Skip to main content

Jesaja 62:6-12 – Stilbly is onmoontlik! – Kersdag

Toe die Joodse psigiater Victor Frankl deur die Nazi’s gearresteer en in Auschwitz, die bekende doodskamp, geplaas is, het hy alles verloor: eiendom, familie, en besittings.

Aangekom in Auschwitz forseer die Nazi’s boonop die gevangenes om hulle klere af te staan. Só het Victor ook ‘n manuskrip verloor van ‘n boek oor die sin van die lewe waaraan hy vir jare gewerk het. Die manuskrip was vasgewerk in die binnekant van sy jas.

“Ek moes my klere oorhandig, en het in ruil die vodde gekry van iemand wat reeds na die gaskamer gestuur is,” vertel Frankl. “Nou het dit gelyk of niks en niemand my gaan oorleef nie – nie ‘n werklike kind of selfs my geesteskind, my boek, nie. Ek het gewonder of my lewe nog enige sin het.”

In die sak van sy nuwe, verflenterde jas, was daar egter ook ‘n “manuskrip“. Eintlik slegs ‘n enkele bladsy, uitgeskeur uit ‘n gebedsboekie, met die Joodse gebed “Shema Yisrael” daarop: “Hoor, Israel! Die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” (Deut 6)

Hierdie bladsy was nie toevallig in my nuwe jas se sak nie. Ek het geweet waarom ek lewe. Dit was ‘n uitdaging om my verlore manuskrip elke dag uit te leef, sodat dit nie langer bloot woorde op papier sou wees nie.”

In sy latere boek. Man’s Search for Meaning, skryf Frankl: “Daar is niks in die wêreld wat mens so effektief help om selfs die slegste denkbare omstandighede te oorleef as dié wete dat daar sin in jou lewe is nie…. Hy wat ‘n doel het om voor te lewe, kan omtrent enige ellende verduur.”

 Kersdag2a  Kersdag1a  Kersdag5a

 

 Kersdag4a  Kersdag3a

Hier volg nou die hele erediens:

Verwelkoming

Dankoffers by die deure – gaan spesifiek vir ons Diens van Barmhartigheid waarmee ons kinders se harte wil bly maak.

Toetrede

Lied 358 Welkom, o stille nag van vrede – al drie verse – sit

Votum

Seëngroet

Lofsang

Lied 344 O die goeie tyding, o die blye tyding – al drie verse – staan

Lied 345 Kom alle getroues, vrolik en vol vreugde – al vier verse – staan

Lied 364 Herders op die ope velde – al drie verse – sit

Gebed

Skriflesing

Jesaja 62:6-12

6Ek het wagte op jou mure uitgesit,

Jerusalem,

hulle sal dag en nag roep.

Julle wat die Here

aan sy beloftes moet herinner,

julle moenie stilbly nie.

7Julle moenie stilbly nie

totdat Hy Jerusalem herstel het,

totdat Hy die hele wêreld

die roem van Jerusalem laat sing het.

8Die Here het ’n eed afgelê,

en deur sy groot mag sal Hy dit

gestand doen:

Ek sal jou koring

nie weer aan jou vyande gee

om te eet nie,

uitlanders sal nie weer die wyn drink

waarvoor jy hard gewerk het nie.

9Dié wat die koring oes, sal dit eet

en hulle sal My loof;

dié wat die druiwe oes, sal die wyn drink

in die voorhof van my heiligdom.

10Gaan uit, gaan uit by die poorte,

maak die pad gereed vir die volk!

Vul die grootpad op, vul dit op!

Vat weg die klippe!

Steek ’n banier op

dat die volke dit kan sien!

11Die Here kondig

dwarsoor die wêreld aan:

“Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom!

Sy volk wat Hy Syne gemaak het,

is by Hom,

dié wat aan Hom behoort,

loop voor Hom uit.”

12Hulle sal genoem word:

“Gewyde volk,

volk wat deur die Here verlos is.”

