Lukas 6:6-11 – Jesus en die man met die gebreklike hand

RespekteerVooroordele wurg tans ons gemeenskap tot stilstand.  Dit is my oortuiging as ek oor die gebeure van die afgelope tyd reflekteer.  Mense skiet mekaar af op grond van vooroordele wat hulle oor ander het.  Dit is veral sigbaar op die sosiale media, en nie net in die direkte woorde wat mense gebruik nie, maar ook in die insinuasies en onderliggende aannames oor ander.

Die impak daarvan is groot – bedoeld of onbedoeld, verdiend of onverdiend.  ‘n Hele paar mense het al hul werk verloor, ander moes hulle huise verlaat, kinders lei daaronder, klagtes is oor en weer gelê, en daar is ‘n oorvloed van artikels wat geskryf word om veral die rassistiese ondertone van baie van die sosiale kommentaar uit te lig en te verklaar.

Ons het regtig ‘n uitkoms uit hierdie onverkwiklike vertekening van mekaar en die duidelike impasse in die versoeningsproses in ons land nodig.  Ons vooroordele oor mekaar moet afgebreek word, anders sal ons land in vlamme opgaan.

En dit is nie net daarbuite in die gemeenskap waar vooroordele mense bedreig nie.  Vooroordele is ook sigbaar in die kerk, in die wyse waarop ons veral nuwe mense of mense wat anders as ons dink, hanteer.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS (Word: Afrikaans + English; PowerPoint)

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Verwelkoming

  • Nuwe intrekkers verwelkom (sakkies). Nooi mense uit om in die portaal uit te reik na nuwe mense.
  • Nuwe mense welkom in konsistorie om by kleingroepe in te skakel. Toerusting vir kleingroepleiers in die gebruik van die materiaal.
  • Prof Koos Vermaak, Magriet Honniball se pa is oorlede. Mike Muller doen die begrafnis uit ons kerk op Dinsdag 19 Januarie om 14:00.

Toetrede

Flam 21 – In die hemel is die Heer – sit (groep)

Votum en Seëngroet

Lofsang en aanbidding

Lied 159:1 God is hier teenwoordig – staan (orrel)

Psalm 146:1,4 Prys die Here, loof en prys Hom – staan (orrel)

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Verootmoediging

Lukas 5:27-32

27Daarna het Jesus uitgegaan en ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.”

28Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.

29Levi het ’n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en ’n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit. 30Die Fariseërs, en veral die skrifgeleerdes onder hulle, het by sy dissipels gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”

31Toe antwoord Jesus hulle: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. 32Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.”

Lied 332:1,2 God se liefde, so oneindig, sien die nood van sondaars raak – sit (orrel)

Gebed

Flam 87 Maak my nou stil, Heer (vertaling van Open my eyes, Lord) – sit (groep)

Skriflesing

Lukas 6:6-11

6Op ’n ander sabbatdag het Jesus weer in die sinagoge ingegaan en die mense geleer. Daar was ’n man met ’n gebreklike regterhand. 7Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy op die sabbatdag iemand sou gesond maak sodat hulle ’n aanklag teen Hom kon kry. 8Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Staan op en kom staan hier in die middel.” En hy het daar kom staan.

9Toe sê Jesus vir hulle: “Nou vra Ek julle: Mag ’n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?”

10Nadat Hy almal rondom Hom aangekyk het, sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.”

11Hy het dit gedoen, en sy hand was gesond. Maar hulle het rasend van woede geword en onder mekaar geredeneer oor wat hulle Jesus sou aandoen.

Inleiding (kindertyd)

Annelet verwelkom, veral graad eens

Flam 78 God is goed, Hy lewe! – staan (groep)

Integrasie

Vooroordele wurg tans ons gemeenskap tot stilstand

Vooroordele wurg tans ons gemeenskap tot stilstand.  Dit is my oortuiging as ek oor die gebeure van die afgelope tyd reflekteer.  Mense skiet mekaar af op grond van vooroordele wat hulle oor ander het.  Dit is veral sigbaar op die sosiale media, en nie net in die direkte woorde wat mense gebruik nie, maar ook in die insinuasies en onderliggende aannames oor ander.

