Skip to main content

Handelinge 14:1-20 – Nederigheid

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Votum en Seëngroet
  • Lied 212 (Loof die Heer) staan
  • VONKK 82 (Laat ons skyn vir Jesus) sit
  • FLAM 108 (‘n Sonstraal) sit
Kindertyd

Jesus was ’n baie nederige mens.  En Hy het ons geleer om nederig te wees.

Wat is nederig?

  • Dit is om nie spog met wat jy het of wat jy kan doen nie.  En om nie skaam te wees vir mense wat minder as jy het of wat nie alles kan doen wat jy kan nie.  En veral om hulle nie te laat sleg voel as hulle minder as jy het nie.  Nederige mense dink oor wat ander mense wil hê en help waar hulle kan.

Ons leer die beste wat nederigheid beteken as ons stories vir mekaar vertel.

Een keer het Jesus gesien al die kindertjies wat na Hom toe kom.  En sy dissipels het gedink, nee, dit kan nie.  Jesus is ’n belangrike mens, seker die belangrikste mens wat ooit geleef het.  Hy was God se Seun en net die belangrike mense kan met Hom praat.  So hulle keer toe dat die klein kindertjies na Hom toe kom.

En wat doen Jesus toe?  Hy keer die dissipels, want Hy was nederig en nie spoggerig nie.  En Hy sê: “Laat die kindertjies na My toe kom.  Moenie hulle keer nie.”  Jesus was so lief vir mense dat kinders ook welkom was om na Hom toe te kom.

Jesus het daarom ook nie net grootmense gehelp nie.  Nee, Hy het een keer ’n dogtertjie uit die dood opgewek, en ook ’n jong seun, wie se ma ’n weduwee was, en daarom niemand meer gehad het om vir haar te sorg nie.  En ’n paar keer ander kinders wat siek was of ’n gebrek gehad het.

Maar hoe kan ons nederig wees?

Kom ons kyk na ’n paar ander voorbeelde, dan sê julle vir my of dit nederig is of spoggerig:

  • Jannie kom terug van die skool af en is baie bly.  Hy het volpunte in sy toets gekry.  Hy sê, dankie mamma dat mamma my aangemoedig het om te leer.  Dit was die moeite werd! NEDERIG
  • Karie kyk na al die ander meisies by die partytjie en sy sien sy het die mooiste rokkie van hulle almal.  En sy kan nie wag dat die ander dit raaksien nie.  So sy vertel vir almal hoe mooi haar rok is! SPOGGERIG
  • Bennie se ouers is baie ryk en hy kry baie sakgeld.  Maar hy is baie vrygewig.  Hy deel wat hy het met sy vriende.  Hy sorg dat die ander maatjies nie skaam is as hulle nie iets het nie.  En hy gee van sy speelgoed vir hulle, want hy kry so baie.  NEDERIG
  • Ferdie se ouers het ’n baie mooi huis.  Toe hy gaan kuier by sy maatjie se huis, sien hy hulle meubels is maar oud.  Hy sê vir sy maatjie, joe, julle meubels is darem oud hoor!  SPOGGERIG
  • Sannie kom by die huis en sien haar klein sussie het met moddervoete in geloop.  Nou is die mat vuil.  Sy weet die bediende sal skoonmaak, maar sy besluit om te help en maak alles skoon. NEDERIG
Gebed

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing

Handelinge 14:1-20

Paulus en Barnabas in Ikonium

14 In Ikonium het Paulus en Barnabas op dieselfde manier opgetree. Hulle het weer na die Joodse sinagoge toe gegaan en daar gepreek, met die gevolg dat ’n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het. 2Maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het die gemoedere van die heidene opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits. 3Ten spyte hiervan het die apostels ’n geruime tyd in die stad gebly en in vertroue op die Here onbevrees gespreek. Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen. 4Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels. 5Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig. 6Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië. 7Daar het hulle toe die evangelie verkondig.

Paulus en Barnabas in Listra

8In Listra was daar ’n man met gebreklike voete. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. 9Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. 10Toe roep hy na hom: “Staan regop, op jou voete!”

Die man het opgespring en hy kon loop. 11Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!”

