Skip to main content

Uitgestelde verwagting leer ons volhard – Handelinge 1:1-11

Uitgestelde verwagting

Kinders wat kan wag op beloning, doen beter op skool en vaar oor die algemeen beter in die volwasse lewe wat wag.

Hierdie beginsel is deur Walter Mischel van Stanford Universiteit bewys in ‘n eksperiment wat in 1970 met vierjariges gedoen is – iets wat nou ook al in TV advertensies gebruik is. Hy het ‘n vierjarige alleen in ‘n vertrek gelaat met ‘n malvalekker (“marshmellow”) en ‘n klokkie. Indien die kleinding die klokkie lui, kom Walter dadelik terug, en die kind eet die malvalekker. Indien die kleinding kon wag dat Walter uit eie keuse terugkom, kry hy of sy ‘n ekstra lekker.

In video’s van die eksperiment, kan jy die kinders sien wriemel, wikkel, bene swaai, hulle oë toedruk, en op hulle hande sit. Hulle is desperaat om selfbeheersing toe te pas.  Hulle wil meestal regtig wag om liewer twee lekkers te kry. Hulle optrede het sterk verskil. Sommige kon nie uithou nie, en het die klokkie binne ‘n minuut gedruk. Ander kon tot 15 minute uithou.

Die kinders se verdere ontwikkeling is deur die navorser opgevolg. Diegene wat langer kon wag, het hoër punte op skool behaal. Hulle het toelating tot beter opvoedkundige inrigtings verkry, en het meer as volwassenes bereik. Die kinders wat die klokkie die gouste gelui het, het ‘n hoër persentasie boelies opgelewer. Hulle is tien jaar later swakker deur ouers en onderwysers geëvalueer, en was teen ouderdom 32 meer geneig om dwelm verwante probleme te hê.  Dit was ook opmerklik dat die teenwoordigheid van ’n vader-figuur ’n beduidende rol gespeel het in die vermoë om te kan wag – waar gesinne dus albei ouers gehad het, het kinders beter gedoen.

Walter Mischel se gevolgtrekking is dat kinders moet leer dit is beter om vir die toekoms te werk, voor te berei en op te offer, eerder as om vir onmiddellike bevrediging van behoeftes te lewe.

Die toekoms is belangriker as wat mens in die hitte van die oomblik mag besef.

English Translation: Deferred expectation teaches us to persevere – Acts 1

Skriflesing

Handelinge 1:1-11

Die belofte van die Heilige Gees

1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart

9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Jesus praat oor die dinge van die koninkryk van God

Die eerste verse van Handelinge is swaar gelaai met intense betekenis. Die boek open met ‘n indringende gesprek oor  die “dinge van die koninkryk van God.” (vers 3)  Hoewel die apostels nie die tye en spesifieke geleenthede ken wat God in sy eie mag bepaal het nie (vers 7), sê Jesus vir hulle, hulle kan weet dat God aktief aan die werk is.

God is aktief aan die werk

Hoe kan hulle dit weet?

1. Deur die opstanding

God het Jesus liggaamlik in ‘n nuwe lewe opgewek en met vele tekens getoon dat Hy leef oor ’n tydperk van veertig dae (vers 3).  Die opstanding is en bly die hart van die evangelie.  Dié opgestane lewende Jesus is nou besig om sy koninkryk te vestig, daarvan het Hy hulle in dié tyd oortuig.

Lukas wil ons verseker, dit is werklik Jesus wat opgestaan het. Hy het met sy dissipels ontmoet. Hy het ‘n getransformeerde liggaam gehad wat werklik kon eet en praat, maar ook meer kon doen. Hy kon verskyn en verdwyn, ook deur geslote deure kom.

Om die waarheid te sê, vir hom, en die ander skrywers van die Nuwe Testament, was Jesus meer intens liggaam as ‘n “gewone” liggaam, nie minder nie. Jesus se getransformeerde liggaam is die begin van God se nuwe skepping. In God se nuwe skepping, sê tekste soos Openbaring 21 en Efesiërs 1, kom hemel en aarde op ‘n nuwe manier bymekaar. Jesus se opgestane liggaam is die begin hiervan.  Dit is die begin van ‘n hemelse werklikheid wat tuis is op God se aarde, en die begin van ‘n getransformeerde skepping wat ten volle tuis is in God se omgewing (die hemelse).

2. Deur die Heilige Gees

Jesus het vir hulle krag van die Heilige Gees belowe, iets wat op Pinksterdag in werking getree het (vers 8) en wat hulle Jesus se getuies sou maak tot aan die einde van die aarde.  Sonder die bewuste bemagtiging van die Heilige Gees kan ’n mens immers nie by Jesus se werk aansluit nie.

Die rol van die Heilige Gees in die opgestane Jesus se bediening word sterk beklemtoon, soos dit immers die geval was van sy geboorte en regdeur sy bediening vóór die kruis. Daarom gee Jesus bevele deur die Heilige Gees (vers 2). Daarom roep Jesus Johannes die Doper in herinnering, wat vir Jesus met water gedoop het. In hierdie nuwe bedeling, die era van God se nuwe skepping, word Jesus se volgelinge egter nou in die Heilige Gees gedoop (vers 5). Die krag van die Heilige Gees, sal nou die nuwe realiteit in Jesus se volgelinge wees. Vanuit die Heilige Gees, die Gees van Christus, sal hulle die lewe en krag ontvang om Jesus te volg (vers 8).

Kragtige woorde.

3. Deur die Hemelvaart

Jesus gee deur die engele vir hulle die belofte met sy Hemelvaart dat Hy net so sal terugkom “soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het” (vers 11).  Met die Hemelvaart stel Jesus ons dus gerus dat sy weggaan tot ons voordeel is en dat Hy daarvandaan sal terugkom wanneer die tyd ryp is.  Hy doen sy werk vanuit die hemel, self, sowel as hier op aarde deur ons, sy dissipels.

Die hemelvaart, sê ons teks, laat ons dus vorentoe kyk, draai ons gesigte na die toekoms. Jesus sal weer kom. Dit is ons verwagting. En as uitgestelde verwagting leer dit ons om te volhard.

Hierdie tyd van afwagting is egter nie leë tyd nie. Dis nie tyd om op jou hande te sit, jou bene te swaai, jou oë toe te druk en te sug nie. Die tyd van afwagting is gevul met aksie en betekenis. Dit is ‘n tyd om die goeie nuus van Jesus se koningskap deur getuienis te deel.

Dit beteken Jesus se dissipels werk aktief in alle tye en op alle plekke in diens van God se koningskap, in afwagting op Jesus op die koningskap van God by sy terugkeer ‘n volle werklikheid te maak.

Jesus is die Koning

Jesus se hemelvaart is dus nie ‘n blote “weggaan” nie. Regdeur Handelinge bly Jesus aktief. Op een vlak lyk die boek na die verhaal van die kerk. En dit mag lyk of Jesus weg is. Maar op ‘n ander vlak is dit ook ‘n boek oor Jesus die Koning. Jesus is steeds die hoofkarakter, wat op sleutelmomente as Akteur na vore tree, soms baie direk:

  • soos in Stefanus se steniging (Hand. 7),
  • met Saulus se bekering op die Damaskus pad (Hand. 9),
  • toe hulle die grens na Europa oorgesteek het met die tweede sendingreis (Hand. 16) en
  • toe Paulus mismoedig in Korinte was (Hand. 18).

Die nut van die hemelvaart

Die Heidelbergse Kategismus spel die nut van die hemelvaart van Christus vir ons soos volg uit in vraag en antwoord 49. Daar is drie betekenisse vir ons:

  1. Ten eerste dat Jesus in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (1 Joh 2:1; Rom 8:34).
  2. Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem (Joh 14:2; 17:24; 20:17).
  3. Ten derde dat Jesus sy Gees as waarborg na ons toe stuur (Joh 14:16; 16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (Kol 3:1).

Die krag van die Gees

Om dié werk te doen, beloof die Here Jesus sy volgelinge krag deur die Heilige Gees. Die woord krag is in Grieks dunamis, waarvan ons woord dinamiet afgelei is. Ons het hierdie krag nodig om weë aan te kondig waarop die wêreld Jesus as koning kan vind en eer.

Die agenda is duidelik: Jerusalem en Judea – die plek waar hulle hulle bevind en die omliggende gebied; Samaria (die gehate gemengde volk wat regs langsaan hulle gebly het), en tot die eindes van die aarde. Gelyktydig.

Die hele wêreld is die teater waarbinne Jesus se koningskap erkenning sal kry. Hierdie agenda speel hom uit in die boek Handelinge. Ons lees hoe die evangelie stukkie vir stukkie, plek vir plek, van Jerusalem deur Judea, Samaria en tot aan die eindes van die aarde versprei. Dit land selfs aan in die verre Rome, waar Paulus in boeie die evangelie verkondig en met die mense oor die koninkryk van God praat. Alles geskied deur die getuienis van getroue volgelinge, in die krag van die Heilige Gees.

Uitgestelde verwagting leer ons volharding

Maar, net so belangrik as die ervaring van die krag van die Heilige Gees en die besig wees met die koninkryk van God wat Jesus besig is om te vestig, is die uitsig op die eindpunt, die hemel, dit waarvan die Hemelvaart ons herinner.  Dit is ons uitgestelde verwagting, die NT gebeure wat ons leer om te volhard en uit te hou.

Die “hemel” in die Bybel is God se ruimte. Die “aarde” is ons ruimte. Hemel en aarde is twee kante van dieselfde munt, waarvan die een kant tans vir ons onsigbaar en ontoeganklik is. God woon in die hemel en is vir ons onsigbaar. Tog is God se bedoeling dat hemel en aarde eenmaal verenig sal word – ‘n nuwe aarde en ‘n nuwe hemel – waar God self by ons sal kom woon.

Jesus se opstanding uit die dood, en Jesus se hemelvaart, is die tekens en waarborge van hierdie verstommende vernuwing wat God bring. Jesus se verheerlikte liggaam is die loodsprojek en die waarborg van die volle verheerlikte werklikheid waarvan ons eenmaal deel sal wees.

Jesus gaan na God se ruimte, met sy verheerlikte liggaam, om daar te regeer en te werk aan God se nuwe werklikheid, wat eenmaal volkome ons deel sal word. Daar is reeds ‘n mens in die verheerlikte teenwoordigheid van God – die mens Jesus. Wanneer God na sy Seun kyk, sien Hy die gesig van mens. Dit is die waarborg dat ons, wat in Jesus is, ook eenmaal hierdie heerlikheid sal deel.

Ons is nou medewerkers van God wat hierdie aarde transformeer deur die boodskap van Jesus na alle mense te neem. Die sendingveld is hier en daar, in ons onmiddellike omgewing, ons groter konteks en land, maar ook die eindes van die aarde. Ons het ‘n taak om die koningskap van Jesus te verkondig.

Ons is nie in leë tyd waar ons moet probeer uithou tot ons ‘n malvalekker kry nie. Ons moenie sit en bene swaai, voete skop, ons oë toedruk en bloot probeer uithou tot die einde nie. Ons leef in wonderlike tye, gevul met betekenis, vol dinamiese geleenthede om God te dien en van Jesus se lewe, werk en lering te getuig.

Die angel is uit ons toekoms gehaal. Die toekoms is nie iets wat ons moet vrees nie. Ons oë is na die toekoms gedraai. Ons verwag Jesus. Jesus sal weer terugkom net soos Hy gegaan het. Die toekoms is in Jesus se hande, en ons ontvang dit uit sy hand.

Diegene wat hulle oë op hierdie Jesus hou, en met hulle gesigte na die toekoms leef terwyl hulle God dien en van Jesus getuig, is die mense met ‘n betekenisvolle, gevulde lewe en toekomsverwagting.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.