Skip to main content

Bid tot God die Vader – Matteus 6:5-15

Gebed is nie ‘n vertoning vir mense nie, maar ‘n eerlike toenadering tot God as Vader. Jesus praat van ons “binneste kamer”, na die voorbeeld van die Joodse huise waar die binneste kamer as pakplek gedien het en nie vensters gehad het nie.  Daar moet ons die deur toemaak en in die verborgenheid tot die Vader bid.

Hoekom? Want God weet immers wat ons nodig het en sal ons privaat gebede beloon. Ons kan staatmaak op God se alwetendheid in gebed.

Ons hoef nie met woorde te mors soos die heidene nie, want God weet wat ons nodig het nog voordat ons vra.

Download the English translation: Pray to God the Father

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Wie is God?

Tema: Bid tot God die Vader

Somerstrand 09:00 1 September 2019

Verwelkoming

Aankondigings

Toetrede

Flam 87 (Afr/Eng) Maak my nou stil, Heer – sit

Votum en Seëngroet

Lofliedere

Psalm 116:1,5,7 God het ek lief – staan

Lied 280:1-3 Here, Redder, groot en magtig – staan

Voorbidding

Kindertyd en Nagmaal

Voordat ons die nagmaal gebruik, wil ons graag vir mekaar vertel wat die Bybel vir ons oor die nagmaal leer.

Die Bybel leer ons dat God ons baie liefhet. Ons weet dit omdat Hy sy Seun – dit is Jesus – vir ons gestuur het. Die Bybel leer ons ook dat Jesus ons baie liefhet. Ons weet dit omdat Hy sy lewe vir ons gegee het. Dit het Hy op Goeie Vrydag aan die kruis op Golgota vir ons gedoen. Die Bybel leer ook dat Jesus self die Nagmaal vir die eerste keer aan sy dissipels gegee het en vir hulle gesê het om dit gereeld te gebruik. Hoekom? Sodat ons nooit sal vergeet wat Jesus vir ons gedoen het nie.

Die nagmaal vertel vir ons wat Jesus vir ons gedoen het.

  • Hy het aan die kruis vir ons gesterf, maar het ook opgestaan en Hy lewe.
  • Die brood wat ons eet, laat dink ons aan die swaarkry en die dood van Jesus aan die kruis.
  • Die wyn wat ons drink, laat dink ons aan die bloed van Jesus wat vir ons aan die kruis gevloei het.
  • Wanneer ons die brood en wyn gebruik, sê ons almal saam vir die Here dat ons sy kinders
  • Ons sê ook daarmee dat ons glo dat ons almal eendag saam met Jesus in die hemel sal wees.
  • Ons is bly wanneer ons die nagmaal gebruik, want ons sien nou al hoe lekker dit in die hemel gaan wees.
  • Ons sê ook deur die nagmaal vir die Here dankie vir alles wat Hy vir ons doen en gedoen het.

Bid agter my aan:

Ons Vader in die hemel

  1. Laat u Naam geheilig word.
  2. Laat u koninkryk kom.
  3. Laat u wil op die aarde geskied, soos in die hemel.
  4. Gee ons vandag die brood wat ons nodig het.
  5. Vergewe ons ons sondes, soos ons ook dié vergewe het wat teen ons sondig.
  6. Laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koningskap en die krag en die heerlikheid vir altyd. Amen.

Lied 303 (Afr/Eng/Afr) Eet die brood – sit

Ansie en Ernst Kotze; Annalise en Wynand Viljoen sit aan saam met my

Dankoffer

Kinders gaan na groepies toe

Lied 301 (orrel) Ons kom vier u maaltyd, Vader

Epiklese

Lied 442:1 Gees van God wat in my woon – sit

Skriflesing en prediking

Bid tot God die Vader – Matteus 6:5-15

Pa’s in die natuur

Daar is wonderlike pa’s in die natuur.

  • ‘n Leeumannetjie sal sy lewe gee vir die beskerming van die trop en veral sy welpies, al is hy ietwat lui met die jag en eet hy altyd eerste van enige prooi. As pa is ‘n leeumannetjie egter ‘n formidabele beskermer.
  • ‘n Wildehond reun sorg vir die eerste tien weke vir die klein hondjies deur verteerde vleis op te bring om hulle te voed. As pa is ‘n wildehond reun ‘n formidabele voorsiener.
  • ‘n Goue leeu tamarin mannetjie, ‘n klein aapsoort in Suid-Amerika, dra sy kleintjie sewe weke op sy rug, en gee hom net vir die wyfie sodat sy hom kan voed. Maar die aap mannetjie los nie daardie kleintjie nie. As pa is ‘n tamarin mannetjie ‘n formidabele versorger.

