Skip to main content

Matteus 11:16-30 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee

Matteus fokus in hoofstuk 11-13 op die impak wat die evangelie van Jesus Christus op die Jode gehad het.  Daar was veral twee reaksies.  Aan die eenkant het die meerderheid van die Joodse volk in opstand gekom teen sy bediening, veral omdat Jesus tollenaars en sondaars bedien het (11:2-19).  Die mense in die stede wou nie byt aan Jesus se goeie nuus nie ten spyte van die kragtige dade wat Jesus daar gedoen het (11:20-24).

In skerp kontras met hulle aan die ander kant, kon die Here Jesus sy Vader loof vir “kindertjies” wat ontvanklik was vir die boodskap van die koninkryk.  Hy wyt dit aan God se werk in hulle harte.  Dit is vir diegene wat Jesus rus vir hulle gemoed aanbied in ’n persoonlike verhouding met Hom (11:25-30).

Dit is die agtergrond vir die deel wat ons nou gaan lees.  Ons sal onmiddellik agterkom dat dit baie relevant ook vandag vir ons eie mense is.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming

Lindenkoor tree volgende week hier op.  Hulle is van Linden Hoërskool onder leiding van Duncan Fourie.  Hierdie jaar al 21 jaar in die bedryf!

Toetrede

Lied 224 – Kom prys Hom alle nasies.  Kom sing, kom loof die Heer! (x3 – Afrikaans, Latyn, Afrikaans) – sit

Votum

Lofsang

Lied 98:1,3 – Sing van die dade van die Here, kom sing vir Hom ’n nuwe lied – staan

Lied 219:1,2 – Laat ons sing van ons Verlosser, Hy wat wys hoe liefde lyk – sit

Lied 556 – Vervul my hart met dankbaarheid waar ek nou tot U nader – sit

Kindertyd

Ek verduidelik – met ’n yo-yo – hoe ons soms voel asof die lewe soos ’n yo-yo is.  Partykeer voel ons ook of ons so op en afgetrek word deur alles wat gebeur.  Onthou, terwyl ons so op en afgetrek voel, is God steeds lief vir ons.  God se liefde is nie gebaseer op die feit of ons iets doen of nie.  Hy is vir ons lief net soos ons.  En ons bly die hele aan Sy hand vas, soos die tou aan die yo-yo vas bly.

Gebed

Skriflesing

Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee

Matteus fokus in hoofstuk 11-13 op die impak wat die evangelie van Jesus Christus op die Jode gehad het.  Daar was veral twee reaksies.  Aan die eenkant het die meerderheid van die Joodse volk in opstand gekom teen sy bediening, veral omdat Jesus tollenaars en sondaars bedien het (11:2-19).  Die mense in die stede wou nie byt aan Jesus se goeie nuus nie ten spyte van die kragtige dade wat Jesus daar gedoen het (11:20-24).

In skerp kontras met hulle aan die ander kant, kon die Here Jesus sy Vader loof vir “kindertjies” wat ontvanklik was vir die boodskap van die koninkryk.  En Hy wyt dit aan God se werk in hulle harte.  En dit is vir diegene wat Jesus rus vir hulle gemoed aanbied in ’n persoonlike verhouding met Hom (11:25-30).

Dit is die agtergrond vir die deel wat ons nou gaan lees.  En ons sal onmiddellik agterkom dat dit baie relevant ook vandag vir ons eie mense is:

Matteus 11:16-19 en 25-30

16“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:

17‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,

en julle het nie gedans nie!

Ons het ’n treurlied gesing,

en julle het nie gehuil nie!’

18Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’19Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Die uitnodiging van Jesus

(Luk 10:21–22)

25Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Woordverkondiging

‘n Fotograaf is besig om skoolfoto’s van die Graad Eentjies te neem by die plaaslike laerskool. Hy knoop allerhande geselsies met die kinders aan om hulle op hulle gemak te stel.

Wat gaan jy wees as jy groot is?” vra hy ‘n dogtertjie.

Moeg,” kom die eerlike voorspelling.