En jy, Jerusalem, sal genoem word:

“Gewilde stad,

stad wat nie verlate lê nie.”

Woordverkondiging

Victor Frankl

Toe die Joodse psigiater Victor Frankl deur die Nazi’s gearresteer en in Auschwitz, die bekende doodskamp, geplaas is, het hy alles verloor: eiendom, familie, en besittings.

Aangekom in Auschwitz forseer die Nazi’s boonop die gevangenes om hulle klere af te staan. Só het Victor ook ‘n manuskrip verloor van ‘n boek oor die sin van die lewe waaraan hy vir jare gewerk het. Die manuskrip was vasgewerk in die binnekant van sy jas.

“Ek moes my klere oorhandig, en het in ruil die vodde gekry van iemand wat reeds na die gaskamer gestuur is,” vertel Frankl. “Nou het dit gelyk of niks en niemand my gaan oorleef nie – nie ‘n werklike kind of selfs my geesteskind, my boek, nie. Ek het gewonder of my lewe nog enige sin het.”

In die sak van sy nuwe, verflenterde jas, was daar egter ook ‘n “manuskrip“. Eintlik slegs ‘n enkele bladsy, uitgeskeur uit ‘n gebedsboekie, met die Joodse gebed “Shema Yisrael” daarop: “Hoor, Israel! Die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” (Deut 6)

Hierdie bladsy was nie toevallig in my nuwe jas se sak nie. Ek het geweet waarom ek lewe. Dit was ‘n uitdaging om my verlore manuskrip elke dag uit te leef, sodat dit nie langer bloot woorde op papier sou wees nie.”

In sy latere boek. Man’s Search for Meaning, skryf Frankl: “Daar is niks in die wêreld wat mens so effektief help om selfs die slegste denkbare omstandighede te oorleef as dié wete dat daar sin in jou lewe is nie…. Hy wat ‘n doel het om voor te lewe, kan omtrent enige ellende verduur.”

‘n Lang reis na vryheid

Met die onlangse afsterwe van mnr. Nelson Mandela kort na die vrystelling van ‘n rolprent oor sy lewe, Long walk to freedom, is mens weer herinner aan die krag van ‘n sinvolle doel wat mense laat vasstaan en volhard. Mandela kon die 27 jaar in die tronk oorleef, geweldige opofferings maak, lyding deurstaan, en getemper, volwasse, anderkant uitstap, om sy lewensdoel – vryheid vir almal – te verwesenlik.

Die groter krag van God se beloftes

Die Bybel leer ons om vanuit God se beloftes te lewe. God se beloftes is die groter kragbron, die dieper hoop, wat mense se lewens rig. Wie ‘n helder blik, uitsig en visie op God se beloftes het, kan inderdaad enige omstandighede deurleef.

Dit is die dinamiese kragbron wat in ons teks ontsluit word. In Jesaja 62:1-5 het Jesaja God se beloftes aan die volk soos volg uitgespel:

2Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem, al die konings sal sien dat jy mag het.

4Jy sal nie meer die verstote vrou genoem word nie, en jou land nie meer die een wat verlate lê nie.

Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet,” en jou land: “Die een wat aan die Here behoort.” Die Here het jou lief, en jou land behoort aan Hom.

5Soos ’n jong man met ’n meisie trou, so sal jou volk jou syne maak en vir jou sorg.

Soos ’n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.

God se belofte is dus dat die Abraham tradisie bewaarheid sal word, dat hulle tot ‘n seën vir die nasies sal wees, en dat die nasies dit sal sien en erken.  Daarby is sy belofte dat die Moses tradisie bevestig sal word, dat hulle sal ervaar dat die land en volk weer die seën van die Here sal ervaar.

Met pragtige metafore word die herstelde verhouding met God uitgespel:

  • “Jy sal nie meer die verstote vrou genoem word nie.”
  • “Jou land sal nie meer die een wees wat verlate lê nie.”
  • Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet,”
  • En jou land sal genoem word: “Die een wat aan die Here behoort.”
  • Hoekom?  “Die Here het jou lief, en jou land behoort aan Hom.”
  • Vir die land sal dit beteken: “Soos ’n jong man met ’n meisie trou, so sal jou volk jou syne maak en vir jou sorg.”
  • Vir die volk sal dit beteken: “Soos ’n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.”
  • Onder die nasies sal God se verkiesing erken word: “Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem, al die konings sal sien dat jy mag het.”

Die hoop van God se volk

Ten spyte van die ballingskap het die volk dus ’n vaste hoop. Want God is daar. En hulle weet God gaan ingryp om God se beloftes waar te maak.  Dit het betekenis vir hulle as volk , vir hulle land en vir hulle staanplek onder die nasies.

Dit was die kern van Israel se geloof, dat hulle hierdie hoop gehad het: die verwagting dat God sal ingryp en dit wat Hy beloof het sal doen; dat Hy die volk, die land en die inpak onder die nasies sal herstel sodat die almal Hom as ware God sal erken.

God is getrou en sy beloftes staan vas

In die res van Jesaja 62 bevestig die Here dat sy beloftes waar sal word. Hy doen dit op die kragtigste moontlike manier deur ‘n eed te sweer:

Die Here het ’n eed afgelê, en deur sy groot mag sal Hy dit gestand doen.” (8)

En wat is die inhoud van hierdie hoopvolle belofte wat die volk dra deur die jare waarin dit swaar gaan en die omstandighede dikwels ondraaglik raak? Die belofte is dat God getrou is en dat Hy die omstandighede van sy volk inderdaad verander (verse 8-12):

Ek sal jou koring nie weer aan jou vyande gee om te eet nie,

uitlanders sal nie weer die wyn drink waarvoor jy hard gewerk het nie.

Dié wat die koring oes, sal dit eet en hulle sal My loof;

dié wat die druiwe oes, sal die wyn drink in die voorhof van my heiligdom.

Die Here kondig dwarsoor die wêreld aan:

“Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom!

Sy volk wat Hy Syne gemaak het, is by Hom, dié wat aan Hom behoort, loop voor Hom uit.”

Hulle sal genoem word: “Gewyde volk, volk wat deur die Here verlos is.”

En jy, Jerusalem, sal genoem word: “Gewilde stad, stad wat nie verlate lê nie.”

Hoe reageer gelowiges op God se beloftes?

Jesaja help ons verstaan dat een van die belangrikste maniere is om deur aan God se beloftes vas te hou (verse 6 en 7):

“Ek het wagte op jou mure uitgesit, Jerusalem,

hulle sal dag en nag roep.

Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie.

Julle moenie stilbly nie totdat Hy Jerusalem herstel het,

totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het.”

Stilbly is onmoontlik!

Volhardende gebed

Aan die eenkant teenoor God om Hom aan sy beloftes te herinner – d.w.s. konstante volhardende gebed.

In ons teks is die wagte diegene op die wagtorings wat met verwagting en in getrouheid wag op tekens van ’n nuwe toekoms, van redding en herstel (Ps 130:5-6). Hulle taak is om onophoudelik en volhardend, dag en nag te bid. Vir Habakuk was die uitkyktoring op die muur ook die plek om met God te worstel in gebed (2:1). Hulle word beskryf as “julle wat die Here onthou”.

Die bidders moet die Here aan sy beloftes (8-9) herinner. Hierdie oproep van Jesaja word tot vandag toe ernstig geneem deur ortodokse Jode wat daagliks by die klaagmuur staan en bid vir die herstel van Jerusalem! Dit word trouens ernstig geneem deur alle gelowiges wat hoopvol op die Here bly wag.

Gebed is die werk van geloof, die gelowige reaksie op God se beloftes en die van trou, wat geloof, hoop en liefde in die gelowige se lewe brandend hou.

