Filippense 4:4-8 – God maak gebreekte potlode weer skerp

‘n Nuwe tyd het in Christus aangebreek

banksy-yesterday-today-tomorrowEk het doelbewus die liturgie tot dusver gefokus op die wonder van die koninkryk van God wat in Jesus Christus aangebreek het. Daar is soveel wonderlike dinge wat ‘n mens daaroor kan sê. Dit is die tyd van Epifanie, van die lig wat God in Christus Jesus gebring het.

God se vrede het in Jesus aangebreek en dit het alles verander. Ons verhouding met Hom is herstel en ons kan op ‘n nuwe manier leef saam met almal hier op aarde.

Die Heiland is gebore – ja, ‘n nuwe tyd het aangebreek waarin almal vrede kan vind. Inderdaad.

Maar, díe boodskap was dié afgelope week onder baie druk.

Vervolging en verwoesting haal die nuus

Twee berigte in die media het vir my uitgestaan hierdie week. Die eerste was ‘n berig deur Geopende Deure oor die vervolging van Christene in 50 van die lande wat die meeste getref word – Noord-Korea, Somalië en Irak, die drie lande wat die ergste getref is.

Die tweede was die berigte oor die tragiese dood van 12 mense by die Charlie Hebdo tydskrif in Frankryk aan die hand van Islamitiese ekstremiste. Die impak hiervan gaan nog wyd ervaar word. Franse noem hulleself nou Charlie – ons is almal Charlie – waarmee hulle identifiseer met die Franse Revolusie se klem op vryheid, gelykheid en broederskap – Liberté, Égalité, Fraternité – hulle lewensmotto. Dié vryheid en gelykheid en broederskap is egter nou onder groot druk. Hoe gaan hulle reageer? Hoe gaan hulle die nie-radikale Moslems in eie geledere hanteer

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Mieke Struwig is vyfde in Oos-Kaapland en eerste in PE distrik. Baie geluk. Al ons lidmate se matriek leerlinge is deur en ‘n hele paar het goeie prestasies behaal. Dit geld ook kleinkinders wat op ander plekke bly. Saam met julle bly! Ons wens julle alle sterkte toe vir die toekoms wat só vir julle oopbreek.

Aanvangslied     

Liedboek 471:1 – Soek allereers die koninkryk van God; en sy geregtigheid. Wat julle nodig het sal die Vader dan vir julle gee uit sy oorvloed. Halleluja!

Aanvangswoord

10Die Here heers oor die watermassas,

Hy heers vir altyd as koning.

11Die Here gee krag aan sy volk;

die Here seën sy volk met oorvloed.

Prys die Here, julle hemelinge!

Prys die Here om sy eer en mag!

2Prys die Here

om die eer van sy Naam!

Buig voor die Here

by sy heilige verskyning!

(Psalm 29)

Maria se lofverheffing uit Lukas 1

46En Maria het gesê:

“Ek besing

die grootheid van die Here,

47ek juig oor God, my Verlosser,

48omdat Hy na my

in my geringheid omgesien het.

Kyk, van nou af sal elke

nuwe geslag my gelukkig noem,

49omdat Hy wat magtig is,

groot dinge aan my gedoen het.

Heilig is sy Naam!

50Hy bewys ontferming

van geslag tot geslag

aan dié wat Hom eer.

51Kragtige dade het Hy

met sy arm verrig:

hoogmoediges in hulle eiewaan

het Hy uitmekaargejaag;

52maghebbers het Hy van trone

afgeruk en geringes verhoog;

53behoeftiges het Hy oorlaai

met goeie gawes

en rykes met leë hande weggestuur.

54Sy dienaar Israel het Hy

te hulp gekom

deur te dink aan sy beloftes

van ontferming

55soos Hy dit toegesê het

aan ons voorvaders,

aan Abraham en sy nageslag

tot in ewigheid.”

