Skip to main content

Ondersoek die Bybel – Handelinge 17:10-15

Ons leef in ‘n tyd waar die sogenaamde lesers-perspektief deur baie as die voorkeur manier van lees aangehang word. Dit is ‘n lees wat nie aanvaar wat in die teks geskryf is nie. Wat daarop uit is om die teks aan te pas by hulle eie situasie. By hulle eie begeertes. By hulle eie wêreldbeeld.

Dit is ‘n manier van lees wat die teks bevraagteken. Wat die teks lees om daarmee te verskil. Om die agterlikheid of neteligheid van die teks uit te wys. En om iets anders in die plek daarvan te plaas.

Hulle lees daarom met ‘n skêr, soos Jacques Derrida dit gedoen het (gebaseer op die werk van die Joodse filosoof Emmanuel Levinas). Derrida het die teks wat aan ons oorhandig is, beskryf as ‘n geweefde lap, ‘n tapisserie, en die leesproses as ‘n kreatiewe proses wat die volgende twee handelinge behels.

In die eerste instansie impliseer só ‘n lees van die teks dat jy ‘n “sny” in die lap maak. Jy “knip” die teks soos met ‘n skêr. Jy “breek” dus die drade van die lap. Jy knip dit uitmekaar om die normale verstaan van die teks te dekonstrueer, dit tot niet te maak. Jy verwerp enigiets wat nie inpas by jou eie verstaan nie. Jy knip dit uit die teks soos met ‘n skêr.

Dit is egter nie al nie. Daarna begin jy die geweefde lap van die teks herstel. Met jou eie insigte. Met ander bronne tot jou beskikking. Derrida beskryf dit met die beeld van borduurwerk. Jy vleg ‘n nuwe lap met behulp van ander drade, ander insigte, ander idees, totdat dit ‘n heeltemal nuwe karakter aanneem.

Dit is heel anders as wat die karakters in die Bybel die teks gelees het. Gaan lees maar Esra en Nehemia ná die ballingskap as die OT kanon al byna afgehandel is, en hoe hulle die teks lees (Neh 8 bv).

Hulle lees nie met ‘n skêr nie. Hulle lees met ‘n vergrootglas, om so goed as moontlik te verstaan, sodat die Skrif hulle lewe kan bepaal.

Dieselfde geld die gemeentes waarvan ons lees in die NT.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Download the English: Examine the Bible – Acts 17

Wie is God?

Tema: Ondersoek die Bybel – Handelinge 17:10-15

Somerstrand 09:00 13 Oktober 2019

Verwelkoming

Aankondigings

Toetrede

Lied 257:1 en 3 almal, 2 koor – O Heer, maak oop my hart se poort – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 255:1-3 Woord van God, Woord van die lewe – staan

Vonkk 77:1 en 3 almal, 2 koor – Bring my die ou-ou tyding … die evangeliewoord – staan

Toewyding

Lied 253:1-2 U het die brood gebreek – sit

Kindertyd en sang

Ek wil vir jou vertel vandag hoe belangrik die Bybel is.

Verlede keer het ons gepraat van Paulus wat in Turkye vir die mense van Jesus vertel het. Dit was op sy eerste sendingreis.

‘n Tydjie later wou hy weer gaan om vir te help. Hy vertrek toe op ‘n tweede sendingreis.

Hy het by verskillende stede aangegaan en vir die mense gehelp om die Bybel te lees en om te bid.

Op ‘n dag in Troas het die Here vir hom gesê om na Griekeland te gaan. Die mense daar het hom nodig gehad.

Hy het oor die see gevaar tot by Neopolis en toe die mense in Filippi en Tessalonika van Jesus vertel.

Sommige van die mense was bly om van Jesus te hoor. Hulle wou net meer weet. Hulle wou Bybel lees en bid en die Here dien.

Maar, ander was jaloers. Hulle het die Christene aangeval en hulle weggejaag uit Tessalonika.

Paulus-hulle het egter net verder gereis. Na die stad Berea.

Die mense van Berea het baie meer van Paulus-hulle gehou. Hulle het mooi geluister na alles wat Paulus hulle sê. Hulle het gehou van die boodskap van Jesus. Maar, hulle het ook goed gaan kyk of dit alles in die Bybel staan.