Ek wonder of dit nie ook soms só met ons is nie. Ons is soos yo-yo’s in ons verhouding met die Here Jesus Christus.  Dan is ons naby aan Hom.  Dan weer ver van Hom af.  Ons verbintenis aan Hom neem toe met een of ander besluit wat ons neem, ‘n kamp wat ons bywoon, ‘n boek wat ons lees, soms die Bybel wat ‘n groter rol speel in ons lewe, of ons begin met ‘n gebedslysie, of ons probeer om met meer oortuiging in ‘n verhouding met Hom te lewe.  Maar, dan vervaag die commitment weer, begin ons dit al hoe minder doen, begin krities raak daaroor of ons verhouding met Hom enige betekenis het, en ons raak verveeld en moeg vir probeer en val weer terug in ons ou weë.

Dan is ons ook soos die dogtertjie: “Moeg!”  En krities.  En depressief oor die lewe.  En ons gee allerlei ander mense of instansies of omstandighede die skuld vir hoe ons voel.

Is dit só met jou lewe?

Kinders op die markplein

Jesus sê, dit is hoe kinders optree.  Hy vertel ‘n klein verhaaltjie om die mense van sy tyd te tipeer.  Hulle is soos kinders, sê Hy. Hulle is soos kinders wat op die dorp se markplein ronddrentel. Die grootmense is hard besig om te werk. Hulle koop en verkoop. Hulle maak ’n bestaan.  Hulle werp hulle in die ritme van die ekonomie van die dag.

Maar die kinders is verveeld. Hulle is nie sinvol besig nie.  Hulle wonder hoe hulle die tyd gaan omkry.

  • Sommige van die kinders, sê Jesus, begin musiek maak en nooi die ander om saam met hulle te begin dans en vrolike liedjies te sing.  Maar die res van die kinders wil nie saam fluit en dans nie. Hulle is nie lus nie.  Hulle is moeg vir dans.
  • Goed, sê nog ‘n groepie kinders.  Kom ons treur dan liewer. Kom ons sing ‘n treurige liedjie.  Kom ons druk ons hartseer uit sodat almal kan hoor.  Weer wil die res van die kinders nie meedoen nie. Hulle is nie lus nie. Hulle is moeg vir treur.

Die kinders is dus nie lus vir vrolike musiek nie. Hulle is ook nie lus vir hartseer klanke nie.

Hulle is moeg, verveeld, krities. Hulle is vir niks lus nie.

Johannes en Jesus

Só beskryf Jesus die mense van sy tyd.

Johannes die Doper het gekom en ’n lewe van ontbering gely.  Hy het die mense opgeroep om tot bekering te kom.  Hy het die toorn van God oor die sonde van die volk verkondig en mense aangeraai om in sak en as hulle tot God te bekeer.  Hy het hulle opgeroep om te huil en treurige liedjies te sing.

Maar die meeste van die volk wou nie.  Hulle was nie lus vir treur nie.

Jesus self het gekom en ’n lewe van oorvloed gebring.  Hy het die randfigure van die samelewing ingesluit, die tollenaars en die sondaars, die rykes en die armes, en saam met hulle geëet en wyn gedrink.  Hy het mense uitgenooi om die dans van die goeie nuus van God aan te leer en met oorgawe en blydskap agter Hom aan te kom, om sy dissipels te word.

Maar die meeste van die volk wou nie.  Hulle was nie lus vir dans nie. Hulle was nie lus vir sing nie.

  • Hulle was nie lus vir Johannes die Doper nie.  Hy het nie geëet en gedrink nie.  Hy het net te skraps gelewe en te veel gepraat oor bekering. Dit was onbehoorlik.
  • Hulle was ook nie lus vir Jesus, die man van Nasaret nie.  Hy was ‘n vraat en ‘n wynsuiper, die vriend van tollenaars en sondaars.  Hy het te oorvloedig gelewe, te veel mense ingesluit.  Dit was onbehoorlik.

Hoekom?

Hoekom?  Waarom reageer die mense van Jesus se tyd nie op bediening van Johannes en Jesus nie?

Miskien omdat ten spyte van die feit dat hulle tog gaan kyk het na Johannes die Doper by die Jordaan en geluister het na sy prediking, hulle steeds toeskouers gebly het.  Dieselfde met Jesus.  Hulle het tog agter Hom aangetou om te sien wat Hy doen, hoe Hy die Fariseërs en Skrifgeleerdes ore aansit met sy insig, hoe Hy mense genees, maar steeds toeskouers gebly.

  • Tot bekering kom?  Nee, dit was te veel gevra.
  • Agter Jesus aan te gaan as dissipel wat mense innooi en bedien met die oorvloed van God self?  Nee, dit was te veel gevra.

