PSALM 47 – ONS LEEF TUSSEN TEMPEL EN TROON

Psalm-47HEMELVAART 2016

Die Psalm is geskryf vir die musiekleier – 55 Psalms word só getipeer – waarskynlik vir gebruik in die tempel liturgie, en baie spesifiek vir onderrig, soos vers 8 aandui.

Die Psalms is só belangrik vir ons onderrig.  Ons leer hier wat God se doel is met alles.  Ons leer hier hoe ons God moet dien.  Ons leer hier hoe ons God moet loof en prys, en wat ons moet doen as dit swaar gaan.

Let op hoe dit alles beskryf word as dinge wat tegelykertyd by die tempel (vers 6) gebeur as voor sy troon (vers 9).  Jesus het nie verniet gebid, laat u wil geskied in die hemel so ook op die aarde.  Hemel en aarde is altyd betrek op mekaar.  Hemel en aarde het altyd alles met mekaar te doene.

Die Psalm leer ons dus ons lewe gelewe word tussen tempel en troon, tussen die aardse teenwoordigheid van God en die hemelse teenwoordigheid van God waarmee eintlik die hele geskape werklikheid ingesluit word. 

Aanvang

Thielicke het gesê:

Die hemelvaart beteken nie dat Jesus ons verlaat nie. Inteendeel, dit beteken dat Hy geweldig naby aan ons kom. Die grens tussen hierdie wêreld en die wêreld daarbo, wat op Kersaand oorgesteek is, word nog ‘n keer oorgesteek, en spesifiek op ‘n nuwe manier. Toe Jesus vroeër op aarde geleef het, was Hy naby aan ‘n klein groepie, slegs maar die klein klompie dissipels. Sy teenwoordigheid was beperk deur tyd en ruimte. Destyds het net ‘n paar mense sy woorde gehoor. Vandag omspan sy woorde die hele wêreld. Toentertyd kon net ‘n paar van sy vriende pleit: ‘Bly by ons oor, want dit is amper aand.’ Vandag vou miljoene hande in gebed, en waar twee of drie in sy Naam bymekaar is, is Hy teenwoordig. Hy word nie teruggehou deur die deure van ons huise en deur die mure van gevangenisse nie.

(Thielicke, H 1968. I believe; The Christian’s Creed. Philadelphia: Fortress Press.)

Die Heidelbergse Kategismus antwoord die vraaag na watter nut die hemelvaart van Christus vir ons het (vr. 49) as volg:

  • Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader
  • Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ’n betroubare waarborg het dat Hy as die Hoof, ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem.
  • Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur, deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie.

Bid saam

Kom ons bid saam en oordink dié betekenis van Jesus se Hemelvaart vir ons

Lof vir die Hemelvaart

Ek wil begin deur Psalm 47 te lees as ‘n loflied vir Jesus se Hemelvaart. Ek gaan dit ook lees as preekteks, maar wil dit sommer nét so gebruik as loflied:

1 Vir die musiekleier. Van die Koragiete. ‘n Psalm.  2 Al julle volke, klap hande!  Juig God toe met uitroepe van vreugde,  3 want die HERE, die Allerhoogste, is ontsagwekkend,  ‘n groot koning oor die hele aarde.  4 Hy onderwerp volke aan ons,  nasies werp Hy onder ons voete.  5 Hy kies vir ons ons erfgrond,  die trots van Jakob, wat Hy liefhet.

Sela 

6 Onder gejuig bestyg God die troon,  die HERE, onder die geluid van ‘n ramshoring.  7 Besing God met begeleiding, besing Hom,  besing ons koning met begeleiding, besing Hom!  8 Want God is die koning van die hele aarde;  besing Hom met ‘n lied wat onderrig.  9 God regeer oor nasies,  God sit op sy heilige troon.  10 Die vooraanstaande mense van volke kom bymekaar  by die God van Abraham,  want aan God behoort die skilde van die aarde.  Hy is uitermate verhewe. (BDV)

Kom ons sing twee liedere:

  • Lied 425:1-3 – Kyk die Heer het opgestaan, Halleluja! – dit vier drie aspekte van Jesus: sy opstanding, hemelvaart, en wederkoms.
  • Lied 429:1-3 – Die Heer regeer, Hy’t opgevaar – dit vier Jesus se bewaring van ons in alle situasies.

Inleiding

Hemelvaart help ons om na te dink oor God se teenwoordigheid in ons lewe.  Dit het te make met die Heilige Gees – daaroor gaan ons in Pinkster nadink.  Dit het ook te make met God se heerskappy.

En ek wil uit Psalm 47 daaroor nadink, ook spesifiek hoe die NT gedagtes hieruit gebruik om die boodskap van Jesus se Hemelvaart en troonbestyging gebruik om ons te bevestig in ons geloof en die moed te gee om die Here met alles wat daar in ons is, te dien.