Dit is hoe ons ook die Bybel moet lees. Ons mooi luister. Ons moet goed lees sodat ons kan sien of ander die waarheid praat. Of hulle ook sê wat in die Bybel staan.

Want, die Bybel is die Woord van God. Dit is die boek waar Hy vir ons sê hoe ons moet leef. Hy wil hê dat ons alles wat daar staan sal doen. Want dan sal ons gelukkig wees.

Vonkk 213 (x2) God is lief vir my – sit

Dankoffers

Lied 529:1-4 Dank, dank die Heer – koor

Getuienis

Angelique se getuienis.

Voorbidding

Skriflesing en Prediking

Ondersoek die Bybel – Handelinge 17:10-15

Die ontstaan van die Bybel

Dit is fassinerend om die ontstaan en ontwikkeling van die Bybel na te speur. En ek praat van wat ‘n mens uit die Bybel self agterkom, nie maar net wat geleerdes daaroor skrywe nie.

Die skrifstelling van die Bybel is deur God self begin met die tafels waarop die Tien Gebooie geskryf is (Eks 24:12; 34:1). Onder God se leiding het Moses dit voortgesit en God se wil uitvoerig op skrif gestel.

Dit is duidelik dat hy ‘n groot hand gehad het in die skryf van die eerste vyf boeke van die Bybel. Die teks van die Bybel self vertel ons onder andere dat hy die verhaal van die oorlog teen Amalek as ‘n herinnering vir Josua opgeskryf het (Eks 17:14). In opdrag van God. Hy het die Tien Gebooie uit God se hand ontvang en dit in die verbondsboek – dws al die wette van hfst 20-24 – neergeskryf (Eks 24:4,7). In opdrag van God. So ook uiteindelik die res van die wette en verhale van Eksodus.

Hierdie skryfwerk is opgevolg met die woorde van God wat Moses oor veertig jaar gelewer het aan die volk in die woestyn. Dit is vir ons opgeteken in Levitikus en Numeri. Ook in Deuteronomium wat basies uit drie lang preke van Moses bestaan (Deut 31:24).

Van die begin af was die eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug, daarom die basis van die leer en lewe van die eerste gelowiges. Dit is uiteraard geredigeer en aangevul met antieke bronne soos geslagsregisters en dies meer. Die priesters en profete het dit alles sorgvuldig oorgelewer en gekopieer. En bewaar in die Tabernakel en Tempel. En na die ballingskap ook in die sinagoges.

Lees om te lewe

Hierdie woorde van Moses het die hart van die wetboek gevorm wat deur die Leviete bewaar is in die Tabernakel (Deut 31:9). Die wetboek was bedoel om deur hulle en die ander leiers bestudeer te word as rigsnoer vir die lewe.

‘n Afskrif van die wetboek is aan die leiers gegee – veral later ook aan die koning – om gereeld te lees en in alles as rigsnoer te gebruik. Hulle moes dit só goed lees dat hulle kon verstaan hoe om te lewe:

“Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet maak. Hiervoor moet hy die eksemplaar van die Levitiese priesters gebruik. Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe.” (Deut 17:18-19)

Hierdie wetboek raak dus die boek wat Josua sy eie maak (Jos 1:7). Hy kry ook die voorreg om later die wetboek aan te vul (Jos 24:26). Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan. In sy tyd was daar ook nog die Boek van die Opregte (Jos 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel.

Ons sien dus hier by Josua die begin van ‘n kern-kanon (kanon beteken “maatstaf“), die begin van die Bybel soos ons dit ken, die wet van Moses aangevul met die boek van Josua. Later sou Samuel ook regsvoorskrifte – veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede – byvoeg (1 Sam 10:25) en dit saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar.

As jy dus wou weet hoe jy moet leef, was die eerste plek waar jy as gelowige hulp gaan soek het daardie eerste vyf boeke in die Bybel.

  • Wat oor die begin van alles geskryf het – Genesis.
  • Wat oor die betekenis van die Tien Gebooie gehandel het – Eksodus.
  • Wat in detail vir jou gewys het hoe jou gedrag oor God en die mense moet wees – Levitikus.
  • Hoe jy as dissipel van die Here moet leef, in daardie baie praktiese boek van generasies – Numeri.
  • En uiteindelik oor die wyse waarop die lewe met God alles bepaal het, met die Tien Gebooie wat ‘n tweede keer as riglyn vir die lewe vir die volk met die Intog gegee word – Deuteronomium.