Daar is egter min pa’s soos die keiser pikkewyn in die natuur. Die Franse fliek March of the Penguins (2005) vertel die verhaal van die jaarlikse reis van die keiser pikkewyne na ‘n afgeleë plek in Antarktika. Die ys daar is solied regdeur die jaar en só afgeleë dat daar geen roofdiere is wat hulle bedreig nie.

Nadat die eier gelê is, moet die wyfie gaan kos soek om haar kragte op te bou. Die mannetjie moet die eier dan oppas vir die ongeveer twee maande voor sy sal terugkom om haar beurt te neem.

Dit is ‘n uitdagende taak. Alles in ysige koue, tot 62 grade Celsius onder vriespunt, met winde van tot 200 km/u. Dit is uitmergelend al drom die pikkewyne saam teen die ysige wind en koue en maak hulle beurte om in die binnekring te staan.

Die mannetjie verloor die helfte van sy liggaamsgewig in daardie tyd. Want die eier mag nie op die ys beland nie, anders is die eier daarmee heen. Daarom hou hy die eier bokant sy voete in ‘n holte dig teen sy lyf om die eier warm te hou.

Met die wyfie terug en die kleintjie uitgebroei, gaan die mannetjie dan op sy beurt kos soek in die see wat teen daardie tyd al ‘n 100 km ver weg is van hulle af soos die see al hoe meer verys. As die mannetjie na ongeveer ‘n maand terug kom, is dit weer die wyfie se beurt. Só maak hulle beurte om kos te gaan haal, tot die kleintjie op sy eie kan funksioneer en hulle na ongeveer nege maande die reis terug na die see kan aanpak om self te gaan jag.

‘n Mens wil amper sê, against all odds, sorg hierdie mannetjies en wyfies se opofferings vir hulle kleintjies vir die voortbestaan van die keiser pikkewyn. As pa is ‘n keiser pikkewyn die volle pakket. Daar is nie ‘n dier wat soveel ontbeer soos die keiser pikkewyn ter wille van die voortbestaan van hulle kroos nie.

God die Vader

Maar, steeds is geen natuurlike pa te vergelyk met God as Vader nie. Daar is geen pa soos God die Vader nie.

Die Pakistani prominente Moslem vrou, Bilquis Sheikh, skryf in haar boek I Dared To Call Him Father (1978), dat dit God se Vaderskap is wat haar oortuig het om in Jesus te glo.

Sheikh was ‘n gerekende vrou in Pakistan, baie invloedryk, totdat haar man haar verlaat het, en sy haar teruggetrek het op haar landgoed aan die voete van die Himalajas. Sy was welgesteld met baie bediendes, maar alleen en teleurgesteld in hoe haar lewe uitgedraai het.

Sheikh het haar toevlug tot die Koran geneem, maar vinnig opgemerk dat die profeet Jesus op verskillende plekke genoem word. Sy het toe ‘n Bybel in die hande gekry en daarin begin lees.

Die eerste Bybelvers wat haar oog gevang het, was Romeine 9:25-26:

25So sê Hy dan ook in die boek Hosea: ‘Hulle wat nie my volk is nie, sal Ek roep om my volk te wees, en haar wat geen liefde ontvang het nie, om my geliefde te wees.’ 26’En in plaas daarvan dat vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’ sal hulle geroep word om kinders van die lewende God te wees.”

Hierdie teks het haar diep geraak.

Dit het haar opgeval dat sy ‘n gevoel van vrede gevoel het as sy die Bybel gelees het, maar dit nie ervaar het as sy die Koran gelees het nie. Sy het begin gesels met Amerikaanse sendelinge, David en Synnøve Mitchell, oor wat sy in die Bybel gelees het.

Een aand het ‘n reeks drome en visioene egter begin, drome wat oor die Drie-eenheid gegaan het. God as Vader, Seun en Heilige Gees. Sy was ontsteld, omdat sy gedink het dat die Drie-eenheid kettery was, veral vanuit die Moslem geloof beskou.

