Handelinge 5:27-32 – Gehoorsaamheid, al kos dit wat ook al

Arrestasie

Dit is die derde arrestasie van Petrus en Johannes. Die eerste was nadat hulle ‘n verlamde man by die tempel genees het (4:3).  Die tweede was nadat daar so baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind het dat die siekes in Jerusalem selfs op straat uitgedra is sodat hulle genees kan word (5:18).

Gedurende die nag is hulle egter op ‘n wonderbaarlike wyse bevry. Vroeg die volgende dag het die Sanhedrin uitgevind dat die apostels nie meer in die tronk was nie. Boonop was die apostels in die tempel besig om die mense oor Jesus en sy opstanding te leer.

Die bevelvoerder van die tempelwag is toe saam met sy wagte gestuur om die apostels te gaan haal en na die plek waar die Sanhedrin vergader, te bring.

Aanklag

Die hoëpriester val sommer met die deur in die huis voor die hele Raad, 116 van hulle, en kla die apostels van twee sake aan. Eerstens, dat hulle die bevel van die Sanhedrin om nie die mense in die naam van Jesus te leer nie, geïgnoreer het. Tweedens, dat hulle gepoog het om die Sanhedrin vir die dood van Jesus verantwoordelik te hou.  Ironies – net ‘n paar weke tevore het hulle Hom ter dood veroordeel en laat kruisig!  Praat van ‘n sirkel redenasie!

Let op hoe die hoëpriester Jesus nie op sy naam noem nie, maar net verwys na Hom met die woorde “in hierdie Naam”. Vir die hoëpriester is Jesus dus ‘n non-entiteit. Alhoewel Hy ‘n paar weke tevore nog tussen hulle gestaan het en voor hulle uit met die kruis gestap het na Golgota, word na Hom slegs in die derde persoon verwys.

Rede

Maar ten spyte van hierdie houding kan hulle Jesus nie ignoreer nie. Hoekom?  Omdat daar twee goed gebeur: 1) die apostels doen tekens en wonders, en het ‘n groot impak onder die volk, en 2) die apostels verkondig iets wat lynreg teenoor hulle eie leer staan, die opstanding van Jesus.

Die Sadduseërs het die opstanding in sy totaliteit ontken en het ook nie geglo aan engele of geeste nie.  Eintlik was daar volgens hulle nie ‘n geestelike wêreld nie.  Hulle was dus gelowiges in naam, maar in die praktyk ateïste, mense wat die geestelike wêreld se bestaan ontken het.

Die apostels en hulle werk moet daarom in die kiem gesmoor word.  Dit kan nie so aangaan nie.  Die Joodse Raad begin sleg lyk.  En hulle beskouing van die werklikheid word in twyfel getrek – en dit deur eenvoudige mense wat met soveel oortuiging hul boodskap bring.

Daarom die dreigende houding en die slegte behandeling wat hulle die apostels gee.

Verweer

En dan staan Petrus op en antwoord op die aanklagte dat ‘n mens aan God meer gehoorsaam behoort te wees as aan die mens. Petrus dink dus dat God se opdragte belangriker is as die opdragte van die Raad.  En hy spel in geen onduidelike taal die wonder van die opstanding uit nie, en die effek wat dit op die volk het nie.  Want in Jesus se Naam word vergifnis verkondig en dit is vir almal.  Daarvan is hulle getuies en aan dié boodskap sal hulle getrou en gehoorsaam bly.

Vervolging begin

Geen wonder dat die Raad hierop woedend gereageer het nie.  Hoewel hulle hier die apostels net laat slaan en daarna vrylaat met ‘n klomp dreigemente, sou die Joodse Raad in volskaalse vervolging kort hierna teen die kerk begin optree, wat sou begin met die dood van Stefanus.

Maar soos ons weet, ook dít sou boemerang, want só sou die evangelie oor die wêreld versprei.  En dit bring my by die punt van hierdie gedeelte.

Lyding en weerstand teen die evangelie is ‘n werklikheid

Lyding om Christus ontwil is ‘n werklikheid.  Daar is regdeur die geskiedenis en regdeur die wêreld ‘n weerstand teen die evangelie van Jesus Christus.  En dit is ‘n weerstand wat baie keer ook binne die kerk voorkom.

Maar, soos hier in die begin, met die apostels se ervaring, sien ‘n mens telkens dat die kerk gewillig is om hierdie lyding te aanvaar, om gehoorsaam te bly, al kos dit wat ook al.