Geloofsbelydenis ahv Lied 468 – sê dit almal saam

Christus, die Seun, is beeld van God –

van God onsigbaar, groot.

Hy is die Eerste, Hy alleen,

die hoog verhewe Heer.

Alles wat is, is daargestel

déúr Hom, vír Hom alleen.

Voor iets daar was, was Hy reeds daar;

deur Hom hou alles stand.

Hy is die oorsprong van die kerk,

ons Hoof, die Heer is Hy.

Ons is sy liggaam, één met Hom;

en in Hom is ons één

Christus het waarlik opgestaan

as Eerste uit die dood.

In die heelal sal Hy dus wees

die Eerste – Hoof en Heer.

God met sy volheid woon in Hom,

só het God self besluit.

Daarom kon Hy versoening bring –

Gods vrede weer herstel.

Christus moes sterwe aan ‘n kruis,

Hy moes sy bloed laat vloei.

Hemel en aarde, die heelal,

is só met God versoen.

Seëngroet

Die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. (Fil 4:7)

Lofliedere

Liedboek 353:1,3 – Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel. Daar is die stad van Dawid word Hy Immanuel. Met blye hemelkore wil ons ook juig en sing: Ons Heiland is gebore – dis Hy wat redding bring.

Liedboek 370:1,3 – Eng’le uit die hoogste hemel sing ter ere van ‘n Kind, van ‘n nuwe tyd wat aanbreek waarin almal vrede vind. Sing hosanna! Sing hosanna! Prys Hom, Jesus, Seun van God.

Gebed

Woordverkondiging

‘n Nuwe tyd het in Christus aangebreek

Ek het doelbewus die liturgie tot dusver gefokus op die wonder van die koninkryk van God wat in Jesus Christus aangebreek het. Daar is soveel wonderlike dinge wat ‘n mens daaroor kan sê. Dit is die tyd van Epifanie, van die lig wat God in Christus Jesus gebring het.

God se vrede het in Jesus aangebreek en dit het alles verander. Ons verhouding met Hom is herstel en ons kan op ‘n nuwe manier leef saam met almal hier op aarde.

Die Heiland is gebore – ja, ‘n nuwe tyd het aangebreek waarin almal vrede kan vind. Inderdaad.

Maar, díe boodskap was dié afgelope week onder baie druk.

Vervolging en verwoesting haal die nuus

Twee berigte in die media het vir my uitgestaan hierdie week. Die eerste was ‘n berig deur Geopende Deure oor die vervolging van Christene in 50 van die lande wat die meeste getref word – Noord-Korea, Somalië en Irak, die drie lande wat die ergste getref is.

  • Noord-Korea het nie net, volgens berigte, vir Sony getakel met die kuberkrakers nie wat tot die wysiging in die wyse waarop die fliek The Interview uitgereik word, gelei het nie, maar is die plek waar Christene die ergste vervolg word. Noord-Korea en sy supreme leader Kim Jong Un, slegs 32 jaar oud, is die mees onderdrukkende sisteem vir geloof in die hele wêreld. Hy is hulle god en bewaar jou siel, meer korrek jou lewe, as jy hom teenstaan. Daar is groot druk op die geskatte min of meer 300 000 Christene in die bevolking van 25 miljoen, hoewel daar ook getuienisse is van groei ten spyte van die teenstand.
  • In Somalië is daar minder as ‘n 1000 Christene uit ‘n bevolking van 11 miljoen oor weens die oorlog en vervolging. Die verklaarde beleid is om ‘n Somalië te hê wat vry is van Christene. Die gevaar is groot dat die Christendom daar heeltemal uitgewis word.
  • In Irak, sê die Washington Post, is die Christendom basies uitgewis. Die getalle het van ‘n miljoen en ‘n half Christene vóór die Golf oorlog tot min of meer niks gedaal met die huidige krisis van ISIS wat op radikale en ekstremistiese wyse Christene en selfs ander Moslem groepe uitgewis en verdryf. Die meeste Christene sit vandag – natuurlik saam met baie ander, ook Moslems – in vlugtelingskampe en leef van die hand na die mond. Hulle is só afhanklik van ons gebede en ons ondersteuning.