Kort daarna het haar kleinseun siek geraak. In ‘n gesprek oor God met die dokter, die non dr Pia Santiago, het dié voorgestel dat Sheikh tot God moet bid en Hom moet vra om Homself aan haar te openbaar.

Haar voorstel was dat Sheikh met God sou praat soos sy met haar pa sou praat. Sheikh het ‘n baie goeie verhouding met haar pa gehad, en daarom het sy dit gedoen; tot God gebid asof Hy haar Pa was.

Sy het nog nooit vantevore aan God as ‘n “Vader” gedink nie, maar het gevind dat hierdie persoonlike en intieme siening van God haar lewe begin transformeer. ‘n Kort rukkie daarna het sy tot bekering gekom, en is sy gedoop, ‘n beslissende oomblik in haar gemeenskap, want dit het ‘n definitiewe breuk met Islam beteken.

Haar familie het haar gekonfronteer, onterf en sy moes uiteindelik in 1967 na Amerika toe vlug vir haar veiligheid, en dié van haar kleinseun. Sy het veral met Billy Graham saamgewerk op sy evangeliese uitreike en baie vir die koninkryk gedoen tot met haar dood in 1987.

Die Ons Vader gebed

Dit is hierdie prentjie van God wat ons in gedagte moet hou as ons die Ons Vader bid. Want elke gebedsversoek in die Ons Vader word gebou op ons idee van God as Vader. Ons moet ons begrip van God as Vader vergroot om hierdie gebed opreg te kan bedoel sodat ons in alles op Hom as Vader kan staatmaak.

Kom ons lees die gebed in sy konteks in die Bergrede van Jesus:

MATTEUS 6:5-15

5“En wanneer julle bid, moenie wees soos die skynheiliges nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat hulle deur die mense gesien kan word. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het hulle beloning ontvang.

6Maar wanneer jy bid, gaan in jou kamer in en sluit jou deur en bid privaat tot jou Vader; en jou Vader wat dinge sien wat privaat is, sal jou beloon.

7En wanneer julle bid, moenie baie woorde gebruik soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle oor hulle baie woorde verhoor sal word.

8Moet dan nie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.

9So moet julle dan bid:

Ons Vader in die hemel,

laat u Naam geheilig word.

10Laat u koninkryk kom.

Laat u wil op die aarde geskied,

soos in die hemel.

11Gee ons vandag die brood

wat ons nodig het.

12En vergewe ons ons sondes,

soos ons ook dié vergewe het

wat teen ons sondig.

13En laat ons nie in versoeking kom nie,

maar verlos ons van die bose. (‘n Aantal minder goeie manuskripte het ook nog want aan U behoort die koningskap en die krag en die heerlikheid vir altyd. Amen)

14Want as julle mense hulle oortredings vergewe, sal julle Vader in die hemel julle ook vergewe.

15Maar as julle mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie.”

Vertrou op God se alwetendheid

Gebed is nie ‘n vertoning vir mense nie, maar ‘n eerlike toenadering tot God as Vader. Jesus praat van ons “binneste kamer”, na die voorbeeld van die Joodse huise waar die binneste kamer as pakplek gedien het en nie vensters gehad het nie.  Daar moet ons die deur toemaak en in die verborgenheid tot die Vader bid.

Hoekom? Want God weet immers wat ons nodig het en sal ons privaat gebede beloon. Ons kan staatmaak op God se alwetendheid in gebed.

Ons hoef nie met woorde te mors soos die heidene nie, want God weet wat ons nodig het nog voordat ons vra.

Bid tot God die Vader

Ek gaan die volgende twee weke fokus op die onderskeie gebede van die Ons Vader. Ek wil hier net die raamwerk skets van hierdie modelgebed.

