PREDIKER 12:9-14 – Week 3
RUS EN ONTVANG
- Gesels met mekaar oor julle ervaring van die feite, onveranderlikhede en vreugdes van die lewe.
- Wat leer die Here jou daarvan of daardeur?
- Word stil en laat iemand met ‘n gebed open.
HOOR EN ONTGIN
Lees Prediker 12:9-14
- Wat tref jou in die gedeelte? Deel dit met mekaar.
Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:
Die Prediker het klaar gepraat. Die redakteur neem nou oor en gee twee afsluitende perspektiewe in vers 9-11, en 12-14. Die eerste is sy opsomming van wat die Prediker gesê het. Die tweede is waarskynlik sy eie onderrig, dié boodskap wat die redakteur aan sy nageslag wil aangee as die geheim van die lewe.
Wysheid gee rigting en vastigheid – 12:9-11
Na hy die uitmuntende werk van die Prediker beskryf het (“raak uitgedruk”, “getrou op te teken”), gebruik die redakteur twee metafore om die funksie van die wysheid te beskryf.
- Die woorde van die wyses is soos skerp stokke wat die beeste (ons) aanjaag in die regte rigting. “The words of the wise prod us to live well,” soos Peterson dit vertaal.
- Die versamelde spreuke van die wyses – soos onder andere die Prediker en Spreuke – is soos spykers wat ingeslaan is om alles, gemeenskappe en hulle wêrelde, bymekaar te hou. “They’re like nails hammered home, holding life together” (Peterson).
En die redakteur gee dan aan die impak van dié wysheid die hoogste lof. Die woorde en spreuke van die wyses is die woorde van God self, die een Herder, wat ons daarmee in die regte rigting stuur (skerp stokke) en beskerm van verydeling en verstrooiing (spykers). Hierdie opmerking het waarskynlik bygedra daartoe dat dié boek deel van die Bybel geword het.
’n Mens wonder of hy daarmee nie ook moontlik een wyse manier aangedui het waarmee die Babelse verwarring in taal van Genesis 11 te bowe gekom kan word nie, dat mense mekaar sou vind in die eenheid wat ’n gedeelde wysheid bring. Die Pinksterwonder van Handelinge 2 sou natuurlik veel later hierdie vereniging prakties maak met die uitstorting van die Heilige Gees wat mense uit verskillende nasies en tale tot een nuwe mensheid onder een Herder, Jesus Christus, saamgesnoer het.
Wees prakties in jou ontsag vir God – 12:12-14
In twee verdere opsommings – “die belangrikste van alles”, en “die slotsom van alles” – gee die redakteur gestalte aan sy eie wysheid.
Die belangrikste – van alles – wat hy vir sy seun wil deurgee, is om versigtig te wees vir te veel studie en skryfwerk … dit ooreis die liggaam. Ek hoor daarin so ’n tong in die kies relativering van die neergepende wysheid van die Prediker, die werk wat hy as redakteur so pas voltooi het! Daarmee relativeer hy die Prediker se werk, sowel as sy eie redakteurswerk, en plaas dit ondergeskik aan die tweede opsomming wat hy gaan gee.
En hierdie tweede slotsom – van alles – is om in ontsag (vrees) vir God te leef – wat rekenskap eis oor alles wat gedoen word, goed of kwaad – en te doen wat Hy vra. Godsdiens, sê hy daarmee, moet altyd met dié twee perspektiewe werk: om in afhanklikheid van en met ontsag vir God te leef, en om prakties te wees in jou gehoorsaamheid aan wat God vra.
- Bespreek.
LEEF EN ONTPLOOI
- Deel met mekaar watter feite, onveranderlikhede en vreugdes jy van die Prediker met jou saam gaan neem.
- Sluit af met ‘n gebed.