Palm 47 kom voor in die tweede Psalmboek wat veral fokus op die tema van die God as Koning van al die nasies en van die hele aarde (Ps. 46:11).  En dit is baie belangrik om te weet dat dié tema telkens aangeroer word in die lig van die ervaring van geweldige teenstand van vyand(e) (Ps. 42:10; 43:2; 44:8,11,17; 54:5; 56:2; 59:2) en teëstanders (Ps. 42:11; 44:6,11), selfs van vriende (Ps. 54:14) wat verraderlik geword het.

Dit is juis in tye wat dinge swaar gaan, wat ‘n mens bewus is van vyandskap, van teenstand, van verraad, beide in jou persoonlike lewe, sowel as in die wyer kerklike en gemeenskap terreine, dat dié boodskap nodig en noodsaaklik raak.

Wanneer jy wonder hoe jy vorentoe moet gaan in erge uitdagings, is dit belangrik om op te kyk en ook vandaar af te kyk na hierdie aarde, en vanuit die posisie van God se heerskappy te dink oor die pad vorentoe.

Psalm 47 – Tussen tempel en troon

Psalm 47 is ’n jubelende Psalm wat nie net die volk van die aartsvaders (Jakob, Abraham) oproep om God se lof te besing bo alles nie, maar alle nasies en hulle leiers saam wil intrek in hierdie loflied aan God.  Want, God is die Groot Koning oor die hele aarde (vers 3,8) en oor al die nasies (vers 9,10).

Die motivering vir hierdie oproep tot lof is tweërlei en vorm die hart van die twee dele van die Psalm:

  • Lof aan God vanweë sy onderwerping van die nasies – vers 2-5;
  • Lof aan God vanweë sy vereniging van die nasies – vers 6-10.

‘n Verenigde volk van God uit al die nasies. Dit was nog altyd God se doel.  Dit is steeds God se doel.  Dit sal altyd God se doel bly.  En hierin sal Hy slaag.  Daarop kan ons staatmaak.

Die Psalm is geskryf vir die musiekleier – 55 Psalms word só getipeer – waarskynlik vir gebruik in die tempel liturgie, en baie spesifiek vir onderrig, soos vers 8 aandui.

Die Psalms is só belangrik vir ons onderrig.  Ons leer hier wat God se doel is met alles.  Ons leer hier hoe ons God moet dien.  Ons leer hier hoe ons God moet loof en prys, en wat ons moet doen as dit swaar gaan.

Let op hoe dit alles beskryf word as dinge wat tegelykertyd by die tempel (vers 6 – die verwante Psalm 24, wat ons Sondag lees, verbind waarskynlik dieselfde tipe optog met die ark) gebeur as voor sy troon (vers 9 – God sit op sy troon as teken van sy heerskappy).  Jesus het nie verniet gebid, laat u wil geskied in die hemel so ook op die aarde.  Hemel en aarde is altyd betrek op mekaar.  Hemel en aarde het altyd alles met mekaar te doene.

Die Psalm leer ons dus ons lewe gelewe word tussen tempel en troon, tussen die aardse teenwoordigheid van God en die hemelse teenwoordigheid van God waarmee eintlik die hele geskape werklikheid ingesluit word.

Dit is ook interessant hoe die Godsnaam Allerhoogste (Elyon) vir Jahwe in vers 3 gebruik word, soos dit gereeld in die res van die OT gedoen word waar van die nasies sprake is.  Daarmee word ’n Godsnaam wat ook vir die omringende nasies betekenis sou hê, vir Jahwe gebruik.  Dié Psalm is dus ook ‘n Psalm wat raakpunte het met die Godsbegrip van die ander volke.

Dit is moontlik dat daar agter hierdie loflied ’n historiese werklikheid sit.  Met die Intog en Inname van die land Kanaän is dit moontlik dat van die onderworpe nasies hulle met die volk verenig het, trouens waarskynlik, hoewel ons nie veel Bybelse getuienis daarvan het nie. Wat meer waarskynlik is, is dat daar in dié Psalm ’n eskatologiese betekenis opgesluit lê, ’n visie vir die toekoms wat die volk opgewonde moes maak oor die droom wat God vir die hele aarde het en waarby alle nasies ingesluit sal word.  Dit maak vir my meer sin om dit so te interpreteer.

Die standpunt word verstrek met die feit dat dít die manier is waarop die NT die kerngedagtes in dié Psalm gebruik, maar daaroor later.

