Skip to main content

Matteus 4:1-11 – ʼn Hart wat volhard

Die versoeking in die woestyn, kom nét na Jesus die hoogtepunt van die doop en die duif beleef het. In die Jordaan het Johannes die Doper Hom gedoop en die Heilige Gees het soos ʼn duif op Hom neergedaal. God het sy stem laat hoor en gesê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug ek My.” Dit was ʼn hoogtepunt van identifikasie met ons – deur die doop. En identifikasie met God – deur die duif.

Maar toe lei die Gees Hom die woestyn in …

4 Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.

3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”

4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:

’n Mens leef nie net van brood nie

maar van elke woord

wat uit die mond van God kom.”

5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:

Hy sal sy engele oor jou opdrag gee

en:

Op hulle hande sal hulle jou dra,

sodat jy nie jou voet teen ’n klip

sal stamp nie.”

7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

8Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”

10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:

Die Here jou God moet jy aanbid en

Hom alleen dien.”

11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Die lewe is nie maklik nie

Die lewe is darem nie maklik nie! Ek kyk dié week na ʼn video van my kleinkind Lilly. Sy is ses maande oud en begin kruip. Maar dit is ʼn soort leopard crawl. En sy steun en kreun van inspanning. Alles wil nog nie werk soos sy dit beplan nie. En in my kyk besef ek dat haar ervaring is ʼn metafoor vir die lewe.

As sy uiteindelik die kruipery bemeester, moet sy begin loop. En dit is nie eenvoudig nie. Eers stadig opstaan. Balanseer. ʼn Paar blou houe val. Uiteindelik ʼn treetjie te gee. Dan nog een, en nog een, tot sy kan loop.

Dan kom die uitdaging om ʼn bal te skop en ʼn bal te vang. Dan om met maatjies te begin speel. Om te teken. Om te lees. Om te skryf. Om skool toe te gaan. Om onderwysers te hanteer. Om teleurstellings te hanteer. Toetse. Sport. Die moeilikheidsgraad neem steeds toe. En ons praat nie eers van die uitdagings van die lewe nie: siekte, seerkry, hartseer, versoekings, teleurstellings, krisisse, ensovoorts.

Dan moet sy ʼn loopbaan kies. En die keuse sal net moeiliker raak – sy sal waarskynlik ʼn werk doen wat vandag nie eers bestaan nie. Sy sal opleiding moet kry. ʼn Man kry. Kinders kry. En dan begin die siklus weer vir haar kinders. En dan raak hulle moeilikheid haar moeilikheid. En haar ouers moontlik ook haar moeilikheid.

Die lewe is nie maklik nie.

Nou, dit was nie anders met die Here Jesus nie. Hy het deur al daardie uitdagings van kindwees gegaan. Hy moes ook leer kruip, leer lees, leer skryf, ʼn ambag leer en beoefen. Sy kinderjare was min of meer dieselfde as wat dit vir enige ander kind van sy tyd was.

Maar, sy uitdagings met die aanvang van sy bediening was wel besonder moeilik. Dit is wat ons nou gelees het. En onthou, die versoeking in die woestyn, kom nét na Hy die hoogtepunt van die doop en die duif beleef het. In die Jordaan het Johannes die Doper Hom gedoop en die Heilige Gees het soos ʼn duif op Hom neergedaal. God het sy stem laat hoor en gesê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug ek My.” Dit was ʼn hoogtepunt van identifikasie met ons – deur die doop. En identifikasie met God – deur die duif.

Wat is die eerste ding wat hierna gebeur? Jesus word deur die Heilige Gees gelei na die dieptepunt van die duiwel se versoeking. En dit is nie net die drie versoekings wat aan die einde van dié 40 dae sy lewe moeilik gemaak het in die woestyn nie. Ons hoor maar net van dié drie, want hulle illustreer iets van Jesus se hantering daarvan as ʼn voorbeeld aan ons. Elkeen van die vorige 39 dae was ʼn dag van verskeie en moeilike versoekings. Dit was ʼn marathon van versoekings.

