Skip to main content

Ons luister na God – aanddiens (Daniël bygewerk)

Supernova_2005dh_and_Spiral_Galaxy_NGC_1559-250Ek het baie gewik en geweeg voor ek dié verhaal van Daniël ingesluit, omdat ek bang was dat dit te veel verduideliking gaan verg.  Maar ek maak staat op God se Gees en julle intelligensie!

Daniël wys net op só ’n ongelooflike praktiese manier hoe ’n mens by God se werk aansluit, dat ek net ervaar het, ek moet dit vertel.  En ek gaan dit as ’n storie vertel.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

  • Video – Luister-Leef
  • Inskakeling vorms – 3 eredienste, 40 kleingroepe, 8 tribes (sirkels of grootgroepe): koffiekroeggie en koffiekroeg, lighthouse (tienerbediening), studente (studentebestuur is gekies, daar is soveel belangstelling, hulle moes ’n subkomitee aanwys!) om-en-om (werkende jongmense), Tiramisù, Klub 65 en die Huishulpe, 50+ bedieninge.

Lofprysing

Skriflesing

  • Filippense 1:9-11

9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11 en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

Woordverkondiging

Ek lees graag.  Ek is mal oor boeke.  Ek is mal oor fiksie.  Ek is eintlik op die oomblik nog maller oor nie-fiksie.  En ek herlees baie keer boeke of dele van boeke sommer net vir die lekker.  Een van die boeke wat ek soms vat en weer dele daarvan herlees, is Bill Bryson se A Short History of Nearly Everything.  Hy skryf op só ’n toeganklike manier oor die wetenskap.  Hy brei uit oor die kosmos en die aarde en die atoomwêreld en dan nog die kleiner goed soos kwarke en dies meer.

Hy vertel ook die intriges agter al die ontdekkings.  Soos die groot klassieke wetenskaplike Isaac Newton uit die 17de eeu wat waarskynlik een van die briljantste mense is wat ooit gelewe het, maar ’n humorlose korrelkop was. Hy was ook blykbaar aandagafleibaar.  Een van die stories wat van hom vertel word, is dat hy smôrens sy voete van die bed sou afswaai en dan diep ingedagte raak oor iets wat hom te binne skiet en net daar bly sit.  Hy was ook doodgewoon eienaardig.  Hy het as student ’n nuwe wiskunde uitgedink, calculus (’n rekenmetode), maar vir niemand daarvan gesê nie vir 27 jaar lank! Dit word tot vandag toe gebruik!  En sy drie wette oor beweging is steeds een van die eerste dinge wat ’n mens leer in die natuurwetenskappe, waarskynlik sy grootste bydrae.

Ek lees baie keer ‘n bladsy of drie van Bill Bryson voor ek gaan slaap.  Maak sommer oop en blaai na iets wat my interesseer.  Dit is heerlik ontspannend.

Een van die stories – wat met ons onderwerp vandag verband hou – daarin fassineer my.  Dit is die verhaal van ’n predikant in Australië, Robert Evans.  Hy is mal oor die sterre, veral dooie sterre.  Hy neem sy teleskoop en kyk diep die verlede in.  En hy soek vir sterre wat sterf. Hoe weet hy wanneer hulle sterf?  Wel ’n ster wat sterf, ontplof en word ’n supernova, en dan verdwyn dit weer.  Binne ’n maand ná dit opgemerk is, verdwyn dit.  So, Robert kyk vir supernovas.

Hy is egter verstommend goed daarmee.  Daar is niemand in die wêreld wat beter as hy supernovas kan opspoor nie.  Om dit te verduidelik, gebruik Bill Bryson die volgende voorbeeld.  Verbeel jou jy neem ’n standaard eetkamertafel en jy gooi ’n swart tafeldoek daaroor.  Dan neem jy ’n handvol sout en versprei dit daaroor.  Die soutkorrels stel sterrestelsels voor.

Nou, verbeel jou jy het 1 500 sulke tafels, genoeg om 3 km ver langs mekaar te staan.  Af met die hele Admiralty laan van bo af regdeur die sirkel tot by die see.  Elkeen van die tafels het ’n handvol soutkorrels daaroor uitgesprei.  Vat dan EEN korrel sout en plaas dit op enigeen van die 1 500 tafels, sonder dat Robert weet waar dit is.  En laat hom by die lang ry tafels afstap om dié soutkorrel te soek.  En hy sal een kyk gee na die tafel waar jy die EEN soutkorrel neergesit het, en dit raaksien.