12Hulle het Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was. 13Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring. 14Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu: 15“Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 16Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, 17maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.”

18Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels nouliks voorkom dat die mense aan hulle offers bring.

19Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is. 20Daar het die gelowiges rondom hom kom staan, en hy het opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek.

Woordverkondiging

Nederigheid is nie natuurlik nie

Nederigheid kom nie natuurlik vir enigeen van ons nie.  Niemand wil graag aan die onderpunt van die leer wees nie, want dit is hoe ons baiekeer oor nederigheid dink, dat jy soos ‘n vloerlap word waaroor ander kan loop.  Daarom is dit vir ons moeilik om spontaan en konsekwent die minste te wees.  Veral binne ons kultuur waar mag en selfbe-mag-tiging so ’n hoë prioriteit is.  Ons hou van mense wat “goed doen vir hulleself” en bo uitkom.  Ons hou van helde, mense wat bo uit gekom het.

Ons het ook almal ’n behoefte aan erkenning.  Ons wil graag goed voel as ons iets reggekry het.  Ons wil beloon word.  Veral as mens swaargekry het en moes opoffer om iets reg te kry.

Die probleem is dat ’n sug na waardering maklik ’n sug na mag kan word.  Mens kan jou oog van die bal afhaal en erkenning, mag en selfverheerliking begin najaag.

Jesus se voorbeeld

Dit was juis die versoeking waarvoor Jesus in die woestyn beland het.  Hy was honger en dors.  Hy word versoek met brood.  Iemand wat so lank sonder kos is, verdien tog ‘n stukkie brood. Jesus word dus versoek om sy mag te misbruik, ter wille van Homself.

En Jesus kies, soos reg deur sy lewe, om doelbewus nie die magspel te speel nie, maar nederig te bly en na die wil van sy Vader te soek, al kos dit wat.  Ek sal leef van dít wat God my gee, is sy antwoord aan die duiwel.  Daarmee vervul Hy die visie vir die Dienaar van die Here en word Hy die lydende Messias.

Druk en bedreiging in Ikonium

Van Antiogië in Pisidië het Paulus en Barnabas nou na Ikonium in die suide gegaan en weer in die sinagoge op ’n sabbatdag gepreek.   Dit ontlok weereens geloof sowel as ongeloof en teenstand. Vir ’n tyd lank kan hulle nog aangaan met die verkondiging, maar dan word die druk en bedreiging van aanranding en steniging te veel en hulle vlug na Listra.

Sukses en erkenning in Listra

Die omstandighede waarin Paulus en Barnabas hulle in Listra bevind, dek nou ook vir hulle die tafel vir die versoeking na mag, soos dit met Jesus in die woestyn die geval was.  Nadat hulle moes vlug en soort van druipstert uit Ikonium weggejaag is, draai, menslik gesproke, die gety in Listra met die wonderbaarlike genesing van die verlamde man.  Paulus en Barnabas raak by die genesing van ’n man betrokke wat met gebreklike voete gebore is.

Toe die man regop kom – opspring! – en loop, roep die mense uit dat Paulus en Barnabas gode is wat hulle kom besoek het.  Die hele omgewing is dadelik in rep en roer.  Barnabas word Zeus, die hoofgod, en Paulus Hermes genoem, woordvoeder van die gode.  Die priester van die Zeustempel bring bulle en blommekranse en wil saam met die mense offers aan die apostels bring.

Interessant genoeg was daar ’n bekende legende dat Zeus en Hermes in menslike gedaante die omgewing van Listra besoek het, en net deur  een egpaar gasvry ontvang is (Metamorphoses van die Romeinse digter Ovid).  Waarskynlik wou die gemeenskap van Listra nie weer dieselfde fout maak om hulle nie te herken nie!

Die gety het gedraai.  Skielik is daar darem ’n bietjie erkenning.

Mens voel amper jy sou Paulus en Barnabas nie kon kwalik neem as hulle dié gebeure so ’n klein bietjie wou uitbuit nie, natuurlik vir ’n goeie doel.  As hulle sou wou saamspeel, kon hulle nie miskien hul gode-status dalk tot voordeel van die evangelie gebruik nie?

