek onthou hoe die 3 ervarings wat ek nou al by Willow Creek en in Madison County by die Benediktynse klooster met John Ackerman se spiritual direction gehad het, my lewe verander het.  En ek is só bly dat dit gebeur het en dat dit ‘n blywende effek in my lewe het.

MAAR – dit verdryf nie die vrees nie!

Dit doen die Here wat die Gees is

Daarom dat Paulus hier sê: “Dit doen die Here wat die Gees is.”  Dit is Hy wat die heerlikheid wat ek uitstraal, laat toeneem.  Hy maak ons vry om God te kan hoor en gehoorsaam.

Dit is net die Gees wat my vrees kan verdrywe.  Want Hy maak my lewe vol van die krag van God, van God self.

Maar, hoe doen Hy dit?

Dit gebeur in my daaglikse besig-wees met die Woord

Dit gebeur in my daaglikse besig-wees en bly met die Woord van God.

Hoe mooi sê Peterson dit nie, in daardie vers wat ‘n motto vir ons gemeente begin word: ““Let the word of Christ – the Message – have the run of the house.  Give it plenty of room in your lives.  Instruct and direct one another using good common sense.  And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.

  • Dit is uiteindelik nie die berg as sodanig wat my of jou verander nie. Dit is die God van die berg.
  • En dit is ook nie die bediening van ‘n Bill Hybels of ‘n John Ackerman wat jou in die eerste plek verander nie. Nee, dit is die God van wie hulle jou vertel, wat jou lewe verander.
  • En daarom, dit is nie die berg wat jou verander nie – ‘n mens kan tog nie altyd daar bly nie – dit is die Woord van God wat jou verander.

Daarom, die uitdaging:

Lees jou Bybel, bid elke dag – want dit gee jou krag.

Gebed

Dankoffers

Koor: Skuil by die Vader (Vonkk 53)

Slotlied

Lied 353 “Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel staan

Seën

Gemeenterespons

Lied 228 “Halleluja!”

View all posts in this series

'2 Korintiërs 3:12-18', Bybel, spieël, verander

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.