Daardie EEN soutkorrel is die supernova.  Robert Evans sal dit raaksien.  Hoekom?  Want hy het sy oog geoefen om dit raak te sien.  Hy kyk daagliks na die sterrestelsels en het hulle só goed in sy geheue ingeprent, dat hy enige verskil onmiddellik raaksien.  Hy het natuurlik ook ’n verstommende geheue, maar daardie geheue kan net onthou wat dit gesien het.  Sy geoefende oog sien goed raak wat ek en jy nie sal kan raaksien nie.

Dit is dan ook die agtergrond vir die PowerPoint: supernova 2005df, Robert Evans se 40ste supernova ontdekking van 2005.  Hier is ’n foto van hom by die teleskoop wat hy gebruik.

Dit is waarom ek die Bybel lees.  Ek wil die Bybel só goed ken dat dit soos ’n huis raak waarin ek woon.  Elke boek in die Bybel raak vir my soos ’n kamer in die huis waarin ek woon.  Hoekom?  Want die Here praat deur Sy Woord.  Dit is ons belydenis.  Dit is ons belewenis.

  • Ja, God praat in die natuur en dit is wonderlik.  Dit bring rus.  Dit bring verwondering.  Dit gee jou soms ’n antwoord op iets waaroor jy worstel.
  • Ja, Hy praat deur gebeure in ons lewens. ’n Sameloop van omstandighede. Buitengewone goed wat met ons gebeur. Dit kan goeie goed wees.  Selfs slegte goed.  God is in alles betrokke. Ons kan daarop reken.
  • Ja, Hy praat deur ander mense.  Soms is dit kinders wat jou konfronteer met ’n diep waarheid.  Soms is dit ’n man op die straat.
  • Ja, Hy praat deur insigte wat kom wanneer ons bid.
  • Ja, Hy praat soms deur drome – as ek van leeus droom, weet ek ek moet afskaal.

En, ja, in elkeen van hierdie maniere is dit die Heilige Gees wat die groot vertaler is, wat ons help verstaan, wat ons oë oopmaak om te sien, wat ons ore wakker maak om te luister.

Maar die belangrikste manier waarop God praat, bly sy Woord.

Dit is ons tweede groot waarde in die gemeente: Ons luister na God. Ons fokus daarop om sy stem te hoor. Ons span ons in om sy stem te herken. Ons gee ons lewe om te doen wat Hy vir ons sê.  Ons luister na God.

Só, dit is waarom ek die Bybel lees.  Ek lees om die stem van God te kan herken.  Ek lees die NT om in die bekende omgewing van die evangelies die stem van Jesus te kan herken en

  • sy klem op geregtigheid in Matteus te hoor,
  • sy klem op dissipelskap in Markus beter te begryp,
  • sy klem op die betekenis van die evangelie vir die nasies in Lukas en Handelinge te hoor,
  • en sy klem op die diepte van ons geestelike verhouding met God in Johannes te begryp.

En dieselfde in die OT.

  • Ek lees om in die bekende omgewing van Genesis iets van God se betrokkenheid by die wêreld en families raak te sien.  Genesis is immers waar alles begin.
  • Ek lees Eksodus om die hoop op verlossing en die impak van bevryding te verstaan.
  • Ek lees Levitikus om beter ons onderlinge verhoudings te verstaan.
  • Ek lees Numeri om beter ons verskillende generasies te verstaan.
  • En ek lees Deuteronomium om beter die impak van oorsaak en gevolg op die lewe te verstaan, en baie spesifiek die impak wat die verlede en die toekoms op die hede het.

En so kan ek aangaan met die res van die 66 boeke wat daar in die Bybel is.  Elkeen kosbaar.  Elkeen belangrik.  Elkeen ’n plek waar ons God se stem herken en waar Hy met ons praat.

Dit is dus krities belangrik dat ons die Bybel sal lees sodat ons na God kan en sal luister.

En dit is waarom ons as gemeente so baie die Bybel lees.

  • Ons lees dit in die kategese.
  • Ons lees dit in die erediens.
  • Ons lees dit in ons stiltetyd.
  • Ons lees dit in ons kleingroepe.
  • Ons lees dit in die Bybelskool.
  • Ons lees dit in ons vergaderings.

Daar is eintlik amper nêrens waar ons nie op een of ander manier met die Bybel te make het en daarna luister om dit te leef nie. Ons is ’n gemeente van die Bybel.

Hoekom? 

1.  Wel, in die eerste plek om in ‘n verhouding met God te kan wees. Die Woord is God se stem aan ons, die Woord wat die kerk deur die eeue betuig het, dít is die Woord van God.  Hier hoor ons God soos op geen ander plek nie.  In die Woord hoor ons God se wil.  Hoor ons sy hart.  Kry ons die voorreg om in te skakel by wat Hy deur ons en saam met ons in hierdie wêreld wil doen.  En die doel van ons hele lewe, in die woorde van Paulus in Filippense een vers 11 is om “geheel en al in die regte verhouding met God” te wees.  Hy is ons lewe.  Hy moet ons gedrag en ons lewe bepaal.  Daarom lees ons die Woord.

2.  Maar, in die tweede plek lees ons die Bybel om vaardig te raak om sy stem te onderskei.  Want daar is ‘n Gees van waarheid en ‘n gees van dwaalleer, soos Johannes ons op ’n punt herinner (1 Joh. 4:6).  Daar is ook nie net die gevaar van ander stemme nie, maar ook om van ons eie stem. Ons eie behoeftes kan ons vermoë om te onderskei belemmer.

Ons moet leer om te onderskei, om die EEN soutkorrel raak te sien wat vir ons iets sê, wat vir ons God se stem word. En die Bybel help ons op ongelooflike seker manier om te kan onderskei.  Dit help ons die kaf van die koring skei, die sentrum van die periferie, die dinge waaroor ons mekaar moet vashou, en dié dinge waaroor ons maar mag verskil.  Bv. die Groot Gebod en die Groot Opdrag en die Groot Gebed is dinge wat ons saambind.  Wat ons eet of drink is van minder belang.

3.  Want, in die derde plek, om by God se werk in die wêreld aan te sluit.  Kyk, onderskeiding is ‘n gawe wat God gee (1 Kor. 12:10).  God gee onderskeiding.  Hy gee dit vir elke kind van God.  Dit is een van die groot voordele van die nuwe verbond, dat elkeen die Here kan hoor, nie net die priesters, profete, konings en wyses nie.

Ek is tans besig met die boek Jeremia.  En dit is dié boek in die Bybel wat vir ons die wisselwerking tussen God en ’n mens op die tafel sit.  Dit is asof ’n mens Jeremia se gebedsjoernaal lees, en agterkom hoe die gesprek tussen hom en die Here verloop.  ’n Mens leer soveel van hoe God met ons werk, hoe Hy ons inspan, wat Hy bereid is om te doen in antwoord op ons gebed.  Die ding van onderskeiding wat by Jeremia uitstaan, is wat die Here vir Hom sê oor die nuwe verbond, hoe dit met ons wat in daardie tyd lewe, sal wees:

Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here : Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Jer. 31:33-34).

Ons kan dus aanspraak maak op onderskeiding.  Ons kan onderskeiding van God verwag.  Ons kan dit van Hom vra.  Immers, “As een van julle wysheid kortkom, moet hy of sy dit van God bid, en Hy sal dit aan hulle gee, want God gee sonder voorbehoud en sonder om te verwyt,” so sê Jakobus 1:5.  Dit is die gebed wat God die maklikste verhoor.

Daniël as illustrasie

Ek het baie gewik en geweeg voor ek dié verhaal van Daniël ingesluit, omdat ek bang was dat dit te veel verduideliking gaan verg.  Maar ek maak staat op God se Gees en julle intelligensie!

Daniël wys net op só ’n ongelooflike praktiese manier hoe ’n mens by God se werk aansluit, dat ek net ervaar het, ek moet dit vertel.  En ek gaan dit as ’n storie vertel.

Daniël word saam met koning Jojakim in 605 v.C. (Dan. 1:1) weggevoer deur Nebukadnesar, net ná hy die Egiptiese leër by Karchemis oorwin het. Ons weet baie min van hom behalwe wat ons in die boek lees, en daaruit leer ons dat hy onder die vername families van Israel getel het en ’n goeie opvoeding gehad het.  Ons hoor in die boek van ses belangrike wyses waarop die Here hom in Babel gebruik het.  Ons lees ook van vier visioene wat die toekoms vir die Godsvolk oopsluit.

Wat my interesseer is die visioen, wat eintlik ’n gebed is, wat in hoofstuk 9 vertel word.

Dit is die jaar 539 v.C.  Daniël is al 66 jaar in Babel.  Vroeër die jaar het hy die Here se sorg in die leeukuil ondervind het (Dan. 6), die eerste regeringsjaar van koning Darius of koning Kores soos hy ook bekend was.  Dan vertel die skrywer vir ons dat Daniël in “die Skrifte” – die weergawe van die kanon van dié tyd – in die boek van die profeet Jeremia lees dat die ballingskap deur die Here beperk is.  Hy kom agter dat die Here ’n afgebakende tyd van sewentig jaar vir Jerusalem se verwerping bepaal het (Dan. 9:2).  Die boek van Jeremia is deur die loop van ’n paar dekades voor en tydens die ballingskap geskryf en uiteindelik in die ballingskap gefinaliseer.  Daniël het dus ’n kopie daarvan.

Met dié inligting uit die boek Jeremia besluit Daniël om te bid en die Here God in gebed en smeking te vra dat Hy dié woord van Jeremia, dié belofte wat die Here aan hulle gegee het, waar sal maak.  En hy beklemtoon die erns van sy gebed met ’n vas.  Hy trek rouklere aan en strooi as oor sy kop.

En hy bid ’n ongelooflike gebed:

  1. Daniël vereenselwig hom in die eerste plek met die volk in hulle sonde en ellende.  Hy bely dit en erken daarmee dat God regverdig was deur hulle in ballingskap te stuur.  Die ellende wat hulle ervaar het is deur hulle eie toedoen.  Hulle was ongehoorsaam, al het God sy verbond en trou gehandhaaf teenoor hulle.  Selfs die profete wat die Here gestuur het, is geminag.  Dié erken Daniël namens almal voor hom en almal wat toe nog lewe.
  2. Hy herinner in die tweede plek die Here aan die vorige Uittog uit Egipte waarmee Hy sy Naam grootgemaak het, soos dit vandag nog is.  Israel se ellende het nie daaraan afbreek gedoen nie.
  3. Hy beroep hom in die derde plek op God se barmhartigheid en vergifnis en vra dat die Here die stad Jerusalem sal herstel, “nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid.” Hy vra basies dat die Here sy Woord sal waarmaak.

En wat gebeur?  Die Here antwoord vir Daniël.  Om die waarheid te sê: “terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely” kom lig die engel Gabriël hom in, dat die Here sy gebed verhoor het, want God het vir Daniël lief!

Gabriël het nog baie meer om vir hom te sê, waaroor ek vanaand nie gaan uitbrei nie.  Lees op die web by die skakel wat ek daar gee: (Daniël 9 – Daniël bid om die vervulling van God se beloftes en ontvang die belofte van volle versoening).

Wat ek wil uitlig, is dat Daniël die Bybel gelees het, ’n belofte van die Here raakgesien het, dit voor die Here gebring het, daarvoor gebid het, ernstig was in sy gebed, en dat die Here hom geantwoord het, hom ingespan het in die werk wat God besig was om te doen in die wêreld.

Watter voorreg.  Watter avontuur!

Ek sluit af

1.  Ons lees die Bybel om in verhouding met God te lewe.  Dit is belangrik vir elkeen van ons persoonlik.  Dit is belangrik vir ons as gemeente.  Niks kan dit vervang in jou lewe nie.

2.  Ons lees die Bybel om God se stem van ander stemme te onderskei.  Daar is baie stemme.  Ons eie behoefte en begeertes kan baie keer ook God se stem dooddruk in ons lewe.  Die Bybel het ’n ongelooflike belangrike rol te speel om te onderskei tussen dít wat van God is en dít wat nie is nie.

3.  God span ons in die wêreld in deur sy Woord om ’n verskil te maak. Dit hoef seker nie só ’n groot ding te wees soos met Daniël nie.  Maar, hoekom ook dan nou nie!  Ek dink ek weet hoekom die Here Daniël op my hart gelê het, want hier sit miskien vanaand iemand wat die uitdaging wil aangryp, om die Skrifte te ondersoek en die beloftes wat God vir ons tyd het aan te gryp, te begin bid, om ook die wonder te ervaar dat God “terwyl jy nog praat en bid” te verhoor.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.