Skip to main content

Maak reguit paaie vir jou voete – Jesaja 35:1-10 en Hebreërs 12:12-13

Ek onthou die opwinding van ‘n wandelpad. Die voorbereiding. Die beplanning van die roete. Die bymekaar maak van mense saam met wie jy gemaklik voel om te stap. Die skoene. Die rugsak. Die toerusting. Die proviand.

‘n Bietjie anders as in diensplig. Daar was dit vasbyt. Aftjop. Baie lank stap. Geen hutte. Reën. Koud. Warm. Stof. Blase op die voete. Veral die “hel” sal my bybly. Gamkaskloof. Met ‘n gebreekte toon daardeur.

Wat ‘n vreugde om daarna die Hottentots-Holland berge te betree. 12 km ipv 50.  Baie water. Uitstekende hutte. Die pragtige Outenikwa en die boomryke Tsitsikamma. Die korter roete van Harkerville en die effens moeiliker roete in die Drakensberg. Met die leer op na Mont-Aix-Sources. Die pragtige uitsig van bo die Tugela waterval af oor die amfiteater.

Talle lesse geleer. Lewenswysheid. Ek onthou een stapmaat wat ‘n bietjie gesukkel het. Die aande in die hutte het sy eenvoudig gaan sit en kon nie weer opstaan nie. En dan die versoeke aan haar man: “JP, as jy my baie lief het …” Dan is dit vir water. Dan vir iets anders. En JP was ewe gedwee lief vir haar.

Jy sal jou eie ervarings hê van wandelpaaie. Sommige herinneringe sal goed wees. Ander minder goed. Maar, onaangeraak is ‘n mens nie op só ‘n wandelpad nie.

Jesaja praat in hoofstuk 34-35 oor twee wandelpaaie. Die een goed. Die ander skrikwekkend sleg.

Download the English translation: Make straight paths for your feet

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Aankondigings

Dit is vandag Advent 4, die viering van ons vreugde in hierdie Kersgety. Goeie nuus van ons sendelinge – Hugo Wolmarans

Toetrede

Vonkk 414:1-3 Kom besing die kersgebeure die heil’ge nag (sit)

Votum en seëngroet

Lofprysing

Lied 344:1-3 O die goeie tyding (staan)

Lied 345:1-2 Kom, alle getroues (staan)

Toewyding

Lied 358:1-3 Welkom, o stille nag van vrede (sit)

Dankoffers

Voorbidding

Skriflesing en prediking

Maak reguit paaie vir jou voete – Jesaja 35:1-10 en Hebreërs 12:12-13

Foto deur Maël BALLAND van Pexels

Wandelpaaie

Ek onthou die opwinding van ‘n wandelpad. Die voorbereiding. Die beplanning van die roete. Die bymekaar maak van mense saam met wie jy gemaklik voel om te stap. Die skoene. Die rugsak. Die toerusting. Die proviand.

‘n Bietjie anders as in diensplig. Daar was dit vasbyt. Aftjop. Baie lank stap. Geen hutte. Reën. Koud. Warm. Stof. Blase op die voete. Veral die “hel” sal my bybly. Gamkaskloof. Met ‘n gebreekte toon daardeur.

Wat ‘n vreugde om daarna die Hottentots-Holland berge te betree. 12 km ipv 50.  Baie water. Uitstekende hutte. Die pragtige Outenikwa en die boomryke Tsitsikamma. Die korter roete van Harkerville en die effens moeiliker roete in die Drakensberg. Met die leer op na Mont-Aix-Sources. Die pragtige uitsig van bo die Tugela waterval af oor die amfiteater.

Talle lesse geleer. Lewenswysheid. Ek onthou een stapmaat wat ‘n bietjie gesukkel het. Die aande in die hutte het sy eenvoudig gaan sit en kon nie weer opstaan nie. En dan die versoeke aan haar man: “JP, as jy my baie lief het …” Dan is dit vir water. Dan vir iets anders. En JP was ewe gedwee lief vir haar.