En maak geen fout nie. Daar staan nie dat die duiwel probeer het om Jesus te versoek het nie. Daar staan dat Jesus deur die duiwel versoek is. Dit was werklik. Jesus ís versoek. Hy moes die versoeking in die oë kyk en nee sê daarvoor, al was dit aantreklik vir Hom.

Jesus aanvaar die uitdaging sonder skroom

Hierdie tyd van versoekings in die woestyn waaraan Jesus onderwerp is, is egter nie slegte nuus vir ons nie. Dit is goeie nuus vir ons, dit is die evangelie. Hoekom? Want Jesus aanvaar die uitdaging sonder skroom, sonder klag, sonder om terug te deins. Dit is immers al die eerste oorwinning; om nie in te gee voor die behoefte om dinge makliker in die lewe te hê nie. En Hy slaag die toets uiteindelik met vlieënde vaandels as ewige getuienis dat ons in Hom die oorwinning oor die duiwel, die versoeker en aanklaer, het. Hy volhard regdeur ander kant uit. Dit is die kragtige getuienis waarmee Hy ons kan bemoedig.

Scott Peck gee ʼn mens ʼn interessante perspektief op hierdie verhaal van die versoeking in die woestyn. Hy begin sy boek The Road Less Travelled met dié sin: “Life is difficult.” Soos ek ook die preek begin het. Hy eggo dus wat ons weet. Die lewe is nie maklik nie.

Maar hy gaan verder om daarna te skryf – en hoor dit as ʼn waarheid om vir jouself te omarm: “This is a great truth, one of the greatest truths. It is a great truth because once we truly see this truth, we transcend it. Once we truly know that life is difficult – once we truly understand and accept it – then life is no longer difficult. Because once it is accepted, the fact that life is difficult no longer matters.”

Dit is die eintlike punt van die besef dat die lewe moeilik is. As jy dit eenmaal aanvaar dat die lewe moeilik is, kan jy daarmee handel, kan jy met moed en oortuiging daarop reageer.

Dit is wat Jesus hier gedoen het. Hy het nie gekla nie. Hy het nie probeer om die versoekings te vermy nie. Hy het die versoekings in die oë gekyk en gehanteer. Hy het aanvaar dat die lewe moeilik is, dat dit nodig is om regdeur die versoekings te volhard … en Hy het vir ons en namens ons volhard.

Versoeking berei Jesus voor vir die bediening

Want sien, Matteus vertel dié verhaal van Jesus se versoeking as ʼn belangrike inleiding tot die begin van Jesus se bediening. Net ná die verhaal begin Jesus met sy verkondiging (4:12-17), Hy roep sy eerste dissipels (4:18-22) en Hy onderrig en genees baie mense van, soos Matteus dit sê, van elke siekte en kwaal (4:23-25). Die hele aanvang van Jesus se bediening hang dus af van wat in die woestyn gebeur. Wat hier gebeur, sal uiteindelik bepaal wat later kán gebeur.

Wat ons dus moet raaksien, is dat dié versoeking nie maar net ʼn lastige deel van Jesus se pad was, iets wat Hy moes deurgaan en so vinnig as moontlik agter die rug moes kry nie. Nee, dit was ʼn sleutel aspek van sy bediening, van sy voorbereiding vir wat Hy uiteindelik moes doen.

Die Gees se eerste taak ná Hy op Jesus neergedaal het, is dus om Jesus sterk te maak vir die uitdagings wat in sy bediening op Hom gaan wag. N T Wright sê: “Jesus must face these temptations now, and win at least an initial victory over them. If he doesn’t, they will meet him suddenly, in the middle of his work, and they may overwhelm him.” (Matthew for Everyone). En ‘n mens kan kwalik aan drie versoekings dink wat beter aan God se doel met dié woestyn tydperk in Jesus se lewe beantwoord.

