Skip to main content

Die eenheid van die Gees – Efesiërs 4

AthansiusTydmors?

Baie mense sê teoloë mors tyd en energie met hulle ivoortoring debatte.  Daarmee bedoel mense dat hulle moeg raak vir die oënskynlik sinlose teologiese debatte en die eindelose worstelinge met perspektiewe wat vir baie nie regtig met die werklike lewe te make het nie.

Is sulke debatte nie net tydmors nie?  Daar sal in elk geval nooit ‘n einde aan kom nie, nie waar nie?

‘n Mens sou vir Athanasius, die aartsbiskop van Alexandrië in die 4de eeu n.C. daarvan kon beskuldig, dat sy debatte met die kerk en met die vier keisers van sy tyd tydmors was.  Hy het vir vyf dekades lank hom beywer nie net vir ‘n frase of ‘n woord in die geloofsbelydenis van Nicea nie, maar om een letter daaruit te hou.  Een enkele letter.

Geen wonder dat die mense van hom gepraat het as “Athanasius Contra Mundum” – Athanasius teen die wêreld.

Die ding is net, as Athanasius ingegee het, as hy opgehou worstel het, as hy tou opgegooi het, was ons almal vandag in die moeilikheid.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Etienne se ma is oorlede. Ons bid vir jou en Annelet en jou pa en familie die nabyheid van die Here toe in hierdie tyd.

Toetrede

FLAM 5 Daar is geen grens aan u guns en genade – sit (groep)

Votum en Seëngroet

Lofsang

FLAM 387 Hier is u kerk – staan (groep)

Lied 167 Jesus, bron van al my vreugde – staan (orrel)

Verootmoediging

Paulus skryf aan die gemeente in Efese in die vroeë sestigerjare uit die tronk in Rome. Hy het begin agterkom dat daar valse leringe versprei word in Efese en wil hulle help om die waarheid in Christus te omarm, sodat hulle gewortel en gegrondves kan wees in sy liefde, dit waaroor Rethie verlede week gepreek het.

Hy het hulle ongeveer vyf jaar tevore gewaarsku dat daar wrede wolwe sal kom wat die gemeente onder druk sal plaas met vreemde en verkeerde leringe,  Hy het toe gesê:

28Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. 29Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. 30Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. 31Wees waaksaam.” (Handelinge 20).

Hy skryf dus nou vir hulle in die eerste deel van hoofstuk 4 oor die eenheid wat die Gees bewerk, ‘n eenheid wat hulle deur die samebindende krag van die vrede moet bewaar:

1 Daarom spoor ek julle aan, ek wat ter wille van die Here ‘n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: 2 met volkome nederigheid en saggeaardheid en met geduld, terwyl julle mekaar in liefde verdra. 3 Lê julle daarop toe om die eenheid (of eensgesindheid) wat die Gees bewerk, te bewaar deur die samebindende krag van die vrede. 4 Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook deur julle roeping tot een hoop geroep is: 5 een Here, een geloof, een doop, 6 een God en Vader van almal, Hy wat oor almal en deur almal en in almal is.

Dit is ook die uitdaging vir ons as gemeente en as kerk, om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, te bewaar.

Hoe moet ons dit doen, sê Paulus? 

Paulus sê ons bewaar die eenheid van die Gees deur die samebindende krag van die vrede, die vrede wat daar in Christus is. Ons word geroep om die vrede wat die Gees bring, te soek, dit te ontdek en dan doelbewus te bewaar. Dit sluit in, sê Paulus, dat ons nederig en saggeaard teenoor mekaar sal optree.  Dit sluit in, sê hy, dat ons met geduld teenoor mekaar sal optree en mekaar in liefde sal verdra.

Peterson vertaal vers 3 dinamies: “alert at noticing differences and quick at mending fences.” Die idee is dat die geloofsgemeenskap saam onderskei totdat die vrede wat die Gees gee, opdaag, en dan dié band waarmee dit ons dan in eensgesindheid bind, te bewaar en beskerm, “mending fences”.

En dan gaan Paulus aan.  ‘n Belangrike verdere manier waarop ons die eenheid kan bewaar, is deur elkeen die rol te speel wat die Here Jesus aan ons toegedeel het deur die gawes wat Hy vir elkeen van ons gegee het.  Dit is waarom dit so belangrik is om bewus te wees van die gawes wat die Here vir ons gegee het, en om dit te beoefen.

Teken solank aan dat ons weer die kursus Ontdek jou gawes in die derde kwartaal oor ‘n tydperk van ses weke gaan aanbied.  Paulus sê daaroor:

7 Maar aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk soos Christus dit uitgedeel het. 8 Daarom staan daar:  “Toe Hy opgevaar het na bo,  het Hy krygsgevangenes weggevoer (verwysing na Satan en sy trawante);  Hy het gawes aan die mense gegee.”  9 “Hy het opgevaar,” waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? 10 Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele sodat Hy alle dinge tot vervulling kon bring. 11 En as gawes het Hy sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee 12 om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk en om die liggaam van Christus op te bou. 13 So sal ons almal tot geloofseenheid, tot kennis van die Seun van God en tot volwassenheid kom, en die volgroeide gestalte van die volheid van Christus bereik.

Dit is wanneer ons weet wat ons gawe is, wanneer ons mekaar se gawes erken en toelaat dat dit ontwikkel, dat ons dit regkry om die eenheid tussen ons – die eenheid wat die Gees bewerk wanneer ons sy vrede ervaar, onder andere deur die gawes – te bewaar.  Elkeen van ons moet sy rol speel.  Elkeen is belangrik.  Elkeen se bydrae maak saak.

Dink ‘n bietjie na oor wat die Here vir jou sê oor die bewaring van die eenheid van die Gees in ons gemeente, sowel as oor die rol wat jy met jou gawes kan speel.

Lied 520 Saam buig ons neer om God te eer – sit (orrel)

Inleiding

Toutrek voorbeeld vir die kinders.

Lied The love of Jesus is so wonderful – staan

Skype met Hugo Wolmarans

Hugo, Jackie, John (Marlena is op ‘n kamp)

  • Hoe gaan dit met julle as gesin?
  • Watter uitdagings beleef julle tans?

Integrasie

Paulus het die eenheid wat die Gees bewerk, beskryf aan die hand van die samebindende krag van vrede wat ons help om nederig en saggeaard teenoor mekaar op te tree, deur mekaar met geduld en liefde te verdra, asook deurdat ons ons gawes benut tot voordeel van die liggaam.

Dan spel Paulus verder uit wat die doel van hierdie eenheid van die Gees in die liggaam van Christus is:

14 Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat ronddobber en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; 15 maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom sal groei. Hy, Christus, is die Hoof 16 uit wie die hele liggaam harmonieus met die hulp van elke gewrig saamgevoeg en verenig word en sy eie groei bewerk deur die aandeel van elke lid. So bou die liggaam homself op in liefde.

Tydmors?

Baie mense sê teoloë mors tyd en energie met hulle ivoortoring debatte.  Daarmee bedoel mense dat hulle moeg raak vir die oënskynlik sinlose teologiese debatte en die eindelose worstelinge met perspektiewe wat vir baie nie regtig met die werklike lewe te make het nie.

Is sulke debatte nie net tydmors nie?  Daar sal in elk geval nooit ‘n einde aan kom nie, nie waar nie?

‘n Mens sou vir Athanasius, die aartsbiskop van Alexandrië in die 4de eeu n.C. daarvan kon beskuldig, dat sy debatte met die kerk en met die vier keisers van sy tyd tydmors was.  Hy het vir vyf dekades lank hom beywer nie net vir ‘n frase of ‘n woord in die geloofsbelydenis van Nicea nie, maar om een letter daaruit te hou.  Een enkele letter.

Geen wonder dat die mense van hom gepraat het as “Athanasius Contra Mundum” – Athanasius teen die wêreld.

Die ding is net, as Athanasius ingegee het, as hy opgehou worstel het, as hy tou opgegooi het, was ons almal vandag in die moeilikheid.

Athanasius was ‘n biskop in die Koptiese kerk in Alexandrië en het as jong man van 27 die Konsilie van Nicea in 325 n.C. bygewoon waar die geloofsbelydenis van Nicea goedgekeur is.  Daarin was ‘n baie belangrike teologiese formulering oor die Here Jesus, een wat berus het op ‘n voorstel van Athanasius:

Ons glo in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.”  (Geloofsbelydenis van Nicea).

Een in wese” met die Vader.

Waaroor het die stryd van Athanasius gegaan?

Athanasius het by Nicea voorgestel dat Jesus homo-ousios met die Vader is – d.w.s. “een in wese” met die Vader, van dieselfde substansie of wese met die Vader. Dit is wat die Griekse homo beteken.  D.w.s., Athanasius het gesê dat Jesus God is, net soos die Vader, een in wese met Hom, van dieselfde substansie.

Sy groot teenstander Arius daarenteen het egter gesê dat Jesus nie een wese met die Vader is nie, maar soortgelyk is aan Hom.  Jesus is meer as ‘n mens, maar minder as God.  Hy het die frase homoi-ousios gebruik om dit uit te druk – d.w.s. “soortgelyk” aan die Vader, maar nie van dieselfde substansie of wese met die Vader nie.  Dit is wat die woord homoi beteken.

Dit het dus oor net een letter in een woord gegaan, die letter i.  Arius wou dit inhê.  Hy wou sê homoi-ousios, teen die formulering van die geloofsbelydenis van Nicea.  Athanasius het met sy lewe geveg dat die letter i uitgesluit word. Hy wou sê homo-ousios, soos die geloofsbelydenis van Nicea dit verwoord het

En dié stryd was absoluut nodig, want hoewel die homo-ousios van die geloofsbelydenis van Nicea met ‘n klein meerderheid in 325 n.C. aanvaar is – sonder die letter i – was dié woord vir ses dekades onder druk, want die Ariërs wou hê dat homo in homoi verander moes word, d.w.s. dat daar ‘n i bygevoeg word.

Van die begin van Athanasius se openbare lewe, regdeur die tyd toe hy aartsbiskop geword het op 8 Junie 328 n.C. op die jeugdige ouderdom van dertig, regdeur elkeen van die vyf keer wat hy uit Alexandrië verban is, tot met sy dood in 2 Mei 373 n.C. het Athanasius hom beywer vir die regte belydenis oor Jesus Christus as God self.

Hy het onwrikbaar gestaan vir die waarheid, totdat die Konsilie van Konstantinopel in 381 n.C., 8 jaar ná Athanasius se dood, die seël gesit het op Athanasius se onvermoeide ywer vir die uitlaat van die letter i in die frase “een in wese” met die Vader.  Die Konsilie van Konstantinopel het steeds homo-ousios bely, nie homoi-ousios nie.  En só is dit tot vandag toe nog regoor die wêreld.

Hoekom is dit so belangrik?

Dit het alles te make – nie net met wie Christus in sy wese is nie – maar wat Christus se Godheid vir ons beteken.  Want, dieselfde geloofsbelydenis van Nicea sê:

Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword.” (Geloofsbelydenis van Nicea).

Die punt is, as Jesus nie God is nie, as Hy nie een in wese met die Vader is nie, as Hy net ‘n skepsel is soos elkeen van ons, selfs al is Hy soos God, maar Hy is nie God nie, dan het ons geen sekerheid dat Hy ons kan red nie.  Dan is ons hoop vir ‘n lewe saam met God op dryfsand gebou.

Die waarheid oor Jesus – dat Hy een wese is met die Vader – is van lewensbelang vir ons saligheid.  Ons hele verwagting van wat Jesus as Middelaar tussen God en mens vir ons kan doen, word daarmee op vaste grond geplaas.  Ons kan voluit vertrou daarop dat Jesus as God in ons belang optree, omdat Hy inderdaad God is, homo-ousios, een in wese met die Vader.

Hou in liefde vas aan die waarheid

As Paulus dan nou hier skryf in vers 15 dat ons in liefde aan die waarheid sal vashou, staan dit nie teenoor sy aandrang daarop dat ons die eenheid onderling sal bewaar nie, staan dit nie teenoor ons nederigheid en saggeaardheid teenoor mekaar nie, staan dit nie teenoor ons geduld met mekaar en ons verdraagsaamheid in die liefde nie.

Nee, dit is juis lewensbelangrik vir ons eenheid, vir ons vrede, vir ons groei na Christus toe.  Sonder die waarheid oor Christus – selfs tot op die rol wat die letter i speel in ons belydenis oor Hom – loop ons die gevaar dat ons ten gronde gaan in die warboel van vreemde leringe wat nie net in die wêreld oorheers nie, maar ook baie keer in die kerk.

Dít is ook waarom ons geloofsbelydenisse vir ons so kosbaar is, waarom elke predikant dit onderteken by sy of haar legitimasie, en elke lidmaat voor die kansel bely dat hulle die leer van die kerk van harte aanvaar, en met alles in hulle sal vashou daaraan, en nie ‘n aks daarvan sal afwyk nie.

Die harmonie van die liggaam van Christus is afhanklik van ons vashou aan die waarheid.  Die samebindende krag van die vrede wat die Gees in die liggaam van Christus bewerk, is afhanklik van ons vashou aan die waarheid.

Dit is alleen wanneer ons saam vashou aan die waarheid – in liefde – dat die hele liggaam harmonieus kan groei, en die hulp van elke gewrig in die liggaam kan dien om die onderskeie lede nie net saam te voeg nie, maar elkeen op sy eie kan bydra dat die liggaam as ‘n geheel verenig en die groei van die liggaam bewerk kan word deur die aandeel wat elke lid dra.

Dit is hoe die liggaam van Christus homself opbou in liefde, deur vas te hou aan die waarheid.

Van watter liefde praat Paulus hier?

Die liefde (agapê) waarvan Paulus hier praat, het niks met gevoel te make nie.  Dit het niks te make met styl of liefdevolheid of enige ander betekenis wat ons aan die liefde vanuit ons verstaan daarvan kan of wil heg nie.

Nee, die liefde waarvan Paulus hier praat, het verband met die vorige vers.  Dáár in vers 14 het Paulus die gemeente gewaarsku teen die dwaalleraars, spesifiek teen: “mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan.

In direkte kontras sê hy nou in vers 15 dat die gemeente in liefde by die waarheid sal bly, daaraan sal vashou.  Die liefde is dus die direkte teenoorgestelde van die slinksheid en gekonkel waarmee dwalinge beplan word.  Paulus waarsku met sy beskrywing van die liefde dat hulle nie op ‘n strategiese wyse mense sal probeer manipuleer in ‘n rigting in, om hulle te forseer op ‘n dwaalweg nie.  ‘n Slinkse gekonkel is immers altyd gevaarlik, verduister die waarheid, verander die waarheid, kan nooit die waarheid na vore bring, en nooit die waarheid dien nie.

Dit is nogal ‘n belangrike eksegetiese punt, want Paulus spel liefde hier dus uit as openheid, opregtheid en eerlikheid, om die waarheid nie op ‘n agteraf manier of op ‘n manier wat ander mense probeer mislei of uitvang, te bring nie, maar om die waarheid met integriteit te verkondig, ter wille van die geloofsgemeenskap, ter wille van die Here.  Dit is om lojaal aan die waarheid te bly deur inderdaad ook lojaal aan die geloofsgemeenskap te bly en hulle nie te mislei en op ‘n dwaalweg te lei nie.

‘n Mens kan dus nooit vir die waarheid staan op ‘n slinkse en manipulerende manier nie.  Dan is dit nie meer in die liefde nie.  Die doel heilig nooit die middele nie. Anders word die waarheid nie in liefde gedeel nie.

En wat is dié waarheid?

Ek gaan volgende week hierop dieper ingaan, maar ek wil net ‘n paar aspekte uit die volgende perikoop intrek, omdat ‘n mens dit nodig het om die volle prentjie te kan sien.