Jy sal jou eie ervarings hê van wandelpaaie. Sommige herinneringe sal goed wees. Ander minder goed. Maar, onaangeraak is ‘n mens nie op só ‘n wandelpad nie.

Jesaja praat in hoofstuk 34-35 oor twee wandelpaaie. Die een goed. Die ander skrikwekkend sleg. In Jesaja 34 praat hy oor die slegte pad van die nasies. Omdat hulle Hom nie erken nie, omdat hulle na Hom nie luister nie, sê Jesaja 34:

“die toorn van die Here is oor al die nasies … Hy het hulle oorgegee om geslag te word … hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet, want die Here hou ’n dag van wraak … sy land word een stuk brandende teer … die pelikaan en die krimpvarkie neem dit in besit, en die uil en die kraai woon daarin. En Hy sal die riglyn van woestheid daaroor span en die skietlood van vormloosheid … En sy paleise word begroei met dorings, brandnetels en distels sal in sy vestings wees. En dit sal ’n lêplek van jakkalse, ’n verblyf vir die volstruise wees … tot in ewigheid sal hulle dit besit, van geslag tot geslag daarin woon.”

Hulle land word een stuk “brandende teer”

Edom word hier as ‘n voorbeeld van die nasies gebruik. Die land van die nasies, sê Jesaja, word soos “brandende teer”. Watter verskriklike beeld. Dit is soos ‘n wandelpad wat verander in “brandende teer”. Jy kan nie jou voet daarop sit nie. Jou pad uit die gemors waarin jy jouself laat beland het, word afgesny. Geen beweging is meer daarop moontlik nie. Alles het gestol in ‘n brandende massa. Die wilde diere neem die res van die land in besit. Vasgevang in verwoesting en vormloosheid is daar vir die nasies geen pad uit meer moontlik nie. Die dorings, brandnetels en distels vang hulle vas. En vir ewig sal hulle die onherbergsame “brandende teer” land besit. Vir altyd daar moet woon. Daar waar die bose floreer – die veld- of harige bokgode en Lilith, die naggees, ‘n demoon wat met seksuele afvalligheid geassosieer word.

Soos Peterson parafraseer: “demons and devils dance through the night. The night-demon Lilith, evil and rapacious (gulsig!), will establish permanent quarters.”

Ons sal nooit die verlossing van die Here reg kan verstaan as ons dié boodskap nie goed hoor en ter harte neem nie.

Verlossing is om gered te word van ‘n gewisse dood, van ‘n manier van lewe wat eindig in “brandende teer”, in ‘n doodloopstraat, in die greep van duiwels en demone, in die greep van boosheid en gulsigheid.

Verlossing is om die genade te ontvang om die pad uit die verwoesting en verydeling raak te sien en jou voete daarop te sit op pad na die toekoms wat God beplan.

Hoe lyk die toekoms wat God beplan vir dié mense wat aan Hom gehoorsaam is?

Jesaja 35 sê:

1Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing;

2dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die Here, die sieraad van onse God.

5Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word.

6Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.

7En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies.

9Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel;

Water vloei in die woestyn

Jesaja roep almal op wat na die Woord van God luister, om mekaar te bemoedig met die boodskap van God se ingrype en teenwoordigheid.  God bring verandering. Hy bring verlossing. God oordeel wel die vyande, maar Hy red die wat swaarkry: die blindes, dowes, lammes en stommes. Dié wat hulle vertroue op Hom plaas.

Die gevolg is dat die water vloei in die woestyn. Dat al die gevare verdwyn, en uitbundige vreugde losbars uit die skare, die oorblyfsel wat die Here gered het van die “brandende teer”, van ‘n gewisse dood.

Maar, midde-in dié loflied, moet ons raaksien dat die volk van God nie sonder hulle medewerking hierdie vreugde van verlossing sal ervaar nie.

Let op hoe Jesaja sê in vers 3-4:

3Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas. 4Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie.”

Vertroue en gehoorsaamheid

Daar is ‘n innerlike vertroue wat op die Here staatmaak om ons dié verlossing te laat beleef. ‘n Vertroue wat ons harte tot bedaring bring met die wete dat die God wat ons dien magtiger is as die vyande. Waar ons in geloof ons toevlug neem tot God en in Hom ons veiligheid kry.

Soos Spreuke sê: “23Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” (Spr 4:23)

Daar is egter ook ‘n praktiese gehoorsaamheid nodig waar ons nie net op ons hart fokus nie, maar ook op ons hande en knieë. Waar ons die slap hande versterk, en die struikelende knieë vasmaak.

Dié van julle wat al ‘n paar wandelpaaie gestap het in die land sal weet, dit is jou knieë wat swaarkry as jy op en af sukkel. En jy moet seker maak dat jou skoene reg is, jou sak nie te swaar nie, jou pas nie te vinnig of te stadig nie, en dat jy bly fokus op die volgende tree, sodat jy nie ‘n knie of ‘n enkel swik en jou hele staptog in gedrang kom nie.

Maar, jy kan dit net doen, as jy die vertroue het dat God jou verlos het, dat Hy jou geroep het, dat Hy jou sal versterk en laat volhard.

Want, die Here roep ons na ‘n ander bestemming as dié van die nasies. ‘n Bestemming waar ons die “brandende teer” van die bestemming van die nasies sal ontwyk. Jesaja stel dit só in vers 8:

8En dáár sal ’n grootpad wees en ’n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel—selfs die dwase sal nie dwaal nie.

Die “heilige weg”

Die wandelpad van God word ‘n “heilige weg” genoem. Dit is die pad van heiligmaking, soos ons in Hebreërs 12 verder sal lees.

En ons moet hoor wat Jesaja sê: “geen onreine sal daarop voorttrek nie”. Moenie die valse evangelie glo van dié wat sê dat dit nie saak maak hoe ‘n mens lewe nie. Dat almal en alles aanvaarbaar is vir die Here, maak nie saak of hulle Hom gehoorsaam of nie. Dit is ‘n infame leuen.

Maar, tegelykertyd ook, hoor die genade van dié teks. Want God belowe, vir dié wat hulle met hart, en hand en knieë op dié pad sal begeef: dat “selfs die dwase nie sal dwaal nie!” Dit is die belofte van God vir elkeen wat dit waag om Hom te vertrou en gehoorsaam.

En wat sal hulle uiteinde wees? Jesaja sê in vers 10:

10en die losgekooptes van die Here sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.

Ewige vreugde en blydskap

Dit is by hierdie visie van Jesaja wat die skrywer van Hebreërs aansluit en ons oproep tot die pad van heiligmaking.

Hy doen dit met die voordeel van die feit dat die Messias al gekom het, dat Hy gewys het dat Hy omgee vir die blindes, dowes, lammes en stommes, soos Jesaja 35 voorspel het. Dat verandering moontlik is, dat die nuwe wandelpad van God geskep is, die “heilige weg” van Jesaja. Dan vervolg die Hebreërskrywer in hoofstuk 12:

1Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

2die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

Vestig jou oog op Jesus

Dit is die eerste beginsel van die Christelike wandelpad. Jesus en wat Hy vir ons reggekry het. Hy is die Leidsman en die Voleinder van dié geloof. Hy heers nou aan die regterkant van die troon van God. Hy bid vir ons en deur sy Gees bemoedig Hy ons vir ons stryd.

Dit is op hierdie Jesus wat ons ons oog gevestig moet hou. Daar is baie ander wat die wedloop al voltooi het wat ons aanmoedig. Maar, ons moet Jesus voor oë hou. Inspirasie put uit sy volharding, sy oorwinning, sy heerskappy.

Die tweede beginsel is dat ons opgeroep word tot heiligmaking. En die Hebreërskrywer gebruik die woorde uit Jesaja 35 om dit vir ons te onderstreep:

12Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;

13en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

14Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

Jaag die heiligmaking na

Die hande staan vir ons persoonlike verantwoordelikheid. Om verantwoordelikheid te neem en dit nie af te skuif óf op ander óf op ons omstandighede nie.

Ons knieë staan vir ons persoonlike volharding. Om seker te maak dat ons nie vou onder die druk nie. Om uit te hou en aan te hou, teen die steiltes op, en die steiltes af.

Daarvoor het ons reguit paaie nodig, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

Forrest Gump

Daar is ‘n toneel uit die fliek Forrest Gump wat hierdie proses goed illustreer. Julle onthou die verhaal van die effe vertraagde, maar goedhartige Forrest uit Alabama. Aan die begin van sy lewe sien ons hom met beenstutte omdat hy sukkel om reg te loop.

Hy woon alleen saam met sy ma. Forrest word dikwels geboelie vanweë sy liggaamlike gestremdheid en lae intelligensie. En ‘n mens kry hom jammer met die ongemaklike beenstutte wat eintlik lyk asof dit sy bewegings strem eerder as wat dit help.

Maar, dan terwyl hy eendag van ‘n paar boelies vlug, kry hy dit reg om as’t ware deur sy stutte te breek, en met spoed aan die hardloop te gaan. Kyk gerus na hierdie kort video daarvan.

Dit is wanneer ‘n mens agter kom dat Forrest ‘n baie vinnige naloper is. Sy stutte het sy bene toegelaat om sterker te word sodat hulle uiteindelik genees is.

Hierdie talent laat hom uiteindelik in 1963 ‘n voetbalbeurs van die Universiteit van Alabama ontvang. Hy word ‘n top agterspeler, word gekies tot die “All-American team”, en ontmoet uiteindelik president John F. Kennedy in die Withuis.

Sy vermoë om te hardloop is ‘n deurlopende tema in die rolprent. Selfs in die oorlog in Vietnam waar hy talle van sy makkers red toe hulle in ‘n lokval gelei word, en hy hulle uitdra na veiligheid. Sy beenstutte het hulle werk goed gedoen!

Maak reguit paaie vir jou voete

Hebreërs sê, maak reguit paaie vir jou voete dat wat kreupel is, nie uit lit uit raak nie, maar gesond.

En jy kan self dink aan die praktiese toepassing daarvan in jou eie geestelike lewe. Daar is die drie groot versoekings in die lewe: money, sex and power. Gierigheid, losbandigheid, en mag.

Job sê, hy het ‘n verbond met sy oë gesluit om nie na ‘n jongmeisie te kyk om haar te begeer nie (Job 31:1). Hy het die reguit pad gekies vir sy oë.

Josef het weggevlug van Potifar se vrou, al het dié pad hom in die tronk laat beland. Maar, dit is waar hy die pad gevind het wat na die troon gelei het. Josef kon aan die einde van sy lewe vir sy broers sê, julle wou my kwaad aandoen, soos Potifar se vrou natuurlik ook wou doen, maar die Here het iets goeds met my lewe bedoel. Josef het die reguit pad gekies.

Jesus het néé gesê in die woestyn vir die kort pad van die duiwel na roem en eerder gekies om die reguit pad te loop wat God vir Hom bepaal het. Al het dié pad deur die kruis geloop. Want die vreugde van verlossing wat God deur sy lewe beplan het, was vir hom belangriker as die kortstondige genot in die woestyn wat hy sou beleef het, as hy van honger sou stil deur brode uit die klippe te maak.

Soos Spreuke sê: “25Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. 26Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. 27Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.” (Spr 4:25-27)

En die Hebreërskrywer voeg ‘n derde beginsel daarby dat ons nie net aan ons eie belang moet dink nie, maar ook aan dié wat saam met ons op die pad is:

15en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.