En soos die geskiedenisboeke en die profetiese en wysheidsliteratuur daarby gevoeg is, is al die boeke telkens gemeet aan die ooreenstemming met hierdie eerste vyf boeke. En soos die res van die OT aanvaar is as gesagvolle woord van God, het al 39 boeke van die OT ook die maatstaf, die kanon, geword waaraan leer en lewe gemeet is.

Die Bybel is dus gelees en geleef. Jy het sorgvuldig nagespeur presies wat daar staan en dan het jy dit nagevolg as die lig op jou pad, die lamp vir jou voet:

“U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.” (Ps 119:105)

Soos Spreuke hierdie teks later sou aanhaal en toepas as die wyse waarop met God se Woord omgegaan moet word:

“Wat ek jou voorskryf, is ’n lamp, my onderrig is ’n lig; wie hom laat teregwys, is op die pad na die lewe toe.” (Spr 6:23)

Lees om te verskil

Ons leef egter in ‘n tyd waar die sogenaamde lesers-perspektief deur baie as die voorkeur manier van lees aangehang word. Dit is ‘n lees wat nie bloot aanvaar wat in die teks geskryf staan nie. Wat daarop uit is om die teks aan te pas by hulle eie situasie. By hulle eie begeertes. By hulle eie wêreldbeeld.

Dit is ‘n manier van lees wat die teks bevraagteken. Wat die teks lees om daarmee te verskil. Om die agterlikheid of neteligheid van die teks uit te wys. Om die konflikte en foute uit te wys. En om iets anders in die plek daarvan te plaas.

Hulle lees daarom met ‘n skêr, soos Jacques Derrida dit gedoen het (gebaseer op die werk van die Joodse filosoof Emmanuel Levinas).

Lees met ‘n skêr

Ek sê dit, omdat Derrida die teks wat aan ons oorhandig beskryf as ‘n geweefde lap, ‘n tapisserie, en die leesproses as ‘n kreatiewe proses wat die volgende twee handelinge behels.

In die eerste instansie impliseer só ‘n lees van die teks dat jy ‘n “sny” in die lap maak. Jy “knip” die teks soos met ‘n skêr. Jy “breek” dus die drade van die lap. Jy knip dit uitmekaar om die normale verstaan van die teks te dekonstrueer, dit tot niet te maak. Jy verwerp enigiets wat nie inpas by jou eie verstaan nie. Jy knip dit uit die teks soos met ‘n skêr.

Dit is egter nie al nie. Daarna begin jy die geweefde lap van die teks herstel. Te Re-konstrueer. Met jou eie insigte. Met ander bronne tot jou beskikking. Derrida beskryf dit met die beeld van borduurwerk. Jy vleg ‘n nuwe lap met behulp van ander drade, ander insigte, ander idees, totdat dit ‘n heeltemal nuwe karakter aanneem.

Lees met ‘n vergrootglas

Dit is heel anders as wat die karakters in die Bybel die teks gelees het. Gaan lees maar Esra en Nehemia ná die ballingskap as die OT kanon al byna afgehandel is, en hoe hulle die teks lees.

Hulle het nie gelees met ‘n skêr nie. Hulle het gelees met ‘n vergrootglas, om so goed as moontlik te verstaan, sodat die Skrif hulle lewe kan bepaal, om noukeurig alles na te volg wat God aan hulle geopenbaar het.

Dieselfde geld die gemeentes waarvan ons lees in die NT.

Die gemeente in Berea

Op Paulus se tweede sendingreis stig hy die eerste gemeente op Europese bodem, die gemeente in Filippi. Vandaar reis hy na Tessalonika, die hoofstad van Masedonië en ’n baie invloedryke stad. Lukas het agter gebly in Filippi.

In Tessalonika het Paulus drie weke gebly en moeite gedoen om “die Skrifte” uit te lê en daaruit die boodskap van Christus te verkondig. Hy het spesifiek gedeeltes in die OT gebruik wat aantoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en dit met Jesus verbind. Hy lees dus self met ‘n vergrootglas.

