Belê in God se koninkryk – Filippense 4:10-20

In die finansiële wêreld word daar baie gemaak van die term: “return on investment” – ROI. Opbrengs op belegging – OOB. Dit meet die effektiwiteit van ‘n belegging. Dit is ‘n eenvoudige formule om te gebruik. Jy verdeel die opbrengs van die belegging met die koste daarvan. Die resultaat word uitgedruk deur ‘n persentasie of ‘n ratio. As jy ‘n R1 000 belê in aandele en jy verkoop dit teen R1 200 ‘n jaar later, dan “maak” jy R200. Jy verdeel daardie opbrengs – R200 – met die belegging – R1 000 – en dit beteken jy het 20% opbrengs gelewer.

‘n Opbrengs van 20% is natuurlik wonderlik in vandag se ekonomiese klimaat. Dit is selde dat jy meer kry as ‘n 5 of 6 %. En talle kere is jou opbrengs eintlik ‘n minus syfer…

Maar, dit is ‘n konsep wat nie net sin maak in die finansiële wêreld nie. Dit maak ook baie sin in die gewone lewe. Die tyd en energie wat jy byvoorbeeld belê in jou kinders lewer uiteindelik ‘n opbrengs in terme van hulle gereedheid vir die volwasse lewe.

Dit is ook nie anders in die koninkryk van God nie. Beleggings maak saak. Met dié verskil. Dit gaan in die koninkryk van God oor ‘n opbrengs vir die ewige lewe. Nie maar net vir hierdie lewe nie. Dit gaan oor die opbrengs wat aan die ander kant van die dood steeds ‘n waarde sal hê.

Dit is oor hierdie opbrengs wat ek vanoggend wil praat.

En ek wil aansluit by God se belegging in twee huishoudings in Filippi, die eerste huisgemeente in Europa. Die opbrengs op hierdie belegging van God is immers legendaries. Paulus sonder hulle van al die gemeentes uit as die gemeente wat die meeste bygedra het tot die volhoubaarheid van sy eie bediening in die wêreld.

In sy brief aan hulle uit huisarres in Rome verkondig hy hierdie ongelooflike waarheid aan hulle om hulle tot volhardende vrygewigheid aan te spoor:

“Dit is nie dat ek van julle ‘n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die belegging wat julle maak, toenemend moet groei … dit is soos ‘n lieflike geur, ‘n aanneemlike offergawe wat God behaag. (Fil 4:17-18)

Soos God in hulle belê het, só het hulle in die koninkryk belê. En dit is hierdie belegging wat hulle in die koninkryk gemaak het wat Paulus wil hê dat dit sal groei.

Download English translation: Invest in Gods Kingdom – Philippians 4_10-20

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Aankondigings

Jaco Barnard

Toetrede

Lied 158 Bring my na u woning, Here – koor v1; gemeente v 2-3 (staan)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Psalm 145 Ek wil u lof getrou verkondig, Here – gemeente v 1-3 en 9; koor v 5 en 7 (sit)

Lied 292 My enigste troos  v 1-2 (staan)

Kindertyd

  1. Paulus en Silas was op hulle tweede sendingreis en het aangekom in die stad van Filippi. Hulle het begin om die mense van die Here Jesus Christus te vertel.
  2. Terwyl hulle loop deur die stad, het daar ‘n slawemeisie agter hulle aan geloop. Sy het ‘n gees gehad wat haar gehelp het om die toekoms te voorspel. Sy het agter hulle aan geloop en geskree: “Hierdie mans is dienaars van God, en hulle het vir ons kom vertel hoe ons sondes vergewe kan word.”
  3. Dit het verskeie dae agter mekaar gebeur, tot Paulus een dag so ontsteld geraak het daaroor dat hy omgedraai het en die waarsêergees uit haar gedryf het: “Ek beveel jou in die naam van Jesus Christus om uit haar te kom.” Onmiddellik het die gees uit haar uit gegaan en sy het kalm geword.
  4. Toe die eienaars van die slavin besef dat sy nie meer vir hulle geld sou maak as ‘n waarsêer nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle gesleep tot by die regters van die stad en hulle aangekla: “Hierdie mense bring die hele stad in oproer. Hulle leer ons mense dinge wat teen die Romeinse wette is.”
  5. ‘n Skare het vir Paulus en Silas aangeval en die regters het beveel dat hulle klere van hulle lywe afgeskeur word. Hulle is met stokke geslaan en in die tronk gegooi.
  6. In die tronk is hulle voete in houtblokke vasgemaak dat hulle nie kon vlug nie. Die tronkbewaarder het geweet dat as hulle ontsnap sal hyself doodgemaak word.
  7. Die tronkbewaarder het toe wag gehou daardie nag oor die gevangenes.
  8. Omstreeks middernag was Paulus en Silas, in plaas daarvan om hartseer te wees oor hulle straf, besig om te bid en hardop te sing om God te prys. Skielik was daar ‘n aardbewing wat die tronk geskud het. Die kettings waarmee hulle vasgebind is, is gebreek. Die houtblokke het los geskud. En die tronk se deure het oopgegaan.
  9. In die donker het die tronkbewaarder gedink al die gevangenes het ontsnap. Hy het sy swaard gevat en was op die punt om homself dood te maak. Paulus het geskree: “Moenie jouself doodmaak nie. Ons is nog almal hier.”
  10. Bewend van vrees het die tronkbewaarder vir ‘n lig gevra, in die tronk in gehardloop, en voor Paulus en Silas neergeval. “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”
  11. “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou hele huishouding,” het hulle geantwoord. Die tronkbewaarder het hulle toe geneem na sy huis toe en hulle wonde gewas. Paulus en Silas het die goeie nuus van Jesus met hom en sy hele huishouding gedeel.
  12. Die tronkbewaarder het in Jesus geglo en hy en al sy mense is gedoop. Later is Paulus en Silas vrygelaat van die tronk deur dieselfde regters wat hulle in die tronk gegooi het. En nadat hulle totsiens gesê het vir die ander Christene in die stad het hulle na die volgende stad, Tessalonika, gegaan.

Dankoffers

Voorbidding

Skriflesing en prediking

Filippense 4:10-20 – Belê in God se koninkryk (vgl Handelinge 16)

Opbrengs op belegging

In die finansiële wêreld word daar baie gemaak van die term: “return on investment” – ROI.  Opbrengs op belegging – OOB. Dit meet die effektiwiteit van ‘n belegging. Dit help jou om tussen verskillende beleggings te onderskei.

Dit is ‘n eenvoudige formule om te gebruik. Jy verdeel die opbrengs van die belegging met die koste daarvan. Die resultaat word uitgedruk deur ‘n persentasie of ‘n ratio.

As jy ‘n R1 000 belê in aandele en jy verkoop dit teen R1 200 ‘n jaar later, dan “maak” jy R200. Jy verdeel daardie opbrengs – R200 – met die belegging – R1 000 – en dit beteken jy het 20% opbrengs gelewer.

As jy ‘n huis gekoop het vir R1 000 000 en jy verkoop dit vir R1 200 000. Dan het jy ook 20% opbrengs gelewer. Behalwe dat jy natuurlik in ag moet neem oor hoeveel jaar daardie groei gekom het.

‘n Opbrengs van 20% is natuurlik wonderlik in vandag se ekonomiese klimaat. Dit is selde dat jy meer kry as ‘n 5 of 6 %. En talle kere is jou opbrengs eintlik ‘n minus syfer. Soos ons pensioene laasjaar. Die opbrengs vir predikante was – 0,31 %.

Ek wonder hoe voel jy oor die opbrengs op jou beleggings?

Dit sal natuurlik verskil. En oor sommige van jou beleggings sal jy waarskynlik goed voel. Oor ander minder goed. Oor ander sal jy miskien nie nou wil dink nie.

Opbrengs op belegging in jou familie

Maar, dit is ‘n konsep wat ook baie sin maak in die gewone lewe. Die tyd en energie wat jy byvoorbeeld belê in jou kinders lewer uiteindelik ‘n opbrengs in terme van hulle gereedheid vir die volwasse lewe.

Die nagte sonder slaap in daardie eerste paar jaar, die ure wat jy taxi gespeel het om hulle by gimnastiek en swem en opvoerings te bring, die tyd wat jy spandeer het aan die beplan en uitvoering van projekte, die hope geld wat jy betaal het vir ekstra klasse, die gebede wat jy gebid het vir hulle sukses in die lewe, dit alles lewer ‘n opbrengs.

Dit is ook goed om van tyd tot tyd te dink oor die opbrengs op jou belegging in jou kinders. Want, ‘n mens kan natuurlik altyd nog meer doen as jy sien dat die belegging suid gaan. Gebed is ‘n wonderlike gawe van God. Met soveel beloftes in die Skrif rondom kinders.

Moenie ophou om in hulle te belê nie. En in jou kleinkinders. En in jou vriende se kinders.

Opbrengs op belegging in die koninkryk van God

Dit is ook nie anders in die koninkryk van God nie. Beleggings maak saak. Soos dit in die finansiële wêreld die geval is. Soos dit in jou gesin die geval is. Die opbrengs op die beleggings wat ons maak, maak saak.

Met dié verskil. Dit gaan in die koninkryk van God oor ‘n opbrengs vir die ewige lewe. Nie maar net vir hierdie lewe nie. Dit gaan oor die opbrengs wat aan die ander kant van die dood steeds ‘n waarde sal hê.

Dit is oor hierdie opbrengs wat ek vanoggend wil praat.

God belê in twee huishoudings in Filippi

En ek wil die verhaal van die eerste gemeente in Europa, die gemeente van Filippi, gebruik as ‘n lens om oor hierdie opbrengs op belegging te praat. Hulle bydrae en belegging in die koninkryk is immers legendaries. Paulus sonder hulle van al die gemeentes uit as die gemeente wat die meeste bygedra het tot die volhoubaarheid van sy eie bediening in die wêreld.

Maar, soos met elke verhaal in die Bybel begin dit natuurlik nie met die mense van Filippi as sodanig nie. Nee, die verhaal van die kerk in Europa begin met God. Dit begin met die roeping van Paulus om die evangelie in Europa te gaan verkondig. En God se belegging in twee huishoudings in Filippi.

Die eerste huishouding waarin God belê in Filippi, is dié van Lidia en haar mense. Daar langs die Gangites rivier in Filippi, Griekeland, luister Lidia na die boodskap van die evangelie en plaas haar vertroue in Jesus (Handelinge 16:11 vv). Sy en haar hele huishouding. En hulle word gedoop as die eerste huisgemeente in Europa.

En ons moet goed hoor dat die Here nie net in Lidia as individu belê hier in Filippi nie. Nee, sy en haar hele huishouding word gedoop. God belê in huishoudings om ‘n opbrengs in die koninkryk te kry.

Die Griekse woord oikos word in hierdie verhaal in Handelinge 16 gebruik vir Lidia se huishouding (Hand 16:15). Dit dui op die hele familie in die huis wat deur die huwelik en hulle bloedbande aan mekaar verbind is, sowel as op die slawe en diensknegte wat in die huis gewoon en gewerk het (Louw-Nida).

So word haar huishouding die eerste huisgemeente in Europa, een van die mooiste gemeentes waarvan ons lees in die Nuwe Testament.

Die tweede huishouding waarin God belê in Europa, is die huishouding van die tronkbewaarder. Toe hy tot geloof gekom het, sê Lukas vir ons, is hy onmiddellik gedoop, hy en al sy mense, sy oikos. En hy en sy hele huishouding was bly dat hy tot geloof in God gekom het (Hand 16:43).

Die opbrengs van God se belegging in hierdie twee huishoudings was groot! Die tronkbewaarder en sy huishouding sluit aan by die huisgemeente van Lidia. Ook waarskynlik die slawemeisie en nog ‘n paar ander wat tot bekering gekom het (Hand 16:40).

Wanneer Paulus skryf vir die gemeente van Filippi dan prys hy hulle as ‘n uitsonderlike vrygewige gemeente. ‘n Gemeente wat ‘n groot opbrengs op die belegging van God in sy koninkryk gelewer het. Hy verklaar dat daar in die vroeë Christelike wêreld niemand was wat hom meer ondersteun het nie. Selfs nie Paulus se eie sturende gemeente, Antiogië nie.

Trouens, dit wil voorkom asof die geldkraantjie opgedroog het uit Antiogië op Paulus se tweede sendingreis. Vir watter rede ook al. Moontlik was dit net te ver vir hulle om geld op ‘n gereelde basis te verskaf vir Paulus in Europa.

Dank vir ondersteuning

In hoofstuk 4 van sy brief skryf Paulus dan vir hulle uit Rome waar hy in huisarres is:

10 Ek is in die Here besonder bly dat julle nou uiteindelik van nuuts af aan my gedink het. Eintlik hét julle aan my gedink, maar julle het net nie die geleentheid gehad om aan my aandag te gee nie.

Dit is nou so net kort van tien jaar wat hulle al by hom betrokke is. Paulus het hulle nog twee keer besoek op sy derde sendingreis (Hand 20:1 en 6). Hulle het regtig ‘n besondere noue verbintenis aan mekaar gehad.

En nou na ‘n tyd van stilte het hulle weer vir hom ondersteuning gestuur. En hy weet dat dit nie is dat hulle hom enigsins vergeet het nie. Dit is net dat hulle nie ‘n geleentheid gehad het om vir iets te stuur nie. Hy was immers op reis, en dit het dit moeilik gemaak om goed by hom te kry.

Nou kon hulle egter vir hom iets stuur in Rome waar hy in huisarres was. En dit voel nou vir Paulus asof dit “van nuuts af” is. Sy gemoed het sommer gelig oor die voorsiening wat hulle gestuur het.

Hy is egter ook gou om te sê dat dit eintlik vir hom glad nie gaan oor sy eie omstandighede nie:

11 Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. 12 Ek weet wat dit is om gebrek te ly en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig ingewy in al hierdie dinge: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. 13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. 14 Nogtans was dit goed van julle om in my swaarkry te deel.

Hoe mooi is hierdie reaksie van Paulus nie. Hy weet wat oorvloed is. Hy weet wat gebrek is. Hy weet mos dat die Here vir hom in alles krag sal gee.

Nogtans was dit goed van hulle om nou in sy swaarkry te deel waar hy in huisarres is en afhanklik is van gawes van buite.

Maar dan kom hy by die eintlike punt wat hy wil maak:

15 Julle weet ook, Filippense, dat aan die begin van my evangelieverkondiging, toe ek van Masedonië vertrek het (dws van hulle stad Filippi af), geen gemeente bygedra het tot my rekening van inkomste en uitgawes nie, behalwe julle alleen. 16 Ook in Tessalonika het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. (Fil 4:15-16)

Hy was maar ongeveer drie weke in Tessalonika met die stigting van die gemeente, maar selfs daar het hulle ‘n paar keer vir hom iets vir sy behoeftes gestuur.

Opbrengs op belegging

Dan sê Paulus hierdie volgende belangrike ding vir hulle in sy brief:

17 Dit is nie dat ek van julle ‘n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die belegging wat julle maak, toenemend moet groei. 18 Ek het alles ontvang en het dit ruim. Ek het meer as genoeg, noudat ek van Epafroditus ontvang het wat julle gestuur het — dit is soos ‘n lieflike geur, ‘n aanneemlike offergawe wat God behaag. (Fil 4:17-18)

Soos God in hulle belê het, só het hulle in die koninkryk belê. En dit is hierdie belegging wat hulle in die koninkryk gemaak het wat Paulus wil hê dat dit sal groei, dat hulle geestelike krediet sal groei.

Ons moet dit goed hoor. Dit is nie dat Paulus soseer ‘n bydrae van hulle verlang nie, alhoewel hy natuurlik in die oorvloed daarvan deel. Dit is vir die waarde wat dit vir hulleself sal hê, dat hy opgewonde is oor hulle belegging in sy bediening.

Paulus verlang ook daarna dat die belegging wat hulle maak, toenemend moet groei, dat dit ‘n groot opbrengs sal lewer.

Sien, die punt is, elke gawe wat ons gee vir diens in die koninkryk van God is ‘n offer aan God self, iets waaroor God opgewonde is.

Hulle gawe was veral waardevol in die huisarres in Rome waar hy vir homself moes sorg. Hulle het ook vir Epafroditus gestuur om dit vir hom af te lewer en sommer daar te bly om hom verder te ondersteun. Dit was alreeds oorgenoeg, soveel só dat Paulus kan sê hy het oorvloed.

Maar, daar is baie meer opgesluit in hulle belegging. Soos Paulus sê:

19 En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus. 20 Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe vir ewig en ewig. Amen (Fil 4:19-20)

Jou opbrengs in die koninkryk is nie net ‘n opbrengs wat op jou belegging daarin kom nie. Dit is nie asof die R1 000 wat jy as dankoffer gee, of die geloofsoffer vir een van ons sendelinge alleen maar net sorg dat die evangelie aan hierdie wêreld verkondig word nie. Al is dit natuurlik wonderlik en tel dit as opbrengs op jou belegging.

Jou gawe aan God is egter ‘n belegging in ‘n fonds waartoe God self begin bydra. Hy gebruik wat ons tot sy beskikking stel en gee ons dan meer en meer sodat ons nie net ‘n 20% opbrengs lewer nie, maar 30%, 60%, en 100%, soos die gelykenis van die Saaier vir ons vertel.

Trouens, God reageer op ons belegging in die koninkryk van God deur boonop ruimskoots in al ons eie behoeftes te voorsien. En nie maar volgens ons eie maatstaf nie. Nee, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.

Soos Paulus op ‘n keer aan die Korintiërs skrywe:

11 Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. (2 Kor 9:11)

Waar ons belê in die koninkryk van God, belê Hy ook in ons, plaas Hy sy rykdom in ons hande, sodat Hy ‘n opbrengs uit sy eie belegging uit die vrug van ons lewens kan kry.

Dit is wat Jesus in die Bergrede al vir ons geleer het:

Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. 33 Maar soek bo alles na God se koninkryk en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. (Matt 6:32-33)

Dink ‘n bietjie daaroor na. Wanneer jy belê in God, belê Hy in jou. Dit is die manier waarop die geestelike wet van “opbrengs op belegging” werk.

En laat jou gedagtes gaan oor waar jy met nog meer ywer in die koninkryk van God betrokke kan raak. Sodat jy ‘n goeie opbrengs op belegging in die koninkryk kan hê.

Gebed

Slotlied

Lied 475 Allerhoogste Hemelvader  v 1-2 (staan)

Seën

Respons

Lied 312  Amen

 

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Wonderlik, Hannes!

  • Avatar

    hannes du toit

    |

    Ek ervaar vrede,vreugde en gemoedsrus omdat ek weereens bevstiging gekry het dat ek deel is van God se plan van die ewige lewe.

  • Bybelskool » Wees versigtig vir die verkeerde idees oor Kersfees

    |

    […] vier as ‘n fees van Christus, en fokus op die hoop, vrede, liefde en vreugde wat Hy bring. Lees byvoorbeeld sy geboorte en kinderverhale. Beklemtoon dat Hy die Geskenk is aan ons, en dat ons geskenke aan mekaar uit dankbaarheid is vir […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Hilda, julle is welkom om dit te gebruik. Alles op die webtuiste is beskikbaar vir gebruik. As julle dit druk om uit te deel, plaas net ‘n kort erkenning aan die onderkant daarvan.

  • Avatar

    Hilda Johansen

    |

    Baie Dankie vir die inspirerende Adventkrans idee vir ‘n kleingroep afsluiting..
    Ons is ‘n klein groepie van 10 vrouelidmate uit wyk 2 van Hawe van Heil NG gemeente Saldanha en hierdie is die perfekte manier om die jaar af te sluit.
    Ons hoop dat u nie sal omgee as ons die idee by ons afsluiting Dinsdag 26.11.19 gebruuik nie,
    Nogmaals Dankie.
    Seen wense
    Hilda Johansen