Bou en breek die aarde

Hulle en Ons

Ons dink baie keer dat die bekommernis oor die ekologie ’n groen saak is.  Dit is iets vir HULLE, nie vir ONS nie.

Ons kyk na die Sea Shepherd van kaptein Paul Watson wat die Japanese skepe probeer keer om walvisse te jag in die bekende Whale Wars, en dink dit is ’n gevaarlike speletjie, real-time TV, nie iets waarby Christene betrokke behoort te raak nie. 

  • In wese gaan dit in die Whale Wars daaroor dat alle kommersiële jag op walvisse wêreldwyd reeds in 1986 verbied is, want ’n kwart van die walvis spesies (en dolfyne) is op die rand van uitwissing. 
  • Drie lande het hulle egter deurgaans nie daaraan gestuur nie: Ysland, Noorweë, en Japan.  Sedertdien is nog 25 000 walvisse van kant gemaak, kwansuis vir wetenskaplike navorsing. 
  • Die TV program bestaan om die aandag van mense reg oor die wêreld te monster, om iets daaraan te doen, nie met die Sea Shepherd nie, maar met enige inisiatief om hierdie wêreld in die breë op ’n volhoubare manier te beveilig en beskerm.
  • Gelukkig het die Sea Shepherd al 9 van dié jagskepe uit diens uit gestel, onder beskerming van die Verenigde Nasies saam met wie hulle werk, maar dit is ’n druppel in die emmer.  Die bio-diversiteit van die aarde is onder skoot, maar ons sukkel om regtig ’n verskil te maak. Dink maar net plaaslik aan die renosters …

’n Fliek wat ’n onuitwisbare indruk op my gemaak het, is An Inconvenient Truth van Al Gore (2005).  ’n Mens steier letterlik terug voor die feitelike gewig van sy argumente, waarvan ek net een hier kortliks wil deel, oor aardverwarming:

  •  In wese, koolstofdioksied, die goed wat ons uitasem, is ’n goeie ding, want dit keer dat ons te koud kry.  Die koolstofdioksied in die atmosfeer hou die hitte gevange, sodat alle hitte nie uitstraal soos op die maan nie. 
  • Die probleem is, te veel koolstofdioksied in die atmosfeer laat die aarde warmer word as dit moet wees vir die behoud van lewe, die pole se ys smelt byvoorbeeld, die oseane se vlakke styg, die seestrome gaan staan stil, en ons stuur waarskynlik op ’n volgende ice-age af.  Dit so in kort. 
  • Boonop, deur steenkool te verbrand, sit ons meer koolstofdioksied in die lug in, en die aarde raak nog warmer.  Deur petrol en olie te verbrand vir enjins en kragopwekking gebeur dieselfde.  Selfs met ’n houtvuur gebeur dieselfde.  En dan het ons nog nie eers oor ander skadelike gasse nie, en die effek wat cfc’s (chloorfluoorkoolstof) op die osoon het, gepraat nie.  En daar is net te veel daarvan op die oomblik in die atmosfeer, met ernstige gevolge vir die aarde.
  • Vyf lande het al Al Gore se kurrikulum by hulle skole se leerplanne geïnkorporeer – Engeland, Skotland, Tsjeggiese Republiek, New Zeeland, en Duitsland, sowel as die Kanadese provinsie van British Columbia, maar soveel meer is nodig.

Sentrale waarheid van ons geloof

Die diep probleem in die kerk, en in jou persoonlike lewe, is dat ons as Christene hierdie feite nie so maklik verbind aan ons geestelike lewe nie.  Ons dink te maklik, dat dit net vir die groenes is om daarby betrokke te raak.  Dit is vir HULLE!  Dit is ’n boodskap nie vir ONS nie.  Ons dink om geestelik te wees, is nie om terselfdertyd groen te wees nie.

Feit is dat ons daarmee een van die sentrale waarhede van ons geloof verloën, iets waarvan ons meesal onbewus lewe.  Kom ons lees daarvan in die eerste twee hoofstukke van die eerste boek van die Bybel, daar waar ons bely dat alles ontstaan het.