Die tweede was die berigte oor die tragiese dood van 12 mense by die Charlie Hebdo tydskrif in Frankryk aan die hand van Islamitiese ekstremiste. Die impak hiervan gaan nog wyd ervaar word. Franse noem hulleself nou Charlie – ons is almal Charlie – waarmee hulle identifiseer met die Franse Revolusie se klem op vryheid, gelykheid en broederskap – Liberté, Égalité, Fraternité – hulle lewensmotto. Dié vryheid en gelykheid en broederskap is egter nou onder groot druk. Hoe gaan hulle reageer? Hoe gaan hulle die nie-radikale Moslems in eie geledere hanteer?

Vryheid van geloof en spraak is onder druk

Dit lyk vir my asof die twee berigte verband hou.

  • Aan die een kant neem die vervolging van Christene vir hulle geloof toe. Die vryheid om in Jesus Christus te glo, is in gedrang in soveel lande in die wêreld.
  • Aan die ander kant is daar net soveel teenkanting teen vryheid van spraak. Selfs hier by ons het ons iets daarvan ervaar met die skildery oor ons president, die Spear. Die vryheid om jou mening te lug, is dus in die gedrang.

En laat ons eerlik wees, in al die gevalle van erge vervolging en verwoesting is daar ekstremiste en radikale betrokke. En ‘n mens sou met reg kon vra of alles wat in die naam van vryheid van spraak gesê word, regtig aanvaarbaar is – en ek sal later iets meer daaroor sê. Maar, hoe dit ook al sy, die gebeure in die wyer wêreld het ‘n impak op ons almal! Dit stem ons almal tot nadenke.

Wat my nog verder ontstel het, is om dié berigte saam te lees met ‘n klomp ander plaaslike berigte oor bendelede wat doodgeskiet is, bejaarde mense wat aangeval is, die Medupi kragstasie wat nie net al ‘n paar jaar laat is nie, maar nou ook benede spesifikasie gebou is, en daarom nie optimaal gaan werk nie, die SEB wetgewing wat verdere beperkinge op indiensneming gaan plaas op grond van ras.

En dan is ek ook baie bewus van mense wat siek is, mense wat sukkel, mense wat selfs waar hulle goed probeer doen, teenstand kry van die mense wat hulle probeer help. Daar is soveel destruktiewe kragte aan die werk in hierdie wêreld. Soveel onkunde, soveel geweld, soveel boosheid.

Dit is om van naar te word.

Die kunstenaar Banksy se reaksie

Een van die reaksies op die Charlie Hebdo tydskrif tragedie vorm daarom die agtergrond van die PowerPoint wat ek vanoggend gebruik. Dit is deur Banksy, ‘n skuilnaam Engelse graffiti kunstenaar, politieke aktivis, rolprentmaker en skilder (Wikipedia). Dit is geskep om die pad vorentoe vir die geveg vir die vryheid van spraak aan te dui.

Dit sluit op ‘n manier aan by die boodskap van vanoggend. Die tekening help ons verstaan hoe selfs die ergste krisisse ‘n mens kan inspireer om te heroriënteer en aan te gaan. As die potlood waarmee jy skryf, breek, het jy ‘n keuse:

  • Gooi tou op en laat die teenstand jou oorrompel, jou stem stilmaak, die punt van jou lewe stomp maak.
  • Óf neem bestek op, neem die korter potlood, maak dít skerp, en laat jou stem hoor, maak jou punt so sterk as wat jy kan.

God maak gebreekte potlode weer skerp

Dit is immers hoe God met ons werk en hoe ons die Christelike lewe moet benader. Hoeveel keer is God nie met gebreekte potlode in die lewe gekonfronteer nie. ‘n Dawid wat sy posisie misbruik. ‘n Petrus wat sy posisie ontken – “Ek ken die man nie.”