Fokus op die evangelie

Paulus en Barnabas verloor egter vir geen oomblik hulle fokus nie.  Hulle ken die Here en hulle ken die boodskap van sy nederige selfprysgawe om verlossing van sonde vir ons te werk.  Hierdie boodskap stempel hulle identiteit en selfverstaan.  Hulle bly die evangelie beliggaam.

Geen wonder dat Barnabas en Paulus hier byna met aggressie reageer op die heldeverering wat hulle te beurt val nie.  Hulle keer vasberade dat hulle in die sentrum van die mense se gedagtes kom staan.

Dit gee ook die regte perspektief op die plek van wonders en tekens – as dit nie die fokus op God plaas nie, is die gevaar van hoogmoed en magsvertoon lewensgroot.

In hulle impromptu toespraak beklemtoon hulle dat hulle gewone mense is.  Die eer vir die wonderwerk kom God toe.  Die goeie boodskap van hierdie God is dat mense hulle sinlose gode (en hul self-verafgoding) moet laat staan, en hulle tot God bekeer.  Dit is Hy wat as Skepper vir sy skepsels sorg en vir hulle goeie dinge gee.

Hulle skuif in nederigheid die aandag weg van hulleself en na God toe.

Illustrasie van ’n nederige lewenstyl

Daarmee illustreer Paulus en Barnabas hoe ’n nederige lewenstyl werk.

’n Musiek liefhebber het eenmaal die groot komponis Johannes Brahms onverwags ontmoet.  Toe hy Brahms herken het hy vir Brahms gevra om ’n kort stukkie van ’n beroemde musiekstuk vir hom neer te skryf en dit dan te teken, sodat hy dit as ’n aandenking van sy ontmoeting met Brahms kan vertroetel.

Brahms het ’n pen en papier geneem en die eerste balke van Die Blou Donou van Johann Strauss neergeskryf en dit geteken: “Ongelukkig nie deur my nie, Johannes Brahms.”

Hoe groot Brahms se bydrae tot die musiekskat ook al is, kies hy doelbewus om die fokus op Johann Strauss te laat val.

Die Christelike keuse is om die fokus op God te laat val en jouself vanuit die blik op God te verstaan.  Hierdie God gee reën, goeie oeste, gawes en talente – mens kan daarom bekostig om nederig oor jouself te dink en die eer aan God te bring.  Dit is wat dit beteken om nederig te wees.

Hoe God nederigheid in ons lewe inweef

Hoe groei ’n mens prakties in nederigheid?

William Farley vertel hoedat hy ’n dieper verhouding met God begeer het, en veral aangespreek was deur Jesaja 66:2: “Ek het alles gemaak en so het alles ontstaan, sê die Here.  Ek slaan ag op die mens in nood, op dié een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord.”  Letterlik staan daar: “Ek gee ag op hom wat arm is en verslae van gees” – woorde wat aan die bekende Saligsprekinge herinner.

Farley kon egter nie verstaan wat die konneksie tussen “ontsag vir die Here se woord” en “leeg aan jouself, verslae, arm van gees” is nie.  Hy wou sy lewe oriënteer aan God se Woord, hy wou doen wat God sê, met God as die sentrum van sy lewe.  Hoe maak dit jou leeg aan jouself?  Nederig?  Daarom het hy gebid dat die Here hierdie versie ’n konkrete werklikheid vir hom sou maak.

Vyf dae later ry hy en sy vrou teen die kus.  So in die ry dink hy na oor 1 Kor. 13:12: “Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”  Weer bid hy, hierdie keer om te vra:  “Here, help my om myself te sien soos U my sien.”

So in die ry begin hy bewus raak van die verband tussen Jesaja 66:2 en 1 Kor. 13:12.  “As jy jouself kan sien soos God jou sien, sal dit jou help om nederig voor God te lewe en ontsag te hê vir die lering van sy Woord,” dink hy.  Maar hoe werk dit?  Hoe groei hierdie nederige afhanklikheid van God in jou lewe.