Skriflesing

God het alles gemaak

Gen 1:1-2In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. 3Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.”

Genesis 1:3-25 (met baie raakpunte met die Big Bang teorie en die evolusie van lewe op die planeet aarde, hoewel dit ’n gedig is, en daarom baie eerder iets oor God se rol in die skepping wil deurgee, en dat dit perfek was, as om uit te wy oor hoe presies dit gebeur het.  Die idee van dae is metafories en digterlik bedoel):

  • Dag 1 – Lig
  • Dag 2 – Heelal
  • Dag 3 – Aarde en Plante
  • Dag 4 – Seisoene
  • Dag 5 – Seediere en voëls
  • Dag 6 – Diere en die Mens

Wat is die opdrag van die mens?

Gen 1:26-3126Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.’ 27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. 28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.’ 29Verder het God gesê: ‘Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. 30Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.’ So het dit gebeur. 31Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.”

Ons is God se verteenwoordigers, en Sy opdrag is (vers 28) – bewoon, bewerk bewaar (heers regverdig).

En net om die laasgenoemde punt nog helderder te maak – Gen 2:1515Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas (bewaar).” – BEWOON, BEWERK, BEWAAR.

Woordverkondiging

Bewoon, bewerk en bewaar

God het ons gemaak om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.  Dit is die onomwonde boodskap van Genesis, die begin van ons geloof.  En dit is baie belangrik om te verstaan, dat hierdie idee van bewoon, bewerk, en bewaar van die begin af deel was van ons geloof.  Om die waarheid te sê, ek dink dat ons die afgelope paar dekades grondig gefouteer het om eensydig te fokus op die vraag hoe ons hemel toe gaan, eerder as om oor hierdie aspekte van God se opdrag aan ons te fokus: bewoon, bewerk , bewaar. 

Ons verlossing is daarop gemik, dat ons herstel sal word om te bewoon, bewerk en bewaar.  Natuurlik het dit ook te make met die lewe hierna, waarvoor die Here ons voorberei, maar bewoon, bewerk, en bewaar is die fundamentele opdrag aan ons as mense EN as Christene.

God maak ons Christene sodat ons beter mense kan wees, aan ons doel kan beantwoord.

God en die ekologie in die Bybel

Ek wil jou op ’n toer neem deur die Bybel om die plek van die ekologie, die sorg en bewaring van die aarde, in die verlossingsplan van God uit te wys:

  1. Die grondoortuiging wat ons in terme van die ekologie rig, is dat die aarde God se skepping is (Gen 1; Ps 8; Ps 104).  Die aarde behoort aan God en alles daarop en daarin.  Dit is fundamenteel.
  2. God se bedoeling met die aarde is dat almal ‘n plek daarop vind, ‘n habitat, ‘n tuiste – mens, dier en plant.  Dit sien ons reeds in die feit dat die Bybel diere en plante nie klassifiseer volgens hulle anatomie en morfologie nie, maar volgens hulle ekologie, hulle habitat, die plek waar hulle bly (Gen 1-2), die voëls in die lug, die visse in die see.  Dit wys hoe fundamenteel alles wat leef, verbind is aan waar hulle leef. 
  3. God se bedoeling met die mens is nou hieraan verbonde.  God het mense gemaak om Hom in die aardse ekologie te verteenwoordig (Gen 1:26), om die “tuin” met alles daarin te bewoon, te bewerk en te bewaar (Gen 2:15).  Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën.  Dit beteken ook dat bewoon,  bewerk en bewaar fundamenteel is tot die mense se bestaansdoel en werk in hulle tuiste op aarde.
  4. Interessant genoeg word mense op dieselfde wyse in die eerste plek volgens hulle ekologie geklassifiseer, hulle habitat,  die plek waar hulle bly (Gen 2-4) – selfs voor die sondeval – en voordat dinge soos afkoms en die nageslag ter sprake kom (Gen 5).  En wanneer die nageslag van Jafet, Gam en Sem beskryf word, is dit weereens in terme van die plekke waar hulle en hulle nageslag gebly het (Gen 10).
  5. Die opdrag om die aarde vol te maak (Gen 1:28), het dus te make met ’n tuiskoms, ’n habitat, vir almal: mens, plant en dier.
  6. Nou belangrik: hierdie bedoeling van God is deur drie goed bedreig.
  7. Die eerste bedreiging was deur ongehoorsaamheid aan God (Adam en Eva – Gen 3) wat nie net die verhouding tussen Adam-Eva en God verbreek het nie, ook nie net die verhouding tussen Adam en Eva vertroebel het nie, maar hulle ook in konflik met hulle omgewing gebring het – “die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit” (Gen 3:18).  Ongehoorsaamheid verbreek dus die verbintenis met die land en die tuiste wat God vir ons geskep het, en Adam en Eva word daarby uit die tuin geban, die plek waar werk ’n vreugde was.  Ek hanteer hulle bestaan as metafore vir die ontstaan van die mens in terme van ’n persoonlike verhouding met God.  Wie hulle was en presies hoe dit gewerk het, is ’n onderwerp vir ’n ander dag.
  8. Die tweede bedreiging was deur geweld teenoor medemense (Kain wat Abel doodmaak – Gen 4).  Let op dat Kain tot swerwer verdoem word, dat sy verbintenis met die grond totaal afgesny word.  Hoe ontstellend klink daarom nie Kain se uitroep na hy Abel van kant gemaak nie: “My straf is te swaar om te dra.  U verdryf my nou van my grond af” (Gen 4:13-14).  Hy sou nou nie meer kon bydra tot enige een van die drie kernopdragte aan die mens nie: bewoon, bewerk, en bewaar.
  9. Die derde bedreiging was deur die aarde aan homself oor te laat.  Dit sou een van die gevolge wees van die poging om in die vlakte van Sinar ’n tuiste vir almal te vind (Gen 11).  Die aarde sou nie bewoon, bewerk en bewaar word nie.  Die taalverwarring was dus ’n doelbewuste manier om ’n tuiskoms te verseker, vir mense, plante en diere.
  10. Aldrie hierdie bedreigings bestaan vandag nog – om die verhouding met God, medemense of die natuur na te laat, of af te skeep.  En die gevolge is steeds dieselfde – om jou tuiste by God, jou tuiste by ander, en jou tuiste op die aarde in gevaar te stel.
  11. Dit is ook hoekom die land so belangrik is in terme van mense se pogings om ’n ruimte vir hulleself op die aarde te vestig, baie keer egter tot nadeel van ander se
  12. Die wortels van die revolusie van ons land (en ander) kan dus ook in hierdie ekologiese wanbalans gevind word – waar ons nalaat om in liefde teenoor God, ons naaste en ons omgewing te leef.  Die gevolge van dié wanbalans lê in die ervaring van mense dat hulle hul verbintenis met die land verloor, en dan praat ons nie eers van die effek op plante en diere nie.  Dit vorm die hart van die diskoers wat tans die voorblaaie van ons media haal, selfs met die onlangse hartverskeurende gebeure by die Lonmin myngemeenskap.
  13. Die diepste rede vir die klem op bewoon, bewerk en bewaar, is natuurlik ten diepste in God self.  God werk regdeur die Bybel in sy verhouding met mense self met ’n ekologiese bewussyn.
  14. Dit gebeur wanneer Hy oordeel.  Dink bv aan sy voorskrifte vir oorlogmaak, deurdat vrugtebome eksplisiet uitgesluit word van die tipe bome wat afgekap kan word wanneer ’n stad beleër word, en beleëringswerke gebou moet word (Deut 20:19-20).
  15. Dit gebeur gelukkig ook wanneer Hy ons seën.  Reg deur die Bybel word God se seën uitgespel as iets wat ’n impak het op die omgewing en die ekologie.  Ons vind dit bv in die wet (Lev 26:2-13).  Die seën is allesomvattend wanneer ons aan Hom gehoorsaam is: “Ek sal vrede gee in die land sodat julle rustig kan slaap … Julle sal nie eens ‘n vorige seisoen se graan kan opgebruik nie, julle sal dit moet weggooi om plek te maak vir die nuwe oes … Ek sal by julle woon …
  16. En dit is waarheen God ook op pad is met die heelal, ’n herskepping.  God gaan die wêreld laat herleef en nuut maak.  Dit sluit alles in: mens, dier, plant, en aarde (Matt 19:28).  Dit is ook die droom van Johannes (Open 21:1-8).
  17. En dit is een van die take waarby die Gees ons intrek (Rom 8:18-30).  Soos die skepping sug om van die verganklikheid verlos te word, en dit sluit die hele ekologie in – die habitat van die mens, dier en plant – so sug die kinders van God, bygestaan deur die sug van die Gees, om volledige verlossing.
  18. En dit is waaraan ons ons lewe wy, aan God, ons medemense en die omgewing.

