Skip to main content

Johannes 13:31-14:14 – Erediens: Ek is die weg, die waarheid en die lewe – 22 Mei 2011

Liturgie

Verwelkoming

Votum

Seëngroet

Lofsang

  • Lied 164 Ons is almal hier tesaam vergader in sy Naam – staan – Bruce Ballinger (We have come into His house) – Attie van der Colf
  • Lied 209 Heer, met my hele hart kom sing ek ’n lofsang – sit – Claude Fraysse (Je Iouerai l’Eternal – 1976) – Elsabé Kloppers

Kindertyd

  • Sakkie en Sieg – sakkeresies

Gebed

Skriflesing

  • Johannes 13:31-14:14

Jesus se heengaan is naby

31Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. 33My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Petrus sal Jesus verloën

(Matt 26:31–35; Mark 14:27–31; Luk 22:31–34)

36Simon Petrus vra toe vir Hom: “Here, waarheen gaan U?”

Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg.”

37Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”

38“Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Jesus gaan na sy Vader toe

14 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

5Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”

9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Woordverkondiging

Ons Vader neem ons hande

Ek het dié week regtig gesukkel om die woord van die Here te onderskei.  Daar is so baie wat oor hierdie gedeelte gesê kan word.  Ek het daaroor geskrywe vir die Bybelskool, ek het so drie keer ’n halwe preek geskryf, en dan weer vasgehaak.  Ek het gebid en gewag, en ons het by die sel hieroor gesels en ’n hele klompie wonderlike insigte gedeel.

Maar ek kon net nie hoor wat die Here vir ons as gemeente wil sê nie.

Ons Vader neem ons hande en maak ons één

Gelukkig moes ek die week ’n lied se woorde leer, een wat Cantatori nou-nou gaan sing.  Lied 532 in die Liedboek: So nimm denn meine Hände van Friedrich Silcher, waarvan ons die weergawe van Hans du Plessis in ons Liedboek het: Ons Vader neem ons hande en maak ons één.

En toe ek die lied oor en oor lees, so tussen die preekmaak deur, het ek skielik besef, maar dié lied gee vir my die invalshoek wat ek nodig het.  En het ek uiteindelik rigting gekry, omdat dit so presies is wat die tipe reaksie is wat Jesus van ons vra in hierdie gedeelte.  Want sien, ek kan sê wat hier staan, ek kan dit in konteks plaas, maar my probleem was om te weet wat ons reaksie daarop moet wees en die woord van die Here daar rondom te verkondig.

En dit is wat die lied my mee gehelp het.  Dit voel vir my asof Silcher Johannes 13-14 gelees het toe hy dié lied gekomponeer het – het nie ’n manier gehad om dit uit te vind nie.  Maar u kan self beoordeel, uit die aanhoor van die lied.  Luister na 2 van die verse:

Ons Vader, neem ons hande en maak ons één.
Versterk U self die bande – gee ons u seën.
Bind ons in u genade aan U, o Heer,
en leer ons om met dade u Naam te eer.

Leer ons mekaar vergewe, mekaar vertrou.
Laat ons die hele lewe op liefde bou.
Laat heers oor ons u vrede, en bind ons saam.
Verhoor tog ons gebede in Jesus Naam.

Judas se verraad

Kyk, die situasie wat hier vir ons in Johannes 13-14 geskets word, is benard.

Judas se verraad het ’n yskoue wind laat waai deur die gemoed van die dissipels.

Hulle was geskok dat Jesus so duidelik daaroor praat, dat iemand Hom gaan verraai.  En verslae het hulle rondom hulle gekyk, en gewonder wie van hulle gaan só ’n grusame daad doen. Hulle was so lank saam. Hulle het so baie deurgemaak.  Hulle het so baie keer ’n noue ontkoming gehad, maar elke keer het hulle dit reggekry om die Jode se planne te ontwyk.

Maar nou sê Jesus die verraad kom uit eie kring.  Dit is een van hulle wat om die tafel sit, wat Hom sal verraai.