Maar daarmee, belangrik, ontsettend belangrik, het hulle die betekenis van Johannes die Doper en Jesus die Nasarener se bediening vir hulle lewe gemis.

  • Hulle het nie die krisis waarin hulle as volk was, en die dreigende gevaar van God se toorn oor hulle sonde, herken nie – dit waarteen Johannes die Doper hulle gewaarsku het nie.  Hulle wou nie tot bekering kom nie.  En die geskiedenis leer ons dat Jerusalem 40 jaar later geval het.
  • Hulle het ook nie die geleentheid wat God hulle gee, om die lewe in Jesus te omarm en in ’n verhouding met die lewende God te begin leef, raakgesien nie.  Hulle wou nie dissipels word nie.  En die geskiedenis leer ons dat die evangelie oor die grense van Joodse nasionalisme gevloei het en regoor die wêreld God se genade versprei het.

Dit is die hart van die saak.  God roep hulle tot bekering en lewensvernuwing, maar hulle wou nie.  En hulle mis die Goddellike kairos, die tyd van beslissing wat God vir hulle gegee het.

Waar pas ons in hierdie prentjie?

As ons dié boodskap vir die Jode van Jesus se tyd goed verstaan, weet ons onmiddellik dat hierdie teks oor vir ons tot ernstige selfondersoek oproep, tot selfkritiek, berou, bekering, dissipelskap. En dit is nie vandag nie ander mense of die mense van Jesus se tyd wat aangespreek word nie. Dis ons, dis ek. Dis die verandering wat ék nodig het, wat ek moet raaksien.  Om van toeskouers na deelnemers te verander.

Die belangrike vraag is natuurlik hóé en waarin God vandag aan ons verskyn? Watter uitnodigings is daar wat ons nie raaksien nie? Waarteen ons ons verset, sonder selfs om te besef wat ons doen?  Ek dink daar is vele perspektiewe hierop:

  • die krisisse van die voortslepende onrus in ons land gevoed onder andere deur korrupsie en onreg en selfverryking aan die eenkant en die magteloosheid en minderwaardigheidsgevoel aan die ander kant, die geweldige nood van armoede en onderwys wat veral kinders tref wat nie kies waar hulle gebore word nie,
  • maar ook die geleenthede wat die insluiting van multi-generasies in ons gemeente en multi-kulture ons bied, asook die vele geleenthede tot geloofsgroei wat ons in ons gemeente en gemeenskap het.

Ons eie insigte is egter baie keer veels te beperk om hierdie krisisse en geleenthede reg te onderskei. Dit is nodig om met ander Christene, ook mense van buite ons eie tradisionele kring, hieroor te gesels. Ons kan mekaar geweldig help as op reis gaan met mekaar.

  • Ek gaan juis in die derde kwartaal meer mense innooi in só ’n proses wat ek nou al met een groep begin het, Reisgenote in geloofsvorming.
  • Ek is ook oortuig dat die Bybelskool oor die profeet Jeremia en veral die Klaagliedere van Jeremia ons geweldig baie gaan help om die tydsgewrig waarin ons verkeer, te kan onderskei.

En daar is vele ander geleenthede in ons kleingroepe en bedieninge wat jy kan aangryp.  Ons almal gaan ingelig word by ons Somerstrand Gemeente 101 byeenkomste, en ons almal gaan uitgenooi word om ons aan ons gesamentlike aanbidding in ons eredienste, ons gesamentlike geloofsreis in ons kleingroepe en ons gesamentlike impak in ons gemeenskap in ons bedieninge te verbind.

Gebed speel natuurlik ook ‘n geweldige belangrike rol, miskien selfs die sleutelrol. Die biddende, selfondersoekende en selfontledigende soeke na die wil van God, vir jouself en vir ons as gemeente, is onvervangbaar.  En om dan betrokke te raak by dié dinge waarvoor jy bid, dié dinge wat die Here op jou hart lê.

Geroep om te speel!

Maar, ons moet in die selfondersoek nie verval in ’n swaarmoedigheid nie.  Die metafoor van die kinders op die markplein wil nie noodwendig van ons grootmense maak nie.  Dit wil ons tot deelname aanmoedig, ons uitnooi om te dans as ons uitgenooi word, of om te treur as dit nodig is, d.w.s. om aan te pas by die ritmes van die lewe wat die Here oor ons pad bring.