  • Die Here maak Dawid se lewe weer skerp ná Hy hom aangespreek het en Dawid tot inkeer kom.
  • Die Here maak Petrus se lewe weer skerp ná hulle by die See van Galilea weer versoen is: “Het jy My werklik lief, meer as hulle? … Ja, Here, U weet dat ek U liefhet … Laat my lammers wei.” (Joh. 21:15 vv.)

Trouens – die evangelie is bedoel vir dié dele van die lewe waar daar onvrede is, waar daar hartseer is, waar dinge nie uitgewerk het nie, waar dinge in mekaar geval het. Die Here werk altyd met die toekoms, met dié dinge wat gered kan word, met dié dinge wat gedoen kan word, met dié dinge wat reggestel kan word. Hy hou nooit op om gebreekte potlode heel te maak en in te span vir die doel waarvoor Hy dit in die eerste plek gemaak het nie.

Daarop kan ons staatmaak dié jaar. Die Here weet wat Hy vir jou beplan. Hy wil jou gebruik vir die doel waarvoor Hy jou gemaak het. Selfs al breek jou potlood ‘n paar keer dié jaar, sal die Here jou nie laat vaar nie. Hy sal jou elke keer weer optel en jou weer in diens neem. Soms sal dit seer wees. Soms sal dit baie seer wees. Maar, die Here sal sy doel met jou nie versaak of verlaat nie. Hy sal dit enduit volvoer.

Kom ons lees die woord van die Here vir dié werklikheid waarin ons lewe:

Skriflesing

Filippense 4:4-8

Hierdie gedeelte is só belangrik. Dit skets vir ons op omvattende wyse dié dinge wat lewe sal bring vir ons almal, ook vir dié mense rondom ons.

  1. Verbly julle altyd in die Here

Die eerste woord aan ons is dié oproep in vers 4: “Verbly julle altyd in die Here!” Paulus sê dit twee keer. ‘n Mens kan fokus op die dinge wat jou swaarmoedig maak óf jy kan fokus op dié dinge wat jou bemoedig. En een van die groot dinge wat ons bemoedig is om vreugde te vind in die Here. “The joy of the Lord is your strength,” sê Nehemia 8:11. “Daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut,” sê Klaagliedere 3:22-23 midde in die trauma van die wegvoering in ballingskap.

Dit neem net ‘n paar minute om in die oggend te fokus op dít wat jou bly maak, dít waaroor jy dankbaar is, dít wat jy van God ontvang het. En jou dan te verbly in die vreugde wat die Here gee.

En soek medegelowiges op om julle saam in die Here te verbly. Paulus gebruik immers hier die woord chairete (blydskap/vreugde) waarmee hy nie net die innerlike blydskap beskryf wat in God se teenwoordigheid hulle deel sal en kan wees nie, maar ook die gesamentlike blydskap in die gemeenskap van gelowiges. Verryk mekaar se lewens deur te vertel van dié dinge wat julle bly maak en loof die Here saam.

  1. Laat julle welwillendheid aan alle mense bekend word

Die tweede woord aan ons is die verdere oproep in vers 5: “Laat julle welwillendheid aan alle mense bekend word.

Daarmee bedoel Paulus dat dit nie net die gemeenskap van gelowiges is wat ’n veilige, vriendelike, vreugdevolle plek moet wees nie, maar dat hierdie gesindheid ook die wyse waarop gelowiges met die publieke gemeenskap saamleef, moet stempel. Die bereidheid om te skik, om te luister na rede, om bereid te wees om van ander te leer, of soos een kommentaar dit stel, om met: “sweet reasonableness” op te tree, moet die uitstaande kenmerk van die gemeente se interaksie met die wêreld wees.