Toe Jesus vir Judas aanwys met die stukkie nagmaalsbrood, het hulle hom nog die voordeel van die twyfel probeer gee – miskien moes hy net iets gaan koop, of miskien wou Jesus hê hy moes iets vir die armes gaan gee – Judas was immers baie bekommerd oor die armes, al sou hulle later uitvind dit was eintlik maar net om self die geld wat vir die armes bedoel was, te steel.

Maar tog het hulle geweet iets drasties het gebeur met hierdie nagmaal – hulle sou nooit weer dieselfde kon dink oor hulle dissipelkring nie.  Verraad het ingedring in eie kring, en hulle onderlinge gemeenskap het diep seergekry.

En dit is waar hierdie lied my help om te weet hoe ’n mens in só ’n situasie moet reageer.  Die enigste manier waarop ’n mens sulke verraad kan hanteer, is om saam met Silcher te sing en die verraad te troef:

Ons Vader, neem ons hande en maak ons één.
Versterk U self die bande – gee ons u seën.
Bind ons in u genade aan U, o Heer,
en leer ons om met dade u Naam te eer, u naam te eer.

Dit is net God wat ons kan laat vasstaan wanneer dinge dreig om uit mekaar te spat.  Dit is net Hy wat die bande wat ons aan mekaar moet bind, kan versterk en ons kan seën met ’n onderlinge verbondenheid.

En die enigste manier waarop dit ’n werklikheid kan word, is as ons aan God self verbind word, sodat ons Hy ons kan leer om met ons dade tot Sy eer te lewe.

Petrus se verloëning

Maar daar was meer.  Van Judas kon ’n mens miskien nog die verraad verwag het.  Die tekens was immers daar dat hy ontevrede was, dat hy ’n ander verwagting gehad het.  En dit is ook duidelik dat God agter alles in beheer was en letterlik hier vir hom die opdrag gee om te doen wat sy bose hart beplan het.  Jesus stuur hom om te gaan doen wat die duiwel hom ingegee het om te doen.

En die dissipels kon miskien gedink het, good riddance.  Die res van ons sal nie faal nie.  Ons sal getrou bly.  Daarom het hulle heel moontlik hande geklap toe Petrus met sy kenmerkende bravade indons en sê.  “Ek sal my lewe vir U aflê.”  Maak nie saak wat gebeur nie – al sal almal U verlaat, Ek sal nie!  Basta!

Jesus se reaksie daarop het egter die koue wind sterker laat waai deur hulle gemoed:     “Sal jy jou lewe vir My aflê?  Dit verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Dit het hulle nie verwag nie.  Judas sal Jesus verraai.  Dit is nog verstaanbaar.  Maar nie Petrus nie!  Petrus sal nooit vir Jesus verloën nie.  Maar nou sê Jesus dat dit presies is wat gaan gebeur.

Dit het hulle nie verwag nie.  En hoe moet hulle hierop reageer?  Wat moet hulle met Petrus doen na sy verloëning?  Hy is dan hulle leier, die een waarop jy kan staatmaak om die voortou in goed te neem.  En nog dieper: wat dan van hulle self?  Het hulle enigsins ’n kans om getrou te bly, as Petrus nie getrou kan bly nie?  Wat gaan van hulle word?  Sonder leier, sonder Jesus …

Weereens is die reaksie van Siclher hier van toepassing:
Leer ons mekaar vergewe, mekaar vertrou.
Laat ons die hele lewe op liefde bou.

en

Laat heers oor ons u vrede, en bind ons saam.

Jy sien, natuurlik kom die verbintenis aan God eerste en daarsonder kan niks goeds gebeur nie.

Maar as dit nie insluit dat ons ’n pad met mekaar stap en mekaar vergewe, leer om mekaar te vertrou nie, dan sal ons gemeenskap altyd gebrekkig bly.  Jesus leer ons hier dat die hele lewe op liefde gebou moet wees – en let op nie ’n liefde net soos wat die opsomming van die wet van ons vra – jy moet jou naaste liefhê soos jouself – nie.  Nee, soos EK julle liefhet, só moet julle mekaar liefhê.  Dit is die nuwe gebod wat Jesus vir hulle gee.

Dit bly vir my ongelooflik as ’n mens hoofstuk 21 lees en sien hoe Jesus Petrus weer na Sy opstanding herstel en intrek in die kring van die dissipels, en dat Hy aan hom weer sy leierskapsrol gee, meer nog, aan hom die rol van herderleier gee, die rol wat Jesus gehad het.

Petrus het die gevaar geloop om weer ’n visserman te word, soos aan die begin.  Jesus keer egter dat die opsie pos vat in sy lewe.  En soos Jesus die Goeie Herder was (Joh 10), so gee Jesus aan Petrus die opdrag om Sy skape te versorg en te laat wei.  Jesus raak dus vir Petrus aan, herstel sy status as leier, sodat dit moontlik was vir die ander om hom te vergewe en hom te vertrou.

Jesus is die weg

En as ’n mens dit goed verstaan – God verstrek die onderlinge bande sodat ons mekaar kan vergewe – dan begin jy die sentrale boodskap van Johannes 14 verstaan.  Jesus is die Weg, die waarheid en die lewe. Dit is wanneer ek met Hóm in ’n intieme persoonlike verhouding lewe dat Hy vir my die weg word, die weg na liefde, die weg na insig, die weg na waarheid, die weg na die lewe – binne die gemeenskap van die gelowiges, al sluit dit in dat sommige van hulle jou teleurstel of dat jy die een is wat hulle teleurstel.

Dan maak dit sin dat Jesus my ook  troos met die boodskap dat Hy ’n plek vir my gaan berei, en dat Hy eendag sal terugkom en my na Hom toe sal neem.  Ek hoef dus nie bang te wees vir die prys wat die liefde van my kan vra nie.  Selfs al sou dit beteken dat ek my lewe moet aflê vir my mense, soos Jesus dit vir my gedoen het, is my toekoms verseker.

Maar die beste is vir laaste, Silcher sluit die laaste vers af met:

Verhoor tog ons gebede in Jesus Naam, in Jesus Naam.

Dit is vir my die hoogtepunt van Johannes 14 – dat Jesus nie hier in die eerste plek die doel van hierdie gemeenskap van gelowiges uitspel as die verkondiging van die evangelie tot aan die einde van die aarde nie – hoewel dit natuurlik ook in die visier is.

Nee, soos Hy die tempel aan die begin van die Johannes evangelie skoonmaak om ’n huis van gebed te wees, so sê Hy dat die punt van ons gemeenskap is om met God in gebed in gemeenskap te lewe om die vreugde van gebedsverhoring te kan geniet.

Daar is dinge wat ons doen wat net so belangrik is as gebed – om te getuig, om barmhartig te wees, om gasvry te wees.  Maar nie een van hulle is belangriker as gebed nie.  En nie een van die ander dinge wat ons vir die Here kan doen, kan ons sonder gebed doen nie.

Dit is wanneer ons God aanroep – dat dinge begin gebeur.  Dit is wanneer ons van God vra – dat Hy gebede begin verhoor.  Dit is wanneer ons die behoeftes rondom ons in die wêreld na God toe bring – dat grootskaalse veranderinge gebeur.  En ons het mekaar nodig om hierin te volhard.  En dit moet nie net in ons binnekamer gebeur nie.  Dit moet ook publiek wees, hier in die erediens, en daarbuite waar ons God se teenwoordigheid kan indra in die lewe.

Gebed

Koor stap op terwyl die tafel in gereedheid gebring word.

Koor: Cantatori

  • Jesus, Rots vir my geslaan – J van der Waart
  • Ons Vader, neem ons hande – F Silcher (verw. D Hyman)

Nagmaalsviering

Neem net jou eie glasie met die uitstap – span bietjie uitgedun vandag.

Koor: Cantatori

  • Die Here seën ons uit Sion – W Lüderitz
  • Zum Offertorium – F Schubert

Dankoffer

Slotlied

  • Lied 286 Here God van liefde, waar ons ook mag gaan – staan – Greta Delport-Benadé

Seën

4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Amen

  • Lied 313 – Deense oorsprong
View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.