Daarom kan ons nie langer terugsit dat die groenes die debat voer namens ons nie.  Ons het ’n dure plig as verteenwoordigers van God om betrokke te raak.  Christene se kleur is groen.

Drie primêre verhoudings

Martin Buber praat van drie primêre verhoudings waarin elke mens staan:

  • ek-God
  • ek-jy
  • ek-dit

En aldrie is belangrik. 

  • Jou verhouding met God draai om Sy betrokkenheid by jou.  Hy is voorsienend, verlossend, vertroostend in jou lewe betrokke, as die Drie-enige God, Vader, Seun, Gees. 
  • Jou verhouding met jou medemens is om as Sy verteenwoordiger teenoor hulle op te tree, deur te fokus op saamwees in al sy fasette, wat ingesluit is in die oeropdrag van bewoon, bewerk en bewaar.  ’n Mens kan dit uitbrei om te sê dat jy mense moet help om te behoort, dat jy hulle moet beskerm, dat jy hulle moet bemoedig, sodat hulle met oorgawe hulleself aan God se betrokkenheid by hulle kan gee, en hulle opdrag kan nakom. 
  • Jou verhouding met die aarde is om dit te bewoon, te bewerk, en te bewaar.

En laat ons maar erken, waar ons nog aan die eerste twee verhoudings aandag gee, is ons maar swak met die derde verhouding, ons verhouding met die aarde en alles wat daarop woon.

Jou kleur is groen!

Ek wil jou vanaand dus uitdaag om te wees wie God jou gemaak het, en gehoorsaam te word aan Sy opdrag: bewoon, bewerk, bewaar.  Jou kleur is groen!

Maar dan sal ons ook moet besef dat die debat oor bv klimaatsverandering lankal nie meer gaan oor die vraag óf dit gebeur nie, maar hóé die mensdom op die gevolge daarvan gaan reageer. 

  • Die Noordpool se see-ys smelt die afgelope ruk teen ’n reuse spoed weg.  Die kanse is 50:50 dat daar vir die eerste keer in die geskiedenis dié somer geen ys op die see by die Noordpool sal wees nie. 
  • Amerika se kosmandjie streke beleef vanjaar die ergste droogte in die onlangse geskiedenis, terwyl dele van China sulke hoë reënvalsyfers het dat daar grootskaalse verspoelings was. 
  • Selfs Port Elizabeth het nou na die vorige droogtesiklus alreeds die natste jaar in 30 jaar se opnames.

Ons moet daadwerklik dinge begin doen.

Wat kan ons doen?

Ons denke moet verander

Christus se koms het dus nie net ons liefde vir God en ons naaste kom herstel nie, maar ook ons liefde vir die aarde.  Geen wonder dat daar nie net ’n belofte aan kinders van God van ’n nuwe hemel gegee word nie, maar ook dié van ’n nuwe aarde.  

Dit is waarom ons betrokke is by die debat oor die ekologie in al sy fasette.  Wat ons egter moet hoor op die oomblik, is dat die debat oor bv klimaatsverandering, lankal nie meer gaan oor die vraag óf dit gebeur nie, maar hóé die mensdom op die gevolge daarvan gaan reageer. 