Die geestelike lewe is in ’n sekere sin soos die verbeelding speletjies wat kinders speel.  Ons geestelike verbeelding moet weer lewendig word sodat ons die nuwe moontlikhede wat God vir ons oopmaak, kan begin raaksien.  Jesus is immers die Een wat ons voortdurend nooi om te droom, nuut te dink, te hoop, te reken met Hom as die Een wat die onmoontlike kan vermag.

Dans saam

In ons teks is die verwyt dat God mense oproep om saam te dans, en hulle wou nie. God gee ‘n ritme aan, God dans, en nooi ons om dié ritme ons eie te maak en in harmonie met God te dans in die spel van gehoorsaamheid.

Só sien Sydney Carter dit. Hy skryf in 1963 die woorde van die deesdae bekende: “Lord of the dance“, soos deur Michael Flatley gepopulariseer.

In hierdie lied word Jesus voorgestel as die Een wat dans, op verskillende tye en plekke, ook op aarde. Jesus is in die lied aan die woord. Hy hou die dans lewend deur siekes te genees, die dood te verduur, en dit te oorwin deur dansend hoog op te spring. Nie almal wil saam dans nie. Die eerste dissipels het egter wel die uitnodiging aanvaar, en so gaan die dans deur die eeue voort.

Jesus lei ons steeds in die dans, Hy nooi ons om saam te dans, Hy maak ons nuut deur die lewensdans:

Lord of the dance

I danced in the morning when the world was begun,
And I danced in the moon and the stars and the sun,
And I came down from heaven and I danced on the earth:
At Bethlehem I had my birth.

Dance, then, wherever you may be,
I am the Lord of the dance, said he,
And I’ll lead you all, wherever you may be,
And I’ll lead you all in the dance, said he.

I danced for the scribe and the Pharisee,
But they would not dance and they wouldn’t follow me;
I danced for the fishermen, for James and John;
They came with me and the dance went on:

Dance, then, wherever you may be,
I am the Lord of the dance, said he,
And I’ll lead you all, wherever you may be,
And I’ll lead you all in the dance, said he.

I danced on the Sabbath and I cured the lame:
The holy people said it was a shame.
They whipped and they stripped and they hung me on high,
And they left me there on a cross to die:

Dance, then, wherever you may be,
I am the Lord of the dance, said he,
And I’ll lead you all, wherever you may be,
And I’ll lead you all in the dance, said he.

I danced on a Friday when the sky turned black;
It’s hard to dance with the devil on your back.
They buried my body and they thought I’d gone;
But I am the dance, and I still go on:

Dance, then, wherever you may be,
I am the Lord of the dance, said he,
And I’ll lead you all, wherever you may be,
And I’ll lead you all in the dance, said he.

They cut me down and I leapt up high;
I am the life that’ll never, never die.
I’ll live in you if you’ll live in me:
I am the Lord of the dance, said he.

Dance, then, wherever you may be,
I am the Lord of the dance, said he,
And I’ll lead you all, wherever you may be,
And I’ll lead you all in the dance, said he.

Die dans saam met Christus is die dans van mense wat deur God se ritme aan die hart gegryp is, en hul lewe daarvoor gee. “Soms is dit gedug om die ritme vol te hou, veral met die bose op jou rug” (Dirkie Smit). Soms is dit uitdagend om te reageer op die fluitspel van die lewende God. Dis asof ander agendas wil oorneem. Mens raak uitgeput en moeg.

Baie mense word inderdaad moeg soos hulle grootword. Die dogtertjie het reg vir die fotograaf gesê. Die Here van die dans het egter ook hiervoor raad.

Kom na My toe

Die krag om op te staan en te dans is nie iets wat onsself hoef te skep nie. Jesus se wonderlike uitnodiging, nadat Hy oor die passiwiteit en onbekeerlikheid van baie gepraat het, is immers:

Kom na My toe almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want My juk is draaglik en my las is lig.” (11:28-30 – BDV).

Eugene Peterson gee hierdie woorde as volg in The Message weer:

“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”

Die Here van die dans vat ons laste weg, maak dit draaglik, en gee ons die krag om ten volle vir Hom, en saam met Hom, te lewe.

En ’n mens hoef nie moeg te wees as jy groot is nie.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 532 – Ons Vader, neem ons hande en maak ons één – staan

Seën

Amen

Lied 314

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.