Die apostels hou nie op met hulle werk nie.  Hulle bly getuig.  Onverstoord verlaat hulle die toneel, “bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly.  En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.” (5:41-42).

Waar kom die gewilligheid om te ly vandaan?

Waaruit word Christene se kapasiteit om te ly, en selfs te sterf gebore?  En ek wil nie dat ons Christene deur die eeue romantiseer nie.  Baie was deur die eeue afvallig en het Christus in die aangesig van vervolging verloën.  Maar, baie het egter nie, soveel so dat die bloed van die martelare die saad van die evangelie genoem word.

Waar kom die kapasiteit om te ly vandaan?

Een: Verbind aan God en aan sy Seun

In tye van vervolging en swaarkry kan die tronkdeure, die blokke waarin jou voete vasgesluit word, die boeie, die martelinstrumente, die brutale behandeling, die sweepslae, of die sosiale verwerping en fisiese vernedering so maklik die finale werklikheid word.  Die bedreiging kan God verduister.

Petrus en die ander apostels antwoord:  “‘n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!”  God bly die oriëntasiepunt, die Een aan wie hulle verbind is.

En die motivering om so aan God vas te hou, kom van Jesus af.  Hy was bereid om lyding te verduur en nie daarvan terug te deins nie.  Sy gehoorsaamheid, al kos dit wat ook al, motiveer hulle om, as God dit so wil, lyding uit die hande van die Raad te ontvang.  Só weet hulle, ly hulle soos Christus, en om Sy ontwil.

Meer deurslaggewend nog: God het bewys dat die reg aan Jesus se kant is deur Hom uit die dood te verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand (5:31).  Die uitsig op die vermoorde, opgestane en verhoogde Jesus, wat nou in die leiersposisie is, verklein die bedreiging van die Raad.  Die dreigemente van die Joodse Raad en selfs hulle vermoë om te straf, word gesien vir wat dit is:  kleiner en minder deurslaggewend as gehoorsaamheid en getrouheid aan Jesus.

Daarom kan die apostels die Raad ook vermaan:  Jesus is verhoog tot Leidsman en Verlosser, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe (5:31).  Hiermee dui die apostels boonop aan dat daar ‘n alternatief vir die Joodse Raad is.  Eerder as om met geweld hulle eie posisie te verskans, en hulle hardgebakte weerstand voort te sit, behoort die Joodse Raad hul te bekeer.  Deur na God as die “God van ons voorvaders” (5:30) te verwys, wil die apostels beklemtoon dat hulle nie ‘n nuwe godsdiens wil verkondig nie, maar die Joodse Raad wil help om hulself in die regte verhouding met God te bring.

Die visie op die verhoogde Jesus help die apostels dus om vervolging in die oë te staar en getrou en gehoorsaam te bly.  Uiteindelik is hulle, ten spyte van sweepslae, bly dat hulle vir die Naam van Jesus kan ly (5:40).

Twee: Verbind aan mekaar

Die apostels en gelowiges staan mekaar ook by.  Dit is opvallend dat die apostels as geloofsgemeenskap ly.  Hulle bly in mekaar se teenwoordigheid.  Hulle help mekaar om die gebeure reg te interpreteer.  Toe Petrus en Johannes by die vorige arrestasie losgelaat word, soek hulle onmiddellik die medegelowiges op en bid saam vir die vrymoedigheid om te getuig.  Hulle herken die vervolging as opstand teen God en sy “heilige Dienaar, Jesus” (4:23-31).

In die vervolging bly die apostels ‘n duidelike besef van hulle gesamentlike roeping behou:  “En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is”.

Lyding en vervolging het ‘n intense disoriënterende effek.  Mens kan maklik begin glo dat jy verkeerd is en verward begin raak.  Vervolging kan baie maklik gelowiges onseker en twyfelend maak.

Met die krag wat hulle van die Heilige Gees ontvang, getuig hulle egter met vrymoedigheid.  Ten spyte van die uiteindelike straf, hou hulle nie op om die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie (5:42).  En hierin ondersteun hulle mekaar.

Lyding en vervolging is normaal

In ‘n mindere of meerdere mate roep die getuienis oor Jesus Christus as die Here altyd weerstand en lyding op.  In sommige situasies is dit meer, in ander minder.  Ons moet weet:  lyding en vervolging is normaal.  Hierdie wete kom vir Westerlinge nie vanself nie.  Ons kultuur leer ons dat ons wenners moet wees.  Wanneer ons teenstand kry, is ons geneig om te dink iets is fout, en wil ons maatreëls tref om die lyding uit die weg te ruim.  Om weg te draai van lyding, en die opneem van ons kruis ter wille van Jesus te systap, is ‘n ernstige versoeking vir die kerk van die Here.

Hoe hanteer ‘n mens dan lyding? Lyding is iets wat in die geloofsgemeenskap verduur moet word.  Dit beteken dat ONS diegene wat ly moet omarm, en moet bystaan.  Dit geld ons eie, plaaslike geloofsgemeenskappe.

Maar nie net ons eie mense hier rondom ons moet ondersteun word nie.  Ons moet ook die ervaring van die lydende kerk van die Here in lande waar daar ernstige verdrukking, marteling en moord plaasvind, ons eie maak.  As een lid ly, ly almal.  Die lyding van gelowiges in lande soos China, Saudi-Arabië, Noord-Afrika, Turkye en Noord-Korea is iets waarvan ons bewus moet wees en waarvoor ons voortdurend moet bid.

Ons mag die geloofsgemeenskap nie geringskat in sy vermoë om die uitdaging van lyding die hoof te bied nie.  Dit is in gemeenskap met ander gelowiges dat ons die kapasiteit het om te ly.

Toepassing

Ek sluit af met iets wat nie direk hiermee verband het nie, maar wel baie raakpunte.  Ons is almal geraak deur die gebeure van die afgelope paar dae rondom die gruwelike moord van Eugene Terre’Blanche en die opruiende woorde van Julius Malema en sy liedjie.  En baie van ons het die veg of vlug reaksie.  Dit is eerste orde emosionele reaksies – en daar is niks fout daarmee nie.  Dit is deel van ons verwerking daarvan.

Maar gelowiges wat met God ‘n pad stap deur die eeue het gesê: ons kan nooit net op grond van daardie eerste orde reaksies reageer nie.  Ons het nie net ‘n hart wat voel nodig nie, maar veral ‘n hart wat onderskei.  Dit is die wysheid wat Salomo van God gevra het: ‘n luisterende hart, ‘n hart wat kan onderskei, ‘n hart wat God se wil in ‘n situasie kan onderskei (1 Kon 3:9 – “luisterende hart” is met die woord gehoorsaamheid in die NAV vertaal).

En wat kan ons onderskei in dié situasie?

  • 1. Die moord was publiek – dus daar moet ‘n publieke reaksie wees om binne die wette van die land en binne die politieke en burgerlike arena vir optrede en verandering te vra.  En daar was ‘n hele paar publieke reaksies van die kerk daaroor – Piet Strauss namens die Algemene Sinode, Braam Hanekom in Die Burger.  En daar is ‘n regstelsel wat die waarheid rondom die gebeure moet uitvind en daarvolgens moet optree.
  • 2. Die moord het ‘n gesin en familie geraak – dit beteken daar moet pastoraal versorg word, soos daar klaarblyklik gedoen word.  Ons harte moet saam met hulle huil.
  • Maar laat ons tegelykertyd ook saam met al die ander gesinne wie se tragiese ervarings nie die koerante gehaal het nie, huil.  ‘n Kwartmiljoen mense is volgens my inligting die afgelope 16 jaar in ons land vermoor, waarvan 3300 boere was.  Elkeen van hulle het ‘n gesin en ‘n familie wat treur en smart moet verwerk.
  • En ons moet daar wees vir hulle, en probeer om dit wyer net as ons eie gesins- en familie kring te doen.  Dit was die uitstaande kenmerk van die eerste Christene se manier van leef – hulle was ‘n hawe vir die mense wat nood gehad het.  Bv. buite-huwelikse swangerskappe – dié mense is opgeneem in die Christelike gemeenskap en versorg.  Dit lyk my sommige kerke het nou dié boodskap gehoor, want in plaas van om vuur te spoeg oor mense wat aborsies ondergaan, bied hulle nou aan om vir die kinders te sorg.
  • 3. Die moord kom van ‘n spesifieke omgewing af, wat duidelik maatskaplike en morele gebreke het, beide op werkersvlak as werknemersvlak – dit beteken ons moet die maatskaplike en arbeidsituasie aanspreek en iets daaromtrent doen.  En daar is 6 vlakke waarop ons iets kan doen, nie net in Ventersdorp nie, maar ook hier by ons: onderwys, mediese dienste, water, werk, sanitasie, voedselverbouing.

Elspeth Liebenberg vertel dié week vir ons sel van die wonderlike projek van Life Ministries in Zimbabwe.  Een van hulle vennote, John, ‘n swart Zimbabwiër (ek sê dit net omdat dit in dié konteks nogal betekenisvol is), het ‘n groot plaas, nie een wat afgevat is nie, maar jare al in hulle familie-besit is.  En van die plaas af voorsien hulle tans ondersteuning, met bokke en mielies, vir ‘n projek wat die potensiaal het om die land te verander.

Dit werk so: ‘n Life Ministries span gaan na ‘n klein dorpie in Zimbabwe, koop ‘n stuk grond en doen dan twee goed daar.  Hulle wys die Jesus film en bring so die evangelie boodskap.  En hulle begin mielies plant.  Soos die mense tot bekering kom, leer hulle vir hulle om selfonderhoudend te wees met die mielies en die bokke.  Na ‘n paar maande gee hulle die stuk land vir die plaaslike gemeenskap met die opdrag om dieselfde vir hulle omgewing te doen, dws mense met die evangelie te bereik en te help om selfonderhoudend met mielies en bokke te wees.

Dit is so suksesvol dat internasionale organisasie begin belangstel en betrokke raak om ondersteuning te begin bied.

Ek lees die week in Die Burger dat Anton Rupert op ‘n keer hierdie ongelooflike ding gesê het: “Hier kan ek ‘n verskil maak.”  Dit is wysheid.  Dit is gehoorsaamheid, al kos dit wat ook al.

Ons gaan vannaand ‘n (kort) inter-ras gesprek hê n.a.v. die huidige situasie. Wimke gaan gesels met ‘n swart pastoor, Zolile.

Stilte:

Daar is nou ‘n moment van stilte waar elkeen die Here antwoord op sy opdrag om Hom gehoorsaam te wees al kos dit wat ook al.  Dink spesifiek aan geleenthede waar dit iets van jou gaan kos, en vra die Here vra om jou innerlik te versterk om aan Hom getrou te bly.

 

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Pieter

    Jy kan uiteraard lees wat ek self oor Romeine en Efesiërs geskryf het:

    Maar, as jy ‘n bietjie dieper wil delf, kan jy kyk na die volgende bronne:

    • Faithlife Study Bible (korter kommentaar oor die hele Bybel)
    • NET Bible (kort tekstuele kommentaar oor die hele Bybel – gratis op YouVersion se Bible app)
    • Scripture Direct (uitstekende woordverklarings oor die hele NT – gratis as app)
    • Keener, C. S. The IVP Bible Background Commentary: New Testament (Second Edition). IVP Academic. 2014.
    • Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 1993
    • Van Zyl, A. H.. Die Bybel verklaar: 1983-vertaling. Kaapstad: Lux Verbi. 1993

    Dan is daar natuurlik volbloed kommentare.
    Op Romeine:

    Op Efesiërs:

    • Lincoln, Andrew T. Ephesians WBC 1990
    • Bruce, F. F. The Epistles to the Colossians, to Philemon, and to the Ephesians NICNT
      1984
    • Foulkes, Francis Ephesians TNTC 1989
    • Stott, John R. W. The Message of Ephesians BST 1991
    • Fowl, S. E. Ephesians: A Commentary. Westminster John Knox Press 2012
    • Roberts, J. H. Die brief aan die Efesiers. N G Kerk-Uitgewers. 1990
    • William Barclay http://www.dannychesnut.com/Bible/Barclay/Galatians%20and%20Ephesians.htm
  • Avatar

    Pieter

    |

    Naand Chris.
    Kan jy my dalk help met goeie bronne om studie van Effesiers en Romeine te doen.
    Dankie vir jou wonderlike werk en leeringe

  • Avatar

    Petra Marneweck

    |

    Die inhoud van die preek bevestig wat hierdie week in ons Bybelstudiegroep bespreek is en versterk my geloof dat Jesus opgestaan het. Baie dankie vir die besondere boodskap

  • Avatar

    Dean van Wyk

    |

    Baie dankie Rethie vir hierdie inspirerende boodskap. Ek is oorspronklik van PE en woon nou 20jaar lank in PTA.
    In my stiltetyd vanoggend het ek Fil 2:12b-13 gelees en dit kan net deur die Gees van God wees dat ek op hierdie preek afgekom het.

    God seën jou bediening en geniet die see( ek beny julle).

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Hansie. Die Here is goed vir ons.