Die impak daarvan is groot – bedoeld of onbedoeld, verdiend of onverdiend.  ‘n Hele paar mense het al hul werk verloor, ander moes hulle huise verlaat, kinders lei daaronder, klagtes is oor en weer gelê, en daar is ‘n oorvloed van artikels wat geskryf word om veral die rassistiese ondertone van baie van die sosiale kommentaar uit te lig en te verklaar.

Ons het regtig ‘n uitkoms uit hierdie onverkwiklike vertekening van mekaar en die duidelike impasse in die versoeningsproses in ons land nodig.  Ons vooroordele oor mekaar moet afgebreek word, anders sal ons land in vlamme opgaan.

En dit is nie net daarbuite in die gemeenskap waar vooroordele mense bedreig nie.  Vooroordele is ook sigbaar in die kerk, in die wyse waarop ons veral nuwe mense of mense wat anders as ons dink, hanteer.

Ons as gemeente is nie hoog op insluiting en ‘n behoort-ervaring nie

Somerstrand-profielEn dit is nie maar net ek wat só sê nie.  Hierdie gemeente het dit verlede jaar self dit met die  invul van die erediensbywonersvraelys gesê.  Die verslag wat ons hierdie jaar ontvang het, en wat ons binnekort met die gemeente sal behandel, dui waarskynlik in daardie rigting.

Ons gereelde erediensbywoners, dit is nou die meeste van julle wat hier sit, het laasjaar in September gesê, ons as gemeente is hoog op innovasie, ons is hoog op dienslewering, ons aanbidding is goed, en daar is baie waardering daarvoor.  Maar, het julle ook gesê, ons is nie só hoog op insluiting nie.  En daarmee saam, ons gevoel van behoort-aan is nie so hoog nie.

Wat beteken dit?  Dit beteken dat ons erediensbywoners – 15 jaar en ouer – nie voel hulle word ingesluit en deel gemaak van wat hier aangaan nie.  En dit is nie net nuwe mense wat so voel nie.  Dit is ook van ons gereelde erediensbywoners wat so dink.

  • Die ervaring kan jou eie wees – jy voel nie ingesluit nie – soos twee vrae in die vraelys gelui het: Ek voel ‘n sterk band met die gemeente. En dieselfde met die NG Kerk in die breë.
  • Dit kan ook wees hoe jy jou eie rol ervaar – jy sluit nie ander in nie – hetsy of jy self nie genoeg doen om nuwelinge in te skakel nie, of dat jy nie vrymoedigheid het om mense na die gemeente toe te nooi nie, soos twee ander vrae in die vraelys gelui het.

En ek wonder of vooroordele nie deel hiervan is nie?  Dat wat ons in ons samelewing sien – dat vooroordele die gemeenskap tussen mense beduiwel – nie ook hier by ons ‘n effek het nie.  Is dieselfde nie maar ook van ons waar nie?  Dat daar vooroordele tussen generasies en ouderdomme is, tussen mense met verskillende lewenstyle, tussen mense vir wie gender belangrik is, en ander wat dit weer nie raaksien nie, tussen mense met verskillende vlakke van geleerdheid, mense van verskillende taal-, en kultuurgroepe.

Ons sal beter moet gesels hieroor, en ons sal waarskynlik gesprekke hieroor vanuit die luisterspan reël, maar ek dink dat vooroordele deel van dié redes gaan wees, waarom dit nie so goed gaan met insluiting van ander en die ervaring van “ek hoort hier”.  Klein en groot.  Jonk en oud.  Mans en vroue.  Ryk en arm.  Afrikaans en Engels.

Die vraag is – en ons sal diep hieroor moet gesels – hoe kry ons dit reg om ‘n insluitende gemeenskap te word?  Hoe kry ons dit reg dat mense voel, maar hulle hoort hier, dit is hulle gemeente?  Hoe kry ons dit reg om die ervaring te skep dat ons as een gemeente funksioneer, al is ons baie divers, en baie verskillend.