Sommige Jode en ‘n groot menigte Grieke is oortuig en het by die nuwe Christelike beweging aangesluit. Die Jode was egter afgunstig en het ‘n klomp leeglopers gebruik om die stad teen Paulus-hulle op te sweep.

Van die gelowiges het vir hulle opgekom voor die owerhede – Jason word spesifiek genoem en werk hierna saam met Paulus (Rom 16:21) – en só is Paulus-hulle beskerm sodat hulle kon ontsnap.

Handelinge 17:10-15

Ons lees dan in Handelinge 17:10-15:

10 Die broers het Paulus en Silas, toe dit nag word, dadelik na Berea gestuur.

Berea (vandag Verria) is ’n klein dorpie 72 km van Tessalonika af – so ‘n drie dae reis te voet.

Met hulle aankoms het hulle na die Joodse sinagoge gegaan. 11 Die mense daar was meer welwillend as diegene in Tessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is. 12 As gevolg daarvan het baie van hulle, en ook nie ‘n geringe aantal van die vooraanstaande Griekse vroue en mans nie, gelowig geword. 13 Toe die Jode van Tessalonika egter verneem dat die woord van God ook in Berea deur Paulus verkondig is, het hulle ook daar die skares gaan opsweep en in oproer gebring. 14 Die broers het Paulus toe dadelik weggestuur om na die kus te gaan, maar Silas en Timoteus het daar agtergebly. 15 Die mense wat Paulus begelei het, het hom tot by Athene geneem en vertrek met ‘n opdrag aan Silas en Timoteus om so spoedig moontlik weer na Paulus terug te keer.

Hoe luister die mense van Berea na Paulus?

Die mense van die Joodse sinagoge in Berea was ‘n besondere groep. Ons kan baie by hulle leer.

Hoe het hulle na Paulus geluister?

1. Hulle luister oop-kop na die boodskap

Die mense van Berea word beskryf as eugenēs, oop-kop, welwillend (vers 11a). Hulle was bereid om te leer en Paulus ‘n billike kans te gee om hulle te oortuig. Hulle het die OT gehad. Hulle het die boodskap van die OT geken. Hulle was getroue gelowige Jode.

Hier kom Paulus egter en hy het ‘n boodskap wat aansluit by wat hulle weet, maar op punte ook radikaal nuut is. Hulle het geweet van die Messias. Die hele Jesaja is bv vol daarvan. Paulus kom sê egter die Messias het reeds gekom. Hy is gekruisig en begrawe in Jerusalem. Maar het ook opgestaan en hemel toe gevaar soos die Skrifte dit van Hom verkondig.

En hulle was bereid om te luister. Oop-kop. Welwillend. Bereid om te leer.

2. Hulle ontvang die boodskap geesdriftig

Hulle het verder met prothymia, met geesdrif geluister (vers 11b), bedoelende hulle was oorgehaal om die boodskap van die evangelie te ontvang as dit aan die maatstaf van die Skrif beantwoord het.

Ons sien die geesdrif in die feit dat hulle dit daagliks gedoen (vers 11c)! Nie net op die Sabbatdag nie. Nee, daagliks. Dit was die belangrikste fokus van nie net hulle week nie, maar hulle dag.

Dit het ook die vrouens en die mans ingesluit. Almal het geluister en gelees en ondersoek. Trouens, die vroue word eerste genoem!

3. Hulle toets die boodskap aan die Skrifte met ‘n ondersoekende gees

En hulle het daarby met ‘n ondersoekende gees, anakrinō, die Skrifte ondersoek (vers 11d). Dws hulle het deeglik gelees, sorgvuldig, in detail. Nie om te verskil nie, maar om te verstaan.

Dit beteken natuurlik nie dat hulle hulle verstand by die huis gelos het nie! Nee. Die mense van Berea het hulle intellek gebruik, nie net hulle emosies nie. Hulle was nie net meegevoer deur welsprekendheid nie. Hulle wou verstaan.

Wat uiters belangrik van hierdie manier van lees is, is dat ons by hulle hoor dat hulle ook nie in die eerste plek met hulle hart geluister nie, maar met hulle verstand. Daar is te veel mense wat vandag praat van ‘n luister met die hart, iets wat nooit eerste kom nie, altyd tweede. En hulle verstaan in elk geval nie dat hart, leb, in die OT met verstand vertaal kan word nie.