Ons denke moet verander:

  • Woude filtreer die water wat ons drink – daarom moet ons dit oppas, nie net omdat dit as sodanig verkeerd is om ’n boom te gebruik nie.  Dit is tot ons almal se voordeel dat daar woude in die wêreld is.
  • Die bye en voëls bestuif ons plante en flaura ekosisteme.  Dit het groot ekonomiese waarde deur hulle te beskerm, nie net ’n biologiese waarde nie.  Dit is tot ons almal se voordeel dat gifstowwe verminder en habitat beskerm word, sodat bye en voëls kan gedy.

Profeet, priester, en koning

  • As profete moet ons die dinge afwys wat die lewe van die mens bedreig en mense aanspoor om die wêreld en die ekologie te beskerm.   Bv, daar is 5 keer meer steenkool, olie en gas beskikbaar as wat ekologies veilig sal wees om te verbruik.  Sommige navorsers sê dat 80 % van daardie bronne sal moet bly net waar hulle is – ondergronds.  Sal ons die moed hê om dít as ’n Christelike oortuiging te begin sê?
  • As priesters moet ons mense bystaan wat bv deur besoedeling en aardverwarming en die horde ander dinge wat verkeerd gaan, beïnvloed word, benadeel of beskadig word, en hulle daadwerklik bystaan en help.  Ons moet pastoraal praat, met deernis en respekvol, maar ook met oortuiging.
  • As konings moet ons stry teen besoedeling en uitbuiting van die aarde in die besonder teen gierigheid en praktyke van mense wat ter wille van eie voordeel en gewin nie omgee dat die lewens van ander mense deur besoedeling benadeel word nie.

Voorbeeld uit Duitsland

Ons kan leer by die Rappenecker Hütte – restaurant in Duitsland, gewilde hiking bestemming:

  • Bestaan 350 jaar lank al!
  • Hulle is 25 jaar lank al op son energie, sedert 1987.  Sonpanele verskaf 65% van hulle energie behoeftes, windlaaiers 10% en 25% van ’n waterstof sel, wat ’n diesel generator sedert 2003 vervang het.  Hulle is totaal onafhanklik van die nasionale elektrisiteitsnetwerk.
  • Duitsland se besighede is al vir 25% van hulle energie behoeftes op hernubare bronne.  Dit wys wat kan gedoen word.  Hulle wil teen 2050 op 80% wees.

Voorbeelde plaaslik

Daar word al baie dinge gedoen.  Bv in Kirkwood se Wildsfees was daar verlede jaar ’n Growing Green Expo: Ethical and Sustainable Agriculture and Gardening.  Ons moet net oë ontwikkel om dié goed raak te sien en betrokke te raak.

Persoonlike keuse

Ons moet self ook optree en iets begin doen, anders begin leef.  Hersirkulering, water, elektrisiteit, lug-motors (Tata Airpod).

En gemeentes?

Ons het in ’n onlangse Kruisgewys, wat aan 3000 predikante en geestelike leiers gestuur word, gefokus op die ekologie en wat in gemeentes aangaan daaromtrent.  Gaan kyk by http://gemeentes.co.za/kruisgewys/kruisgewys-maart-2012.  Dit is gratis en kort insiggewende artikels:

  • Ernst Conradie – sistematiese teoloog van UWK en skrywer van verskeie boeke oor die ekologie, onder andere die Andrew Murray-pryswenner vir Waar op dees aarde vind mens God? in 2007 – gee ’n ontleding van die verbruikerskultuur ten grondslag van die feit dat welvarendes die slagoffers van hulle eie begeertes raak. Hulle dra swaar aan die beroepsdruk en besittingslas, en toon die simptome van verbruikersgriep. Hy maak ’n onderskeid tussen welsyn en welvaart en rykdom en lewensverryking wat jou sal help om jouself te vind in iets wat groter is as jyself.
  • Willem Nicol – doyen van kontemplatiewe spiritualiteit en spirituele begeleiding – fokus op ’n spiritualiteit van eenvoud wat een van die min maniere is om die greep van die verbruikerskultuur te ontsnap. Hy help ons verstaan dat die genieting van jou bestaan alreeds genoeg rede is om vervuld te lewe, en dat die verdieping van jou geloof in die vryheid van uiterlike voorspoed lê.
  • Fay van Eeden – die leraar vir Nuwe Generasie, Lynnwood se jeugbediening – gee ’n teologiese sowel as ’n praktiese perspektief op hoe ’n “groen”-bediening in ’n gemeente kan werk. Die feit dat die Skepping die “groot boek” van God is – soos die Bybel die “klein boek” is – is vir haar al genoeg motivering dat ’n gemeente by versorging en bewaring betrokke sal raak.
  • Frans Hancke – Uitvoerende Direkteur van diePLAN, wat gemeentes in verskeie lande help om hulle missionale karakter uit te leef – fokus op twee verhale wat wys dat die evangelie ook met ’n groen kleur kan werk. Die een verhaal wys hoe die opruim van rommel en die geskik maak van grond vir plante en struike ’n voertuig raak vir die evangelie om in mense se lewe aan te kom. Die ander verhaal wys die teenoorgestelde, met die appèl aan almal van ons om die moontlikhede te ontgin wat ’n ekologiese bewussyn vir ons gee in die evangelie bediening.
  • André van Niekerk – gemeentedominee van Pretoria en gewilde rubriekskrywer – fokus op hoe leraars in God se gemeentes hulle kan help om meer soos ’n beweging van God self te laat optree. Geloof hoef nie ingekleur te word nie. Dit is alreeds groen. Ons kan mekaar aanmoedig tot ’n groen leefstyl, waarvan hy ’n hele aantal voorbeelde opnoem. Ons is geroep om saam met alle mense nuut op hierdie aarde te leef.
  • Diek en Marthie van der Zel – ’n lidmaategpaar wat in Morelettapark ’n groot herwinningsprojek begin het en tans op die Wes-Kaap Sinode se ekologie-taakspan dien – wys hoe ’n mens met die regte visie en passie ’n groot verskil kan maak. Op sy hoogtepunt het die “papier vir kos” projek 144 ton herwinbare materiaal ’n jaar opgelewer, waarvan die wins ingeploeg is in verskeie opheffingsprojekte.  Kyk by http://www.omgee.org.za/.
  • Dawid de la Querra – ’n prokureur wat as tentmaker by die Sakkrappers-en-Karwas-bediening in Kimberley betrokke is – vertel hoe die leiding van die Here ervaar word as ’n mens iets begin doen, al is dit aanvanklik net uit jou eie aanvoeling van die nood. Wat as ’n barmhartigheidsprojek begin het, het in ’n verhoudingsbou-geleentheid oorgegaan wat uiteindelik nie net werk aan die sakkrappers verskaf het nie, maar ook die omgewing positief verander het.

Skakels vir meer inligting:

     

Trackback from your site.

Comments (1)

  • Bybelskool » Bou of breek ons die aarde?

    |

    […] is dit iets waaroor ons gerus beter kan nadink, vanuit ‘n Bybelse perspektief daaroor. Lees gerus hierdie preek van my (uit 2012) om jou denke uit te daag en te verander. Dit neem jou op ’n toer deur die […]

    Reply

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Edward Scheun

    |

    Skakel my gerus. Ek het akkomodasie vir drie dames beskikbaar in kommune. Naby aan universitiet. Baie veilig en netjies. Eddie 0823746444

  • Avatar

    Edward Scheun

    |

    Skakel my gerus. Ek het akkomodasie vir drie dames beskikbaar in kommune. Naby aan universitiet. Baie veilig en netjies. Eddie 0823746444

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Uit die hart. Dankie Thomas. Chris.

  • Avatar

    Thomas Gerber

    |

    Chris
    Wat `n ongelooflike kragtige preek.
    Ek het soms koue rillings gekry.
    Baie beter as die Ierland-All Blacks game.

  • Avatar

    Anita

    |

    My 22 jarige dogter soek dringend ‘n netjiese, rustige en veilige tuinwoonstel/privaat en suite kamer binne kommune met veilige parkering vir lang termyn huur (begin 4 Jan ) in Somerstrand. Kontak asb Anita 0828524452