Kruis-groep vriendskappe

Ek dink een manier is om te sorg dat ons vooroordele teenoor mekaar afgebreek word.  Dat ons die “mental models” wat ons oor mekaar het, moet deurbreek, en verander.

Hoe word vooroordele afgebreek?  Deur kruis-groep vriendskappe.  Dit is wat die sosiale wetenskappe vir ons sê.  En dié navorsing sit agter die Seisoen van Menswaardigheid van die NG Kerk.  Ons is oortuig dat ons net mekaar se menswaardigheid sal kan erken, as ons deur kruis-groep vriendskappe die vooroordele wat ons teenoor mekaar het, begin afbreek.

Ek kan lank daaroor uitbrei, en sal te gelenertyd miskien iets meer daaroor beskikbaar stel, maar net dié paar opmerkings daaroor.

Die sosiale sielkundiges Thomas Pettigrew (Universiteit van California, Santa Cruz) en Linda Tropp (Universiteit van Massachusetts Amherst) het hulle fenominale boek – When Groups Meetthe dynamics of intergroup contact (2011. Psychology Press: New York) die resultate van 515 studies in sosiale sielkunde opgesom. Dit is navorsing wat in meer as 36 lande gedoen is, waarvan 51% gefokus het op ras of etnisiteit.

Die fundamentele vraag wat hulle gevra het, was, breek intergroep kontak vooroordele af of bou intergroep kontak vooroordele?  Die breë konsensus van die navorsing – 94% van die studies – het bevestig dat intergroep kontak vooroordele afbreek en nie bou nie, selfs waar groepe van mekaar geïsoleer is in terme van kultuur of selfs woongebiede, soos die geval nog steeds grotendeels is in Suid-Afrika.

Ek haal twee van hulle bevindings aan:

  • Vooroordele word verminder as daar gelyke status kontak tussen meerderheid- en minderheid groepe is in die fokus op gemeenskaplike doelwitte. Dit help veral baie as dit deur instansies gesanksioneer word (bv. deur wette, gewoontes, of die skep van atmosfeer).  “Prejudice may be reduced by equal status contact between majority and minority groups in the pursuit of common goals.  The effect is greatly enhanced if this contact is sanctioned by institutional supports (i.e. by law, custom, or local atmosphere), and provided it is of a sort that leads to the perception of common interests and common humanity between members of the two groups.”
  • Positiewe groepskontak skep nie net kruis-groep vriendskappe nie, maar versterk mense se bereidheid om sulke kontak ook in die toekoms na te jaag. “Positive contact experiences may not only facilitate close ties across group boundaries, but more broadly they may reinforce people’s willingness to engage in future contact that can serve to facilitate future cross-group interaction.”

Dit beteken, dat as ons die waarheid hiervan aanvaar, ons as gemeente moet fokus daarop om vriende met mekaar te word veral oor die grense wat ons van mekaar skei.  Ons as leiers moet ook op alle maniere help dat dit moontlik raak vir julle, en ons wil onsself daartoe verbind.

Kruis-groep kontak – bv. tussen ouer mense en jonger mense, of tussen mense van verskillende kulture – het só ‘n groot impak, dat dit die persepsies nie net oor die mense met wie jy kontak het, verander nie, maar ook jou persepsies oor ander mense wat nie deel is van die kontak met jou nie.  D.w.s., jy begin anders dink oor ouer mense of jonger mense in die algemeen, of oor mense van ‘n ander kultuur, selfs nog voor jy direkte kontak het met hulle.  Hulle noem dié fenomeen: “the-friend-of-my-friend-is-my-friend” wat deel is van die sielkunde van interpersoonlike verhoudings.

Staan op en kom staan hier in die middel.

Hoekom is dit so belangrik?  Want, dit is wat die evangelie vir ons wys.

Dit is wat ons op soveel wyses in Jesus se bediening raaksien.

En in die vroeë kerk was dit een van die groot dinge waarop gefokus is – om mense van verskillende kulture, van verskillende tale, van verskillende agtergronde vriende van mekaar, geloofsgenote van mekaar, te maak.

‘n Mens kan maar net die verhaal van die kerk in Handelinge uit daardie hoek naspeur, en dit sal vir jou glashelder uitstaan.  Ek herinner julle aan Rethie se preek oor die storie van Samaria waaroor sy verlede week uit Handelinge 8 gepreek het.  En dié storie kan verder in Handelinge 10 (Italiane kom by), Handelinge 11 (Siriërs kom by), Handelinge 13 (Sipriote kom by), Handelinge 14 (Turke kom by) en Handelinge 15 (alle heidennasies kom by) verder nagespeur word.

Hier in Lukas 6 word die verhaal van die man met die gebreklike hand vertel as deel van ‘n groeiende konflik tussen die dissipels wat Jesus begin volg en die skrifgeleerdes en Fariseërs.  En die punt van konflik is wie Jesus insluit – sondaars en tollenaars – soos sommige van die dissipels onder andere ook was.

Moenie geflous word met die fokus van die skrifgeleerdes en die Fariseërs op die sabbat in die gedeelte nie.  Dit was maar net die stok waarmee hulle Jesus wou bykom.  Dieper as die konflik oor die sabbat het dit gegaan oor die mense wat Jesus deel van sy geloofsgemeenskap gemaak het, maar wat nie deel van die Fariseërs en skrifgeleerdes se verstaan van die Joodse gemeenskap was nie.

Jesus was glad nie onbewus van hulle beperkende laertrek mentaliteit nie.

So wat doen Jesus, toe Hy sien almal se oë is op die man met die gebreklike hand dié sabbat in die sinagoge?

Hy laat die man opstaan en in die middel kom staan.  Dit is die boodskap wat ek graag vandag aan julle wil oordra.  Jesus sê vir hom: “Staan op en kom staan hier in die middel.

Hy vra die man nie om hom ná die tyd te kom sien nie.  Nee, Jesus fokus op die man met die gebreklike hand, laat hom “centre stage” staan, in die middel van die geloofsgemeenskap in die sinagoge, en doen goed aan hom.

En let op, Jesus laat hom éérs in die middel staan, maak hom éérs deel van die geloofsgemeenskap, vóór Hy die man genees.  Hy erken éérs die behoefte wat die man het aan insluiting, vóór Hy nog verder aan die man goed doen, en hom genees.

So, wat gebeur hier?  Jesus laat die evangelie, die goeie nuus, deur dié man skyn, sodat ons in Hom die toekoms kan sien, die toekoms nie net van genesing van siekte nie, maar die genesing van die gemeenskap.  Alle mense, maak nie saak hoe hulle is nie, is welkom in God se koninkryk.

Ons almal word tot insluiting geroep

Jesus-verhale van MenswaardigheidDit is nie om dowe neute dat Lukas net ná dié teks van die man met die gebreklike hand die verhaal van Jesus se roeping van die twaalf apostels plaas nie.  Die implikasie is duidelik: almal wat Jesus volg word geroep om op dieselfde wyse as wat Jesus die man met die gebreklike hand in die middel te laat staan en goed aan hom (en natuurlik haar) te doen.  Dit is die tipe gemeenskap wat die Here Jesus skep.  En elkeen van ons moet Hom daarin volg.

  • Een manier om hierdie boodskap te omarm, is om dié kwartaal uit te reik na ander groepe. Ons daag ons kleingroepe uit om na ‘n ander groep uit te reik.
  • ‘n Volgende manier is om doelbewus jou sosiale omgewing te verryk met kruis-kulturele vriendskappe. Laat “ander” mense die warmte van jou insluiting ervaar.
  • Nog ‘n manier is om te fokus op goeddoen, presies soos Jesus dit gedoen het, aan mense wat seer het, uitgesluit word, siek is, gestremd is. In jou werk, langs die pad, by jou huis, in jou buurt.

Die belangrike is egter, en ons gaan in ons kleingroepe baie spesifiek daarmee werk, is om respek vir mekaar en vir “ander” te toon.  Dit is die eerste waarde van die Seisoen van Menswaardigheid.  Ons respekteer mekaar.

En hoe doen ons dit?  Deur mekaar as mense raak te sien.  Deur mekaar te respekteer in ons gesprekke.  Ons praat nie bo-oor of namens ander nie, ook nie op die sosiale media nie.  As ons in ons kleingroep is, of aan tafel in ‘n sosiale of familie omgewing, onderbreek ons mekaar nie.  Ons laat mekaar toe om ons stories ongehinderd te vertel.  Ons gee aan mekaar gelyke tyd vir ons stories en bydraes.   Ons kompeteer nie met mekaar in geselskap nie.

Vir die volgende twee weke is dit ons gesamentlike opdrag.  Ons fokus op respek.  En ons fokus op dié mense in ons midde wat ‘n slag “center stage” moet kom.  Soos Jesus dit met hierdie man gedoen het, só gaan ons dit met ander doen: “Staan op en kom staan hier in die middel.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

Slotlied

Lied 522:1,4 U liefde en u trou, o Heer, omvat die aarde – staan (orrel)

Seën

Lied 522:5 Is dit u wil vir my dat ek in voorspoed lewe, leer my erkentlikheid – staan (orrel)

ONTHOU: ons fokus op Respekteer

     

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Pieter

    Jy kan uiteraard lees wat ek self oor Romeine en Efesiërs geskryf het:

    Maar, as jy ‘n bietjie dieper wil delf, kan jy kyk na die volgende bronne:

    • Faithlife Study Bible (korter kommentaar oor die hele Bybel)
    • NET Bible (kort tekstuele kommentaar oor die hele Bybel – gratis op YouVersion se Bible app)
    • Scripture Direct (uitstekende woordverklarings oor die hele NT – gratis as app)
    • Keener, C. S. The IVP Bible Background Commentary: New Testament (Second Edition). IVP Academic. 2014.
    • Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 1993
    • Van Zyl, A. H.. Die Bybel verklaar: 1983-vertaling. Kaapstad: Lux Verbi. 1993

    Dan is daar natuurlik volbloed kommentare.
    Op Romeine:

    Op Efesiërs:

    • Lincoln, Andrew T. Ephesians WBC 1990
    • Bruce, F. F. The Epistles to the Colossians, to Philemon, and to the Ephesians NICNT
      1984
    • Foulkes, Francis Ephesians TNTC 1989
    • Stott, John R. W. The Message of Ephesians BST 1991
    • Fowl, S. E. Ephesians: A Commentary. Westminster John Knox Press 2012
    • Roberts, J. H. Die brief aan die Efesiers. N G Kerk-Uitgewers. 1990
    • William Barclay http://www.dannychesnut.com/Bible/Barclay/Galatians%20and%20Ephesians.htm
  • Avatar

    Pieter

    |

    Naand Chris.
    Kan jy my dalk help met goeie bronne om studie van Effesiers en Romeine te doen.
    Dankie vir jou wonderlike werk en leeringe

  • Avatar

    Petra Marneweck

    |

    Die inhoud van die preek bevestig wat hierdie week in ons Bybelstudiegroep bespreek is en versterk my geloof dat Jesus opgestaan het. Baie dankie vir die besondere boodskap

  • Avatar

    Dean van Wyk

    |

    Baie dankie Rethie vir hierdie inspirerende boodskap. Ek is oorspronklik van PE en woon nou 20jaar lank in PTA.
    In my stiltetyd vanoggend het ek Fil 2:12b-13 gelees en dit kan net deur die Gees van God wees dat ek op hierdie preek afgekom het.

    God seën jou bediening en geniet die see( ek beny julle).

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Hansie. Die Here is goed vir ons.