Skip to main content

Hy het gesien en geglo – Johannes 20:1–31

Dit is fassinerend om Johannes se verhaal van die opstanding met nougesette aandag te lees. As jy dit lees en herlees en nogmaals herlees begin fyn detail uitstaan wat jou begrip van wat hier gebeur nie net verdiep nie, maar jou eintlik intrek in wat hier gebeur.

‘n Goeie verhaal is mos so. Dit is asof jy in die lees ingetrek word. Dit is asof jy dit saam begin beleef. Asof jy daar is. Dit is wat Johannes ook met ‘n mens regkry in hierdie verhaal van die opstanding.

Verwelkoming

Die Here Jesus het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.

Toetrede

Lied 409 Hoor jy die Paasfeesklokke? Hul lui van vroegdag af– staan

Votum en Seëngroet

Loflied

Lied 422 Die Heer, die Heer het opgestaan! Die Heer het wáárlik opgestaan!– staan

Wat beteken Jesus se opstanding vir jou?

“Jesus Christus sit aan die regterhand van die Vader. Hy berei vir my ‘n plek voor en bid voortdurend vir my. Hy begelei die verlossing en vernuwing van elke deel van die gevalle skepping totdat Hy terugkeer. Hy het sy Gees vir my gestuur as waarborg van my eie opstanding uit die dood sowel as die ewige lewe.” (Ef 2:4-7; Joh 14:1-3; Rom 8:34 – Heidelbergse Kategismus 45 – uit Wie is God? – Chris van Wyk).

Baptism

Hear the words of our Lord Jesus Christ:

All authority in heaven and on earth has been given to me. Go therefore and make disciples of all nations, baptizing them in the name of the Father and of the Son and of the Holy Spirit, and teaching them to obey everything that I have commanded you. And remember, I am with you always, to the end of the age (Matt 28:18-20).

Hear also these words from Holy Scripture:

There is one body and one Spirit, just as you were called to the one hope of your calling, one Lord, one faith, one baptism, one God and Father of all, who is above all and through all and in all (Ep 4:4-6).

I call on Adam Hissett and Debbie Erlank to come forward.

Baptism is the sign and seal of God’s promises to this covenant people. In baptism God promises by grace alone: to forgive our sins; to adopt us into the Body of Christ, the Church; to send the Holy Spirit daily to renew and cleanse us; and to resurrect us to eternal life. This promise is made visible in the water of baptism.

The water cleanses; purifies; refreshes; sustains: because Jesus Christ is living water.

Through baptism Christ calls us to new obedience: to love and trust God completely; to forsake the evil of the world; and to live a new and holy life.

Yet, when we fall into sin, we must not despair of God’s mercy, nor continue in sin, for baptism is the sign and seal of God’s eternal covenant of grace with us.

I now call on their child, Noah, to be brought in while we sing:

Lied 292 My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort– sit

Beloved of God, you stand before us to receive the sacrament of baptism.

Do you promise to instruct this child in the truth of God’s Word, in the way of salvation through Jesus Christ; to pray for them, to teach them to pray; and to train them in Christ’s way by your example, through worship, and in the nurture of the church?

What is your answer?

Noah Hissett, I baptize you in the name of the Father, Son and Holy Spirit.

Let us pray:

Gracious God, we thank you that you cleanse and renew this child through your grace alone. Bless and strengthen him daily with the gift of your Holy Spirit; unfold to him the riches of your love, deepening his faith, keeping him from the power of evil, and enabling him to live a holy and blameless life until your kingdom comes.

Look with kindness upon these parents. Let them ever rejoice in the gift you have given them. Grant them the presence of your Holy Spirit, that they may bring up their children to know you, to love you, and to serve you. Amen.

Loflied

Lied 423 Kom laat ons almal vrolik voor God die Here sing!– sit

Gebed

Skriflesing

Johannes 20

Jesus word uit die dood opgewek

(Matt 28:1-8; Mark 16:1-8; Luk 24:1-12)

1En vroegoggend op die eerste dag van die week, terwyl dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf verwyder is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het (Johannes), en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” 3Petrus en die ander dissipel het toe vertrek en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf aangekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die linnedoeke lê; hy het egter nie binnegegaan nie. 6Maar toe Simon Petrus wat hom gevolg het, daar aankom, het hy die graf binnegegaan en die linnedoeke daar sien lê, 7en die doek wat op sy kop was. Dié doek het nie by die linnedoeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Ook die ander dissipel, die een wat eerste by die graf gekom het, het binnegegaan, en hy het gesien en geglo. 9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie. 10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena

(Matt 28:9-10; Mark 16:9-11)

11Maar Maria het buitekant by die graf staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor na die graf toe gebuk, 12en twee engele met wit klere aan daar sien sit waar die liggaam van Jesus gelê het — een waar sy kop en een waar sy voete was. 13Hulle sê toe vir haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” 14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie. 15Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink Hy is die tuinier en sê toe vir Hom: “Meneer, as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” 16Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy draai toe om en sê vir Hom in Hebreeus: “Rabboeni!” Dit beteken Leermeester.17Jesus sê vir haar: “Moet My nie aanraak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’ ” 18Maria Magdalena gaan vertel toe aan die dissipels: “Ek het die Here gesien,” en dat Hy hierdie dinge vir haar gesê het.

Jesus verskyn aan sy dissipels

(Matt 28:16-20; Mark 16:14-18; Luk 24:36-49)

19Dit was al laat die aand op daardie eerste dag van die week (Sondag). Die deure waar die dissipels vergader het, was uit vrees vir die Jode gesluit. Jesus het toe gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” 20En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was verheug toe hulle die Here sien. 21Jesus sê toe weer vir hulle: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” 22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle mense se sondes vergewe, is dit hulle vergewe; as julle dit van hulle weerhou, bly dit van hulle weerhou.”

Thomas se belydenis

24Maar Thomas, een van die twaalf, wat bekend staan as Didimus (= Tweeling), was nie by hulle toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die spykermerke kan steek en my hand in sy sy kan steek nie, sal ek nooit glo nie.” 26Agt dae later was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. Terwyl die deure gesluit was, het Jesus gekom en in hulle midde gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” 27Daarna sê Hy vir Thomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar gelowig.” 28Thomas het Hom geantwoord: “My Here en my God!” 29Jesus sê vir hom: “Glo jy omdat jy My gesien het? Geseënd is hulle wat nie gesien het nie en tog geglo het.”

Die doel van die Evangelie

30Jesus het nog baie ander tekens voor sy dissipels gedoen wat nie in hierdie boek geskryf staan nie. 31Hierdie dinge is egter neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo die lewe in sy Naam kan hê.

Prediking

Dit is fassinerend om Johannes se verhaal van die opstanding met nougesette aandag te lees. As jy dit lees en herlees en nogmaals herlees begin fyn detail uitstaan wat jou begrip van wat hier gebeur nie net verdiep nie, maar jou eintlik intrek in wat hier gebeur.

‘n Goeie verhaal is mos so. Dit is asof jy in die lees ingetrek word. Dit is asof jy dit saam begin beleef. Asof jy daar is. Dit is wat Johannes ook met ‘n mens regkry in hierdie verhaal van die opstanding.

Die leë graf

Dit is vir my só boeiend om in die eerste paar verse te lees hoe die eerste een wat daar aankom die Sondagmôre vroeg, Maria Magdalena, eers net raaksien dat die klip weggerolis. As sy vir die dissipels gaan vertel wat gebeur het, hardloop Johannestot by die graf en sien dat dit leegis. Hy gaan dus só ‘n bietjie nader. Maar ook hy gaan aanvanklik nie die graf binne nie. Petrusegter, wat wel so bietjie stadiger gehardloop het, ná hom daar aankom, gaan onmiddellik die graf binne. Hy wil niks mis nie. Hy wil self sien. Hier en nou.

Dit sê iets van hulle persoonlikhede. Ook van ons eie. Sommige kyk van ‘n afstand af. Ander van naby af. Ander van regtig naby.

Wonder wat jy sou gedoen het as jy daar was? ‘n Bietjie huiwerig teruggedeins het? Hulp gaan inroep het? Of ingestorm het om self ondersoek in te stel wat hier gebeur?

Die wonder is dat almal se reaksies ingetrek word om die verhaal te vertel. Trouens, sonder elkeen se bydrae sou die verhaal nie die impak kon hê wat dit deur die eeue gehad het nie.

Maria Magdalena se reaksie

Maria is waarskynlik bang vir wat sy gaan raaksien. Sy was só lief vir Jesus. Sy was diep verbonde aan sy bediening. Sy was van Magdala, ‘n dorpie aan die wesoewer van die See van Galilea. Vandat Jesus sewe duiwels uit haar gedryf het (Luk 8:2; Mark 16:9) het sy Hom gevolg soos sy dissipels dit ook gedoen het. Regdeur sy bediening het sy saam met die ander vroue vir Hom gesorg (Mark 15:41) ook met hulle besittings (Luk 8:3). Sy was tot aan die einde daar by Hom. By die kruis het sy Hom ondersteun in sy donkerste uur (Joh 19:25). En later by sy graf het sy sy liggaam met reukolie gebalsem (Mark 16:1).

En dit is insiggewend uit die ander evangelies dat sy hier by die graf die oggend nie alleen was nie. Daar was nog twee ander vroue saam met haar. Markus vertel dat ‘n ander Maria ook daar was, die ma van Klein-Jakobus en Joses (of Josef). Ook Salome, waarskynlik die ma van die seuns van Sebedeus, Johannes en Jakobus (Mark 16:1; Matt 27:56; Joh 19:25), die berugte “seuns van die donder” (Mark 3:17).

Maar hier wil Maria Magdalena eerder hulp hê om sin te maak van wat gebeur. Want sy het nie verstaan wat hier gebeur het nie. Nie een van die ander vroue wou ook nader gaan nie. Hulle wou eerder versterkings gaan ontbied by die ander dissipels om hulle te kom help verstaan wat hier aan die gang is.

Wat egter daarmee gebeur is dat hulle, die vroue, die eerste getuies raak van die opstanding, selfs nog vóór hulle enigiets daarvan verstaan. Juis in hulle onbegrip, maar in die deel daarvan met die ander dissipels, ontketen hulle ‘n beweging wat regoor die wêreld sou versprei. Die Here Jesus het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.

Petrus se reaksie

Petrus daarenteen het geen probleem om die graf binne te gaan nie. Effe voortvarend. Doen gewoonlik voor hy dink. Al was hy nie so vinnig met die hardloop nie! Maar dit is ook hy wat daarom later kan vertel van wat in die leë graf was. Van die grafdoeke en die kopdoek van Jesus wat netjies eenkant opgerol gelê het.

Simon Petrus het nie verniet die naam Petrus by Jesus gekry nie, rots in Grieks. Dit is sy belydenis dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God, waarop Jesus gesê het dat Hy sy kerk sal bou (Mark 8; Matt 16; Luk 9).

En hier kan sy getuienis oor die leë graf die vroue se waarnemings bevestig. En kon dit die kerk se vaste belydenis oor die opstanding van Jesus Christus word.  En die effek hiervan is haas onbepaalbaar groot.

Johannes se reaksie

Die een wat my egter die meeste fassineer, is Johannes. Want daar is ‘n stukke detail oor sy reaksie in hierdie teks wat ‘n mens só maklik mis, wat ek trouens nog altyd gemis het. Dit is in vers 8-9:

Ook die ander dissipel, die een wat eerste by die graf gekom het, het binnegegaan, en hy het gesien en geglo.” Johannes het die leë graf gesien en geglo, sonder die verskynings van die Here Jesus wat later wel sou kom.

En voeg Johannes daarby: “Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie.” Sy geloof was gebou op die boodskap van die Skrif! Kan jy nou meer!

Johannes kom dus by die graf aan en gaan aanvanklik nie in soos Petrus nie. Maar uiteindelik skraap hy die moed bymekaar en gaan soos Petrus die graf binne. Maar, wat gebeur met hom toe hy die leë graf sien? Johannes sê van homself: “en hy het gesien en geglo.”

Dit is ontsettend belangrik. Johannes sien nog net die leë graf. Hy sien nog net dat Jesus se lyk nie daar lê nie. Hy sien nog net die doeke wat daar lê. Geen dooie liggaam nie. Geen Jesus nie. En dan daag die begrip op. Jesus is  nie hier nie, want Hy het opgestaan uit die dood.

Hoe het Johannes dit geweet?

Johannes het die Skrif verstaan

Want Johannes het die Skrif verstaan. Hy sê van die ander dissipels, ook van Petrus wat daar by hom is, en sien wat hy sien: “Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie.” Waaruit ‘n mens aflei dat dit juis die Skrif is wat hom tot begrip begelei het.

Johannes sit dus twee en twee bymekaar. Vóór hy nog die opgestane Jesus in die bovertrek sou sien, vóór hy soos Maria Magdalena net hierna die lewende Jesus sou ontmoet, vóór hy soos Tomas nog later sy vinger in die spykermerke sou kon steek en sy hand in sy sy sou kon druk, glo hy reeds dat Jesus opgestaan het.

Hoekom kan hy dit glo? Want die Skrif het dit vooruit gesê en hy het die Skrifboodskap geglo toe hy die leë graf sien.

Daar is twee tekste in die OT wat met die opstanding verbind kan word, soos dit in die NT geïnterpreteer word. Dit is nou benewens die talle ander wat met die lewe van Jesus as die Messias verbind kan word – 65 van hulle, trouens. Die tekste wat met die opstanding verbind kan word, is Jesaja 53:10-12 en Psalm 16:10.

Jesaja skryf in hoofstuk 53: “Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sienen hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. Daarom gee Ek hom ’n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.”

Nog duideliker is dit in Psalm 16 wat sê: “Ek stel die Here altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon; want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie. U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.

Nou, ‘n mens moet aanvaar dat Dawid nie presies geweet het wat alles beteken wat hy in die Psalm kwyt geraak het nie. En ‘n mens kan nie elke detail daarvan met elke detail van die dood en opstanding van Jesus verbind nie.

Maar, beide Petrus en Paulus is duidelik daaroor dat hierdie Psalm van Dawid duidelik genoeg met Jesus se opstanding verbind kan word.

Petrus gebruik die verwysing na die opstanding uit Psalm 16 in sy preek op Pinksterdag om die Jode tot geloof in die opgestane Jesus te begelei (Hand 2:25-29).

En Paulus doen dieselfde met die Jode in Antiogië in Pisidië op sy eerste sendingreis. Hy haal Psalm 16:10 in die Griekse vertaling van die OT, die LXX, aan en sê: “U sal u Heilige nie ontbinding laat beleef nie.” (Hand 13:35-37).

Dit het almal se aandag vasgegryp en selfs al het ‘n hele paar Jode later in opstand gekom, het daar tog baie tot geloof in die opgestane Jesus gekom, ook ‘n hele klomp heidene wat tot die ewige lewe bestem was.

En die opstanding is nie net iets waaroor Jesus se dissipels ná sy dood en opstanding gepraat het nie. Jesus self het gereeld daaroor gepraat, vóór sy kruisdood en opstanding (Mark 8:31; 9:31; Matt 17:23; 20:19), en ook ná sy kruisdood en opstanding (Luk 24:26-27).

Lukas verwys in hoofstuk 24 na die opgestane Jesus wat self die tekste in die OT wat op Hom betrekking het vir die Emmausgangers uitlê. Ook Paulus sal dieselfde later doen deur die Skrifte te gebruik (1 Kor 6:14; 2 Kor 4:14), ook met die verwysing spesifiek na die “derde dag” (1 Kor 15:4) soos hy waarskynlik uit twee van die kleiner profete afgelei het (Jona 1:17; Hos 6:2).

Johannes glo dus, want Jesus het dit reeds vóór sy dood oor Homself gesê, en die Skrif het Johannes verder oortuig toe hy die leë graf sien.

Daarmee maak Johannes dit vir ons ook moontlik om die boodskap van die opstanding te glo, sonder dat ons dit fisies ervaar het. Vir elkeen van ons – vir wie dit nie moontlik is om die leë graf te sien nie, ook nie die Here Jesus se fisiese verskyning te kon ervaar nie, ook nie ons vinger in die spykermerke in sy hande te kon steek en ons hand in sy sy te kon druk nie – is dit moontlik om in die waarheid daarvan te glo.

Want die Skrif bevestig dit aan ons, soos ook die getuienis van hierdie dissipels.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena

Alles wat hierna geskryf is oor Jesus se verskynings, is daarom ‘n bonus. Wonderlik, maar net bydraend. Johannes se geloof wat gebou was op die woorde van Jesus en die getuienis van die Skrif was al genoeg.

Nie dat die verskynings nie wonderlik is nie. Dit is, want dit wys die deernis van Jesus met hierdie eerste dissipels van Hom. En dit oortuig ons dat Hy met net soveel deernis teenoor ons sal optree.

Die Here Jesus vee byvoorbeeld die trane van Maria Magdalena se gesig af en maak haar binnekant heel in ‘n eteries mooi toneel, soos Johannes dit vir ons vertel.

Wanneer sy terugkom by die graf, ná sy die dissipels gaan vertel het, en sy buitekant die graf staan en huil, buk sy uiteindelik vooroor na die graf toe om self te sien. En sy is die een wat die twee engele met wit klere aan sien sit by die doeke en daarvan kon getuig.

Die belangrikste ervaring was egter toe sy omdraai en die Here Jesus se fisiese verskyning kan waarneem, die eerste mens met wie dit gebeur. Toe Hy haar op haar naam noem, herken sy haar geliefde Leermeester en raak ‘n getuie nie net van die leë graf nie, maar van die teenwoordigheid van die Here Jesus self.

Dit wil ook voorkom asof dié verskyning was nog vóór Jesus in die hemel aangemeld het, want Hy het nog nie na sy Vader en hulle Vader opgevaar nie, die plek waar Hy in die hemelse tabernakel sou verskyn met die offer wat ‘n volkome versoening vir almal wat hulle toevlug tot Hom sou neem, sou word.

Dat Hy vir Maria sê: “Moet My nie aanraak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie”, beteken waarskynlik dat Hy as hoëpriester nie onrein in die hemelse tabernakel wou ingaan nie, soos die wet in Levitikus dit gereël het, want sy was so pas by die graf en het daarmee met die dood in aanraking gekom.

Ná sy voltooiing van die proses in die hemel sou Hy Homself kon gaan wys aan die res van die dissipels en selfs vir die twyfelende Tomas kon uitnooi om sy vinger in die spykermerke te steek en sy hand in sy sy te steek nie, sodat hy sal glo. Maar nie op dié stadium nie.

Maria Magdalena se ervaring raak dus ‘n dieper getuienis nie net van die leë graf as bewys van die opstanding nie, maar na die lewende Jesus self as bewys van die opstanding: “Ek het die Here gesien”.

Só verskyn Jesus die Sondagaand aan die dissipels, en agt dae later aan die twyfelende Tomas, en nog ‘n paar dae later aan hulle almal by ‘n ontbyt by die meer van Tiberias/Galilea, so 123 km noordoos van Jerusalem, waar Jesus spesifiek vir Petrus weer heraanstel in sy rol as herderleier van die dissipels.

Jesus stuur ons met die boodskap van sy opstanding na ‘n wêreld wat vergifnis nodig het

Die opgestane Jesus is dus herkenbaar. Hy praat en Hy eet en jy kan aan Hom vat.  Jesus is werklik. Jesus is lewend.

Maar Jesus is ook anders, omdat Hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil.  Hy is nie meer aan ruimte gebonde soos die dissipels nie.

En let op dat Jesus met sy verskynings nie net die dissipels troos en versterk in hulle geloof nie.  Nee, Hy stuur hulle ook, met die boodskap van vergifnis.

Met hierdie boodskap van vergifnis bereik Johannes se evangelie ook sy hoogtepunt, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê(Joh 20:31).

Dit is die boodskap waarmee ons ook die wêreld ingestuur word, ‘n wêreld wat vergifnis só ontsettend nodig het.

Dit is waarom Johannes se opstandingsverhaal só ‘n goeie verhaal is. Dit het jou in die lees daarvan ingetrek. Jy het dit saam met hulle begin beleef. Soos ‘n Maria Magdalena, én‘n Petrus, én‘n Tomas, én‘n Johannes. Asof jy regtig daar was.

En jy was. Jy is mos deel van hierdie verhaal. Want die lewende Jesus het ook jou gekies om die boodskap van vergifnis na hierdie wêreld te dra.

Jesus het opgestaan. Jesus het waarlik opgestaan.

Gebed

Dankoffers

Lied 420 Daar klink ‘n lied, daar juig ‘n stem, dit klink oor heel Jerusalem– ensemble

Slotlied

Lied 414 Juig verlostes, juig en sing. Halleluja! Halleluja!– staan

Seën

Amen

Respons

Lied 414:2 se laaste twee reëls Roem die Vors wat leef en heers. Halleluja! Halleluja! God se volk vier ewig fees. Halleluja! Halleluja!– staan

Dankie aan almal in die ensemble onder leiding van Janneke Jacobs en Albert Troskie.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.