Pasop vir die “wortel van bitterheid”

Ons moenie net reguit paaie maak vir ons eie voete nie. Nee, ons moet ander help wat sukkel sodat hulle nie in die genade van God veragter nie.

Een van die goed wat mense strem op die pad van heiligmaking is ‘n “wortel van bitterheid” – rhiza pikrias in die Grieks – wat opskiet en onrus verwek in die geloofsgemeenskap en baie daardeur besoedel word. Soort van die omgekeerde van die “wortel van Isai” uit Jesaja 11 waarvan die loot, Jesus, vir baie tot die lewe lei.

Die “wortel van bitterheid” dui op mense wat ‘n afkeer kry aan die pad van heiligmaking. Mense wat aanstoot neem, wat die pad van heiligmaking verwerp en dit begin haat (Rom 3:14; Ef 4:31; Kol 3:19).

Die agtergrond vir dié metafoor is in Deuteronomium 29:18-20:

18Pas op dat daar nie dalk onder julle ’n man of ’n vrou, ’n familie of ’n stam is wat vandag afvallig word van die Here ons God en die gode van daardie nasies gaan dien nie. As daar so iemand is, so ’n gifwortel wat alles kan vergiftig, 19kan hy homself dalk probeer gerusstel wanneer hy hierdie woorde hoor, en kan hy dalk sê: ‘Ek is veilig al volg ek my eie harde kop.’ Maar dit sal lei tot ellende en swaarkry, 20want die Here sal nie so iemand wil vergewe nie. Die toorn, die verontwaardiging van die Here, sal teen so iemand ontbrand en elke vloek wat in hierdie boek opgeteken is, sal hom tref.”

Mense wat die pad van heiligmaking verwerp eindig in losbandigheid en onheiligheid, sê die Hebreërskrywer in die volgende vers met verwysing na Esau.

Drie beginsels

Kom ek som op. Die drie beginsels wat die Hebreërskrywer vir ons gee is dus:

  1. Hou die oë op Jesus.
  2. Maak reguit paaie vir jou voete.
  3. Sorg dat daar nie ‘n wortel van bitterheid opspring nie.

Hoekom?

Ons is op pad na ‘n ewige toekoms

Want, ons is op pad na ‘n ewige toekoms, sê die Hebreërskrywer. En weereens baseer hy sy boodskap op Jesaja 35. Ons is op die “heilige weg” na die eindpunt van ons geloof, die berg Sion, die stad van die lewende God:

22Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele,

23by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges,

24en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.

25Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.

28Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.

29Want onse God is ’n verterende vuur.

Ons reis op die “heilige weg”

Ons is op reis, op die “heilige weg”, na die heilige stad, Jerusalem.

Dit vra van ons ‘n innerlike vertroue op die Here. Waar ons ons harte tot bedaring bring met die wete dat die God wat ons dien magtiger is as die vyande. Waar ons in geloof ons toevlug neem tot Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, en in Hom ons veiligheid kry.

Dit vra van ons ook ‘n praktiese gehoorsaamheid waar ons nie net op ons hart fokus nie, maar ook op ons hande en knieë. Waar ons die slap hande versterk, en die struikelende knieë vasmaak. Waar ons reguit paaie maak vir ons voete.

Waar ons persoonlike verantwoordelikheid neem vir ons heiligmaking. Waar ons ons toespits op persoonlike volharding. Om seker te maak dat ons nie vou onder die druk nie. Om uit te hou en aan te hou, teen die steiltes op, en die steiltes af.

Waar ons ons instel om niemand agter te laat nie. Almal saam op pad …

Gebed

Slotlied

Lied 367 Ere aan God (staan)

Seën en Respons

Lied 358 Refrein: Kersfees kom, Kersfees kom – gee aan God die eer. Skenk ons ‘n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.