Dit is toe die mense van Berea verstaan, regtig begryp wat die boodskap is, met hulle verstand, dat hulle hart in beweging gekom het, en dit hulle tot ‘n oortuiging van die hart gelei het. Natuurlik moet die hart in spel kom, soos ons dit vandag verstaan, maar dit begin in die kop.

Só het die mense van Berea die Skrifte bestudeer, die boodskap wat Paulus daaruit verkondig het, beoordeel. Is dit regtig soos Paulus sê? Praat hy die waarheid? Sien ons dit self raak in die Skrif?

Hulle lees dus met ‘n vergrootglas. Nie met ‘n skêr nie.

En hulle het spesifiek die OT gebruik en wou weet of dit regtig daar staan. Of die Bybel die boodskap bevestig, want anders sou die boodskap nikswerd gewees het in hulle oë.

Dit is waarskynlik die belangrikste faset in hulle lees van die Skrif. Om ‘n beeld uit die boekhoukunde te gebruik. Hulle was nie tevrede net met wat Paulus gesê het nie. Hulle wou self die getuienis naspeur, die kwitansie sien waarop die joernaalinskrywing gedoen is. Hulle was soos goeie ouditeure wat nie tevrede was met die voorlegging van die finansies vóór die “paper-trail” die transaksies nie bevestig het nie.

4. Hulle glo die boodskap en laat dit hulle lewe bepaal

Maar toe hulle die “paper-trail” kon agterkom, die ooreenkoms van sy boodskap met die Skrif en die waarheid daarvan kon bevestig, het hulle eenvoudig die boodskap ontvang en dit geglo. Niks meer was nodig nie. Hulle kon immers self sien dat wat Paulus sê in ooreenstemming met die Skrif was. Hulle het begin om dié boodskap te leef.

Die Skrif was hulle enigste maatstaf. En die Skrif het hulle oortuig dat die boodskap reg is, dat hulle dit mag glo. Paulus se woorde het hulle dus oortuig. Nie omdat hy so ‘n goeie prediker was nie. Maar, omdat sy woorde terug herlei kon word na die Skrif toe.

Paulus se woorde is die woord van God

Geen wonder dat Paulus se boodskap daarom deur almal “die woord van God” genoem word nie (vers 13). Want almal kon sien dat wat hy gesê het, kom ooreen met die Skrif, is trouens in volle ooreenstemming daarmee, en kan dus as die Woord van God beskou word.

En ons moet dit goed hoor. Soos die profete in die OT se boodskap aan die vorige Woord van God getoets is, die wet, só gebeur dit ook in die NT. Soos God se Woord openbaar word, só word dit die toetssteen, die kanon, die maatstaf, vir die volgende woorde van God wat daarby ingesluit moet word.

Die NT kan net die maatstaf vir ons wees in dié mate wat dit in ooreenstemming is met die OT. Dit leer die gemeente van Berea ons.

Natuurlik is daar ook dinge wat verander het, bv die offers van die OT wat in die NT nie meer nodig is nie, weens die volkome offer van die Here Jesus Christus. Dit leer die somtotaal van die volle kanon. Maar dit is Skrif met Skrif. Daarby kan niks meer bygevoeg of weggeneem word nie.

Die OT bly daarom die Woord van God, want sonder die uitvoerige begronding van die offers in die OT kan Jesus se offer in die NT nie sin maak nie. Jy moet die “paper-trail” kan terugvat totdat jy by die oorsprong uitkom van die idee dat ‘n offer versoening kan bring tussen God en mens.

Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 29

Ek gaan vanaand meer sê oor hierdie manier van werk met die Bybel – Lees, luister, leef. Dit prakties uitspel. Jy is welkom om by ons aan te sluit.

Ek wil vandag hier egter afsluit met die Nederlandse Geloofsbelydenis se boodskap wat hierby aansluit. Die onderskeid van die ware en valse kerk lê nie in watter musiek ons sing, of watter taal ons praat, of wat ons afkoms is, of watter groot of klein kerkgebou ons het, of hoe ryk of hoe arm ons is nie.