Versoeking van wonders

Die versoeking van die duiwel is in die eerste plek dat Jesus iets wonderbaarliks sal doen om sy honger te stil – dat Hy van klippe brode moet maak. Die doel van die duiwel is daarmee dat Jesus sal val vir die versoeking om sy krag ter wille van Homself te gebruik. Die doel van die Gees is daarenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy later wonders kan doen sonder om daarmee die aandag op Homself te fokus.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 8:3 dat die fokus op God se woorde belangriker is as die fokus op wonderbrood. Daarmee verwerf Hy die vrymoedigheid om tog later vir God vir wonders te vra, waar dit in God se bedoeling inpas en nie om Homself gaan nie. En later in die evangelie vermeerder Hy brood by twee geleenthede (hfste. 14 en 15) benewens nog ʼn klomp ander wonderdade.

Versoeking van beloftes

Die versoeking van die duiwel is in die tweede plek dat Jesus God se beloftes van beskerming in die Skrif – Ps. 91 – sal gebruik om vir Hom naam te maak deur van hoogste punt van die tempel af te spring. Die doel van die duiwel is daarmee dat Hy God se beloftes ter wille van Homself sal misbruik. Die doel van die Gees is daarenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy voluit op God se beloftes ter wille van ander kan staatmaak, maar nie ter wille van Homself nie.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 6:16 dat Hy God se naam hoog wil hou, deur Hom nie uit te tart of te versoek nie. Daarmee verwerf Hy die vrymoedigheid om tog op God se beloftes aanspraak te maak in vele situasies in sy bediening, onder andere in die vele kere wat Hy gelowiges verseker van God se bereidheid om gebede te verhoor.

Die versoeking van die kortpad

Die versoeking van die duiwel is in die derde plek dat Jesus sy koninkryk op aarde sal vestig, deur voor die duiwel neer te kniel en hom te aanbid. Die duiwel se doel daarmee is om Jesus te oorreed om die maklike uitweg, die weg van die minste weerstand, die kortpad na roem en eer, te volg. Die doel van die Gees is daarenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy van die begin af die baie moeiliker pad van die lydenspad en die kruis sal volg, sodat Hy daardeur verlossing vir almal wat in Hom glo, kan verwerf.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 6:13 dat ʼn mens net God alleen mag aanbid en dien. Daarmee skaar Hy Hom volledig aan God se kant en verklaar Hy Homself bereid om God se pad met Hom te stap, al kos dit ook wat.

Wat natuurlik ten diepste hier op die spel is, is Jesus se Seunskap en of Hy God daarmee gaan dien of Homself. Die duiwel wil twyfel daaroor by Jesus saai en Hom onafhanklik van God laat optree. Hy ís immers God! Die Gees wil Jesus egter leer om dit te omhels, sonder om sy Seunskap te ontken, maar sy status nie ter wille van Homself te misbruik nie, maar ter wille van God se bedoeling uit te leef, wat uiteindelik die swaarste ding van alles van Hom sou vra, die kruisdood.

Let op dat die engele wel vir Jesus kom versorg het ná die duiwel Hom met rus gelaat het. God kom dus sy belofte in Ps. 91 na, sonder dat Jesus eers hoef te vra!

“Die Here jou God moet jy aanbid en Hóm alleen dien.”

Ek sluit af. Hierdie laaste antwoord van Jesus uit Deut. 6 gee vir ons insig in die hart van Jesus. Hy het dié vers nie net aangehaal as ʼn weerstand teen die duiwel nie. Jesus haal die vers aan as ʼn sentrale kern verbintenis in sy lewe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hóm alleen dien.” Dít is wat die Here Jesus gekies het om te doen. Dit is wat Hom gemotiveer het. Dit is wat Hom laat volhard het. Hy wou met sy hele lewe die Here, sy God, aanbid. Hy wou met sy hele lewe die Here, sy God, dien, en Hóm alleen.

Jy kan dus leer by die Here Jesus uit sy hantering van die duiwel in versoeking. Jy kan ook leer om die Bybel te gebruik soos die Here Jesus om die uitdagings in jou lewe die hoof te bied. Maar die belangrikste om daarin te kan volhard, is om ook soos Jesus jou te verbind om: “Die Here jou God te aanbid en Hóm alleen te dien.”

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.