Hoekom kan ons dit doen? Want: “die Here is naby,” sê Paulus. Die primêre rede wat hierdie vreugde en welwillendheid aanwakker, is dat die Here naby is – beide in terme van die wederkoms, die manier waarop ons dit normaalweg interpreteer, maar ook in terme van Sy teenwoordigheid in die hede.

Die gemeente kan dit dus waag om met vreugde te lewe, en inskiklik te wees teenoor alle mense, want die Here is nie ver van hulle af nie. Dit beteken onder andere dat Hy die vermoë het om in te tree en op te tree in alle situasies binne en buite die gemeente. En daarvoor kan ‘n mens saam intree soos die volgende punt ook sal uitspel.

  1. Moet oor niks besorg wees nie

Die derde woord aan ons is die oproep in vers 6: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank.”

Omdat God naby is, kan ons oor alles en in alle omstandighede na Hom toe gaan in gebed. Letterlik staan daar in vers 6: “maak in alles (alle situasies) julle versoeke (aitema) bekend aan God deur gebede (proseuche) en versoeke/petisies (deesis) met danksegging (eucharistie).”

Daaraan is ‘n belofte gekoppel in vers 7: “die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” Dit is die enigste plek in die NT waar só van “die vrede van God” gepraat word. Paulus bedoel hier nie die vrede met God nie, maar die vrede van God, die vrede wat Hy self het, die vrede wat Hy self is, die vermoë wat Hy het om nie angstig te raak oor allerlei nie, maar in beheer en veral getrou aan Homself te bly. Dít is wat die harte en gedagtes van die gemeente sal bewaar. En dié vrede gaan alle denke te bowe – dit bedoel letterlik dat dit iets is wat beter is as die beste beplanning!

  1. Rig julle gedagtes op die prysenswaardige

Die vierde en laaste en daarom miskien belangrikste woord is in vers 8: “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, wat reg is, wat rein is, wat lieflik is, wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”

Paulus spel dus vir ons die tipe gedrag uit wat by dié tipe lewenshouding (vreugde en welwillendheid) en dié tipe gebed pas, nl. ’n waarderende positiewe lewe. Hy moedig die gemeente aan om hulle gedagtes (beplanning) te rig op alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien – watter deug of prysenswaardige saak daar ook mag wees.

Ons het die grootste vryheid om hierdie positiewe denke op alles te rig wat rondom ons is en en oor alles wat ons op watter wyse ook al aanraak. Ons mag, trouens moet, kreatief wees in ons fokus op dié dinge wat lewe gee en lewe bring. Niks moet ons keer nie. Niks moet ons aan bande lê nie.

Let op dat hierdie oproep ook ‘n woord vir die Charlie Hebdo’s van die wêreld is – satire het sy plek waar die waarheid bv. nie op ‘n ander manier gehoor kan word nie, maar die maatstaf van die waarheid, van eerbaarheid, van regverdigheid, van reinheid, van lieflikheid!, van deugsaamheid, van prysenswaardigheid, bly ook vir die media van belang.

Maar, die belangrikste boodskap is dié een vir elkeen van ons. Ons moet onsself hieraan hou. Dít is die gedagtes wat ons moet dink. Dít is die gedagtes waarvan ons lewens vol moet raak.

Dít is die gedagtes wat ons potlode skerp sal maak om die punt wat God met ons lewe wil maak, op die beste moontlike manier kan skryf.

Ons is wegbereiders vir Jesus

Ons dink dikwels aan onsself as mense wat Jesus volg. Waar Hy lei, daar gaan ons, en só leef ons. Ons is dissipels, volgelinge. En dit is goed om só te dink. Dít is waarvoor ons geroep word.

Maar daar is ook ‘n ander kant van die saak. Wat sou gebeur as ons bykomend ook aan onsself, en aan ons lewe, dink as wegbereiders vir Jesus, soos Johannes die Doper dit vir Jesus was.