Paulus spel in die verdere verse van hoofstuk 4 die waarheid uit as iets wat in Jesus is.  Die waarheid is in die persoon en lering van Jesus, wat, sê Paulus, die gemeente van Efese leer en onderrig om nie langer soos heidene te lewe nie, om nie meer met die leë gedagtes en duister denke wat kom uit ‘n harde hart op te tree nie, dinge wat hulle verlei om hulleself oor te gee aan losbandigheid (porneia) om, soos Paulus dit stel: “onversadigbaar allerhande onrein dade te pleeg” nie. (4:19).

Dít, sê Paulus, is nie soos julle Christus leer ken het nie.  Só ‘n lewe is nie in die waarheid nie.

  1. Die waarheid het dus iets te sê vir jouself.  Die “waarheid wat in Jesus is” – vers 21 – leer die geloofsgemeenskap immers om die ou mens en sy sondes af te lê – vers 22 – en in hulle denke vernuwe te word – vers 23 – en die nuwe mens aan te trek wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is – vers 24.
  2. Die waarheid het iets te sê vir jou verhouding met jou naaste.  Die waarheid wat in Jesus is, sluit in dat die gemeentelede die waarheid moet praat met hulle naaste, want ons is lede van een liggaam – vers 25.  Wees goed vir mekaar, sê Paulus, welwillend, terwyl julle mekaar vergewe soos God in Christus julle ook vergewe het – vers 32.  Dit is hoe ‘n mens in liefde by die waarheid bly, oop en eerlik oor die waarheid wat in die Here Jesus is.
  3. Die waarheid het ook iets te sê vir jou lewenstyl.  Hierdie waarheid sluit in dat die gevolge van ‘n lewe wat nie in Christus is nie, en wat nie volgens sy waarheid gelewe word nie, dat dit vir hulle uitgespel word.  Soos Paulus in hfst. 5 sê: “Soos dit heiliges betaam, moet daar onder julle van onsedelikheid en allerlei onreinheid of gierigheid geen sprake wees nie … Want dit moet julle goed begryp: Geen ontugtige of onreine of gierigaard – so iemand is ‘n afgodedienaar – het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (5:3-5).

Niemand wat God se wil vir verhoudings en die lewe oortree – niemand wat die waarheid ontken en dwaalleer omhels, en daarin volhard – het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie.

  1. Dit sluit onsedelikheid (porneia) in – enige seks buite die huwelik.
  2. Dit sluit onreinheid (akatharsia) in – die ontering van ons liggame onder mekaar, wat in Rom. 1:24 duidelik uitgespel word.
  3. Dit sluit alle gierigheid (pleonexia) in – enige lewenstyl waarin God nie die botoon voer nie, maar waar jou eie begeertes na meer jou lewe beheer.

Appèl

Dit is harde woorde dié.  Dit kan ongenaakbaar oorkom.  Maar, dit is natuurlik doelbewus só.

Paulus is bekommerd oor die dwaalleringe wat die gemeente van Efese van die spoor gaan afneem.  En hy kan nie bekostig om doekies om te draai en die waarheid op ‘n bedekte manier of met ‘n omweg aan hulle te bring nie.  Anders sal hulle nie groei in hulle verhouding met Christus nie.  Dan praat hy nie meer die waarheid in liefde nie.  Dan sal hulle nooit die samebindende krag van die vrede ken nie.  Dan sal hulle nooit die eenheid van die Gees kan bewaar nie.

Paulus sal later in sy eerste brief aan Timoteus verder hieroor skryf en probeer om hom te begelei om die dwaalleraars tereg te wys en veral die samehang van die wet en die evangelie in terme van lewenstyl uit te spel.  Hy sal hom bedien met raad oor hoe om die ouderlinge en diakens reg te kies, mense wat in die waarheid leef, en hulle aan te moedig om die Here te dien, en deur hulle voorbeeld die gemeente te help om in liefde by die waarheid te bly.

Die gemeente in Efese is, soos elke ander gemeente, immers “’n pilaar en ‘n fondament van die waarheid.” (1 Tim. 3:15).

Ook Jesus self sou die gemeente van Efese deur die brief wat hy aan hulle skryf – deur die Openbaring aan Johannes – waarsku om hulle eerste liefde, hulle verbintenis aan Jesus, die Een met die tweesnydende swaard van die waarheid van sy Woord, te herontdek.

