Skip to main content

Lukas 7:36-50 – Die vrou wat Jesus se voete met reukolie salf

PP-liefhe2Ek wil na die verhaal kyk op drie maniere.

  1. Eerstens die gewone feite van die verhaal – die landscape of action soos dit bekend staan in die narratiewe praktyk.
  2. Tweedens die dieper betekenis van die verhaal – die landscape of consciousness or identity.
  3. Derdens hoe ons God hierin raaksien en ons Hom kan navolg – die landscape of transcendence (Monteleone).

Dit is ‘n metodiek wat jy met enige verhaal in die Bybel kan volg om die betekenis daarvan vir jouself te ontsluit.

Hier volg die hele erediens: (AfrikaansEnglishPowerPoint)

Verwelkoming

  • Gelukkige Valentynsdag – ironies dat dit saamval met ons fokus die volgende twee weke op die waarde van liefhê. Die hartjie-lekkers by die deure moet julle herinner aan die oorvloedige vrygewigheid van die liefde.  Dit is waarop ons die volgende twee weke gaan fokus in al ons vergaderings en byeenkomste.
  • Lydenstyd – ons fokus op die bediening van die Here in sy hantering van mense met menswaardigheid, sy liefde wat Hom die grootste prys laat betaal het. Dit sal in die volgende weke ook die waarde van Jesus se omarming van mense en die inspirasie van die voetewas episode insluit.

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Flam 22 – Ek soek U, o God – (refrein: “Want u liefde is meer werd as die lewe“) – sit (groep)

Votum en Seëngroet

Lofsang en aanbidding

Flam 318 – Nader tot die Here – sit (groep)

Psalm 18:1,8 – Kom loof die Heer se liefdesdade, sy liefde hou vir ewig stand – staan (orrel)

Lied 396:1,3, 4 Aanskou die Heiland, sien die kruis –(koor vers 3) – sit (orrel)

Verootmoediging

Lied 250 Gods wet vra al ons liefde, vir Hom, ons God en Heer, en liefde vir ons naaste – dis wat sy Woord ons leer – sit (orrel)

Lied 436 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees, laat kom die koninkryk met mag – staan (orrel)

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Gebed

Skriflesing

Lukas 7:36-50

36Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem.

37’n Sekere vrou in die dorp, wat ’n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe ’n albaste flessie met reukolie 38en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.

39Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy ’n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondares is.”

40Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.”

“Meneer, sê dit maar!” antwoord hy.

41Jesus sê toe. “Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. 42Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”

43Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskel het.”

“Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, 44en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 45’n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. 47Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

48En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.”

49Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”

50Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

Inleiding (kindertyd)

Annelet

Lofliedjie 19 Ek is so bly, bly, bly Hy woon in my hart – staan (groep)

Integrasie

Ek wil na die verhaal kyk op drie maniere.

  1. Eerstens die gewone feite van die verhaal – die landscape of action soos dit bekend staan in die narratiewe praktyk.
  2. Tweedens die dieper betekenis van die verhaal – die landscape of consciousness or identity.
  3. Derdens hoe ons God hierin raaksien en ons Hom kan navolg – die landscape of transcendence (Monteleone).

Dit is ‘n metodiek wat jy met enige verhaal in die Bybel kan volg om die betekenis daarvan vir jouself te ontsluit.

Die gewone feite van die verhaal

Jesus is by ‘n ete.  Simon die Fariseër het hom genooi om by hom te kom eet.  Ons sien daarmee dat Jesus vir ‘n tyd lank in tel was by die elite, hoewel Hy hulle egter ook telkens in die skande gesteek het, moet ‘n mens bysê, en dié houding teenoor Hom verhard het.

Onmiddellik vertel Lukas vir ons van ‘n anonieme vrou – wat bekend was in die dorp vir haar sondige lewe, moontlik ‘n prostituut – wat hoor dat Hy daar is, en ‘n albaste flessie met reukolie bring vir Jesus.

‘n Hele aantal kommentare lei af uit die manier waarop die vrou na Jesus toekom, en die verloop van Jesus se gesprek met haar, dat hulle al voorheen ontmoet het, en dat sy alreeds vergifnis ontvang het.  Haar optrede is dus een van erkenning en dankbaarheid wat nogal belangrik is vir die verstaan van die verhaal.

Dit is insiggewend met hoeveel gelatenheid Jesus haar laat begaan.  Sy staan eers agter Jesus by sy voete en huil – daardie tyd het ‘n mens gelê en eet, met jou voete weggedraai van die tafel – sy staan dus by sy rugkant.  Soos sy huil, drup haar trane op sy voete, soveel só dat sy besef dat sy sy voete moet afdroog.  Dit doen sy toe met haar hare.  ‘n Baie intieme moment volg, waar sy sy voete soen, en met die reukolie in die albaste flessie salf.

Vir die Fariseërs is dit egter totaal onvanpas, ‘n skandaal.

En op ‘n manier is hulle reg.  Die liefde van Jesus is telkens ‘n skandaal, want Hy het nie mense lief oor wat hulle vir Hom kan beteken nie, maar vir wat Hy vir hulle kan beteken.  Dít is immers wat liefde is.  Dit is om jouself te gee om iemand anders te seën.

En dié liefde lok ‘n wederliefde uit wat nie ingeperk kan word tot die gewone nie, wat baie keer in buitengewone maniere na vore kom, en soms doodgewoon ‘n oorvloed van vrygewigheid beteken, soos dié vrou hier doen.

Soos Jesus dit dikwels gedoen het, reageer hy op die besware van die Simon die Fariseër met ‘n gelykenis.  Let op die kleinerige verskil tussen die twee bedrae – R500 vs. R50 in ons geld – ‘n tienvoudige verskil.  Die ooreenkoms tussen die skuldenaars is egter van meer belang.  Dit is duidelik dat nie een van die twee kan betaal nie.  Dit is ook duidelik dat albei totale kwytskelding ontvang.

Die punt van die gelykenis laat Jesus vir Simon self uitpluis, en dit is, dat dié mens vir wie baie sondes vergewe is, het ook baie lief.  Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.

Wat gebeur dus hier?  Jesus vra in wese vir Simon of hy dan nie in die vrou se optrede iets raaksien van iemand wat vergewe is nie, en dat sy daarom in liefde reageer teenoor dié Een wat haar vergewe het nie?

Die intrige verdiep, want nou eers, en dit is belangrik, sit Jesus regop en draai na die vrou wat by sy voete staan, en begin met haar oor haar liefdesdaad gesels.  Hy kyk na haar, maar hy praat nog eers met Simon daaroor, want Hy wil Simon tot insig lei.  “Sien jy hierdie vrou?“  Eintlik ‘n retoriese vraag, maar vir die effek daarvan.

Jesus gaan self voort en kontrasteer Simon se optrede teenoor Jesus met dié van die vrou.  En Simon kom ernstig tweede.  Nie dat hy soseer verkeerd opgetree het nie, maar in vergelyking met die vrou het hy amper niks gedoen nie:

  • Dit was nie nodig om water te gee vir Jesus se voete nie – dit sou ‘n vriendelike gebaar gewees het, maar dit was nie absoluut noodsaaklik nie. Die vrou het haar trane oor sy voete uitgestort.
  • Dit was nie nodig om Jesus met ‘n soen te groet nie – dit sou verwelkomend en gasvry gewees het, maar dit was nie absoluut noodsaaklik nie. Die vrou het Jesus se voete gesoen.
  • Dit was definitief nie nodig om Jesus se kop met olie te gesalf het nie – dit sou eintlik ‘n bietjie “over-the-top” gewees het. Die vrou het egter ‘n hele albaste flessie met reukolie oor sy voete uitgegooi.

Simon het dus nie ‘n voet verkeerd gesit nie, maar daarmee het hy sy traagheid om meer as die normale te doen, openbaar.  Hy het net-net genoeg gedoen, die minimum, maar nie homself regtig gegee vir dié ontmoeting met Jesus nie.  In sy innooi van Jesus na sy huis, het hy dit reggekry om Jesus eintlik van sy lyf af te hou, om Hom op ‘n afstand te hou, al was Jesus binne in sy huis.

Daarenteen, en dit is die punt, wys dié vrou wat dit beteken om Jesus se vergifnis te ken, en hoe sy Hom daarom uit haar hart uit lief het, sonder enige terughouding, oorvloedig, vrygewig.  Sy steek dus die grens oor na Jesus, identifiseer volledig met Hom, baie publiek, baie ontblotend, omdat Hy die grens na haar toe oorgesteek het en haar deel van sy lewe gemaak het.  En sy raak eintlik die gasvrou in haar bewys van liefde met haar trane, hare en reukolie – die sondaarvrou troef die Fariseër in gasvryheid en oorvloedige vrygewigheid.  Kan jy nou meer!

Jesus bevestig dan sy vergifnis, die nuwe lewe wat Hy vir haar gee, soveel so, dat die res van dié aan die tafel oor Jesus begin vrae vra: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?

Jesus word egter nie vasgevang in dié gesprek nie.  Hy herhaal sy vredesaanbod.  Haar geloof in Hom het haar gered vir sy koninkryk.

So ver die feite van die verhaal, met so ‘n bietjie interpretasie.

Die betekenis van die verhaal

Daar is egter meer.

1. Wat ons moet raaksien, en wat ons dieper in die betekenis van die verhaal inlei, is dat Simon niks in dié vrou raaksien, ten minste niks wat goed is nie. Van begin tot einde.  Hy beoordeel haar op grond van die status van haar sondige lewe tot dusver en skryf haar daarmee af.  Sy is in sy oë verlore en nie die moeite werd om enige aandag te verdien nie.  Trouens, mense wat hulle met haar assosieer, het nie goeie insig nie, soos hy Jesus van beskuldig.  En daarmee hou hy vol, selfs al probeer Jesus hom inlei in ‘n beter waardering van wat regtig in dié vrou se lewe gebeur het, hoe ‘n mens deur liefde tot ‘n ander lewenskeuse kan kom, van die lewensverandering wat reeds in haar lewe gekom het.

Wat meer is, dieselfde tipe veroordeling van die vrou vind ‘n mens in sy beoordeling van Jesus.  Omdat Jesus nie sien soos hy sien nie – dat dié vrou nie enigiets beteken nie – beteken dat Jesus eintlik ook van min waarde is, dat sy status as profeet in gedrang is.  Jesus wys eintlik met sy optrede dat Hy nie ernstig geneem kan word nie, dink Simon in sy stiksienigheid.

Omdat Simon die vrou lig skat, beïnvloed dit sy beoordeling van Jesus, sien hy Jesus deur die bril van sy veroordeling van die vrou, en skryf hy basies vir Jesus af, al is Hy ‘n Wonderwerker sonder weerga.  Hoe jammer!  Hy kan nie verby die vrou die lewe in Jesus raaksien nie!

Maar, daar is nog meer.

2. Dit is nie om dowe neute dat Lukas hierdie verhaal van Jesus aan tafel by Simon plaas direk langs die vorige gesprek wat Jesus met die dissipels van Johannes die Doper gehad het nie (Luk. 7:18-35). Johannes se dissipels was onseker of hulle met Jesus kan assosieer, omdat Hy nie soos hulle asketies gelewe het nie – d.w.s hulle het baie eenvoudig gelewe met geen luukshede hoegenaamd nie, selfs nie brood en wyn nie, net dinge soos gebraaide sprinkane en heuning.  Jesus het egter gereeld saam met verskillende mense geëet en gedrink.  Hoe het dit gerym, was hulle vraag.

Jesus kon hulle wel oortuig dat Hy die dinge doen wat met die Messias geassosieer word. Mense is genees van siektes en kwale en bose geeste, blindes het gesien, lammes het geloop, melaatses is gereinig, dowes het gehoor, dooies is opgewek en aan armes is die evangelie verkondig.  Só het Hy hulle uitgenooi om die evangelie raak te sien in sy manier van bedien.

Maar die ander mense was nie oortuig nie.  Hulle het steeds oor Jesus getwyfel, want al kon hulle sien dat Hy ‘n besondere mens was, en dat Hy wonderwerke gedoen het, het hulle gesien dat die Fariseërs en die skrifgeleerdes steeds apart gestaan het en hulle mening was vir gewone mense van waarde.  Dit was duidelik dat die Fariseërs en die skrifgeleerdes aan die een kant nie met Johannes die Doper se asketiese lewenstyl saamgestem het nie, en daarom hulle nie laat doop het nie. Dit was egter ook duidelik dat hulle aan die ander kant ook nie met Jesus se meelewende lewenstyl saamgestem het nie, en Hom beskou het as ‘n vraat en ‘n wynsuiper, wat boonop ‘n vriend van tollenaars en sondaars is.

Simon, die Fariseër, het Jesus dus saam met die ander veroordeel vir sy onbevooroordeelde vriendskap met mense soos hierdie anonieme vrou.  Hy kon nie insien wat Jesus in haar gesien het nie.  Hy kon dit nie kleinkry dat sy enigsins op enige manier vir Jesus van belang sou kon wees nie.

3. En daarom mis Simon die kans van sy lewe – dat hy ingetrek word in die meelewing, in die liefde wat Jesus vir alle mense bewys, sondaars inkluis. Hy sien Jesus nie regtig raak nie!  Hierdie vrou het op Jesus se liefde gereageer en op die enigste manier wat sy geken het – met ‘n albaste fles reukolie – haar liefde vir Hom bewys. ‘n Oorvloedige vrygewige gawe.

Want, dít is waaroor dit in die koninkryk van God gaan.  Oor sy liefde vir ons.  En ons liefde vir Hom. Oorvloed en oordaad, kan ‘n mens amper sê.  En waar ons sy liefde ervaar, sy genesing, sy vergifnis, daar word ons nuut, en kan ons in liefde reageer, nie net teenoor Hom nie, maar ook teenoor ons naaste.

Simon kry dit egter nie reg nie.  Hy kyk vas teen die sonde van die vrou, en kan die vergifnis en nuwe moontlikhede wat Jesus vir haar gee, nie raaksien, en nie waardeer nie. Hy is soos die ouer broer in die gelykenis van die Verlore Seun wat nie die wonder van ‘n opstanding uit die dood kan waardeer nie, trouens sy broer wat verlore was nie die genade van ‘n tweede kans gun nie.

4. En laat ons eerlik wees. Ons kan ook so na mense kyk, soos Simon, en ons liefdeloosheid kan op soortgelyke wyse ontbloot word, veral as ons op die spot gesit word, wanneer Jesus ons konfronteer in die sondige mense, soos dié anonieme vrou, wat ons pad kruis.

Probeer ons hulle van ons lyf af hou, kies ons die rol van Simon in dié verhaal.  Dan raak ons die Fariseër wat alles op ‘n afstand wil hou, netjies op sy plek, ook die sondaarmense elkeen in sy eie klein hoekie.  En ontsê ons onsself die liefde van die Here.  Sien ons Jesus ook nie raak nie.

Jesus kyk egter anders en nooi ons uit om anders te kyk.  Hy sien waarde in almal, selfs in Simon, hoewel Simon dit nie wil aanvaar en die uitnodiging om Jesus ook in sy lewe te omarm, aanvaar nie.  Jesus sien waarde in dié vrou, teen die konvensies van sy tyd, en aanvaar haar liefde vir hom met grasie en genade. En haar lewe word daardeur verander.

Om God raak te sien in die verhaal

Ek sluit af.

Die diepste punt van dié verhaal is waar God ons aanraak en met die storie as ‘n ryk bron van verbeelding vir ons eie situasie, Hom toelaat om ons deel te maak van sy liefde vir hierdie wêreld.

1. In die eerste plek is dit nodig dat ons besef dat ons uiteindelik ook is soos die vrou, en dat ons nodig het om sóós sy nie net vergifnis van ons sonde te ontvang nie, maar op dieselfde wyse ons hele lewe as ‘n flessie reukolie aan die Here te gee. “Omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde.

In ons oorvloedige vrygewigheid van ons goed, ons geld, ons tyd, ons gawes, lê ons verbintenis, en die gehalte van daardie verbintenis opgesluit.  Hierdie anonieme vrou was Oorvloedig Vrygewig, soos ons later die maand ook vir almal van ons kans gaan gee, om ons liefde vir die Here uit te leef, wanneer ons ons verbind aan ‘n dankoffer vir die jaar wat kom.  Daaroor later.

2. Maar, in die tweede plek, God soek mense wat ook sóós Jesus sal wees, wat uitreik na die anonieme vrou wat van haar sondige lewe verlos moet word, en wat uitreik na die Fariseër Simon, wat homself toesluit van God se genade. Ons moet die grense na mense wat van ons verskil oorsteek – aan die onderkant en die bokant van die sosiale leer – en deur kruis-groep-verhoudings nie net ons vooroordele teenoor mekaar verminder nie, ‘n mikpunt van die Seisoen van Menswaardigheid, maar hulle wen vir die koninkryk van God, die uiteindelike doel van alles wat ons doen.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

Koor: Die Here is voor jou, sy liefde sal jou altyd dra

Kerkraadsvoorstelling

Tiaan Loots en Vinie Fürstenberg as ouderlinge

Slotlied

Lied 332 God se liefde, so oneindig, sien die nood van sondaars raak – staan (orrel)

Seën

Lied 269:1 (koor), 3 God bly met ons, waar ons ook mag gaan.  As ons struikel, trek die Vader deur sy liefde ons weer nader – staan (orrel)

ONTHOU: ons fokus op Liefde

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.