Wegbereiders is mense wat weet dat Jesus reeds daar is, reeds oral is, reeds besig is om dinge te verander. Maar wegbereiders vestig die aandag op Jesus. Wegbereiders neem die plek waar mense is – letterlike en figuurlike plekke – ernstig, en konnekteer mense se verwagtinge en nood met die Messiaskoning wat gekom het om die hemel vir hulle oop te skeur.

In die woorde van Filippense 4 sou dit beteken dat ons mense help om rekening te hou met die nabyheid van die Here – en ons doen dit deur aan die een kant met blydskap te lewe en aan die ander kant welwillendheid teenoor alle mense uit te dra. In ons nabyheid sien hulle God s’n.

Dit vra natuurlik baie van ons! Want dit beteken dat ons nie mag vasval in ons eie ongemak met die lewe nie. Dat ons ook nie mag vasval in ons stereotipes oor ander mense waaroor ons só graag mekaar inlig. Ekstremiste tipeer nie die groep waaraan hulle behoort nie. Goddank! Blydskap en welwillendheid skep daarom ‘n ruimte waarbinne ander mense tot hulle reg kom en nie vasgevang word in die stereotipes wat ander vir hulle skep nie!

Dit beteken verder dat ons ander se nood op ons sal neem en vir hulle by die Here sal begin intree. Dít is só belangrik – nie net ons eie behoeftes en sorge en probleme moet voor die Here kom nie, ook dié van ander. Nie net die belange van ons eie groep nie, maar ook dié van ander groepe, selfs van ander gelowe as ons eie.

En die belangrikste van alles is dat ons self sal begin om in die gesprekke waar ons betrokke is, privaat en publiek, ons self sal fokus op díe dinge wat waar is, wat eerbaar is, wat rein is, wat lieflik is, wat lof verdien, wat deugsaam is, wat prysenswaardig is.

Ons moet ervare storievertellers word, dié stories wat mense uit die moerasse lig waarin hulle hulleself gepraat en laat beland het, om hulle voete op stewige grond te plaas, ‘n ruimte waarbinne die lewe kan gedy. En ons moet leef wat ons sê.

Dit laat my dink aan Lesslie Newbigin wat sê die kerk se getuienis en lewe is die uitleg van die evangelie. Mense weet nie wie Jesus is en wat Hy vir hulle kan beteken anders as deur die kerk – dit is deur alle lidmate van die kerk – se lewe en se getuienis nie. Hoe ons leef, berei mense voor om Jesus te kan ontvang.

Daarom moet ons dié week gaan leef met die vraag na waar kan ek ‘n wegbereider wees? Wat moet ek sê, hoe moet ek leef? Elkeen van ons moet hieroor nadink en hiervoor begin lewe.

Gebed

Offergawes

Wegsending

Liedboek 601:1,4,5 – Dié wat die Here wil dien, húl het ‘n nuwe toekoms. Swaarkry vir altyd verby – God laat hulle vreugde sien. Stil maar, wag maar, alles word nuut – die hemel en die aarde!

Seën

God se koninkryk is te vind waar ons werk, speel en slaap. Ons vind Jesus dikwels buite tussen die mense en nie net in die sinagoge nie. As navolgers van Christus is dit dan ook waar ons ons moet bevind. ’n Uitsending, wat aansluit by die sentrale boodskap van die dag, is daarom belangrik.

Soos die Vader Jesus gestuur het, stuur Hy ons ook.

Vrede vir julle!

Respons

Liedboek 601:1 se laaste vier reëls –Stil maar, wag maar, alles word nuut – die hemel en die aarde! (x2)

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie!

  • Avatar

    mariette

    |

    Môre-môre!

    Dankie Chris. Die reeks dra baie praktiese wenke oor en is verrykende luistergenot vir elkeen. Elke dag iets nuuts om na uit te sien!

    Seën daarop toegebid
    Mariette

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Nee, Elmarie, jy hoef nie. Ons kan 250 mense akkommodeer. Skryf net in by die deure. Baie welkom.