Skielik begin sy vrou te praat oor ’n fliek waarvan sy baie hou.  Haar opgewonde gesprek dwing hom uit sy diep meditasie.  Farley is dadelik geïrriteerd.  Hy snou sy vrou iets toe oor haar ligsinnige geklets.  Meteens hoor hy amper glashelder ’n stem wat sê: “Daar is dit!”  Drie lewensveranderende woorde.

Hy weet skielik dit is God wat gepraat het.  “Daar is dit!”  “Maar wat is ‘dit’ Here,” bid hy. Skielik weet hy.  “Dit” is sy hoogmoed en geestelike aanstellerigheid.  “Dit” is sy trots oor sy insigte en sy sogenaamde hoë geestelike stand.  Skielik sien hy sy hoogmoed en arrogansie in die lig van God se volmaakte, self-ontledigende liefde.  Hy sien sy sondigheid in die lig van God se waarheid.

Nederigheid, geestelike leegheid, diensbaarheid en openheid om op die regte pad deur die Woord gelei te word, word gebore wanneer mens jouself deur God se oë leer sien.  Bewus van sy eie sondigheid, vertel Farley, is hy net daar in die motor ook oorval deur die besef van God se groot liefde vir hom.  Sy hele lewe lank al het die Here hom lief, ten spyte van sy sonde.  Hoe pynlik dit was om sy aanstellerige hoogmoed te ontdek, net so roerend was dit om God se diepe liefde te beleef.

Vanuit die ervaring van God se liefde is ’n nuwe nederigheid, ’n leegheid en afhanklikheid, in Farley gebore.

Doelbewuste keuse vir nederigheid

Paulus en Barnabas se doelbewuste keuse om nie te val vir die versoeking om gode-speletjies uit te haal nie, laat God toe om God te wees.  Dit laat die evangelie van verlossing toe om die bron van hoop te wees.  En dit help hulle om doelgerig te bly fokus op hul taak in die proses: om God se getuies te wees.

Nederigheid en eerlikheid is eintlik twee kante van dieselfde munt.  “A humble person is simply a brutally honest person” (Richard Rohr).  Dit beteken dat jy jouself en wat jy doen nie vergelyk met ander mense nie, maar jou afhanklikheid van God erken (Matt 5:3).  Jy gebruik wat jy doen om die lig op God te laat val sodat Hy verheerlik kan word in die oog van ander mense (Matt 5:16).

Nederigheid kies daarom  om op die weg van dienslewering te bly, en nie toe te gee aan die versoeking van mag wat moontlik word as mense jou bewonder of vereer vir wat jy in die naam van die Here doen (Hand 14).  Die helderste voorbeeld hiervan kry ons reeds in Jesus se lewe, beide in sy versoeking in die woestyn (Matt 4:1-11), en in sy kruisdood (Fil 2:5-11).

Dit behels dat jy afstand kry van jou vermoëns en prestasies deur jouself doelbewus uit die sentrum van jou lewe te haal, en te sorg dat ander jou nie op ’n verhogie plaas nie.  Nederigheid word moontlik deur minder gereeld oor jouself te dink, en meer gereeld oor die behoeftes van ander … eerder as dat jy minder van jouself dink (Adele Calhoun). So ’n nederige lewenstyl is vasberade ingestel daarop dat die fokus van jou eie prestasies en invloed af na God se teenwoordigheid in die wêreld verskuif, soos ’n mens hier in Barnabas en Paulus se optrede sien.

Mag die Here hierdie nederigheid elke dag in ons lewens inweef.

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Nederigheid

Ons fokus hierdie week op nederigheid, soos dit manifesteer binne die verhaal van Paulus en Barnabas se suksesse in Listra.  Hulle hantering van die probleem van heldeverering is ’n model vir ons om na te volg.

In die joernaal is daar ’n paar opsies wat jy kan lees om jou gedagte te stimuleer.   

Gebed
Dankoffers

Die instrumentale ensemble speel:

  • Lied 553 (Ek is bly ek ken vir Jesus) en
  • Lied 543 (Here Jesus, ek is klein)
Slotlied

Lied 528 (Leer my u wil, Heer) staan

Seën

Die gemeente antwoord: Lied 526 (Waar daar liefde is, en deernis, daar is God die Heer)

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.