Twee ander opmerkings voor ons lees

  • Volke – vers 10 – die Griekse vertaling het die meervoud “volke”, die Hebreeuse teks die enkelvoud “volk.” Beide vertalings het meriete en maak sin.  “Volke” maak sin in die lig van die “skilde van die aarde”.  “Volk” maak sin in die lig van die verwysing na Abraham.  Die BDV kies die Griekse betekenis.  Dit is immers aan dié interpretasie van die universele Godsvolk waarmee Paulus Christenskap verbind wanneer hy sê: “as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename volgens die belofte van God.” (Gal 3:29).  Hy gryp dus terug op die tradisie van Abraham vóór grond ’n tergende nasionale kwessie geword het en vóór die stryd tussen die onderskeie nasies waarvan hy ’n stamvader geword het ’n internasionale saak geword het.
  • Skilde van die aarde – vers 10 – skilde van die aarde dui op beskermers onder die heersers en leiers van die aarde. God se heerskappy sluit alles in.

Kom ons lees en fokus op wat ons tref.  Ek gaan julle kans gee om twee-twee te deel met mekaar, en dan iets daaroor in die groot groep te sê, voor ek iets oor die teks gaan sê.

Onthou die Sela, soos ons lees, dui waarskynlik op ‘n pouse in die lees, sing of bid van die Psalm om die betekenis te oordink.  Ek gaan ook ‘n effense pouse daar laat vir nadenke.

1 Vir die musiekleier. Van die Koragiete. ‘n Psalm.  2 Al julle volke, klap hande!  Juig God toe met uitroepe van vreugde,  3 want die HERE, die Allerhoogste, is ontsagwekkend,  ‘n groot koning oor die hele aarde.  4 Hy onderwerp volke aan ons,  nasies werp Hy onder ons voete.  5 Hy kies vir ons ons erfgrond,  die trots van Jakob, wat Hy liefhet.

Sela 

6 Onder gejuig bestyg God die troon,  die HERE, onder die geluid van ‘n ramshoring.  7 Besing God met begeleiding, besing Hom,  besing ons koning met begeleiding, besing Hom!  8 Want God is die koning van die hele aarde;  besing Hom met ‘n lied wat onderrig.  9 God regeer oor nasies,  God sit op sy heilige troon.  10 Die vooraanstaande mense van volke kom bymekaar  by die God van Abraham,  want aan God behoort die skilde van die aarde.  Hy is uitermate verhewe. (BDV)

  • Kom ons deel met mekaar wat ons tref
  • Kom ons deel dit ook in die groter groep

Prediking

Ek gaan twee baie belangrike aspekte uit die Psalm beklemtoon, albei uit die tweede deel van die Psalm.

God, die HERE (Jahwe), bestyg die troon – vers 6

Die NT beskou Jesus se troonsbestyging met sy Hemelvaart as fundamenteel tot sy werk en ons begrip daarvan en verbind dit met hierdie beskrywing.

  • Markus beskryf Jesus se hemelvaart so: “Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit.” (Mark. 16:19). Jesus is nou in ‘n posisie van mag.
  • Jesus getuig hiervan voor die Joodse Raad die na van sy verhoor: “Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.” (Luk. 22:69). Nie net die gelowiges moet rekening van hierdie magsposisie neem nie, ook die mense van hierdie wêreld.
  • Paulus verbind Jesus se voorbiddende rol in die hemel hieraan: “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” (Rom. 8:34). Jesus kan ons gebede verhoor, want Hy is in die hemel!  Hy het die mag.  Hy het die reg.  Dit is een van sy hoofrolle wat Hy nou in die hemel vervul.
  • Paulus roep ons op om te fokus op Hom wat in die hemel is en ons lewe in sy hand hou: “Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.” ( 3:1). Ons is nie meer net hier met die dinge van die aarde besig nie. Ons is burgers van die hemel en leef as’t ware as vreemdelinge hier op aarde.  Die dinge van die hemel het nou ‘n groter bepalende rol in ons lewe as die dinge van die aarde.  En dit moet al hoe meer ons fokus en ons manier van leef bepaal.
  • Die Hebreërskrywer roep ons net so op om te fokus op Hom wat in die hemel is en reeds die reiniging van ons sondes bewerk het, wat steeds alles in stand hou, en wat nou wag dat alle vyande aan Hom onderwerp is: “Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.” ( 1:3; vgl. ook Hebr. 10:12; 12:2). Jesus in die hemel, by die troon van God, is ons waarborg, dat ons kan werk vir die koninkryk, want Hy sal uiteindelik triomfeer.

En hoe weet ons dit is so?  Want Jesus SIT op die troon, die posisie van absolute mag.  Hy sit daar as God, en mens.

