Jesaja 52:13-53:12 – Erediens: Goeie Vrydag

Aanbidding

387:1-4 O Heer, uit bloed en wonde

391:1,3,5 Vervul, o Heer, my hart

395:1-3 My  Verlosser aan die kruis

Jesaja 52:13-53:12

Woordverkondiging

Fynbos groei in ’n strook van 100 tot 200 km wyd, al teen die kus af vanaf Clanwilliam aan die Weskus tot hier by Port Elizabeth.  Dit is deel van die sogenaamde Kaapse Blommeryk.

Van die ses blommeryke wat oor die wêreld voorkom, is die Kaapse Blommeryk die kleinste, maar beskik oor die grootste variëteit per oppervlakeenheid.  Meer as 9,000 plantspesies kom hier voor, waarvan ongeveer 6,200 spesies uniek aan dié area is.  Dit kom regtig nêrens anders ter wêreld voor nie.

Die term fynbos is ontleen aan die fyn, naaldagtige blaartjies van baie van die plantspesies in dié gebied, bv. die Proteas en die Erikas.

Vuur in die vorm van veldbrande vorm ’n noodsaaklike fase in die lewensiklus van byna alle fynbos.  Baie van die saad ontkiem slegs na die intense hitte van ’n veldbrand.  Spesifiek met hierdie doel in gedagte dra Proteas hul sade aan die plant vir minstens ’n jaar.  Ander fynbos dra hul sade in ’n vorm wat aantreklik vir miere is, sodat die miere die saadjies in hul hope stoor, waar dit beskerm is teen die hitte van die veldbrand.  Dit PowerPoint het juis ‘n foto van só ‘n brand teen die hange van Duiwelspiek in 2008 (Kaapstad).

Die smeltkroes van vuur is verantwoordelik vir die ryk plantelewe in Kaapse fynbos.  Wanneer vuur die veld swart en verwoes agterlaat, lyk dit asof verwoesting aan die wenkant is.  Die swart geskroeide aarde dek egter die tafel vir die wonderbaarlike skoonheid van die fynbosveld.

Uit die pyn en verwoesting van vuur, word skoonheid gebore.  Verbasend, maar waar.

Verrassende skoonheid

Jesaja 53:2 laat ons in geen twyfel oor die voorkoms van die dienaar van die Here nie:

Die dienaar was soos ’n loot wat voor die Here uitspruit, soos ’n plant wat wortel skiet in droë grond.  Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.

Die dienaar van die Here was – om presies te wees – misvormd, sodat hy nie langer soos ’n mens gelyk het nie (52:14).  Hy het nie skoonheid of prag gehad nie (53:2).  Hy was verag en deur mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie mense die gesig wegdraai.  Hy was verag, ons het hom nie gereken nie ((53:3)

Tóg het daar uit die veragte dienaar genesing en herstel gekom.  Uit die smeltkroes van die dienaar se lyding, het daar verrassende skoonheid en seën vir ons gekom!

Verwerp en verstoot

Die hele Israel het ’n Messias verwag.  Regdeur Jesus se bediening was daar mense wat Hom as die Messias bely het.  Tog was dit vir almal ondenkbaar dat die Messias moes ly en sterf.  Vir ’n lydende Messias was daar onder die gelowiges van Jesus se tyd nie ruimte nie.  Daarom lees ons dat Jesus deur Petrus bestraf word wanneer Hy sy lyding en dood aankondig (vergelyk bv. Matt 16:31-33).

Hierdie ontsteltenis en verbasing  word reeds deur die lied in Jesaja 52 en 53 verwoord.  Baie mense sou ontsteld wees oor die lyding wat die dienaar van die Here misvorm.  Baie mense sou verbaas wees, want die dienaar is ’n lydende dienaar.  Die hoop en lewe wat die dienaar bring, sê Jesaja, word uit lyding gebore (52:14-15).  Die dienaar dra die verlossing wat die Here gee, maar mense sal dit nie herken nie.  Die voorkoms van die dienaar, sy smart en lyding, sal hulle mislei.

Hierdie woorde pas presies op die verwerping wat Jesus van Nasaret moes deurleef.   Mense hét Hom só hanteer.

En laat ons nie te gou met veroordeling vir hulle stiksienigheid kom nie.  Ons sou waarskynlik Hom ook só hanteer as ons daar was.  Verloën het soos ’n Petrus.  Weggehardloop het soos die dissipels.  Die hand wat die spykers ingeslaan het, sou ons hand kon wees.  Ons het die kapasiteit om Hom te verraai of te verloën.  Ons sou waarskynlik ook ons koppe wegdraai.  Behalwe vir ’n paar vroue by die kruis, en waarskynlik ’n Johannes, was Hy alleen in sy doodsworsteling.

In ons plek

Hoekom doen Jesus dit?  Jesaja sê, omdat Hy óns sonde op Hom geneem het (53:4-5):

Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra … Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom…

Óns het gedwaal soos skape … en Hy is in ons plek mishandel.
Ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom (53:6).

In ’n stygende crescendo word beskryf hoedat die Dienaar van die Here ons sonde op Hom geneem het.  Dit vervul ’n mens met verstomming.  En met dankbaarheid en verwondering.

’n Verrassing uit die smeltkroes

Wanneer ’n verwoestende veldbrand die aarde swart geskroei het, word mens verras deur die eerste tekens van nuwe lewe.

Net so bring die straf en verwoesting van die Dienaar nuwe lewe voort vir diegene wat op Hom ingeplant word.

Die verwondering dat daar deur die lyding van Een genesing vir baie kom, is ’n stygende lyn wat in ons teks oorgaan in nóg ’n magtige crescendo:

  • Deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom (5);
  • Hy gee sy lewe en skuldoffer en verkry so ’n nageslag en ’n lang lewe (10)
  • Hy maak baie mense regverdig (11)
  • Hy gee hom in die dood oor en vier daarom die oorwinning saam met magtiges (12)

Uit die dood kom nuwe lewe.

Goeie Vrydag bring ons voor hierdie wonderlike misterie te staan.  Wie kan die weë van die Here deurgrond dat ons rasioneel kan uitspel hoe die versoening wat die Dienaar verkry, werk?  Ons kan nie.  Maar die versoening is ’n saak vir geloof.  Deur sy dood kom daar vir ons lewe.  Die smeltkroes waardeur Hy moes gaan, is ons bron van lewe.

Lof en aanbidding

Die styl waarin die Dienaar ly, is verstommend.  Soos ’n lam ter slagting en ’n skaap wat geskeer word, het Hy nie gekla nie.  Terwyl Hy mishandel is, het Hy geduldig gebly en nie gekla nie (7).

Vir die Nuwe Testament is hierdie vrywillige, liefdevolle selfoorgawe van die Lam ’n bron van lof en aanbidding.  Uit eie keuse en gedryf deur liefde neem die Lam ons sonde op Hom, soos Johannes in Openbaring skryf:

Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en die rykdom, die wysheid en die sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer,  die heerlikheid en die krag,  tot in alle ewigheid. (Open. 5)

Goeie Vrydag staan in die somber teken van die dood van die Here Jesus aan die kruis.  Ons is stil voor die Here, want dit is ons sonde wat sy dood gekos het.  Hy is verwerp vanweë ons oortredinge.

Tog is dit ook ’n dag waarop ons in Christus kan roem, die Een wat as dienaar van die Here vrywillig in ons plek, en vir ons, gesterf het.

Ons bring ook dank aan die Vader wat sy Seun ter wille van ons oorgegee het.  Presies hoe die logika van die versoening werk, is nie duidelik nie.  Ons versoening in Christus is ’n plan wat nie in ‘n menslike hart opgekom het nie.  Tog is dit die wil van die Here God om ons sonde op die Here Jesus te laat neerkom.  God die Vader se regverdige oordeel kom op Christus neer, en so kom daar versoening vir ons sonde.

Die vuur van lyding wat Christus tref, bring vir ons wonderbaarlike insluiting in die pragtige koninkryk van God.

Daarvoor loof ons Vader, Seun en Heilige Gees.

Met die oog op die ereplek

Christus se lyding as dienaar van die Here loop uit op heerlikheid (53:12):

Daarom gee Ek hom ’n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.

Die Nuwe Testament sluit by hierdie tema aan:

Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. (Fil 2:8-11)

Christus kon ly, omdat die heerlikheid wat die Vader gee Hom gedra het.

Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God (Hebreërs 12:2).

Ons eie lyding

Die volk van God, die Here se kerk, is ook ’n dienaar van die Here.  Ons loop vandag ook langs paaie van gehoorsaamheid wat vir ons lyding inhou.

Soms bring ons hierdie lyding oor onsself vanweë ons eie sonde, soos Israel destyds.  Dan verdra ons die lyding as die opvoeding van die Here.  Soms ly ons vanweë gehoorsaamheid aan die Here.  Daardie lyding geskied onder die belofte van God se seën en oorwinning.

Laat ons in alles die geduldige en gewillige lyding van Christus voor oë hou. Soos Hebreërs 12:3 sê:

Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie (Hebreërs 12:3).

Ons hoop is die misterie van die vuur wat geboorte gee aan wonderbaarlike lewe.

Nagmaal

303 Eet die brood

Alternatiewe Nagmaal Formulier

(Verwerk deur Marius Lourens, gebaseer op hoofstuk 10 (p113 vv) van Piet Naudé se boek “Brug na môre”, 1994: Lux Verbi, Kaapstad.)

God het geweet dat dit vir ons as mense uiters moeilik is om entoesiasties te bly in die geloof. Daarom het Hy vir ons die Nagmaal gegee, en die tekens van die brood en die wyn, om ons te herinner aan die Here Jesus se liggaam wat vir ons gebreek is, en sy bloed wat vir ons gevloei het.  Want God het geweet, as ons siele nie gevoed word nie, en ons as mense nie goed eet en drink nie, dan is dit vir ons moeilik om in ‘n feestelike stemming te bly.  En daarom gee Hy vir ons die brood van die kruis om ons lam knieë sterker te maak, en streel Hy ons kele met die wyn van die kruis, om ons droë kele te lawe sodat ons nie van uitputting omkom nie.

Daarom, wanneer die feesgangers bymekaar is, moet ons die brood neem en die wyn drink en moet ons ons oë rig op die ewige feesmaal, en dan sien ons ‘n onbeskryflike mooi gesig, en tussen die feesgangers staan die Lam van God. Hy het die kruis wat op die heuwel geplant was uit die grond getrek, en Hy neem dit in Sy hand, en dit word die Groot Komponis se dirigeerstok waarmee Hy die maat aandui…  En so begelei die kruis ons van noot tot noot, van maatstreep tot maatstreep, totdat ons lied saamvloei in een magtige akkoord aan die voete van die Lam: SACTUS DOMINUM: Heilig is die Here God.

Slotlied

384 Jesus, o dink aan my

Gemeente verlaat die kerk in stilte, sonder die seëngroet of orrelspel

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment