God die Vader

Hoe dink jy oor God die Vader? Hoe sou jy Hom beskryf?

Baie van ons kyk na God die Vader deur die bril van ons ervaring. Dit beïnvloed ons beskrywing van God as Vader.

As ons eie pa’s ‘n goeie invloed op ons gehad het, dink ons God is soos hulle.

Ek onthou my pa as iemand wat altyd daar was vir my, selfs al het sy werk hom weke op ‘n keer van ons af weg geneem. Hy het moeite gedoen oor naweke, dinge saam met ons gedoen, al ons wedstryde bygewoon. Dit het by my die idee gelaat dat hy altyd daar was.

Natuurlik was my ma ook daar. Trouens, sy het baie keer sy rol vervul. Maar, daar was ‘n baie spesiale plek in my lewe vir my pa.

En ek dink vandag só oor God.

As ons pa’s egter ‘n slegte invloed op ons gehad het, dink ons God is soos hulle. Die ontstellende statistiek in Suid-Afrika is dat 68 % van kinders word gebore sonder ‘n pa wat naby is. Dit het ‘n geweldige impak op die wyse waarop kinders grootword.

Gisteraand het ek en my vrou die nuwe rolprent Capernaum gekyk. Dit handel oor die jong twaalfjarige Zain wat grootword in ‘n omgewing waar beide sy ouers moed opgegee het om iets aan hulle lewe te doen. Met groot gevolge vir hulle kinders.

Zain beland op die straat en maak uiteindelik ‘n saak teen sy ouers. Hy wil nie hê hulle moet meer kinders hê nie. Hulle is nie in staat om ouers te wees nie. ‘n Rolprent wat soos ‘n skop in die maag voel. Trouens, die hartseer hou net nooit op nie.

Ons kyk dus ook deur die bril van ander se ervarings. Die dinge wat ons lees, die flieks wat ons kyk, die wyse waarop pa’s geskets word, dit alles het ‘n invloed op ons. Ons is boonop baie keer uitgelewer aan die ideologieë van die media wat vir ons doelbewus prentjies voorhou wat pa’s sleg uitbeeld.

Maar, ons moet net nie dink dat dit al wyse is waarop ons oor God as Vader mag nadink nie. Dit maak nie saak hoe goed of hoe sleg jou ervaring van aardse pa’s is nie. Dit maak nie saak hoe goed of sleg die media vir jou pa’s voorhou nie.

Selfs jou eie pa, hoe goed hy ook al vir jou gesorg het, is uiteindelik nie ‘n maatstaf van God as Vader nie. Die maatstaf vir sy Vaderskap lê in sy eie openbaring van Homself, in die Bybel en in die verwoording daarvan in die geloofsbelydenisse deur die eeue.

Download the English: God the Father

Verwelkoming

Toetrede

Lied 396

Votum

’n Vader vir wese, ’n beskermer van weduwees; dít is God in sy heilige woning. God gee aan die eensame ’n tuiste; dié wat gevange is, lei Hy na vryheid, maar opstandelinge woon in ’n verlate woestyn.” (Psalm 68:6-7 – NLV)

Seëngroet

Lofprysing en aanbidding

Psalm 146:1,5

Vonkk 130 vers 1,3, 5 en 6 almal; vers 2 vrouens, vers 4 mans

Vonkk 59 vers 1,3,5 (Ukuthula) koor en soliste

Gebed

Kindertyd

Hou julle van die donker?

Ek onthou ‘n keer toe ek al in die skool was. Ons het op ‘n plaas by my oupa gekuier. Maar, ons moes in ‘n buitegebou slaap. My pa-hulle sou ook daar kom slaap, maar hulle het nog in die hoofhuis gekuier.

Ek kon nie lekker aan die slaap raak nie. Die dak het gekraak. Daar was ‘n geritsel in die donker. En ek besluit, ek het my pa nodig. Ek hardloop toe so vinnig as wat ek kan, dit was nogal ver, tot by die hoofhuis. Deur die donker.

En ek klim op my pa se skoot. Weet julle wat sê ek toe? “Ek was niks bang nie!”

Dit is darem lekker om ‘n pa te hê op wie se skoot jy kan gaan sit as jy bang is, nê!

Weet julle wat is wonderlik van God?

Hy is soos ‘n pa. Net, Hy is nie net oop een plek nie. Hy was saam met my in die buitegebou. In die donker. Ek hoef regtig nie bang te gewees het nie. Hy is ‘n pa vir ons. Daarom noem ons Hom Vader. Maar nog beter. Hy is altyd by my. Hy sorg vir my. Hy beskerm my.

En dit doen Hy vir elkeen van ons wat in Hom glo.

Dit is waarom ons van God bely Hy is ons Vader.

By die doop het Hy belowe dat Hy vir julle ‘n Vader wil wees. Dat Hy julle sy seuns en dogters maak.

Julle kan dit glo. Julle kan Hom vertrou. Daar is niks wat met jou kan gebeur, waarvan God die Vader nie weet nie. Hy sal vir jou sorg, maak nie saak wat gebeur nie.

Skriflesing en Prediking

God die Vader deur die bril van ervaring

Hoe dink jy oor God die Vader? Hoe sou jy Hom beskryf?

Baie van ons kyk na God die Vader deur die bril van ons ervaring. Dit beïnvloed ons beskrywing van God as Vader.

As ons eie pa’s ‘n goeie invloed op ons gehad het, dink ons God is soos hulle.

Ek onthou my pa as iemand wat altyd daar was vir my, selfs al het sy werk hom weke op ‘n keer van ons af weg geneem. Hy het moeite gedoen oor naweke, dinge saam met ons gedoen, al ons wedstryde bygewoon. Dit het by my die idee gelaat dat hy altyd daar was.

Natuurlik was my ma ook daar. Trouens, sy het baie keer sy rol vervul. Maar, daar was ‘n baie spesiale plek in my lewe vir my pa.

En ek dink vandag só oor God.

As ons pa’s egter ‘n slegte invloed op ons gehad het, dink ons God is soos hulle. Die ontstellende statistiek in Suid-Afrika is dat 68 % van kinders word gebore sonder ‘n pa wat naby is. Dit het ‘n geweldige impak op die wyse waarop kinders grootword.

Gisteraand het ek en my vrou die nuwe rolprent Capernaum gekyk. Dit handel oor die jong twaalfjarige Zain wat grootword in ‘n omgewing waar beide sy ouers moed opgegee het om iets aan hulle lewe te doen. Met groot gevolge vir hulle kinders.

Zain beland op die straat en maak uiteindelik ‘n saak teen sy ouers. Hy wil nie hê hulle moet meer kinders hê nie. Hulle is nie in staat om ouers te wees nie. ‘n Rolprent wat soos ‘n skop in die maag voel. Trouens, die hartseer hou net nooit op nie.

Ons kyk dus ook deur die bril van ander se ervarings. Die dinge wat ons lees, die flieks wat ons kyk, die wyse waarop pa’s geskets word, dit alles het ‘n invloed op ons. Ons is boonop baie keer uitgelewer aan die ideologieë van die media wat vir ons doelbewus prentjies voorhou wat pa’s sleg uitbeeld.

Maar, ons moet net nie dink dat dit al wyse is waarop ons oor God as Vader mag nadink nie. Dit maak nie saak hoe goed of hoe sleg jou ervaring van aardse pa’s is nie. Dit maak nie saak hoe goed of sleg die media vir jou pa’s voorhou nie.

Selfs jou eie pa, hoe goed hy ook al vir jou gesorg het, is uiteindelik nie ‘n maatstaf van God as Vader nie. Die maatstaf vir sy Vaderskap lê in sy eie openbaring van Homself, in die Bybel en in die verwoording daarvan in die geloofsbelydenisse deur die eeue.

God die Vader deur die bril van die geloofsbelydenisse

Dieper as ons eie ervarings is die beskrywings van God in die Bybel en ons geloofsbelydenisse. Hulle nooi ons uit om aan die enigste ware openbaring van God as Vader vas te gryp. Om daarin vaste grond vir ons voete te vind.

Ek is die afgelope paar maande al besig om in die kleingroepmateriaal en my prediking te fokus op wat ons in die geloofsbelydenisse, ondersteun met ‘n oorvloed Bybeltekste, van God as Vader, Seun en Heilige Gees leer.

Kom ons luister na twee beskrywings van God as Vader daaruit.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis sê in artikel 8:

Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.

God as Vader is die eerste beweger, die eerste oorsaak, die een waar alles begin het, die oorsprong en die begin, nie net van die dinge wat ons kan sien nie, maar van alles wat bestaan, ook die onsigbare dinge.

Dit beteken dat daar niks is in hierdie wêreld wat goed is wat nie van God af kom nie. Natuurlik is Hy nie die oorsaak van die sonde of van die kwaad nie. Hy is immers besig om deur die evangelie van Jesus Christus die sonde en die kwaad uit te wis.

Maar, die wonder is dat Hy tyd, ruimte en materie geskep het. Dat Hy verantwoordelik is vir lewe. Die sigbare lewe en die onsigbare lewe. Die feit dat ons bestaan, is aan God as Vader te wyte.

Dat jy bestaan, dat jy gemaak is, kom nie net van jou eie ma en pa af nie, maar van God af. Hy het jou as sy skepsel gemaak, en in Jesus Christus jou sy kind, sy seun en sy dogter, gemaak. Hy is jou Vader.

Die Heidelbergse Kategismus haak hierby aan en beskryf God se Vaderskap só in vraag en antwoord 26:

1. Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus (Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39; Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes 45:7) … ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is (Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5).

God kies om my Vader te wees ter wille van sy Seun Jesus Christus. Dit is vir my só ‘n wonderlike gedagte. Ek kan God se Vaderskap meet aan hoe Hy ‘n Vader is vir Jesus.  Ek hoef nie ander pa’s te gebruik om God se Vaderskap te probeer meet of beskryf nie. Ek kan kyk na hoe die verhouding tussen die Vader en die Seun is, en daaruit aflei hoe ‘n Vader Hy ook vir my sal wees.

Alles draai daarom natuurlik om my verhouding met Jesus. Want God die Vader is my God en Vader ter wille van sy Seun. God het my aan Jesus voorgestel in die Woord en deur sy Gees die geloof in my hart gewerk, sodat Hy my Vader kan wees!

Dit het die gevolg dat:

2. Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (Ps 55:23; Matt 6:25, 26; Luk 12:22).

Omdat God dus my Vader is, kan ek Hom vertrou. Omdat ek kon sien wat God met Jesus hier op aarde gedoen het, kan ek verwag dat Hy op dieselfde wyse vir my ‘n Vader sal wees.

Ek hoef daarom nooit te twyfel daaraan dat God vir my sal sorg nie. Dat Hy vir my alles sal gee wat vir liggaam en siel nodig is nie. Dit is, vir die tydelik en die ewige bestaan. Vir wat ek hier ervaar, en hierna in die ewigheid. Daar is niks uitgesluit van sy Vaderskap nie. Ek kan Hom met alles vertrou, in lewe en in dood.

Dit beteken verder:

3. Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan en ook as ‘n getroue Vader wil doen (Rom 8:28; Jes 46:4; Rom 10:12; Matt 6:32, 33; 7:9-11).

Die realiteit is dat dinge nie altyd reg verloop nie. Geen wonder nie, want hierdie wêreld is ‘n  “jammerdal”! Hoe raak word dit nie beskryf nie.

Maar, God as Vader, sal al die kwaad, wat Hy oor my beskik, tot my beswil verander. Dit is nie dat God verantwoordelik is vir die kwaad wat oor my kom nie, maar Hy beskik dit wel. Hy laat dit toe.

Gelukkig is dit egter nie al wat Hy doen nie. Hy verander die kwaad tot my beswil. Watter genade. Watter hoop.

Hoekom verander God dit? Want Hy kan, en Hy wil. Hy is die Almagtige God. Hy is die getroue Vader. Hy kan. Hy wil.

God die Vader deur die bril van die Ou Testament

Ek wil twee verhale vertel uit die Bybel wat hierdie waarheid oor God onderstreep.

Die eerste is die verhaal van Dawid in 2 Samuel 7:1-17. Toe Dawid vir die Here ‘n huis, ‘n tempel, wou bou, het die Here Hom só geantwoord deur die profeet Natan geantwoord:

8 Ek self het jou geneem uit die weiveld agter die skape weg, om ’n vors te wees oor my volk, oor Israel; 9 en Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en het al jou vyande voor jou uitgeroei; en Ek sal vir jou ’n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op die aarde is; 10 en Ek sal vir my volk Israel ’n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, 11 naamlik van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Maar Ek sal jou rus gee van al jou vyande; en die Here gee jou te kenne dat die Here vir jou ’n huis sal stig. 12 As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. 13 Hý sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. 14 Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ’n menslike roede en met slae van mensekinders. 15 Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het. 16 En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.

God herinner Dawid daaraan dat Hy vir hom gesorg het vandat hy ’n skaapwagter was. God was oral by hom. God het hom rus gegee van al sy vyande. Hy het vir Dawid ‘n groot naam gegee, soos God reeds aan Abraham beloof het. Hy het vir die volk ‘n plek gegee waar hulle kan woon.

Die Here gaan egter nog verder. Hy belowe dat Hy as ‘n Vader sal optree ook vir sy nakomeling – let op die enkelvoud.

Vers 14: “Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees.”

In die eerste plek verwys dit na Salomo vir wie God ‘n Vader sal wees. Dat Salomo vir God ‘n huis sal bou.

In die tweede plek verwys dit na die Messias wat uit die nageslag van Dawid gebore sal word wat by uitstek sal ervaar dat God vir Hom ‘n Vader sal wees. Dat Hy vir God ‘n seun sal wees. En wat ‘n huis vir God sal bou, ‘n skare gelowiges wat God in waarheid en gees sal aanbid.

Maar, dan is daar ‘n verdere kinkel in die kabel. In die tweede deel van vers 14 staan daar:

“sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ’n menslike roede en met slae van mensekinders.”

Dit beteken in die eerste plek dat God Salomo sal straf as hy verkeerd handel, iets wat ons weet uit die geskiedenis van Salomo se koningskap. Dit het in twee geskeur weens sy liefde vir vroue en perde.

Maar, dit slaan ook op ‘n verskuilde manier op die lyding van die Messias. Nie vir die dinge wat Hy verkeerd gedoen het nie, maar vir die dinge wat die volk van God verkeerd gedoen het. Die slae wat ons verdien, was op Hom.

En dit is alles deel van God se Vaderskap!

Gelukkig is dit nie al wat Natan vir Dawid belowe nie, want in vers 15-16 staan daar:

15 Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie … jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.

God se Vaderskap sluit dus die sorg vir sy mense in, maar ook die straf wat nodig is om dinge tot hulle beswil te verander.

God die Vader deur die bril van die Nuwe Testament

Dit bring ons by die tweede verhaal, dié van Jesus in Getsemane in Matteus 26:36-46, dit wat ons hierdie Donderdagaand gaan herdenk.

37Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword 38en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” 39Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt 26:37-39)

Soos Petrus, Johannes en Jakobus saam met Jesus op die berg van verheerliking was, só het hulle die voorreg om hier eenkant in die tuin saam met Jesus te waak en bid. Hierdie keer is Jesus nie in sy heerlike gedaante nie, maar doodsbenoud.

Jesus gaan ‘n entjie verder en kniel met sy gesig teen die grond en bid tot sy Vader in die hemel: “as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.”

Die realiteit van die straf vir die sonde lê voor die deur. Hy die onskuldige, die een wat nooit sonde gedoen het nie, nie eers in die uiterste omstandighede nie, Hy moet die skuld van die sonde dra. Hy moet die sweep, die doringkroon, die kruis, en die spies in die sy verduur.

As dit moontlik is, Here, Abba­, Vader laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.

Hy maak aanspraak op sy verhouding as kind met sy pa. Pappa, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Hy gaan sit op sy pa se skoot in gebed, en vra dat Hy die lyding gespaar sal word.

Dink jou in wat deur God se Vaderhart gegaan het. Watter effek dit op God die Vader gehad het dat sy Seun dit van Hom vra. Die Een wat alles gedoen het wat Hy as Vader gevra het, wat nooit ‘n voet verkeerd gesit het nie, wat sy gestalte as God prysgegee het en ingestort het in die mensdom tot hulle verlossing. Wat vra vir ‘n stukkie genade voor die grootste uitdaging wat enigiemand nog ooit op aarde gehad het.

Maar, dan bid Jesus ook: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Drie keer het Hy hierdie gebed gebid.

En aan die einde van sy drie gebede het Jesus sy antwoord. Weet Hy wat sy Vader wil hê. Aanvaar Jesus dat hierdie lydensbeker nie by Hom sal verbygaan nie. Dat Hy dit sal moet drink. Hy die onskuldige vir ons ander, die skuldiges voor God.

En Jesus stap na sy dissipels toe en sê vir hulle:

45 “Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. 46Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.” (Matt 26:45-46)

Jesus staar die dood in die oë en aanvaar dit vrywillig. Hy gehoorsaam sy Pa. Ter wille van ons.

God die Vader vir jou vandag

Die vraag wat ons nou vir onsself moet vra, is, wat leer hierdie verhaal ons van God se Vaderskap hier op Palmsondag, aan die begin van Heilige Week?

Met Dawid kon ons sien dat God hom oorlaai het met sy guns. Dat Hy vir Dawid beloftes gegee het wat vir altyd sou hou. Dat God vir hom ‘n koningshuis sou bou. Soos dit inderdaad gebeur het.

Dit lyk ‘n bietjie anders met Jesus. Sy angs is nie besweer nie. Hy kon nie die lydensbeker systap nie.

Val Jesus se lyding dan buite die raamwerk van God se Vaderskap? Het God die Vader Jesus hier in die steek gelaat? Hoekom kon Hy nie hierdie versoek van Jesus toestaan nie? Hoekom kon Hy Jesus nie as Vader vrygespreek het van die drink van die lydensbeker nie?

Wel, die antwoord is, God tree hier ook as Vader op. Hy is besig met ‘n grootste projek. Die verlossing van hierdie wêreld. En die straf vir die sonde moet deur iemand gedra word. Daarsonder sal God se geregtigheid nie bevredig word nie.

En daar is net Een wat dié straf kan dra. Dit is die onskuldige Een wat nooit gesondig het nie. Hy sal die straf vir die sonde moet dra. Elke deel daarvan. Dit is die enigste manier waarop mense losgekoop kan word van die skuld wat op hulle rus weens die erfsonde sowel as die sonde wat hulle self gedoen het.

God die Vader verander die kwaad tot ons beswil

Maar, die belofte is darem ook – en dit sê die Heidelbergse Kategismus so mooi – dat God as Vader, al die kwaad tot ons – let op tot jou! – beswil sal verander. Dit is wat hier besig is om te gebeur met sy Seun. Die straf vir die sonde bring vryspraak vir my.

Maar, dit is ook tot Jesus se beswil. Want daardeur verwerf Hy die hoof posisie in God se nuwe koninkryk!

So, God se belofte van Vaderskap bly van krag regdeur die lyding. Hy sal sy wil laat geskied. Hy sal die reg herstel. Hy sal die sonde uitwis. Hy sal die kwaad verander, tot ons beswil.

Ek kan dus op God vertrou. Beide in situasies waar ek soos Dawid onverdiende guns uit God se hand ontvang. En in situasies waar dit vir watter rede ook al nodig is dat ‘n lydensbeker gedrink moet word.

Ek hoef egter nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie, in voorspoed en in teenspoed.

Dit is wat die verhale in die Bybel vertel. Dit is wat die geloofsbelydenisse bely. Dit is wat jou ervaring ook sal bevestig.

Gebed

Dankoffers

Pie Jesu, koor en ensemble

Slotlied

Lied 464:1,3,4

Seën

Amen

Respons

Lied 314

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Rethie van Niekerk

    |

    Hallo Marita. Ai, jammer dat jy moes sukkel! Ons het wel toilette vir gestremdes, met o.a. ‘n handvatsel teen die muur. Dankie dat jy ons daarvan bewus maak dat dié toilette nie duidelik gemerk is nie! Ons sal plan maak!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Marita. Dit is ‘n goeie idee. Ons sal aandag gee. Dankie!

  • Avatar

    Marita Kotze

    |

    Ek is bejaard, nie heeltemal rolstoel gebonde nie, maar sukkel om van ‘n lae toilet af op te staan. Ek het Dinsdagaand se pragtige musiek konsert baie geniet, maar moes hulp vra om van sie toilet af op te kom. Tuis kan ek op die bad se rand druk om op te staan. Dit het nie vir my gelyk of u maklik ‘n toilet vir gestemdes kan installer nie, maar vir mense soos ek kan ‘n handvatsel teen die muur of sels ‘n ingeboude toiletrol houer of selfs ‘n stewige houer vir gebruikte sanitere dovekies groot verleentheid bespaar. Baie dankie,
    Marita Kotze

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Fransina

    Twee mans was op die opstandingsdag van Jerusalem na die dorp Emmaus op pad, so 12 km van Jerusalem af. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat hulle gehoor het van die opstanding.

    Jesus kom dan self nader en loop saam met hulle. Hulle het Hom egter nie herken nie, want Jesus het dit verhoed.

    Jesus vra dan waaroor hulle praat en waarom hulle hartseer is.

    Een van hulle, Kleopas, vra dan vir Jesus hoe dit moontlik is dat Hy nie weet wat gebeur het nie. Hy vra, nou watter dinge?

    Dan antwoord hulle dat hulle praat oor die dinge van Jesus, die man van Nasaret, wat ‘n profeet was en kragtige werke en woorde voor God en die hele volk gelewer het. Die owerpriesters en owerstes het Jesus egter die doodstraf opgelê en Hom gekruisig.

    Dan praat hulle oor die hoop wat hulle gehad het dat Jesus Israel sou verlos, maar nou is dit al die derde dag, en hulle het Hom nie gesien nie. Net gehoor dat ‘n paar vroue nie sy liggaam by die graf kon kry nie, en toe by engele gehoor het dat Hy lewe.

    Van die mans het gaan seker maak dat dit so is – Petrus en Johannes – en agter gekom dat die graf leeg was, maar vir Jesus het hulle nie gesien nie.

    Dan berispe Jesus hulle omdat hulle so dom is, en boonop traag is om te glo wat juis die profete oor die Christus geskryf het. Jesus wys dan vir hulle uit die wet en die profete en die res van die OT dat al die dinge wat hulle vir Hom vertel, daar staan. Dat die Christus moet ly vóór Hy in die heerlikheid kan ingaan.

    As hulle by Emmaus kom teen die aand se kant, wil Jesus verder stap, maar hulle vra dat Hy by hulle oorbly en saam met hulle eet.

    Jesus neem dan die brood aan tafel en dank die Here daarvoor. Toe Hy dit breek en aan hulle uitdeel, maak Hy hulle oë oop dat hulle Hom kan herken. Met dít verdwyn Hy uit hulle gesig.

    Hulle opgewondenheid het nie perke geken nie en hulle herinner mekaar daaraan dat hulle harte al begin brand het toe Hy die Skrifte vir hulle uitgelê het.

    Hulle reis onmiddellik terug Jerusalem toe en vertel vir die elf dissipels – dit sluit dus Thomas in – en die ander wat saam met hulle bymekaar was wat met hulle gebeur het. Dié op hulle beurt vertel vir die twee van Emmaus dat Jesus – hulle noem Hom Here – waarlik opgestaan het en aan Simon, dit is Petrus, verskyn het.

    Groete

    Chris

  • Avatar

    Fransina Hashipala

    |

    Goeie dag Pastoor Chris ek wil die storie van die Emmausganger mooi verstaan kan u asb vir my net biekie inlig.