God sit op sy heilige troon – vers 9

Dié vers word 11 keer in Openbaring gebruik om God se heerskappy vanuit die hemel aan te dui, tien keer in ‘n positiewe verlossende sin, een keer in ‘n negatiewe angswekkende sin:

POSITIEF:

  • Dit begin by Johannes se eerste visie van God in die hemel op die troon (4:2). Dit is waar alles begin, as ‘n mens God se posisie in hierdie lewe, in hierdie wêreld, in die heelal begin besef. Hy is nie onderworpe aan die werklikheid nie.  Hy het dit geskep en Hy hou dit steeds in stand.  Dit is met dié visie wat Johannes sy boek se inhoud begin uitpak.
  • Dit het die effek op de lewende wesens dat hulle heerlikheid, dank en eer aan Hom bring wat ewig leef en op die troon sit (4:9).
  • Die 24 ouderlinge val ook in aanbidding voor Hom neer, Hy wat op die troon sit (4:10). Hulle herinner ons daaraan dat alles vanuit ‘n posisie van aanbidding gebeur as’t ware vanaf die knielposisie voor God.  Ek luister vanoggend na Bill Hybels wat elke oggend só uit die bed rol dat hy eerste op sy knieë langs die bed kan kniel en sy dag met aanbidding kan begin.  ‘n Bruikbare geloofsgewoonte!
  • Dit is wanneer ‘n mens God begin aanbid, dat jy ook raaksien, soos Johannes vir ons beskryf, dat die boekrol met die wêreldagenda in die hand is van Hom wat op die troon sit (5:1). Die aanhaling uit Psalm 47 word ook hier gebruik.
  • Dit word opgevolg met die visie op Jesus wat die wêreldagenda uit God wat op die troon sit se hand ontvang (5:7). En Hy begin dit uitvoer, want Hy is die enigste een wat die mag daartoe het.  Ons moet rekening begin hou daarmee dat die politici en die heersers van dié wêreld nie die laaste sê het oor wat hier gebeur nie.  God het die laaste sê. En Jesus is besig om daardie agenda uit te voer, sy verlossende oordeel, soos Openbaring vir ons leer.
  • Daarom sien ‘n mens die hele skepping wat God wat op die troon sit se lof en eer, heerlikheid en sterkte toesing (5:13). Dit gaan veral oor mense in God se skepping, maar nie net daaroor nie.  Alles wag vir die einde waarin die dood oorwonne sal wees, en die skepping van verganklikheid verlos sal wees.
  • Alles en almal wag ook vir die groot skare uit alle nasies en tale wat as verlostes voor Hom op die troon staan en Hom vir hulle verlossing loof (7:10).
  • En die groot skare verlostes uit die groot verdrukking sal Hom wat op die troon sit, dien, en Hom vir ewig as herder hê (7:15).
  • En die boek sluit af met die visie op die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge wat saam voor Hom wat op die troon sit, neerval en Hom loof as inleiding tot die bruilof van die Lam (19:4). Dit is immers waarheen ons as gelowiges op pad is.
  • En ons kan nou alreeds vreugde punt uit die visie dat Hy wat op die troon sit, alles nuut maak (21:5).

NEGATIEF:

  • Die frase uit Psalm 47 word ook gebruik om die vrees van al die bewoners van die aarde uit te druk wat in vrees probeer wegkruip van Hom wat op die troon sit (6:16). ‘n Mens sien dit ook Matt. 23:22, waar mense nie rekening hou met wie op die troon sit nie, en blind is vir die ellende wat vir hulle voorlê van Hom wat op die troon sit.  Dit bly ook deel van die boodskap van die evangelie dat daar ‘n dag van afrekening kom waarin die boeke oopgemaak sal word, en daar ‘n finale oordeel sal wees.

Boodskap

Ons vier vandag Jesus se hemelvaart. Dit is sy troonsbestyging. Die gekruisigde en opgestane Jesus Christus het opgevaar na die hemel, sit aan die regterhad van die Vader, op sy troon, en regeer nou as Koning oor die ganse wêreld.

Vanuit die boodskap van Psalm 47 weet ons nou dat ons leef tussen tempel en troon.

  • Ons is die tempel van God, in beide jou persoonlike lewe as in die geloofsgemeenskap se lewe. Dit roep ons op tot ‘n heilige lewe. Ons kan Hom nie besing, Hom nie dien, sonder dat ons afreken met die sonde wat steeds as deel van ons sondige natuur ‘n houvas oor ons probeer kry nie.  Die oordeel van God is altyd ook ‘n waarskuwing aan ons om ons toevlug tot sy verlossing te neem.
  • Ons het ook vrye toegang tot God se troon, beide persoonlik en as geloofsgemeenskap. Jesus se Hemelvaart en troonbestyging is vir ons die waarborg daarvan.  Daarom het ek verlede Sondag ook tyd gegee vir gebed as gemeente, en gaan ons in Pinkster tyd gee daarvoor.  God antwoord gebede, beide jou eie persoonlike gebede en ons geloofsgemeenskap se gebede.

Gebed

Slotlied

Lied 436 – Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – kom ons bid hiermee vir ‘n nuwe impak van die Heilige Gees in ons gemeente, persoonlik en korporatief.

Seën

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment