Skip to main content

Deuteronomium 1:31 – God dra jou soos ‘n pa sy seun of dogter dra

Moses by die Beloofde Land

Leef jou in die volgende prentjie in:

  • Moses staan in die woestyn oos van die Jordaan en kyk na Kanaän.
  • Hy weet dat die Here dié land belowe het vir Israel.
  • Hy het veertig jaar saam met die volk getrek om hier te kom.
  • Maar, hy weet ook, hy sal nie hier kan ingaan nie.
  • Hy sal kan sien, hy sal kan praat daaroor, maar hy sal die beloofde land nie kan intrek nie.  Dit is hom nie beskore nie, weens ‘n fout wat hy vroeër gemaak het, ‘n rots wat hy uit woede geslaan het, in plaas daarvan om net te praat.
  • Hy het baie dinge ervaar.  Wonderlike hoogtepunte.  Afskuwelike laagtepunte.

Maar, hy weet, in dit alles het die Here hom begelei.

  • Die Here het op besondere maniere vir hom van die biesiemandjie in die Nyl gelei tot hier by die Jordaanrivier, ’n lewe van rivier tot rivier. 
  • Op pad het hy die beste opleiding moontlik van daardie tyd in die paleis gekry, en in die woestyn by sy skape, en op die berg van die Here. 
  • Hy moes vlug vir sy lewe, omdat hy iemand vermoor het, en omdat die farao se mes vir hom in gehad het.  En hy het die lewe in oorvloed ervaar oral waar hy in God se teenwoordigheid gelewe het.
  • Hy het die braambos ervaring van God se teenwoordigheid gehad, en 40 dae en nagte aan die voete van die Here gesit. Soos min ander mense van sy tyd, eintlik soos geeneen van die mense van sy tyd! die Here van aangesig tot aangesig beleef, selfs God van agteraf gesien …
  • Hy het die 10 plae nie net aanskou nie, maar aangekondig, en die wonder van God se mag ervaar. 
  • Hy het met God gepraat soos ‘n mens met jou pel praat.  Hy het die volk begelei tot hier …

Maar, dit is die einde van sy pad.

Moses neem afskeid

Gelukkig … dit is ook die begin van ‘n nuwe fase vir die volk, ten minste vir dié wat oorgebly het, met die leier Josua, die een wat hy vir hoe lank nou al mentor.

En dan neem Moses afskeid van hulle met drie toesprake wat vir ons in die boek Deuteronomium opgeteken is.  Ek gee dit vir julle in omgekeerde volgorde, omdat ek op die begin gaan fokus:

  1. Hy gee ‘n prentjie van die toekoms, en moedig die volk aan om die Here te vertrou en Hom te dien – hfst. 31-34.
  2. Hy gee vir hulle riglyne hoe hulle kan doen wat die Here van hulle vra – hfst. 4-30.
  3. En hy herinner hulle aan die pad wat hulle gekom het – hfst. 1-3.

En dit is op hierdie eerste aspek van sy 3 toesprake in Deuteronomium wat ek wil fokus, meer spesifiek ook nog, op wat hy in Deut 1:31 sê.

“Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos ’n man sy seun of sy dogter dra.”

God dra sy volk soos ‘n man sy seun of dogter dra

Ek kan aan vier maniere dink waarop God hulle gedra het:

1. Die Here het hulle beskerm van gevare op die Trek

  • Teen farao,
  • deur die Rietsee,
  • met water en kos,
  • deur hulle met ‘n ompad om die groot leërs van daardie tyd te lei,
  • deur leiers
  • Dit was ‘n epiese reis, waaroor boeke geskryf kan word, trouens waaroor baie boeke geskryf is, nie net Eksodus, Numeri en Levitikus nie, maar talle ander in die wêreld.  En die boodskap daarvan is, God het hulle gedra soos ‘n man sy seun of dogter dra deur hulle te beskerm.

2. Die Here het vir hulle Sy stem leer ken in die Tora

  • Sy stem op die berg,
  • Sy wet neergeskryf in die 10 gebooie,
  • Sy geskiedenis neergepen,
  • en nie net bewaar vir die nageslag nie, maar gegee om daagliks mee om te gaan, soos die Here vir Josua inderdaad begelei, om nie net in Sy fisiese teenwoordigheid te probeer kom nie, maar aandag te gee dat Sy Woord in sy binnekant kom deur dit te lees.
  • Só het die Here hulle gedra, soos ‘n pa sy seun of dogter dra, deur hulle Sy woorde te gee om van te lewe.