Die onderskeid tussen die ware en die valse kerk lê primêr en uitsluitlik by die Bybel, en of ons die Bybel as die waarheid aanvaar en daarvolgens leef, en of ons dit nie doen nie.

DIE KENMERKE VAN DIE WARE EN DIE VALSE KERK

Die eerste sin sê alreeds dat die onderskeid lê in die houding teenoor die Bybel.

Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien.

Die ware kerk word deur sy getrouheid en gehoorsaamheid aan die Woord onderskei van die valse kerk.

Die belydenis waarsku egter ook daarteen dat ons te sterk onderskei tussen die mense wat saam met jou in die kerk is. Die ongemaklikheid van die kerk is dat die goeies en die huigelaars maar altyd vermeng deel van die kerk sal wees. Die huigelaars mislei die goeies met hulle skynheiligheid:

Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat `n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is.

Só hoe lyk die ware kerk?

Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.

Ons moet dus in die eerste plek nie kyk wie saam met ons in die kerk is nie, maar waarvoor die kerk staan. Wat die kerk bely en leef.

  • Waar die Skrif suiwer aanvaar word, daar is die ware kerk.
  • Waar die sakramente suiwer bedien word, daar is die ware kerk.
  • Waar die kerklike tug gebruik word om die sonde te straf, daar is die ware kerk.

Maar let op dat daar dan twee goed van ons gevra word.

  • Die eerste is dat ons die onvervreembare plig het om die ware kerk van die valse kerk uit te ken, te onderskei. Ons kan dit nie aan ander oorlaat nie. Ons moet onderskei of dié drie kenmerke van die ware kerk aanwesig is in ‘n spesifieke kerk en ons keuses daarvolgens maak.
  • En tweedens dat niemand die reg het om hom of haar van die ware kerk af te skei nie, die kerk wat hulle in alles ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, en alles wat daarmee in stryd is verwerp.

Hoe lyk die lidmate van ‘n ware kerk dan?

Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.

Ons moet dus wel oordeel oor die mense langs ons, uiteraard eers in die tweede plek, maar daarmee ook oor onsself. Heiligmaking is deel van die pad van ‘n ware gelowige. Heiligmaking onderskei ons van dié wat dit nie doen nie, van die huigelaars, van die valse kerk.

En hoe lyk die valse kerk dan?

Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Dit is eintlik verskriklik maklik om die valse kerk uit te ken, alhoewel dit ‘n prys kos om hieraan gehoorsaam te wees. Wanneer iemand wegneem en byvoeg by die Woord na eie goeddunke – as hulle met ‘n skêr werk – is dit die valse kerk aan die werk. Dit is hoe eenvoudig dit is.

Daar is talle verwysings uit die Bybel wat aan hierdie artikel van die Nederlandse Geloofsbelydenis gekoppel word, waarvan tekste uit die hele Bybel aangehaal word, en wat jy kan nagaan.

Veral die eerste Skrifbewys tref, die verwysing na die gelykenisse van die saaier en die onkruid tussen die koring waarvan Matteus 13 vir ons vertel. Dié verwysings kom uit die oudste weergawe wat ons van die Nederlandse Geloofsbelydenis het, die Franse weergawe van 1566, net 5 jaar ná Guido de Bres die belydenisskrif geskryf het.

Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4, 14; Matt. 28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20;1 Joh. 4:2 (en 3:9); Rom. 6:2; Gal. 5:17, 24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18-19; Ps. 2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.

Gaan lees wat ek onlangs daaroor geskrywe het in die Kerkbode.

Ek wil jou dus uitnooi, neem elke besluit van die Algemene Sinode en beoordeel dit aan artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Neem elke uitspraak van leraars, ook myself, en beoordeel dit aan die Skrif. Neem elke uitspraak van die breë kerk en toets dit aan die Skrif. Trouens, toets elke boek wat jy lees aan die Skrif. Dit is jou onvervreembare plig as lidmaat.

Die ware kerk is gebou op die Bybel. Sola Scriptura. Die Bybel Alleen.

Gebed

Slotlied

Lied 492:1-2 In U is vreugde – staan

Seën

Respons

Lied 533:1-3 (koor voorsangers) Stuur ons Here in u Naam! – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.