Skip to main content

2 Kronieke 16: Erediens – Om te vertrou in ‘n wêreld waar broedertwis is – Son 1 Augustus 2010

Koning Asa was ’n goeie koning.

Hy is as die 6de koning van Juda ingehuldig, 20 jaar na die skeuring van die Suid-ryk Juda en die Noord-ryk Israel, met die twee hoofstede Jerusalem en Samaria onderskeidelik.

Rehabeam is na 17 jaar se koningskap dood.  Sy seun Abia, Asa se pa, het toe koning geword.  En hoewel hy ’n beter koning was en selfs in ’n groot veldslag teen die Noord-ryk, vir koning Jerobeam van Israel verslaan het, het sy regering net 3 jaar gehou.  Hy is skielik dood, ons weet nie hoekom nie.

Asa se koningskap begin met die voortslepende konflik met die 10 noordelike stamme.  Die skeuring moes nog steeds ’n groot bron van verwyt vir die koningshuis gewees het.  Dit was immers die gevolg van sy oupa Rehabeam, die seun van Salomo, se dwase poging om die volk verder met dwangarbeid te onderdruk, wat die ryk in twee helftes geskeur het, 10 stamme na die Noorde, die sogenaamde Josef-stamme, en 2 stamme na die Suide, Juda en Benjamin.

En midde-in die voortdurende konflik met sy broers (en susters) in die Noorde, moet hy die koninkryk van Juda regeer en in stand hou.  En dit is nie al nie.  Daar is ook nog die aanslae van die omringende volke, onder andere van die Kussiete (Ethiopiërs of Soedannese) vanuit Egipte en die Libiërs.

Asa roep die Here aan

Maar wonder bo wonder, dié aanslag van die Kussiete word nie net afgeweer deur hom nie, maar in ‘n beslissende veldslag teen hulle breek hy hulle mag.  En dit was nie omdat hy so baie soldate gehad het, of so ‘n goeie strateeg was nie.  Nee, hy het die Here aangeroep, en dié het hom gehelp.  In hoofstuk 14 vertel die Kroniekeskrywer ons dat Asa die Here op aangrypende wyse aangeroep het en gesê het: “Net U kan die swakke teen ‘n oormag help.  Help ons, Here ons God!  Ons steun op U, en in u Naam trek ons teen dié menigte op.  Us is ons God, Here, moenie dat ‘n méns teen U seëvier nie.” (vers 11) En die Here het hom gehelp.

Asa luister

Dan verskyn daar ‘n profeet, Asarja, en moedig hom en die ander Jode van Juda en Benjamin aan om die Here te vertrou.  Kronieke 15 vertel vir ons die verhaal.  Hy kondig aan Asa aan: “As julle by die Here is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind.”  Klink amper soos in die NT!  Maar, die waarskuwing word daarmee saam gegee: “As julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.” Daarom pleit hy by hulle dat hulle sal vasstaan en nie moedeloos word nie, die Here vertrou en by Hom sal bly.

En Asa luister na Asarja en bring groot hervormings aan.  Hy het die tempelprostitute verban, die afgodsbeelde verwoes, selfs sy ouma Maäka as koninginmoeder onttroon, weens haar afgodediens, en haar Asjerabeeld vernietig.  Hoewel die hoogtes nie heeltemal verdwyn het nie, was Asa, getrou aan die Here.

Asa se lojaliteit skuif

Maar toe gebeur daar iets wat sy lojaliteit laat skuif.  Hy word vir die soveelste keer aangeval vanuit die noordelike stamme.  En onthou, dit was ‘n voortdurende stryd in die 41 jaar wat hy koning was.  Om die waarheid te sê, hy moes teen 7 opeenvolgende konings van Israel sy land beskerm: Jerobeam, Nadab, Baesa, Ela, Simri, Omri en Agab!

Kronieke 16 vertel ons dat Baesa, die derde koning van Israel in die termyn van Asa, teen Juda optrek.  En Asa besluit om ‘n bondgenootskap te sluit met die Arameërs teen sy broers.  Strategies was dit natuurlik ‘n uitstekende plan. Maar geestelik dwaas.

Asa luister nie meer nie

Hy slaag daarin om die konflik met Israel te vermy, maar hy haal hom die gramskap van nog ‘n profeet op die hals, die siener Ganani.  Ganani veroordeel hom omdat hy nie op God in sy stryd met Israel gesteun het nie, maar op die Arameërs.  En dit is in dié konteks wat Ganani sê: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron 16:9)

Maar daarmee veroordeel hy vir Asa omdat dié hom nie aan hierdie belofte van die Here gesteur het nie.  Asa straf wel die siener deur hom in die tronk te gooi, maar verloor daarmee eintlik die hele plot van sy koningskap.

Hy begin om van sy mense sleg te behandel.  En toe hy later siek word aan ‘n voetkwaal kies hy om eerder dokters te vertrou as die Here.  En hy sterf met ‘n wolk oor sy koningskap twee jaar later.

Toepassing

Wat het fout gegaan met Asa?

Aanvanklik was dit opmerklik hoe Asa na die Here gesoek het, en bereid was om te luister na die uitsprake van God se profete, bv. Asarja.  Hy het hom toegelê op ’n persoonlike verhouding met God EN was bereid om verantwoordelik gehou te word deur die profete.  Hy het ’n leerbare gees gehad, soveel so dat hy selfs die koningmoeder teëgegaan het oor haar afgodediens, toe die profeet dit aangespreek het.

Maar, op ’n punt het hy besluit, ek het nou genoeg gehad.  Ek gaan nie toelaat dat ’n eenvoudige siener my aksies beoordeel en veral nie veroordeel nie.  Hy het vir homself ’n norm geword.  Sy besluite was van groter belang as die besluite van die profete, en ten diepste die Here self.

En omdat hy sy verhouding met die profete afgesny het, nie meer bereid was om aangespreek te word nie, het sy verhouding met God ook skipbreuk gelei.  En is dit net logies dat hy nie meer die Here sou raadpleeg oor ’n voetkwaal nie.  Hy het immers ’n goeie besluit geneem, in sy eie oë, toe hy die verbond met die Arameërs angegaan het.  Hy en die dokters sou ook dié voetprobleem uitsorteer.

Maar, toe nie.  Sy eie besluite boemerang en hy sterwe met ’n wolk oor sy koningskap.

En wat leer ons by hom?

Dat ons nooit die oop verhouding met God en met ons profete, mense wat na aan ons lewe en wat ons verantwoordelik moet hou, moet afskeep nie.

Ons is nie bedoel om te lewe as selfstandige onafhanklike konings nie.  Tog, is ons bang om sulke oop lewens te lewe.  Miskien is dit omdat ons bang is dat ons mislukkings en swakhede teen ons gehou sal word.  Miskien is dit omdat al ons vingers verbrand het met mense wat nie met integriteit met ons lewens omgegaan het nie.

Maar ons kan nie die Christelike lewe leef sonder betekenisvolle ander mense in ons lewe nie, mense wat nie sal terugdeins om ons verantwoordelik te hou vir dít waarin ons self sê dat ons glo nie.  Ons is immers gemaak vir gemeenskap met ander mense, nie net sodat dit ons kan koester en versorg nie, maar ook dat dit ons kan beskerm teen onsself, en teen ons swakhede en mislukkings.

Daarom het ons nodig om mense in ons lewe toe te laat wat ons verantwoordelik kan hou.  Jak 5:16 sê immers: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Het Asa maar dié raad gevolg!

En die Hebreërskrywer raai ons aan: “Julle moet mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.  Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (3:13)

Die Here roep ons vandag op tot twee reaksies:

  1. Om na te dink oor iemand met wie ons oor ons geestelike lewe kan gesels.  En met wie ons eerlik kan wees en met wie ons ’n oop verhouding kan handhaaf.  Dit hoef nie iemand te wees wat ouer as jy is nie, of wat wyser is as jy nie.  Maar dit moet iemand wees met wie jy die vrymoedigheid sal hê om jou lewe mee te deel.
  2. Om na te dink oor iemand vir wie jy ’n oop deur wil gee, om met jou oor hulle geestelike lewe te gesels.
View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.