  • Avatar

    Prof Elmarie Venter

    |

    More Ds Chris. Ons is 3 wat wil bywoon. Moet ons nog bespreek? Groete
    Elmarie

  • Vreesloos 1

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • 21 Mei 2020

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons het vir baie lank ‘n versorgingskommissie gehad vir leraars en personeellede. Dit was persone in die gemeente wat gereeld op informele wyse met elkeen van ons kontak gemaak het, belanggestel het in wat in ons lewens aangaan, uitgevra het na uitdagings, en vir ons gebid het. Dit was benewens die diensverhoudingekommissie wat meer op die formele dinge gekonsentreer het. Die inperking het ‘n bietjie daaraan verander, maar dit was ‘n baie goeie informele sisteem van versorging.

  • Avatar

    Des Sampson

    |

    Goeie dag. Ek is voorsitter van die DVK op Hartenbos. Wat doen julle mbt die versorging van predikante en kantoor personeel?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit was Rethie van Niekerk se preek. Sy het in die preek verwys na die Hebreeuse woorde.

    Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde.  15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant).  11, 13, 16 lettergrepe (ek het weer getel, en dit is die korrekte aantal).

    24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
    25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
    26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm

    Hoop dit maak sin.

  • Avatar

    Annemarie vn Zyl

    |

    NUM 6; GOD SE SEEN, Goeiemore
    Ek het vanoggend hierdie Bybelstudie gedoen en dit was wonderlik. Die deel DIE TEKS verstaan ek egter glad nie. ek kry die aantal woorde reg maar glad nie die konsonante en lettergrepe nie. Ek verstaan ook nie die doel van hierdie deel nie, tensy jy wil bewys dat dit menslik amper onmoontlik is om die seen so te skryf, met die spesifieke aantal konsonante en lettergrepe sonder God se ingryping.. ek sal dit waardeer as iemand die deel in kort vir my verduidelik Baie dankie Annemarie van zyl.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Corrie! Mooi jaar vir jou.

  • Avatar

    Corrie

    |

    Ds. Chris, soos altyd ń opbeurende en positiewe bydra deur U, vir die toepassing deur die kinders van God. Selfs hulle wat Hom nog nie as hul Saligmaker en Verlosser aangeneem het nie, sal baat by diė insetsel. Ek vra dat God se seën op U sal rus.

  • Avatar

    C Joubert

    |

    Inspirerende en besielende boodskappe

  • Avatar

    Sonja Lizemore

    |

    Beste Ds Chris.
    Net n GROOT DANKIE vir die liedere. Dit is baie spesiaal.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Carol, jy is reg, dit is ‘n kosbare insig! Ek het ook onlangs gepreek oor die inwonende Christus, as jy meer wil lees. Baie seën.

  • Avatar

    Carol

    |

    Baie dankie vir die eerste keer in my lewe besef ek nou wat my probleem is. Ek het nog nie vir JESUS in my ontdek nie dis geen wonder dat my verhouding met JESUS nêrens kom nie. Geen ontmoeting geen kennis of wysheid en GEEN GROEI.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Annelize – ons hou dienste in die kerkgebou (Louis Bothasingel 177, Somerstrand) om 09:00 Sondae tegelykertyd met ons Youtube erediens ook om 09:00. Ons het ook ‘n meer informele Youtube erediens – Pulse – wat van 11:00 af op ‘n Sondag beskikbaar is. Ter wille van die personeel se verlof sal ons DV van 27 Desember tot 24 Januarie nie fisiese eredienste in die kerk hê nie, net die Youtube erediens 09:00. Dié dienste word weer hervat van 31 Januarie af sowel as moontlik ‘n aanddiens om 18:30. As jy hier is, maak ‘n afspraak dat ons jou kan verwelkom. My sel is “nul agt twee 5749191”. Groete, Chris van Wyk.