3. Die Here het hulle Sy teenwoordigheid gegee in die Tabernakel

  • Die wolk,
  • die vuur,
  • die offers vir vergifnis,
  • die raad deur leiers
  • Alles simbole van God se teenwoordigheid, ervarings van Sy nabyheid, motiverings vir die pad wat God vir hulleSó het die Here hulle gedra soos ‘n man sy seun of dogter dra, deur hulle lewens deur Sy teenwoordigheid vol te maak.

4. Die Here het hulle verantwoordelik gehou, sodat hulle geestelik volwasse kon word

  • Deur hulle nie te dwing nie, maar ook nie sonder meer te help nie
  • Dit is waarom die trek 40 jaar geneem het, en nie ‘n jaar nie;
  • dit is waarom hulle self moes veg teen ‘n verskeidenheid van kleiner volke, sodat hulle vertroue in God kon groei,
  • maar ook sodat hulle gereedheid kon groei om te doen wat hulle kan doen.
  • Een insident staan uit, waar hulle teen die Amalekiete (Eks 17) moes veg en Aäron en Hur Moses se arms moes stut sodat hy die kierie van die Here omhoog kon hou, en Josua die oorlog kon
  • Dié oorwinning moes opgeskryf word, sodat Josua en komende geslagte kon lees van wat God doen vir sy mense.
  • Dit sou hulle leer en inspireer, presies soos die Bybel vandag nog doen.
  • Só het die Here hulle gedra, nie net deur hulle op sy skouers te sit, of in sy arms toe te vou nie, maar hulle toe te laat om op hulle eie twee bene te staan en die pad te stap wat die Here vir hulle voorberei het.

God dra my soos ‘n man sy seun dra

In my lewe het ek ook al vier van dié maniere al ervaar, dat die Here my ook dra:

1. Verlede jaar het ‘n dronk ou @ 120 km/u oor ‘n stopstraat ons karEk kan elke detail helder onthou, maar die beste, dat die Here ons beskerm het.  God beskerm ons op plekke waar ons nie in staat is om onsself te help nie. 

God dra my dus ook soos ‘n pa sy seun dra.

2. Die Here se Woord kom op besondere maniere na my.  Elkeen moet leer hoe die Here met hom of haar praat, en ons gaan in Pinkster aandag gee daaraan, maar die besig wees met die Bybel is die primêre manier waarop die Here met my praat.   Net vanoggend het die Here vir my 4 dinge gesê wat eintlik my agenda vir die week bepaal – Prediker 9:

  • Maak van elke maaltyd ‘n kontakgeleentheid;
  • Sorg dat daar elke dag iets feesteliks in jou lewe is (of gee dit ten minste vir iemand anders);
  • Wees lief vir jou vrou/man/maat;
  • Doen alles met absolute oorgawe.

Die Here dra my soos ‘n pa sy seun dra.

3. Net Vrydag het ek gaan sit in die son vir ‘n bietjie Vitamine D en vir ‘n 20 minute net gemediteer oor God se vrede – en dit het my wese vol.  Die Tabernakel is natuurlik lank al nie meer net in die kerk nie.  Reeds in die NT het Jesus gesê dat God enige plek aanbid word, en dat Hy dus enige plek ervaar kan word. 

Die Here dra my soos ‘n pa sy seun dra.

4. Maar, die vierde manier is die moeilikste, waar die Here jou help om geestelik volwasse.  Ek onthou hoe moeilik dit vir my was om aan my doktersgraad te werk.  Male sonder tal wou ek ophou.  Ek het ‘n woord gesoek dat ek dit kan doen.  Al wat ek gehoor het, was werk rustig voort! (Ps 37)  Ek onthou hoe ek soms wou kniel om daaroor te bid, en dan sommer omgedraai en geloop het, omdat ek vooraf geweet het wat die Here gaan sê.

En hoe bly is ek dat die Here my nie uitgelos het nie.  My nie toegelaat het om die weg van die minste weerstand te volg nie.  Want dit het deure in die bediening oopgemaak wat ek daarsonder nie sou gesien het nie. 

Die Here dra my soos ‘n pa sy seun dra.

God dra jou soos ‘n man sy seun of dogter dra

Die Here is vandag nog dieselfde.  Hy is nog op dieselfde manier by ons betrokke.  Hy dra ons soos ‘n man sy seun of sy dogter dra.  Hy is betrokke by jou lewensreis.  Hy staan in vir jou op die plekke waar jy nie kan nie.  Hy praat met jou.  Hy gee vir jou riglyne vir jou lewe.  Hy gee vir jou ervarings van sy teenwoordigheid.  En Hy help jou om geestelik volwasse te word.

Hy sal jou nie los nie, selfs al luister jy op punte nie, selfs al faal jy op ander punte. 

Die Here dra jou soos ‘n man sy seun of dogter dra.

GINFWMY

Preek by Klema
View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.