  1. Die eerste bede begin met die erkenning van God se Vaderskap wat tot die heiliging van sy Naam moet lei. Ons vertroue is op Hom gerig. Hy sal immers veel eerder antwoord as wat aardse pa’s dit sou doen.
  2. Die tweede bede fokus op sy Koninkryk wat moet kom, beide in terme van sy heerskappy in die wêreld as in sy kinders se lewe. Dit is ‘n versugting dat dinge op aarde reggestel sal word soos God dit van die begin af bedoel het.
  3. Die derde bede fokus daarom op sy Wil wat op aarde moet geskied presies net soos Hy dit in die hemel besluit het; dat mense hulle sonder teëpratery aan God se wil sal onderwerp, want sy wil alleen is goed. Dit beteken natuurlik dat ‘n mens jou eie wil prysgee soos Jesus in Getsemane dit gedoen het en waaroor ek volgende week preek.
  4. Die vierde bede: “Gee ons vandag die brood wat ons nodig het,” kan op verskillende maniere verstaan word. Die betekenis is egter duidelik. Dit is ‘n gebed om God se voorsiening vir ons hele lewe.
  5. Die vyfde bede se laaste deel is eintlik in die verlede tyd geskrywe. Ons bid dus dat God ons sal vergewe, soos ons ons skuldenaars vergewe “het”, dws reeds in die verlede vergewe het.
  6. Die sesde bede: “Laat ons nie in versoeking kom nie”, beteken dat ons vra dat God sal keer dat ons “nie sondig nie”. Daarby vra ons dat God ons: “verlos van die Bose.” Ons verlang daarna dat God finaal met die Bose sal klaarspeel. Ek preek vanaand oor dié onderwerp van die Bose.

Matteus gee hierdie ses aspekte van Jesus se Ons Vader gebed weer wat as omvattende model vir ons “binneste kamer” gebed kan dien.  Dit is ‘n raamwerk wat regtig as ‘n omvattende raamwerk vir ons eie gebede kan dien.

Leer dié gebed uit jou kop uit in ‘n vertaling wat jy verkies, en bid dit gereeld.

Ek gee vir jou vier aspekte van God se Vaderskap om jou aan te moedig om tot Hom as Vader te bid.

God die Vader alleen is Skepper en Voorsiener

Paulus sê, daar is:

“vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe.” (1 Kor 8:6)

Hy verwys daar na Moses wat in sy laaste lied Israel aangemoedig het om oor God as Vader te dink:

“Is die Here nie jou Vader, jou Skepper, nie? Hy het jou gemaak, jou in die lewe gebring.” (Deut 32:6; vgl vers 18)

Jesaja sê dit ook in die laaste deel van sy boek:

8U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm, ons is almal die werk van u hande.” (Jes 64:8)

Daar is niemand wat van God se Vaderskap uitgesluit is nie, sê Paulus:

“dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” (Hand 17:24-28)

God die Vader is vol liefde en ontferming

Hosea sê:

“Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.” (Hos 11:1)

Dawid sê:

13Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” (Ps 103:13)

God die Vader se begeerte is om ons as sy kinders te hanteer en vir ons goed te wees. Al wat Hy verwag, sê Jeremia, is dat ons Hom as Vader sal eer en by Hom sal bly:

“Noem My ‘Vader’, en moet nooit weer van My af wegdraai nie.” (Jer 3:19)

Paulus herinner ons daaraan dat God Vader die Een is wat ons moed gee:

“Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4In elke moeilikheid bemoedig Hy ons.” (2 Kor 1:3)

God die Vader is die top Versorger

Ons moet onthou dat God elke pa gemaak het, van die diere tot die mense. So Hy weet beter as die leeumannetjie om ons te beskerm. Hy weet beter as die keiser pikkewyn om vir ons te sorg.

Daarom sê Dawid:

6’n Vader vir weeskinders en ’n beskermer van die reg van weduwees is God in sy heilige woning.” (Ps 68:5)

En Jesus eggo dit vir ons hele lewe:

31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt 6:31-33)

Wat meer is:

13As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk 11:13)

Hy help ons reg

Soos enige goeie pa, is God die Vader ook die Een wat ons dissiplineer en reghelp.

Moses het al daaroor geskrywe:

5Jy moet diep in jou hart weet: soos ’n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.” (Deut 8:5)

Die Hebreërskrywer brei daarop uit:

5Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, 6want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” (Hebr 12:5-6; vgl Spr 3:11-12)

Hy wil hê dat ons soos Hy sal wees

Die toppunt van wat God die Vader vir ons wens, is dat ons soos Hy sal wees.

48Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” (Matt 5:48)

Hoekom?

14Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. 15Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! 16Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; 17en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” (Rom 8:14-17)

Gebed

Slotlied

Lied 266 Ons Vader wat woon in die hemel – staan

Seën

Amen

Lied 312

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.