Die gemeente van Efese het dié verskillende woorde – van Paulus en Johannes – waarskynlik ter harte geneem, want ons lees van ‘n hele paar ekumeniese Konsilies wat daar gehou is in die eerste paar eeue.  Hulle het ‘n pilaar vir die waarheid gebly.

Die gemeente het dus ‘n groot rol gespeel in die kerk van die eerste paar eeue, voor die stad se belangrikheid afgeneem het weens die rivier wat toegeslik het, wat die ekonomie ‘n knou gegee het, en ‘n aardbewing in die sesde eeu ‘n groot deel van die stad in puin gelê het.

Vir ons as gemeente kom die boodskap van die brief van Efese dus ook, dat ons in ‘n tyd waar daar verskillende weergawes is van die waarheid, waarin die Bybel self onder skoot is – waar teoloë nie meer die Bybel as die Woord van God hanteer nie, maar net as woorde oor God – in liefde – oop, opreg en eerlik – aan die waarheid moet vashou sodat ons in alles na Christus toe kan groei.

Ons leef in ‘n tyd waarin ons weer vir onsself keuses moet maak oor wat die Here bedoel as Hy vir ons praktiese etiese riglyne vir die lewe gee, ‘n tyd waarin ons ook weer onsself sal moet verbind daaraan om in liefde aan die waarheid van die Woord vashou te hou, in opregte liefde, met die oog op die bewaring van die eenheid wat die Gees bewerk, maar ook sonder om die boodskap van Christus op enige wyse af te swak.

En hierin is Athanasius vir ons ‘n voorbeeld.  Hy word in die kerkgeskiedenis as een van die reuse onder die kerkvaders gereken, ‘n fenomenale teoloog. Die impak van sy bediening word tot vandag toe en reg oor die wêreld gevoel.

Nie dat hy dit maklik gehad het nie.  Sy bediening was ‘n uitmergelende een, want hy was aan onmenslike politiese en kerklike druk uitgelewer.  Van dié 45 jaar as aartsbiskop het hy 17 jaar in ballingskap gespandeer.  Vyf keer het die Romeinse keisers hom verban, en telkens het die Here gesorg dat die deure vir hom weer oopgegaan het om met sy bediening aan te gaan.

Kort ná sy dood het hy die titel gekry: “Pilaar van die kerk”, d.w.s. iemand wat onwrikbaar vir die waarheid van die belydenis oor God, en die waarheid van die Woord gestaan het.  ‘n Mens kan in dié beskrywing van hom as pilaar van die kerk die verband sien met die teks in Timoteus waar die gemeente van Efese as ‘n pilaar en fondament van die waarheid beskryf word!

Athanasius word vandag nog in die Weste en die Ooste gereken en geëer as ‘n teoloog van formaat, as iemand wat sterk gestaan het teen ‘n ideologiese vertekening van die Skrif.  Soos ‘n ander kerkvader van hom geskryf het: “Athanasius is one who can be trusted: he would not say anything that is not in accord with sacred scripture.” (Cyril van Alexandrië).

Athanasius het nog baie ander dinge vir die kerk gedoen, onder andere was hy die eerste een wat die lys van 27 boeke gefinaliseer het wat vandag ons NT kanon uitmaak.  Maar, die bydrae oor die Godheid van Christus, die waarheid oor sy goddelike natuur, was ‘n bydrae van onskatbare belang vir ons geloof.

Geloofsbelydenis van Nicea

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge;

en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore:

Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God,

gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader,

deur wie alles tot stand gekom het.

Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword;

onder Pontius Pilatus is Hy vir ons gekruisig;

Hy het gely en is begrawe.

Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan,

en Hy het na die hemel opgevaar.

Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.

Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.

Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik.

Hy het deur die profete gespreek.

Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.

Ons bely een doop tot vergifnis van die sondes.

Ons verwag die opstanding van die dooies

en die lewe van die toekomstige bedeling.

Amen.

Gebed

Dankoffer

Voorstelling Rika Potgieter

Slotlied

Lied 481 Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dood – staan (orrel)

Seën

Respons

Lied 314 Amen – staan

Save

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.