Gebedsreuse soos George Müller herinner ons deurgaans daaraan dat gebed die primêre geloofsreaksie op moeilike omstandighede is.

Volhardende getuienis

Maar aan die ander kant is die opdrag aan die gelowiges om dié boodskap ook bekend te maak aan ander gelowiges om hulle oor God se beloftes opgewonde te maak sowel as aan die nasies – d.w.s. deur konstante volhardende getuienis (vers 8).

Gaan uit, gaan uit by die poorte, maak die pad gereed vir die volk!

Vul die grootpad op, vul dit op! Vat weg die klippe!

Steek ’n banier op dat die volke dit kan sien!

Interessant is die opdrag in die eerste plek gemik op die wegneem van hindernisse wat vir mense dit moeilik maak om te glo – en in die tweede plek om dit aan almal te verkondig, sodat almal dit as’t ware op baniere kan lees en van die wonder daarvan oortuig kan word.

God raak die wêreld in Christus aan

Die omstandighede van Nuwe Testamentiese gelowiges, soos ons, verskil drasties van die omstandighede in Jesaja 62. In Christus het God die wêreld aangeraak. God het ons in Christus laat sien wat God vir ons beplan op ‘n nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel.

En Christus het die Gees van God oor ons uitgegiet, wat ons begelei om aan Jesus vas te hou, Jesus na te volg, en God getrou te dien tot die einde toe.

Daarmee is die vlam van hoop soveel helderder aan die brand in ons. Ons ken God se bedoelinge soveel beter. In Christus het ons die geweldige vernuwende krag van God aan die werk gesien.

Daarom kan ons met soveel meer oortuiging bly bid, die Here bly smeek om sy beloftes waar te maak. Ons kan met soveel groter volharding bly vra: Here, maak U wêreld nuut! Doen reg aan ons ons aan ons wêreld. Kom, en maak alles nuut!

En ons kan die hindernisse verwyder wat dit moeilik maak vir mense om te glo en daarvan regoor die wêreld getuig.

Gebed en getuienis maak ons deel van God se missie

Iets wat ons baie keer mis in hierdie teks is die plek wat God inneem in hierdie proses.  Let op in vers 11 dat God saam met sy mense die nuwe toekoms tegemoet loop:

Sy volk wat Hy Syne gemaak het, is by Hom, dié wat aan Hom behoort, loop voor Hom uit.”

Ons bid nie alleen nie. Ons getuig nie alleen nie.  God is met ons, presies dít waarvan Kersfees ons oortuig.  Jesus is Immanuel, God met ons.

Hierdie beweging van God na die wêreld duur onverpoosd voort. Ons weet dat God ‘n heerlike toekoms weggelê het en ons na die nasies stuur sodat die gemeenskap van God op aarde kan groei.  En Hy is by ons.  Ons loop saam met Hom die nuwe toekoms tegemoet.

  • Ons bid daarvoor. Ons bid dat meer mense sal hoor, glo en volg. Ons bid dat die genesing wat Christus aan die wêreld bedien helderder en duideliker gesien sal word.
  • Ons getuig daaroor.  Ons gee ons lewens om deel te neem van God se liefdesbeweging na die aarde.

Wie Kersfees verstaan – die aankoms van God in Christus op aarde, verstaan God se hart en God se missie. En bly onverpoosd bid dat God se missie al hoe duidelik sigbaar sal word. Tot op die dag dat alles hier nuut sal staan.

Ons doen dit, want die Kersfeeshoop leef in ons.

Daarom kan ons saam met Victor Frankl sê: “Daar is niks in die wêreld wat mens so effektief help om selfs die slegste denkbare omstandighede te oorleef as dié wete dat daar sin in jou lewe is nie…. Hy wat ‘n doel het om voor te lewe, kan omtrent enige ellende verduur.”

Gebed

Slotsang

Lied 348 Stille Nag – al drie verse – staan

Seën

Respons

Lied 348 vers 3 Refrein:  Heer, gebore vir ons!

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.